Читать книгу Elsa Winckler Eerste Keur - Elsa Winckler - Страница 10

7

Оглавление

“Die Reynecke-ou het weer gebel. Hy kom skynbaar nou môre vir Maggie haal. Het dit iets met jou te doen?” Haar pa sluk ewe ongeërg aan sy glasie wyn, maar sy kan sien hy hou haar fyn dop. Uit die hoek van haar oog sien sy haar ma se vurk het op pad mond toe gevries.

Cilla hou haar oë op haar kos toe sy droog antwoord: “Nee, Pa, ons vry net, daar is nie tyd vir praat nie.”

Dis doodstil, dan stik haar pa in sy wyn en haar ma giggel.

“Wat! Hoekom hoor ons nou eers hiervan?”

Met ’n glimlag kyk Cilla op en lig haar skouers. “Ons … gaan saam uit, flirt en so aan, maar Mamma, moet asseblief nie die kerk bespreek nie, daar is nie sprake van enigiets langtermyn nie. Ons geniet net mekaar se geselskap. Wel, dis nou as ons die slag by mekaar is. Ons het dit darem een keer die week reggekry.”

“Definieer geniet,” grom haar pa.

Haar ma lag en raps hom teen die skouer. “Asof jy nie weet nie. Maar Cilla, hoekom het jy hom nie oorgenooi nie? Ons sal darem graag die ou wat ons dogter … wel, wat van ons dogter se geselskap hou, wil leer ken.”

“Ma, hoor nou mooi wat ek sê, daar is niks ernstigs aan die ontwikkel nie, ons praat nie eers elke dag met mekaar nie. En iewers sal hy seker weer hier aankom, seker as hy vir Maggie kom haal. Maar dis nie asof hy sy aanstaande skoonouers moet ontmoet of so iets nie. Asseblief, Mamma, moet nou nie allerhande skimpe gooi nie.”

Haar ma snuif verontwaardig. “Hoe ken jy my?”

Cilla lag. “Dis ómdat ek vir Ma ken dat ek dit sê. Net omdat julle twee getroud is toe julle skaars mondig was, beteken nie ek gaan dit ook doen nie. Daar is nog te baie dinge wat ek wil doen. Trou en kinders kry is baie laag op my agenda.”

“Ja, maar …” begin haar ma.

“Ek wou Ma nog vra om te help met die reëlings vir die matriekafskeid. Wat van varkribbetjies vir die hoofgereg?” val Cilla haar ma in die rede.

“O nee, my kind, die arme ou meisietjies met hulle mooi rokke sal mos nooit dit eet nie, en buitendien …”

Cilla slaak ’n sug van verligting. Dis nog vir haar moeilik om te praat oor haar en Reynecke. Sy kon nog nie eens vir haarself die hele ding mooi uitpluis nie.

Ná ete stap sy af stalle toe. Sy wil kyk hoe dit met Maggie gaan. Dis koud buite en sy stap vinnig terwyl haar gedagtes bly maal. Reynecke. Nie ’n minuut gaan verby dat sy nie aan hom dink nie.

Hy het Dinsdagaand by die woonstel opgedaag, toe Philip ook daar was. Ouma By is skynbaar Maandag terug huis toe. Imke was baie koel met Reynecke, maar teen die tyd dat die mans huis toe is, het sy al effens ontdooi.

Cilla het vir Imke probeer verduidelik hoe dinge tussen haar en Reynecke staan, maar nadat sy Imke se opsomming van die situasie gehoor het, het sy ophou probeer. Want Imke het haar net ondersoekend aangekyk en gesê: “O, so julle vry net.”

Sy het glad nie geweet hoe om daarop te reageer nie, want … dis seker presies waarop dit neerkom. Behalwe dat daar nog nie weer ’n geleentheid was vir ’n soen nie, wat nog te sê iets meer. Reynecke het nie verdere reëlings met haar getref nie, en sy begin wonder of hy al klaar besluit het om haar nie baie te sien nie.

Maggie runnik en Cilla stap vinnig na haar stal toe. “Hallo, skat. Weet jy wat môre gaan gebeur?” Maggie skud haar kop en beweeg senuweeagtig na agter. “Toemaar, toemaar, ek sal sorg dat hy jou nie seermaak nie,” fluister Cilla en steek haar hand uit na die merrie.

Toe Maggie rustiger is, stap Cilla terug huis toe. Haar selfoon lui. Reynecke.

“Hallo. Hoe gaan dit?” groet sy kalm.

“Goed, waar is jy?”

“Op Heuningkloof. By my ouers.”

“O.” Dis ’n oomblik stil. “Ek … wou bel, maar hier was die een krisis op die ander, ek het gehoop ons kan … ek bedoel, jy kan …”

Cilla hoor ’n paar onderlangse knope. Oukei, so die man is nie so koeltjies soos wat hy wil voorgee nie.

“Ek hoor jy kom môre vir Maggie haal.”

“Ja, dis hoekom ek bel. Ek wou vra of jy asseblief sal saamkom? Ek bedoel, as ek vir Maggie kom haal. Kan jy saamkom plaas toe?”

“Het jy hulp nodig?” vra sy onskuldig.

“Nee, ek het nie hulp nodig nie, ek … dit sal vir my … wil jy saamkom of nie?”

“Saamkom om … te?” Cilla byt op haar lip om nie te lag nie. Genugtig, maar die man sukkel.

“Wel, ag, saamkom om … saam hiernatoe te kom.”

“Reynecke, hoekom wil jy hê ek moet saamkom?” Sy vra dit stadig, asof sy met ’n kind praat. Sy hoor ’n onderlangse gebrom.

“Ek sal vir ons vleis braai.”

Cilla bly ’n rukkie stil, maar dit klink nie asof hy nog iets gaan sê nie.

“Laat ek kyk of ek dit reg verstaan. Jy bel my om te vra of ek sal saamkom as jy vir Maggie kom haal, want jy gaan vleis braai.”

“Ja, wat is nou so moeilik om te verstaan?”

“Nooi jy my om by jou te kom eet? Wil jy hê ek moet kyk hoe jy vleis braai? Moet ek kyk hoe jy eet?”

Dié keer is die vloekwoord hard en duidelik. “Jy maak my heeltemal mal, weet jy? Ek nooi jou om by my te kom eet, is dit so snaaks?”

“Nee, dis nie snaaks nie, maar dis die eerste keer dat jy my vra. Dankie, Reynecke, ek sal graag môreaand by jou kom eet.” Dan lag sy en hoor sy verleë laggie.

“Ek is verroes. Ek doen dit nie gereeld nie. En jy …” Hy bly stil.

“Ja, wat van my?”

“Jy laat my tong knoop en ek weet nie wat om met my hande te doen nie.”

Cilla is by die voordeur en leun vinnig teen die kosyn. Sy voel skielik lighoofdig.

“En toe, het ek jou nou uiteindelik stil gepraat?” vra hy.

“Heeltemal stil. Sien jou môre.” Sy druk die foon dood.

Sekondes later kry sy ’n WhatsApp: 2h.

Sy glimlag en stuur ’n boodskap terug: 2h wat?

Sy kry een terug: &%$# ek kom haal jou 2h.

Sy stuur terug: kan vroeër, nie klas nie.

Amper dadelik stuur hy: 8h?

Sy lag en stuur terug: 9h.

En dan: 9h, bring jou tandeborsel.

Cilla gaan sit vinnig op die trappies en druk haar selfoon teen haar lyf vas. Sy is heeltemal sonder asem. Haar hart bons teen ’n nuwe tempo en die sterre is meteens helderder, die sekelmaan witter, haar hart ligter.

“En nou, as jy hier sit en glimlag?” vra haar ma langs haar en kom sit ook.

“Ag, Mamma …” Sy lag. “Reynecke het gebel. Hy … ek gaan môre saam as hy vir Maggie kom haal. En hy het gesê ek moet my tandeborsel saambring.” Sy hou haar asem op.

“Nè?” Dis ’n rukkie stil, dan kyk haar ma na haar. “Jy sal doen wat reg is vir jou, my kind, jy het nog altyd.” Sy glimlag en staan weer op. “Maar as ek vir jou kan raad gee, moenie vir jou pa sê van die tandeborsel nie. Dan gaan hy nou-nou ook saam.”

Cilla lag en staan vinnig op. Sy druk haar ma vas. “Ek … ek dink ek wil graag by hom wees,” fluister sy.

Haar ma slaan haar arms om haar en hulle staan ’n rukkie so. “Dis hy wat jy geteken het toe jy nog klein was,” sê sy, en Cilla kan net stom knik.

Cilla sluk aan haar eerste beker koffie en kyk hoe die sonstrale die Overberg se rûens rooi verf. Sy het amper niks geslaap nie. Sy is so opgewonde soos ’n hoërskoolmeisiekind voor haar eerste date. Sy gaan binnekort vir Reynecke sien, en vanaand … Sy vou albei haar hande om die beker en voel hoe die hitte deur haar trek. Haar tandeborsel is ingepak. Sy weet nog nie wat haar pa gaan sê as sy haar tas inlaai nie …

“Jy’s vroeg op,” hoor sy haar pa agter haar.

“Môre, Pappa. Is alles reg by die stalle?”

“Ja, hoe laat is die mannetjie hier?”

Cilla kyk vinnig op. “Reynecke,” sê sy nadruklik, “sal so teen nege-uur hier wees.” Sy kantel haar kop. “Ek dog Pa hou van hom, hoekom is hy nou ‘mannetjie’?”

“Ek weet nou hy vry na my dogter,” brom haar pa en stap die huis binne.

Cilla rol haar oë en kyk op haar horlosie. Dis amper nege-uur. Sy gaan solank afstap stalle toe.

Toe sy en haar ma tien minute later by die stalle kom, is Reynecke, haar pa en van die werkers reeds besig om Maggie in te laai. Voordat sy vir Reynecke kan groet, sien sy Maggie is glad nie lus vir die besigheid nie. Die merrie rem grootoog teen die teuels.

“Wag,” roep Cilla vir die mans en stap vinnig na Maggie toe. Die perd bewe en trippel onrustig, kopsku.

Reynecke kyk vinnig op toe hy Cilla se stem hoor. Hy weet nie hoeveel haar pa weet nie, maar hy is nie, soos die vorige keer wat hy hier was, gul ontvang nie. Die oom was hoflik, maar kortaf. En die handdruk … Hy is seker beentjies in sy hand is gekraak.

Hy kyk na Cilla wat styf teen Maggie staan. Sy vryf oor die merrie se nek en hy kan sien hoe die perd rustiger raak. Hy skud sy kop. Hierdie besigheid met die diere … Dit bly vir hom baie vreemd, dit laat hom ongemaklik voel. Maar ai, kyk daai lyfie.

Sonder dat hy daaroor dink, stap hy na Cilla toe. Sy kyk op en glimlag. En hy vergeet van haar befoeterde pa agter hom, van al die werkers wat staan en wag, van Maggie, van alles, en hy buk af en soen haar. So ’n lang, stadige een.

Toe hy sy kop wegtrek, kyk sy verdwaas op na hom en hy kan sy tevrede grinnik nie keer nie. Maggie druk haar kop tussen hulle in en albei lag.

“Gaan julle nou heeldag hier rondstaan?” hoor hy Cilla se pa agter hom brom.

“Pappa, het julle seker gemaak sy is oukei? Het iemand haar koors geneem?” vra Cilla.

“Dis nie die eerste keer dat ek so iets doen nie,” sê haar pa kortaf. “Dis buitendien net ’n kort rit. Ons sal seker maak dat haar kop nie kort vasgemaak is nie sodat sy gereeld haar neus kan skoonblaas. Dis meestal teerpad, so daar sal nie baie stof wees nie. Bring haar nou, ek het nie heeldag tyd nie.”

Maggie loer vinnig na haar pa en dan frons sy op na Reynecke. Hy glimlag en skud sy kop. Cilla lig een skouer en vryf verder oor Maggie se nek. Sy praat saggies met die perd. Uiteindelik tree sy terug.

“Ek sal haar in die sleepwa kry,” sê sy en lei vir Maggie teen die plank op. Reynecke sug van verligting. Hoe gouer hulle hier kan wegkom, hoe beter. Definitief negatiewe vibes wat hy van die oom kry.

Cilla se ma kom nader gestap, ’n tas in haar hand. “Môre, Reynecke,” groet sy. Hy is bly om te sien sy glimlag darem vir hom.

“Môre, mevrou. Is dit Cilla s’n? Gee vir my, ek sit dit agterop.” Uit die hoek van sy oog sien hy hoe Cilla se pa se kop vinnig in hul rigting draai, maar hy probeer dit ignoreer.

“Sê asseblief vir my Cecilia, of tannie Cecilia as dit vir jou makliker is, die ‘mevrou’ laat my elke keer voel ek moet my hare gaan kam,” lag sy, en hy ontspan effens.

“Nou maar goed so, tannie Cecilia, dankie,” glimlag hy.

Cilla se pa kom vinnig nader gestap en trek sy vrou onder sy blad in. Hy steek sy hand uit na Reynecke. ’n Oomblik lank wil Reynecke sy hande terug in sy broeksakke stop, maar dan steek hy sy hand ook uit. Hierdie keer is hy ten minste voorberei op wat kan gebeur.

“Dankie, oom,” sê hy en moet op sy tande byt om nie sy gesig te laat vertrek nie. Sy hand sê les op.

“Kyk na my meisiekinders of jy kry met my te doen,” brom Cilla se pa.

“Ek sal. Indien Bravo … ek bedoel …” Hel, hoekom klink ’n doodnatuurlike ding skielik so erg? Reynecke maak keel skoon. “As Maggie en Bravo regkom, bring ek haar Sondag terug, anders sal ek laat weet,” sê hy vinnig.

Hy maak vir Cilla die deur oop en stap om na sy kant van die bakkie. Toe hy inklim, druk Cilla se pa sy gesig by die venster in. “Jy sorg dat al twee van hulle Sondag terug is.”

Hy kyk Cilla se pa in die oë. “Goed, oom.”

Hy trek versigtig weg, sy een oog op die truspieëltjie om Maggie dop te hou. Cilla klik haar tong.

“Ek is jammer oor my pa. Weet nie wat gaan met hom aan nie. Hy is nooit so ongeskik nie, ek sal –”

Reynecke vat haar hand in syne. “Ek vat op een slag al twee sy meisiekinders weg. Ek dink ek verstaan.” Hy glimlag. “Jy het nie sy gesig gesien toe hy jou tas raaksien nie. As hy my met sy oë kon deurboor, dan het hy.”

Cilla kyk grootoog na hom voordat sy begin lag. “Dis seker my eie skuld. Ek het hom geterg en vertel ons twee praat nie eintlik nie, ons vry net.”

Reynecke blaf ’n lag uit. “Oukei, nou verstaan ek ten minste hoekom my hand amper vergruis is. En toe soen ek jou ook nog, sommer so voor hom.”

Cilla skud haar kop en hy vat haar hand. “Hy het dit net baie duidelik gemaak dat hy oor warm kole sal loop vir jou. Hy gee om vir jou.”

Hy draai stadig op die teerpad. Hy sou wat wou gee om net een keer te kon voel sy pa gee om vir hom en Philip.

“Jy’s skielik stil,” sê Cilla.

“Jy moet dit waardeer dat jou pa so is. Ek, ons het nie so iets geken na my ma se dood nie. Ons moes maar self na ons seerplekke kyk, self pleisters plak, alleen dokter of tandarts toe gaan. My pa het net nie belanggestel nie. As dit nie vir ouma By was nie …” Hy skud sy kop.

Cilla gee sy hand ’n drukkie. “Is sy nou beter?”

Reynecke druk haar hand en glimlag. “Ja, heeltemal. Ek het so geskrik toe sy my bel en sê sy moet dokter toe gaan. Ek kan nie onthou dat sy ooit siek was nie. Sy word oud, ek weet, maar …” Hy is ’n rukkie stil. “Sy is al een wat dit ooit gewaag het om oor my ma te praat voor my pa.”

“Mense verwerk hartseer op verskillende maniere. Dit was dalk vir hom makliker –”

“Om te wat?” vra hy kil. “Om sy kinders te ignoreer? Om al haar goed weg te gooi? Om alle foto’s van haar weg te pak? Om alles wat sy geskilder het, van kant te maak? Om my te verbied om ooit weer ’n verfkwas op te tel? Ek was tien.”

Cilla se hart breek as sy dink aan die klein seuntjie wat sy ma verloor het en sommer sy uitlaatklep ook. Sy streel oor die hare wat laag in Reynecke se nek krul. Hulle ry in stilte tot by Rietfontein se afdraai. Dan kyk hy vinnig na haar.

“Jammer, ek … ek moet liewer glad nie oor my pa praat nie, ek word elke keer van voor af kwaad.” Hy haal diep asem en druk haar hand. “Kom ons praat oor iets anders. Ek het gedink ons moet vir Maggie na die stuk oop veld neem. Sy kan saam met die ander merries wei. Dan sal ek vanmiddag vir Bravo soontoe neem. Wat dink jy?”

Cilla dink so ’n rukkie, dan skud sy haar kop. “Ons is nog nie seker of Bravo vir Maggie in gedagte gehad het nie en ons weet ook nie of Maggie hom gaan toelaat om naby haar te kom nie. Ek dink ons moet eers vir haar na hom toe neem in die stal en kyk hoe hulle op mekaar reageer. Of sy ontvanklik sal wees vir sy … uhm … toenadering.” Sy glimlag vir Reynecke. “Bravo sal bietjie moet werk as hy haar wil hê, sy gaan nie sommer in sy skoot val nie.”

“Lyk my dis waar van al die meisiekinders op Heuningkloof,” lag Reynecke en hou stil. Sy hand skiet uit en hy trek haar nader. “Vanoggend was nie naastenby genoeg nie, ek moet net weer …” Sy oë beweeg rusteloos oor haar gesig en dan soen hy haar.

Sy lippe is warm en dringend en Cilla sug. Haar oë val toe en haar vingers verstrengel in sy hare. Maggie runnik en hulle trek hul koppe gelyk op. Reynecke se vingers streel nog een keer oor haar lippe voordat hy uitspring. “Tipies vroumens, sy soek nou aandag. Sy is nou lank genoeg geïgnoreer,” lag hy.

Cilla kom stadig terug aarde toe. Sjoe, die man soen haar dat sy nie weet waar sy is nie. Haar lippe tintel nog steeds. Sy vee oor haar mond terwyl haar hartklop stadig na normaal terugkeer. Reynecke maak vir haar die deur oop en sy sien nou eers dat hulle voor die stalle stilgehou het. Hy druk haar eers styf teen hom vas en haar hart begin weer van voor af galop. Toe sy opkyk, is sy oë warm en hy glimlag.

Van die werkers kom aangestap om te help en Reynecke laat sak sy hande en stap om na die perdesleepwa toe.

Hoe moet ’n meisie se hart dit hou? Cilla stap agter hom aan. Haar bene is lam, haar hande bewerig, haar mond kurkdroog – en dit na ’n soen en ’n drukkie. Wat op aarde gaan met haar gebeur as hy … as hulle … Beelde van hul ineengestrengelde lywe doem ongewens voor haar op en sy snak na asem.

Reynecke staan voor haar. Sy kop swaai vinnig om en sy weet dadelik dat hy een en dieselfde prentjie gesien het. Sy oë trek skrefies en die spiertjie in sy wang spring een keer voordat hy omdraai en met die werkers praat.

’n Rukkie later is Maggie uit die sleepwa en Cilla lei haar tot waar hulle vir Bravo hoor trippel. Bravo kom dadelik nader toe hy Maggie gewaar. Hy begin ruik aan haar. Sy ruik terug en hulle koppe nestel teen mekaar.

Cilla kyk na Reynecke, wat aan Maggie se agterkant staan. “Wel, hy is opgewonde, ek dink Maggie is die regte een,” sê sy.

Reynecke loer onder die merrie in en knik. “En ek dink sy stel ook belang. Sy’s beslis op hitte.” Hy grinnik. “Sy hou van wat sy sien, lyk dit vir my.”

Die twee perde snuif weer aan mekaar en Cilla druk haar bloedrooi gesig in Maggie se nek. Al hierdie gepratery van hitte en paring maak haar skoon bewerig.

Ná ’n rukkie roep Reynecke die werkers en beduie vir hulle om Maggie af te vat na die toegekampte veld. Sy en Reynecke draai saam na Bravo toe.

“Wat het netnou gebeur?” vra Reynecke skielik.

“Netnou?” vra sy verbaas. Hulle was tog albei by toe die perde aan mekaar geruik het, waarvan praat hy nou?

“Toe jy agter my staan. Ons was besig om Maggie uit te laai. Toe sien ek … en toe ek omkyk … jy het ook daaraan gedink.”

Cilla kyk na hom, maar hy kyk net na die hings. Sy gesig is geslote, stroef. Sy sug.

“Ek het aan ons gedink en jy het dieselfde beelde gesien, dis al …”

Reynecke swets en begin aanstap na die staldeur.

“Ek kan nou doen met ’n koppie koffie, wat sê jy? Kom, klim. Ek los die sleepwa eers hier vir wanneer ons haar terugneem.” Reynecke praat asof niks gebeur het nie. Ámper asof niks gebeur het nie.

Cilla druk haar hande diep in haar jeans se agtersakke. “Ek .. uhm … Ry jy, ek gaan nog bietjie by Bravo kuier. Ek wil net seker maak hy weet hoe ’n spesiale merrie Maggie is. Hy moenie dink hy kan met haar mors nie.”

Reynecke maak sy mond oop om iets te sê, maar dan waai hy en verdwyn af in die gang.

Cilla vryf stadig oor Bravo se nek. Sy wéét hy het gesien wat sy gesien het: hulle twee saam, een. Maar hy weier om te glo wat hy voel, weier om te glo dis moontlik dat twee mense gedagtes kan deel. Dit gebeur nie sommer nie; hy is meestal geslote, maar nou net, soos die aand in die stalle, was hy vir ’n oomblik sonder die gewone verskansings om sy hart. Daarom kon hy weet wat sy dink, sien wat sy sien, voel wat sy voel.

Bravo snork en runnik. Cilla lag en streel oor sy nek. “Ja, ek weet jy’s haastig. Maar gee kans … julle mansmense kan ook nie wag nie. Sy moet net ’n bietjie rus, sy hou nie daarvan om rondgery te word nie.”

“Is sy hier?” hoor sy iemand agter haar. Dis Koen.

“Ja, sy’s hier. Sy was nou net hier by Bravo. Sy is vir seker op hitte. Ons wil haar net so ’n kansie gee om aan te pas. Ons gaan hom vanmiddag loslaat in die veld by haar.”

“Jy dink nie Bravo gaan haar seermaak nie? Ek is maar altyd bekommerd as mens hulle alleen los.”

Cilla kyk na Bravo en glimlag. “Nee, hy sal mooi werk met haar, ons kan maar ontspan.”

Hulle is ’n rukkie lank stil, dan maak Koen keel skoon. “Vandat jy die eerste keer by Bravo was, bring Reynecke baie tyd by hom deur. Hy gaan ry hom elke dag. Ek weet nie wie van hy of Bravo dit die meeste geniet nie. Al twee lag as hulle terugkom. Dit lyk of Reynecke eers bang was om ’n band met die perd te vorm. En nou … Ons was nou die dag in die onderste land besig toe Reynecke skielik in sy bakkie klim en terugjaag hiernatoe. Agterna het hy vir my gesê hier was ’n kobra in die stal. Nou vra ek jou, hoe het hy geweet? Wou natuurlik niks sê nie, maar ek wonder …”

“Dink jy hy het iets aangevoel?”

“Ek moet so dink, ja. Maar toe ek hom daarna vra … kom ons sê maar net die man se taal kan kleurryk wees.”

Cilla knik terwyl sy gerusstellend oor Bravo se nek streel. Hy baklei só. Sal hy ooit bereid wees om hom doelbewus oop te maak vir ander mense, vir diere? Hy voer ’n konstante stryd met homself.

“Wel, ek het ’n koppie koffie wat vir my wag. Sien ons jou later vanmiddag?”

Koen lag. “Ek dink al wat leef en beef op die plaas gaan daar wees, jy sal hulle nie met stokke en swaarde kan weghou nie.”

Elsa Winckler Eerste Keur

Подняться наверх