Читать книгу Lente in die najaar - Elsa Rall - Страница 6

~ 3 ~

Оглавление

Dit duur goed vyftien minute voor sy ’n kamerdeur hoor oop- en toegaan en voetstappe in die gang af kom. Hy troon bo haar uit en stoot sy hande in sy broeksakke. Dorothea is skielik verbouereerd en moet ’n slag sluk voor sy praat.

“ Wat is jou adres hier? Ek moet –”

Hy val haar kortaf in die rede: “Kom, ek neem jou terug na jou motor.”

Hy draai op sy hakke om en stap in die rigting van die kombuis. Sy wil eers protesteer, maar is skielik moeg vir die hele spul en staan vinnig op. Sy sal maar later bel en hoor hoe dit met die kind gaan – wanneer sy pa hopelik nie by die huis is nie.

Hy sit reeds agter die stuur en sy stap om en klim sonder ’n woord langs hom in. By die hek brom hy net: “ Watter kant toe?” en sy antwoord net so kortaf.

Dis baie donker in sommige strate en die een voorlig maak ’n oneweredige ligstreep. Sy wens amper ’n verkeersman trek hom af, dit sal ’n gawe les wees, maar sy sê niks. Hy sprak ook geen enkele sprook nie.

Eindelik hou hy stil by haar karretjie, wat heeltemal verlate langs die straat op die parkeerplek staan. Tot haar verbasing klim hy uit en stap saam tot by die motor. Hy bekyk die stampplek en draai dan na haar.

“Jy moet maar die rekening vir die herstel stuur. Dankie dat jy Gerhardus huis toe gebring het.”

Hy hou sy hand uit vir haar sleutel, wat sy gedwee oorhandig, en sluit die deur oop.

Sy kyk hom ’n oomblik stil aan en wil eers niks sê nie, maar antwoord dan tog: “En aan wie moet ek miskien die rekening rig?” Sy kan nie glo dat sy so snipperig klink nie.

Hy kyk ’n oomblik vas in haar oë en sy voel haar gesig word warm, sodat sy vinnig agter die stuur inskuif. Sy hou haar hand uit vir die sleutel sonder om weer na hom te kyk. Sy vingers raak vlugtig aan haar hand toe hy die sleutels aangee en sy weier om te erken dat dit haar affekteer.

“Stuur dit aan Theunis Steyn, Posbus 317 in die stad. En weer eens dankie, mevrou Dorothea de Waal.” Hy druk haar deur toe en draai summier weg na sy motor.

Haar hand bewe, maar sy kry die sleutel in en is dankbaar toe die kar dadelik vat. Nou kan sy maak dat sy wegkom sonder om weer in sy rigting te kyk. Mansmense! Hoekom hulle ooit kinders kry, sal sy nie verstaan nie.

Die arme Gertjie. Dit lyk of sy pa net so skitter in sy afwesigheid soos haar kinders se pa. Kan hy so ongevoelig wees dat hy nie eens skrik toe hy hoor die kind was in ’n ongeluk nie? Dit lyk nie of daar ander kinders is nie.

Hoe lank sou sy vrou al dood wees? Die kombuis en die deel van die huis wat sy gesien het, was besonder netjies. Daar is seker ’n huishoudster of iets; dit lyk in elk geval nie of daar ’n tekort aan geld is nie.

Sy draai eindelik by haar eie erf in. Sy stoot dankbaar die voordeur agter haar toe, voor sy dit sluit en die grendel ook vasmaak. Wat sy nou eintlik seker nodig het, is ’n stywe dop, maar sy twyfel of daar so iets in die drankkabinet agtergebly het ná Werner se vertrek.

Maar wag! Daar moet nog ’n bietjie brandewyn oor wees van die laaste brandewyntert wat sy vir Anke se verjaarsdag gemaak het.

Sy kry die bottel eindelik onder in die kruidenierswarekas. Skink twee proppies vol in ’n glas en vul dit aan met yswater. Sy trek ’n vies gesig ná die eerste mond vol, maar die warm gevoel wat aftrek na haar maag, is nie te onaardig nie.

Sy neem die glas saam badkamer toe, waar sy ’n lekker diep bad water tap waarby sy ’n groot hand vol geurige badsout gooi. Toe sy die water wil roer, sien sy die nommers op haar hand raak en loop eers kamer toe om dit te gaan neerskryf.

Sy steek in die deur vas en draai toe na die sitkamer waar die telefoongids gebêre word. Sy kry maklik die naam. Daar is ’n hele paar T. Steyns, maar net een in die area waar sy was. T. A. Steyn, nogal dr.

Sekerlik nie ’n mediese dokter nie. Hy sal geen simpatie met ander se kwale hê nie, daarvan is sy seker! Sy skryf die nommer in haar gehawende telefoonboekie neer en loop terug badkamer toe.

Sy ontspan heerlik in die warm water, en die glas brandewyn help ook.

Maar daarna lê sy tog lank wakker en wonder oor Gerrie. Waarom hy so ’n onbesonne ding aangevang het om met sy pa se kar van die huis af weg te ry. Sy sal tog môre meer probeer uitvis wanneer sy bel om te hoor hoe dit met hom gaan.

Vroeg Vrydagoggend bel die agent en vra of sy die voornemende kopers weer ’n keer kan bring om na die huis te kyk. Hulle is beslis geïnteresseerd, en sy dink die vrou wil sommer al kom vensters meet.

Dorothea trek vinnig aan en draf deur die huis met ’n stoflap. Sy sit ’n pot filterkoffie aan die gang. Dis ’n wenk wat sy gekry het: dat die reuk glo kan help met die verkoop van ’n huis.

Die meubels bly maar karig, maar die mooi houtvloere blink en die son skyn vrolik by die vensters in. Die tuin voor is ook netjies, hoewel dit agter maar woes lyk; die swaai lê nog steeds soos ’n uitgespoelde seekat onder die boom.

Dis eintlik ’n lekker woonhuis, besef sy nou, maar hier wil sy definitief nie langer bly nie. Sy is selfs bereid om af te kom met haar prys, as dit sou beteken dat die saak gou afgehandel kan word.

Teen tienuur sit hulle by die kombuistafel en koffie drink, nadat die nodige dokumente deur beide partye onderteken is. Die agent verseker hulle dat dit nou sommer gou sal gaan, en Dorothea onderneem om die huis die einde van die maand te ontruim.

Nadat die mense vertrek het, bel sy ’n handelaar in tweedehandse meubels en maak ’n afspraak dat die man kan kom kyk na haar goed. Want sy het summier besluit om alles te verkoop en letterlik van voor af te begin. Sy het ook die agent opdrag gegee om vir haar te soek na ’n tweeslaapkamerwoonstel of -huisie in ’n kompleks iewers in die buitewyke van die stad.

Teen twaalfuur skakel sy op die ingewing van die oomblik die Steyns se nommer. Sy weet nie wat sy gaan sê as die pa dalk antwoord nie, en Gerrie is heel waarskynlik in die skool, maar dalk is daar ’n huishoudster.

Die foon lui lank en sy wil net neersit toe iemand optel.

“Doktor Steyn se woning, goeiemôre.”

Die vrou klink middeljarig en effens uitasem. Dorothea aarsel ’n oomblik, maar pak dan die bul by die horings.

“My naam is Dorothea de Waal. Ek het net gewonder hoe gaan dit vandag met Gerrie. Ons het gisteraand so half in mekaar vasgeloop – of liewers, vasgery.”

“O, môre, mevrou. Ja, ek het vanmôre agtergekom die ark is maar redelik om in hierie huis en klein Gert het so vinnig vertel wat gebeur het. Ek dink hy is orraait, hy is wel skool toe, en sy pa is natuurlik ook nie hier nie. Ek is Regina van der Merwe, mens kan maar sê die huishoudster. Klein Gert behoort so teen drieuur by die huis te wees. Dis te sê as hy nie weer detensie moet sit by die skool nie.”

“ Ai, hoe klink dit dan of die mannetjie taamlik baie in die moeilikheid is?”

“Ja, dis maar ’n sorry affêre vandat mevrou oorlede is met net die twee mansmense in die huis. Ek probeer hard om die dinge bymekaar te hou, maar die kind kry swaar. Dit sal gaaf wees as mevrou bel en bietjie met hom gesels. Soos ek sê, hy behoort teen drieuur hier te wees, en sy pa kom nooit voor sesuur huis toe nie.” Sy klink moederlik besorg.

Dorothea groet en lui af. Sy loop ingedagte kombuis toe om vir haar iets te gaan maak om te eet.

Ná ete gaan sit sy met haar boeke om gister se klaswerk weer deeglik deur te gaan. Dis eintlik maar moeilik sonder ’n rekenaar – dis nog iets wat sy vir haar nuwe lewe sal moet aanskaf.

Lente in die najaar

Подняться наверх