Читать книгу Elsa Winckler Eerste Keur - Elsa Winckler - Страница 7

4

Оглавление

Cilla trek haar skootrekenaar nader. Sy het nog so baie nasienwerk, maar sy wil eers haar e-pos lees. Sy kry nog gereeld e-pos van vriende wat sy in Amerika gemaak het, en van die ander dierekommunikeerders wat sy daar leer ken het, is nou Facebook-vriende.

Die voordeur vlieg oop en Imke kom ingewarrel.

“Raai wat? Toe, raai, raai!” Sy draai al in die rondte en kom eers teenaan die tafel waar Cilla sit tot stilstand.

“Jy het nie merkwerk nie?” vra Cilla afsydig terwyl haar oë oor haar inboks rol.

“Wel, behalwe dit. Dis mos net julle arme taalonderwysers wat so ure sit en nasien. Cilla, jy luister nie!”

Cilla se oë het verstar op e-pos wat van Facebook gekom het. Dis ’n friend request en die “vriend” is … Reynecke. Daar is ’n gesuis in haar ore en sy kyk eers op toe Imke haar arm gryp.

“Cilla, waar’s jy tog? Ek probeer jou iets vertel!”

Cilla kom stadig terug aarde toe en druk vinnig die skootrekenaar se deksel toe. Sy kyk op na Imke en probeer glimlag.

“Ek luister, wat het gebeur waaroor jy so opgewonde is?”

“Hy’t gebel,” sing Imke.

“Wie’t gebel?” Cilla frons. Sy het nie geweet daar is ’n nuwe man in Imke se lewe nie. “Wanneer het dit gebeur? Wie werk jou so op, hoekom weet ek van niks?”

“Wel, as jy nie ’n maand gelede so besig was om skaapogies vir sy broer te maak nie, sou jy gesien het dat ek … dat daar iets tussen my en Philip gebeur het.”

Cilla rek haar oë verbaas. “Wat?”

“Ja! Terwyl jy so onder die branders verdwyn het, het hy vreeslik met my geflirt. Wel, om eerlik te wees, ons het van die eerste keer wat ons mekaar gesien het al geflirt. Die laaste paar weke het ek gereeld ’n WhatsApp gekry, of ’n Facebook-boodskap. En toe bel hy vanoggend … hy kom haal my vanaand om by hom te kom eet!”

Cilla hap in die lug. Sy het dit glad nie … of wag. Sy staan op terwyl sy probeer terugdink aan die Sondag toe sy en Imke op die plaas was. “Hy het dadelik jou hande vasgegryp. Toe jy uit die motor klim, die eerste keer wat hy jou sien, toe gryp hy jou hande.”

Imke knik met ’n breë glimlag.

“En jy wat gewoonlik koes vir enige man, jy was baie, baie vriendelik. Ek onthou nou.”

Imke lag. “Ek weet, is dit nie wonderlik nie? En die Sondag by Voëlklip, toe jy so onder die water doenig was, het hy my gesoen. Sommer so oop en bloot voor almal. Almal behalwe jy en Reynecke het gesien. Wat hét julle heeltyd so onder die water in gefoeter?”

Cilla waai met haar hande in die lug. “Ag toe nou. Jy terg my nou al weke lank oor wat ek kwansuis onder die branders gedoen het. Ek het nog niks weer van die man gehoor nie. ’n Duidelike bewys dat niks gebeur het nie. Dit was net die branders.”

Dan gluur sy kamma kwaai na Imke. “Ek kan nie glo jy flirt nou al ’n maand lank en sê my niks nie. Ek dog ek is jou beste vriendin.”

Imke slaan haar arms styf om haar lyf, haar glimlag nog breër. “Ek het nie gedink daar is iets om te sê nie, ek het gedink dis sommer maar net. Ek het vanoggend ’n boodskap van hom gekry soos wat ek nog elke dag gekry het, en toe die skool uitkom, toe lui my foon. En toe’s dit hy.”

Cilla sit haar hand op Imke se arm. “Jy’s nie te haastig nie? Jy ken die man nie regtig nie.”

Imke lag. “Ons gaan mos nie trou nie, ons gaan uiteet. En al wat ek weet, is dat hy my knieë lam maak, my kortasem maak, my … gelukkig maak. Wat meer wil jy hê?”

Cilla glimlag vir die eerste keer. “Dan’s ek baie bly vir jou. Hy kom jou haal en bring jou terug? Al die pad van Hermanus af, op ’n Maandagaand?”

Imke knik bly. “Dis al aand wat sy restaurant toe is.”

“Die man het duidelik die skoot hoog deur. Wat gaan jy dra?”

“Ek weet nie, kom help kyk! Ek het gedink die stywe jeans van my en dalk daai ligblou …”

Cilla loop agter Imke aan. Sy kan eintlik nie wag om op Facebook te kom nie. Maar nou moet sy eers vir Imke help, dis wat vriendinne doen.

“’n Man wat kan kos maak, klink vir my hemels,” sug sy.

“Ek weet! Veral as ’n mens, soos ek, niks kan kook nie.” Imke maak haar kas oop en kyk dan skerp na Cilla. “Wanneer gaan jý ’n slag ja sê en uitgaan met een van die hordes ouens wat jou so knaend uitvra? Jy sit aand ná aand by die huis.”

Cilla ignoreer haar, haal ’n sexy toppie uit die kas. “Hierdie een. Die arme ou gaan nie weet wat hom getref het nie.” Sy gee die toppie aan, sug. “Man, Imke, ek is besig. En ek is nié aand ná aand by die huis nie.”

“Plaas toe gaan na jou ouers toe is nie uitgaan nie, Cilla.”

Cilla lag liewer net. “Op die oomblik is dit vir my genoeg. Kom, los nou vir my, ons moet jou mooimaak.”

Die oomblik toe die deur agter Imke en Philip toegaan, storm Cilla op haar skootrekenaar af. Sy ignoreer al die ander e-pos en haar oë land dadelik op Reynecke se versoek om haar “vriend” te wees.

Dis al ’n maand vandat hy haar vasgehou het onder die branders. Sy het gedink … gehoop, as sy eerlik moet wees, dat sy van hom sal hoor. Maar hy was doodstil. Sy het al begin dink dat sy haar die hele episode verbeel het. Haar pa het op ’n keer genoem dat hy en Reynecke weer gepraat het oor Maggie, maar sy wou nie invra nie. Haar ma hou haar met arendsoë dop wanneer Reynecke se naam genoem word.

Intussen slaap sy sleg, sy wonder oor hom, onthou sy hande oor haar rug, onthou hoe reg dit alles gevoel het …

En nou, van alle dinge, ’n vriendskapversoek op Facebook. Haar hand huiwer bo die knoppie om dit te aanvaar. Sy druk dit. ’n Nuwe bladsy maak oop en nooi haar om iets vir haar nuwe vriend te skryf.

Wat sal sy sê? Móét sy iets sê? Wil sy? Sy vroetel haar hare deurmekaar. Wat, wat, wat? Bravo. Sy kan iets oor die hings sê. Sy tik vinnig: “Hallo daar. Hoe gaan dit met Bravo?” en stuur die boodskap voor sy van plan verander. Dan spring sy op en toe sy haar kom kry, stap sy op en af in die klein sitkamertjie.

Sy sug. Die man maak haar nou sowaar mal. Sal sy nou soos ’n bakvissie sit en wag vir ’n briefie?

Sy trek haar tas met nasienwerk nader. Sy het ’n vraestel om op te stel en al die opstelle om na te sien. Sy kan nie hier sit en ginnegaap nie.

Tien minute later kan sy dit nie meer hou nie. Sy gaan weer Facebook toe. Reynecke het haar geantwoord! Net een woord: “beneuk”. Sy glimlag. Die man het dan tog so ’n bietjie humor in hom.

Haar selfoon lui. Nie ’n nommer wat sy ken nie.

“Hallo, Cilla hier.”

Dis vir ’n oomblik doodstil aan die ander kant. “Cilla. Dis Reynecke. Reynecke Retief.”

Sy gaan sit vinnig, haar bene skielik lam.

“Hallo, Reynecke. Ons is nou friends.” Sy trek ’n suur gesig. Wat ’n simpele opmerking!

Hy maak keel skoon. “Uh … ja.” Dis weer stil.

“Jy was reg … oor Bravo, bedoel ek.” Hy is ’n rukkie stil. “Ons het die onderste stuk veld laat toekamp en hy het nou ’n groot stuk grond waarop hy kan rondhardloop. Hy is al klaar rustiger.”

“Ek is bly.” Cilla klem die foon vas. Wat kan sy tog nog sê?

“Nou ja, wou net vir jou sê. Lekker aand verder.”

Die volgende oomblik kyk sy af na die foon in haar hand. Hy het neergesit. Lekker aand verder? Wat is dít nou? Sy sit ’n rukkie en staar stom na die selfoon. Simpel vent! Sy gooi die foon eenkant toe en trek haar werk met mening nader. Sy haal die klompie opstelle wat sy nog moet nasien uit haar tas, en ’n stuk papier val op die grond.

Dis die tekening van Roux. Sy buk af grond toe en vou dit stadig oop. Haar hart galop.

Dis hy. Is dit nie? Sy het van hom geweet, van hom gedroom, vandat sy tien jaar oud was. Sy tuur nog ’n oomblik na die tekening en stop dit dan vererg terug in haar tas. Sy weier om haar verder te verknies oor een mansmens vol vooroordele en vooropgestelde idees.

Imke is dalk reg. Sy moet ’n slag met iemand uitgaan. Al is dit net sodat sy een aand lank nie aan Reynecke Retief hoef te dink nie.

Reynecke steek in sy kombuisdeur vas. “Môre. Ek het nie verwag om jou die naweek te sien nie,” sê hy en mik vir die koffiekan op die groot tafel. Dis vroeg Saterdagoggend en Philip sit met ’n beker koffie daar.

“Ek en Imke was gisteraand uit, toe’t ek besluit om liewer hier te slaap. Ek ry netnou terug Hermanus toe.”

Reynecke kyk stip na Philip. “Imke?”

“Ja, die een wat hier was saam met Cilla. Jy onthou seker vir Cilla? Sy het na Bravo kom kyk?”

“Ek onthou vir Cilla, en vir Imke, moenie verspot wees nie. Ek het net nie geweet jy kuier daar nie. Van wanneer af?”

Philip lig sy skouers. “Ons het so ’n maand lank boodskappe gestuur en toe maak ek my move. Sy is spesiaal. Baie spesiaal. Ons … ag ek weet nie, dit werk net.”

Reynecke gaan sit by die tafel en kyk oor die rand van sy koffiebeker na sy broer. “Spesiaal. Ek dink nie ek het al daai een uit jou mond gehoor nie. Hoeveel keer was julle al uit?”

“Elke aand die laaste twee weke. Ek het haar verlede Maandagaand vir ete kom haal en ek het nie gedink ek sal voor daai naweek weer by haar uitkom nie, maar toe …” Hy lag verleë. “Toe is Vrydag heeltemal te ver.”

Reynecke kyk sy broer verbaas aan. “Is jy regtig ernstig oor dié girl?”

“Ek dink so.”

“Wel, hierso,” sê Reynecke en klink sy koffiebeker half onwillig teen Philip s’n. “Nie gedink ek sal die dag sien nie.”

Philip glimlag na binne. “Sy is … sy maak my gelukkig.” Dan lag hy. “Behalwe dat sy nie kan kos maak nie. Ek het gedink ons kan Woensdagaand sommer by haar kuier, ek het iemand gehad wat by die restaurant kon uithelp. Toe moes sy bieg. Maar Cilla het die aand gered. Kan daai girl lekker kos maak.”

Reynecke voel hoe sy hart vinniger klop. Hy sit sy beker neer.

“Uhm … hoe gaan dit met Cilla?” vra Reynecke kamstig ongeërgd en hou sy oë op sy koffie.

“Goed, dink ek. Ek hou van die ou wat sy gisteraand daar gehad het. Die ander een is maar ’n loser.”

“Ander een?”

“Ja, vroeër die week het ek en die ander ou toevallig saam by die meisies se voordeur opgedaag, toe nooi ek hulle twee sommer om saam te ry Hermanus toe en by my te kom eet. Praat vreeslik baie oor homself. Ek is bly Cilla het van hom ontslae geraak. Die een van gisteraand kan ten minste interessant gesels.”

Reynecke klem sy koffiebeker vas. Sy kop raas en hy moet op sy tande byt om nie in stringe te vloek nie.

Philip staan op, strek hom uit. “Moet sê, ek het nogal gedink jy sal ’n move van jou eie maak met daai girl. Dit het gelyk …” Hy lig sy een skouer en kyk na sy horlosie. “Ek moet spore maak. Ek het gedink om volgende naweek af te vat by die restaurant en te kom uithelp hier. Jy het tog al begin saai?”

Reynecke knik.

Philip klop hom op die skouer. “Ek bring vir Imke saam. Nou ja, laat ek ry.” Hy stap kombuisdeur toe.

Reynecke kyk op toe hy besef Philip het in die deur vasgesteek.

“Jy oukei?” vra Philip.

Reynecke staan op en sit sy koffiebeker hard neer. “Wat sal dan nou met my verkeerd wees?” vra hy bars.

“Jy en Bravo is ewe beneuk. Jy’t dalk dieselfde probleem as hy,” terg Philip en maak hom vinnig gangaf uit die voete.

Reynecke stap dreigend agter hom aan, vuiste langs sy sye gebal. “Ja, jy beter padgee, bliksem,” roep hy agter sy broer aan, maar Philip lag net.

Lank nadat Philip weg is, staan Reynecke nog op die voorstoep. Hy moes Philip met die vuis bygedam het, dan was hy dalk nou rustiger. Net die gedagte dat ’n ander man naby Cilla kom, maak hom woedend. Nie vies nie, nie kwaad nie, woedend! En dan praat Philip nog van twee ouens …

Die hemel weet hoekom hy wat Reynecke is nou so kwaai reageer. Hoeveel mans by Cilla kuier, het niks met hom te doen nie. Hoekom voel hy dan so half verneuk?

Hy het gedink die lang ure en harde fisieke werk sal hom help om van haar te vergeet. Maar haar bikini-lyfie spook by hom, dagin en daguit. Hy vloek saggies en hamer met sy vuis teen die voordeur. Nog ’n knoop. Sy hand is bleddie seer.

Hy kyk af na die nerfaf kneukels. Philip is dalk heeltemal reg. Hy het dieselfde probleem as Bravo. Hy het prentjies van ’n vrou in sy kop.

“Môre, môre,” sê Koen agter hom.

“Môre. Dis Saterdag, ek dog jy’s by Stef se rugbywedstryd?”

“Ons gaan nou ry, hulle speel eers bietjie later. Krisjan het kom sê Bravo is weer lekker beneuk vanoggend. Dink jy nie …?” Koen maak keel skoon. “Ek dink dis dalk ’n goeie idee om weer vir Cilla hier te kry.” Hy hou sy hande in die lug nog voordat Reynecke kan reageer. “Ek weet, ek weet. Jy dink sy praat twak. Maar haar idee dat hy los loop deur die dag het baie gehelp. Ek dink ons moet dat sy weer kom.”

Reynecke knik stroef. “Ek het ook daaraan gedink. Ek sal hoor.” Hy ignoreer die verstomde uitdrukking op Koen se gesig en stap die huis in.

Bravo ís weer moeilik, Koen en Krisjan is doodreg. Hy weet eintlik heelweek al dat hy ’n plan moet maak, maar hy het nog heeltyd gehoop die hings se probleme sal verdwyn. Dit is nou vir hom duidelik dat dit nie sommer gaan gebeur nie.

Cilla. Hy hoef nie eens te probeer om te onthou hoe sy lyk nie. ’n Foto van haar is in sy brein gestoor. Hy sien haar heeltyd, dink sonder ophou aan haar, verlang na haar.

Hy gryp sy selfoon, soek haar naam. Dalk is dit tog ’n goeie ding dat hy haar weer sien. Dis ses weke vandat hulle saam in die see was. Miskien, as hy haar nou weer sien, sal hy nie soos ’n tiener vol hormone reageer nie en sal hy besef dat dit alles maar net sy verbeelding was.

Hy druk die knoppie. Hoe gouer hy die reëlings tref, hoe gouer kan sy lewe na normaal terugkeer.

Cilla is op pad stalle toe toe haar foon lui. Sy haal dit uit haar broeksak. Dis Reynecke.

Sy gaan staan botstil. Sy het sy naam gestoor toe hy haar twee weke gelede gebel het. Intussen het sy ’n paar keer gemik om sy naam te wis, maar sy het nog nie sover gekom nie. Haar vinger huiwer bokant die optelknoppie.

Sy het die afgelope paar weke vir elke ou wat haar uitgevra het ja gesê in die hoop dat sy van hierdie man kan vergeet. Die aande uit was lekker, sy het heerlik gesels, na interessante plekke gegaan. Maar nie een van die ouens maak haar so bewus van haar vroulikheid, haar begeertes, haar lyf se behoeftes soos Reynecke nie. Sy stel nie belang daarin om aan selfs net een van hulle te raak nie, terwyl sy haar hande moet vashou as sy naby Reynecke is om te keer dat sy hom nie beetpak nie.

Laat sy dit nou maar erken. Die man doen iets aan haar, laat haar verlang na dinge waarvoor sy nie naam het nie. Sy het nog nooit so gevoel nie. Sy is eintlik bang vir wat sy voel, asof sy die gevoelens wat hy in haar wakker maak, wil ontken, onderdruk, iets wat sy nog nooit probeer doen het nie.

Sy het nog altyd haar intuïsie vertrou, geglo dat dit wat sy voel, wat sy ervaar, die waarheid is, dat dit bedoel is om so te wees. En sy kon nog altyd, sonder om te huiwer, net oorgee en dinge met haar laat gebeur, want sy weet dis reg so. Maar nou veg sy terug. Dis teen haar aard en dit maak haar ongelukkig. Maar rooi ligte begin in haar kop flikker wanneer hy in die omtrek is. Al voel dit ook reg.

Hierdie keer baklei sy met haarself, met wat haar hart wil hê. En totdat sy nie vrede in haarself het nie, totdat sy nie presies seker is wat haar hart sê nie, moet sy die man uit haar sisteem kry en hom op ’n afstand hou.

Sy druk die groen knoppie. “Hallo, Reynecke.” Sy probeer haar asemhaling normaal hou.

Dis eers stil. “Uhm, ek het gewonder …” Stilte. Cilla voel haar asem in haar keel vasslaan. Wat wil die man hê?

Sy hoor hoe hy sy asem diep intrek. “Jy’s glo baie besig, maar ek sal bly wees … Koen het gedink …” Sy hoor ’n onderlangse knoop.

“Bravo is weer moeilik. Is dit vir jou moontlik om een of ander tyd vandag na hom te kom kyk? Dis nou as jy nie weer ’n date het nie.”

Cilla frons.“’n Date, hoe bedoel jy?”

Dis weer vir ’n oomblik stil. “Dit het niks met my te doen as daar elke aand ’n ander ou by jou kuier nie …”

Philip het natuurlik iets gesê. “Nou hoekom praat jy dan daaroor?”

Doodstil aan die ander kant. Cilla besef sy het ophou asemhaal en probeer onhoorbaar ’n teug asem inkry.

Reynecke maak keel skoon. “Ek bel oor besigheid. Ek sal jou natuurlik vergoed vir jou tyd. Kan jy asseblief weer na Bravo kom kyk?”

Cilla slaan haar oë hemelwaarts. Die man maak haar mal. “Ek kan kom kyk, maar …”

“Goed, sien jou dan later.”

Cilla kyk verdwaas na die foon in haar hand. Hy het sowaar al weer neergesit. Sy bel terug.

“Is iets fout?” kom sy stem koel oor die lyn.

“Daar kan wees. Ek was besig om vir jou te sê –”

“Kan jy na Bravo kom kyk of nie? Dis al wat ek wil weet.”

“Sal jy nou vir my ’n kans gee om iets te sê?” Cilla is so vies sy kan gil.

“Nou hoekom sê jy nie wat jy wil sê nie, jy praat in elk geval aanmekaar.”

Cilla tel tot tien en haal diep asem, in en uit. “Wat ek wou sê, is dat dit nie help om my te laat kom as jy nie wil hoor wat ek sê nie. Dan is dit beter dat jy iemand anders kry, na wie jy sal luister. Ter wille van Bravo.”

“Ek het al vir jou gesê dat ons ’n kamp omhein het. Intussen was die veearts hier. Jy was reg oor sy bloed. Maar ek weet nog nie van die merrie-ding nie. Dit bly vir my …” Hy sug diep. “Ek sal bly wees as jy asseblief weer na Bravo kan kom kyk.”

“Dis nie nodig dat ek soontoe kom nie, ek kan oor ’n afstand –”

“Cilla. Asseblief.”

Cilla sug ook. Hoe sê ’n mens nou nee vir so ’n man? “Nou maar goed. Ek sal so na middagete by jou wees. Totsiens.” Sy druk die knoppie vinnig voordat hy weer iets kan sê, maar haar foon lui weer. Dis hy.

Toe sy onwillig optel, hoor sy net ’n vinnige “Dankie, sien jou later” voordat Reynecke dooddruk. Hou natuurlik daarvan om die laaste sê te sê, tipies man. Vies stop sy haar foon terug in haar sak en stap doelgerig stalle toe. Sy sal nog een keer gaan help met Bravo, maar as Reynecke haar wéér aankyk asof sy mal is, kan hy maar vergeet om ooit weer van haar dienste gebruik te maak.

Ses weke was toe nie lank genoeg nie. Cilla kom aangestap en Reynecke voel hoe sy bloed verhit, sy hartklop versnel en sy asemhaling hortend raak.

Inteendeel. Dis asof die ses weke hom uitgehonger het, asof sy nog mooier geword het, aanlokliker. Sy oë dwaal rusteloos oor elke sentimeter van haar lyf terwyl sy stap. Hy het haar gemis. Haar lyf, haar reuk, haar cheeky haarstyl, haar glimlag. Hy draf by die stoeptrappies af na haar.

“Dankie dat jy gekom het,” sê hy.

Cilla vou haar arms voor haar en glimlag stram. “Jy het so mooi gevra, hoe kon ek weier?”

Reynecke pers sy hande in sy broeksakke. Hy wil haar nader pluk, haar arms om hom voel, elke stukkie van haar lang, soepel lyf teen hom vasdruk. Hy draai vinnig stalle se kant toe.

“Kom. Ons wil nie jou tyd mors nie.”

Hy voel amper paniekerig. Tyd en afstand het nie gewerk nie. Al die deurmekaar gevoelens wat sy in hom wakker maak, is nog daar, net baie meer intens. Dit was ’n fout om haar te laat kom, hy moes dat sy die afstand-ding gedoen het, dan was dit nie nodig dat hy haar weer sien nie, dat haar rosegeur hom weer omsingel nie …

“Is ons regtig so haastig?” hoor hy haar agter hom sê. Hy draai om en sien dat sy ’n hele ent agter is. Hy het al hoe vinniger gestap, besef hy, so asof hy wil weghardloop. Hy kyk na haar soos sy draf om op te vang en byt op sy tande. Weghardloop gaan nie help nie. Die meisie het baie naby sy hart nesgeskop en hy het geen idee wat om daaraan te doen nie. Hy moet haar net vinnig hier wegkry en seker maak dat hy haar nooit weer sien nie, dis al wat gaan help om van haar te vergeet.

Hy draai weer na die stalle en stap nog vinniger. “Hoe gouer ons daar kom, hoe gouer kan jy terug.”

Cilla stap stadig agter hom aan. Hy was dan die een wat daarop aangedring het dat sy vandag nog na die hings kom kyk, en nou lyk dit asof hy nie gou genoeg van haar ontslae kan raak nie. Haar oë sak af na waar sy jeans styf span om ’n paar netjiese boude. Sjoe! Sy kyk vinnig anderpad. Wat ís dit met haar en die man? Sy kan nie onthou dat sy al ooit enige man so beloer het nie, maar hierdie boer … Definitief ver wegbly, baie ver.

By die stalle staan Reynecke eenkant toe en beduie vir haar om in te stap. Sy skuur by hom verby en sy reuk vou om haar. Hy ruik na grond, na plaas, na man. Sy kyk vinnig op na hom, maar sy oë is op skrefies, sy kake styf opmekaar.

Sy stap gou tot by Bravo se stal. Die hings staan weer so ver as moontlik teen die agterste muur. Toe Bravo haar gewaar, kom hy egter dadelik vorentoe. Cilla is oorbewus van Reynecke wat langs haar kom staan het. Bravo kyk vinnig na Reynecke, dan draai hy sy kop en kyk na haar. Cilla raak stil, asem diep in en uit en dan sien sy dit weer: die rooibruin merrie met die swart maanhare.

Langs haar gee Reynecke ’n vinnige tree terug en Cilla kyk om. Hy is bleek, sy oë verwilderd, en met ’n vloekwoord draai hy om en vat die hasepad buitentoe.

Cilla glimlag en hou haar hand na Bravo uit. “Hy het haar ook gesien,” fluister sy vir die hings, “maar hy wil dit nog nie glo nie.” Sy vryf teen die hings se nek af en voel hoe sy lyf sidder.

“Jy het haar geruik, nè?” Die hings runnik en sy lag. “Ek sal kyk wat ek kan doen, maar jou baas is so hardkoppig …”

So vryf sy die perd se nek om hom rustig te maak en gesels nog ’n rukkie met hom. Haar eie gevoelens en gedagtes is so deurmekaar, in so ’n warboel, dat sy ’n tydjie nodig het voordat sy weer naby Reynecke kan kom.

Toe sy ’n rukkie later uitgaan, sien sy hom teen die ring se reëling staan. Sy stap stadig nader en stop langs hom.

“Jy’t dit ook gesien. Die beeld van die merrie?” Sy kyk nie na hom nie.

Reynecke bal sy vuiste in sy broeksakke en draai onthuts na haar. “Wat de hel is dit? Dis die tweede keer dat dit met my gebeur. Ek sien die merrie, Bravo sien blykbaar vir jou in my gedagtes … Word ek mal, wat de hel gaan aan?” Die uitdrukking op sy gesig is skoon paniekerig.

Cilla kyk hom verstom aan. “Bravo sien my in jou gedagtes?”

Reynecke skop-skop na ’n klip op die grond, dan kyk hy stip na haar en vou sy arms voor hom. “Die anderdag … ek het aan jou gedink, toe stap Bravo na my toe … hy het geweet jy is in my kop, en … toe sien ek die merrie. Rooibruin met swart maanhare, nes jy gesê het. Hoe verstaan mens dit?” Sy stem klink vir Cilla radeloos.

“Ons weet baie dinge sonder dat ons dit hoef te sien. Dis jou intuïsie, jou instink.” Sy vat ’n diep asemteug, wat maak sy nou? “As ’n meisie eendag vir jou sou sê dat sy van jou geweet het toe sy nog ’n klein kind was, wat sou jy sê?”

Hy los ’n string vloekwoorde. “Dis loutere onsin! Waar kom jy aan al jou twak? Ek glo in wat ek kan sien, wat voor my oë is, konkrete goed. Hierdie airy-fairy bog waarmee jy besig is, dis net nie wetenskaplik nie!”

Cilla tree nader en vat een van sy vuiste in haar hande saam. Sy maak sy vingers een vir een los en vryf oor sy pols. Oral waar sy aan hom raak, begin sy gloei onder haar vel. Sy moes nooit aan hom gevat het nie! ’n Elektriese stroom beweeg deur haar lyf, haar asem steek in haar keel vas.

Sy kyk op na hom. Sy wou hom troos, soos sy ’n kind sou troos, maar sy ander hand sluit om hare, ’n storm woed in sy oë. Haar mond is droog. Sy probeer haar hand wegtrek, maar sy vingers verstrengel in hare.

“Jy, uhm, jy is ook baie intuïtief, jy wil net nie altyd na jou stemmetjie luister nie.” Sy probeer glimlag, maar hy vat haar aan die elmboog en trek haar na hom toe.

“Wil jy weet wat my intuïsie vir my sê om te doen vandat ek jou ontmoet het?” kry hy dit met moeite uit voordat sy kop afsak en sy lippe hare vasvang in ’n warm, intense soen.

“Dit …”

Sy mond is gretig, gulsig, en sy wonder amper of hy haar heel gaan insluk. Sy probeer dink aan alles wat sy vir haarself oor hierdie man gesê het, probeer blitsig lysies maak van al die redes hoekom sy hom dadelik van haar af moet wegdruk, maar dan beweeg sy tong hongerig tussen haar lippe in en sy vergeet heeltemal om te redeneer. Sy voel net. Sy wag nog haar hele lewe lank vir hierdie oomblik.

En dan weet sy met ’n diep en seker wete dat sy nog altyd van Reynecke geweet het, dat Roux, haar denkbeeldige vriendjie van lank terug, haar voorberei het op hom, haar gekeer het om ernstig te raak oor enige ander man. Sy moes wag vir Reynecke, die man wat sy so lank terug al kon teken, nog voordat sy geweet het van sy bestaan.

Een hand vou agterom haar kop, en Reynecke se ander hand beweeg besitlik om haar middellyf. Hy trek haar styf teen hom vas. Wanneer sy onderlyf rusteloos teen hare begin beweeg, weet sy hy begeer haar werklik, terwyl haar lyf ook reageer op sy sensuele aanraking.

Haar hande beland op sy gespierde boarms en kruip boontoe totdat haar vingers in sy krulhare wegraak. Die een sensasie ná die ander spoel oor haar. Dis asof sy sweef, asof niks haar op die grond sou kon hou nie. Sy hoor iets, besef verstom dat dit sy self is wat die geluid gemaak het.

Reynecke het verwag dat sy haar kop oombliklik sou wegdraai, hom ’n oorveeg sou gee. Hy sou dit aanvaar het – dis beter dat hy nooit weet hoe haar lippe onder syne voel nie. Maar toe smelt sy onder sy aanraking. In die sekondes voordat hy haar gesoen het, het hy ’n vinnige kykie gekry na die vuur in haar oë. En toe proe hy die passie in haar mond, voel die oorgawe in elke beweging van haar lang lyf. Hy is in ’n draaikolk van begeerte wat hom dieper intrek as wat hy sou gedink het moontlik is.

Haar kreun eggo teen sy ruggraat af. Hy trek haar nog stywer teen hom vas. Dis asof haar kurwes presies ontwerp is om in die holtes van sy lyf te pas, haar wese in die holte van sy hart.

“Reynecke?” fluister sy nou. Haar oë is dringend, vraend. Hy trek ’n diep teug vars lug in en die werklikheid skop in. Wat de hel doen hy? Vervaard tree hy terug en steek sy hande voor hom uit om haar weg te keer. Sy swaai om en begin terugstap opstal toe.

“Cilla,” begin hy, maar sy stap al hoe vinniger.

Reynecke druk sy vingers deur sy hare en kyk haar agterna. Die vroumens het hom heeltemal laat vergeet van al sy voornemens om nooit iemand naby aan hom toe te laat nie. Sy’t hom oorrompel toe hy nie gekyk het nie, deel geword van sy asemhaling voordat hy kon keer. Sy het nes gemaak in sy hart voordat hy kon sorg dat die verskansings stewig in plek is.

Wat nou? Sy lyf reageer nog voordat sy brein heeltemal alles uitgewerk het. Hy draf vinnig agter haar aan. Hy moes haar nie gesoen het nie, hy moet vir haar probeer verduidelik.

“Cilla!” roep hy toe hy sien sy sluit haar motor oop. “Cilla, wag!” Dan is hy by haar.

Toe sy opkyk, is haar oë onstuimig. “Wat wil jy nóú hê, Reynecke? As jy verskoning gaan maak, ek sweer ek sal … Dit was ’n soen, dis al.”

Hy gryp haar hande, besef dadelik dis ’n fout, vou eerder sy arms voor sy bors en staan effens terug.

“Ek gaan nie verskoning maak nie. Ek wou jou soen die oomblik toe ek jou sien, jy … jy maak my heeltemal mal. Maar ek stel nie belang in ’n langtermynverhouding nie. Ek het gesien wat ’n obsessie met ’n vrou aan my pa gedoen het. Niks en niemand anders het vir hom bestaan nie, nie eers sy kinders nie. Ek wil nie, ek sal nie toelaat dat ek so raak nie.”

Cilla vou haar arms ook voor haar en probeer kalmeer. Haar emosies het die laaste paar minute so wipplank gery dat sy skoon uitgemergel voel. Hy mag nie weet hoe sy woorde haar ontstel nie.

Sy probeer glimlag en lig haar een skouer. “En? Toe soen jy my. Ek het ook gewonder hoe dit sal wees om jou te soen, en nou weet ons. Daar’s niks daar nie, nie ’n vonk nie, geen fladdering van die hart nie.” Sy vryf vinnig, paaiend oor sy skouer. “Jy kan maar heeltemal ontspan, jou bachelor-status is nie in gevaar nie.”

Voordat sy haar motordeur kan oopmaak, sluit sy hand om haar boarm en hy draai haar vinnig om na hom. Sy ander hand trek haar aan die agterkant van haar nek nader.

“Geen vonk nie? Niks nie?” sis hy en sy oë word donker. Hy trek haar geleidelik nog nader sodat sy weer bewus kan word van sy begeerte.

Haar asem is weg, haar bene jellie. Reynecke se linkerduim beweeg oor haar lippe en haar mond val effens oop. Sy kyk op na hom. Sy hand kom te lande onder een bors en beweeg koesterend oor haar rondings.

“Dalk moet jy weer besin oor die vonk … en die fladdering,” fluister hy teen haar gesig en druk sy duim teen die polsslag in haar nek. Sy gesig is so naby aan hare dat sy die vlekkies in sy oë sien. Sy kake beweeg, sy asemhaling word hortend, soos hare. “Sal ons jou teorie toets?”

Stadig, baie stadig, sak sy kop en sy voel sy lippe teen haar voorkop. Haar oë val toe. Sy mond beweeg stadig heen en weer. Sy het lankal nie meer suurstof oor nie en probeer asemskep. Dan versnel die tempo, die intensiteit van sy soene, en sy lippe beweeg koorsagtig oor haar oë, haar wange, af teen haar nek totdat sy mond weer hare vind en sy van voor af weggevoer word in ’n stortvloed hartstog. Dis te veel, te vinnig, te kragtig, te groot om te weerstaan.

Dis meer as net passie, meer as net begeerte. Elke emosie wat hy ervaar, word ook deel van haar, elke ervaring van sy sintuie ook hare. Sy hande vou oor haar rondings, sy vingers speel rusteloos totdat ’n snik agter uit haar keel ontsnap.

Hy lig sy kop stadig. Sy oë is donkerpers van begeerte. Maar sy sien ook dieselfde amper paniekerige uitdrukking van vroeër. En sonder dat hy iets sê, weet sy hy het dieselfde gewaarwording as sy gehad, hy het ook haar emosies ervaar.

“Geen vonk nie?” pers hy dit uit.

Cilla haal diep asem voordat sy weer opkyk. Sy sluk. “Goed, daar is ’n vonk … ons is aangetrokke tot mekaar. Of iets. Mens is mos maar van tyd tot tyd aangetrokke tot … tot party mense.” Sy probeer glimlag terwyl sy vinnig in haar motor klim.

“Jy kan gerus wees, ek soek nie ’n man nie.” Sy skakel haar motor aan. “En die man wat my dalk sal kry, is een wat my wil hê. Nie een wat allerhande voorwaardes het of een wat bang is vir wat hy voel nie. Laat weet my pa as jy vir Maggie wil kom haal. Bravo sal rustiger wees. Goed gaan.”

Sy registreer vaagweg in die wegry dat die bolle wat die werker geplant het toe sy die eerste keer hier was, nou uitloop. En sy sien hoe die botterblomme al groen staan op die oorkantste land. Hulle sal een van die dae blom.

Haar wange, haar hele lyf gloei nog van Reynecke se liefkosings. Niemand het haar nog so gesoen nie, niemand het nog ooit die gevoelens in haar wakker gemaak wat sy nou beleef het nie. Hierdie begeerte, hierdie diepe hunkering na sy aanraking, sy blote teenwoordigheid, sy lyf … Sy haal reëlmatig asem en probeer daarop fokus om haarself tot kalmte te dwing.

En hy het ook iets daarvan ervaar, sy kon dit voel, sy kon dit sien. Maar hy skrik vir sy gevoelens, hy’s bang daarvoor en kry dit sekerlik meestal reg om hulle te onderdruk. Sy kan nie dit doen nie.

Hy het die potensiaal om haar hart te breek. Sy sug. Dis vir haar duidelik dat die manier waarop Reynecke se pa gereageer het op sy vrou se dood, van hom die mens gemaak het wat hy vandag is. Een wat nie sy instinkte vertrou nie, wat glo hy moet nie te naby aan iemand kom nie, dan kan hy sy hart beskerm, dan sal hy nie soos sy pa word nie. Wat het hy dit genoem? ’n Obsessie wat sy pa gehad het …

’n Traan loop warm teen haar wang af. Ongeduldig vee sy dit weg. Gelukkig het sy darem betyds uitgevind hoe sy kop werk. Sy is buitendien so besig dat sy nie sal tyd hê om juis aan hom te dink nie. En dalk, net dalk, kan sy saans so moeg wees dat sy nie haar gereelde droom sal droom oor die man wat sy so lank gelede al kon teken nie.

Sy trap die petrolpedaal dieper in en ignoreer die stemmetjie wat vir haar vra of dit nie reeds te laat is nie.

Elsa Winckler Eerste Keur

Подняться наверх