Читать книгу Lente in die najaar - Elsa Rall - Страница 5
~ 2 ~
ОглавлениеDie volgende paar weke is Dorothea erg bedrywig. Een van die eerste dinge wat sy gedoen het, was om ’n tydelike huishulp te huur wat die ou huis van hoek tot kant moes skoonmaak – en skoon hou totdat dit verkoop word. Sy wat Dorothea is, sal hier nie weer aan ’n besem of ’n stoflap vat nie!
Sy het die kinders van die egskeiding laat weet en hulle het dit aanvaar. Werner met ’n “Bravo!” en Anke meer bekommerd en met vele voorstelle en vermanings – asof sý die ma is!
Dorothea het haar dik bos vaal krulle ordentlik laat knip en die ligstrepe laat insit waaroor Anke soveel keer geneul het. Sy was verwonderd oor die verskil wat dit aan haar voorkoms gemaak het. Sy het ook haar klerekas aansienlik aangevul en gemoderniseer. Die huis se verkoop het sy aan ’n agent opgedra, en toe het sy gaan inskryf vir ’n rekenaarkursus, want sy het spoedig gesien dat tik alleen nie meer die ding sal doen nie.
Sy wil bitter graag ’n nuwe karretjie ook koop, maar al die jare se indoktrinasie oor spaarsamigheid kan sy nie heeltemal afskud nie. Sy besluit dus dis die eerste ding wat sy sal koop wanneer sy haar eie salaris verdien of ’n goeie prys vir die huis kry.
Op Anke se aandrang en met die Britse ponde wat sy as verjaarsdaggeskenk van haar kinders ontvang het, maak sy ’n afspraak vir ’n volledige skoonheidskuur die dag voor die rekenaarkursus begin: gesig, hande, voete, die hele lot!
Nou sit sy hier agter die rekenaargedoente – ’n byna splinternuwe een-en-veertigjarige sikspens. Saam met haar wag so sewe ander tegnologies-agtergeblewenes op die aanvang van die eerste les. Die sleutelbord voor haar is vaagweg bekend en die letters se volgorde en rangskikking is dieselfde as dié van die tikmasjiene van ’n leeftyd gelede in matriek, toe sy nogal ’n taamlike tikspoed behaal het. Daar is egter ook ’n hele klomp ander toetse wat sy maar wantrouig bekyk.
Die eerste les vlieg verby, sonder dat hulle regtig meer doen as om die rekenaar aan te skakel. Dorothea is teleurgesteld, want sy wou baie graag vasstel of sy nog iets onthou van haar vervloë tikklasse. Sy besef darem sy moet seker eers meer van die apparaat en sy funksies weet voor sy dit kan probeer gebruik.
Sy weet egter nou wat is ’n muis, die muiswyser, die invoegpunt en die desktop. Sy het ook ’n handleiding, waarvan hulle die eerste drie modules moet probeer bemeester voor die volgende les oor twee dae.
Dis anders as op skool en sy gooi haar met oorgawe in die kursus. Haar tikvaardigheid is bietjie verroes, maar met oefening kom dit sommer gou weer terug. Sy is heimlik in haar noppies dat daar iets is wat sy die beste in die klas regkry.
Sy is elke keer opnuut in vervoering oor die sleutels wat met die ligste aanraking die werk doen, want sy onthou nog hoe hulle die ou meganiese tikmasjiene se toetse moes hamer. Sy kry sommer lus vir tik. En natuurlik bly die gerieflike delete-knoppie vir foute ’n heerlikheid! Sy is vol hoop dat sy wel iewers ’n werk sal kry.
Die meeste kere ná die les bly sy agter om te oefen as daar ’n rekenaar beskikbaar is tydens die volgende klas. Dis al sterk skemer toe sy in die tweede laaste week van die kursus in haar tjorrie klim om huis toe te gaan.
Daar moes vroeër ’n buitjie reën uitgesak het, want die teerpad glinster blink onder die dowwe straatligte. Dis seker ook die laaste reën van die somer, want die aandluggie het al ’n goeie byt. Sy het die oggend die goeie nuus gekry dat daar ’n koper is wat definitief belangstel in die huis, en haar kop is besig met allerhande planne.
Sy is amper by die kruising toe daar ’n groot, luukse motor te wyd en te vinnig van regs af om die draai kom. Dit tref haar karretjie teen die kant van die kattebak, sodat sy tot stilstand geswaai word. Die skok is geweldig en sy sit ’n paar oomblikke vasgenael agter die stuurwiel. Geleidelik dring die besef deur dat sy eintlik niks oorgekom het nie, sy is net vrek gelukkig dat die motor nie aan die bestuurderskant getref is nie.
Sy maak haar sitplekgordel los en klim versigtig uit. Die ander motor staan dwars oor die pad ’n entjie agter hare. Die straat is doodstil en daar is geen ander verkeer nie. Die bestuurder sit nog agter die wiel en sy loop angstig nader, onseker oor wat sy daar gaan aantref. Haar knieë bewe gevaarlik van die nawerking van die skok.
Die groot motor se regtervoorlig is flenters, maar verder lyk die skade gering. Die bestuurder sit met sy kop op sy hande op die stuurwiel en dit lyk nie of daar ander mense in die motor is nie. Sy sien nêrens bloed nie.
Sy steek haar hand deur die oop venster en raak versigtig aan die persoon se skouer. Hy lig stadig sy kop en kyk met verdwaasde oë in haar gesig.
“My magtag, kind! Jy’s mos nie oud genoeg om te bestuur nie. G’n wonder jy ry soos ’n besetene nie. Waar’s jou ma? Het jy seergekry? Praat met my!”
Hy kyk haar ’n paar oomblikke stom aan en begin dan rukkend huil. Sy staan ’n oomblik besluiteloos en maak dan die deur oop. Hy het nie sy sitplekgordel vasgemaak nie en sy kry hom ferm aan die arm beet en praat rustig.
“Huil maar, dis goed vir jou, maar sê my net of jy iewers seergekry het. Hoe voel jou bene en arms? Kan jy uitklim?”
Hy huil harder, maar swaai ná ’n paar oomblikke sy bene uit en kom sukkelend orent. Sy sit haar arm om die skraal skouers en geleidelik bedaar hy. Eindelik hou hy met ’n snuif en ’n sidderende sug op met huil.
“My pa gaan my doodmaak. Kyk hoe lyk die kar,” sê hy met ’n yl stem.
“Hoekom sal dit jou pla?” vra sy saaklik. “Jy was in elk geval klaarblyklik daarop uit om selfmoord te pleeg, en in die proses kon jy my saam met jou gevat het.”
Hy draai sy kop en kyk haar verstom aan. Sy mond begin sommer weer bewe.
Sy sê meer simpatiek: “ Wag nou, dis nie so erg nie. Jy het nie seergekry nie, behalwe vir die rooi kol op jou voorkop, en ek makeer niks. Jou ouers sal maar te dankbaar wees dat jy niks oorgekom het nie. Die moeilikheid gaan meer wees oor jy sonder ’n rybewys bestuur het en nog ’n ongeluk ook veroorsaak het.”
Dit lyk of hierdie werklikheid nou eers tot hom deurdring.
“ Asseblief, tannie, moenie die polisie bel nie! My pa sal betaal vir tannie se kar. Hy sal my eers doodmaak, maar dan sal hy betaal vir die kar. Asseblief tog, tannie!”
Sy gesig is spierwit en sy pupille besonder groot. Hy bewe nou so groot soos wat hy is. Hy ly aan skok, sien sy, en sy neem vinnig ’n besluit.
“Kom, klim in, ek neem jou huis toe. Ek trek net eers my kar uit die pad. Toe, skuif oor. Jy bestuur nie weer nie.”
Sy trek die groot motor se sleutel uit, voor sy vinnig in haar eie kar gaan klim, dit uit die pad trek en ’n entjie verder aan parkeer. Gelukkig is die skade nie só dat dit nie verder kan ry nie. Sy haak haar handsak oor haar skouer, sluit haar karretjie en loop terug na waar die ander motor nog skuins in die middel van die pad staan.
Dis nou al heeltemal donker en sy skakel die ligte aan, maar dis duidelik dat die regtervoorlig nie werk nie.
“Nou toe, nou moet jy beduie hoe ons moet ry. Waar bly julle? Is dit ver van hier af?”
Hy sit ineengedoke en stil langs haar, maar kry dit nietemin reg om te beduie hoe sy moet ry. Ná ongeveer tien minute in ’n gegoede deel van die stad draai sy tussen twee ysterhekke in. Sy ry met ’n geplaveide oprit na die garage, waarvan die deur oop is.
Hy beduie dat sy moet inry en toe sy stilhou, druk hy ’n afstandbeheerder wat die deur agter hulle laat toegaan. Sy skakel die enjin af en kyk na die figuurtjie langs haar. Sy kry hom skielik vreeslik jammer. Hy is ’n toonbeeld van verslae verwesenheid.
“Hei, my naam is Dorothea. Wat is joune?”
“Ek is Gerrie, tannie, maar my pa sê Gerhardus.”
“Nou, Gerrie, ek is vreeslik lus vir ’n koppie soet tee. Dink jy ek sal een hier binne kry?”
Hy lyk glad nie lus om uit te klim nie, maar maak dan tog die deur oop.
“Ek sal vir tannie gaan tee maak. Ons loop sommer hier deur na die kombuis toe.”
Dis ’n heerlike, groot, moderne kombuis, goed toegerus met alle denkbare toebehore. Gerrie se ma is ’n gelukkige vrou … Maar waar is die mense? Die huis is grafstil.
Sy hoor hoe kap die ketel teen die kraan toe Gerrie dit met bewende hande probeer vol maak.
“ Wag, haal jy vir ons bekers en teesakkies uit. Ek sal die water kook. Kry sommer melk en suiker ook,” sê sy.
Die outjie is heel tuis in die kombuis en sy wonder oor sy omstandighede. Toe haar Werner so groot was, sou hy nie geweet het waar om die teesakkies uit te haal nie.
’n Paar minute later sit hulle albei by die kombuistafel en sluk elkeen aan ’n groot beker soet tee. Sy is bly om te sien dat sy wange effens kleur gekry het. Sy besluit om eers haar tee klaar te drink voor sy verder uitvra.
Sy wil net opstaan om haar leë beker in die wasbak te sit, toe die kombuis se middeldeur agter haar oopgaan. Sy sien Gerrie se oë rek verskrik. Sy draai stadig om op haar stoel.
Die lang, skraal gestalte van ’n breedgeskouerde man staan die hele deuropening vol. Sy ken is hoekig en die oë agter die brilglase is skerp. Sy vaalblonde hare hang deurmekaar oor sy voorkop.
“ Waar was jy, Gerhardus? Ek het jou in jou kamer gaan soek. En wat gaan hier aan? Wie is dit dié?”
Hy kyk net skrams in Dorothea se rigting en sy voel hoe haar gesig warm word. Gerrie sluk ’n slag, maar kry nie ’n woord uit nie en lyk baie bang.
Sy staan doelgerig op en draai na die man.
“Goeienaand. Ek is Dorothea de Waal. Ek het Gerrie huis toe gebring ná hy so ’n ligte ongelukkie met die motor gehad het. Weet jy dat hy jou kar kan bestuur? Hy het gelukkig nie seergekry nie, en ek ook nie, sal jy dankbaar wees om te verneem.” Haar stem hou sy lig in ’n poging om die situasie te ontlont.
Die frons op sy gesig is iets om te aanskou. Hy loop sonder ’n woord by hulle verby en maak die deur na die garage oop. Een kyk is genoeg om hom te oortuig dat sy nie sit en nonsens praat nie.
Hy draai terug na sy seun. Sy stem is diep en gevaarlik stil toe hy sê: “Gaan kamer toe. Ek sal netnou met jou kom praat.”
Gerrie kyk net vlugtig na haar, voor hy sonder ’n woord uitloop.
Dorothea voel hoe haar hele lyf warm word van verontwaardiging.
“Vaderland, maar jy is ’n koue bliksem! Die kind kon dood gewees het. Hy het baie groot geskrik. Waar is sy ma?”
As hy haar met sy oë kon verdelg, sou hy.
Sy stem is yskoud en afgemete toe hy antwoord: “Sy ma is dood. Ek het nie jou voorskrifte nodig nie. Dankie dat jy hom huis toe gebring het. Jy kan nou gaan.”
“Gaan? Waarheen gaan? Iemand moet my terugneem na my kar toe. En ’n ‘Baie dankie, mevrou, dat u nie die polisie betrek het nie’ sal nie onvanpas wees nie.”
Haar sarkasme val op dowe ore.
“Ek het jou nie gevra om hom terug te bring nie – sien maar self hoe kom jy by jou kar. Stap as dit nie anders kan nie. Die deur is diékant toe.” En hy beduie in die lang gang af na die voordeur.
Dorothea is vir ’n oomblik sprakeloos. Dan storm sy verwoed by hom verby. G’n wonder die arme Gerrie – Gerhardus! – wou hier wegkom nie. Die man is onuitstaanbaar. Sy sal stap tot by haar kar, maar van hom vra sy niks.
Sy steek egter in die deur vas en draai terug na die telefoon in die portaal. Sy het mos besluit sy vat nie meer bevele van enige man nie. Sy voet! Sy sal bel vir ’n taxi. Sy ignoreer hom heeltemal, gaan sit doodluiters met die gids op haar skoot en begin die nommer opsoek.
Sy kyk vlugtig op na die man wat haar swyend staan en aankyk.
“Ek sal regkom, dankie. Gedra jou om vadersnaam net vir ’n rukkie soos ’n regte pa en gaan sê vir jou seun jy is bly hy het nie seergekry nie. Wat het jy in elk geval aan hom gedoen dat hy hier moes wegjaag?”
Sy kakebene word nog meer hoekig soos hy op sy tande byt. Vir ’n oomblik lyk dit of hy gaan losbars met ’n snedige antwoord. Dan draai hy sonder ’n woord om en stap driftig terug in die gang en verdwyn om die draai.
Dorothea byt op haar lip. Sy weet nie wat haar besiel het om so ongeskik met ’n vreemde man in sy eie huis te wees nie. Miskien ly sy ook aan skok. Maar sy moet erken, dit het nogal goed gevoel om ’n slag te sê presies hoe sy voel en haar nie te laat intimideer nie.
Haar hande bewe effens toe sy die gids oopmaak en die nommer begin soek. Daar is ’n balpuntpen op die tafeltjie en sy skryf sommer die nommer op haar hand neer. Sy begin reeds die nommer skakel, toe sy besef dat sy nie weet watter adres om te verskaf nie.
Sy plaas die gehoorstuk terug op die mik en skryf ook die huistelefoonnommer op haar hand neer. Sy sal maar wag tot Gerrie of sy pa weer te voorskyn kom voor sy die taxi bel.
Sy luister fyn, maar hoor niks. Dit klink darem nie of die man nou sy kind verskree nie …