Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 4 - Elza Rademeyer - Страница 9
6
Оглавление’n Frons keep op die voorkop van oudsenator Mouton toe hy sy motorhuis nader en bemerk dat Tilla hom daar inwag. Wat beteken dit? Sy vrou sal tog nie, soos in die ou dae, hom tegemoetkom omdat sy haastig is dat hy by haar moet kom nie? Nee, beslis nie. Is dit moeilikheid?
“Dag, Eben. Dis tyd dat ons twee gesels oor daardie dogter van jou se gedrag,” val sy dan ook dadelik weg toe hy uit die motor klim. “Ek is nou hartlik sat vir haar onvoorspelbare gedrag en koppige nukkerigheid. Jy sal haar moet vasvat, en sommer vanaand nog, want ek is nie bereid om haar rebelsheid ’n dag langer te duld nie!”
Eben loer onderlangs na die goedversorgde, dog misnoegde gesig van sy vrou en los ’n onhoorbare suggie. “Is Julia nie van jou vlees en bloed ook nie, Tilla? Hoekom is sy net sóms jou dogter ook?”
Tilla steek vas in die tuinpaadjie en werp ’n skerp blik op haar man. “Omdat daar tye is wat ek nie wil weet sy is my kind nie. As jy gister by die direksievergadering was, sou jy geweet het wat ek bedoel. Ek het my byna dood geskaam vir Julia!”
“Waarom? Wat het sy gemaak?”
“Afgesien van die feit dat sy haar verveeldheid laat blyk het deur die een gaap op die ander te gee, was sy so bot en stuurs teenoor die bestuurslede dat ek verskoning moes vra vir haar gedrag. En hierdie uitheemse kleredrag en haarstyl van haar, Eben. Die mense staar haar aan op straat!”
Hy is ook bekommerd oor Julia, dink Eben ’n rukkie later terwyl hy stort. Maar om ’n ander rede as Tilla. Tilla is bekommerd dat Julia hul goeie naam kan skaad. Hý is bang hulle het reeds Julia se hele toekoms geskaad, want hy’t eers na sy dogter se terugkeer uit Johannesburg agtergekom dat die koudheid wat in hierdie woning van hulle heers, nie onaangeraak by Julia verbygegaan het nie. Hy en Tilla leef al jare by mekaar verby, maar nou moes hy ontdek dat hy ook sy kind se vertroue iewers op die pad verloor het. Hoeveel keer het hy haar nie al probeer uitlok om met hom te gesels vandat sy teruggekom het van Johannesburg af nie! Maar die persoonlikheidsverandering wat sy ondergaan het, dryf elke keer ’n wig tussen hulle in. Sy is nie meer die verskrikte, bang ou dogtertjie wat hy met ’n teddiebeer of ’n mooi rok kon paai wanneer Tilla met haar geraas het nie. En dis duidelik dat Tilla ook nie weet hoe om die nuwe Julia te hanteer nie. Maar, neem hy hom voor, vanaand na ete sal hy weer probeer om tot sy dogter deur te dring.
Terwyl hulle in die eetkamer sit en wag dat die kos bedien moet word, lui die telefoon en Tilla beveel vir Julia om dit te gaan antwoord, maar Julia verontagsaam haar ma se bevel en sê onverskillig: “Dis nie vir my nie. Hoekom moet ék dit beantwoord?”
Eben voorkom konfrontasie deur vinnig op te staan. “Toe maar, ek verwag ’n oproep. Dit sal vir my wees.”
Die oproep is toe vir Julia. “Dis ene Daan de Lange, en hy wil met jou praat, Julia,” deel hy haar mee en kyk haar bekommerd agterna toe sy verbleek en duidelik ietwat verskrik opspring van haar stoel af om in die gang te verdwyn.
“Sien jy wat ek bedoel, Eben? Toe is die oproep tog vir haar.”
“Ek sal na ete met haar gaan gesels, Tilla, maar asseblief, wees tog nou maar geduldig vir ’n rukkie? Met verwyte gaan ons niks bereik nie.”
“Nee, maar wat sy kort, is ’n pak slae,” sê Tilla ontevrede, en sonder om te wag op Julia se terugkeer, skep sy driftig die kos in hul borde.
Dis vir Eben duidelik dat Julia ontstellende nuus moes verneem het, want hy bespeur ’n rustelose senuweeagtigheid by haar toe sy terugkeer om aan die tafel te kom plaasneem. Sy eet ook nie eintlik nie, krap net haar kos deurmekaar op die bord, maar ook sy eetlus is weg en sy kommer verdiep toe hy sien hoe sy reageer op sy vraag of hy ’n rukkie met haar kan gesels na die ete.
“Ek is moeg, Pappa. Ek sou verkies om te gaan slaap.”
“En waarvan sou jy so danig moeg wees?” spring Tilla hom voor. “Van jou gerondrits die hele dag? Jou pa wil met jou praat, en klaar.”
“Ek sal jou sê wat ons doen,” kom Eben haastig tussenbeide. “Jy gaan klim in die bed en dan kom sit en gesels ek sommer daar by jou in die kamer. Hoe klink dit?”
Haar blik hou syne vir ’n lang ruk gevange voordat sy stadig haar kop laat sak. “As dit dan móét.”
Toe Tilla haar mond oopmaak, skop Eben liggies teen haar voet en sy werp ’n vernietigende blik op hom, maar pers dan tog haar lippe opmekaar. Die oomblik toe Julia egter die eetkamer verlaat het, wend sy haar tot Eben. “Ek betwyfel dit of jy enigiets met Julia uitgevoer gaan kry. Dis vir my baie duidelik dat sy jou om haar pinkie gaan draai.”
“Los dit nou maar vir my, Tilla. As ek dinge reg opsom, kon jy ook nog niks positief met haar bereik nie. Behalwe dat jy opsetlik die kloof tussen julle verdiep deur haar telkens in die hare te vlieg. Sy is nie meer ’n kind nie. Jy sal moet leer dat sy ’n mens in eie reg is, met ’n eie wil. Miskien moet jy probeer om meer verdraagsaam te wees sodat sy die vrymoedigheid kan hê om na jou toe te kom met haar probleme.”
“Probleme?” Tilla los ’n ietwat onvroulike snorkgeluid. “Watse probleme kan sý hê? Sy’t alles wat ’n meisie van haar jare kan droom om te hê! Kaste en kaste vol klere, haar eie motor, vooraanstaande ouers, en – ”
“Miskien is dit haar probleem,” val Eben sy vrou ergerlik in die rede. “Haar vooraanstaande ouers wat so besig is met hul sosiale aangeleenthede dat hulle nie tyd het om aan hulle enigste kind liefde en aandag te skenk nie!”
“Skimp jy op my? Wat verwag jy van my? Dat ek van die oggend tot die aand hier in die huis moet sit om net hier te wees indien ons dogter dalk ’n probleem kry?”
Eben sug moeg. “Dis al vir baie jare wat ek geen toegeneentheid hoegenaamd meer van jou verwag nie, Tilla. Verskoon my,” en hy laat haar tandeknersend van woede agter toe hy na Julia se kamer stap en aanklop.
Dis moeilik vir Eben om ’n aanknopingspunt te vind, want dis vir hom asof Julia alles wat hy sê met agterdog bejeën. En hy is onvoorbereid op haar hewige reaksie toe hy haar vra hoe sy haar dag deurgebring het.
“Van wanneer af moet ek nou verslag lewer van my doen en late elke dag? Wat traak dit julle waar ek was?”
Hy verberg sy verydelde poging om tot haar deur te dring met ’n skewe glimlaggie. “Jy is reg, dit traak my nie. Jy is mos nie meer ’n dogtertjie nie, nè? Om die waarheid te sê, jy’t so vinnig en ongemerk oorgegaan tot ’n volwasse jong nooientjie dat dit my soms skoon verskrik.”
“Waaroor wil Pappa nou eintlik met my gesels?”
Hy hoor die agterdog in haar stem en hy sluk ongemaklik. “Ek glo nie ek wil eintlik oor iets spesifieks met jou gesels nie. Ek wil eintlik maar sommer net vir jou kom sê het … dat ek hier is as jy my sou nodig kry. Dat ek baie lief is vir jou, en dat ek verstaan as jy nie na Mamma toe kan gaan met jou jongmeisieprobleme nie.”
Julia se oë wel onverwags vol trane. Vir ’n paar oomblikke weifel sy, maar dan vlieg haar arms eensklaps om sy nek en terwyl sy aan hom vasklou, voel hy hoedat die rou snikke uit haar binneste pers. “Pappa, o Pappa!”
Hy laat haar begaan totdat sy leeg gehuil is, en toe dwing hy haar om in sy oë te kyk. “Dis beter. Nou kan jy my vertel wat jou so pla.”
Maar sy draai haar kop weg en byt op haar lip. “Ek kan nie, Pappa. Ek kan nie!”
“Jy kan, my meisietjie. Daar is geen probleem wat ons twee nie saam kan oplos nie.”
“Nie hierdie probleem nie, Pappa. Mamma sal my nooit in der ewigheid vergewe nie.”
“Maar ék sal.”
“Ag, Pappa!”
“Kom, sê vir my,” en hy trek haar bewende lyfie vas teen sy bors, maar toe sy wel met haar probleem vorendag kom, voel Eben hoe die bloed sy gesig verlaat. Sy verwag? Sy dogter, wat self nog eintlik maar ’n kind is, verwag ’n baba!
“Ek is so jammer, Pappa,” hoor hy haar snikkend sê teen sy bors en hy moet hom inspan om sy stram arms nie van verbystering slap van haar lyf te laat wegval nie.
Toe Tilla die onverbiddelike gesigsuitdrukking sien waarmee Eben die sitkamer ’n uur later binnekom, wag sy twyfelend dat hy moet praat. Het hy Julia nou goed die leviete voorgelees, of het hulle twee nie dalk saamgespan teen haar wat Tilla is nie? Julia het die dag met die direksievergadering so sonder belangstelling gelyk, maar het sy nie dalk agtergekom dat Julius Verwey meer as die gewone aandag aan haar wat Tilla is, skenk nie? Sy’t vir Julius gesê hulle moet versigtiger wees! Maar hy is ook al so moeg van wag. Sou Julia nie dalk by haar pa skinderstories aangedra het nie? Hoekom kyk Eben dan so vreemd na haar?
“Ons dogter verwag ’n baba, Tilla.”
“Ons dogter verwag ’n …?” Sy bly verbyster stil toe die betekenis van die woorde tot haar deurdring. “Waar kom jy daaraan?”
“Sy’t dit so pas aan my meegedeel,” sê Eben en kan nie help om sy kop meewarig te skud toe hy sien hoe Tilla verward orent kom uit die stoel nie.
“So ’n klein merrie! Weet jy wat dit beteken, Eben Mouton? Weet jy, kan jy jou voorstel, wat die mense gaan sê as hulle dié storie moet hoor? Ons naam sal daarmee heen wees! En wie is die pa van die kind?”
“Dis ’n man van Johannesburg. Sy weier om my te sê wie die man is. Net dat hy getroud is, en dat sy nie met hom kan trou nie.”
Tilla snork verontwaardig, maar dan verstil haar bewegings en sy kyk vol verwagting na Eben. “Dis beter so, dat dit dan ten minste die kind van ’n getroude man is. Dan sal hý nie in ons pad staan nie. Ons moet Julia so gou moontlik hier wegkry.”
Eben frons. “Wegkry? Waarnatoe?”
“Oorsee, of waarheen ook al. Iewers waar sy ’n aborsie kan ondergaan.”
“ ’n Aborsie? Tilla, weet jy wat jy praat?”
Sy kyk uitdagend na hom toe sy die skok op sy gesig sien. “Wat, Eben Mouton, wil jy dan voorstel? Dat sy hier moet bly en hier geboorte moet skenk aan ’n kind van ’n man wat ons van geen kant af ken nie! Hoe dink jy kan jy dit aan ons vriende verduidelik?”
“Ek is nie behep oor wat die mense van ons gaan dink nie, Tilla. Dis Julia se geestestoestand wat by my kommer wek. En ’n aborsie gaan dít nie verbeter óf regstel nie.”
“As haar skandes jou dan nie skeel nie, Eben Mouton, dit is nie vir mý aanvaarbaar nie. Ek is nie bereid om ons vriende en die mense van Biesiesdal se fluisterveldtog agter hul hande te verduur nie.”
“Dit staan jou vry om te handel soos jy goeddink, Tilla,” sê Eben ineens vasberade, “maar ek het Julia my steun aangebied, en daarmee sal ek volstaan. My kind gaan net hier bly. Ek is bereid om haar by te staan. Om vir haar én haar kind te sorg.”
Tilla kan haar ore nie glo nie. “Wat jy eintlik vir my wil sê, is dat dit jou nie ’n flenter skeel hoe ek oor die besigheid voel nie? Jy gaan doen wat jy wil doen, en basta!”
“Presies.”
“Is dit jou manier om vir my te sê dat ek nie langer welkom is in hierdie huis nie?”
“Dit het ek mos nie gesê nie. Wat ek wel nou vir jou gaan sê, is dit: As jy onwelkom hier voel om die huis te deel saam met jou eie dogter en toekomstige kleinkind, staan dit jou vry om te gaan. Hierdie skynhuwelik van ons het tog nie ons dogter van ’n tragedie gevrywaar nie, het dit?”
“En as ek nou vir jou sê dat ek bereid is om te gaan?”
“Dan sal ek jou nie keer nie, Tilla.” En toe draai Eben weg en verlaat die sitkamer met ’n vaste tred.
Op Doupan is die atmosfeer heelwat minder gespanne tussen oom Josie, tant Mart en Bennie se ouers. Oom Josie voel sommer heeltemal gerus, want hy’t mos saam met Daan staan en luister toe Julia hulle die versekering oor die telefoon gegee het dat dit nié Bennie se kind is wat sy verwag nie. Tant Mart voel ook verlig daaroor, maar sy kan net nie ophou dink aan die twee kinders wat daar vasgekeer sit in die berg nie. Daan sê nou wel hulle is veilig in ’n grot, hulle sal nie verkluim nie, en alles, maar ’n grot is nie ’n huis nie. En wat weet Jessica nou van ontbering en sulke dinge?
“Onthou jy nog die dag toe julle seuns skelm gerook het daar agter die toiletmuur van die laerskooltjie, Duiweltjie? Toe meneer Struis julle daar betrap het?”
Tant Mart voel hoe die wrewel in haar opstu. Al waaroor Millie en Joos kan praat, is oor hul skooldae. Dis net Duiweltjie voor en Duiweltjie agter, en Joos straal omtrent! In haar lewe het sy hom nog nooit so spraaksaam gesien nie. Arme Jessica. As sy moet weet hoe min erg hierdie kamstige voog van haar aan haar het! Dis net Millie, Millie, Millie! Skeel hom nie ’n flenter of sy peetkind vanaand ’n stukkie kos het om te eet of nie. En dit traak hom ook nie dat sý met ’n hoofpyn sit wat haar oë uit haar kop wil verjaag nie. Al vir wie hy oë en ore het, is vir Millie.
Toe tant Mart die skooldaestories net nie langer kan verduur nie, vra sy om verskoon te word. So halfpad na haar kamer steek sy vas en knik skielik heftig met haar kop. Nou weet sy hoekom ou Joos so vriendelik en hups is. Dis daardie pille wat hy gedrink het! En sonder om na te dink oor haar dade, sluip so oom Josie se kamer binne. Maklik, dit lê sommer oop en bloot op sy bedkassie.
Hoeveel sal ’n mens nou op ’n keer daarvan moet drink om so hups soos ou Joos te word? wonder sy. Moet sy nie eers haar bril gaan haal nie? Maar sê nou iemand betrap haar hier? Toe kry sy ’n beter plan. Sy sal sommer so vier of vyf neem en in haar kamer gaan drink. Eers sal sy net een drink, en as dit nie werk nie, kan sy dit mos vermeerder tót dit werk.
En nie vyf minute nadat sy een van die pille gedrink het nie, sit sy haar kop op ’n blok dat dit werk! Sy voel dan sommer ’n gans ander mens! So half lighoofdig en traak-my-nieagtig. Vol bravade sluit sy haar dan ook weer ’n rukkie later by die ander drie aan en glimlag van oor tot oor toe sy oom Josie se verbaasde gesig sien.
“Nou vir wie het jy jou nou so mooi geloop maak, Mart?”
“Ag, Josie, ek het my mos nou nie rêrig mooi gemaak nie. Ek het net ’n ou bietjie lipstiffie aangesit. Jy weet, ek het nou so gedink aan Jessica en Bennie daar in die grot, en haai, toe dink ek mos nou hoe romanties dit moet wees. Twee siele alleen, vasgevang in die onherbergsaamheid van ’n ruwe wêreld waar die aasvoëls in vrede hul nes kan bou.”
Oom Josie kyk haar baie agterdogtig aan, maar tant Mart is die ongeërgdheid self. “Hoe sal ons weet of daar nie ’n onsterflike liefde gebore word in daardie grot op hierdie heerlike reënerige aand nie?”
“Mart, jy voel nie dalk koorsig nie?” wil oom Josie oorbluf weet.
“Koorsig?” Tant Mart kyk met onnatuurlike blink oë na hom. “Nee, my ou eseltjie, ek voel perdfris.” Sy vou haar hande saam en lag skielik hoog en skril. “Was ek maar vanaand in daardie grot, vasgekeer saam met ’n ridder van ouds. O, ek sou sy hande was en sy voete … voete … voete …”
Dis oom Daan wat eerste sien sy gaan val, en hy tree dan ook net betyds om die tafel om haar te vang. Oom Josie skrik hom boeglam en tant Millie spring ook verskrik van haar stoel af op.
“Help hier,” sê oom Daan. “Ons moet haar daar op die rusbank kry. Wat sou verkeerd wees? Het sy al vantevore so geraak, Joos?”
“Nie waarvan ek weet nie, Daan. Vat jy haar voete, ek sal haar lyf ondersteun. Wat kon haar oorgekom het?”
“Sou dit nie dalk iets gewees het wat sy geëet het nie?” wonder tant Millie hardop. “Maar ons het tog almal van dieselfde kos geëet. En dis net nadat sy hier weg is kamer toe dat sy so anders geword het. Sy’t mos gekla van hoofpyn vroeër vanaand. Het sy nie dalk verkeerde pille gedrink nie? Wag, ek dink ek moet gou in haar kamer gaan kyk of ek nie iets daar kry nie.”
Tant Millie kom dan dadelik op die spoor van tant Mart se “siekte”. “Ek kry hierdie vier pilletjies daar voor haar bed. Weet een van julle dalk watse pille dit is?” vra sy.
“Dié pille,” sê oom Josie aarselend, “lyk vir my nes die pille wat ek vanoggend op Wildernis of iewers vir my by die apteek gekoop het. Maar ou Mart had nog nooit ’n seer rug nie. Waar sou sy dan nou aan dié pille kom?”
“Het sy dit nie dalk by jou geleen en gedink dit sal vir haar hoofpyn help nie?” vra tant Millie. “Kan jy onthou hoeveel pille daar in jou pakkie was?”
“Wag, laat ek loop kyk. Daardie pille ís sterk. Ek drink nooit meer as twee van daardie pille op ’n slag nie.”
Op lange laas kry hulle dan ook die versekering dat tant Mart wel een van oom Josie se pille gedrink het, maar oom Josie kan nie verstaan dat een pilletjie haar so kon aantas dat sy nou so uit soos ’n kers daar op die rusbank lê nie.
“Sy is moontlik allergies vir die pil,” sê tant Millie terwyl hulle almal na die slapende tant Mart staar.
“Allergies?” vra oom Josie. “Noudat jy so praat van allergies, dink ek daaraan: Mart kan omtrent geen pil of medisyne drink waarvoor sy nie allergies is nie. Dis hoekom sy ook net altyd die een soort pil drink vir ’n hoofpyn.”
“Dit lyk darem nie of haar bors gaan toetrek nie,” sê tant Millie huiwerig. “Maar moet ons nie maar ’n dokter inroep nie? Kyk, dit lyk vir my sy kry ’n uitslag. Hier is dan nou sulke rooi knoppies in haar nek.”
“Hups,” prewel tant Mart skielik hardop. “Ek is ook nou hups, Josie.”
Oom Josie storm vervaard op haar af. “Wag, nou, Mart, hier’s mense. Jy moenie nou allerhande nonsens praat nie!” sê hy ontsteld, en slaan ook sommer sy hand oor haar mond.
“Moenie haar mond toedruk nie,” keer tant Millie. “Netnou versmoor sy.”
“Maar netnou praat sy nog ander dinge ook,” sê oom Josie benoud. “Van die hotel se dinge en goeters.”
“Wat van die hotel se dinge?” vra tant Millie, maar toe oom Daan die konsternasie op oom Josie se gesig sien, stamp hy aan tant Millie sodat sy na hom moet kyk.
“Ek dink jy moet die ketel gaan aansit, vrou. Kom ons los vir Josie hier by Mart, dan gaan maak ek en jy gou koffie.” Toe dit lyk asof tant Millie wil teëpraat, knip hy vir haar oog en stuur haar dan ook dadelik na die kombuis. Hulle verdwyn ook net betyds, want tant Mart is vinnig besig om goed op dreef te kom.
“Wou nog gesels, maar toe slaap jy al, Josie. ’n Badkamer ruik so lekker as ’n man gebad het. Josie sal my seker nooit weer vra om te trou nie. Ek het mos nee gesê. Maar my Sarel was dan nog nie koud nie.”
Oom Josie loer oor sy skouer kombuis se kant toe en leun dan vooroor om in tant Mart se oor te fluister. “Is jy lief vir ou Josie, Mart?”
“H’m, vreeslik, maar hy gaan my nie weer vra om te trou nie. Ons het saam op die dubbelbed geslaap, maar hy …”
“Mart,” fluister oom Josie dringend. “Ons kan môre trou as jy wil. Maar dan praat jy nou nie weer van die hotel se dinge nie.”
Dit werk toe. Tant Mart gee ’n lekker diep gaap en toe begin sy snorkend asemhaal. Darem nie heeltemal gerus oor haar nie, sluit oom Daan en tant Millie hulle ook weer ’n rukkie later by oom Josie en die slapende tant Mart aan terwyl dit reeds byna middernag is.
“Ek kan jou nie sê wie die vader van Julia se kind is nie, Jessica. Maar wat maak dit saak? Jy soek tog maar net ’n verskoning om nie direk vir my te sê dat ek geen kans het om ooit jou liefde te wen nie, daarom dat jy ’n vraag aan my stel wat jy weet ek seker nooit sal kan beantwoord nie. Ag, kom ons vergeet tog maar nou die hele ou storie. En moenie bekommerd wees nie, ek weet wanneer ek verloor het. Ek sal jou nooit weer lastig val nie.”
Jessica krimp inmekaar van selfverwyt. Wat het haar besiel om die vraag só aan hom te stel? Sy wou mos maar net sekerheid hê dat hy nou, terwyl hy nié yl nie, ook vir haar gaan sê dis ’n man van Johannesburg. Sy kyk verslae teen sy rug vas toe hy opstaan en die komberse nader sleep na die vuur toe. Hoe gaan sy regmaak wat sy verbrou het?
“Daar’s hy, nou kan jy maar kom inkruip,” sê hy toe hy klaar gewoel en gewerskaf het met die komberse.
Jessica se oë rek. “Hoe bedoel jy? Waar moet ek inkruip?”
“Hier langs my, waar dink jy anders? Of verkies jy dalk om liefs te verkluim?” Hy sien hoe sy vinnig na die vuur se kant toe kyk, maar haar hoop word verydel toe hy haar daarop wys dat hulle nie die vuur die hele nag kan laat brand nie. “Ons moet suinig werk met die hout. Onthou, ons weet nie vir hoeveel dae ons dalk nog hier vasgekeer gaan sit nie. Kom nou, Jessica, moenie kinderagtig wees nie. Ek is nie ’n wolf nie. En ek is ook nie die soort man wat my opdring aan ’n meisie as ek weet sy hou nie van my nie. Maar om te oorleef, sal ons mekaar se nabyheid net moet verduur.”
Sy loop skugter nader. Dit sal nie help om uitkomkans te soek nie, weet sy. Die vuurtjie brand reeds laag, en dit raak vinnig kouer en kouer in die grot. Sy klim egter steeds huiwerig op die oop kolletjie langs hom in en ’n skokgolf vlieg deur haar lyf toe sy hand en arm aan haar raak terwyl hy die komberse besorg oor haar vou.
“Dis nou seker nie die luuksste bed waarop jy al geslaap het nie, maar ons kan maar net dankbaar wees die komberse was nog hier in die grot.”
“Hulle ruik nie juis lekker nie,” waag Jessica dit toe ’n onaangename reukie haar neus bereik.
Hy lag. So ’n lekker diep laggie en voor Jessica kan keer, skiet haar oë vol trane. Sy is dan so bitter lief vir hom. Moet sy hom dit nie maar sê nie? Maar hoe moet sy dit sê? Sal hy nie vir haar lag nie?
“Dit is komberse wat reeds lank hier is, juis om vir moontlike noodgevalle en vir van die werksmense wat soms hier moet oornag, voorsiening te maak.”
Jessica hoop dat hy sal aanhou en aanhou met praat, want sy kry nie meer haar trane gekeer nie, en dit gaan haar noodsaak om te snuif.
Hy bly egter stil en na ’n rukkie kan sy nie anders as om te snuif nie.
“Jessica?”
“H’m?” Sy hoop dat dit klink asof sy al half aan die slaap is, maar die oomblik toe sy die geluidjie uiter, weet sy sy’t nie in haar doel geslaag nie.
“Huil jy, meisie?”
“Nie eintlik nie,” sê sy gesmoord.
“Nie eintlik nie, maar darem. Hoekom huil jy?”
Die besorgdheid in sy stem en vertroostende streling van sy hand oor haar hare, laat haar vergeet van alle ander dinge, en haar arms gly asof vanself om sy nek. En sy huil hom waternat.
“Toe maar,” sê hy toe haar snikke eindelik bedaar. “Die spanning van die afgelope dae was seker maar te veel vir jou. Jy sal nou sommer beter voel.”
“Ek huil nie van spanning nie,” sê sy snuiwend. “Ek huil omdat jy kwaad is vir my.”
“Maar ek is mos nie kwaad vir jou nie, meisie?”
Vir ’n rukkie is net sy asemhaling hoorbaar. En toe hy oplaas praat, is daar ’n hartseer klank in sy stem. “Ek sal vir die res van my lewe lief wees vir jou, Jessica. Maar liefde kan nie tot volvoering kom as dit eensydig is nie.”
“Ek is vir jou ook lief,” erken sy stilweg.
“Ekskuus? Sê weer wat jy nou gesê het?”
“Ag, Bennie, man. Ek het jou lief.”
“Al kan ek nie vir jou sê wie die vader van Julia se kind is nie?”
Sy skud haar kop skielik heftig. “Ek gee nie meer ’n flenter om nie. Al het haar kind ook drie pa’s, en al het jy ook nege kinders by ander vrouens …”
Verder as dit kom sy nie, want dis ineens net bondelende komberse, en toe sy haar weer kan kry, lê sy styf in Bennie se arms. Haar lippe gaan in afwagting oop toe sy kop nader kom. Hy soen haar met soveel teerheid dat dieselfde gevoelens wat sy Saterdag op Geluk ervaar het, weer in haar opwel. Met volle oorgawe soen sy hom driftig terug. Weer en weer. Ver iewers in haar agterkop verskyn daar ’n waarskuwingstemmetjie, maar meegesleur deur die hartstog van die oomblik, ignoreer sy daardie stemmetjie. Met passiewe geduld wag sy tot Bennie dieselfde begeertes as sy moet openbaar, en sy nestel haar met stille tevredenheid teen hom vas toe hy saggies kreun. Toe sy warm hand soekend oor haar liggaam beweeg, wag sy ademloos …
Kardoef!
Die middernagtelike knal uit Daan de Lange se geweerloop eggo deur die klowe, weergalm teen die kranse vas, en breek die betowerende atmosfeer van die grot in duisende skerwe, sodat Jessica weer eens amper in die vuur beland.
Bennie lag saggies en soek naarstig in die stikdonkerte na sy rewolwer. “Ek gaan net gou antwoord. My ouers wil seker maar net sekerheid hê dat ons nog veilig is. Hierna sal hulle gaan slaap.”
“Jy moenie weer val nie!” waarsku Jessica, en draai beskaamd haar kop weg toe hy na haar kant toe kyk.
“Moenie bekommerd wees nie. Ek sal ekstra versigtig wees hierdie keer, want ek weet mos nou dat ek veel het om voor te lewe.”
Sy kyk hom agterna totdat sy figuur ingesluk word deur die donkerte van die tonnel, en betas dan haar brandende wange. Dit was net die geweerskoot wat hulle gered het van iets waaroor hulle dalk die res van hul lewens spyt kon wees, dink sy met ’n bietjie bangheid. Wat gaan hierdie nag verder oplewer? Sy het nie die wilskrag om Bennie teen te gaan as hy weer haar liggaam probeer verower nie. Sal hy verstaan en dit aanvaar as sy sê hy moenie haar in die versoeking bring nie? Is dit hoe die versoeking met Julia toe ook plaasgevind het? Dan kan sy Julia mos nie verkwalik dat sy geswig het nie. Al was die man ook volgens Bennie ’n dwelmslaaf. Hoe goed ken sy Bennie? Vrydag, Saterdag, Sondag, Maandag? Saam met vandag is dit ongeveer vyf dae. Is dit genoeg om sekerheid te hê oor hul gevoelens? Ja, sê ’n stemmetjie dadelik, maar haar gewete sê nee.
Onder op Doupan se werf wag oom Daan en oom Josie in spanning op Bennie se antwoord, en toe dit kom, draai hulle tevrede om om die huis weer binne te gaan.
“Dit reën nog,” sê oom Daan vir sy vrou, “maar dit lyk tog of die wind gaan lê het. Dit sal darem help dat die kinders nie te koud kry daar in die grot nie. Ek hoop hulle het darem kerse. Daar was altyd ’n paar kerse.”
“Daar is glo kerse en vuurhoutjies, ek het vir Fayetjie gevra. Volgens haar is daar nog genoeg hout ook vir ongeveer drie dae,” deel tant Millie hom mee.
“Nou maar dan kan ons maar gerus gaan slaap. Ek dink nie Mart sal nou meer iets oorkom van daardie pil nie.”
Oom Daan se woorde is nog nie koud nie, toe kom die onderwerp van bespreking dronkerig die kombuis binne. “Wie skiet so?”
Tant Millie pyl op haar af. “Versigtig, Mart. Hoe voel jy?”
Ook oom Josie en oom Daan beweeg vinnig nader na haar toe. “Hoe voel jy?”
Tant Mart staar onbegrypend van die een na die ander. “Hoe bedoel julle? Ek is mos nie siek of iets nie. Ek moes net aan die slaap geraak het daar op die bank. Toe ek my nou kom kry, toe lê ek daar. Wat kyk julle so snaaks na my?”
Tant Millie staan nog nader en loer skielik na haar nek. “Dis weg,” sê sy en tant Mart gaap haar verbaas aan. “Die uitslag is weg. Dan sal sy nou reg wees.”
“Uitslag? Waarvan praat julle nou?” vra tant Mart verward.
“Jy’t een van my pille gedrink,” herinner oom Josie haar skielik aan wat sy aangevang het.
“Dis reg. Ek hét een van jou … nét een van jou pille gedrink. Maar wat het dit met ’n uitslag en dinge te doen?”
“Ons dink jy was allergies daarvoor, want jy’t skielik omgekap,” verduidelik tant Millie.
“En die nonsens wat jy gepraat het!” verwar oom Josie haar nog meer.
“Ek weet niks. Ek onthou dat ek die pil gedrink het, en dat my hoofpyn dadelik weg was. Maar ek kan nie nou onthou hoe ek weer hier in die sitkamer gekom het nie.”
“Toe maar, ek dink dis nou alles weer reg. En ek dink ek en my vrou moet nou in die bed gaan klim. Julle twee kan maar nog gesels, want julle kan laat slaap môreoggend, maar ek en Millie moet vroeg op.”
Na ’n oor-en-weer-nagsêery bly oom Josie en tant Mart dan ook alleen agter in die kombuis.
“Jy’t my uit my geloof uit laat skrik, Mart. Jy drink g’n nooit weer vreemde pille nie!”
“Haai, Josie, ek onthou nou! Ek het nogal lekker hups begin voel …”
“Mart! Jy sê nie weer daardie woord nie! Dit is g’n hupspille nie. Dis doodgewone ontspanningspilletjies wat die dokter vir my rug voorgeskryf het! En toe loop praat jy sommer van die hotel se dubbelbed en als!”
“Haai, Joos?”
“Ja, en ek moes jou hand en mond belowe dat ons twee môre – vandag – nog gaan trou. Maar by daardie belofte gaan ek jou hou!”
“Haai, Joos?”
“Jy kan nou maar ophou ‘haai, Joos’. Kom gee liewer vir jou aanstaande man ’n soentjie.”
Haar derde “haai, Joos” kom dan ook nooit tot sy volle reg nie, want oom Josie se arms is skielik om haar lyf en sy voel hoe die lekkerte deurdring tot onder in haar kleintoontjies toe sy snor teen haar bolip kielie.
“Jou ou derduiwel!” sug sy genotvol toe hy haar uiteindelik los. “Wanneer laas is ek so lekker gesoen?”
“Seker toe ou Piet Seningnek laas daar by jou gekuier het.”
“Ag, hy kon g’n soen nie.”
“Dis wat jy nou vir my probeer wysmaak, maar jy was so opgeskeep met die vent dat dit my nie sal verbaas as jy met hom ook ’n dubbelbed gedeel het nie.”
“Joos! Lyk ek miskien vir jou na daardie soort? Jy moet ’n bietjie na jouself kyk. Wat van daardie Strydom-vroumens wat so by jou geboer het?”
“Vergeet nou daarvan, Mart. Ek kan nie help die vroumens het haar so opgedring aan my nie. En daar’t niks onwelvoeglik tussen ons plaasgevind nie.”
“Gmf! As jy darem dink ek moet alles glo wat jý my vertel! Daar het nie een enkele dag verbygegaan wat sy nie daar in jou slaghuis gesit het nie. En toe ek nog dag ek bring jou middagete vir jou, soos ek dit vir jare gedoen het, toe moet ek hoor dis nie meer nodig nie, want Estatjie maak sommer vir jou ’n ietsie gaar.”
“Jy beskuldig verniet vir my, Mart. Daar was nie ’n enkele keer wat ek by daardie losieshuis gekom het en nie vir Seningnek daar by jou in die kombuis gekry het nie.”
“As jy rêrigwaar vir my wou gehad het, kon jy hom mos verwilder het?”
“Ga! En dan steek jy my weer in die pad soos jy my na oorlede Sarel se dood in die pad gesteek het!”
“Josie, oorlede Sarel was daardie tyd darem nog net drie maande weg. Ek kon mos nie toe al weer sinnigheid in ’n ander man kry nie?”
“En nou, Mart,” vra oom Josie bedees. “Het jy nou sinnigheid om weer ’n man te vat?”
“Hoe vra jy my dan nou so ’n eienaardige vraag, Josie?” sêvra tant Mart skaam en blosend.
“Sal jy dan met my trou, Mart?”
“Wanneer?”
“Vandag, of môre? Sodra die reën ophou?”
“Dis darem gou, Josie. Ek sou darem graag eers vir my ’n mooi ou rokkie wou koop. En die loseerders sal mos verwag dat ek ’n onthaal moet gee.”
“Dis goed. Ek sal jou tyd gee, my hart. Dalk kan ons dit nog ’n dubbele bruilof maak.”
“Hoe meen jy nou?” vra tant Mart verward.
“Dalk trou Bennie en Jessica nog saam met ons. Jy weet, twee verliefde mense so saam vir ’n nag in ’n grot, daar kan dalk iets gebeur wat hulle haastig maak om te trou.”
“Josie, moenie sulke dinge praat nie,” sê tant Mart ontsteld. “Ek ís so bekommerd. Wat weet Jessica van mans en liefde en dinge? Die kind het haar mos nog nooit aan seuns of mans gesteur nie.”
“Maar sy is al oud genoeg om te kan trou. En as hulle nou hul liefde vir mekaar ontdek daar in die grot, hoekom mag hulle nie haastig wees om te trou nie?”
“O, is dit wat jy bedoel, Josie?”
“Nou wat het jy dan gedink bedoel ek, Mart?”
“Ag, nee sommer niks. Haai, Josie, ons moet gaan slaap. Ons kan nie mense se ligte en goeters so mors nie.” Daarmee stem oom Josie volmondig saam en hy skakel ook sommer die lig af toe hy tant Mart vir die tweede keer soen.