Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 4 - Elza Rademeyer - Страница 7
4
Оглавление“Ek dink ons moet eers hier in ’n restaurant eet voordat ons uitry Doupan toe,” stel oom Josie voor toe hulle deur Knysna ry. “Daardie ou pakkie skyfies wat jy op Wildernis vir ons gekoop het, was net genoeg om my honger te maak, Mart.”
“Ja, ek glo nie ons gaan gou weer kos sien vandag nie. Arme Jessica, sy gaan dalk bitterlik ontsteld wees. Sy weet tog seker nie van Bennie se dinge nie?”
“Nee, hý sal haar tog nie vertel nie, maar dit kan wees dat Julia haar al ingelig het.”
“Haai, Joos, sê nou Julia het Jessica …”
“Bly stil, Mart. Jy spreek nie daardie gedagtes van jou hardop uit nie!”
Tant Mart bly stil, maar haar kommer oor Jessica se veiligheid duur voort, en terwyl hulle ’n rukkie later in die restaurant sit en wag vir hul bestelling, roer sy die saak weer aan.
“Joos, dink jy Bennie se ouers sal darem keer as Julia vir Jessica … e … iets wil aandoen, of so?”
“Keer? Ek weet nie, Mart. Jy weet sulke belangrike mense leef anders as ons. As hulle net ’n glas voor die mond en ’n bottel in die hand het, kan hoor en sien vergaan om hulle.”
Tant Mart maak ’n jammerlike klikgeluidjie met haar tong. “Om te dink ek het nogal gedink dié Bennie kom uit ’n ordentlike huis. Hy’t so goed van buite gelyk.”
“Ja, maar so is die lewe maar. In vandag se lewe kan ’n mens niemand meer vertrou nie. Mooi, hier kom ons kos.”
“Dit lyk heerlik,” sê tant Mart en val dan ook onmiddellik weg aan die biefstuk nadat oom Josie die seën gevra het. Sy is egter spyt dat sy dit bestel het, want hoe eet ’n mens nou biefstuk as jy nie tande het om mee te kou nie? Hoe meer sy kou, hoe minder wil dit fyn kom. Oplaas besluit sy om maar die kans te waag en die stuk vleis af te sluk. Dis ’n fout, want dit steek vas en hoe groter haar oë rek en hoe harder sy sluk, hoe meer weier die vleis om die pad na haar maag te vind.
Toe oom Josie uiteindelik opkyk en sien wat aan die gang is, het tant Mart reeds trane in haar oë. Vir ’n oomblik skrik hy hom boeglam vir haar pers gesig en pas toe maar die enigste raad waarvan hy weet toe en tref haar met ’n allemintige hou tussen die blaaie. Dit is verstandige optrede op hierdie tydstip. Die koutjie skiet met ’n boog deur die lug om ’n goeie meter verder onder ’n tafeltjie te lande te kom.
“Dankie tog, Josie,” prewel tant Mart verleë. Sy is dankbaar dat hulle twee alleen in die restaurant is en soek in haar roksak vir ’n snesie. Sy frons. Wat voel dan nou so snaaks hier in haar roksak? So bekend?
“Haai, Josie, kyk! Hier’s my onderstel!”
“Sit weg die goed, Mart. ’n Mens hou nie sulke onfatsoenlike goed in die lug vir almal om te sien nie! Wys jou maar net, jy is ook al aan die kinds word.”
“Gmf! Asof dit ek was wat dit daar weggesteek het! Haai, dit was ek. Nou onthou ek. Dit het my seergemaak,” verdraai sy vinnig die waarheid. “Ons sal die hotel moet laat weet hulle hoef nie meer daarna te soek nie, weet jy, Joos?”
“Ek gaan hulle nie sê nie. Jy kan self vir hulle vertel van jou kindsheid.”
“Ek sal ook. Jy moet net vir my by ’n telefoonhokkie stilhou. Ons kan mos nie dat daardie arme mense die hele George omkeer op soek na goeters wat nooit weg was nie.”
Die ontvangsdame is egter nie meer dieselfde een wat die vorige nag daar diens gedoen het nie. En sy weet van geen sout of water, óf van tande wat weg was nie.
“U sê u is mevrou Steenkamp van Biesiesdal, en u het u onderstel verloor, hier by ons in die hotel? O, gesteel? Net ’n oomblik.” Na ’n rukkie is sy terug. “Jammer, mevrou, hier was nie verlede nag ’n mevrou Steenkamp wat hier oornag het nie.”
“Maar natuurlik was ek daar. Ek en oom Joos Landman was in kamer …”
“Watse onsin raak jy kwyt!” sê oom Josie ergerlik oor haar skouer.
“Ag, vergeet dit maar, juffrou. Al wat ek eintlik wil sê, is dat ek my onderstel gekry het. Julle hoef nie verder te soek daarvoor nie. Tot siens!”
“Is jy regtig kinds?” raas oom Josie toe sy die gehoorstuk terugplaas. “Die hele George gaan nou weet ons twee het by mekaar geslaap in een kooi. Sal my niks verbaas as dominee dit ook te hore kom daar op Biesiesdal nie!”
“Jy reken dit kan straks gebeur, Josie?”
“Ag, kom ons ry. As ons so draai, kom ons donker vanaand op Doupan aan.”
Vir ’n lang ruk is dit doodstil in die motor. Tant Mart sit en wonder of dominee Nel regtig sal hoor dat sy saam met ’n man in ’n bed geslaap het. Sy sal haar mos morsdood skaam!
“Mart! Jy moet nou kyk vir die naambord van die plaas. Sal seker niks anders as ’n stuk verroeste sinkplaat met ’n paar skewe letters op wees nie.”
Later raak oom Joos bekommerd. “Mart, ons het darem nou al bitter ver gery. Sou ons op die regte pad wees?”
“Ek weet nie, Josie. Dis dan net bosse en bome. Het die petroljoggie nie gepraat van ’n houtbruggie wat ons moet oor nie?”
“Nee, hy’t dan juis gesê as ons by ’n houtbruggie kom, moet ons weet ons is verkeerd. Dan het ons te ver gery.”
“O gaats, Joos, dan is ons verkeerd. Kyk, hier is die houtbruggie reg voor ons.”
Oom Josie bring die motor tot stilstand en frons. “En jy’t nêrens ’n afdraaipad gesien nie, Mart?”
“Nee. Ver terug was daar een, maar daar was so ’n sierlike boog oor die pad, dit kon tog nie hy gewees het nie?”
“Hoekom nie?”
“Is jy verspot! Net ryk, vooraanstaande mense het geld om sulke naamborde aan te bring op ’n plaaspad.”
“Wat het daarop gestaan?”
“Nee wat, Josie, ek het nie eens gekyk nie.”
Oom Josie sug. Toe trek hy die motor onder ’n boom in en skakel die enjin af.
“En nou? Ons sal die plek mos nooit kry as jy hier wil sit en wag totdat hier eendag ’n motor kom om die pad te vra nie. Ons het dan wanneer laas ’n voertuig teëgekom!”
“Mart, my rug is morsaf. Gee aan daardie bottel water by jou voete.” Tant Mart sit verstom en toekyk terwyl oom Josie twee van sy pilletjies sluk en uitklim om hom ewe gemaklik op die agterste sitplek van die motor tuis te maak. “Jy kan mos nie nou hier wil lê en slaap nie, Joos?”
“En vir wat nie? Ek is nie meer ’n jong man wat kan aanhou sonder om moeg te word nie, Mart. Hou nou jou mond sodat ek vir ’n paar minute my oë kan sluit.”
Dis juis op hierdie tydstip wat Bennie en Jessica by die sierlike boog wat die pad na Doupan aandui, indraai. Bennie bring ook sy motor onder ’n boom tot stilstand en kyk dan deurdringend na Jessica. “Jessica, mag ek jou ’n guns vra?”
Sy ignoreer sy vraag en staar stip deur die venster aan haar kant, onbewus van die pleitende uitdrukking in sy oë.
“My meisie, ons kan nie só daar by my ouers aankom nie. Wat gaan my ma-hulle dink! Sal jy nie maar probeer om normaal op te tree nie? Ons kan die vete tussen ons later uitstryk. Die een of ander tyd moet ons gesels, maar, asseblief, laat dit net vir ’n rukkie daar. En probeer om darem tog net vriendelik teenoor my ouers te wees. Sal jy?”
Voor sy verbaasde oë ondergaan Jessica net daar ’n metamorfose. “Ag, alles reg, man,” lag sy hom stralend toe. “Moenie bekommerd wees nie. Ek sal niks voor jou ouers laat blyk van enige onenigheid tussen ons nie. Ry, ek is nuuskierig om die plaas te sien.”
Hy frons bekommerd. Bedoel sy wat sy sê, of is sy dalk met die een of ander slenter besig?
“Komaan, wat kyk jy my so verstom aan? Ek is moeg van kwaad wees en kwaad lyk. Ek sal, wanneer ons alleen is, weer kwaad lyk.”
“Ek weet nie of ek jou moet vertrou nie,” spreek hy sy vertwyfeling hardop uit.
“Luister, ek weet hoe jy voel. Ek weet mos hoe ek sou gevoel het as ek met ’n suur dikmondvriend by my mense sou aankom. Ek het die strydbyl neergelê. Tevrede?”
“Meer as tevrede, baie dankie, Jessica.” En om sy dankbaarheid te betoon, plaas hy sy hand oor hare.
’n Gebaar wat maak dat sy al haar wilskrag moet inspan om dit nie weg te klap nie. Toe maar, besluit sy in haar enigheid, haar kans sal kom. Sy moet net geduldig en lieftallig bly totdat sy by ’n telefoon kan uitkom.
Op sy beurt dink Bennie weer hy glo haar glad nie. Maar laat sy dit net waag om enige streke uit te haal! Sy hande brand al lankal om haar oor sy skoot te trek en haar nukke uit haar uit te klop.
Daan de Lange hou al van vroegmôre af die plaaspad dop. So dan en wan spreek hy sy kommer hardop uit. “As daardie kinders nie nou kom nie, gaan hulle probleme hê om by die huis uit te kom. Dit het laas nag hoeka al kwaai gereën bo in die berg, en hierdie dreigende wolke voorspel nóg groot reën.”
“Het jy gepraat?” vra sy vrou, Millie, plotseling vanuit die deur toe sy nader kom met ’n skinkbord tee.
“Ek weet nie waar draai die kinders so nie. Bennie het mos gesê hulle gaan vroeg ry toe hy gisteraand daar van Oudtshoorn af gebel het, het hy nie? Jy weet, as hierdie wolke oopbars, is dit ’n kwessie van ’n uur en al die riviere is vol.”
“Ek het nooit aan die padverlegging hier onder in die drif gedink nie, weet jy, Daan. Bennie sal mos nooit daar kan deur as die spruit afkom nie.”
“Dis wat my bekommer, vrou. Maar hoor hier, is dit nie ’n motor wat nou daar op die oorkantste bult verskyn het nie?”
“Dit lyk so. Wag, ek gaan gou ’n kam deur my hare trek. Ons moet mos darem indruk maak op Bennie se vriendin.”
Oom Daan glimlag toe hy hoor hoe tant Millie links en regs bevele daar in die kombuis vir die huishulp gee voordat sy kamer toe trippel met die gang langs. Dit is nogal ’n belangrike gebeurtenis wat vandag plaasvind, dink hy by homself. Dit is die heel eerste meisie wat Bennie huis toe bring. Gits, wat is haar naam nou weer? Ai, hy is tog so sleg wanneer dit by die onthou van name kom. Maar dis ook darem seker nie die ergste nie. Bennie sal haar tog mos voorstel, dink hy terwyl hy gretig die motor op die stoep gaan inwag. Die motor het ook skaars stilgehou, toe maak hy galant die meisie se deur vir haar oop.
Sy gaan van hierdie omie met sy goedige gesig hou, is Jessica se eerste gedagte toe sy uitklim en die oom sy uitgestrekte hand neem. Al is hy die pa van ’n skobbejakseun soos Bennie de Lange!
“Jessica, dis nou my pa, Daan de Lange, en pa, Jessica Pretorius,” stel Bennie haar vinnig voor.
“Aangename kennis, Jessica,” sê oom Daan. En toe fronsend: “Jessica? Hoekom het ek dan nou gedink jou naam is Julia?”
Tant Millie, wat net betyds by hulle aansluit om haar man se vraag te hoor, wens sy kon hom ’n oorveeg gee. Kyk net hoe verbouereerd het hy die arme ou meisietjie nou. Sy’t glads verbleek! “Ek is tannie Millie, my kind. Verskoon tog maar die oom. Hy is hopeloos met name. Hy’t jou nou sommermaar verwar met iemand anders. Stap solank binne. James kan julle tasse bring.”
Hulle jok vir haar, flits dit deur Jessica se gedagtes terwyl sy staan en toekyk hoe Bennie liefderyk sy moeder omhels. Hulle weet van Julia. Hulle is almal kop in een mus.
En later, terwyl hulle sit en tee drink in die sitkamer, het sy steeds moeite om haar ergernis en ontsteltenis te verberg.
Kyk net die skynheiligheid! dink sy bitter. Bennie wat met sy pa oor die koop van Geluk praat asof hy nie weet van die bestaan van ’n mens soos Julia Mouton nie! Asof sy, Jessica, nie met haar eie oë die skrik op sy gesig gesien het toe sy pa netnou hier buite so uit sy beurt haar naam genoem het nie. En luister net na tannie Millie se oordrewe vriendelikheid. Asof sy glo sy gaan daarmee vir haar, Jessica, koop vir haar seun, sodat Julia hom nie meer kan dwing om met háár te trou nie.
“Ek babbel so baie, maar jy is seker moeg, nè, Jessica? Sodra jy jou tee gedrink het, kan jy gerus ’n bietjie in jou kamer gaan lê en ontspan. Ek sal jou laat roep sodra middagete gereed is. Het jy dit geniet op Oudtshoorn? Die volstruisryery?”
“O, ja. Dit was regtig ’n ondervinding!” hou sy ook maar ’n front van vriendelikheid voor, maar haar verstand werk oortyd. As hulle dink hulle gaan haar in hierdie huis gevange hou totdat hulle haar dwing om Bennie de Lange se vrou te word, maak hulle ’n groot fout. Maar sy sal haar kans mooi afwag.
Die kans kom toe baie gouer as wat sy verwag het, want terwyl sy broeiend by haar kamervenster staan en uittuur na buite, sien sy Bennie en sy ouers oor die werf stap na ’n skuur toe wat ’n hele ent van die huis af is. Blitsig is sy by die telefoon wat sy al met die intrapslag daar in die gang raakgesien het.
“Mart Steenkamp se losieshuis,” gee iemand oplaas antwoord.
“Kan ek met tant Mart praat, asseblief? Dis dringend!”
“Met Mart? Haai, Jessica, is dit dan nie jy nie, kind? Dis tannie Sofie hier. Mart en Joos is vinnig hier weg gisteroggend. Haai, kind, leef jy darem nog?”
“Tannie Sofie, asseblief, ek moet dringend met tant Mart praat! Roep haar asseblief dadelik!”
“Maar, kind, hulle is mos nie hier nie. Hulle is dan gisteroggend al hier weg.”
“Tant Sofie, waarheen is hulle?” val Jessica die oumens vinnig in die rede.
“Nee, dit weet ek nou nie. Ek weet net hulle is op soek na jou.”
“Hulle soek na my? Hoekom soek hulle na my?”
“Omdat jou lewe in gevaar is. Weet jy dan nie dat daardie mansmens wat jou ontvoer het, ’n skelm is nie? Jy moet tog versigtig wees, kind. En Mart het gesê dat Julia jou ook glo soek om te vermoor. Waar is jy?”
“Tannie, luister nou baie mooi. Ek word gevange gehou hier in Knysna se distrik op ’n plaas met die naam van Doupan. Ek gaan egter nou probeer om te ontsnap. Sê vir oom Josie hy moet my kom haal. Ek sal in die veld gaan skuil, maar ek sal die pad dophou en hom voorkeer voordat hy die opstal bereik. Verstaan tannie?”
“Ja, maar ek weet nie wanneer ek ou Joos en Mart weer gaan sien nie. Maar hulle sal altemit vanaand bel, dan sal ek hom sê.”
“Ek kan nie langer praat nie, tannie Sofie. Ek is bang die mense betrap my by die foon. Sê net vir oom Josie hy moet gou kom.”
Jessica se selfvoldaanheid oor die boodskap wat sy darem kon deurgee, is van korte duur, want toe sy wegdraai van die telefoon, staan tant Millie se huishulp fronsend agter haar.
“Goeiemiddag,” groet sy verbouereerd en forseer haar gesigspiere in ’n glimlag. “Ek is jammer oor die ongevraagde gebruik van die telefoon, hoor. Wag, hier is geld,” en sy dolwe sommer ’n hele handvol note uit haar handsak. “Gee dit vir jou mense,” en toe haas sy haar terug kamer toe.
Bennie se ouers is nog besig daar by die skuur. Dit lyk asof hulle besig is om ’n klompie hanslammers bymekaar te maak en die skuur in te jaag. Toe sy egter die huishulp oor die werf sien draf op pad daarheen, talm sy nie ’n oomblik langer nie. Met haar ligte tassie in die hand bestorm sy die agterdeur. Daar is, gode sy dank, geen siel in sig nie. Sy sal die naaste bosse kan haal sonder dat hulle haar van die skuur af kan sien.
“Daar’s hy nou, nou kan die reën maar kom,” sê Bennie se pa tevrede toe hy die skuur se deur toemaak. “As James nie gepraat het nie, het ek skoon vergeet van die hanslammers en paar angorabokke. Julle weet, ek dink dis groot reëns hierdie.”
“Ja, dit lyk so,” antwoord Bennie met sy blik op die dreigende donker wolke bo hul koppe. “Ons gaan afgesny wees van die buitewêreld as dit regtig reën, Pa weet, nè? Met die brug wat nog in aanbou is en die padverlegging by die drif.”
“Dis hoekom ek so ongeduldig was dat julle moes kom. Jy weet hoe vinnig kom die spruite en die rivier af wanneer dit reën. En hulle het alreeds water van gisteraand en laas nag se bietjie reën.”
“Sodra julle mans julle hande gewas het, kan ons maar gaan eet. Bennie, sal jy vir Jessica gaan roep vir ete wanneer jy klaar is?”
“Goed, Ma.” En toe draai hy fronsend na sy pa. “Waar kom Pa vaneffe daaraan om vir Jessica te sê Pa het gedink haar naam is Julia?”
Oom Daan krap sy kop. “Maar het jy dan nie in daardie brief wat jy van Biesiesdal af geskryf het, iets geskryf van ’n Julia wat darem sorg dat jy af en toe iets in jou maag kry nie?”
Bennie knik sy kop gelate. “Ja, ek het, Pa. Maar Jessica weet nie eens ek ken vir Julia nie. Dis ook nie nodig dat sy moet weet ek ken Julia nie. Netnou glo sy ek het ’n dieper verhouding met Julia gehad of so iets. Ek wil nie hê my toekomstige vrou moet dink ek hou my met Julia se soort op nie. Pa sou verstaan het wat ek bedoel as pa Julia moes sien.”
“Ag, toe maar, dis nie so erg nie, my seun,” paai tant Millie. “Ek het die ding mos darem reggepraat. Toe, loop was nou julle hande!”
“Joos, jy moet kom dat ons kan ry,” skud tant Mart vir oom Josie uit sy slaap. “Dit gaan reën. Hier het al twee yslike druppels op die voorruit geplof. Netnoumaar val ons vas hier in die modderpaaie.”
“Hoekom het jy my so lank laat slaap? Dis dan al skemer buite?”
“Dis g’n skemer nie. Dis die donker wolke wat dit so dynserig maak daar buite. Maar as ons langer hier sit, sal die nag ons vang.”
“Ek moet jou sê, ek voel nou skoon ’n ander mens,” sê oom Josie toe hy uiteindelik agter die stuurwiel inskuif. “Daardie pille doen wondere.”
“Watse pille ís dit, Josie? Is dit regtig vir … vir jy weet wat?”
“O, ja. Wil jy nie ook een probeer nie?” terg hy haar. “Ou Mart, as hulle vir ons van daardie pille gee, en hulle gooi ons weer saam in ’n dubbelkamer, dan gaan die vonke spat.”
“Joos!” sê tant Mart skerp. “Watse stuitigheid is dit nou met jou? Ek ken jou mos nie so nie!”
“Pasop dat jy my nie eersdaags vir die eerste keer regtig leer ken nie. Toe, nou moet jy jou oë oophou vir die naambord. Jy moenie dat ons weer verbyry nie, my dier.”
Tant Mart is skielik maar te dankbaar dat sy ’n rede het om haar kop weg te draai, want as ou Josie moet sien hoe sy woorde haar laat bloos!
“Is ons nie nou net verby ’n naambord nie, Mart?”
“Ja, maar dis weer daardie spoggerige een.”
Oom Josie trap rem dat die bande skuif. “Maar wie sê vir jou dis nie die pad Doupan toe nie?”
“Hoe moet ek weet? Jy jaag dan soos die duiwel verby. G’n mens kan so vinnig lees wat daar geskryf staan nie.”
“Dis hy!” sê oom Josie verras toe hy terugstoot. “Kyk, daar staan die naam yslik groot geskryf.”
“Dit kan ek ook nóú sien,” sê tant Mart. “Maar ek verstaan nie hoekom hulle so ’n deftige naambord het vir hul plaas as hulle sommer ’n hierjy-spul is nie.”
“Onthou, dit was maar ons eie gedagtes, ou Mart. Miskien hét hulle geld.”
“Jy meen hulle kan dalk belangrike mense wees, Josie?”
“Ons sal nou-nou uitvind. Maar belangrik ofte nie, as hulle iets aan ons ou doggie gedoen het, gaan hulle met mý te doen kry.
“Joos, as dit die huis is wat daar oorkant sit, dan ís hierdie mense nie ’n hierjy-spul nie. Dis dan ’n dubbelverdiepinghuis.”
Oom Josie se bravade krimp aansienlik toe hy voor die groot, moderne woning stilhou. Ook tant Mart deins weg van soveel weelde.
“Kyk net die tuin, Josie! Dit lyk dan soos ’n park. Spuitfonteine, die lot! Ek hoef seker nie af te klim nie, nè?”
“Natuurlik klim jy af.”
“Ek kan nie, Joos. Ek het dan nog dieselfde rok aan wat ek gister aangehad het.”
Maar haar woorde is skaars koud toe Bennie se pa hulle reeds by die motor tegemoetkom.
“Goeiemiddag. Daan de Lange,” reik hy oom Josie eerste die hand. “Het u dalk verdwaal, of …”
“Ja,” sê tant Mart vinnig.
“Nee,” sê oom Josie. “Nee, ons het nie verdwaal nie. Ons is op soek na Bennie de Lange.”
“Dis my seun. Hy is hier binne. Kom. Klim uit, dan gaan roep ek hom vir u.”
Oom Josie en tant Mart klim strammerig uit en volg hom na die sitkamer.
“Sit so ’n bietjie,” nooi hy hulle vriendelik, en roep sommer ook sy vrou nader. Na ’n oor-en-weer-bekendstellery vra hy om verskoon te word terwyl hy Bennie gaan roep.
Tant Millie skakel die lig aan voordat sy teenoor hulle plaasneem. “Dit lyk asof dit enige oomblik kan begin reën,” begin sy gesprek voer, maar staar dan skielik intens na oom Josie se gesig. “Het u gesê u van is Landman? Josie Landman? Maar hoor hier, dan is jy mos niemand anders as Duiweltjie nie?”
“Einste!” roep oom Josie verras uit. “En jy was Millie Cronjé. Ek wou mos sê jy lyk vir my bekend.”
“My hene, Duiweltjie, en wat bring jou vandag hier? Dis darem jare wat ons mekaar laas gesien het, is dit nie?”
“Skooldae laas.”
“En is Mart … is sy jou … vriendin?” vra tant Millie tongknopend, want sy’t amper vergeet dat tant Mart mos op ’n ander van aan haar voorgestel is.
“My vriendin? Nee, gelukkig is die ou dierasie niks van my nie. Ons ken mekaar maar net toevallig deur die dogter wat ons saam grootgemaak het.”
Dié verduideliking verstaan tant Millie nie, dus begin sy met oom Josie gesels oor hulle skooldae op Beaufort-Wes.
Tant Mart is bestorwe. Asof dit nie genoeg is dat sy so asvaal en nederig in vergelyking met hierdie deftige Millie voel nie, word sy nog ’n ou dierasie ook genoem. En die troetelnaam van Duiweltjie wat die Millie-vroumens aanhoudend besig, staan haar ook nie aan nie. Joos is Joos. Watse Duiweltjie-besigheid is dit dié? En luister net vir ou Joos. So soetsappig dat ’n mens kan stik daaraan. ’n Mens sal nooit kon dink hy is nie op ’n welwillendheidsbesoek hier nie!
Haar iesegrimmige gedagtes word onderbreek toe oom Daan die vertrek binnekom en hy by hulle plaasneem.
“Bennie sal seker nou terug wees. Hy’t net gou gaan kyk waar sy vriendinnetjie rondloop. Sy was nie netnou in haar kamer toe hy haar gaan roep vir ete nie,” wend hy die laaste sin tot sy vrou.
“Dis so koud om buite rond te loop. Ek het gedink sy sou verkies om ’n bietjie te rus. Sy’t vir my so bleek en moeg gelyk.”
Uiteindelik onthou oom Joos darem hoekom hy hier is, en hy skraap sy keel amegtig. Hy skuif ook ongemaklik rond in sy stoel.
“Mense, ja, dis eintlik ’n netelige sakie waaroor ek hier is. Ek en Mart. Die meisietjie waarvan julle praat, haar naam is nie straks Jessica Pretorius nie?”
“Ja, dis sy!” roep tant Millie verras uit. “Ken julle haar dan?”
“Dis my dogter,” sê oom Josie.
“Eintlik is sy mý dogter,” sê tant Mart beslis, en werp ’n uitdagende blik na oom Josie.
Dit noodsaak hom om eers te verduidelik hoe die vurk in die hef steek voordat hy by sy doelwit kan kom. “En nou weet ek nie wat julle planne is met my dogter nie, maar ek vat haar nou terug Biesiesdal toe. Julle kan vergeet daarvan dat sy met julle Bennie sal trou. Ek is jammer om dit nou in jul gesigte vir julle te sê, maar ek sal nie toelaat dat my dogter met ’n man trou wat ’n kind by ’n ander vrou het nie. En as ek haar nie ongeskonde terugkry hier vandag nie, gaan ek Bennie ry tot binne-in Daantjie se kalwerhok!”
Tant Millie word doodsbleek. Insinueer Joos dat Bennie ’n kind het? Dis mos bog? Ook oom Daan snap nie onmiddellik nie, maar toe hy wel snap wat oom Joos bedoel, spring hy loshande uit sy stoel uit op. “Watse nonsens praat jy nou? My Bennie, ’n kind by ’n vrou? Belaglik!”
“Nee,” kom tant Mart ook tussenbeide, “dis nie belaglik nie, dis die waarheid. Julia Mouton het met haar eie mond vir ons gesê Bennie is die pa van haar kind.”
“Julia Mouton? Is dit nie die meisiekind waarvan Bennie geskryf het nie, vrou?” vra oom Daan vertwyfelend.
“Hy het van ’n Julia Mouton geskryf, ja, maar sy kan nie ’n kind van hom hê nie. Sy kan nog nie eens weet of sy ’n kind van hom verwag nie, al sou sy … Dis onmoontlik! Bennie is dan twee weke gelede eers hier weg Biesiesdal toe. En hy’t dan uitdruklik geskryf hy’t haar daar eers ontmoet. Hoe kan sy dan nou al weet of sy ’n kind van hom verwag?”
“Al wie ons regtig sal kan sê wat aangaan, is Bennie. Wag, ek loop soek hom,” sê oom Daan dan ook en kies dadelik koers na buite. Maar hy is net by die deur uit toe hy moet terugdraf. Want geeneen sal dit na buite waag in die siedende storm wat so skielik tot uitbarsting gekom het as hy nie daarvoor toegerus is nie.
Jessica skrik toe ’n groot reëndruppel haar op die neus tref, en toe nog een, en nog een! Sy kyk verskrik in die lug op en word yskoud van vrees toe sy die donker wolke sien. Miskien moet sy hoër op klim, daar na die rotse se kant toe. Maar sal sy van daar af nog die pad na die plaas kan dophou? Dalk tog. En buitendien, oom Josie kan dalk eers môre hier opdaag. Sy sal móét skuiling soek vir die nag.
Toe die storm se geweld oor haar losbars, is sy onmiddellik deurweek, maar sy strompel moeisaam verder die berg uit. Omdraai sal sy waaragtig nie, al verkluim sy ook vannag hier in die berg. Dit sal verkiesliker wees as om weer in daardie bedrieër se gesig vas te kyk.
Bennie wonder of hy nie moet terugdraai huis toe nie, maar steek dan plotseling vas. Nog ’n vars geknakte takkie. Dan kan sy mos nie te ver hiervandaan wees nie? Vir die soveelste keer oorweeg hy dit om haar te roep, maar besluit weer eens daarteen. As dit waar is wat Fayetjie hom vertel het van die telefoongesprek, gaan sy tog nie antwoord op sy oproep nie. En omdraai kan hy nie, nie as hy weet sy is alleen hier in die berg nie. Toe sit hy maar sy soektog voort, druipnat en bekommerd. As hy haar nie baie gou kry nie, kan hulle vergeet om vandag weer die huis te haal. Hy ken hierdie spruit. Binne ’n uur of wat sal niemand daar kan deur nie. Dit het reeds water gehad toe hy so pas daar deur is.
Al een wat weet watter kant toe hy geloop het, is Fayetjie. Hy hoop tog net sy sê vir sy ouers daarvan. Om in die berg te oornag as dit moet, is nie die ergste nie. Maar hy moet Jessica in die hande kry. Sy weet nie van die grot nie en sal verkluim as sy nie gevind word nie. Moet hy nie maar roep nie? Dalk antwoord sy tog. As sy net nie so onvoorspelbaar is nie. Maar sy’s kapabel en lei hom van die spoor af as sy weet sy word agtervolg. Ag, as hy net geweet het wat sy bedoel het met ontsnap van Doupan af.
Nog ’n geknakte takkie. Dan is hy steeds op die regte spoor. Toe hy sy soektog voortsit, bepeins hy weer Fayetjie se vertelling van Jessica se telefoongesprek. Volgens Fayetjie het sy met iemand gepraat vir wie sy “tannie” gesê het van haar plan om te ontsnap van Doupan af, en ’n pad wat sy sal dophou wanneer iemand haar moet kom haal. Hoekom sy van Doupan af wil ontsnap, kan hy nie verstaan nie. Sou sy dan waaragtig so verlief wees op daardie javel by wie hy haar die vorige aand op Oudtshoorn betrap het dat sy dalk wil wegloop saam met die vent? Dis al gevolgtrekking waartoe hy kom. Sy’t natuurlik ’n afspraak met hom gemaak om haar hier iewers te kom oplaai.
Bennie sug. As hy geweet het sy’s so erg oor die vent, sou hy haar sweerlik net daar op Oudtshoorn gelos het. Dan was al hierdie drama nie nodig nie. Sou hy haar werklik daar by die bierpens gelos het? Nee, hy sou nie. Hy is nie haar soort nie, vervlaks! Jessica is sýne. Of sy dit nou wil weet of nie, maar hy gaan nog eendag met haar trou. Sy sal maar net moet leer om haar liefde vir daardie ander ou af te sterf. En as daardie skepsel dit waag om sy voete hier op Doupan te sit, sal hy beslis nie weer so lig daarvan afkom soos gisteraand daar op Oudtshoorn nie!
Hy weet nou nog nie hoekom hy nie sy nek vir hom gebreek het nie. Blommetjie. Om Jessica te wil staan en “blommetjie”! Kom nou, blommetjie. Kom ons gaan maak ’n dop en vergeet van die wêreld, stu die woorde weer deur Bennie se gedagtes en hy los sommer ’n kragwoord. Wat besiel Jessica om met so ’n walglike vent om te gaan?
Van skone ergernis kyk hy nie waar hy trap nie en beland met ’n slag teen die grond. ’n Pyn skiet deur sy heup waar die rewolwer hom tref en hy haal dit versigtig uit sy sak om seker te maak dat die veiligheidsknip nog op is. ’n Ongeluk gebeur so maklik, dink hy toe hy opstaan. Hy sal versigtiger moet wees. Maar die rewolwer kon hy nie by die huis los nie. Dis die eerste ding waaraan hy gedink het toe Fayetjie hom ingelig het van Jessica se planne. Dit kan gevaarlik wees om hier in die berg rond te klouter. Hier was al voorheen luiperds, en hier kan rondlopers ook wees. Die rewolwer kan ook dien as kommunikasie met die huis.
Hoekom Fayetjie versuim het om hulle te vertel van Jessica se telefoongesprek, weet hy nie. Eers toe hy haar vra of sy nie vir Jessica gesien het nie, het sy met die inligting vorendag gekom en die geld wat Jessica vir haar gegee het, aan hom oorhandig. Maar hy ken vir Fayetjie. Jy kan haar maklik omkoop om stil te bly. As kinders het hy en sy broer, Marius, haar mond maklik gesnoer deur haar ’n paar sente te gee om stil te bly sodat hul ouers nie moes uitvind van hul kwajongstreke nie. En dis nou duidelik dat Jessica heeltemal desperaat is om by daardie onaangename skobbejak uit te kom. Die mislike vent! Om te dink sy’t net haar kans afgewag om hom te bel. Hy moes kon dink sy het net té plotseling inskiklik geraak daar by die indraaipad na Doupan. Sy’t toe reeds haar planne agtermekaar gehad. Pleks dat hy tog maar vir Piet daar by die kafee vertel het hoe die storie van die ontvoering nou eintlik werk. Dat dit sy naamgenoot is vir wie hulle soek, maar dit sou te veel tyd in beslag geneem het. Hy kon mos sien Jessica sit gereed om op die vlug te slaan.
Jessica snuif hardop en druk haar lyf vaster teen die rotse agter haar. Nou het sy haar laaste bietjie verliefdheid op Bennie de Lange ook uitgehuil. Van nou af is sy vir ewig en altyd klaar met al wat ’n man is! Kyk net waarin het die addergebroedsel haar laat beland! Hier sit sy in ’n berg, kilometers van Biesiesdal af, en halfpad verkluim. Waternat boonop. En om terug te gaan na die plaas toe daar oorkant? So nimmer as te nooit nie!
Sy snuif weer eens selfbejammerend, en klap ergerlik die rysmier wat teen haar kom skuiling soek, van haar langbroek af. Voor sy teruggaan, laat sy liewer toe dat die rysmiere en bobbejane … Wat raas so hier skuins agter haar? Praat van die duiwel!
Die volgende oomblik seil sy so blitsig soos ’n geelslang onder die rotsblok uit. Haar bloedstollende gille klief deur die lug toe sy soos ’n besetene deur die ruigtes hardloop. Dit smaak haar sy voel die bobbejaan se asem in haar nek! Maar toe haak haar voet vas, en ’n genadige duisternis sak oor haar toe as sy die nat aarde tref.