Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 4 - Elza Rademeyer - Страница 6

3

Оглавление

“Het julle vir ons slaapplek?” vra oom Josie.

Die ontvangsdame onderdruk ’n gaap. “Ja, meneer. Vul net vir my die register in, asseblief.”

“Joos, my bril lê nou in die motor. Skryf jy,” sê tant Mart.

Die ontvangsdame neem die register toe oom Josie klaar is, en praat terselfdertyd na agter. “James, neem hulle tasse kamer toe, asseblief.”

Toe hulle reeds met die trap op verdwyn het, kom die ontvangsdame agter dat die register nie volledig ingevul is nie. “Ag, foei tog, ek sal ook nog so oud raak,” praat sy hardop met haarself en verander die “meneer” na “meneer en mevrou Landman”. Dubbelkamer. Toe tel sy haar breiwerk op en gaan sit gemaklik agteroor.

“Hier is u kamer,” sê James en talm ’n rukkie. Toe dit nie vir hom lyk asof hy ’n fooitjie gaan ontvang nie, stoot hy die kamerdeur oop en loop onmiddellik nadat hy die tasse by die deur ingeskuif het.

“Dis ’n groot kamer,” sê tant Mart. “Kyk, daar is ’n deur. Jy moet seker daar ingaan, Joos.”

“Dis dan ’n badkamer,” sê oom Joos toe hy die deur oopmaak.

Tant Mart kom loer oor sy skouer en toe weer na die dubbelbed in die kamer. “Sou hulle straks reken ons moet op die één bed slaap, Joos?”

Oom Josie krap sy yl haartjies deurmekaar. “Dit lyk vir my so. Hulle het seker gedink ons is getroud! En nou, Mart?”

“Nee, hoe vra jy dan nou vir my!” Sy stap na die deur toe en loer uit in die gang. Verlate. “En nou, Joos?”

Oom Josie gaan sit tam op die bed. “Nou slaap ons op die een bed en klaar. Ek sukkel nie weer die trappe hier af ondertoe nie.”

Gelukkig is tant Mart se valstande nog in haar roksak, anders het dit sweerlik weer uit haar mond geval. “Jy bedoel, ons slaap albei op hierdie bed?”

“Ja, Mart. Tensy jy dalk in die bad wil slaap?”

“In die bad? Haai, Joos!”

“Martatjie, bloos jy tog nie, ou dier?”

“Ag, Josie, man.”

“Toe maar, ek sal jou niks maak nie, Mart. Ons is tog albei grootmense. Ons kan mos in die badkamer loop aantrek en uittrek.”

“Maar dit kan wees dat ek dalk snork, Joos.”

“Dit kan wees dat ek ook snork, Mart.”

“Dit sal my nie hinder as jy snork nie. My oorlede man het vreeslik gesnork.”

“Nou maar dan het ons mos nie ’n probleem nie. Wat het jy daar in die kosmandjie?”

“Ek weet self nie. Sofie het die mandjie gepak terwyl ek ingepak het. Hier is toebroodjies, hoender en ’n botteltjie … Haai, Joos, sy’t medisyne ook ingesit!” Tant Mart bring ’n botteltjie jenewer te voorskyn.

“Tag, aan ’n beter ding kon sy nie gedink het nie! Net wat ons nodig het om ons senuwees te kalmeer. Daar in die badkamer het ek glase gesien. Toe, ou Mart, gooi daar vir ons so ’n viervinger van daardie medisyne.”

Goeie medisyne, en goeie Sofie wat so aan alles gedink het, dink tant Mart later die aand toe sy skugter op die randjie van die dubbelbed gaan lê. Haar senuwees is nou so gekalmeer, dit voel of sy as ’t ware nog nooit senuwees gehad het nie. En toe oom Joos ’n paar minute later snorkend begin asemhaal, weet sy nie of sy spyt of bly is dat hy so gou slaap nie.

Haar toiletsakkie moes tussen Bennie se bagasie beland het, ontdek Jessica net voordat sy in die bed wil klim. Onversorg wil sy tog nie lyk wanneer Bennie hier by haar kom eet nie, dus trek sy gou weer vir haar ’n sweetpak aan alvorens sy na Bennie se chalet draf.

Daar is stemme binne, hoor sy voordat sy aanklop. ’n Vrou se stem. Het sy haar dan nou misgis met die chalets? Nee, tog nie. Dis Bennie se stem wat sy hoor!

“Ek kan nie met jou trou nie, Julia. Ek sien nie kans om met ’n vrou te trou wat ek nie liefhet nie.”

“Bennie, jy móét met my trou!”

Julia se stem, dring dit skokkend tot Jessica deur. Dis Julia wat hier binne by Bennie is! En toe Julia se woorde skril opklink en Jessica die betekenis daarvan snap, moet sy verbete veg teen die duiseligheid wat haar oorval.

“Jy is die enigste man wat vir my kind ’n vader kan wees, Bennie. Jy kan my nie los nie! Waarheen moet ek dan gaan?”

“Ek is bereid om jou geldelik te help …”

Hoe sy teruggekom het in haar kamer, weet Jessica nie. Sy sal seker ook nooit weet nie. Haar bewegings is soos dié van ’n outomaat toe sy stadig verklee en in die bad klim. Julia en Bennie. Bennie wat nie verantwoordelikheid vir sy kind wil aanvaar nie. Bennie wat so sjarmant en liefdevol teenoor haar optree. Dieselfde Bennie by wie Julia Saterdagoggend in die woonstel was. Dit was nie ’n toevallige botsing daar in die voorportaal van die woonstelgebou nie, dit was ’n omhelsing!

“Bennie, hoe kon jy!” wurg sy dit hardop uit. Hoe kan hy dit regkry om haar so teer en minsaam te behandel as hy weet ’n ander vrou dra sy kind onder haar hart? Is die wêreld se mans dan almal verrot? Kry ’n mens nie meer ’n ordentlike man nie? Of is dit omdat hy so verskriklik aantreklik is dat hy swak is? “Ag, Bennie,” sug sy dit weer hardop uit.

As sy net uiting kan gee aan haar gevoelens, dink sy later toe sy uit die bad klim en traag die sweetpak nader sleep om aan te trek. Maar sy kan nie huil nie. Hoe rou en seer dit ook al hier binne-in haar is! Sy mag nie huil nie. Nie voor hom nie. Nie nou nie, en nooit nie!

Dalk kom bely hy netnou sy misstap aan haar, vlam die hoop skielik in haar op. Sy sal hom vergewe, hom sê sy verstaan. Hulle kán tog gelukkig wees vorentoe. Sy sal hom help om te vergeet, self vir hom ’n kind gee. Hulle kan saam bou aan ’n toekoms. Sy’t ook geld, dink Jessica. Sy kan ook bydra tot onderhoud vir Julia. Bennie moet net self vir haar kom vertel, haar kom verseker hy kan nie met Julia trou nie omdat hy ontdek het dat hy haar, Jessica, liefhet. Hy sal! O, sy is seker hy sal.

Die minute tik langsaam verby, en toe daar skielik ’n klop aan haar deur is, probeer sy naarstiglik om normaal voor te kom.

“Hallo, meisiekind. Het jy dalk kos vir ’n honger outjie?” begroet hy haar oënskynlik opgewek toe sy die deur oopsluit.

Kos? O ja, die kos, flits dit deur haar gedagtes en sy forseer ’n glimlag. “Ek het nog niks reggemaak nie, weet jy. Hopeloos te lank in die bad gelê, maar die water was so lekker.” Sou hy gebad het? Dit lyk tog so, want sy hare is nat. Wat het van Julia geword? Is sy weg, of wag sy dalk dat hy moet terugkeer na sy chalet?

“Dis geen probleem nie. Ons is mos nie haastig om in die bed te kom nie, of hoe?”

“Nee. Nee, natuurlik nie.”

“Dit was ’n heerlike dag, nè, Jessica?”

“O ja, ’n heerlike dag,” beaam sy so opgewek moontlik en bid dat hy nie die bewing van haar vingers moet raaksien toe sy begin om die tafel te dek nie. Hoe kan hy so opgewek klink? Gaan hy nie vir haar vertel van Julia nie?

“Die volstruisryery was prettig. Ek was in ’n stadium bang jy gaan nie bo bly nie.”

“Ek hét amper afgeval.” Stop tog nou die onsinnige praatjies, Bennie. Vertel my van Julia, skryn dit in haar binneste.

“En is jy nie bang jy droom vannag van die krokodille nie?”

“Brr! Dis darem aaklige goed.”

“Die kleintjies is darem mooi.”

Klein babatjies is net so mooi, dreig dit om deur haar lippe te kom, maar sy bly dan tog maar stil. Sy gaan hom nie uitlok nie. Hy moet uit sy eie begin praat. Dog, hoe later dit word in die aand, hoe lekkerder kuier hy. Heeltemal ontspanne en vol gesels. Totdat haar oorspanne gemoed dit nie meer kan verduur nie.

Sy kan nie langer ’n front van vrolikheid voorhou nie, besef Jessica. Sy gaan nou enige oomblik in trane uitbars, want sy’t die vervlakste skobbejak wat so tuis daar op die bed lê, lief! Sy’t hom met haar hele hart lief!

“Verskoon my net gou ’n rukkie,” sê sy. “Ek het my verbeel ek het ’n bekende hier anderkant opgemerk. Ek sal nou weer terug wees!” Voordat Bennie heeltemal oor sy verbasing kan kom, klap die deur agter haar toe.

Sy hardloop. Soos ’n wilde dier gaan sy aan die hardloop, uit by die kamp se hek, aan en aan, totdat sy besef sy is alleen buite die dorp. Toe spring sy om en hardloop weer die kamp binne. Die trane is droog gewaai op haar wange. Op ’n bankie in die verste hoek van die kamp gaan sy sit en druk haar kop tussen haar knieë.

“Hallo, hallo,” klink dit skielik langs haar en sy skrik haar yskoud toe sy opkyk en die mansfiguur voor haar sien staan.

“Ek het gesien jy hardloop. Oefen jy vir ’n marathon?”

“Ja, ek oefen sommer,” jok sy seepglad toe sy die alkoholwalm van die man ruik. “Ek neem judo en karate ook.” Dalk skrik dit hom af, hoop sy.

“Oulik. Ek hou van ’n meisie wat haar man kan staan, weet jy. Hoe lyk dit, wil jy nie saam met my ’n drankie gaan drink in my chalet nie?”

“Nee, dankie. Ek moet nou gaan slaap. Goeienag, meneer.”

“Nie so haastig nie,” keer hy haar toe sy opstaan en druk haar terug op die bankie. “En noem my sommer Charlie. Wat is jou naam, poppie?”

“Jes … Jasmyn,” korrigeer Jessica haarself vinnig.

“Die naam van ’n blom vir ’n blom van ’n meisie. Gaan jy môre ook nog hier wees, blommetjie?”

Walging stoot in haar op. Die man praat nie net sleeptong van besopenheid nie; hy is nog voor op die wa ook. Hoe gouer sy padgee van die nare vent af, hoe beter! besluit sy en kom orent. Hierdie keer laat sy haar nie deur hom stuit toe hy weer wil keer dat sy opstaan nie, maar druk sy arm ferm weg.

“My man wag vir my. Gee asseblief pad voor my.” Maar hy versper nogtans haar weg met sy groot liggaam.

“So, jy en manlief het ’n rusie gehad, nè? Hoekom dwaal jy dan anders hier buite in die donker rond? Kom, Charlie gee vir jou goeie raad: Vergeet van manlief, en kom saam met my. Môreoggend het manlief skoon vergeet van jul rusie en intussen kan ek en jy ’n lekker tydjie saam deurbring. Toe, wat sê jy?”

Jessica loer benoud oor haar skouer, en in haar hart verwens sy Bennie de Lange tot bo-op die maan, want dis sý skuld dat sy nou in hierdie dilemma is. As sy net hierdie vent se gorilla-arms kan ontglip en hardloop so al wat sy kan, sal sy dalk die chalet kan haal. Met sy logge liggaam en boeppens sal hy haar waaragtig nie kan inhaal nie, maar dis asof hy haar gedagtes kan lees, want sy arm glip eensklaps om haar middel.

“Kom nou, blommetjie. Kom ons gaan maak ’n dop en vergeet van die wêreld.” Hy begin dan ook sommer om haar in die rigting van die chalets te du, maar toe sy terugrem, steek hy vas en kry haar in ’n stewige greep beet. “Tierkat, maar jy’s moeilik, maar so hou ek daarvan!” En toe dwing hy haar kop agteroor.

Bennie staar verbyster na die toneeltjie in die skaduwees van die bome. Teleurstelling sak soos ’n donker wolk oor hom toe. Dít het hy nie van Jessica verwag nie! Skielik verstaan hy waarom sy so sonder enige teenstribbeling was toe hy voorgestel het dat hulle hier op Oudtshoorn moet oornag. Sy’t al die tyd geweet haar minnaar is hier. Dit sal hom geensins verbaas as die vent ’n getroude man boonop is nie. Natuurlik! Haar wewenaar!

Hy gaan haar soen, flits dit deur Jessica se verstand. Hy gaan haar waaragtig soen, en sy is uitgelewer aan die bullebak, want uit hierdie kragtige paar arms gaan sy nooit loskom nie. Daar is net een uitweg. Sy maak haar mond wyd oop. Die oomblik toe sy mond aan haar lippe raak, sink haar tande diep in sy bolip weg.

Wat presies daarna gebeur het, weet sy nie mooi nie. Sy onthou daar was ’n plofgeluid – sy self is eenkant toe geslinger – en daar was nog ’n slag soos wanneer ’n groot persoon die aarde tref. En terwyl sy nog besig was om orent te steier uit haar onbenydenswaardige posisie, het ’n arm haar ru opgehelp.

“Gaan dadelik na jou kamer toe! Ek sal nou met jou kom afreken, laat ek net eers ontslae raak van hierdie skobbejak.”

Bennie! Jubel dit meteens deur haar. Dis Bennie wat haar kom red het! Impulsief tree sy vorentoe om hom om die hals te val, maar hy stamp haar as ’t ware opsy.

“Gee pad hier onder my oë uit! Bedrieglike verleidster!”

Sy bly verstom staan, maar toe hy uit die skaduwees van die bome tree en die straatlamp op sy onverbiddelike gesig skyn, dring die betekenis van sy woorde tot haar deur, en dis toe net daar wat haar rooihaar-temperament na vore kom.

“Wie dink jy is jy, Bennie de Lange? Wie gee jou die reg om mý ’n bedrieglike verleidster te noem? Ek sou jou aanraai om ’n self – ”

Haar mond word hardhandig toegedruk. “Kom, ons gaan kamer toe. Hierdie javel is so gekoring, hy sal nie eens môreoggend weet wat hom oorgekom het nie.”

Jessica skop viervoet vas toe hy haar wil wegbeur. “Sê nou hy’s dood?” wil sy vra, maar daar kom niks meer as ’n mompeling onder sy hand uit nie. En toe sy nog mik om verder te protesteer, word haar voete net doodeenvoudig van die grond af gelig. Hy sit haar ook nie weer neer voordat hy haar chalet se deur agter hulle gesluit het nie.

“Nou kan jy verduidelik, as jy enigsins ’n verduideliking het,” sê Bennie iesegrimmig toe hy die deur se sleutel in sy sak sit.

“Wat! Moet ék verduidelik? Aan jou is ék geen verduideliking verskuldig nie, Bennie de Lange. Jy’t oor mý doen en late geen sê nie!”

“Nie? As my toekomstige vrou sou ek weer reken ek het! Veral wat ’n geflerrie met getroude mans betref!”

“Hoe weet jy hy’s getroud?” Sy wil nog voorttier, maar haar woordeskat laat haar in die steek en sy stik buitendien in haar woorde.

“Getroud óf ongetroud, wat maak dit saak? Ek kan net vir jou sê hy’s die smerigste teertang wat ek in ’n lang tyd gesien het.”

En jou Julia? wil sy vra. Hoe lyk dié? Met haar bont gestreepte punk-styl en gilstemmetjie soos ’n skeermeslemmetjie? Maar sy byt haar woorde terug en keer haar rug op hom.

“Ek sal dit waardeer as jy loop. Ek wil gaan slaap.”

“Gaan slaap, of terugglip na jou minnaar toe?”

“Wat traak dit jou? Ek kan doen wat ek wil!”

“Dis wat jy dink, meisiekind. Op die oomblik is jy in my sorg, en terwyl jy in my sorg is, sal ek toesien dat jy jou gedra.”

“Luister, Bennie de Lange, ek was al lankal mondig. Ek het niemand se sorg nodig nie.”

“Werklik? Dit het ek nooit kon dink nie. ’n Meisie wat al mondig is en haar soos ’n kinderagtige twaalfjarige skoolmeisietjie gedra!”

Dit voel vir Jessica asof sy enige oomblik van frustrasie en woede kan ontplof, dus storm sy die badkamer binne, slaan die deur met ’n dawerende slag agter haar toe, en druk haar gloeiende wange teen die koue muur vas. “Ek haat jou!” sis sy deur haar tande. “Ek haat jou, Bennie de Lange, ek haat jou!”

Toe sy goed ’n uur later terugkeer na die voorste vertrek, is Bennie weg. Sonder dat sy bewus is van wat sy doen, verklee sy en klim dan in die bed om met wydstarende oë teen die dak vas te kyk. Wat ’n gemors! Hier sit sy, sonder vervoer, kilometers van Biesiesdal af, uitgelewer aan ’n … ’n tiran. ’n Man wat getroud behoort te wees. En Julia? Sou sy nou hier langsaan by hom wees? Natuurlik sal sy daar wees!

Om te dink Julia wil hom hê! Die vroumens moet van haar verstand af wees. O, maar sy kan hom maar kry! Sy kan hom enige tyd vat. Sy, Jessica Pretorius, is klaar met Bennie de Lange. Met al wat ’n mansmens is. As sy dan eendag moet trou, trou sy met ’n man soos Gys Swanepoel. Al is hy nie heeltemal so slim nie, en al spring sy botande telkens uit sy mond wanneer hy lag, is Gys die enigste man wat sy ken wat nie sy vrou of meisie sal verkul nie. Want Gys sal maar te bly wees as ’n meisie na hom wil kyk.

Wat sou van die vent daar buite geword het? Het Bennie hom nie dalk op sy slaap geslaan nie? Sê nou hy’s dood? Haar kwelling word dan ook ’n ernstige probleem. Wat gaan met haar gebeur as iemand môreoggend sy lyk daar buite kry? Sy sal mos hof toe moet gaan. En Bennie? Sal hulle hom aankla van moord? Dit behoort haar nie te pla as hy aangekla word van moord nie, dink sy by haarself, maar dis nogtans nie ’n aangename gedagte nie. Bennie agter die tralies van ’n koue dodesel!

Dis ook nie veel later nie, toe glip sy uit die bed. Miskien leef die vent nog so effentjies. Hy kan dalk net deurgehaal word as hy gou genoeg hulp kry.

Die deur is gesluit, stel sy vas. En Bennie de Lange het natuurlik die sleutel in sy sak gesteek! Wel, daar is darem nog die venster.

Jessica knip haar oë verbaas toe sy die venster oopstoot. Kan dit wees? Dit ís mos Bennie se motor wat hier reg voor haar chalet geparkeer staan. So na aan die muur dat sy bo-oor sy dak sal moet klim om by die venster uit te kom.

Haar voete is net albei bo-op die vensterbank, toe daar ineens iets in die motor roer, en in die straatlig lyk dit vir Jessica kompleet asof Bennie se oë gloei toe hy orent kom en na haar kyk.

Sy klim verslae terug. Hy het dit so beplan, besef sy. Hy’t natuurlik gedink sy sou wou teruggaan na haar minnaar, en toe maak hy seker dat sy nie hier kan uitkom nie. “Gemeen!” gee sy hardop uiting aan haar frustrasie. “Moenie dink ek sal ’n vinger verroer om jou van ’n galgdood te red as daardie Charlie hoesenaam vannag die emmer skop nie!”

Dis ’n verskriklike lang nag en eers toe die son al ’n rooi skynsel in die ooste maak, raak sy van skone uitputting aan die slaap. ’n Kortstondige slapie, want ’n gedawer aan haar deur maak haar wakker. Sy kyk verwilderd rond. Waar is sy? Hoekom lyk haar kamergordyne so anders? Toe die gedawer aan die deur weer begin, vlieg sy vervaard uit die bed uit en bly grootoog staan. Nou onthou sy!

Die deur gaan oop, en daar staan Bennie de Lange. Kant en klaar aangetrek, verfrissend aantreklik en manlik. Die woede wil weer dadelik in haar opvlam, maar dan onthou sy van haar kort nagjurkie en spring terug in die bed. “Wie gee jou die reg om my kamer in te kom?”

“As ek nie al amper ’n uur gelede wou ry nie, sou ek jou nie gesteur het nie, maar weet jy hoe laat is dit al?”

“Dit traak my nie. Jy kan maar ry, ek bly hier.”

“Dit sal die dag wees! Komaan, staan op en maak klaar.” Hy begin dan ook dadelik opruim aan die vorige aand se skottelgoed wat net so bly staan het. “Klim nou uit daardie bed uit. Ek gaan nie vir jou koffie maak nie.”

“Ek sal ook nie jou koffie drink nie. Hoe sal ek weet jy gooi nie gif daarin nie?”

Hy draai skielik om en staar haar opsommend aan. “Is jy regtig verlief op daardie vent agter wie jy so aanhardloop, Jessica?”

Sy wens sy het die moed gehad om hom te vra hoekom hy nie met Julia wil trou nie, maar sy byt op haar lip en staar hom stom aan.

“Al is hy nie getroud nie, is hy tog hopeloos te oud vir jou. Hoekom probeer jy nie liewer vergeet van hom nie?” Ek sal jou help om hom te vergeet.

“Leef hy nog? Wie sê sy lyk lê nie nog daar buite nie?”

“Onkruid vergaan nie. Ek is jammer, ek bedoel dit nie regtig nie. Kom ons vergeet van die episode, Jessica. Kom ons probeer weer om maats te wees soos gister en die dae voor dit.”

“Gmf! Vergeet dit. Ek dink dit sal beter wees as ons paadjies nou net hier skei. Jy kan maar ry. Ek sal oom Josie bel om my te kom haal.”

“Moenie maak dat ek my humeur verloor nie, meisiekind. Klim uit die bed en maak jou klaar, anders sal ek genoodsaak wees om jou te help.”

“Ek kan mos nie uitklim as jy hier staan nie!”

“Hoekom nie? Jy is mos nie skaam vir mans nie? Jy was dan laas nag bereid om vir daardie ander vent in jou nagklere te gaan kuier.”

“Bees!” Maar toe hy omdraai en doodluiters begin om die skottelgoed te was, gryp sy tog haar sweetpak van die stoel af en verklee sommer onder die komberse. Toe glip sy die badkamer binne en staar verstom na haar beeld in die spieël. Om te dink hy het haar só gesien! Bloedbelope oë en slierterige hare, maar toe haal sy haar skouers op. Wat maak dit saak? Sy wil tog nie vir hóm mooi lyk nie! Die veelwywer!

“Hier is jou toiletsakkie,” sê hy toe sy uit die badkamer kom. “Dit het per ongeluk in my chalet beland.”

“Dankie.” Sy maak egter geen aanstaltes om haar gesig te grimeer nie.

Dit ontgaan hom egter nie, en toe hy haar tasse klaar in die motor gesit het, neem hy op die bed plaas. “Sodra jy jou mooi gemaak en vir ons koffie gemaak het, kan ons ry.”

“Ek is mooi genoeg.”

“Nee, jy is nie. Ek wil hê jy moet ’n goeie indruk maak op jou aanstaande skoonouers.”

Ondanks haar ergernis bloos sy, en vererg haar daaroor ook nog. “Ek het nie aanstaande skoonouers nie.”

“Jy het. En hoe gouer jy dit aanvaar, hoe beter.”

“Hier’s jou koffie.”

“Dankie, dit gaan lekker wees. Kom sit, dan drink jy eers jou koffie ook.”

“Nee, dankie. Ek sal myne in die badkamer drink terwyl ek grimeer, as ek dan móét mooi lyk.” ’n Spektakel, dis wat ek van my gaan maak, besluit sy toe sy die badkamer se deur agter haar toemaak en haar toiletsakkie bydam.

Die konsternasie op Bennie se gesig is nogal iets om te aanskou, verlekker sy haar in haar binneste toe sy kamtig doodluiters te voorskyn kom en haar handsak optel. “Ek is gereed. Ons kan maar gaan.”

Hy sê nie ’n woord nie, kom net afgemete op haar afgestap. Sy wil hom ontwyk, maar haar poging kom te laat, en net soos die vorige aand word sy van haar voete af gelig.

“Nou het ek genoeg met jou gesukkel, meisiekind. Nou sal ék jou vlermuisgesig vir jou gaan was!

“Los my, jou buffel!” Hoe dit gebeur het, weet sy nie, maar toe sy haar oë oopmaak, is syne baie naby aan hare. Sy kan elke spikkeltjie daarvan sien. Sy mond is net so naby. En haar pogings om los te kom, word skielik al flouer.

Eers toe sy heeltemal stil lê in sy arms, bring hy sy mond nader, en al haar gedagtes vervaag toe sy lippe oor hare sluit.

Tant Mart lê vir ’n lang ruk onseker en staar na die vreemde meublement van die kamer toe sy wakker skrik. Die oomblik toe sy onthou waar sy haar bevind, loer sy blosend na oom Josie se kant van die bed. Maar sy plek is leeg. Die geluid van lopende water in die badkamer laat haar besef dat hy reeds opgestaan het. Sy tas dadelik verbouereerd na die glasie op die bedkassie. Sou ou Joos gesien het sy’t haar tande uitgehaal? Sy kon dit mos nog nooit regkry om met die nagemaakte goed te slaap nie.

Sy het geen probleem om die boonste stel terug te plaas in haar mond nie, maar dis toe sy in die glasie soek vir die onderste stel dat haar probleem begin. Daar’s niks! Die glasie is leeg. Dolleeg!

Sy klim fronsend uit die bed en beloer die glas agterdogtig. Spook dit nie dalk in hierdie kamer nie? Of kan dit wees dat Joos haar tande … Nee, dis te vergesog. Haar tande sal immers nie in sy mond pas nie. Maar waar is dit dan? Kon dit straks in die kooi beland het?

Oom Josie se binnekoms uit die badkamer laat haar vinnig hande-viervoet onder die bed uit retireer. Sy is so ontsteld dat sy nie eens die geamuseerde verbasing op oom Josie se gesig raaksien nie.

“Josie, dis weg! Iemand moes dit laas nag kom steel het! Ek het oral gesoek. In die vensterbank, tussen die kooigoed, onder die bed, oral. Dis net weg!”

“Wat is weg, ou dier?”

“My tande. My hele onderstel! Jy’t dit nie dalk per ongeluk in jou …”

“In mý mond gesit nie?” voltooi oom Josie haar sin. “Nee, my ou ding, so deurmekaar is my kop darem nog nie. Het jy dit nie dalk op Biesiesdal vergeet nie?”

Tant Mart probeer onthou, maar dan skud sy haar kop. “Ek het dit gisteroggend daar in jou slaghuis nog in my mond gehad. Ek onthou dit, want dit het amper daar uit my mond geval toe Julia so kom stof opskop het oor Bennie.”

“Is dit nie dalk in jou handsak nie?”

Maar die soektog in haar handsak lewer ook niks op nie.

“Dis gesteel, Joos. Dis al wat kon gebeur het. Mag die swernoot daarin stik!”

“Toe maar, ons sal dit rapporteer wanneer ons ry. Jy moet maar begin klaarmaak. Ons weet nie hoe lank ons nog gaan soek voor ons Bennie se pa se plaas kry nie.”

“Goeiste, Joos, wie sê hy’t nie daaroor ook gejok nie? Wie sê daar bestaan regtig so ’n plaas?”

“Moenie spoke opjaag nie, Mart. Hy’t dan self vir my vertel die plaas se naam is Doupan.”

“Ja, dis te sê as ’n mens ’n woord kan glo wat hy kwytgeraak het. ’n Plaas? Gmf! Mag dalk ’n kleinhoewe wees, ja. Een met varkhokke teen die kombuis en ou motorwrakke wat die werf vol lê. Want weet jy hoekom wil hy so graag vir Jessica hê? Hy’t natuurlik nie ’n sent nie, en hy wis Julia gaan hom opskroef vir onderhoud. Jessica het hom natuurlik vertel van haar erfporsie!”

“Haai, Mart, ek dink jy slaan die spyker op die kop! Dis nooit anders nie. Die Moutons is natuurlik besig om hom op te skroef. Ek glo nou ook g’n woord meer van die kamtige ding dat hy Geluk wil koop nie.”

“So ’n bedrieër. Joos, ons gaan hom ry tot by oom Daantjie in die kalwerhok, nè?”

Tant Mart betrap skielik oom Josie se blik op haar, en sy vlug halsoorkop die badkamer binne. Sy steek blosend voor die spieël vas. Haai, om te dink sy’t so voor hom verskyn! In haar nagrok!

’n Ou vergete verlange duik ook ineens in oom Josie se gedagtes op, maar hy onderdruk dit. Met ’n diep sug neem hy op die kant van die bed plaas om sy skoene vas te maak. Wat sal sulke gedagtes oor ou Mart hom tog help? Sy’t hom reeds een keer vantevore verwerp, en vir ’n tweede keer sien hy nie kans nie. Dan moet dinge maar liefs tussen hulle bly soos dit nou is.

In die badkamer adem tant Mart diep die geur van skeerroom in alvorens sy die deur oopmaak en skugter vir oom Josie vra om haar tas aan te gee. Wie’t kon dink ’n badkamer kan so lekker ruik? Hoeveel jare laas het sy die voorreg gehad om ’n bed met ’n man te deel? Om in ’n badkamer in te gaan waar daar so pas ’n man uitgekom het?

Die ontvangsdame is hoogs geamuseerd toe sy van die diefstal verneem, maar na ’n belofte dat sy dit wel sal rapporteer, is oom Josie en tant Mart daar weg.

“Jy kan nie dink hoe seer my kop is nie,” kla tant Mart toe hulle Wildernis nader.

“Dis van gisteraand se jenewer. Ek dink ons moet kyk vir ’n apteek. Ek wil vir my ook pille koop. Solank ek die pille koop, kan jy vir ons iets te ete gaan kry by die kafee.”

Terug in die motor kyk tant Mart vraend na oom Josie toe hy haar pille aan haar oorhandig en syne in sy sak steek. “Jou pille lyk mos nie soos myne nie, Joos. Watse pille het jy dan vir jou gekoop?”

“Ag, sommer pilletjies,” antwoord oom Josie ontwykend. Hy prikkel so tant Mart se nuuskierigheid nog meer.

“Het jy dan ’n kwaal of iets?”

“Watwou ek ’n kwaal hê! Ek makeer niks.”

“Jy makeer niks, maar jy koop darem pille? Dit verstaan ek nou glad nie.”

“Jy hoef ook nie te verstaan nie, Mart. ’n Man wil maar partykeer ’n bietjie hups voel,” skok hy haar tjoepstil.

Toe hulle Knysna bereik, stop oom Josie by die eerste motorhawe. Die geluk is aan hulle kant, want toevallig weet die petroljoggie presies waar die plaas Doupan geleë is. Dog, dis ’n ander saak om die pad daarheen te beduie. En toe hulle uiteindelik daar wegry, het hulle slegs ’n vae benul van in watter rigting die plaas geleë is.

Jessica nestel haar kop met ’n gevoel van geluksaligheid teen Bennie se bors en sluit haar oë. Sy voel hoedat hy deur die badkamer se deur met haar beweeg.

Hy dra haar bed toe, flits dit deur haar gedagtes, maar sy is willoos om haar teen te sit. Waarom moet sy? Dis nie vir Julia wat hy wil hê nie. Dis vir haar, Jessica. Na die duiwel met Julia! Die een of ander tyd sal Bennie haar tog vertel van Julia, en dan sal sy hom vertel dat sy weet. Dat dit nie saak maak nie, nie regtig nie. Haar liefde vir hom is groot genoeg om hom te vergewe. Sy sal hom help om te vergeet dat …

Haar gedagtes stol en sy staar hom verskrik aan toe sy sonder enige ontsag op die bed neergegooi word. Wat het gebeur? Hoekom lyk sy gesig dan nou so anders? So asof hy met afgryse na haar kyk!

“So, dan ís jy niks anders as ’n regte klein flerrie nie! En glad nie uitsoekerig nie. Of dit nou die vent van gisteraand is, en of dit nou ’n eerbare man is wat jy probeer verlei, maak klaarblyklik aan jou geen saak nie! Loop was jou gesig dat ons kan ry,” en sonder meer keer hy sy rug op haar.

Die deur het lankal agter hom toegegaan, toe sy nog versteen in die lugleegte waar sy gesig was, lê en staar. Dis asof die betekenis van sy woorde nie tot haar verstand kan deurdring nie. Langsamerhand kom sy egter tot die besef dat hy haar nie net tot in haar siel geskok het met sy wrede insinuasie nie, maar dat hy haar ook verneder het. Tot in die laagste vorm van vernedering! En eers toe die warm trane deur haar wimpers pers, kom sy in beweging.

Haar gesig is skoongewas, maar bleek en uitdrukkingloos toe sy ’n rukkie later swygend langs hom in die motor klim. Sy is bewus daarvan dat hy sydelings na haar blik, maar sy hou haar argeloos, en eers op George word die stilte tussen hulle verbreek toe hy voor ’n kafee stilhou en uitklim.

“Jy sit stil!”

Dis ’n bevel, dink Jessica wrang. Moet sy nie nou probeer om weg te kom nie? Maar haar tas en tjekboek is alles in die bagasiebak. En natuurlik, hy staan met opset so in die kafee dat hy haar kan dophou. Hoe ver gaan sy kom as sy probeer om weg te kom voordat hy haar inhaal?

Haar kop ruk op toe sy iemand skielik luid sy naam hoor sê.

“Bennie de Lange! Wanneer laas het ek jóú gesien? En vreemd genoeg, net gister het ek ook jou naam gehoor. Maar dit was darem seker net van ’n naamgenoot wat die oumense gepraat het, want daardie Bennie de Lange word gesoek vir die ontvoering van ’n meisie. Hy en ’n Jan van Zyl. Of hét jy ook gehelp met die ontvoering?”

Hy lag bulderend vir sy grappie, maar in Jessica word dit yskoud van vrees. Want dis vir haar baie duidelik dat Bennie bot is teenoor die verkeersman. Ook sy kry ’n vernietigende kyk toe hy in die motor klim en daar is ’n meedoënlose uitdrukking op sy gesig toe die motor met ’n vaart wegry voor die kafee.

Elza Rademeyer Omnibus 4

Подняться наверх