Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 4 - Elza Rademeyer - Страница 4

1

Оглавление

Die dawerende slag van die slaghuisdeur laat Jessica gesteurd opkyk van agter die lessenaar, maar toe tant Mart verby haar stoom toonbank toe, haal sy haar skouers op. Moeilikheid vir oom Josie, dink sy so in haar enigheid. En dit is ook so.

“Joos Landman, dis die laaste keer wat ek my deur jou laat verneuk. Van môre af laat kom ek al my vleis van die Paarl af. Jy kan maar my rekening sluit!”

Oom Josie sug hardop toe hy met die slagtersmes in sy hand oor die toonbank leun. “Wat is dit tog nou weer, ou Mart?”

“Jy vra nog! Wat dink jy moet ek met daardie twee pikswart beespote maak wat jy gister saam met Tom gestuur het? My loseerders is gewoond aan ordentlike kos, Joos Landman. Hulle eet nie swart sult nie!”

“As jy daardie vinger van jou weer hier in my oog wil steek, kap ek hom morsaf met hierdie mes. Tom! Watse pote het jy gister losieshuis toe gevat? Wittes of swartes?” roep oom Josie sommer so in een asem na iewers daar agter.

“Altemit kon dit die swartes gewees het. Ek kan nie nou meer onthou nie,” bereik Tom se antwoord hul ore.

“Natuurlik was dit swartes. En as jy dit nie nou omruil vir wittes nie, sien hierdie slaghuis my nooit weer nie.”

“Jou vinger mik al weer hier na my oog! Nou waar’s die pote? Het jy dit saamgebring?”

“Saamgebring?” hyg tant Mart verontwaardig. “Jy verwag tog nie ek moet met die pot stomende vleis hier in die straat af loop nie?”

Oom Josie sug, en Jessica trek vinnig ’n sedige gesig toe tant Mart na haar kant toe loer.

“Het jy die swart pote dan al in die pot, Mart?” vra oom Josie.

“Dis nie ek wat dit in die pot gesit het nie. Dis Siena. Hoe moes sy nou weet?”

“Nou verwag jy van my om jou twee wit pote in ruil vir die twee swartes wat jy klaar gaargemaak het, te gee?” vra oom Josie ongelowig.

“Halfgaar. Dis nog nie …”

Die skril gelui van die telefoon onderbreek Jessica se belangstelling in die twisspel tussen oom Josie en tant Mart en sy antwoord werktuiglik: “Biesiesdal se slaghuis, goeiemôre!”

Dis ’n gilletjie van haar wat oom Josie en tant Mart skoon laat vergeet van hul rusie. Hulle kyk verstom na haar. Hoekom rek haar oë al groter en groter? Toe sy die gehoorstuk terugplaas en na hulle staar, is dit kompleet asof sy dwarsdeur hulle kyk sonder om hulle raak te sien. Dis oom Josie wat eerste in beweging kom toe hulle sien hoe sy begin wieg op haar stoel, en hy vang haar dan ook net betyds.

“Bel die dokter, Mart! Sy moes slegte tyding ontvang het.”

Tant Mart gryp haar hart vas. Van skone skok wil haar bene nie roer nie. Haar oorlede Sarel se dood was nét so skielik! Hy’t ook die oggend gehoor sy tweelingbroer is oorlede, en daardie selfde aand toe loop staan sy hart ook.

“Mart! Bel nou in hemelsnaam die dokter!” ruk oom Josie se paniekerige bevel haar uiteindelik uit haar beswyming, maar terwyl sy nog sukkel om die telefoniste van die handsentrale in die hande te kry, gaan Jessica se oë oop en sy begin stamelend praat.

“Ek kan dit nie glo nie! Is dit waar, oom Josie? Is dit regtig waar? O, hoe wonderlik!”

Vir ’n vlugtige oomblik wonder oom Josie: Sou Jessica nie dalk voor die hemelpoorte te staan gekom het nie? Maar haar oë is dan nog so helder?

En toe die telefoniste antwoord gee, skreeu tant Mart ongeduldig in haar oor: “Wag net so ’n rukkie. Dit lyk my die kind is besig om by te kom.”

“Wat is verkeerd, my kind?” vra oom Josie bekommerd.

“Verkeerd? Niks is verkeerd nie. O, dis fantasties!” en Jessica beur orent. “Ek het gewen! Oom Josie, ek het ’n motor gewen!”

Oom Josie het nie die vaagste benul waarvan sy praat nie. Hy wonder of sy nie dalk yl nie, maar tant Mart hoor ook Jessica se woorde, en sy jubel sommer haar blydskap oor die telefoon uit. “Wonderlik, my kind. Dink net hoe gaan ons toer!” Toe onthou sy dat sy nog met die gehoorstuk in die hand staan en plak dit kaplaks! in die telefoniste se nuuskierige ore neer.

“Tant Mart, ek het sowaar daardie motor gewen!” juig Jessica haar blydskap uit toe dié by hulle aansluit.

“Nou kan ek en jy gaan toer. Ek het geweet jy sou die een of ander tyd ’n groot prys losslaan. Jy neem mos al vir jare deel aan daardie woordbou-kompetisie.” Tant Mart is tog te ingenome.

So stadigaan begin daar vir oom Josie ’n lig opgaan, en hy is die eerste om haar geluk te wens.

“Haai, ja, baie geluk, my ou dogtertjie,” val dit tant Mart ook by en Jessica kry ’n moederlike drukkie. “Dink net hoe lekker kan ek en jy nou gaan vakansie hou. Ou Joos sit mos vasgespyker hier in sy slaghuis.”

“Het Jessica jou straks al genooi?” vererg oom Josie hom. “Jy gaan dan seker die motor bestuur, want sover ek weet, het Jessica nog nie ’n rybewys nie.”

Dis ’n teer puntjie wat oom Josie nou aanraak, want tant Mart ken nie eens elke dag die voor- en agterkant van ’n motor uit mekaar nie. Laat staan nog om een te bestuur!

“Jy’s nou net weer jaloers, ou Joos. Dis oor jy weet jy kan nie saamgaan nie. Gelukkig weet ek ek kan my losieshuis net so in Sofie se hande los wanneer ek na ’n kant toe wil gaan. Iets wat jy nie kan doen nie, want jy kan ou Koos Stoepsitter nie vir ’n dag alleen in die slaghuis vertrou nie. En niks verhoed my en Jessica om vir ons ’n chauffeur aan te stel nie.”

“Wag nou maar eers, tante,” plaas Jessica self ’n demper op tant Mart se opgewondenheid. “Ek het nog nie eens die motor nie. Ek moet dit Saterdag in die Kaap in ontvangs gaan neem. Hoe gaan ons die motor hier kry, oom Josie?”

“Maklik,” sê oom Josie met ’n ondeunde vonkeling in sy oë. “Ons neem ou Mart saam om jou motor terug te bestuur van die Kaap af. Maar ek sal jou aanraai om liefs saam met my terug te ry. Ou Mart kan jou straks verongeluk.”

Tant Mart snork verontwaardig, maar dan rek haar oë. “Goeiste, ek het skoon vergeet van die groente op die stoof. Dis sweerlik houtskool verbrand!”

Oom Josie stuur vinnig vir Tom agterna met die wit beespote. “Loop gee die goed tog daar af, Tom. Eerdat sy weer ’n lawaai hier kom loop opskop. En jy skryf die pote op in haar boek, Jessica. Sy sal maar net moet betaal!”

Dinge het net weer teruggekeer tot normaliteit in die slaghuis toe die deur weer oopgaan, en amper snak Jessica hardop na haar asem. Daar kom nie elke dag ’n vreemdeling op Biesiesdal nie. En daar was beslis in haar leeftyd nog nie so ’n aantreklike vreemdeling soos hierdie een nie!

Hy knik sy kop in ’n groet toe hy by haar verbyloop toonbank toe, en sy knik half verdwaas terug. Bloos eensklaps vuurrooi toe hy oor sy skouer terugloer na haar.

Oom Josie vryf sy hande genoegsaam toe hy die man in oënskou neem. Hy hou van wat hy sien. Hy hoop nie dis net weer ’n reisiger nie. Dalk ’n nuwe onderwyser? ’n Aantreklike man met wakker oë en ’n oop gesig. Die soort man wat hy graag sou wou hê Jessica eendag mee moet trou.

“Ek wil graag so twee braaitjoppies en ’n stukkie wors vir twee persone hê. Miskien moet u dit maar liefs vier tjoppies maak.”

“As julle twee mense gaan wees wat gaan eet, gaan vier tjops ook nog te min wees, ou vriend,” sê oom Josie vriendelik. “Daar’s nêrens in die wêreld nog sulke lekker skaap soos hier in Biesiesdal se distrik nie.”

Jessica verwonder haar dat oom Josie so openlik kan staan en jok sonder om te blik of te bloos. Net gister het hy nog vir háár vertel Biesiesdal se skaapvleis kan nooit naby regte Karoo-skaap kom nie!

“En waar is nefie nou eintlik?”

Jessica laat sak haar kop. Daar gaan oom Josie al weer! Hy los g’n vreemdeling uit voordat hy alles van hom af weet nie. Tog hou sy haar ore ook maar gespits.

“Ek is aan die koop hier, oom. Meneer Nel se plaas. Dalk ken u hom?”

“O, ou Nel Volstruisnek? Gaan jy Geluk koop?”

“Dis die plan, ja, oom.”

“Nie ’n sleg plaas nie. Net bitterlik verwaarloos. Ou Volstruisnek was nooit ’n wafferse boer nie, en vandat sy oorlede Hessie haar kop neergelê het, het daar niks meer op die plaas aangegaan nie. Sy was die een wat hom darem nog soggens uit die kooi uit gedwing het. En van wanneer af meen jy dan nou om jou hier te vestig?”

“So spoedig moontlik, oom. My plan is om Maandag terug te gaan Knysna toe. Dit behoort my nie langer as drie weke te vat om my dinge daar agtermekaar te kry nie, en soos oom gesê het, die plaas hier is maar erg verwaarloos, dus jeuk my hande om hier te begin om dinge reg te vat.”

“Het jy op Knysna ook ’n plaas?”

“Nee, my ouers boer daar in die distrik. Ek het vir ’n tyd lank saam met my pa geboer, maar nou het my jonger broer sy studies voltooi en sodra hy volgende maand sy diensplig voltooi, gaan hy daar voort met die boerdery. Ek wou maar altyd nog na ’n wingerdplaas toe. Dis hoekom ek nou Geluk kom koop het.”

“En hoe voer neef die naam?” wil oom Josie skaamteloos weet.

“Bennie de Lange, oom.”

“Nou maar bly te kenne, neef. Ek is Josie Landman, en daardie mooi nôi agter die lessenaar is Jessica Pretorius. Ongetroud,” verduidelik hy tot Jessica se verleentheid. En toe Bennie de Lange haar nogal ’n handdruk kom gee, bloos sy weer eens vuurrooi. Veral oor hy sy blik so openlik bewonderend oor haar laat gly.

“En waar bly jy nou intussen, Bennie? Op Geluk, of hier op die dorp?” begin oom Josie weer eens met sy uitvraery.

“Net hier skuins oor die straat, oom. Ek is tydelik daar in ’n vriend se woonstel. Danie Schoeman s’n.”

“Ja, natuurlik. Danie is mos met verlof nou, nè?”

“Dis reg, oom. Hy kom Dinsdag terug, maar dan is ek seker al weg Knysna toe. Dis te sê as ek plek gaan kry op ’n bus, want ek gaan my motor nou sommer hier los, dan kom ek met my vragmotor terug.”

Jessica kom agter dat sy sukkel om te konsentreer op die rekeninge voor haar na Bennie de Lange se vertrek, maar sy is nie al een wie se gedagtes by Bennie de Lange is nie. Oom Josie se brein werk oortyd. As die De Lange-outjie hom hier kom vestig en daar kan nou iets gebeur tussen hom en Jessica … So ongemerk loer hy na Jessica se kant toe. Die kind sukkel hoeka so om ’n man te kry. Nie dat sy nodig het om te sukkel nie, maar wie is nou hier op Biesiesdal na wie ’n mens twee keer wil kyk? Dis almal net ’n klomp fossiele soos hy en ou Mart. En die paar jong manne hier op die dorp is nie iets om oor huis toe te skryf nie. Jessica stel ook nie in een van hulle belang nie. Met haar fyn postuurtjie, mooi gesiggie en groot, groen oë kan sy kies en keur onder die mans – rooi hare en vinnige humeurtjie ten spyt. Maar nog nie een van die jong manne hier kon haar laat bloos soos sy vir hierdie De Lange-outjie gebloos het nie. En dink net, Geluk lê sommer net hier anderkant om die draai. As sy met die baas van Geluk kan trou, beteken dit mos sy sal straks nooit weggaan van hom en Mart af nie. Sy impulsiewe geaardheid laat hom dan ook dadelik oorgaan tot aksie.

“Jessica, ek is nou weer terug. Sê die mense moet net ’n rukkie wag as hulle vleis wil hê.” Hy glip sonder meer by die deur uit.

Jessica kyk sy koddige figuurtjie agterna toe hy oor die stofstraat draf, maar haar gedagtes is nie by hom nie. Dis by die aantreklike, sonbruin man met sy lenige figuur en potblou oë. Sou die man met sy mooi blink, swart hare getroud wees? Bennie de Lange het niks gepraat van ’n vrou nie. Sy bloos weer eens toe sy agterkom waarmee haar gedagtes besig is. Wie sê hy is nie verloof nie? Hy lyk nie meer so bloedjonk nie. Tag, kyk hoe lyk haar lessenaar van die werk wat nog gedoen moet word! En sy sit jou waarlik en droom oor ’n wildvreemde man. Saterdag begin haar verlof, en kyk net al die rekeninge wat nog moet uit!

Oom Josie klop hard aan Danie Schoeman se woonsteldeur, en toe Bennie die deur oopmaak, val hy dadelik met die deur in die huis.

“Ou seun, ek het gewonder of jy nie kan help nie. Wat doen jy Saterdag? Nee, maar as jy dan nie vas is nie, het ek gewonder of jy nie Saterdag saam met ons Kaapstad toe kan ry nie.”

Toe verduidelik hy breedvoerig van die prys wat Jessica gewen het en dat hulle nou iemand soek om haar motor daarvandaan na Biesiesdal te bring.

“Ek het nie Saterdag dinge aan die gang nie en dit sal vir my ’n plesier wees,” stem Bennie in, en oom Josie raak nog meer voortvarend.

“Jessica se verlof begin mos Saterdag. En jy weet, sy wil tog so graag die Tuinroete tot by Knysna rond gaan besigtig. Jy’t mos gesê jy ry ook Maandag Knysna toe. Jy kan mos dan sommer saam met haar ry. Dan het jy ’n geleentheid, en sy’t iemand wat haar motor kan bestuur.”

“Hoe gaan haar motor dan weer terug kom tot hier? Ek is mos van plan om met my vragmotor terug te kom.”

Daaraan het oom Josie nou nooit gedink nie, maar ’n boer maak ’n plan. “Ek en ou Mart sal haar gaan haal wanneer sy uitgekuier is. Sy en ou Mart ry dan in haar motor terug en ek in myne.” Hy sal maar later ’n plan bedink, dink hy so in sy enigheid. Bennie moet net nie in die tussentyd uitvind Mart weet niks van ’n motor se stuurwiel af nie.

“Ons sal maar sien, oom.”

Die musiek op die agtergrond breek plotseling af. “Tee en koekies is gereed, skattie!” Toe begin die musiek weer, en oom Josie, gedagtig daaraan dat Bennie dalk net so verknog is aan die radiostories soos Mart, groet dan ook dadelik, met die belofte dat hy en Jessica hom Saterdagoggend by die woonstel sal kom oplaai.

“Bennie gaan saam Saterdagoggend om jou motor terug te bring,” verras hy Jessica toe hy terugkom in die slaghuis. “Ons het so ’n bietjie gesels oor jou verlof en dinge ook. So oor als. En weet jy, toe die mannetjie nou hoor hoe graag jy nog altyd Tuinroete toe wou gaan, toe bied hy sommer aan om jou motor tot op Knysna te bestuur. Eintlik bewys jy hom dan ’n groot guns, jy weet, nè? So werk dit mos maar. As die een hand die ander was, kom albei geholpe.”

Daar wil ’n opgewondenheid in Jessica posvat, maar sy maan haarself tot nugterheid. “Ek ry nie saam met getroude mans nie, oom Josie.”

“Getroud! Wie is dan nou ’n getroude man? Tog nie Bennie nie! En, my kind, oom Josie wil nou nie vir jou preek nie, maar dit is darem nou hoog tyd dat jy begin dink aan trou. Jy moet weet, jy was darem al laas jaar mondig. As jy jou oë weer uitvee, sit jy bo-op die rak.”

Oom Josie is reg, dink sy toe sy die middag in die losieshuis aansit vir ete. Al haar vriendinne is al getroud. Baie van hulle het al meer as een kind. En wat het sy? Nog nie eens ’n vaste kêrel nie. Al wat sy het, wat baie van hulle nie het nie, is ’n stewige erfporsie wat haar ouers aan haar nagelaat het. Tog beteken dit ook nie veel nie, want sy kan nie eens ’n motor bestuur nie. Dus weet sy maar bitter min van die wêreld anderkant Biesiesdal. Vandat sy maar kan onthou, was tant Mart se losieshuis haar tuiste, en nadat sy in die Paarl vir onderwyseres gaan leer het, het sy teruggekom Biesiesdal toe. Te bang om alleen die vreemde wêreld daar buite te gaan aandurf, het sy maar liefs in oom Josie se slaghuis kom werk. So is sy darem by die mense wat sy liefhet. By tant Mart wat haar aangeneem het soos ’n eie dogter en by oom Josie wat op sy beurt weer glo sy is eintlik sý dogter. Twee liewe, goeie mense, al is die een net soos die ander. Twee regte ou korrelkoppe en alewig aan die baklei.

“Hoekom eet jy so sleg?” wil tant Mart weet toe sy die eetkamer binnekom en Jessica se bord bekyk. “Smaak die kos altemits sleg?”

“Daar’s nie fout met die kos nie, tant Mart. Ek is net nie honger nie. Oom Josie het toe iemand gekry wat Saterdag sal saamry Kaap toe om my motor terug te bring.”

“En wie is dit? Tog nie ou dowe Klaas van – ”

“Nee, tant Mart,” onderbreek Jessica haar sin. “Dis ’n nuwe intrekker. Tante sal hom nie ken nie. Hy’t Geluk gekoop en kom nou hier boer. Sy naam is Bennie de Lange.”

“Ek sien. En hoe lyk die man? Is hy al getroud, of is hy straks ’n wewenaar?”

Jessica sien dadelik deur tant Mart se nuuskierigheid en die duiwel kom sit op haar skouer. Sy gooi haar arms in die lug en los ’n regte wolwefluit. “Die mees fantastiese man wat ek nog ooit op twee bene sien loop het! Hy is eenvoudig wonderlik! Om die waarheid te sê, ek is smoorverlief.”

“Moenie vir jou staan en laf hou nie, kind. ’n Mens raak nie so gou verlief nie. Nie sommer met die eerste oogopslag nie.”

“Wil tante wed?”

Tant Mart vryf haar brilglase skoon en loer dan agterdogtig na Jessica se blosende wange. Daar steek waaragtig waarheid in die kind se woorde, dink sy ’n bietjie beangs. Vanwaar anders die blinkheid in haar oë?

“Jessica, is jy ernstig?”

“Natuurlik is ek ernstig.”

“Maar jy ken mos nog nie die man behoorlik nie?”

“Ag, ek weet al alles wat ek behoort te weet.”

“Soos wat?”

“Wel, dat sy vrou al drie maande lank dood is. Dat hy dus ’n wewenaar is, en dat hy skatryk is. Dus sal hy my nie probeer inloop met my erfporsie nie.”

“Hoe oud is hy?”

“Nie meer ’n kind nie, maar ook nie te oud nie. Ek het hom nou nog nie gevra hoe oud hy is nie, maar sy oudste kind is glo tien jaar. Die ander vier is nog klein. Dis nog net die oudste wat in die skool is.”

Tant Mart se oë dop hemelwaarts. So iets moes sy te wagte gewees het. Dié dat Jessica nooit sinnigheid in die jong mans van Biesiesdal kon kry nie. Sy soek toe al die tyd ’n soort vaderfiguur vir ’n man. Seker oor sy nooit self haar pa geken het nie. Arme kind!

Op ’n ingewing besluit Jessica ook om nie vir tant Mart reg te help nie. Die ou grappie kan tog nie skade doen nie.

Oom Josie steun haar ook nog in die besluit toe sy later die middag in die slaghuis vir hom daarvan vertel.

“Nee, maar dis reg. Laat ou Mart ook vir ’n slag naels kou. Maar, Jessica, Bennie de Lange lyk nie sleg nie, nè? Ek moet sê, ek het dadelik van hom gehou. Hoe bloos jy dan nou so, kind?”

“Onsin,” probeer sy die waarheid verbloem. Ons moet tant Mart net reghelp voor Saterdag, dink sy in haar enigheid. Tant Mart is kapabel en loop praat voor Bennie van sy oorlede vrou en span kinders! Dan skaam sy haar so sweerlik morsdood.

Dis dan ook nie lank nie, of die sifdeur klap weer oorverdowend in oom Josie en Jessica se ore.

“Joos, wat is dit dié van ’n man wat Jessica se motor sal bestuur uit die Kaap uit?”

Oom Josie leun dadelik oor die toonbank en laat sak sy stemtoon. “Ou Mart, jy moet die man sien! Uit een stuk, seg ek vir jou. En as ek reg opgelet het, was dit liefde met die eerste oogopslag tussen hom en ons ou doggie.”

“Maar sy sê dan vir my sy vrou is nou die dag eers begrawe! Hoe kan jy sulke dinge loop staan en goedpraat? Wat weet my ou dogtertjie van kinders grootmaak en als?”

“Moenie jou daaroor bekommer nie. Hý sal haar leer. En weet jy wat? Hy’t net sulke rooi hare soos Jessica. Dink net, hulle kinders gaan almal sulke rooikoppies wees.”

“Behoede my! Die man het dan al vyf! Wil jy hê my kind moet haar doodwerk aan kinders grootmaak?”

“Jessica is nie jou kind nie, ou Mart. Sy is net so goed my kind ook as wat sy joue is. Wie’t haar na jou toe gebring die dag na haar ouers verongeluk het? En wie het deur al die jare haar losiesgeld betaal? Ek wat Joos is! Moet nou nie foeter om in my kind se pad na geluk te wil loop staan nie.”

“O, Joos Landman, nou word ek skielik nie meer gereken nie, nè? Wie dink jy het in die nagte vir haar opgestaan, by haar bed gewaak toe sy haar kindersiektes gekry het, saam met haar skool toe gestap toe sy nog so klein was, en wie voed haar nou nog elke dag? Maar noudat sy verlief is, nou word ek van die katel afgestamp. Maar dis maar reg so. Ek is gewoond daaraan om altyd die minste te wees. Al wat ek jou sê, is dit: As Jessica seerkry deur hierdie vreemde skepsel wat jy besig is om aan haar op te veil, sal jy bars. Jy wat Joos Landman is!”

“Ag, ou Mart, dit sal nie help om smartvraat te speel nie. Jessica was al mondig en sy …”

Oom Josie se sin bly in die lug hang, en Jessica wens die aarde wil oopgaan en haar insluk. Heelhuids! Want die persoon wat so pas die slaghuis binnegekom het, is niemand anders as Bennie de Lange nie, en tant Mart se oë is klaar opsommend op die mannetjie gerig. Dog, die oomblik toe oom Josie en Jessica albei die ergste vrees, draai tant Mart om en verlaat die slaghuis met ’n kopknik in die vreemdeling se rigting.

Jessica kan nie ’n sug van verligting onderdruk nie, en Bennie glimlag skielik breed in haar rigting. ’n Glimlag wat haar hartklop tot ’n gevaarlike tempo laat versnel.

“Sug jy oor jy moeg is?” vra hy geïnteresseerd, en gee haar so ’n warm glimlag dat haar kop dreig om te duisel.

“Nee, agge, ja,” stamel sy verbouereerd, en verwens die blos wat sy so van haar keel af voel opstoot.

“Ek het net kom hoor wat ek Saterdag moet aantrek. Is dit ’n formele besigheid, die oorhandiging van jou motor?”

“Gits, ek weet nie. Ek het nooit daaraan gedink om te vra nie. Maar ek gaan nie optof vir die besigheid nie.”

“Dink jy ek kan maar met ’n langbroek en sportbaadjie gaan?”

“Natuurlik!” Sy byt vinnig haar onderlip vas. Amper het sy nou vir hom gesê hy sal in ’n meelsak ook goed lyk.

Hy gesels nog eers vir ’n rukkie met oom Josie voordat hy loop, en Jessica betrag hom onderlangs met sterre in haar oë. Hy is beslis alles wat ’n meisie in ’n man kan begeer!

Oom Josie kyk laggend na Jessica toe Bennie weg is. “Moenie vir jou verbeel hy’t gekom om oor kleredrag te gesels nie, hoor. Hy wou kom seker maak of sy droomnooi werklik so mooi is as wat sy vanoggend vir hom gelyk het.”

“Ag, oom Josie,” protesteer sy skaam en laat sak sommer haar kop om kamtig aan te gaan met haar werk.

Tant Mart steek by haar tuinhekkie vas. Daar is onrus in haar hart oor Jessica en die rooikop-wewenaar met sy klomp kinders. Vier wat nog nie eens in die skool is nie! Dit beteken mos dis omtrent elke jaar ’n kleintjie. Gaan hy Jessica ook so oorlaai met kleingoed? Seker maar. ’n Mens kry mos mans wat geen einde ken nie. Haar arme kind! Nee, sy wat Mart is, sal ’n plan moet maak. Hierdie kamstige verliefdheid van Jessica is sommer onsin. Sy sal vir Jessica ’n ander man moet soek. Iemand wat haar voete skoon onder haar gaan uitslaan. Wat haar sal laat afsien van die wewenaar met sy horde kinders.

En toe dink sy aan die oulike man wat sy daar in die slaghuis gesien het.

Bennie steek verbaas vas toe ’n mollige tantetjie hom aan die mou beetkry op die sypaadjie.

“Ekskuus tog, meneer, dat ek jou voorkeer, maar jy lyk so bekend. Is jy nie van Schalk van Deventer se seuns nie?”

“Nee, mevrou, ek ken nie ’n Schalk van Deventer nie.”

Tant Mart kry dit nogal goed reg om afgehaal te lyk. “Nee, maar dan is ek nou jammer, meneer. Waar woon u? Ek het u mos nog nie voorheen hier op die dorp gesien nie?”

“Ek is nuut hier. Ek gaan daar in Dasahof, nommer vyf, tuis. Danie Schoeman – ”

“O, en ek is tannie Mart. Ek het die losieshuis hier. Sê vir my, werk u Saterdae?”

“Nee,” sê Bennie huiwerig.

“Mooi. Sê vir my, kan meneer ’n motor bestuur?” en toe hy sy kop knik, stoomroller sy dadelik voort. “Meneer sien, ek soek iemand wat Saterdag saam met my dogter Kaap toe kan ry. Sy’t mos ’n motor gewen in ’n kompetisie, maar nou het sy nog nie ’n liksens om self te ry nie. Die ouman hier van die slaghuis neem haar, maar nou moet ons iemand kry wat haar motor hierheen kan bring. Meneer sien nie dalk kans nie? Ek sal u betaal.”

“U probleem is opgelos, mevrou. Ek doen dit met graagte, en het klaar – ”

“Ag, dankie tog,” val sy hom weer eens in die rede. “Dis baie gaaf van u. Waar kan ons u kom oplaai?”

“By die woonstel. Ons het gereël dat – ”

“Nou maar gaaf,” val tant Mart nogeens weg voordat hy sy sin kan voltooi, doodseker dat dit haar pampoen se aanbrandsel is wat sy al tot hier in die straat ruik! “Ons sal nie later as so agtuur daar by u woonstel opdaag om u te kom oplaai nie.” En voordat Bennie ’n verdere woord kan uiter, skarrel sy van hom af weg – baie in haar skik. Hy loop maar met ’n skouerophaling verder.

Toe Jessica die aand van die slaghuis af kom, word sy op die stoep ingewag deur tant Mart. “Ek het goeie nuus vir jou, my kind. Hier was vandag die oulikste mannetjie by my, en hy’t aangebied om Saterdag saam te ry Kaap toe en jou motor terug te bring.”

“Maar ons het mos iemand,” sê Jessica fronsend. “Bennie de Lange gaan mos saam.”

“Vergeet dit, my kind. Ek het vandag alles uitgevind omtrent Bennie de Lange. Hy’t sy vrou om elke hoek en draai verkul. En hy’t nog by ’n hele klomp ander vrouens ook kinders. Ek sal nie toelaat dat jy saam met so ’n sleg ding ry nie,” jok tant Mart ’n hond uit ’n bos uit. “En jy moet net die Danie Schoeman sien!”

“Danie Schoeman? Danie, hier van Dasahof?” vra Jessica verward.

En dis wat tant Mart ook heeltemal deurmekaar maak, want sy ken ook mos vir Danie Schoeman. “Dis nie dieselfde Danie Schoeman wat ons ken nie,” sê sy onseker.

“Hoe lyk hierdie ander Danie Schoeman, tant Mart?”

Tant Mart se onsekerheid verdwyn soos mis voor die son. Jessica stel belang. En as sy net eers belangstel, is dit genoeg. “Jy het hom gesien. Dis daardie oulike man wat daar by die slaghuis ingekom het net toe ek geloop het. Ek het hom nie daar so goed bekyk nie, maar hy het die mooiste paar blou oë! Dink jy nie ook hy is ’n aantreklike man nie?”

“Was hy hier by die losieshuis?”

“Nie eintlik nie. Hy’t hier verbygeloop en toe raak ons sommer maar aan die gesels. Heeltemal toevallig, jy weet.”

“En hy sê toe vir tante hy’s Danie Schoeman?”

“Ag, kind, ek is ook nou nie meer so seker nie. Gaan hy nie dalk in Danie Schoeman se woonstel tuis dat ek hom net verkeerd verstaan het nie? Die pampoen het gestaan en aanbrand op die stoof, toe kon ek nou nie eintlik lank met hom staan en gesels nie.”

“Ek sien,” sê Jessica met haar tong in die kies. Sy kan raai wat gebeur het. Bennie het haar natuurlik gesê hy is in Danie se woonstel, en toe neem tant Mart sommer aan dis sy naam. Sy wil mos vreemde mense uit die straat uit aankeer.

“Nee, maar dis reg, tant Mart. Sal hy dan saamgaan Kaap toe?”

“Ja, julle moet maar môreoggend daar by Danie se woonstel gaan vra. As hy nie daar is nie, sal die mense julle kan sê in watter woonstel hy is. Ek verbeel my nou al hy’t gesê hy is in nommer vyf. Maar dan ís dit mos in Danie se woonstel. Ag, toe maar, julle sal wel môreoggend uitvind wat sy naam is.”

Vrydagaand, toe tant Mart begin praat van saamry Kaap toe, dink oom Josie ’n ander plan uit. Hy en Jessica het mos besluit om Mart nog ’n ruk in die duister te hou oor die man wat dan nou kwansuis getroud sou wees.

“Weet jy, Mart, ek het nou weer gedink jy gaan darem ’n partytjie reël vir môreaand. Dis mos nie elke dag wat ons dogter ’n motor wen nie!”

Tant Mart is dadelik inskiklik. “Maar ek nooi nie daardie wewenaar met sy klomp kinders nie, gehoor!”

“Nee,” sê oom Josie dadelik. “Jy nooi hom nie. Nooi liewer hierdie mannetjie wat môre saam met ons Kaap toe ry. Ek sal hom sommer vra. Ek dan hou ons die partytjie as ’n verrassing vir Jessica.”

Saterdagoggend vind Jessica tot haar verbasing uit tant Mart gaan nie saam Kaap toe nie. Tant Mart bied ’n klinkklare verskoning aan.

“Ag, kind, ek had mos skoon vergeet dat dominee se vrou my gaan kom sien oor die terte vir die basaar.”

Die rooi sportmotortjie van oudsenator Mouton stop gelyktydig met oom Josie se motor voor die woonstelblok waar hy en Jessica vir Bennie moet kry, en toe Julia Mouton oor die straat stap, hyg oom Josie kliphard na sy asem.

“Wat vir ’n ding gaan nou hier oor die straat, Jessica?”

“Dis nie ’n ding nie, oom Josie. Dis oudsenator Mouton se dogter.”

“Van wanneer af is sy dan nou so ’n spektakel?”

“Sy trek maar so snaaks aan. Dis vandat sy van Johannesburg af teruggekom het.”

“En die snaakse hoed op haar kop?”

“Sy’t nie ’n hoed op nie. Dis haar hare wat so gekleur is.”

Oom Josie skud sy kop en hulle staar haar agterna toe sy die voorportaal binnegaan. Dit lyk amper asof sy teen iemand bots en haar hande om sy nek gooi om haar val te stuit, maar toe verdwyn die twee figure met die trappe op, buite sig.

Toe Bennie ’n rukkie later opdaag, val dit oom Josie skielik by dat sy rug nie so lekker is nie en dat Bennie maar liefs Kaapstad toe moet bestuur. Tot Jessica se verleentheid bloos sy weer bloedrooi toe Bennie se blik goedkeurend oor haar gly terwyl hy agter die wiel langs haar inskuif.

Op pad betrap sy heel dikwels sy blik op haar.

Met hulle aankoms in Kaapstad, deel oom Josie hulle mee dat hy dadelik wil terugkeer na Biesiesdal.

Vir Jessica word dit ’n onvergeetlike dag. Tydens die plegtigheid waar haar motor se sleutels aan haar oorhandig word, voel dit kompleet asof sy in ’n droomwêreld leef. Sy bly deurentyd bewus van Bennie se gerusstellende nabyheid. Van sy galante optrede teenoor haar, en van sy mooi blou oë wat telkens warm in hare rus en haar aan die bloos hou. Toe sy op ’n keer struikel, glip sy arm om haar middel. Hy vat dit ook nie weer dadelik weg nie, en sy verwonder haar oor die aangename prikkelings wat sy aanraking deur haar lyf stuur. Wat is aan die gang met haar? Geen ander man se aanraking het haar nog so geraak en ontsenu nie. Sou dít wees wat liefde aan ’n mens doen? Dan is dit heerlik om verlief te wees!

Op pad terug met die nuwe motor, verwonder sy haar aan die gemak waarmee hy deur die verkeer vleg. En hy gesels so lekker. Veral oor die plaas wat hy besig is om te koop.

Terug by die losieshuis word daar egter ’n demper op haar geluk geplaas. Die partytjie is regtig ’n verrassing, maar toe kom oom Josie vorendag met die nuus dat Bennie nie daar kan wees nie. Hy het ongelukkig reeds ’n ander afspraak vir die aand. Jessica se lus vir die partytjie is sommer eensklaps weg. Dis vir haar ’n straf om opgewonde te lyk met al die gelukwensings wat sy van die gaste ontvang, en net so ’n straf om met die ander jong mans te dans.

En toe, uit die bloute, verskyn Bennie tog in die deur. Jessica trek onwillekeurig haar asem in toe sy sien hoe sy blik soekend oor die gaste gly totdat dit hare vind en hy vir hom ’n pad oopbeur na haar toe.

Hy vra haar nie vir die dans nie, strek net woordeloos sy arm uit na haar toe, en dit voel vir haar asof sy gaan wegsmelt van die geluk toe hulle by die ander pare inval.

Gaandeweg kom sy egter agter dat hy nie op die musiek konsentreer nie, en sy loer tersluiks na sy gesig. Wat sy sien, laat haar liggies frons. Iewers is ’n fout, besef sy. Bennie is anders as wat hy vanoggend was. Hy lyk bekommerd, en hy bly nie in pas nie.

Elza Rademeyer Omnibus 4

Подняться наверх