Читать книгу Elsa Winckler Eerste Keur - Elsa Winckler - Страница 9

6

Оглавление

Cilla kyk na die graadelfdogter voor haar en druk haar hande in haar baadjiesakke. Dis al manier waaraan sy kan dink om nie die kind te lyf te gaan nie. Dis Vrydagmiddag, sy wil op die plaas kom. Hulle is nou al ure lank besig om net die spyskaart vir die matriekafskeid te probeer uitsorteer, maar dié enetjie wil oor alles redekawel. Hoop seker om volgende jaar hoofmeisie te wees.

Cilla wil skaam kry oor haar katterige gedagtes, maar sien dat die res van die komitee net so geïrriteerd lyk. Cilla staan op en skuif haar stoel terug.

“Marzanne, ek sê jou wat. Jy stel ’n spyskaart op soos wat jý dink dit moet wees. Dan e-pos jy dit vir almal. Almal kan kommentaar lewer en die ding uitspook en wanneer ons weer vergader, wil ek ’n finale spyskaart sien, een waaroor die meerderheid saamstem.”

Dis stil om die tafel. Cilla maak haar papiere bymekaar. “Ons het nog baie ander dinge om oor te praat, ons kan nie tot in lengte van dae oor die kos wroeg nie. Onthou, dis ’n matriekafskeid, nie ’n koninklike troue nie.”

Sy stap vinnig by die klaskamer uit en voel dadelik ellendig. Dit was nie nodig om so bitsig te wees nie. Sy vryf teen haar slaap. Die effense hoofpyn waarmee sy vanoggend wakker geword het, het ontpop in ’n knaende, kloppende seer. En die ou Marzanne-kindjie maak haar heeltemal lam.

Laat sy dit nou ook maar erken. Seksuele frustrasie is die hoofoorsaak van haar ongedurigheid. Sy kan die mure uitklim. Sy en Reynecke probeer al ’n week lank om ’n afspraak te reël, maar dis asof alles in die heelal teen hulle saamspan. As sy nie by die skool besig is nie, is daar ’n perd siek of een van die studente daag nie op vir ’n klas oor die naweek nie. As hy nie ’n krisis op die plaas het nie, is sy ouma in die hospitaal.

Dis belaglik. Hulle is grootmense. Hoe moeilik kan dit nou wees om by mekaar uit te kom?

Sy stap vinnig om die laaste hoek op pad na haar motor, net om hard in ’n gespierde bolyf vas te loop. Dis Pieter van Zyl, die skool se rugbyafrigter. Hy gryp haar aan haar boarms vas en sy lag op na hom.

“Skies man, ek is so ingedagte en haastig.”

Hy glimlag terug. “Dis my plesier. Dis nie aldag dat ek in ’n mooi meisie vasloop nie.”

Cilla lag en wuif oor haar skouer terwyl sy haastig wegstap. Sy het duisende dinge wat nog vanmiddag moet klaar en sy wil vir Reynecke bel om te kyk of hulle nie tog ’n plan kan maak nie.

Sy vroetel in haar mandjie op soek na haar motorsleutels, en hoor ’n motor wat aangeskakel word digby haar. Sy kyk rond en kyk vas in Reynecke se stroewe gesig. Hy sit in sy bakkie en lig sy vingers in ’n wrang saluut voordat hy met skreeuende bande wegtrek.

Cilla staan verslae. Wat op aarde het nou net gebeur? Sy kyk die bakkie agterna terwyl haar brein sukkel om die laaste paar sekondes te verwerk.

“Jy oukei?” hoor sy Pieter agter haar vra.

Sy draai om. “Ja … uhm … ek’s fine.” Sy klim vinnig in haar motor. Stadigaan registreer sy wat moes gebeur het. Reynecke het haar en Pieter bymekaar gesien toe Pieter se hande op haar arms was en sy eie simpel afleidings gemaak.

Sy slaan teen die stuurwiel uit skone frustrasie. Wel, as dit is hoe hy dink, dan is dit goed dat hierdie … ding tussen hulle nie verder ontwikkel nie. Baie goed. Sy trek stadig weg en vee vinnig aan die traan wat uit die hoek van haar oog ontsnap. Sy gaan nie huil oor daai man nie, sy gaan nié.

“En nou? Ek dog jy gaan eers môre plaas toe?”

Cilla kyk vinnig op. Imke staan in haar kamerdeur, arms gevou.

“Ek verlang my mense,” sê sy vinnig, stroef, en pak haastig verder in.

Imke kom sit op die bed langs haar tas en vat aan haar hand. “Cillatjie, praat met my. Wat? Wie en wanneer? Kom, sit. Praat.”

Cilla sug en kniel op die grond voor die tas terwyl sy aanhou inpak. “Daar is niks om te vertel nie. Ek het gedink daar’s iets, maar hy …” Sy hap in die lug op soek na die regte woorde. “Ek het nie woorde om te beskryf hoe hy my frustreer en vies maak nie.”

“Kom ons begin heel voor. Van wie praat ons?” vra Imke stadig.

Cilla kyk vies na haar. “Van Reynecke. Asof jy nie weet nie. Dis hy wat my Saterdagaand in die stal ge- … ge- …”

“Gevry het dat jou ogies skitter en jou hare heeltemal deurmekaar was?” terg Imke.

“Hy het my ge- …” Cilla wil sê hy het haar net gesoen, maar besef dat wat tussen hulle gebeur het, baie meer was as net ’n soen. “Oukei, ja. Ons het ge– … vry, as jy nou die platvloerse woord moet gebruik.”

“En toe?” vra Imke en leun vorentoe.

“En toe niks nie. Ons het die hele week gesukkel om by mekaar uit te kom, daar was gedurig die een of ander ding. Toe ek vanmiddag uit die skool kom, toe loop ek in Pieter vas. Hy’t my gegryp om te keer dat ons val. Ons glimlag toe vir mekaar, ek groet en ek stap aan motor toe. En wie sit in sy bakkie en gluur my aan? Die uwe. Hy maak sy eie afleidings van wat gebeur het en trek daar weg dat die klippe spat. So, nee, Imke, niks het gebeur nie, niks gáán gebeur nie. Ek gaan myself nie heeltyd verduidelik nie.”

Vies staan sy op, gooi haar toiletsakkie in die tas en rits dit toe.

“Die idioot! Het hy jou nie kans gegee om iets te sê nie?” Imke is sommer rooi in die gesig.

Cilla skud haar kop en trek die tas vies van die bed af. “Nee. Hy het nie eers uit sy bakkie geklim nie. Ek kan nie glo dat hy so iets van my kan dink na wat … na wat tussen ons gebeur het nie.”

Haar oë is skielik vol trane. “En weet jy, die tekening? Wat ek jou gewys het? Dis hy. Ek … dis asof ek my lewe lank vir hom gewag het.” Sy trek die tas agter haar aan tot by die deur en trek een skouer op.

“Maar dalk verbeel ek my net. Dalk is dit nie hy nie. Hy vertrou my nie. Hy het nog nie vrede oor sy ma se dood nie. Alles wat daarna gebeur het, bepaal nog steeds wie en wat hy is. Dis beter dat ek nóú weet voordat ek pens en pootjies staan en verlief raak op hom.”

Sy probeer glimlag. “Ek ry nou. Geniet jou naweek.”

Imke kom gee haar ’n drukkie. “Moenie oorhaastig besluit nie. Ek wil hom nie verdedig nie, hy’t soos ’n sot opgetree, maar dink hoe sou jy reageer het.” Sy stoot vir Cilla voor haar uit. “Nou toe, geniet jou perde en die kinders. Ek sal volgende Saterdag bietjie kom help.”

* * *

“Jy was lank weg, jou ma het begin bekommer oor jou.”

Cilla kyk vinnig op na haar pa. Sy is besig om vir Maggie te roskam. Die afgelope drie naweke het sy maar elke keer plaas toe gekom en kon sy Saterdae ná die klasse heerlik ver ente op Maggie gaan ry. Sy het nie weer enige uitnodiging van ’n man aanvaar nie. Dit sal nie regverdig teenoor enige ander ou wees nie. Haar hart is seer, haar trane sit vlak, sy is regtig nie goeie geselskap nie.

“Ek en Maggie het al twee ’n bietjie ruimte nodig gehad. Dit was heerlik.”

Haar pa vat die borsel uit haar hand. “Ek sal klaarmaak. Gaan stort jy, ek wil die vuur aansteek dat ons ’n tjoppie braai.”

“Dankie, Pa,” glimlag sy en begin wegstap in die rigting van die staldeur.

Haar pa maak keel skoon en sy draai haar kop terug. “Reynecke het so ’n maand gelede gebel en hy sou Maandag vir Maggie kom haal het, maar toe het hy gistermiddag gebel en gesê hy gaan nie hier kan uitkom nie. Weet jy iets daarvan af?”

Haar hart krimp ineen by die aanhoor van sy naam. Hoe op aarde gaan sy dit oorleef as sy hom ooit weer moet sien? Sy skud haar kop. “Nee, Pa, ek het hom seker ’n maand laas gesien, so ek weet nie wat in sy kop aangaan nie.”

“O? Wel, hy wou weet hoe dit met jou gaan. Toe sê ek vir hom dit gaan goed. Het nie gedink om hom te vertel hoe bedruk en befoeterd jy die afgelope ruk is nie.”

“Pa!” raas sy. “Ek is nie bedruk nie, ek is net moeg. Daar is so baie dinge wat moet gebeur … die matriekafskeidreëlings is ’n nagmerrie … ek is bekommerd oor die matrieks … en …”

“Wat gaan hier aan? Ek hoor daai ou opgewerkte stemmetjie van jou tot in die kombuis,” hoor sy haar ma laggend agter haar.

“Sy’t muisneste,” kondig haar pa doodluiters aan terwyl hy Maggie ritmies borsel.

Cilla byt op haar tande. “Waar kom Pa daaraan? Ek –”

“Ek het Reynecke se naam genoem, toe begin sy stotter,” sê haar pa rustig.

“Ek het jou mos gesê daar’s iets aan die gang tussen die tweetjies,” sê haar ma selfvoldaan en vou haar arms.

Cilla kyk vies na haar ouers. “Julle weet ek staan net hier, nè? Ek het nie muisneste nie, ek is nie bedruk nie, ek het net ’n baie vol program. Ek gaan stort.”

Cilla storm huis toe en hardloop die trappe op na haar kamer. Sy gooi die deur agter haar toe en trek haar klere uit so ver soos sy badkamer toe stap. En onder die stort val die eerste trane. Sy snik haar hart uit. Sy hurk op die vloer en terwyl die water oor haar stroom, huil sy oor die gat in haar binneste, oor ’n toekoms wat nie gaan wees soos dit bedoel is om te wees nie, oor Bravo wat nie sy Maggie gaan kry nie, oor Reynecke.

Eers toe die water al koud begin raak, draai sy die kraan toe en vee haar trane af. En vir die eerste keer in drie weke luister sy na haar instink, na die ou stemmetjie wat al weke lank met haar probeer praat. Sy word stil. Vir die eerste keer in ’n lang tyd ervaar sy vrede in haar binneste. Sy het nog altyd gedoen wat haar intuïsie vir haar sê, maar sy wou die laaste tyd nie luister nie. Sy weet nie of dit sal help nie, maar sy sal nog een keer probeer.

* * *

Reynecke vee oor sy ongeskeerde gesig terwyl hy kombuis toe stap. Dis Sondagoggend en hy het baie later gelê as wat hy normaalweg sou. Maar die afgelope drie weke het hy bitter min geslaap, en wanneer die vaak hom wel oorval het, was sy drome vol van Cilla. Cilla in sy arms, Cilla in sy bed, Cilla se lang bene om sy lyf … Cilla.

Hy moes liewer by sy voornemens gehou het om haar op ’n afstand te hou. Vandat hy haar die eerste keer gesien het, het hy geweet sy kan hom heeltemal uitdop en kwesbaar maak. Oor haar sou hy kon obsessief raak. Hel, in die kort tydjie wat hy haar ken, is sy klaar vir hom ’n obsessie. Dis maar goed dat hy ná die Saterdagaand in die stalle eers amper ’n week later by haar uitgekom het. Hy sidder as hy dink aan watter onbesonnenheid hy sou kwytgeraak het as hy haar vroeër gesien het.

Hy het op die ingewing van die oomblik besluit om haar daardie Vrydag by die skool te gaan verras. Vandat hy haar in sy arms gehad het, kon hy nie wag om weer by haar te wees nie. Maar die week was so deurmekaar en toe het ouma By ook nog siek geword.

Teen Vrydag was hy soos een wat eenvoudig ’n dors moes les. Hy het die vorige dag vir ouma By in die hospitaal gaan haal en daarop aangedring dat sy ten minste die naweek by hom bly. Dis sy wat hom uiteindelik uit die huis gejaag het “om die duiwel uit hom te kry”, soos sy dit gestel het. En die hele ent pad Caledon toe het hy eintlik geweet Cilla is klaar ’n obsessie, het hy vir homself gesit en preek om dinge kalm te vat, om nie oorhaastige besluite te neem nie.

En toe hy by die skool stilhou, sien hy haar. In ’n ander ou se arms terwyl sy laggend opkyk na die vent. Hy het rooi gesien.

Dis koud vanoggend, die winter is hier. Hy het nog nie gestort nie, hy’s eers lus vir ’n koppie koffie. Dalk sal dit hom help om sy kop skoon te kry. Hy het sommer ’n ou rugbytrui aangetrek en is nog besig om sy jeans se rits op te trek toe hy by die kombuis instap. En in sy spore vries.

Imke en Cilla sit aan die kombuistafel, elkeen met ’n beker koffie. Ouma By en Philip is voor die stoof besig. Al vier kyk na hom, maar hy sien net vir Cilla raak.

Sy is pragtig. Haar oë is onseker, maar haar ken is gelig. Begeerte vir haar slaan hom soos ’n vuis in die maag. Maar dan onthou hy wat gebeur het toe hy haar die laaste keer gesien het en hy pers sy lippe saam.

“Môre, Reynecke,” groet sy en neem ’n sluk van haar koffie.

“Môre,” mompel hy. “Waar kom julle vandaan?”

“Ek en Imke het laat gisteraand hier aangekom, jou lig was al af, en Cilla het vanoggend vir ons kom kuier. Nice van haar, nè?” vra Philip toe Reynecke nie dadelik reageer nie.

“Gaaf,” brom hy, en skink vir hom ’n beker koffie. Wat de hel is hy veronderstel om te sê? Hy leun teen die deurkosyn en drink sy koffie.

“Philip? Jy was besig om te vertel waar die naam ouma By vandaan kom,” sê Imke.

Ouma By lag terwyl sy opkyk na Philip. “Dié een kon om die dood nie Beatrix oor sy lippies kry nie, hy het net gesê ‘ouma By’ en niemand kon hom oortuig om my iets anders te noem nie. Van toe af is ek vir al my kleinkinders ouma By.”

“Bly tannie in ’n ouetehuis?” van Imke.

“Ek is g’n oud nie, kind! Ek is tagtig en maak nog my eie huis skoon, kook my eie kos, ry my eie motor. Vir wat sal ek nou in ’n plek gaan sit waar ek heeldag hawermout moet eet? Ek het ’n ou ligte verkouetjie gehad. Reynecke het heeltemal oorreageer en my hospitaal toe geboender. Heeltemal onnodig, ek is perdfris.”

Sy loer na Reynecke terwyl sy groente skil. “En nou moet ek hier bly, saam met dié knorpot. Weet een van julle miskien wat oor sy lewer geloop het?”

“Ouma By …” begin Reynecke, maar ouma By wys met die mes in haar hand na hom toe.

“Loop soos ’n beer met ’n seer poot hier rond. Ek het hom ’n slag gesê, toe ek net hier aangekom het, hy moet gaan doen wat hy moet doen sodat mens net weer met hom kan gesels. En wat doen hy? Jaag soos ’n besetene hier weg net om ’n paar uur later terug te kom, nog meer befoeterd as vroeër. En van toe af gaan dit ook niks beter nie. A nee a, dis tyd dat ek weer huis toe gaan.”

Cilla skuif ongemaklik op haar stoel rond en Reynecke vang haar oog toe sy vinnig na hom loer.

“Is jy miskien die rede hoekom hy so loop en knor?” vra ouma By skielik vir Cilla, en Reynecke sluk sy kreun. Sy ouma is nie dom nie, sy voel aan iets het gebeur.

“Ouma, Cilla is die een wat na Bravo kom kyk het,” sê Philip. “Ek het mos vir ouma vertel van die dierekommunikeerder wat Koen laat kom het.” Hy beduie in Reynecke se rigting en fluister kamma: “Hy dink sy toor sy perde.”

Ouma By kyk Cilla op en af. “Interessant vir my, dié pratery met diere. Ek het dit op hierdie einste plaas gesien. Ons het ’n werker gehad toe ek ’n kind was.” Sy kyk beurtelings na Philip en Reynecke. “Dit was Krisjan se oupa, dink ek. Hy kon ’n span osse voor ’n ploeg inspan deur net met hulle te praat. Dan het sy kleinkind agter die ploeg geloop en die osse het op en af die landerye geploeg, so heel op hulle eie. Hy het net so van die kant af met hulle gepraat.” Sy beduie na Reynecke, die mes nog in haar hand: “Jy moenie so kleingelowig wees nie, dié dinge gebeur.”

“Dit het niks daarmee te doen nie,” kners Reynecke deur stywe lippe. Hy kyk Cilla in die oë en swaai met sy koffiebeker in haar rigting. “Vertel die mense van die ou wat jou so beetgehad het toe ek jou laas gesien het. Dit was nie Giel nie. Of wat was sy naam nou weer? Ek kan nie byhou nie. By watter nommer trek jy nou al?” vra hy met ’n sarkasties opgetrekte wenkbrou.

Cilla se oë blits. “Kan ek jou asseblief alleen spreek?” vra sy styf en staan vinnig op.

Reynecke neem stadig ’n sluk koffie terwyl sy oë oor haar beweeg. Hy is lus en gooi haar oor sy skouer en loop met haar ver weg. Maar dis definitief nie ’n goeie idee om haar alleen te sien nie. Buitendien, wat wil sy vir hom sê?

“Hoekom? Daar is niks wat jy kan sê wat dié drie nie ook kan hoor nie, dis nie asof ons …” Hy vat nog ’n sluk koffie en maak keel skoon. “Praat, ek luister.”

Cilla maak haar mond ’n paar keer oop en toe. Sy kyk vinnig na die ander, dan vou sy haar arms voor haar en lig haar ken. “Jy het vir my en Pieter by die skool gesien en jou eie, verkeerde afleidings gemaak. Daar is op die aarde niks tussen ons nie, hy is –”

“O, jy laat maar sommer enige man toe om sy arms om jou te gooi?” Dan knik hy sy kop. “Maar dis reg, ek behoort te weet, ek het darem ook ’n beurt gekry, in die stal. Weet nie of jy dit sal onthou nie. Saterdagaand, drie, vier weke gelede?” Hy sluk sy koffie en sien hoe sy haar vuiste bal.

Bewerig trek sy haar asem diep in. “Jou … jou moroon! En ek het gedink ek moet probeer verduidelik!” Sy kyk ’n oomblik langer na hom, haar oë skielik dor. Iets beweeg in sy binneste.

“Jy behoort te weet. As jy na jou hart luister, behoort jy te weet ek sal nie … nie na wat tussen ons gebeur het nie,” sê sy saggies en stap vinnig uit die kombuis.

Vir ’n paar oomblikke is dit doodstil. Dan spring Imke op en gee Reynecke ’n vuil kyk. “Cilla is reg, jy ís ’n bleddie moroon. En tussen hakies, ek het nog nooit gehoor dat sy so iets vir iemand sê nie. Sy het om ’n hoek gestap en in Pieter vasgeloop, hy het haar aan haar arms gegryp om te keer dat hulle val. Hy is die rugbyafrigter en hy’s getroud. Hulle het twee kinders. Ná die Saterdagaand hier by julle was sy nog nie weer saam met enigiemand uit nie. Ek hoop sy is klaar met jou, jy verdien beslis nie ’n vrou soos sy nie.”

Imke gryp haar koffiebeker en stap vinnig uit. By die deur draai sy om. “Skies, ouma By, ek weet dis jou kleinseun, maar kan een mens so onnosel wees?” Dan swaai sy om en verdwyn gangaf.

Reynecke sit sy beker stadig neer. Sy ouma kom pluk aan sy mou.

“Toe, toe, wat staan jy nog hier? Keer haar en vra om verskoning. Moenie dat ek my vir jou skaam nie. Hulle is reg, jy maak nou soos ’n onnosele mens, maar ek weet jy is nie so dom nie. Toe, wikkel! Dis die eerste meisie wat nie om jou nek val nie, ek hou van haar.”

Cilla soek haar motorsleutel in haar sak, maar sy is so verblind deur trane dat sy nie kan sien wat sy doen nie. Sy knip haar oë en vee die trane vies weg. Sy is so seer. Hoe kan hy so iets van haar dink? Ja, sy het met ander ouens uitgegaan, maar dit was voordat hy … voordat hy haar gesoen het asof sy die enigste meisie op aarde vir hom is, haar vasgehou het asof sy … kosbaar is. Hoe kan hy dink …?

Haar hand sluit uiteindelik om haar sleutels en sy druk die alarmknoppie, sluit die deur oop.

“Cilla!” hoor sy Reynecke dan roep, maar sy ignoreer hom en gooi haar handsak op die passasiersitplek.

Dan is hy by haar en hy draai haar om na hom. Sy hou haar oë op die motorsleutels in haar hand. Sy kan nie verder verneder word nie; wat wil hy nou weer hê?

Sy hande beweeg oor haar skouers en hy lig haar ken op. “Cilla, ek is jammer. Imke het my vertel wat gebeur het … ek het oorreageer, soos gewoonlik.” Hy glimlag verleë. “Ouma By se woorde.” Hy gryp haar hand. “Sê iets? Asseblief?”

Cilla trek haar hand weg. Sy sluk teen die knop in haar keel. “Reynecke, ek … jy weet ek is baie intuïtief. Ek glo in my instinkte, ek het nog altyd. Dis hoekom ek hier is vanoggend, ek het geweet ek moes weer met jou kom praat. Maar jy is bang vir wat jy voel, vir wat jy aanvoel, vir wat jy wéét van my. Jy weet … as jy eerlik is met jouself, weet jy dat ek nie enige ou toelaat om so naby aan my te kom soos wat jy was nie.”

Reynecke neem weer albei haar hande in syne. “Jy’s reg. Ek weet. Maar toe ek die ander ou se hande op jou sien, ek … ek was jaloers. As ek dit gewaag het om uit my bakkie te klim, sou ek hom met my kaal hande uitmekaar gepluk het.”

Sy haal diep asem en kyk hom waterpas in die oë. “Wat tussen ons gebeur het, is baie spesiaal. Daar is ’n konneksie, dis meer as net die fisieke.”

Reynecke kyk haar ’n rukkie aan en knik dan. Sy duime vryf ritmies oor haar hande. ’n Spiertjie spring in sy wang.

“Maar kom ons vergeet liewer hiervan, Reynecke. Jy –”

“Vrek, vroumens, maar jy kan darem baie praat!” roep Reynecke uit met ’n effense glimlag. “Gee my kans om te dink, oukei? Ek sukkel nog met hierdie intuïsie-ding. Om eerlik te wees, dit freak my heeltemal uit. Ek glo nie daarin nie. Wat jy met diere doen … dis ongelooflik. Ek kon sien wat jy sien by Bravo en daar was iets tussen ons …”

Cilla probeer haar hande uit syne trek, maar hy verstrengel sy vingers in hare en hou styf vas.

“Maar oor een ding kan ek saamstem. Daar is ’n definitiewe vonk, konneksie, wat jy dit ook al wil noem, tussen ons. Dis ek en die plaas elke dag, ek sukkel … dis nie vir my maklik om te praat oor wat ek voel nie. Maar wat ek die aand by jou ervaar het …” Hy skud sy kop en lig sy een hand op om haar wang te streel. “Dit was ’n eerste. Ek het nog nooit voorheen …”

Hy sluk, laat sak sy hand en vat weer hare. “Dit was baie spesiaal. Ek … soos jy kan sien, is ek nie baie goed met die verhouding-ding nie. Maar ons is albei grootmense. Kom ons … spandeer tyd saam en kyk of iets ontwikkel. Ons praat mos nie van vir altyd en ewig nie, dalk vind ons oor ’n paar weke uit dat ons mekaar irriteer, of iets. Wat sê jy? Ek belowe om baie hard te probeer om nie weer so simpel te wees nie.” Sy glimlag is nog huiwerig, maar breër nou. “Ek wil nie weer uitgeskel word vir ’n moroon nie, sommer deur twee girls op een dag.”

“Imke ook?”

Hy knik sy kop en lag verleë. “My ouma het ook ’n hou ingekry. My enigste verskoning is, ek was jaloers. Vergewe my?”

Nog voordat hy klaar gepraat het, begin sy glimlag en sy knik. Sy kan eenvoudig nie weier nie. As sy na haar verstand luister, sal sy nee sê. Hierdie ding kan uiteindelik vir haar net hartseer beteken, sy weet mos hoe hy voel oor ’n langtermynverhouding.

Maar haar hart sing ’n ander storie. Haar hart onthou net die intense emosies wat Reynecke in haar wakker gemaak het, die hitte van sy hande, die teerheid van sy soene, die dringendheid in sy lyf. En sy wil meer hê, al is dit dan net vir ’n rukkie.

Reynecke lag, lig haar op en tol met haar in die rondte. “Is dit ’n ja?”

Sy lag en knik weer bly.

“Nou waarnatoe gaan jy dan? Kom, ons koffie is nog nie op nie,” terg hy, sit haar neer en slaan ’n arm om haar skouers.

Cilla kyk op na hom en haar hart sug. Stadig, Cillatjie, maan sy haarself, stadig.

Sy gaan die tyd saam met hom geniet, maar haar hart oppas. Wel, sy kan immers probeer.

Elsa Winckler Eerste Keur

Подняться наверх