Читать книгу Elsa Winckler Eerste Keur - Elsa Winckler - Страница 5
2
Оглавление“Waar is die huis?” vra Imke en leun vorentoe tot byna teen die voorruit om beter te kan sien. Dis skuins voor elf die Sondagoggend.
“Daar by die bloekomlaning,” beduie Cilla. “Jy behoort dit nou te sien … daar, sien jy?”
“Sjoe, dis pragtig. En kyk, mens kan sowaar die see sien. Dis amazing. Jy’t niks gesê nie!”
Cilla klik met haar tong. “Ek was so vies vir die man, ek het skoon vergeet van die mooi uitsig. Ek sal baie graag wil weet wat hom nou van plan laat verander het. Gister was hy bang ek toor sy perd en vandag moet ek kom help. Moet omtrent desperaat wees.”
Cilla draai af in die paadjie wat na die opstal lei. Sy het ’n dowwe hoofpyn en is sommer vies vir haarself. Sy het omtrent nie geslaap nie. Sy het gehoop dat sy ná gister se perdryery so moeg sou wees dat sy net sou omval en slaap. Maar moenie glo nie. Die oomblik toe sy haar oë toemaak, het honderde pare donkerblou oë uit alle rigtings na haar gekyk. Party het gesmeul, ander gepleit, sommige het gegloei, een paar wou verlei … Álmal het haar verdomp uit die slaap gehou. Sy hoop sy hoef ná vandag die man nooit weer te sien nie.
Hulle hou voor die huis stil en nog voordat hulle uitklim, gaan die voordeur oop en twee mans stap uit op die stoep.
Imke trek haar asem in. “Oelala! Wat het ons hier, Cillatjie? Wat het ons hiér? Wie’s die sexy manne? En hoekom het jy nie gesê daar’s twee van hulle nie? En dat al twee mens kortasem maak,” prewel Imke.
“Ag toe nou, mens sal sweer jy sien nooit mans nie. Die een met die blou hemp is Reynecke. Ek weet nie wie die ander ou is nie. Lyk na mekaar, seker sy broer? Ma het mos gisteraand gesê sy dink daar is twee seuns.”
“En gelukkig vir ons is hulle nie meer seuns nie,” giggel Imke.
Cilla klim stadig uit. Reynecke knik in Imke se rigting en stap om die motor na Cilla toe. Hy steek sy hand na haar uit en sy wag ’n oomblik voordat sy hare uitsteek. Gaan sy weer so ’n ek-weet-hoe-jou-vingers-om-myne-voel-gevoel kry, of het sy haar gister net verbeel? Sy vingers sluit om hare en sy kyk verbouereerd op na hom. Sy voel sowaar weer dat sy die hande ken, presies weet hoe hulle om hare moet voel, dat sy al die hitte ervaar het wat teen haar arm op beweeg. Sy pluk haar hand vinnig uit syne en beduie in Imke se rigting.
“Dis … dis Imke.”
Cilla kyk na Imke en knip verbaas haar oë. Wat gaan nou hier aan? Die man by Imke het albei haar hande in syne geneem en sy vingers speel met hare.
“Uhm … Imke?”
Imke lag verleë en trek haar hande uit die vreemde man s’n. Haar oë blink. “Jy … e … het nie vir my gesê die mans hier rond is so glad met hulle monde nie,” sê Imke verleë en kyk op na die groot man voor haar.
Reynecke beduie na die man. “Cilla, dis Philip, my broer.”
Terwyl Philip vir Cilla groet, stap Reynecke oor na Imke en skud hand. “Welkom.” Dan kyk hy na Cilla. “As jy nie omgee nie, sal ek bly wees as jy eers met Bravo … as jy eers na Bravo kyk. Ons kan daarna kom eet.” Hy kyk na Philip en Imke. “Gaan julle saamkom, of …”
“Ek kom saam. Ek wil graag jou perde sien en hoor wat Cilla sê. Jy kan maar luister na haar, sy weet waarvan sy praat,” sê Imke.
Reynecke kyk skepties na Cilla. “Ek het BSc Landbou geswot. Ek weet alles van plaasdiere af, ken hulle siektes, hulle kwale. Ek het perde geken toe ek kleiner was, maar ek onthou wragtag nie dat een ooit so moeilik was nie. Ek hou al weer twee jaar lank perde aan, maar hierdie een se nukke … ek … ons het nie meer raad nie.” Hy skud sy kop en begin aanstap na die stalle.
Cilla val langs hom in. “Wat het jou van plan laat verander? Gister wou jy niks weet van wat ek doen nie, en toe bel jy my?”
“Krisjan is ook in die hospitaal. Toe stel Koen voor ons bel weer vir jou.”
“O,” is al wat Cilla uitkry. Sy byt haar lip vas om nie te lag nie. Die man erken maar moeilik as hy ’n fout gemaak het.
Hy kyk stip voor hom en stap vinniger.
Toe hulle nader aan die stalle kom, kom Koen daar uitgestap. “Môre, juffrou, ek is bly party van ons het van plan verander en jou weer hier gekry. Bravo is vanoggend heeltemal onhanteerbaar. Ek weet nie of jy alleen daar moet ingaan nie.”
Cilla sit haar hand op sy voorarm. “Ons twee verstaan mekaar, dankie. Ek weet eintlik wat die probleem is, maar laat ek kyk of daar nog iets is.”
Imke val langs haar in. “Ek kom saam, ek gaan solank na die ander perde kyk.”
Cilla en Imke verdwyn in die stalle en Reynecke steek sy hande diep in sy broeksakke. Hy moet hulle miskien maar daar hou voordat hy iets sinneloos aanvang soos haar hand in syne neem. Hy verstaan nie wat met hom aangaan nie. Hy het hierdie allesoorheersende drang om aan die meisiekind te vat! Toe sy netnou langs hom stap, wou hy haar hand opsluit in syne neem. So asof dit so hoort, so asof hy dit gereeld doen. Hy bal sy vuiste. So asof hy nog altyd gewag het om dit te doen.
En haar parfuum. Sy ruik na … na rose. Na akkers en akkers vol bloedrooi rose. Haar geur het gister deur sy kop gesypel en toe hy vanoggend wakker skrik ná ’n rustelose nag vol drome van ’n langbeen donkerkop, kon hy sweer die reuk van rose hang in sy kamer.
Hy los onderlangs ’n vloekwoord. Hierdie vroumens moet klaarkry en loop, sy’s nét moeilikheid. En hy moet regtig volgende naweek bietjie wegkom, tussen ander mense kom, soos Philip hom gereeld aanmoedig.
Cilla en Bravo kom by die stalle uitgestap, die perd hondmak. Bravo draai sy kop ewe vermakerig in Reynecke se rigting. Imke kom ook buitentoe en sluit haar by die twee mans aan.
“Kan jy glo? Vir my wil hy nie naby hom toelaat nie, maar sy kan hom soos ’n lammetjie uitlei. Ek sal nie verbaas wees as hy vir ons tong uitsteek nie,” kla Koen.
Nes die vorige dag stap Cilla met Bravo tot in die middel van die ring en staan ’n lang ruk net so stil langs hom. Dan vryf sy teen sy gesig en stap met hom terug stalle toe.
Ná ’n paar minute kom sy daar uit.
“En? Kan jy ons help?” vra Koen.
“Dit hang af. Sal julle doen wat ek sê?”
Koen kyk na Reynecke.
Reynecke knik stroef. “Laat ons hoor. Sal ons by die huis gaan praat?”
Cilla knik en hulle stap terug, verby die skuur, al langs die paadjie. Sy kyk om haar rond en kan nou die uitsig geniet wat Imke so beïndruk het. Die see lê blou waar twee bergreekse oopmaak. Haar oë dwaal nader aan die opstal. Skuins anderkant die huis, langs die bedding waar die werker gister bolle geplant het, is ’n land wat braak lê. Sy beduie soontoe.
“Wat gaan julle daar saai?”
“Canola. Dit blom in die winter. Ek weet nie of julle hierdie wêreld ken nie, maar julle kan gerus dan hierlangs ry. Dis prentjiemooi,” sê Philip.
“Ons is al twee Overbergse girls, ons weet hoe mooi dit is,” lag Imke. “Cilla se ouers boer net buite Caledon en my pa is by die bierbrouery op die dorp. Ná ons die wêreld verken het, het ons al twee besluit daar’s nie ’n mooier plek op aarde as hier nie. Julle weet seker ons hou al twee skool op Caledon.”
Hulle kom by die opstal aan en word deur heerlike kosgeure begroet.
Imke snuif dit behaaglik in. “Watter een is die kok?” swymel sy. “Ek trou dadelik met hom!”
“Wel,” glimlag Philip en vat Imke se hand gretig, “dis ek! Kom saam kombuis toe, dan praat ons rustig oor jou aanbod.”
Cilla kyk die twee verbaas agterna. Imke is gewoonlik baie katvoet vir mans, maar sy het blykbaar geen probleem met dié een nie.
Reynecke stap in die gang af en beduie na die lang eetkamertafel in die eerste kamer. “Kom, ons sit sommer by die tafel. Wat sou jy sê is die probleem?”
Dis vir Cilla duidelik dat hy haar nog glad nie vertrou nie. Hy probeer nie eens die skeptiese toon in sy stem verbloem nie.
Cilla kyk na haar hande. Sy weet eintlik wat sy reaksie gaan wees nog voordat sy iets sê. Sy haal diep asem en kyk op, vas in sy oë.
“Daar is twee dinge. Eerstens, hoe het hy hier gekom?”
“Wat bedoel jy?” vra Reynecke bars.
“Van waar het hy gekom? Met watter pad het julle gery?” Reynecke staar haar aan asof sy van lotjie getik is. Maar dan kyk hy na Koen.
“Bredasdorp?”
Koen knik. “Ja, ek het hom gaan haal. Ons het deur Caledon gery.”
Cilla glimlag. “Oukei, dit maak sin. Bravo het iewers, heel waarskynlik op pad hiernatoe, ’n spesifieke merrie geruik en hy wil … hy wil haar dek.” Cilla voel hoe haar gesig warm word en praat vinnig verder. “Ek is nie seker nie, ek kan dalk verkeerd wees, maar ek dink ek weet presies watter merrie dit moet wees. Die ander ding is dat –”
Reynecke vloek en spring op. Voordat hy iets kan sê, gaan Cilla beslis voort met haar sin: “… Bravo verveeld is.”
Reynecke vou sy vingers van agter om die rugleuning van sy stoel en Cilla sien sy kneukels word wit. Sy het goed geweet hy sal nie wil hoor Bravo se probleem is so eenvoudig nie.
“Hy wil ’n merrie dek? Daar is ’n stal vol merries, waar kom jy aan dié twak?” bulder hy. “En verveeld? Wat wil hy nogal doen? Gaan fliek?”
Koen hou sy hand in die lug op. “Kan jy verduidelik hoekom jy so sê, juffrou?”
Reynecke tel sy stoel half op en laat dit terugval. Dan stap hy vervaard ’n ent weg van die tafel af.
Cilla lig net een wenkbrou en kyk na Koen.
“Wat die merrie betref, ek glo hy het haar geruik op pad hiernatoe.” Sy haal diep asem en kyk vlugtig op na Reynecke. Hy staan ’n entjie weg met sy rug na haar, en dis duidelik dat hy dink sy praat die grootste klomp onsin.
“My ouers se plaas is langs die N2, julle moes so om gery het op pad hiernatoe van Bredasdorp af. Ons het ’n merrie, Maggie, wat presies lyk soos wat Bravo …”
Reynecke vloek, draai om en sit sy hande op sy heupe. “O, so dís wat jy doen. Jy soek ’n afsetgebied vir jou eie perde, hierdie slenters van jou moet mense uitvang?”
Cilla staan so vinnig op dat haar stoel agteroor val. Sy byt eers op haar tande en probeer kalmeer. Sy het nog nooit aan haarself gedink as die bakleierige soort nie, maar die man maak haar so kwaad, sy kan slange vang!
“Soos ek gesê het, dit is dalk glad nie ons Maggie nie. Buitendien is sy nie te koop nie, beslis nie aan jou nie.” Haar asem jaag en sy en gluur Reynecke aan. “Om Bravo se onthalwe sal ek haar hierheen bring. Tydelik.”
Sy tel die stoel op, gaan sit weer en sit haar hande voor haar op die tafel. Sy wag totdat hulle ophou bewe. Dan kyk sy liewer na Koen.
“Wat julle ook moet onthou, is dat elke perd ’n unieke persoonlikheid het. Nes mense. Ons is nie almal dieselfde nie en reageer nie dieselfde op goed nie. Ek sal meer tyd saam met Bravo moet deurbring om regtig te weet, maar ek dink hy is ’n regterbrein-ekstrovert. Hy’s impulsief, kan nie stilstaan nie, senuweeagtig, skrik maklik. Hy’s energiek en atleties, met uithouvermoë, en hy neem dinge om hom waar. Dis belangrik om te weet presies wat sy persoonlikheid is, dit help mens om te weet hoe om hom te hanteer. Reg te hanteer.”
Reynecke kom vinnig nader gestap en vou sy arms voor sy bors. “En nou wil jy seker vir my ook ontleed?”
Cilla wring haar hande styf inmekaar, maar kyk hom koel aan. “Nee, dis nie deel van my werk nie. Maar as jy ’n perd was, het ek gesê jy is ’n linkerbrein-introvert. Jy hou van argumenteer, jy’s steeks en koppig en jy reageer nie op wat ander vir jou sê nie.”
Hy trek sy oë op skrefies en sy sien hoe hy hard op sy tande byt. Voordat hy enigiets kan sê, draai sy weer na Koen. “Laat weet my maar as ek vir Maggie kan bring. Dis nou as jy hierdie man kan oortuig dat ek nie ’n verskuilde agenda het nie.”
Reynecke blaf ’n sarkastiese lag. Cilla ignoreer hom.
“Bravo is verveeld ook, julle hanteer hom te sag. Hy wil sy bene gebruik, hy’t veel meer aktiwiteit nodig. Laat hom los rondhardloop. Hy is gefrustreerd en benoud. Want nog iets, iemand gebruik ’n sweep naby hom.” Haar oë blits vlugtig. “Moenie dit toelaat nie, dis heeltemal onnodig. Geweld is nie die antwoord nie.”
“Het jy enige idee hoe belaglik jy klink?” vra Reynecke afgemete. Hy staan weer met sy hande op sy heupe, sy kake opmekaar geklem.
Cilla draai net haar kop in sy rigting en praat verder sonder om haar aan sy onderbreking te steur. “Onthou, in die natuur is ’n perd die prooi. Daarom is hy van nature bang en skrikkerig. Hy is ook ’n kuddedier en hy soek leiding. Gee hom liefde en respek en jy sal nie probleme hê nie. Ek sou ook voorstel dat julle iemand kry wat akupunktuur doen. Die aura aan sy linkerkant lyk wit, die chi-energie vloei nie goed nie. Dit kan op bloedarmoede dui, maar ek’s nie seker nie.”
Reynecke gooi sy arms in die lug en los ’n string vloekwoorde wat sy nog nooit in daardie presiese volgorde gehoor het nie.
Cilla staan op. “Wel, dis my raad, maak daarmee wat jy wil. Jy glo my nie, jy vertrou my nie – soek dan ’n ander oplossing. Onder die omstandighede dink ek nie dis ’n goeie idee dat ons vir ete …”
Imke kom ingewarrel. “Cilla, die man kook soos ’n engel! Jy moet kom proe. Hy is besig met –”
“Ek dink ons moet liewers gaan, dis –”
“Jy’s laf, man, as jy eers gesien het …” Dan bly sy stil en kyk stip na Cilla. “Hy wil nie glo wat jy sê nie?”
Cilla knik en vat Imke aan die arm. “Dis beter dat ons gaan.”
Moet hy nou huil of lag? wonder Reynecke terwyl hy die twee vroumense aangluur. Sê vir hom sy perd is verveeld en alleen, wil haar merrie hiernatoe bring, praat van auras en energieë! Die vrou is met die maan gepla, van haar sinne beroof, heel waarskynlik al twee.
Philip kom ingestap van die kombuis af, ’n vadoek oor sy skouer. “Wat gaan hier aan? Baie negatiewe vibes, sjoe,” glimlag hy.
Reynecke gluur hom aan. “Moet jy nie ook nog begin nie. Verskoon my.” Hy draai vinnig om en stap vasberade voordeur toe.
Vars, skoon lug is wat hy nou nodig het. Sy praat sulke onsin. Waar de hel kom sy aan haar idees? Sy is skoon verwyder van die realiteit.
Maar bliksem, sy’s mooi. Toe sy hom so koeltjies aankyk en hom vertel hy is ’n linker- of regter-wat ook al, wou hy net om die tafel stap, haar opraap en …
En kan sy haar vir hom vererg! Onder daardie oënskynlike koel oppervlak kook en borrel die passie van ’n volbloed vrou. Behoort baie interessant te wees om haar te sien wanneer sy vergeet om so beheersd op te tree. Sy bloed raak warm by die blote gedagte. Hy stap vinniger. Die laaste ding waaraan hy nou moet dink, is die vroumens.
Hy kom tot stilstand voor die stalle. Hy moet sorg dat hy so ver as moontlik van daardie girl af wegbly. Sy dop hom om en uit met een kyk. Hy bal sy vuiste.
Hy het lankal vas besluit hy gaan nie dieselfde pad as sy pa loop nie. Hy het eerstehandse kennis van wat ’n obsessie met ’n vrou aan ’n man kan doen. Hy moes as kind elke dag daarmee saamleef.
“Wat het jy vir hom gesê?” vra Philip vir Cilla, ’n glimlag steeds om sy mondhoeke.
“Ek het gesê Bravo is verveeld, dat hy ’n spesifieke merrie in gedagte het wat hy wil dek en dat sy aura dui op moontlike bloedarmoede.”
Philip begin lag.
“En sy’t vir hom gesê hy wat Reynecke is, is ’n linkerbrein … wat nou weer?” voeg Koen by, en die twee mans lag heerlik.
Teen dié tyd het Cilla heeltemal genoeg gehad van mans, en veral van die klompie wat sy vanoggend ervaar het. Sy trek aan Imke se arm. “Kom, ons moet ry.”
Philip gryp elkeen van hulle aan ’n hand. “Ekskuus. Cilla, as jy my broer ken soos ek hom ken, sal jy verstaan hoekom hy so reageer en hoekom ons so lekker lag. Asseblief, bly? Ons het lanklaas twee sulke stunning meisies hier gehad.”
Koen piets hom op die skouer. “Gmf, julle het nog nóóit meisies hier gehad nie, wat nog te sê sulke mooi vroumense. Ek gaan bietjie stalle toe en dan gaan ek my vrou se kos geniet. Dankie, juffrou Naudé …”
“Sê asseblief Cilla,” glimlag sy.
“Nou goed, dankie, Cilla. Ek dink nie ek verstaan alles wat jy sê nie, maar ek sal kyk wat ek kan doen. En ek sal seker maak niemand kom weer naby Bravo met ’n sweep nie. Ek hoop jy sal weer vir ons kom kuier. As jy met perde kan doen wat jy met skoolkinders doen, glo ek alles wat jy sê. Daai klong van ons lees dan al glad boeke! Nie gedink ek sal ooit die dag sien nie.”
Hy stap voordeur toe en waai oor sy skouer. “Nou ja, ek hoop ons sien jou gou weer.”
Philip trek haar en Imke aan die hand. “Ek hét nou kos gemaak, julle gaan nêrens heen nie. Kom, ons eet sommer in die kombuis, ek het daar gedek.” Hy trek hulle agter hom aan tot in die kombuis. “Sit julle solank, ek maak vir ons wyn oop. Reynecke …” Hy skud sy kop en gooi sy hande in die lug.
“Hy was nog baie klein toe ons ma dood is. Sy is van ’n perd se rug afgegooi. My pa het dadelik van al die perde ontslae geraak. Dit was ’n dubbele slag vir Reynecke. Hy was baie na aan ons ma en hy’t haar liefde vir perde gedeel. Skielik was sy nie daar nie, die perde ook nie. En ons pa …” Hy haal sy skouers op. “Pa was net nooit weer dieselfde nie. Reynecke was as kind baie lief vir teken en verf, nes my ma. Pa het onmiddellik al haar skilderye van die mure afgehaal. Reynecke se kunsklasse is gekanselleer.”
Hy glimlag wrang. “Die ontwikkeling van sy regterbrein is seker net daar kortgeknip. Jy’s heeltemal reg met hoe jy hom opgesom het. Hy is nou een vir logiese denke, argumentasies … konkrete dinge wat hy met sy verstand kan verstaan. Wat jy doen, is heeltemal buite sy raamwerk. Maar kom sit, vergeet eers van my broer, hy sal wel iewers kom eet.”
Cilla loer-loer na dié groot man wat ewe tuis lyk in die kombuis. “Is jy ook by die boerdery betrokke?” vra sy.
Philip haal ’n bottel wyn uit die yskas. “Nee. Ek is lief vir die plaas, maar ek is nie ’n boer nie. Ek is ’n sjef. Ek was altyd in die kombuis by my ma terwyl sy kos maak, en Reynecke buite by die perde. My pa het gedink ek sal mettertyd verander, maar selfs hy het ingesien dat Reynecke eerder die boer is. Ek het my eie restaurant op Hermanus, julle moet een naweek kom eet.”
Hy skink vir elkeen ’n glas witwyn en gaan sit op ’n stoel langs Imke. Hy lig sy glas in Cilla se rigting. “Op die girl wat my kleinboet binne twee dae so deurmekaar het dat hy nie weet of hy kom of gaan nie.”
Cilla se glas haak vas halfpad na haar lippe. “Waarvan praat jy? Hy dink ek is van lotjie getik, hy’s verskriklik vies vir die vreemde vrou wat hier op sy plaas aankom en sy perd wil toor.”
Philip glimlag net en drink sy wyn. “Jy verstaan mense nie so goed soos jy diere verstaan nie, nè?”
Cilla wil haar nog vererg, toe verander hy vinnig die onderwerp.
“Ek is baie geïnteresseerd in wat jy met diere doen. Hoe word mens ’n dierekommunikeerder?”
Cilla sit terug op haar stoel en probeer ontspan. “Dis eintlik so eenvoudig, so deel van enige mens om diere te kan verstaan. Ons kan dit eintlik almal doen. As kinders weet ons intuïtief hoe. Ongelukkig leer die meeste mense dit af soos hulle ouer word. Ons lewe mos maar volgens vooropgestelde idees en allerlei projeksies. Ek het op ’n plaas grootgeword en ek het net altyd geweet wat die diere om my voel en ervaar. Dit was nie vir my ouers snaaks as ek daaroor praat nie.”
“Sy was nog altyd intuïtief, sy’t nog altyd geweet as ek hartseer is, al is ek nie naby haar nie,” voeg Imke by en glimlag. “Sy het selfs ’n denkbeeldige maat gehad, tot … Sy kyk vraend na Cilla. “Hoe oud was ons? Ek dink tog ons was al in die hoërskool, dan het sy nog soms vir die lug langs haar geglimlag.”
Cilla lag verleë. “Sy naam was Roux. Ons het heerlik gespeel op die plaas.” Sy frons effens. “Ek kan nie onthou wanneer hy weg is nie. Op ’n dag het ek net geweet hy is nie meer daar nie.”
Sy kyk op en sien ’n vreemde uitdrukking op Philip se gesig. Sy glimlag. “Ai, Imke, nou gaan Philip ook dink ek is vreemd. Kyk hoe lyk hy.”
Imke kyk na hom en vat paaiend aan sy skouer. “Mens raak gewoond aan haar. En jy kan gerus maar jou broer oortuig om na haar te luister. As sy gesê het die perd soek ’n spesifieke merrie en is verveeld, kan jy maar weet dis die waarheid. Ek het soveel kere gesien hoe sy diere en hulle mense help, ek kan nie nié in haar glo nie.”
Daar is ’n geluid by die kombuisdeur en toe Cilla opkyk, staan Reynecke daar, sy oë op haar gesig. Hy lyk rustiger as vroeër, die frons tussen sy oë is weg. Sy ontspan, baie effens.
Philip sien hom ook raak en staan op. “Mooi, jy’s hier, ons wou net begin eet. Wyn?”
Reynecke knik en gaan sit op die stoel langs Cilla. Hy skuif hom reg en toe hy gemaklik terugsit, is sy bobeen styf teenaan hare. Haar bloedtemperatuur skiet binne sekondes op van louwarm na kokend. Daar is ’n gedruis in haar ore en sy probeer haar stoel subtiel anderkant toe skuif. Die tafelpoot is egter in haar pad en sy kan nie hond haaraf maak nie. Sy probeer so ongesiens as moontlik om haar lyf effens weg van Reynecke se stoel te skuif en sy kruis haar bene. Haar been is ten minste nie nou meer so styf teenaan syne nie, maar die hitte wat sy hele lyf hier reg langs haar uitstraal, dreig in elk geval om haar te oorweldig.
Cilla voel ’n skop onder die tafel. Imke hel haar kop effens oor in Philip se rigting. Hy het seker iets gevra.
“Skies, my kop is op ’n ander plek. Jy’t gevra?”
“Ek wou weet hoe presies jy met diere kommunikeer. Praat jy met hulle? Praat hulle met jou? Dit het nie vir my gelyk asof Bravo se mond beweeg nie,” terg Philip.
Cilla glimlag. “Nee, hulle praat nie, nie soos ons praat verstaan nie, maar mens kry beelde wat verduidelik wat hulle wil sê. Soos ek gesê het, enigeen kan met diere kommunikeer. Verskillende mense gebruik verskillende metodes. Wat belangrik is, is die verhouding wat jy met die dier opbou. Sommige mense sien prentjies, ander het iets soos ’n dialoog. Energie vloei deur alle vorme van lewe. Mens moet jou net ’n slag oopmaak daarvoor.”
“Maar hóé werk dit?” Philip gaan haar nie laat los nie.
Cilla loer vinnig na Reynecke. Sy oë is op sy bord, maar sy kan sy ongemak duidelik aanvoel en sy weet hy sal verkies om oor iets anders te praat. Sy kyk egter na Philip en probeer Reynecke ignoreer.
“Wel, ontspan, hou jou asemhaling rustig, dan is jy meer ontvanklik om dinge op ’n ander manier te sien en te ervaar. Jy laat gaan al jou rigiede idees van hoe die werklikheid veronderstel is om te wees, en jy raak meer intuïtief en in staat tot telepatie. Telepatie kom van die Griekse woorde ‘tele’, afstand, en ‘pathe’, wat iets soos gevoel of persepsie beteken. Jy kry oor ’n afstand ’n gevoel, ’n persepsie.”
Langs haar maak Reynecke keel skoon en begin: “Ek is jammer, maar as wetenskaplike is die hele idee vir my … dis net belaglik! Dit is vir my bitter moeilik om te aanvaar dat Bravo aan jou kon kommunikeer dat hy ’n spesifieke merrie wil dek, een wat hy iewers langs die pad sou geruik het.”
Cilla draai na Reynecke. Hy sit so naby dat sy sy pupille helder kan sien. As sy haar hand uitsteek, sou sy haar vingers deur sy hare kon …
“ … hoe verduidelik jy dit?”
Cilla besef sy het al weer nie geluister na alles wat hy sê nie en sy probeer konsentreer. Haar been raak weer aan syne en sy probeer wegbeweeg.
“Ek dink ons het almal ’n idee in ons kop van hoe ons droomman of droomvrou moet lyk. Het jy nie ook so ’n prentjie nie?”
Hy kyk haar ’n oomblik aan en knik dan stadig sy kop.
“Wel, wat ek van Bravo gekry het, was so ’n prentjie.”
“Kan jy sien watter prentjie in my kop is?” terg Philip aan die oorkant van die tafel.
Cilla skud haar kop. “Ek kan dit met mense na aan my doen, mense wat nie maskers dra nie, soos Imke. Dikwels is daar soveel lae tussen wie die persoon werklik is en wie hy aan die buitewêreld wys. Dan raak dit moeilik.”
Reynecke lig sy glas op en tuur daarin. “Kyk, ek gaan nie maak of ek verstaan waarvan jy praat nie. Ek verstaan dinge wat ek kan sien, swart op wit. Hierdie kommunikasie waarvan jy praat, is vir my ’n grys area, dit laat my baie ongemaklik voel.” Hy kyk op na haar, sy oë onleesbaar. “Ek sal dink daaroor.”
“Dis vordering,” fluister Philip kamma in haar rigting. “Hy gaan sowaar dink oor wat jy gesê het. Ek kan maar net vir jou sê – dit wil gedoen wees. As hierdie een eers sy mind oor iets opgemaak het, dan is dit dit. Ek sal nou nie my asem ophou as ek jy is nie, maar ten minste gaan hy daaroor dink.”
“Jy is natuurlik die goedigheid self, nè, broer?” Reynecke glimlag stroef. “Ons pa was baie hardekop. Ons het dit albei seker maar van hom geërf.”
“Wel, solank mens jou eie beperkinge ken, is daar hoop vir jou,” spot Imke. “Wanneer is julle pa oorlede?”
Cilla voel hoe word Reynecke langs haar stil. Hy skuif rond op sy stoel en sy been raak weer aan hare, maar dié keer bly sit sy doodstil.
“So bietjie meer as twee jaar gelede,” antwoord Philip. “Dis toe dat Reynecke weer perde kon aankoop. Terwyl Pa nog geleef het … hy wou niks hoor nie.”
Cilla loer vinnig na Reynecke. Sy wonder of hy weer begin skilder het.
“My ma is dood toe sy van ’n perd afgegooi is,” sê hy onverwags. “Sy was my pa se hele lewe, hy kon nooit haar dood verwerk nie. Ons, die perde, die plaas, sy vriende … hy het almal en alles verkwalik vir haar dood. Niemand anders het vir hom saak gemaak nie.” Reynecke vat ’n sluk wyn.
Philip slaan liggies op die tafel en spring op. “Nee, nou is ons darem baie morbied. Wat van nagereg? Ek het vir ons so ’n dekadente sjokoladenommertjie gemaak.”
Imke sug. “Ai, sjokolade? Jy kan ons altyd omkoop met sjokolade, ek en Cilla is albei verslaaf daaraan.”
Cilla probeer hard deelneem aan die grappies om die tafel, maar sy sukkel om Reynecke se stroefheid en die warmte van sy been teen hare te ignoreer. Toe Philip koffie wil maak, staan sy vinnig op en vang Imke se oog.
“Ons moet ry. Ek het nog nasienwerk vir môre. Baie dankie vir die ete, Philip, ons sal jou restaurant beslis kom soek wanneer ons weer op Hermanus is.”
“Ons gaan juis …” begin Imke gretig.
“Het jy jou handsak in die sitkamer gelos?” val Cilla haar vinnig in die rede.
“Nee man, hier’s dit,” sê Imke, en hou haar sak in die lug. “Wat ek wou sê, is dat –”
“Kom, Imke, ons moet regtig ry.” Cilla gryp haar aan die arm, sleep haar voordeur se kant toe en ignoreer die vraende kyke wat sy van haar vriendin kry.
Reynecke hoef nie te weet waar sy volgende naweek gaan wees nie. Sy weet nie hoekom sy so voel nie, maar sy weet dat sy so ver as moontlik van die man moet wegbly.
Reynecke skop die emmer wat in die staldeur staan en hoor die perde binne onrustig beweeg. Hy vloek onderlangs, vies vir homself. Sal hy nou die perde verder ontstel? Hy is nie vir hulle kwaad nie, hy is sommer die hel in vir die hele situasie. Dalk moet hy net ontslae raak van die spul perde. Sy pa het waarskynlik die regte idee gehad. Is al die gesukkel die moeite en tyd werd?
Dan onthou hy weer die glimlag op sy ma se gesig wanneer sy op ’n perd se rug was, en hy weet hy sal dit nooit kan doen nie. Hierdie perde is vir haar, om hom te herinner dat daar ’n tyd lank vreugde en laggende mense op die plaas was. Hy het nog altyd gehoop dat die opstal eendag weer vol lag en vrolikheid sal wees.
Hy stap tot by Bravo se stal. Die perd staan so ver terug as wat hy maar kan in die klein ruimte. Reynecke leun moedeloos op die staldeur en bekyk die pikswart hings.
En skielik is sy weer in sy gedagtes. Die langbeen meisiekind met die kort, wippende pikswart hare en groen oë. Haar been teen syne aan tafel. Hy wou haar nader trek en toevou in sy arms, proe aan haar sagte, sexy mond …
En terwyl Reynecke so staan, kom druk Bravo sy kop teen sy hande. Hy kyk blitsig op. Die hings staan nou doodstil en hou hom dop. Wat het gebeur? Hoekom sou die perd skielik nader kom? Hy het tog niks snaaks gedoen nie, hy het net aan Cilla staan en dink … Hy gee ’n tree terug. Kan dit … sou dit sy gedagtes oor Cilla wees wat die perd nader aan hom laat beweeg het?
Hy staan doodstil en kyk na die perd. Die Sondagmiddagrustigheid hang oor die plaas; buite kwetter voëls, sonbesies raas. Die ander perde blaas en trippel rond. Maar dis asof alle ander geluide rondom hom geleidelik minder word en minder word, totdat hy niks anders hoor of sien nie, dis net hy en Bravo.
En dan sien hy dit. ’n Prentjie van die rooibruin merrie met die swart maanhare, die perd waarvan Cilla gepraat het.
Reynecke snak na asem, draai om en stap baie vinnig by die stalle uit, draf eintlik.
Hy loop Koen amper onderstebo.
“Whoa!” keer Koen, sy hande in die lug voor hom. “Wat het hy nou weer gedoen?”
“Hy …” Reynecke beduie vervaard oor sy skouer. “Hy kom nader as ek … as ek … en ek sien … en ek kon sien …”
“Ja? As jy wat? Wat sien jy?” vra Koen oorbluf.
“As ek …” Reynecke skud sy kop. “Ek is nou ook besig om mal te raak. Vandat daai vroumens hier was …” mompel hy, draai om en stap vinnig huis toe.
Hy het koue rillings al langs sy ruggraat af. Hy weet glad nie wat pas gebeur het nie. Hy en diere het mekaar nog altyd goed verstaan, maar wat nou net by die stalle gebeur het, is … is … en dit met Bravo!
“En nou, broer? As jy so op en af stap voor die huis?” hoor hy Philip se vrolike stem van die stoep af. Reynecke stap op met die trappe.
“Is daar nog koffie?” vra hy en stap kombuis toe. Hy hoor Philip agter hom aankom. Hy het nou wragtag ’n kafeïen-skop nodig.
Die koffie in die perkoleerder is op. Reynecke sit die ketel aan, haal twee bekers uit, kry die melk uit die yskas. Elke beweging is stadig, doelgerig. Hy weet wat hy doen, hy sien die ketel, hy sien die koffie, die bekers, die melk. Hierdie goeters verstaan hy.
Philip staan in die deur, arms gevou, ’n glimlag op sy gesig.
“Wat?” vra Reynecke vies.
“Ek weet nie. Ék moet vir jóú vra: Wat?”
Reynecke oorweeg dit een sekonde lank om sy broer te vertel, maar bedink hom oombliklik. Hy sal nooit die einde daarvan hoor nie.
“Ek dink ek sal volgende naweek bietjie Hermanus toe kom.”
“Uiteindelik. Jy was heel somer nog net die een keer daar.”
“Wel, die graanoes, jy weet, dis maar moeilik om sommer net weg te loop,” sê Reynecke droog.
“Die oes was af lank voor Kersfees. Jy moet af en toe wegkom van die plaas. Jy sit hier vasgekluister. Dis nie gesond nie. Daar is juis nou ’n oulike kelnerinnetjie aan wie ek jou wil voorstel, sy swot nog, maar sy werk naweke …”
“Speel jy maar pop. Ek stel nie belang nie.”
Philip lag. “Kom kyk self, dan praat ons weer. Ek gaan nou ry, nie koffie vir my nie, dankie. Is jy oukei?”
“Ja, ouboet, ek’s fine. Ons moet net hierdie week vir Bravo probeer uitsorteer, dan kan ek weer al my aandag aan die boerdery gee.”
“Gaan jy doen wat sy gesê het?” vra Philip.
Reynecke vou sy arms stroef. “Ek en Koen het al gepraat dat ons die perde wil laat vry rondhardloop. Noudat die heining rondom die onderste stuk veld klaar is, kan ons dit doen. Wat die merrie betref … Ek sal met … Cilla se pa gaan praat oor die rooibruin merrie met die swart maanhare. Ek glo nie vir een oomblik dis al wat Bravo so beneuk maak nie, maar om vir Koen te plesier, sal ek tog maar doen wat sy sê. Net om te bewys sy praat twak.”
“Jy onthou darem goed. Ek het al vergeet hoe die merrie lyk.”