Читать книгу Lente in die najaar - Elsa Rall - Страница 7

~ 4 ~

Оглавление

Kort ná drieuur skakel Dorothea weer die Steyns se nommer.

Regina antwoord. Sy sê sy sal vir Gerrie moet gaan haal in sy kamer, want hy sit gedurig met die oorfone en sal haar nie hoor roep nie. Dis amper twee minute voor hy die gehoorstuk optel.

“Middag, tannie. Regina het gesê tannie het vroeër ook gebel.”

“Hallo, Gerrie. Ja, ek wou net hoor hoe dit gaan, en of jou pa nog baie kwaad is.”

“Nee, hy is nogal nie so erg vies nie, en ek is ook oukei.”

“ Wil jy nie maar vir my sê hoekom jy in die kar geklim het nie? Dit was mos ’n baie onverantwoordelike ding om te doen.”

“Ja, tannie … Ek was so kwaad vir my pa omdat hy weer gesê het hy sal nie Saterdag kan kom kyk hoe ek rugby speel nie. Hy kom nooit meer kyk nie. Hy werk baie hard en hy is baie slim, maar ek wens hy kan net partykeer soos voor … Hy het darem gewoonlik kom kyk, en soms saam met my krieket gespeel, maar nou nooit meer nie.”

Dorothea hoor die verlange in sy stem en haar hart word week.

“ Watter posisie speel jy? Dalk kan ek kom kyk. Ek hou nogal van rugby. En ek sal graag wil sien of jy beter speel as wat jy kar bestuur.” Sy is bly om hom te hoor lag.

“Sal tannie regtig kom? Ons speel môre by my skool en die ondertwaalfs – dis die eerste span – speel gewoonlik net na elfuur.”

“Ja, regtig. Wat is die nommer op jou trui as ek jou dalk nie tussen al die ander herken nie?”

Gerrie klink sommer beter. Hy beduie mooi vir haar waar sy skool is en waar die rugbyvelde geleë is.

Ná sy afgelui het, wonder sy hoe kom hy by die skool, want dit klink of dit nogal ver van sy huis af is. Sy wonder ook of hy sy pa sal vertel dat sy van plan is om te gaan kyk. Sy glo nie die doktor sal juis beïndruk wees nie, maar dit skeel haar glad nie.

Die res van die middag werk sy ywerig om haar boeke en klere en die paar los goed waarvan sy nie ontslae kan raak nie uit te sorteer. Die kombuisgoed moet ook so stadigaan ingepak word. Sy sal sommer môre gaan kyk of sy ’n klompie kartonbokse in die hande kan kry. Sy geniet die proses van organiseer wat sy wil behou, en koester geen sentimentele gevoelens oor die vele goed wat sy beplan om uit te gooi nie.

Saterdagoggend is sy vroeg aan die gang. Sy het al heelwat goed ingepak en het besluit om te begin gordyne afhaal in die vertrekke wat sy in elk geval nie gebruik nie.

Kort ná tienuur spring sy vinnig onder die stort in. Dan trek sy een van haar nuwe denimlangbroeke saam met ’n helderkleurige, noupassende truitjie en ’n paar wit tekkies aan. Met die kort, los krulle vol ligstrepe lyk sy nie ’n dag ouer as dertig … wel, vyf-en-dertig nie.

Sy weier om te wonder waarom sy nogal moeite doen met haar voorkoms en dít vir ’n laerskoolrugbywedstryd. Dis net lekker om ’n bietjie ekstra aandag aan haar voorkoms te gee. Daar is niemand wat sy wil beïndruk nie, en daar sal sekerlik niemand wees wat sy ken nie.

Sy bekyk weer die duik aan haar motor en besluit daar en dan sy gaan dit nie laat regmaak nie. Sy gaan die kar verkoop sodra die huis se geld in haar rekening is. Daar is genoeg van Werner se geld en die prys vir die huis is ook baie goed. Sy gaan in elk geval nou baie afskaal en ’n kleiner blyplek koop. Sy benodig net een ekstra slaapkamer vir die dag wat haar kinders dalk wil kom kuier, en dit sal ook nie dikwels gebeur nie.

Sy sukkel ’n rukkie om die skool te kry en moet twee keer stilhou om aanwysings te vra. Dis net ná elf toe sy by ’n klompie ander karre parkeer en afstap na die sportterrein, waar ’n groepie toeskouers die spannetjies op die veld luidkeels aanmoedig. Daar is ’n kleinerige paviljoen, maar die meeste van die toeskouers staan sommer op die gras langs die kantlyn.

Sy gaan sit op die paviljoen op die tweede trappie van onder af en kyk rond of sy nie vir Gerrie gewaar nie. Sy glo nie sy span is al op die veld nie, want die seuntjies wat speel, lyk vir haar ontsettend klein. Sy word opeens oorval deur ’n gevoel van nostalgie. Daar was soveel dae wat sy, ook alleen, gaan kyk het hoe klein Werner of Anke aan een of ander sportwedstryd deelneem. Sy verlang skielik erg na haar kinders en wil net beswaard raak toe Gerrie skielik langs haar verskyn.

“Jissie! Tannie het toe regtig gekom. Ons gaan amper speel. Môre, tannie, ek kan nie glo tannie is hier nie!” Sy hele gesig straal.

Dorothea lag. “Hallo, jong. Ek het mos gesê ek wil kom. Hoe lyk dit, gaan julle vandag wen?”

“Vir seker. Ons gaan baie hard probeer. Ek moet gaan, daar praat meneer al met die span. Totsiens, tannie.”

Hy hol die ene knieë en elmboë na die een kant van die veld waar die spannetjie in ’n kring staan. Op die veld blaas die eindfluitjie en Dorothea sien op ’n bord aan die oorkant dat die besoekers die wedstryd gewen het. Sy sal maar moet goed duim vashou vir Gerrie se span. Dis net regtig hartseer dat sy pa nie eens ’n uurtjie kon afknyp om te kom kyk nie.

Die twee spanne weeg goed teen mekaar op en almal speel met entoesiasme en oorgawe. Hoewel die vaardigheid by tye nie te waffers is nie, geniet almal die spelery terdeë, die ouers langs die veld inkluis.

Kort voor rustyd maak Gerrie ’n goeie breekslag en stuur die bal sekuur uit, sodat sy spanmaat maklik oorduik vir ’n drie. Die seuns is ekstaties. Terwyl Gerrie trots terugdraf na die middel van die veld, kyk hy reguit na haar en lig sy hand. Sy waai ewe geesdriftig terug.

Sy is so verdiep in die spel dat sy nie vir Theuns Steyn raaksien voor hy langs haar praat nie.

“Mevrou De Waal, is dit nou toevallig, of wat is hier aan die gang?”

Hy lyk, indien moontlik, nog stuurser as die vorige aand. Hy kom sit ongenooid langs haar.

Sy wil hom eers ignoreer, maar kan met die beste wil ter wêreld nie stilbly nie.

“My aarde, doktor Steyn. Dit ís toevallig. Wat maak jy hier? Ek het verstaan jy stel nie belang in rugby nie.”

Sy kakebeen word hoekig en sy kan voel dat hy hom bedink, voor hy eindelik afgemete sê: “Natuurlik stel ek belang. Ek het net nie nou eintlik die tyd nie.”

“ ’n Mens máák tyd, veral as dit jou enigste kind is.”

“Ek sal dit waardeer as jy jou sal weerhou van kommentaar oor my optrede.”

Sy stem is ysig van ingehoue woede. Dorothea vererg haar.

“Luister, doktor, ek het jou nie genooi om hier te kom sit nie. As jy nie wil hoor wat ek te sê het nie, moenie met my ’n gesprek begin nie.” Die man is so vermetel, sy sou hom graag ’n klap wou gee om hom af aarde toe te bring!

Gelukkig blaas die fluitjie vir rustyd en die twee spanne kom afgedraf. Gerrie kom reguit na haar toe en is net ’n paar treë weg toe hy sy pa gewaar. Die vreugde wat sy gesig laat blom, bring ’n knop in haar keel.

“Pa! Pa het toe gekom! Het Pa ons drie gesien?”

“Ja, Gerhardus. Dit was ’n goeie stukkie rugby. Mooi gespeel.”

Sy stem is diep en effens stram, asof hy nie gewoond is daaraan om komplimente uit te deel nie.

“Sal Pa kan bly vir die tweede helfte? Ons gaan nou saam met die wind speel, nou gaan Pa ’n ding sien!”

“Ja, ek kan bly, maar ek dink jy moet nou teruggaan na jou span toe. Hulle is al almal daar bymekaar. Lekker speel.”

Hulle kyk saam in stilte hoe die skraal seun met die deurmekaar vaal hare terughardloop tot by sy maats. Dorothea oorweeg dit om maar te loop, want sy voel baie ongemaklik. Gerrie se pa ís nou hier, so sy is half oorbodig. Aan die ander kant wil sy ook nie onnodig sy aandag op haar vestig nie.

Die stilte rek en raak ongemaklik. Sy kan skielik nie aan ’n enkele ding dink om te sê nie. Sy wens hy wil liewers loop en ook by die veld gaan staan. Miskien moet sý dit doen …

Dan sê hy skielik: “Jy het seker nog nie na jou kar laat kyk nie.”

“Nee, wat, ek is in elk geval van plan om ’n nuwer kar te koop sodra ek … weer begin werk. Daai ou duikie sal nie veel verskil maak aan die prys wat ek vir die ou kar gaan kry nie, so vergeet maar van die hele saak.”

Hy lyk ontevrede, maar lewer vir ’n wonder nie kommentaar nie. Die spel begin weer en hulle kyk in stilte. Dorothea wens regtig hy wil loop. Sy het niks verder vir hom te sê nie. Hy maak haar half senuweeagtig, en sy wil nie so voel nie.

“ Watse werk?” kom dit dan uit die bloute.

“ Wat?” Sy is eers nie seker of die vraag tot haar gerig is nie.

“Watse werk doen jy? Jy kan nie dalk tik nie?”

“Ja, wel … Ek maak volgende week klaar met ’n rekenaarkursus, want ek moes van voor af leer tik op die ding. Maar ek kan tik.”

“Ek het tikwerk wat gedoen moet word, waarvoor ek bereid is om te betaal. Hoe lyk dit?”

“Bied jy vir my werk aan?” sê-vra sy ongelowig.

“Wel, dis nie permanent nie. Dis net die verhandeling wat getik moet word, waarvoor ek per bladsy sal betaal.”

Sy bedink die saak vinnig. Dit sal goeie ondervinding wees, en iets om te doen terwyl sy na iets meer formeel soek.

“Ek het nie ’n rekenaar by die huis nie.”

“Daar is een by my huis. Ek sal in elk geval wil hê jy moet daar werk, dis meer gerieflik vir die aanbring van die korreksies. Dis ook veiliger om nie die werk heen en weer te ry nie.”

“Nee, dan weet ek nie. Sal jy daar wees?” vra sy skepties.

“Nee, natuurlik nie, ek werk heeldag by die universiteit. Jy sal alleen kan werk; daar is bedags net ’n huishulp.”

“Hoe lank is die verhandeling?”

“Dis nou seker agthonderd geskrewe bladsye en so driekwart klaar. Ek kan die rekenaar gebruik, maar ek skryf nog steeds vinniger as wat ek kan tik. En daar is net nooit tyd om dit agterna oor te tik nie.”

Agthonderd bladsye? Dit kan nogal ’n tydjie neem, veral as sy handskrif nie te leesbaar is nie. En wat vra mens per bladsy? Sy het geen idee nie.

“Hoe gou moet dit klaarkom?”

“Nee, daar is nog nie ’n afsnydatum nie. Maar as daar met die tikwerk begin kan word, hoop ek om so oor maksimum vyf maande heeltemal klaar te wees.”

“Ek sal daaroor moet dink,” sê sy, hoewel sy eintlik klaar besluit het. Sy is haar eie baas, dit sal goeie oefening wees, en sy sal seker so nou en dan vir Gerrie te sien kry. “Ek sal u môreaand laat weet.”

“Gaaf. En dis goed dat jy jou toekomstige werkgewer met meer respek aanspreek. ‘Jy’ en ‘jou’ is uit.”

Sy draai verwoed na hom en wil net uitbars toe sy die tergliggies in sy oë sien glinster. Sy gesig is egter doodernstig. Dankie tog! Daar iewers skuil ’n sin vir humor!

Sy besluit om hom vir eers te ignoreer en kyk net weer stip voor haar sonder om ’n woord verder te sê. Hulle bepaal albei hulle volle aandag by die wedstryd, wat heelwat vermaaklike oomblikke oplewer. Sy is verheug toe Gerrie se span ’n naelskraap oorwinning behaal, en dat sy pa by is om dit te sien.

Die outjie kom stralend en uitasem by hulle aan. Hy gaan sit langs sy pa.

“Gaan Pa nou huis toe, of moet Pa eers gaan werk?”

Die verlange in sy stem is vir Dorothea duidelik hoorbaar, maar sy weet nie of die afsydige man langs haar dit ook kan hoor nie. Sy antwoord verbaas haar egter.

“Nee, ek het gedink ons kan sommer iewers ’n hamburger of iets gaan eet, as jy lus is.”

“Jissie, ja! Kan tannie Do- … kan die tannie saamgaan?”

“Sê maar Dot, Gerrie, dis makliker. Maar nee, dankie, ek het heelwat om by die huis te gaan doen. Veels geluk, jy het baie mooi gespeel.” Sy staan haastig op.

Gerrie lyk opreg teleurgesteld, maar hy aanvaar dit gelate, soos wat sy vermoed hy al geleer het om teleurstellings te aanvaar.

“Die tannie gaan vir my my werk kom tik, Gerhardus, dan sal jy haar miskien in die middae by ons huis raakloop.”

“Ek het nog nie besluit nie,” verweer sy.

Maar hy kyk haar vas aan en sê selfversekerd: “Ek dink tog jy het. En wat van Dorie? Ek dink dis beter as Dot.”

“Nie as jy graag die tande in jou mond wil behou nie!”

Sy gee hom nie kans om te reageer nie en gaan vinnig voort: “Ek sal môremiddag bel om te bevestig. Totsiens, doktor Steyn, totsiens, Gerrie. Goed gaan.”

Toe stap sy vinnig weg in die rigting van haar motor.

Lente in die najaar

Подняться наверх