Читать книгу Lente in die najaar - Elsa Rall - Страница 8

~ 5 ~

Оглавление

Dorothea tob die res van die dag daaroor of dit wel ’n goeie besluit sal wees om by die Steyns se huis te gaan werk. Sy is baie jammer vir Gerrie, maar wil sy nou regtig by ’n ander man se kind betrokke raak?

Die doktor is meestal ’n pyn en sy is nie van plan om enige twak van hom op te eet nie. Maar sy kan nie help om te wonder of haar opmerkings die aand van die ongeluk dalk daartoe bygedra het dat hy tóg tyd gemaak het vir sy seun se rugbywedstryd nie. As dít die geval is, het daar tog iets goeds uit die ongeluk gekom. En as sy daar sou gaan werk, kan sy hom dalk so nou en dan weer ’n stootjie in die regte rigting gee.

Hopelik sal hulle in elk geval min met mekaar te doen kry, want vir mansmense se nonsens het sy geen krag nie. Buitendien, sy kan enige tyd loop as dinge haar nie geval nie. Verder sal dit haar die geleentheid gee om haar nuutverworwe rekenaarvaardigheid te oefen.

Sy bel Sondagoggend vroeg haar kinders vir hulle weeklikse geselsie, en om vir hulle te sê dat die huis verkoop is. Nie een van hulle beplan om binnekort terug te kom nie, maar Anke opper weer die voorstel dat Dorothea mos nou ’n slag oorsee kan reis en vir hulle kom kuier, aangesien daar niks is wat haar terughou nie. Sy belowe om daaroor te dink en verlekker haar half in die gedagte hoe suur Werner sal wees as hy hoor dat sy “sy” geld mors op so ’n onnodige uitgawe.

Sy wonder skielik ’n paar oomblikke oor Werner. Bly hy alleen, of is daar weer ’n vrou in sy lewe? Of dalk ’n man?

Dié gedagte laat haar in die gang vassteek. Waar kom dít vandaan? Sy het nog nooit daaraan gedink nie, maar dis seker moontlik. Dalk is dít die rede waarom dinge van die begin af wou skeefloop. Of dalk is hy maar net so selfgesentreerd dat hy nie ander mense nodig het nie.

Sy skud haar skouers half ongeduldig. Die man met wie sy getroud was, is lankal nie meer ’n faktor in haar lewe nie, waarom nóú oor hom begin wonder? Wat haar betref, is hy eintlik net te bejammer en dis al.

Wat egter beslis meer jammer is, is die feit dat hy sekerlik daarvoor verantwoordelik is dat sy nou alle mans met ’n groot mate van agterdog bejeën. En dit sal dalk nooit verander nie. Maar nou ja, dit hoef ook nie. Sy is veertig, vry en lus vir nuwe dinge. Hulle sê mos die lewe begin eintlik op veertig. Nou, sy is reg om dit te ondersoek!

Sy bly besig met gordyne afhaal en was. Die droës vou sy sorgvuldig op om later te stryk. As sy eers ’n nuwe blyplek het, sal sy besluit watter sy weer gaan gebruik, indien enige.

Sy wil net vir haar gaan tee maak toe die telefoon begin lui.

“Mevrou De Waal?” herken sy die doktor se stem toe sy antwoord.

“Ek reken dit sal ’n goeie plan wees as jy sommer nou kan oorkom dat ek jou wys waar die werk en die rekenaar is. Dan kan jy ook ’n sleutel neem, sodat jy kan kom werk wanneer jy wil. Môreoggend moet ek baie vroeg ry.”

Dorothea is stomgeslaan. Sy bedink haar drie keer en voor sy kan antwoord, vra hy: “Is jy nog daar?” Hy klink nors en kortaf.

“Ja. Jy weet regtig hoe om mense te benader om die beste reaksie te kry. Ek sal oor ’n halfuur daar wees.”

Sy sit die gehoorstuk neer sonder om op ’n antwoord te wag. Sy staan ’n ruk lank besluiteloos, nog met haar hand op die telefoon. Sy wou hom ’n bietjie later bel, maar hy het haar voorgespring.

Dis ’n baie eienaardige man. Sommer plein onbeskof die helfte van die tyd. Het sy regtig nou dít in haar lewe nodig?

Maar sy hoef mos eintlik niks met hom te doen te hê nie. En dalk is dit ’n goeie ding dat hulle van die begin af presies weet waar hulle met mekaar staan. Hy dink blykbaar oor hy kwansuis so slim is, hoef hy nie moeite te doen om met mense oor die weg te kom nie.

Sy sal dit as ’n uitdaging beskou om hom nooit die plesier te gee om te weet dat sy haar aan hom steur nie. Nee, sy sál haar nie aan hom steur nie. Sy sal eenvoudig professioneel en korrek optree, die tikwerk doen so lank as wat dit haar pas, en intussen haar nuwe blyplek en nuwe lewe uitsorteer.

Sy besluit om nie te verklee nie. Haar klere is skoon en netjies, en dis nie asof sy vir ’n onderhoud gaan nie. Sy het klaar die werk, en verder maak dit nie saak wat hy dink nie. Sy trek net ’n kam deur haar hare en was haar hande. Sy sit ’n bietjie lipstiffie aan, maar dis meer omdat haar mond so droog voel …

Sy is amper by die deur toe die telefoon weer lui. Dis Ellen, haar goeie vriendin en buurvrou van baie jare, wat pas terug is van ’n ses weke lange vakansie. Sy wil hê Dorothea moet oorkom sodat hulle ordentlik kan kuier en al die nuus kan uitruil.

“ Wonderlik!” antwoord sy. “Het julle lekker gekuier? Luister, pak solank uit, ek moet net vinnig iewers heen, dan kom ek oor. Daar is soveel om te vertel.”

Sy stap met ’n glimlag na haar motor. Ellen kon haar nog altyd opbeur en beter laat voel. Niks kry vir Ellen onder nie. Sy kan nie wag om haar al die nuus te vertel nie!

Twintig minute later lui sy die Steyns se voordeurklokkie en trek haar gesig op ’n ernstige plooi. Dis egter ’n vermorsing, want dis Gerrie wat die deur oopmaak. Hy lyk regtig bly om haar te sien.

“Middag, tannie Dot. Kom in, ons is besig om koffie te drink in die kombuis. Ek het dit gemaak.”

“Middag, jong. Ek is eintlik ’n bietjie haastig. Miskien moet ek en jou pa eers oor die werk gesels.”

“My pa is in die kombuis. Tannie kan mos maar koffie drink en gesels op dieselfde tyd?” Hy lyk so teleurgesteld dat sy glimlaggend instem.

Sy stap agter hom aan in die gang af kombuis toe. Theuns Steyn staan by die wasbak en tap water in sy koffiebeker. Hy draai tydsaam om toe Gerrie agter hom praat.

“Het Pa klaar gedrink? Ek het gesê die tannie moet kom saamdrink.”

“Middag, mevrou. Ek is haastig, Gerhardus. Ek wil die eerste klomp bladsye wat getik moet word, gaan uitsorteer. Drink julle maar koffie en dan kom wys jy die tannie waar die studeerkamer is wanneer julle klaar is. Jy het ook nog huiswerk wat moet klaarkom, of hoe?”

En sonder om weer in haar rigting te kyk, stap hy met lang treë by die kombuis uit.

Dorothea kners innerlik op haar tande. Sy wil net iets snedigs kwytraak toe sy Gerrie se onderlip sien bewe.

“Nou toe, jong, ek is lus vir ’n lekker koppie koffie. En sommer ’n stukkie van hierdie koek ook.” Sy beduie na die roomgedoente wat op die kombuistafel staan, kennelik by een of ander kettingwinkel gekoop. Dis meer room as koek en nie regtig haar smaak nie.

Gerrie se gesig straal weer. “My pa het dit gister vir ons gekoop na die wedstryd. Ons het nooit eintlik koek nie. Sny sommer self vir tannie ’n stuk af.” Hy raak doenig by die ketel met ’n beker en ’n blik kitskoffie. “Ek hou eintlik meer van regte sjokoladekoek, want die winkel s’n is nie so lekker soos dié wat my ma gemaak het nie, met sommer sulke dik versiersuiker op. My pa was net so lief daarvoor …”

Hy staan ’n paar oomblikke kop onderstebo by die ketel. Draai dan met ’n verleë glimlaggie om en kom sit die koffie voor haar op die tafel neer.

“Dankie, Gerrie.”

Sy roer suiker by terwyl sy langsaam kou aan ’n hap droë koek. Sy wil eers uitvra oor sy ma, maar besluit dan dit kan later gebeur.

“Ja, tuisgebakte koek, en veral sjokoladekoek, is darem maar lekkerder as winkelkoek. Hoewel hierdie heel lekker is, hoor!” voeg sy vinnig by. “ Wie maak vir julle kos? Regina? Kan sy nie koek bak nie?”

Gerrie smul aan ’n groot stuk koek wat hy vir hom afgesny het. Hy sluk eers voor hy sê: “Ja, sy maak vir my iets na skool en dan kookkos vir die aand. Naweke maak ek en my pa maar so self kos. Ek kan eiers bak en roosterbrood maak en nog ’n paar goed. Dis nie moeilik nie, en my pa eet gewoonlik min as hy eers besig raak met sy werk.”

Dit klink al meer vir Dorothea of die stomme kind die meeste van die tyd aan homself oorgelaat word. Die wonderlike doktor laat blykbaar maar so die water oor die akkers loop. Sy eet die laaste happie koek en sluk dit met die koffie af.

“Dankie, Gerrie. Dalk as daar tyd is, kan ek jou eendag wys hoe om ’n regte sjokoladekoek te bak. Maar nou moet jy my eers gaan wys waar die studeerkamer is.”

Die vertrek waarheen hy haar neem, is ruim en het ’n yslike lessenaar, twee leerleunstoele, boekrakke tot bo teen die plafon en groot vensters wat uitkyk op ’n paar reusebome aan die oostekant van die huis.

Sy pa sit agter die lessenaar en hoor hulle skynbaar nie eens inkom nie. Sy hare is deurmekaar, asof hy sy hande daardeur getrek het, en sy gesig agter die bril is die ene konsentrasie. Dis nogal ’n aantreklike gesig, met ’n hoekige kakebeen, ruie wenkbroue en diep kepe langs die neus. Sy hempsmoue is opgerol tot by die elmboë en hoewel hy skraal voorkom, is sy skouers breed en sy voorarms gespierd.

Dorothea maak twee keer keel skoon voor hy opkyk. Vir ’n oomblik lyk dit of hy nie weet wie dit is nie, maar dan staan hy op.

Hy beduie na die rekenaar wat op die een kant van die lessenaar staan. “Hier is die eerste vyftig bladsye waarmee jy kan begin. Ek sal bly wees as jy maar kan druk sover jy gaan, want dis makliker vir my om dit op papier na te gaan. Daar is papier in die drukker.”

Sy kry die indruk dat hy haar kwalik raaksien en dat sy gedagtes elders is. Sy neem die bladsye by hom en bekyk vlugtig die handskrif. Dit lyk darem heel leesbaar.

Hy trek ’n laai van die lessenaar oop en haal ’n sleutelring uit. “Hier is ’n voordeursleutel, ingeval Regina nie hier is wanneer jy kom nie. Sal jy môre kan begin?”

Hy kyk skielik op en vas in haar oë. Syne is feitlik staalgrys en lyk vir haar heeltemal uitdrukkingloos.

“Ja. Maar dit sal waarskynlik aan die begin stadig gaan, en ek het nog heelwat ander dinge om uit te sorteer …”

“Net solank daar darem elke aand iets is wat ek kan nagaan. Maar nou moet jy my verskoon, ek het heelwat te doen.”

Hy gaan sit sonder verdere omhaal agter die lessenaar en tel sy pen op. Dorothea staar hom ’n paar sekondes verstom aan, voor sy woordeloos omdraai en uitloop.

Sy kan maar net haar kop skud. Een oomblik is die man amper normaal, en dan verander hy soos handomkeer. Sy wonder tog soms of die verstrooide professor-beeld dalk nie eg is nie. Is dit net ’n rol wat hy speel om ander mense weg te hou? Wel, dit pas haar, want sy het geen begeerte om nader aan hom te kom nie.

Gerrie is nêrens te sien nie. Sy loop reguit na haar kar toe en maak dat sy wegkom.

Lente in die najaar

Подняться наверх