Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 4 - Elza Rademeyer - Страница 5
2
Оглавление“Ek is jammer, Jessica,” sê Bennie sag langs haar oor toe hy weer eens die pas verloor, maar toe Jessica verwag hy gaan vra dat hulle liewer moet uitsit, gebeur die teenoorgestelde. Hy trek haar skielik vas teen hom aan, en daarna ondervind hy geen probleem om in pas te bly nie. Toe sy weer skelmpies na sy gesig loer, betrap sy hom dat hy afkyk na haar en sy ruk skugter haar kop weg.
Hy uiter ’n geamuseerde laggie wat die bloed bruisend deur haar are laat vloei. “Jy lyk pragtig,” hoor sy hom sê. “Ek wou vanoggend al vir jou gesê het hoe mooi jy vir my lyk, maar oom Josie het my nie eintlik kans gegee nie.”
Nee, oom Josie het hom nie ’n kans gegee nie, dink Jessica. Hy was te besig om al haar goeie hoedanighede aan Bennie op te veil. En dit het niks gehelp om hom te probeer stilmaak nie. Sy het maar later moed opgegee en deur die motor se venster na buite sit en kyk. Terug van die Kaap af, het dit beter gegaan. Toe was sy en Bennie alleen in haar motor. Maar toe het hy haar van sy ouers en broer vertel en hulle het oor sy toekoms op Geluk gesels. Eienaardig dat hy nie vir haar gesê het dat hy oorspronklik ’n ander afspraak vir vanaand gehad het nie, dink sy vaag. Miskien het oom Josie hom eers hier voor die losieshuis gevra. Alles was so deurmekaar toe hulle hier aangekom het. Bennie het nie eens binnegekom nie. Ook maar goed, anders het hy gesien hoe woes dit hier gegaan het met tant Mart se reëlings vir die partytjie!
Hy los haar nie toe die nommertjie ten einde loop nie, maar talm eers om te hoor watter nommer volgende aan die beurt gaan kom. Dis dieselfde tyd dat tant Mart van die kombuis af die eetsaal binnekom, vir Bennie raaksien en reguit op hulle afpyl.
“Ag, hier is jy dan,” sê sy in haar skik. “Ou Joos het my sowaar laat verstaan jy sal nie kan kom nie.”
“Eintlik het ek ’n ander afspraak gehad, mevrou. Maar ek kon dit gelukkig verskuif tot ’n ander keer. Ek hoop nie ek verontrief u nou met – ”
“Nooit nie. Ek is maar te bly jy’s hier. Jy moet sommer vir my tant Mart sê …”
“Jan van Zyl,” sê Jessica bitsig, en trap so hard op Bennie se toon dat hy verbaas na haar kyk. “Dis ’n heerlike wals, kom ons dans,” en sy glip ook sommer onder sy arm in en du hom dansvloer toe.
“Jan van Zyl?” vra hy fronsend toe hulle buite hoorafstand is. “Hoekom jok jy so? My naam is mos nie Jan van Zyl nie?”
“Vanaand ís jy Jan van Zyl.”
Hy kom tot stilstand en sy gesig is die ene vraagteken. “Hoekom is ek Jan van Zyl?”
“Tant Mart sal nie toelaat dat ek met Bennie de Lange dans nie, wat hy’s ’n wewenaar met vyf kinders. Sy vrou is drie maande gelede eers dood, en hy’t boonop rooi hare nes ek.”
“Ek verstaan. Jou … e … vriend se naam is ook toevallig Bennie de Lange. ’n Wewenaar met vyf kinders, rooi hare en … Maar ons kan mos aan tant Mart verduidelik dat ek nie dáárdie Bennie de Lange is nie?”
“Nee, jy verstaan nie regtig nie,” sê Jessica, haar hart wild aan die bons oor die onmiskenbare teleurstelling in sy stem. “Kom ons dans. Ons blokkeer die vloer. Ek sal jou vertel hoekom jy vanaand Jan van Zyl is.” Toe vertel sy hom terwyl hulle dans.
Hy lag so lekker toe sy hom klaar vertel het dat van die ander dansers se koppe na hulle kant toe draai. “Ek sal saamspeel,” belowe hy haar.
“Ek wonder van watter Van Zyls hy is?” mymer tant Mart.
“Van wie praat jy nou?” wil oom Josie nuuskierig weet.
“Van Jan van Zyl wat daar met Jessica dans.”
Oom Josie rek sy nek, en toe hy Jessica en Bennie sien, praat hy sonder om te dink. “Waar kom jy daaraan dat sy naam Jan van Zyl is?”
“Hy sê dan so. Hoe hou jy jou dan nou so onnosel? Julle was dan die hele dag saam.”
Eers toe onthou oom Josie weer van die speletjie wat hy en Jessica speel. “O, ek sien nou van wie jy praat. Ek dag jy sê daardie lang javel wat anderkant Jessica-hulle dans se naam is ook Jan van Zyl. Kom ek en jy gaan maak ook ’n draai op die vloer, of hoe?” maak hy gou ’n plan om haar nie tyd te gun om na te dink oor sy blaps nie, en hy herhaal die naam in sy gedagtes, sodat hy hom nie dalk later weer voor tant Mart verspreek nie.
Laataand, toe die laaste gaste ook gereed maak om te vertrek, vou Bennie Jessica se skraal handjie in syne toe. “Wat doen jy môremiddag na kerk? Kan ek jou nie kom oplaai, dan ry jy saam met my uit Geluk toe nie?”
“Sal ek welkom wees? Ek ken nie eintlik die Nels nie.”
“Daar is niemand op die plaas behalwe die werkers nie. Oom Nel is al klaar weg na sy dogter toe vandag, en die plaas behoort eintlik klaar aan my.”
“O. Sal ek dan vir ons ’n mandjie pak vir middagete? Ek weet daar is ’n rivier op die plaas. Ons kan daar gaan eet.”
“As jy kan, sal dit gaaf wees.” Hy gee haar hand ’n drukkie, en toe sy ’n rukkie later onder Biesiesdal se sekelmaan met hom saamstap tot by die tuinhekkie, plaas hy ’n gloeiende kooltjie op haar wang met sy lippe. ’n Kooltjie wat brand en brand totdat sy in die vroeë oggendure met ’n geluksalige uitdrukking op haar gesig weggevoer word deur die slaap.
’n Verrassing wag die volgende oggend in die kerk op haar toe sy opkyk en sien dat dit Bennie is wat so geduldig langs die bank staan en wag dat die mense moet opskuif sodat hy langs haar kan plaasneem. Op die een of ander onverklaarbare wyse bevind sy in ’n stadium haar vingers verstrengel met syne tydens die diens. Eers toe hulle weer buite die kerkgebou kom, besef sy dat sy nie ’n woord kan onthou van wat die predikant gepreek het nie.
Tant Mart oorlaai hul kosmandjie so dat hulle moet lag toe hulle van die losieshuis af wegry.
“Eet jý so baie?” vra hy kamtig verbaas vir haar.
Sy terg hom goedig terug. “Dis nie vir my nie, dis alles vir jou. Tant Mart het natuurlik gesien jy is ondervoed.”
Jessica geniet dit om die plaas saam met hom te besigtig. Toe hulle moeg geloop is, gaan haal Bennie die kosmandjie in die motor en hulle volg ’n kronkelpaadjie tot onder op die rivieroewer. Nadat hulle geëet het, strek Jessica haar lui uit en gaan lê gemaklik op haar rug op die kombers, haar hande onder haar kop. Sy staar na die patroontjies van die vlieswolkies in die lug, en wys hulle die een na die ander aan Bennie uit.
Toe hy stil raak, kyk sy na hom, betrap sy oë smeulend op haar deinende bors gerig, en toe sy ontdek dat haar bloes se knoop losgekom het, vou sy vinnig haar arms kuis oor haar bors. Dit ontlok ’n skor laggie by hom voordat hy haar in die kring van sy arms trek. Hy gaan haar soen, dring dit tot haar deur, maar daar is skielik geen weerstand in haar toe sy lippe nader kom nie. Dis hy wat self ’n rukkie later ’n einde maak aan sy liefkosings, wat algaande inniger geword het, deur haar weg te stoot van hom af.
“Kom ons gaan liewer terug, meisiekind. Netnou raak ek heeltemal onverantwoordelik. Besef jy wat jy aan ’n man doen?”
“Wat?”
Hy kyk lank in haar oë. “Is jy werklik nog so onskuldig, of hou jy jou net dom?”
“Seker maar albei,” sê sy met ’n skouerophaling, en begin dan vinnig om die eetgerei terug te pak in die mandjie. Dis waar, dink sy. Wat sy van ’n man se emosies af weet, is nie veel nie. Sy was nog nooit regtig danig met ’n man nie. Die jong mans wat sy ken, ken sy nie só nie. Dis nog net Johan van Niekerk wat haar een aand onverwags probeer vasdruk en soen het, en vir hom het sy geklap dat hy sterre sien.
Bennie neem die reisdeken by haar, en toe hy sy hand onder haar elmboog sit om haar te ondersteun, verwonder sy haar oor die bewing van sy vingers. Sou sý die oorsaak daarvan wees? Voel hy ook soos sy? Asof haar begeerte na hom alle ander dinge oorheers? Is dit hartstog? Dié hartstog waarvan ’n mens in boeke lees? Dan is dit mos ’n gevaarlike emosie. Dit benewel dan ’n mens se verstand heeltemal. Sy sal versigtiger moet wees, maan sy haarself.
Daar is net een uitweg, besluit sy toe hulle amper terug is by die motor. Sy moet verhoed dat hulle weer in afsondering by mekaar uitkom. En sy moenie toelaat dat hy haar weer soen soos hy dit so pas gedoen het nie. Dit het emosies in haar ontketen waarvan sy nog nooit vantevore bewus was nie.
“Het jy regtig planne om môre Knysna toe te gaan?” vra hy vir haar toe hulle in die motor klim.
“Nee, hoe sal ek daar kom? Oom Josie het sommer die storie uit sy duim gesuig.”
“Ek het besluit om met my motor terug te gaan. Ry saam met my na my ouers toe, Jessica. Jy is tog met verlof.”
Jessica kyk hom verbaas aan. “Jy is mos nou skoon laf!”
“Hoekom sê jy so? Die een of ander tyd moet my ouers tog hul aanstaande skoondogter leer ken. Ek het gedink dis nou die ideale geleentheid daarvoor.”
“Bennie! Besef jy wat jy sê? Watse onsin jy besig is om kwyt te raak?” roep Jessica onthuts uit.
“Is dit onsin, Jessica?” Die sagte, warm blik wat uit sy oë straal toe hy haar vir ’n paar oomblikke aankyk, laat haar vinnig wegkyk. “Ons De Langes weet wat ons wil hê, en ons spook totdat dit aan ons behoort. Miskien moet jy leer om gewoond te raak aan die gedagte dat jy eendag my vrou gaan word.”
Toe skakel hy die motor aan en hulle ry in stilte terug Biesiesdal toe. Jessica kan aan niks dink om die stilswye te verbreek nie, maar in haar binneste bruis dit van vreugde en blydskap. Dis asof die verbyglyende landskap ook nuut geword het. Die lug is soveel helderder, die bome en gras soveel groener, en die beeste langs die pad lyk ook sommer rustiger.
Haar mymering word egter wreed versteur toe hulle Biesiesdal se hoofstraat binnery en Julia Mouton se rooi motortjie in ’n stofwolk by hulle verbyjaag en reg voor hulle met skurende bande tot stilstand kom.
Bennie los ’n kragwoord toe hy vinnig moet rem om nie agterin haar motor vas te ry nie. Die motor het kwalik tot stilstand gekom toe hy sy deur oopmaak. “Verskoon my net ’n oomblikkie, Jessica.”
Sy leun vinnig oor om die deur, wat hy oopgelos het, toe te maak om te verhoed dat die dwarrelende stof die motor vul. Tot haar verbasing sien sy dat hy glimlag terwyl hy by Julia se motorvenster staan en gesels. Vir ’n oomblik was sy bang hy gaan haar ’n opstopper gee oor haar onverskilligheid.
Dit verbaas Jessica ook dat hy geen opmerking maak oor Julia toe hy na ’n rukkie terugklim in die motor nie. Maar daar is nie tyd om daaroor te tob nie, want die oomblik toe hulle by die losieshuis kom, neem hy haar hand en trek haar saam met hom tot binne-in die kombuis waar tant Mart langs die tafel sit en koffie drink.
“Ons kom sê net baie dankie vir die lekker kos in die piekniekmandjie,” bedank hy haar. “En dan ’n ander sakie: Jessica ry môreoggend saam met my Knysna toe. Ek wil haar aan my ouers gaan voorstel. Ons sal so oor twee weke terug wees.”
“My goeistetjie, Jessica, Jan. Is dit nie ’n haastige besluit nie?”
“Ons De La – ”
’n Harde skop van Jessica op sy skoen laat hom onthou, en hy korrigeer homself vinnig. “Soos ek sê, ons Van Zyls smee maar altyd die yster terwyl dit warm is, tant Mart. Het tante enige beswaar? Want dan moet ons dit nou sommer dadelik uit die weg ruim.”
Tant Mart kyk na Jessica se stralende gesiggie en blink oë. Sy skud haar kop. “Nee, ek het nie beswaar nie. Maar, Jan, jy pas my meisiekind mooi op. Onthou, sy’s al wat ek het. Moenie my sagmoedige ou doggie se gevoel vir jou uitbuit of vertrap nie. Dan gaan jy met mý te doen kry. Of julle nou by ou Josie ook so maklik gaan verbykom met hierdie oorhaastige besluit van julle, weet ek nou nie. Maar jy sal hom ook moet ken in die saak, Jan.”
“Moet ons nie maar nou vir tant Mart reghelp en sê wie ek regtig is nie, Jessica?” vra Bennie onderwyl hulle op pad is na oom Josie se huis langs die slaghuis.
“Ja, ek dink ook dis tyd dat ons haar reghelp,” willig Jessica in, dog die geleentheid daartoe duik nie daardie aand op nie.
In ’n lang preek waarsku oom Josie Bennie onder meer teen Jessica se vurige humeur wanneer sy dink sy word te na gekom. Hy vermaan hom ook om versigtig te ry.
Toe hulle weer by die losieshuis kom, bemerk hulle dat tant Mart gaste gekry het.
Die res van die aand bly Jessica besig in haar kamer met die inpakkery, aangesien Bennie die volgende oggend vroeg in die pad wil val.
Die volgende oggend duik daar ook nie ’n geleentheid op om self vir tant Mart oor Bennie se naam en van reg te help nie, want sy is te besig om ontbyt voor te sit aan die loseerders. Hulle ry by oom Josie aan om te groet en hý onderneem om tant Mart in te lig oor wie Bennie nou regtig is.
“Het jy ooit jou ouers laat weet ek kom saam?” vra Jessica later toe hulle eindelik op pad is.
“Ag, dis nie nodig nie. Ek het Saterdagaand al vir hulle gesê ek bring dalk hul toekomstige skoondogter saam.”
“Dink jy nie jy is ’n bietjie voortvarend nie?”
“Ek dink nie so nie. Dink jy dalk ek is?”
Die sydelingse blik wat hy haar gee, maak haar stom. Bedoel hy werklik al die mooi dinge wat hy sê? Sien hy haar werklik as sy toekomstige vrou? Hoe kan hy nou al so seker wees hy wil haar hê? Hy het haar dan nog nooit eens kwaad gesien nie? Dog, die moed ontbreek haar om hom reguit te vra.
Net buite Riversdal merk sy ’n pronkende volstruismannetjie in ’n land langs die pad op en skuif opgewonde vorentoe. “Kyk daar, ’n volstruis!”
“Ken jy volstruise?” vra Bennie.
“Nie eintlik nie. Ek weet darem dis nie ’n olifant daardie nie!”
Haar opmerking laat hom lag en hy leun ontspanne terug agter die stuurwiel, sy linkerhand vroetelend in haar nek onder die weelderigheid van haar koperglinsterende haredos. “Ons het mos geen haas nie. Het jy nie lus om ’n volstruis te ry nie?”
“Is hier dan ’n volstruisplaas naby?”
“Oudtshoorn is nie te ver uit ons pad nie. Ons kan altyd daar ’n draai gaan maak. Toe, wat sê jy?”
“Het ek enige sê? Jy besluit mos vir my vanaf die oomblik wat jy my gesien het!”
Hy lag weer.
By die diensstasie naby Mosselbaai kom staan hy aan haar kant van die motor terwyl hulle wag dat die motor vol brandstof gemaak word. “Jy sê dis in die haak? Dan skiet ons nou deur Oudtshoorn toe. Ek dink ons bly sommer vannag daar oor ook. Daar is oulike, skoon chalets net voor jy die dorp uitgaan Kangogrotte toe.”
“Jy darem!” sê Jessica toe sy ’n rukkie later agterkom hy neem wel die Oudtshoorn-pad. “Ons sal jou ouers moet laat weet as ons op Oudtshoorn gaan oornag!”
“Is dit ’n bevel? Begin jy nou met jou streke om my te wil voorsê?” Maar daar is geen venyn in sy stem nie. “Jy sal jou daarby moet berus dat ek, as jou toekomstige man, ál die besluite moet neem. En waag dit net om jou teë te sit. Haai, sê my, is jy sagmoedig, of is jy befoeterd? Oom Josie het mos gesê jy kan goed beduiweld raak as jy die dag lus is. Is dit waar?”
“Vind maar self uit,” terg sy hom.
“Ek wonder darem of ons die regte ding gedoen het om Jessica hier te laat wegry het met daardie Van Zyl-kêreltjie,” sê tant Mart later die oggend toe sy oom Josie se slaghuis besoek.
“Die Van Zyl-kêreltjie? O ja, die Van Zyl-kêreltjie. Sit jy solank vir ons die ketel aan. Ek wil jou juis iets vertel van die mannetjie.”
Maar dis net toe oom Josie by haar kom plaasneem langs die lessenaar, dat tant Mart so skuins oor sy skouer die eienaardige gedoente in die deur raaksien. Sou dit iemand wees wat stofvere wil verkoop? wonder sy.
“Waarheen is hulle?” bereik ’n ysige stemmetjie hul ore.
Oom Josie ruk om in sy stoel, en tant Mart moet net keer of haar valstande val uit haar mond uit.
“Waarheen is hulle? Moenie vir my jok nie, ek wil weet!”
“Gedorie, is dit tog nie jy nie, Julia?” vra oom Josie deur die wind. “Vir wat mismaak jy jou so, kind?”
“Waar’s wie?” vra tant Mart ook verbaas.
“Waarheen is Bennie de Lange en Jessica? Is dit waar dat hulle sak en pak die dorp uit is vanmôre? Moenie probeer om my te bedrieg nie! Ek weet hy verkul my met Jessica!”
“Nee, my kind, jy’s deurmekaar,” paai tant Mart. “Kom sit en drink eers ’n koppie koffie saam met ons. Dit sal help vir jou senuwees. Jessica ís die dorp uit vanmôre, maar sy is saam met Jan van Zyl na sy ouers toe op Knysna. Ek sou haar tog toelaat om met ’n wewenaar te knoei! Nee wat, kind, my dogter sal haar nooit met sulke mans ophou nie.”
“Hou op om so te jok!” skree Julia histeries. “Ek weet mos sy is saam met Bennie hier weg. Die joggie by die garage het my self gesê. Maar ek gaan hulle kry. En ek sê vir julle nou, Jessica gaan boet! Ek laat nie die pa van my kind van my wegrokkel nie! Sy gaan boet! Hulle gaan albei boet!”
Die volgende oomblik word die deur met ’n geweldige slag toegegooi, en die stofwolke dwarrel dwarsdeur die sifdeur toe Julia se motortjie met tollende bande wegtrek.
“Goeiste! Het die kind van die Moutons dan die een of ander tyd gek geraak?” vra tant Mart verbyster.
Maar oom Josie is meteens wasbleek en hy strompel moeisaam orent. “Daar’s fout, Mart. Groot fout!”
“Ja, ek kom agter daar’s groot fout. Dit lyk my daardie Bennie de Lange het Julia ook in die moeilikheid gebring. En was dit nie vir my gekonkel met Jan van Zyl nie, het hy seker teen hierdie tyd vir onse Jessica ook al in die moeilikheid gehad.”
“Bly stil, Mart. Jy weet nie waarvan jy praat nie. Jessica ís hier weg saam met Bennie de Lange.”
“Wat! En waar’s Jan dan nou? Dit was dan Jan wat haar by die losieshuis kom oplaai het vroeg vanmôre.”
“Dit was nie Jan … Ja, dit was Jan, maar Jan en Bennie is een en dieselfde mens.”
“Jy’t my nou skoon deurmekaar,” sê tant Mart. En dit neem ellelange verduidelikings van oom Josie se kant voordat sy besef daar het in werklikheid nooit ’n Jan van Zyl bestaan nie.
“So, jy wil nou eintlik vir my sê onse Jessica is nou saam met daardie gewetenlose wewenaar met sy hordes kinders hier weg?”
“Nee, Mart,” sê oom Josie moedeloos. “Dit was ook sommer bog, daardie wewenaar-storie. Bennie is nie regtig ’n wewenaar nie, en hy’t ook nie kinders nie.”
“Wat wie sê? Julia het dan nou net gesê hy is pa van háár kind!”
“Ja, maar dan is hy pa van net een kind.”
“Een wat ons van weet, ja,” sê tant Mart met groot misnoeë.
“Moenie nou nog lol nie, Mart. Ek vrees vir ons kind se lewe. Ek wil nie dink wat daardie Bennie-skepsel haar alles kan aandoen nie. Maar ek wil nóg minder dink aan wat gaan gebeur as Julia in haar histeriese toestand hulle loop injaag op die pad!”
“Dink jy sy sal hulle agternasit?” vra tant Mart bekommerd.
“Ek is seker sy gaan, Mart, ek dink jy moet vir my ook ’n tas loop pak. Tom! Tom, gaan roep gou vir ou Koos Stoepsitter. Sê vir hom hy moet die slaghuis kom oorvat.”
“Pak jou eie tas,” skree tant Mart toe sy wikkel vir die deur. “Ek gaan gou my tas ook pak en vir Sofie inlig wat om met die losieshuis te doen tot ek terugkom.”
’n Uur of wat later, nadat die petroljoggie op Biesiesdal hulle verseker het dat Julia ook háár motor daar volgemaak het vir ’n lang rit, jaag oom Josie en tant Mart in ’n stofstreep die dorp uit.
“Josie, is Bennie nie dalk getroud met Julia nie?”
“Dan sal almal op die dorp mos daarvan geweet het.”
“Hulle kon op ’n ander plek getrou het. Julia was vir ’n lang tyd weg, onthou.”
“Nee, ek het nou die dag nog met diktator Mouton self gepraat. Hy sou my gesê het as Julia getroud is.”
“Senator, Joos, oudsenator,” help tant Mart hom reg. “Maar jy’t jou ook nie gesê Julia het ’n kind nie, het hy?”
Oom Josie skud sy kop. “Nee, hy het nie. Dis seker hoekom Julia so lank weg was hier van Biesiesdal af,” bespiegel oom Josie. “Om die baba op ’n ander plek te loop kry.”
“Waar sou die kind nou wees?” wonder tant Mart hardop.
“Hulle steek hom seker in daardie kasarm van ’n huis op hul kleinhoewe weg. Ai, dat ek my darem so kon misreken met die Bennie-vent. En dit was toe nooit die radio wat ek gehoor het die oggend daar in die woonstel nie. Dit was die einste Julia se skril stem wat so ge-skattie het daar van die kombuis se kant af. Nou weet ek ook hoekom hy my nie binnegenooi het nie. Hy was natuurlik bang ek vind uit van sy harem.”
“Waarvan praat jy nou?” wil tant Mart nuuskierig weet, en oom Josie vertel haar.
“Dis nog nie al nie! Die oggend toe ons hom daar gaan oplaai het Kaap toe, was sy ook daar by hom.”
“Jy moet sien, hy is nog ’n getroude man, hoor! Anders is hy besig om sy vaderskap te probeer ontduik.”
“Ek dink dis laasgenoemde, Mart. As ons weer ons oë uitvee, is hy klaar getroud met Jessica. Dan kan hy mos nie gedwing word om met Julia ook te trou nie. Dis net wat dit is, jy moet sien!” Oom Josie trap sommer die lepel plat.
“Stadiger, Joos Landman! Wil jy my verongeluk? Onthou, jy’s al ’n ou man van sewentig, en op jou ouderdom is jy ’n gevaar op die pad.”
“Asof jy op ses en sestig nog ’n kuiken is,” brom oom Josie, maar lig darem sy voet so ’n bietjie van die pedaal af.
Kort duskant Mosselbaai, op die afdraaipad na George, tel hulle teëspoed op. Nie soseer oor die spoedgrens wat hulle oorskry nie, maar oor die gespikkelde rooi lap wat by die motor se agterdeur uit wapper.
“Josie, jy moet padgee. Hier agter ons ry ’n motor met ’n blou lig op sy dak, en die man beduie hy wil verbykom.”
“Hy kán mos verbykom, dis dan ’n dubbelpad.”
“Joos, dit lyk of die man aan die kwaad raak is. Hy waai en gaan nou vreeslik tekere hier agter ons.”
“Maar so ’n vloeksteen!” En toe sagter: “Mart, het jy gepraat van ’n blou lig?”
“Ja, hy’t ’n blou lig op die dak wat so al in die rondte draai.”
Oom Josie trap so vinnig rem dat tant Mart amper deur die voorruit vlieg.
“Jy wíl ’n mens verongeluk!” raas sy. “Pasop, Joos, jy is al skoon van die pad af!”
“Hou jou mond, Mart. Dis ’n verkeersman!”
“O, goeiste. Ja, jy wou mos! Ek het vir jou gesê jy jaag te vinnig!” En die oomblik toe die verkeersman langs oom Josie se venster verskyn, val sy weg: “Ek het hom gesê hy ry te vinnig, sersant, maar hy kan ook nie anders nie, want ons dogter is ontvoer en as ons haar nie betyds kry nie, kan die man haar straks vermoor. En as hý haar nie vermoor nie, gaan Julia haar vermoor!”
Die verkeersman kyk fronsend van tant Mart na oom Josie.
“Dis waar, kolonel,” sê oom Josie. “Hy’t ons bedrieg. Ek kon mos nie raai hy’s die pa van Julia se kind nie.”
“Wag, ek dink ons moet liewer voor begin,” sê die verkeersman verward. “Wie is ontvoer?”
“My dogter,” sê tant Mart. “Eintlik is sy ou Josie se dogter ook, maar ék is die een wat haar grootgemaak het. Van só groot af al,” babbel sy en beduie so ’n paar sentimeter van die motor se vloer af met haar hand.
“Haar naam?” wil die verkeersman weet terwyl hy ’n sakboekie uit sy sak haal.
“Jessica Pretorius,” verskaf tant Mart die antwoord.
“En deur wie dink u is sy ontvoer?”
“Jan van Zyl.”
“Nee, ou Mart se kop is deurmekaar, brigadier. Dis Bennie de Lange wat haar ontvoer het. Daar bestaan nie so ’n mens soos Jan van Zyl nie,” sê oom Josie vinnig.
“Meneer Pretorius, u sê dus vir my u dogter Jessica is ontvoer deur ene Bennie de Lange?”
“Nee, ek is nie Jessica se pa nie, kolonel. My van is Landman.”
“Ek verstaan. Sy is eintlik u stiefdogter. En u, mevrou,” beduie hy na tant Mart, “u is haar moeder, mevrou Pretorius?”
“My van is nie Pretorius nie, sersant. My van is …”
Die verkeersman sug moedeloos. Hy luister nie verder nie. Die twee oumense is te ontsteld om logies te dink. Hy sal die hele dag hier staan en praat en dan gaan hy nog niks wyser wees nie.
“Meneer,” spreek hy dan ook oom Josie aan toe daar ’n onderbreking kom, “die rede waarom ek u voorgekeer het, is oor hierdie lap wat hier by die agterdeur van die motor uit wapper.”
“Haai, dis dan my voorskoot,” sê tant Mart verbaas toe oom Josie uitklim om ondersoek in te stel. “Ek moes dit in my haas in die deur toegeslaan het. Jy sien, sersant, alles het so dol gegaan. Ek was al amper binne-in die motor toe ek agtergekom het ek het nog my voorskoot aan. Joos, jy’t die tas op die agterste sitplek gesit. Kon jy nie gekyk het voor jy die deur toegemaak het nie?”
“Kyk,” sê die verkeersman vinnig om te verhoed dat oom Josie en tant Mart dalk weer met ’n getwis begin, “ek stel voor u ry nou agter my aan en gaan lê ’n klag van ontvoering by die polisiekantoor. Dit is die regte prosedure. Hulle kan dan die saak opneem en u dogter probeer opspoor.”
“En dan beduiwel hulle alles, en onse dogtertjie is dalk kant en klaar aangerand of iets wanneer hulle op Knysna aankom? Nee, dankie, brigadier,” sê oom Joos ontsteld. “Ek sal self my kind loop soek tot ek haar kry.”
Niks kan oom Josie van mening laat verander nie. Tant Mart steun hom boonop, en na ’n lang geredekawel gee die verkeersman moed op. Toe oom Josie se motor wegry, skud hy sy kop en kyk hulle agterna tot die motor om ’n draai verdwyn. Het die ouman nie van Knysna gepraat nie? Bennie de Lange? Gits, is dit nie dalk Bennie de Lange van die plaas Doupan van wie hulle gepraat het nie? Nee, seker nie. Dit sou net té toevallig wees.
“Klein Brak Motel,” lees oom Josie na ’n rukkie hardop en verminder dadelik spoed. “Mart, my rug is gedaan. As ek nie nou eers ’n bietjie bene rek nie, haal ons nooit vanaand Knysna nie. Kom ons gaan geniet eers ’n verkwikkinkie.”
Die verkwikkinkie word toe twee verkwikkinkies, en toe hulle daar wegry, dreig tant Mart se oë om toe te val.
“Joos, kan ek maar slaap?”
Oom Josie blik haar skuins aan en sy hart word sag. “Slaap maar, ou dier. Ek weet jy’s moeg.”
Tant Mart se valstande glip uit haar mond uit. Gelukkig vang sy dit net betyds en druk dit ongemerk in haar rok se sak. Om te dink ou Josie het haar “ou dier” genoem. Wanneer laas het hy só mooi met haar gepraat? Vir ’n hele ruk is haar vaak skoon weg, maar toe hulle George binnery, is dit eens so erg. Die dag was net te uitputtend.
“Mart, ek wonder of ons nie maar hier moet oorslaap nie. Kyk, die son sak al.”
“Josie, ek dink ook nie ons moet verder nie. Jy weet jy kan nie in die aand ry nie. Jou oë is al te swak. Al daardie ligte van voor af! Nee, ek dink ons gaan soek liewer ’n losieshuis en slaap net hier.”
“Ek glo nie die plek gaan ’n losieshuis hê nie. Ons sal in ’n hotel moet tuisgaan, Mart.”
“Maak nie aan my saak nie. As ek net iewers my kop op ’n kussing kan neerlê.”
“Hier is ’n hotel! Sommer hier by ons,” sê oom Josie opgewonde, en minute later staan hulle in die voorportaal by die ontvangstoonbank.
“Moet ek vir ons twee chalets bespreek, of net een?” vra Bennie ondeund.
“Twee,” sê Jessica, en bloos toe sy agterkom hy terg haar.
“Goed,” sê hy, “maar ek dra die kosmandjie na jou chalet toe. Ek sal maar by jou kom bedel vir ’n stukkie kos.”
“Jy kan dalk kry, mits jy baie mooi vra, natuurlik.”
“Mag ek vanaand die gas wees van die skone dame?”
Hulle lag vir hul eie verspottigheid en kom dan ooreen om eers te gaan stort of bad voordat hulle eet. Jessica kyk hom agterna totdat hy in die derde huisie van haar af verdwyn, en draf dan met ’n singende hart die badkamer binne. Wat ’n wonderlike dag, dink sy opgewonde. Wat ’n wonderlike man! Dit voel alles so onwerklik. Om te dink sy ken hom nog nie eens vier volle dae nie, en tog voel dit asof sy hom al ’n leeftyd ken. Nee, nie slegs ken nie, maar liefhet!
Julia Mouton sit gespanne en wag dat die deur van Jessica se chalet moet toegaan. Was dit nie dat sy toevallig by die garage voor Mosselbaai stilgehou het om brandstof in te neem en daar by die petroljoggie verneem het van die twee se plan om Oudtshoorn om te ry nie, sou hulle haar lekker van hul spoor af gehad het. Gelukkig het die petroljoggie hul gesprek onthou. Dit kon nogtans gelol het, maar gelukkig het sy Bennie se motor voor die krokodilplaas raakgesien. Daarna was dit maklik om hulle tot hier te volg.
Uiteindelik gaan Jessica se deur toe, en toe Bennie in sy chalet ingaan, klim Julia uit haar motor en stap vasberade agter die groen struike en bome waaragter sy haar motor versteek het, uit. Reguit op Bennie se chalet af.