Читать книгу Elsa Winckler Eerste Keur - Elsa Winckler - Страница 6
3
Оглавление“Ek het ’n interessante telefoonoproep gehad die week,” sê Cilla se pa.
Cilla kyk op en sien sy glimlag. Dis Vrydagaand en sy en haar ouers is aan tafel.
“Die Reynecke-kêrel het gebel.”
Cilla stik aan die stuk beesvleis wat sy pas gesluk het. Sy neem vinnig ’n slukkie wyn en kyk vlugtig op na haar pa. Sy sien die kyk tussen hom en haar ma.
“Wat wil hy nogal hê?” vra sy. “En julle hoef nie so vir mekaar te kyk nie, ek het te vinnig gesluk, my gestik het niks met hom uit te waai nie,” sê sy. Dan oorval ’n hoesbui haar. Haar ma en pa lag. Sy gluur hulle aan.
Haar pa bedaar eerste. “Hy wil kom kyk na ’n rooibruin merrie met swart maanhare. Sê jy het hom van haar vertel. Sy hings wil haar glo dek. Hy klink maar baie skepties oor die hele ding.”
Cilla sit haar glas wyn neer. “Wel, ek is verbaas. Ek het nie gedink hy sal sover kom nie. Ek het mos vir julle vertel ek dink dis Maggie aan wie Bravo dink, maar ek kon nie weet wanneer hy haar sou geruik het nie. Toe vertel Koen dat hulle Bravo op Bredasdorp gaan haal het. Hulle moes hier verbygery het. Maar dis natuurlik nie te sê dis juis vir haar wat hy geruik het nie, dit kan ’n ander merrie wees wat baie so lyk. Wanneer wil Reynecke kom kyk?”
“Môreoggend. Ons kan dan besluit wanneer Maggie vir sy hings sal gaan kuier. Hy dink nie hulle gaan Bravo hier kry nie, hy is glo baie moeilik.”
“Ek is gelukkig môreoggend besig met ’n nuwe groep kinders, so ek hoef nie die man te sien nie. Ek het regtig nie weer krag vir hom nie. Onbeskof,” brom sy voordat sy verder begin eet.
Sy het al vroegmiddag uitgery plaas toe. Dit was ’n lang week. En die nagte was lank, baie lank. Sy het sleg geslaap en baie gedroom. Baie eksplisiet gedroom. Van bronstige hingste wat skuimbek agter merries aan hardloop oor geel velde vol botterblomme, van Egiptiese katoenlakens wat koel voel teen haar vel, van groot, eeltbedekte manshande wat haar lyf ken, haar liefkoos, haar laat wakker skrik, uitasem, vol begeertes en hunkering.
Sy is omgekrap, onrustig, sommer bakleierig. En dis alles daai man se skuld. Reynecke. Hoekom weet nugter. Hy is die laaste soort man met wie sy enigiets te doen wil hê. Hy dink sy is van haar trollie af, hy kyk eenogig na die lewe, het vooropgestelde idees. Dis alles dinge wat haar normaalweg heeltemal sou afsit. Maar om die een of ander onverklaarbare rede kan sy hom nie uit haar gedagtes kry nie.
Sy is baie bly dis naweek en dat sy vanmiddag al kon gaan perdry. Sy is vanaand moeg. Hopelik sal sy slaap en nie weer lê en droom van ’n gespierde manslyf en sterk arms wat haar toevou nie.
Sy staan vinnig op van die tafel, haar laaste hap nog skaars gekou. “Ek dek gou af. Ek wil vroeg gaan slaap. Die res van die naweek gaan daar nie veel rus wees nie.”
“Gaan jy deur Hermanus toe?”
“Ja, later môremiddag, wanneer die kinders weg is. Dis dalk goed om sommer net heeltemal weg te kom.”
“O?” sê-vra haar ma.
Cilla besef sy het haar mond verbygepraat. “Ek bedoel maar net. Weg van die elkedag-dinge.”
Haar ma kyk haar ondersoekend aan, maar begin dan saam afdek. “Gaan kruip jy in, my kind, Ma sal skoonmaak. Toe, voordat ek van plan verander.”
Verlig maak Cilla haar uit die voete. Hoe gouer sy onder haar ma se wantrouige oog wegkom, hoe beter. Sy maak geen geheim daarvan dat sy haar dogter getroud wil sien nie, en enige moontlike man op die horison maak haar baie opgewonde.
Cilla hoop regtig haar ma kry nie sulke idees oor Reynecke nie.
Cilla sit vervaard regop en gryp na haar bedliggie se skakelaar. Sy hyg na asem. Dis benoud in haar kamer. Sy gooi die klam komberse van haar af en gaan maak die venster regoor haar bed oop. ’n Heerlike koel luggie stroom die vertrek binne. Sy lê vorentoe deur die venster en kyk uit oor die maanverligte plaas, hoor die naggeluide. Sy voel hoe haar asemhaling na normaal terugkeer.
Sy stap peinsend terug na haar bed en gaan sit op die rand. Sy het gedroom. Wat nou weer? Daar was iets wat haar ontstel het, iets wat sy besef het … En dan tref dit haar soos ’n bom. Roux … Reynecke. Roux, haar denkbeeldige maat uit haar kinderjare, en Reynecke Retief … hulle lyk dieselfde.
Sy sak stadig teen die bedrand af totdat sy plat op die vloer sit. Die droom was weer dieselfde. Die een wat sy droom vandat sy onthou. Roux is langs haar, maar as sy aan hom wil vat, verdwyn hy stadig totdat sy net ’n silhoeët kan uitmaak. Sy roep na hom, hy kyk een keer om na haar, en dan is hy weg. En sy word altyd wakker met ’n groot verlange, ’n gemis wat sy nog nooit kon verklaar nie.
En in vanaand se droom was dit Reynecke. Was dit nie?
Verbeel sy haar? Hoe is dit moontlik? Sy het hom nog nooit voorheen in haar lewe gesien nie. Hoekom sal hy haar aan Roux laat dink? Asof sy na ’n rolprent in stadige aksie kyk, sien sy weer hoe Reynecke omdraai voor die stalle en sy onthou dat sy gewéét het hoe hy gaan lyk. Sy onthou van die eelte op sy hande, van die bekende hitte wat teen haar arm op beweeg het toe hy haar hand skud.
Sy sit nog ’n tydjie so terwyl dosyne vrae deur haar kop maal. Sy moes Reynecke al voorheen iewers gesien het, dis al wat sin maak. Dalk op skool nog? En wanneer het sy die eerste keer van Roux bewus geword?
Cilla kyk op haar wekker en staan op. Dis nog baie vroeg, maar sy gaan nie weer slaap nie en om hier te sit en wonder, gaan haar mal maak. Sy kan netsowel gaan perdry. Dalk kry sy antwoorde.
“Kry tog iets om te eet, my kind, jy kan nie net koffie drink nie. Jy gaan heeldag besig wees.” Cilla se ma stoot die roosterbrood nader.
Cilla sit een snytjie op haar bord en kyk op na haar ma. “Kan Mamma onthou wanneer ek begin praat het van my denkbeeldige maatjie?”
“O ja, baie goed. Toe ons die jaar voordat jy skool toe is, die plaas gekoop het, het jou maatjies almal in die stad agtergebly. Jy was baie alleen hier en toe, op ’n dag, moes ek begin tafel dek vir Roux ook, langs jou. Was altyd vir my so snaaks, dié naam.”
“Is dit nie vreemde gedrag vir ’n kind nie? Die idee van ’n maatjie wat nie regtig bestaan nie?”
“Wel, as sielkundige weet ek natuurlik daarvan, en ek het toe baie navorsing daaroor gedoen. In jou geval was daar nie iets om oor bekommerd te wees nie, jy het ander maatjies ook gehad. Denkbeeldige maats is gewoonlik ’n teken van kreatiwiteit en dit help die kind om emosies te verstaan. Dis ook nuttig vir ouers om die kind te verstaan. Jy het byvoorbeeld vir my vertel dat Roux baie verlang na sy maatjies in die Kaap, nie dat jý verlang nie. Wat tog interessant was, is dat jy die denkbeeldige vriend nog tot in die hoërskool gehad het. Maar onlangse studies wys dat dit ook nie so ongewoon is nie.”
Cilla breek stukkies van die roosterbrood af. “Het ek ooit gesê hoe hy lyk? Hom beskryf?”
Haar ma frons ’n oomblik. “Weet jy, ek dink ek het iewers ’n tekening wat jy van hom gemaak het. Ek sal bietjie kyk. Hoekom?”
Dalk moet sy tog die hele ding met haar ma bespreek. “Ek …”
Haar pa staan in die kombuisdeur. “Cilla, die kinders is hier. Kom jy?”
Cilla spring verlig op. Sekerlik maar beter dat sy niks sê nie. Sy verbeel haar seker die hele ding.
Cilla hurk by die klein seunslyfie, versigtig om nie skielik aan hom te raak nie. “Was dit lekker, Paulie?” vra sy sag en kyk hoe ’n glimlag die gesiggie verhelder.
Met swaaiende armpies en ogies wat blink beduie hy na die perd. “Lief vir perd,” sê hy heeltemal duidelik. Sy lag. Die trane sit vlak, maar sy lag. Paulie is outisties en die verandering wat in hom gekom het vandat hy by hulle begin perdry het, bly vir haar ’n wonderwerk. Hy wys selde enige emosies, maar rondom die perde is hy ’n ander kind.
’n Krieweling in haar nek vertel haar dat iemand na haar kyk. Cilla kyk vinnig om en sien Reynecke en haar pa ’n ent weg staan. Reynecke se arms is voor hom gekruis, sy oë op haar.
Sy roep ’n student nader. “Paulie kan nog ’n entjie ry. Sal jy hom help?” Sy kyk die twee ’n oomblik agterna, dan draai sy om en stap na die mans toe.
“Ek hoop nie ons pla nie. Is jy klaar?” roep haar pa nog voor sy by hulle is.
Cilla skud haar kop en dan is sy daar. “Ja, hierdie groep is klaar, die volgende klomp sal seker nou-nou hier wees. Paulie gaan nog ’n entjie ry. Dis so goed vir hom.” Sy glimlag en kyk terug na die seuntjie op die perd.
“Wat is fout?” vra Reynecke en Cilla vryf selfbewus oor haar wang. Sy voel ’n bietjie hartseer, maar sy het tog glad nie gehuil nie, hoe weet hy …? Sy kyk vraend op na hom.
“Ek … niks is fout nie. Paulie is outisties, dis wonderlik om hom by die perde te sien,” beduie sy in die rigting van die klein ruiter. Hóé sou Reynecke weet dat sy tranerig voel?
Reynecke druk sy hande diep in sy broeksakke. Dis al manier waaraan hy kan dink om hulle weg te hou van die meisie hier voor hom. Sy het ’n perdrybroek aan, ’n ou T-hemp, ’n kep op haar kop. Sy behoort doodgewoon en oninteressant te lyk, maar sy slaan sy asem weg. Sy’s beeldskoon. En sy lyk hartseer, hy wil haar so graag troos. Sy hande jeuk om haar kep af te ruk, sy vingers deur haar hare te laat gly.
“… is julle hier?” hoor hy haar vra en probeer homself dwing om te luister na wat sy sê.
Haar pa antwoord haar gelukkig. “Reynecke het na Maggie kom kyk en toe ek hom vertel waarmee jy besig is, wou hy sien. Ek het hom ingenooi vir ’n koppie tee. Kan jy gou wegglip?”
Cilla kyk vir die eerste keer reguit na Reynecke en die nou vertroude gevoel van déjà-vu spoel oor haar. Dis asof sy hom kén, asof hulle ’n gedeelde geskiedenis het, asof sy elke besonderheidjie van hom weet …
Sy skeur haar blik weg en kyk na haar pa. Sy probeer glimlag. “Jammer, maar ek kan nie.” Sy beduie oor haar skouer. “Die ander kinders is nou-nou hier.”
“Hoe lank is julle al hiermee besig?” vra Reynecke.
“Seker nou so ses maande, nè, Pa?” Cilla probeer Reynecke se oë vermy. Dis asof hy tot reg in haar diepste wese inkyk, asof hy presies weet wat in haar gedagtes aangaan. Hy vou weer sy arms en haar oë gly oor sy gespierde boarms wat duidelik te sien is onder die blou T-hemp. Sy oë is nog blouer vandag, as dit moontlik is.
“Die seuntjie, die outistiese enetjie … Ek het al gelees dat perde en sulke kinders ’n besonderse band kan ontwikkel.”
Cilla knik. “Jy kan maar sê hulle deel dieselfde ding: vrees. Dinge wat perde bang maak, maak outistiese kinders ook bang. En dit is die wonderlikste ding om te sien hoe kind en dier mekaar verstaan en hoe albei groei in die proses.”
“Die meeste kinders wat hier aankom, is deur een of ander trauma. Gewoonlik is hulle mishandel, nes die perde. Wat so boeiend is om te sien, is hoe kinders wat deur ’n spesifieke trauma is, self ’n perd uitsoek wat in ’n soortgelyke situasie was,” voeg Cilla se pa by.
Cilla voel kriewelrig. Reynecke het nog nie vir ’n oomblik sy oë van haar afgehaal nie, selfs nie terwyl haar pa praat nie. “Hoe lyk Maggie vir jou?” vra sy maar, en staan nader aan haar pa.
Haar pa lag en begin praat voordat Reynecke iets kan sê. “Jy weet hoe steeks Maggie kan wees. Maar sy het Reynecke net een kyk gegee en dadelik na hom toe gekom. Ek het haar nog nooit so gesien nie, nie eers by jou nie, Cilla.”
Cilla knik stadig. “Haar ma is ook vroeg oorlede. Sy mis haar nog. Sy weet jy ken dieselfde gemis,” sê sy saggies vir Reynecke.
Reynecke gee ’n tree terug en laat sak sy arms vies. “Asseblief, nie weer dié stories nie! Ek het na Maggie kom kyk net om vir Koen stil te kry. Hierdie mumbo-jumbo waarvan jy praat … ek glo dit net nie. Die meeste perde hou van my, dis net Bravo wat vol streke is. Ek moet gaan,” sê hy dan kortaf en draai om.
Cilla se pa gee haar ’n onderlangse kyk en stap agter Reynecke aan.
“Kom, ek wil jou eers aan my vrou voorstel …” hoor Cilla haar pa se stem toe die mans oor die bultjie verdwyn.
Sy draai terug na die kinders. Daar was ’n oomblik lank iets in sy oë, sy’s seker. Paniek? Sy skud haar kop. Nee. Sy gaan nie helder oordag oor ’n wildvreemde man staan en droom nie. Daarvoor is die dag net te mooi, die kinders te uitbundig.
Toe Cilla later die dag terugstap huis toe is sy moeg. Maar ’n lekker moeg. Sy geniet wat sy doen. Miskien moet sy daaraan begin dink om dit voltyds te doen. Daar is so ’n groot behoefte. Hulle moet net nog borge kry …
“Jy’s vuil, meisiekind, en jy ruik na perd,” onderbreek haar ma haar gedagtes van waar sy haar op die stoep inwag.
Cilla kyk af na haar klere en trek ’n gesig. “Ek het definitief ’n stort nodig.” Sy kyk op haar horlosie. “Ek is lus en bel vir Imke …”
Haar ma lag en skud haar kop. “Nee, sy is jou een voor. Sy het al gebel en my gedreig met al wat ’n ding is as jy kop uittrek. Jy beter maar gaan klaarmaak en ry, jy gaan nie uit hierdie ene kom nie. Maar voor jy kamer toe gaan, kom kyk eers hier,” beduie haar ma, en stap by die voordeur in.
Op die eetkamertafel staan drie groot bokse. Haar ma tel ’n stuk papier op.
“Ek het onthou waar ek al jou goed gebêre het, toe begin ek soek na die tekening wat jy van Roux gemaak het. Ek dink jy was so tien jaar oud.” Sy gee die tekening vir Cilla.
Sy voel lighoofdig en gaan sit vinnig op ’n eetkamerstoel. Sy kyk op na haar ma, haar lippe droog. Haar ma pak ander papiere terug in die bokse, sy kyk nie na haar nie.
“Herken jy hom?” vra haar ma.
Cilla kyk weer af na die tekening. Dit is duidelik deur ’n kinderhand gedoen. Die seun wat sy geteken het, het swart hare, ’n krul op die voorkop, blou-blou oë, breë skouers.
“Dis hoekom hy so bekend gelyk het,” prewel sy.
“Wie’t bekend gelyk?” vra haar ma en kom sit langs haar.
“Reynecke. Hy … hy’t ook swart hare, so ’n krul oor sy voorkop, dieselfde oë …”
Haar ma kyk weer na die tekening. “Reynecke Retief? Dink jy hierdie skets lyk soos hy?” vra sy verbaas.
Cilla kyk weer af na die tekening. “Ek het so gedink. In my droom … ag nee wat …” Sy spring op. “Ek verbeel my.”
Haar ma vat aan haar arm. “My kind, jy is baie intuïtief, dit sal nie vreemd wees nie.” Dan glimlag sy geheimsinnig. “Wie weet. Hy’s dalk jou soul mate.”
Cilla gooi die tekening op die tafel asof dit haar kan pik. “Hy is allesbehalwe my soul mate! Inteendeel, hy is alles wat ek verpes in ’n man. Hy het geen begrip van wat ek doen nie, wil nie eers probeer verstaan nie, dink ek toor perde …” Sy gooi haar hande in die lug. “Ag, ek verbeel my regtig, noudat ek weer kyk, is daar nie juis ’n ooreenkoms nie. Die man het my net so vies gemaak dat hy al by my spook. Ek gaan stort.”
Sy begin wegstap, maar draai terug en raap die tekening van die tafel af op. “Ek vat dit eers saam,” prewel sy en stap vinnig badkamer toe.
Imke sit kiertsregop en vat die papier by Cilla. Sy bestudeer die tekening vir ’n paar oomblikke.
“Nee, ek kan nie sê dat hy vir my bekend lyk nie. Hoekom?”
Cilla kom regop. Dis Sondagoggend en sy en Imke het weggeglip van die res van die jongmense saam met wie hulle op Hermanus kuier. Hulle lê op handdoeke op die gras langs Voëlklipstrand. Dis ’n pragtige laatsomersdag; die see is verspot blou, die lug helder.
“Ag, ek het my sommer verbeel hy lyk nogal soos Reynecke.”
Imke kyk vinnig op na haar en dan weer aandagtig af na die skets. Sy draai haar kop effens skeef. “Wel, as ek nou my kop só hou …”
Cilla slaan haar speels op die arm. “Ag toe jy, moenie nog grappies maak nie.” Sy vat die tekening by Imke en druk dit terug in haar strandsak. “Ek gaan nou ontspan en heeltemal vergeet van die man. Daar was ’n oomblik dat ek gedink het … maar as jy dit ook nie kan sien nie, dan het ek my verbeel.”
Imke glimlag. “Dit laat my dink aan ’n fliek. Iewers sê die held vir die meisie ‘I missed you even before I met you’. Ek het nog altyd gedink dis so romanties.” Sy sug dramaties en giggel dan. “Jy kan dalk vir hom sê jy’t met hom gespeel lank voor jy hom gesien het. Ek weet net nie of dit dieselfde romantiese impak gaan hê nie.” Imke gooi haar kop agteroor en lag kliphard vir haar eie grappie.
Cilla wil haar vervies, maar lag dan maar verleë saam. Sy is eintlik verlig. As Imke nie enige ooreenkoms kan sien nie, dan is sy seker maar net oorstuur. Die feit dat sy deesdae elke aand die ou droom droom, is seker maar net toeval. En die feit dat dit Reynecke is in haar droom, is seker maar net omdat sy … wat? Heeltyd aan hom dink? Iets in haar binneste gebeur as sy hom sien? Wat?
“En toe, wat sit julle so? Kom ons gaan speel volleyball,” hoor hulle ’n manstem langs hulle. Die res van die groep het opgedaag en Cilla spring verlig op. Oefening is nou net die regte ding om van die laaste muisneste in haar kop ontslae te raak.
“Hoekom het julle nog nie swemklere aan nie?” roep een vir haar en Imke.
“Dit was nog koelerig, maar ons kan nou uittrek,” lag Cilla en sy en Imke raak vinnig van die klere bo-oor hul bikini’s ontslae.
Cilla. Die geur van rose. Reynecke laat sak die koerant wat hy gelees het en lig sy kop. Sy neusvleuels beweeg. Hy kyk om hom rond.
“Is dit nie Imke en Cilla nie?” vra Philip langs hom en staan vinnig op.
Reynecke voel hoe sy hart ’n oomblik lank ophou klop en dan begin bokspring. Hy kyk af na waar Philip beduie. Onder op die strand spring ’n lang swartkop met ’n soepel lyf om ’n bal raak te slaan. Die bloed verlaat sy kop en met die spoed van lig sak dit af tot onder sy middellyf. Goeie ding dat hy sit. Baie goeie ding dat die koerant op sy skoot lê.
Dis sy. Dis Cilla. Hy het geweet sy is hier nog voordat Philip iets gesê het. Hy het haar geruik. Soos ’n bronstige hings het hy haar aangevoel. Die girl wat hom al die hele week uit die slaap hou, vir wie hy gister sommer daar voor haar pa wou neertrek op die gras …
Hy kom agter dat Philip na hom kyk en hy hoes. Dalk sal sy tong nou kan beweeg. “Hmm … ja. Dit … uhm … dit lyk soos hulle, nè?”
“Kom ons gaan speel saam. Lig jou bas, jy’t oefening nodig.”
“Ek … gaan net eers die koerant klaar lees. Gaan jy solank.” Daar is nie ’n manier dat Reynecke nou op die daad kan opstaan en homself nié in die verleentheid stel nie. Wat die meisiekind aan hom doen, sal baie sigbaar wees.
Philip gee hom nog ’n snaakse kyk, maar dan draf hy met die trappies af na die strand. Reynecke ruk die koerant voor sy gesig op en haal diep asem, oor en oor. Hy raak soos ’n hormoonbelaaide tienerseun as hy net weet sy’s naby.
“Reynecke!” hoor hy iemand roep en laat sak die koerant. Imke en Philip waai vir hom van die strand af en beduie hy moet kom. Cilla staan ’n ent agter hulle en kyk net op na hom. Sy waai nie.
Hy staan stadig op en draf die trappies af. Sy oë soek na Cilla, maar sy het begin gesels met een van die ouens in die groep. Hy is bly hy hoef nie dadelik vir haar iets te sê nie; sy tong is al weer geknoop. In ’n perdrybroek en T-hemp is sy beeldskoon. In ’n bikini … dit slaan sy asem heeltemal weg. Die ou wat met haar gesels, trek speels aan haar hare en Reynecke bal sy vuiste. As die man wragtag aan haar vat … Die bal tref hom in sy maag. Hy gryp dit vas en kyk op in Philip se grynslag.
“Konsentreer nou. Met jou hier, is daar nou ewe veel spelers weerskante. Goed, ons dien eerste,” sê Philip vir die klomp wat rondstaan.
Reynecke draai om om na agter te loop. Skielik staan Cilla reg voor hom en sy steek haar hande uit om te keer dat hy haar omstamp. Haar vingerpunte raak liggies aan sy kaal bolyf en dit voel vir hom asof ’n elektriese skok deur sy lyf trek.
Sy kyk op, half verdwaas, en sluk swaar. Voordat hy homself kan keer, laat hy sy vingers liggies teen haar boarms af beweeg. Haar oë word donker. Sy begin haar arms vou en sy oë sak verder af, na waar haar bikini-bostuk sagte, ferm rondings toekelk. Hy sien duidelik die tekens dat sy nie onaangeraak is deur sy teenwoordigheid nie. Sy draai haastig om. Hy glimlag en draf verder terug, vanwaar hy kan afslaan.
So. Hy is dan nie al een wat iets aanvoel nie. Hy slaan die bal. Die ander span slaan terug. Cilla beweeg voor hom in. Sy rek haar lank uit en probeer die bal tref. Sy oë liefkoos elke kurwe. Sy slaan mis en die bal tref sy gesig, tot almal se genot.
“Oë op die bal, broer, oë op die bal,” terg Philip.
Hulle speel nog ’n rukkie en die klomp jil en lag. Reynecke probeer om nie in Cilla se rigting te kyk nie en doen sy bes om net die bal dop te hou. Dan is dit weer sy beurt om die bal in te slaan. Die bal word teruggeslaan, hop en val reg voor Cilla in die sand. Sy buk diep om dit op te tel en Reynecke besef paniekbevange hy moet baie vinnig iets doen. Hy kan nie hier bly staan nie, almal sal presies sien wat haar netjiese bukkende sitvlak aan hom doen. Hy spring om.
“Laaste in die branders!” skree hy en hardloop volstoom die ysige water tegemoet. Dis al wat nou vir sy toestand gaan help. Hy hoor die ander laggend agternakom en duik onderdeur ’n brander. Hoe langer hy onder die water kan bly, hoe beter.
Toe sy kop deur die wateroppervlak breek, is Cilla daar, haar rug na hom gedraai. Haar nat hare is agteroor geswiep en sy lag vir iets wat iemand anderkant van haar sê. Hy wonder of daar enige lewe in sy bene oor is? Wat die yskoue water nog nie gevries het nie, is lam van die meisiekind.
’n Brander breek van agter oor hulle en hy word vorentoe gespoel tot teenaan haar. Sy hande gaan om haar lyf en hy lig haar op sodat hulle saam bokant die skuim uitkom. Hulle sak terug en sy kyk vinnig oor haar skouer na hom toe. Die volgende brander breek, sy hande is nog op haar heupe en hy trek haar saam met hom af, onder die brander in.
Sy bene verstrengel met hare en hy hou haar styf teen hom vas. Sy skop weg en kyk oor haar skouer na hom toe. Hul koppe breek deur die water. Haar lag is weg, haar oë vol vrae. ’n Brander lig hulle saam-saam op en hy beweeg weer nader aan haar. Sy draai om en swem weg, strand toe.
’n Volgende brander breek en spoel hom weer vorentoe tot amper teenaan haar. Sy kyk weer om na hom toe, maar die brander spoel oor haar en sy verdwyn onder die water. Reynecke duik en soek na haar. Hy sien dadelik haar bikini-lyfie wat vinnig boontoe wikkel. Hy skop homself vorentoe en boontoe, sodat hulle op dieselfde oomblik deur die branders breek.
Hy is teen haar. Hul albei se asems jaag asof hulle baie ver gehardloop het. ’n Oomblik lank sien hy verbouereerdheid in haar oë, maar dan skiet sy speels water in sy gesig, lag en sorg dat sy wegkom.
Reynecke lag en duik onder die volgende brander in. Hy het amper vergeet waar hulle is, hoeveel mense in die rondte is. Hy wou haar teenaan hom voel, sy bene in hare verstrengel, haar hande op sy bolyf voel. Hy breek boontoe en soek dadelik weer na haar. Sy dobber so ’n entjie verder weg, haar oë soekend in die water. Toe sy hom sien, breek ’n skitterwit glimlag oor haar gesig en die laaste bietjie suurstof word uit sy liggaam gepers.
Sy is beeldskoon. Hy swem stadig nader, met net een gedagte. Hy gaan haar in sy arms hê, haar teen –
“Cilla!” roep Imke en wuif.
Cilla kyk nog een keer na hom en swem dan weg na Imke toe.
Reynecke draai omgekrap om en duik onder die volgende brander in. Wat de hel gaan met hom aan? Hy kan letterlik nie sy hande van die vrou afhou nie. Toe sy kop weer bokant die branders uitkom, kyk hy dadelik weer waar sy is. Hy hoor haar lag en sien hoe sy en Imke saam uithardloop teen die strandhelling uit.
Sy oë volg haar al die pad teen die trappies op tot waar sy op die gras buk en haar handdoek optel. Hierdie vroumens gaan maak dat hy kop verloor. Heeltemal kop verloor. Hy moet so ver as moontlik van haar af wegbly. Sy is te sexy, te aanloklik … té. Saaityd is gelukkig om die draai; hy gaan so besig en moeg wees dat hy nie tyd sal hê om oor langbeenmeisiekinders met groen oë te droom nie.
“En as jy so uitasem is van die paar trappies?” lag Imke terwyl hulle afdroog.
Cilla maak of sy nie hoor nie en droog haar hare sorgvuldig af. Van die ander kom nou ook aangestap en gelukkig hoef sy nie te antwoord nie. Hoe vertel sy vir Imke dat haar uitasemgeid niks met die trappe te doen het nie, maar dat sy vir ’n hele tydjie in die water totaal en al suurstofloos was?
Sy kyk af en sien Reynecke uit die see gestap kom. Sy breë skouers glim in die son en die spiere oor sy borskas bult toe hy sy arm opsteek om ’n bal weg te slaan. Sjoe. Hy kyk op na haar en sy kyk vinnig weg. Sy is glad nie seker wat in die water gebeur het nie; sy weet net dat sy vir een onbesonne oomblik gewens het hulle kon net daar bly, diep onder die water.
Dit was vir haar so bekend, so natuurlik toe sy hande om haar middel sluit. Sy het nie dadelik gedink om weg te beweeg nie. Dis so asof dit so moet wees, asof sy sy aanraking ken, dit van nature verwelkom. Haar hartklop het gejaag, haar mond was kurkdroog. En ook dít was bekend, so asof sy dit al voorheen ervaar het.
Sy verstaan nie wat met haar aangaan nie. Ja, die ou is aantreklik, sexy. Maar sy ken ander oulike, sexy ouens. Hoekom sou sy nou so reageer? Hoekom sukkel sy so om aan enigiets anders te dink? Haar kop is gewoonlik by haar skoolwerk, by diere, maar vandat dié man in haar lewe gekom het, verdring hy eenvoudig elke ander gedagte.
Sy vryf driftig met die handdoek oor haar bene, haar arms. Sy moet die man uit haar kop kry! Sy is in elk geval te besig, daar is nie nog tyd vir komplikasies in haar lewe nie. En die man ís ’n komplikasie, daarvan is sy baie seker.
Sy kyk weer af na die klein strandjie, maar hy is nie meer daar nie.