Читать книгу Elza Rademeyer Omnibus 4 - Elza Rademeyer - Страница 8
5
ОглавлениеDaar heers ’n ongemaklike, gespanne stilte in die sitkamer van die De Langes. Buite giet die reën onophoudelik, asof met emmers gegooi, op die aarde neer. Daan de Lange kan die stilte net nie meer verduur nie en hy kom orent van die stoel.
“Ek weet wat julle dink. Julle dink Bennie het haar hier weg en nou kruip hulle weg oor hulle julle motor hier buite gesien het. Maar ek glo dit nie. My seun is nie so ’n soort mens nie. Al het hy ook verbrou, sal hy mans genoeg wees om vorendag te kom en sy kant van die saak te stel. Millie, waar’s Fayetjie?”
“Sy’t netnou daar in die kombuis voor die stoof gesit en slaap, maar hoekom vra jy?”
“Ek wil haar gaan sê om James te gaan roep. Hy moet die werksmense aansê om die kinders te soek. Netnou het hulle dalk deur die spruit gefoeter.”
Die ander kyk in stilte toe terwyl hy deur die venster gluur asof hy hoop om dwarsdeur die reënsluiers te sien. Toe draai hy weg en hulle luister in stilte hoe sy swaar voetstappe wegraak in die gang.
“Fayetjie, word wakker. Ek wil hê jy moet vir James gaan roep.”
Fayetjie kom traag orent en vee vakerig deur haar oë. “En wanneer eet ons vandag? Die kos is al vergete koud.”
“Na die duiwel met die kos! Bennie en daardie meisiekind is nou iewers daar buite. Ons moet hulle eers gaan soek.”
“Meneer Bennie is mos weg om haar te gaan soek. Hy sal haar kry. Sy’s deur die spruit met die berg op.”
“Hoe weet jy dit?”
“Ek het meneer Bennie gesien loop tot daar oorkant die spruit, maar toe raak die mistigheid te dik. Meneer weet van juffrou se pratery oor die telefoon?”
“Waarvan praat jy nou?”
Fayetjie se vertelling bring oom Daan net in die war. Ontsnap van Doupan af?
“Maar ek het vir meneer Bennie ook vertel, en meneer Bennie het toe sy rewolwer gaan haal. Toe is hy weg agter die juffrou aan, so sy sal dit nie regkry om te ontsnap nie.”
Iets is bepaald nie pluis nie, dring dit tot oom Daan deur. Sou daar nie dalk iets met die meisiekind se verstand verkeerd wees nie? Hy sal moet uitvind by oom Josie en tant Mart. Die inligting wat Fayetjie hom gegee het, gaan hy beslis ook nie alles aan hulle daar binne oordra nie. Veral Millie kan juis so maklik op loop gaan met ’n ding.
Al wat hy hulle dan ook meedeel, is dat Fayetjie vir Bennie en Jessica aan die ander kant van die spruit sien loop het. Hy hoop maar hy sal vergewe word vir die halwe waarheid, maar hoekom sal hy dan nou almal op hol jaag oor ’n ding wat dalk betekenisloos is?
“Dis nes die jongmense van vandag is,” val tant Millie nogtans dadelik weg. “Dit sal my nie verbaas as Bennie vir haar die grot in die berg gaan wys het nie. Nou het die reën hulle natuurlik daar oorval. En sal hulle nou ooit daaraan dink dat die spruit gaan afkom?”
“Wel, as hulle nou nog daar is, gaan hulle in elk geval nie meer betyds die huis haal nie. Jy moet hoor hoe raas die spruit al klaar.”
Tant Mart kyk bekommerd van die een na die ander. “En as hulle nie meer deur die spruit kan kom nie?”
“Dan bly daar net een uitweg oor,” antwoord oom Daan haar. “Dan sal hulle maar in die grot moet slaap.”
“Maar hulle sal mos verkluim,” sê tant Mart ontsteld.
“Nee, verkluim sal hulle nie. Daar is baie hout in die grot. Daar sal selfs ’n paar komberse wees. My werksmense het die grot al gerieflik ingerig. Hulle oornag gereeld daar wanneer hulle die lyndrade herstel of voorbrande maak. Ek weet net nie van kos nie.”
“Van kos gepraat,” sê tant Millie. “Ons middagete staan nog net so op die tafel.”
“Ons hou dit maar vir aandete. Dis tog klaar amper aand.”
“Dis waar,” gee tant Millie toe. “Die tyd stap aan,” en toe vra sy om verskoon te word sodat sy die bakke kan gaan terugsit in die oond.
Oom Daan benut dadelik die tyd om meer uit te vind omtrent Jessica. “Is Jessica ’n goeie kind, Mart? Ek meen, is sy darem nou erkentlik oor die feit dat julle haar eintlik tog maar grootgemaak het?”
Toe verneem hy watter goeie kind Jessica regtig is! Hy word ingelig van die dag wat haar ouers verongeluk het, dwarsdeur haar skoolloopbaan, deur haar studie as onderwyseres in die Paarl, tot by die motor wat sy in die kompetisie gewen het.
Toe tant Millie stilbly om asem te skep, val oom Josie weer weg. Hy lig oom Daan breedvoerig in oor die ontmoeting tussen Jessica en Bennie, en hoe dit gekom het dat Julia Mouton in die slaghuis kom sê het dat sy ’n kind het, of ’n kind van Bennie verwag.
“Sy’t so vinnig en deurmekaar gepraat dat ek en Mart nie seker is of sy gesê het sy het al die kind, of sy verwag nog die kind nie. Nè, Mart?”
“Nee, ek is ook nie meer seker hoe sy dit gestel het nie, maar ek onthou goed sy’t gesê Bennie is die pa van haar kind.”
“En Jessica? Hoe goed ken sy en Julia mekaar?” vra oom Daan.
“So op ’n manier,” antwoord tant Mart hom. “Soos mense op ’n klein plekkie maar weet van die een en die ander. Julia is ook jonger as Jessica. Sy’t mos verlede jaar eers klaargemaak met skool, dus was hulle nog nooit juis maats nie. Dié Julia is ook so anders. Altyd neus in die lug, nes haar ma.”
“Mart, kom nou. Dis nie nodig om die mense sleg te sê nie,” berispe oom Josie haar.
“Maar dis waar. Tilla Mouton groet g’n mens op straat nie. Sy sal dwarsdeur jou kyk en maak of sy jou nie raaksien nie. En raai, haar man is tog nie so nie. Hy’s ’n oudsenator, maar hy is so nederig en plat op die aarde as kan kom.”
Tant Millie bring weer koffie, en so algaande begin die geselskap tog vlot, al is die kommer oor Bennie en Jessica in almal se gedagtes.
Jessica se eerste gedagte toe sy haar bewussyn na ’n paar minute herwin, is dat sy koud kry en sy wonder hoekom. Sou sy vergeet het om ekstra komberse oor haar bed te gooi? Traag om werklik deur die slaapnewels te dring, tas sy met haar linkerhand na die laken. Dis dan nat, en kleierig? Nuuskierigheid dwing haar om deur haar wimpers te loer. Wat is so swart hier by haar? En met dié wat die swart voorwerp roer, kom die onthou terug.
Haar rug span stokstyf van vrees. Die bobbejaan is hier by haar! Om die waarheid te sê, hy’s besig om met haar klere te vroetel! Sy knyp haar oë styf toe en waag dit skaars om asem te haal. Dalk los hy haar as sy haar dood hou. ’n Bobbejaan sal tog seker nie dooie mensvleis eet nie? Maar dis nie so maklik om jou dood te hou as jou hele liggaam rittel en beef van vrees nie! Sy kan maar net woordeloos bid dat die bobbejaan moet dink dis haar laaste stuiptrekkings.
In haar hele lewe was sy nog nooit so naby aan ’n bobbejaan nie, dink Jessica angsbevange. Sy hoor tot elke asemteug wat hy gee, en toe sy voel hoe sy vingers haar kopvel begin betas, sak haar moed tot in haar skoene. As sy tog maar luise het! Maar hy gaan waaragtig nie ’n gogga op haar kop kry nie. En dan? Sal hy nie uit skone frustrasie aan haar begin vreet nie?
Hy’t gou ontdek daar is nie kos vir hom op haar kop nie, dink sy bang toe sy voel hoe sy kloue weer aan haar klere begin pluk. Maar so deur haar vrees heen kry sy ook respek vir die bobbejaan, want hy werk eintlik sagkens met haar. Amper versigtig. Soos ’n dokter wat sy pasiënt ondersoek. Sou bobbejane ook hul eie dokters hê? Hierdie een is dan beslis een, want dis baie duidelik dat hy intens in haar anatomie belangstel. Hy knak dan selfs haar knieë. Maar toe hy haar polsslag voel, is dit vir Jessica darem net te goed om waar te wees. Niemand gaan haar ooit glo nie! Selfs nie as sy oorleef om dit te vertel nie!
Sy loer versigtig deur haar wimpers. Algaande rek haar oë wyer en wyer totdat sy begogel lê en staar. Hierdie bobbejaan het dan ’n agterkop nes ’n mens. Eers toe hy sy kop draai en direk in haar oë kyk, dring die besef tot haar deur dat dit g’n kees se kind is nie. Dis dan Bennie!
“Het jy seergekry?”
Sy besorgde stem dring egter nie tot haar deur nie, want sy verander ineens in ’n vegtende tierwyfie. “Los my!”
“Jessica!” Sy stem klap soos ’n sweepslag teen haar ore vas. En toe hy haar hardhandig teen die grond vaspen, sy oë soos vuurspuwende berge in hare, skrik sy haar skoon verwese.
“Dis nou genoeg! Net mooi genoeg! Wat de duiwel is dit met jou? As ek nie van beter geweet het nie, sou ek kon sweer jy ly aan hondsdolheid. Praat, vroumens! Watse ontsnap-storie is dit hierdie van jou?”
Die woorde kom sissend tot haar. En toe sy nie onmiddellik reageer nie, word sy geskud tot haar tande op mekaar klap.
“Praat! Van wie af wat probeer jy ontsnap?”
“Van jou,” kom haar antwoord uiteindelik gelate.
“Van mý af! Hoekom? Om saam met daardie bierpens-minnaar van jou weg te loop?”
Hy glo sowaar vas sy en daardie Charlie-vent het ’n verhouding! flits dit deur haar gedagtes. Wel, laat hom glo net wat hy wil! Sy pers haar lippe saam.
“Jessica, in hemelsnaam! Ons is albei deurweek en koud. Ek is nie van plan om die hele nag ook hier in die reën deur te bring nie. Verduidelik net vir my waarom jy so verander het sedert jy gisteraand met daardie lieplapper deurmekaar was. Watse houvas het die skepsel op jou? Of glo jy werklik dat jy hom liefhet?”
“Hoekom mag ek hom nie liefhê nie?”
Sy greep verslap. “Dan is dit so?”
Hoekom verander Bennie se gesig dan nou so skielik? Kan dit pyn wees was sy daar in sy oë sien? Haar hart dreig om te verkrummel, maar sy staal haar daarteen. “Ek het seker die reg om lief te hê wie ek wil liefhê? Net soos jy die reg het om kinders te verwek by wie jy wil!”
Daar keep ’n frons in sy oë. “Waarvan praat jy nou? By wie verwek ek kinders?”
’n Skor laggie ontsnap deur haar lippe. “Julia Mouton, as ek jou dan móét herinner.” Toe vlieg sy op en vlug ylings van hom af weg, haar oë nat van die trane.
Verbystering maak hom kragteloos en hy sluit sy oë tam vir ’n paar oomblikke. Dan weet Jessica van Julia. Maar hoe? Julia verwag tog nie regtig sý kind nie! Gisteraand, daar op Oudtshoorn … Kan dit wees dat Julia na Jessica gegaan het terwyl hy gestort het? Toe hy onder die indruk was dat Julia haar ouers gaan skakel het soos hy haar aangeraai het? Sou sy Jessica loop wysmaak het dat dit sý kind is wat sy verwag?
“Vervlaks!” bulder hy toe die volle betekenis van Julia se dwase optrede hom tref. “Jessica, wag!”
Maar Jessica strompel gelate voort bergaf. Sy kan nou maar net sowel teruggaan huis toe. Die skulderkenning kon net so goed in ink op Bennie se gesig geskryf gestaan het, dink sy snikkend. Sy weet ook nie hoekom het sy hom nie al eerder vertel dat sy weet van hom en Julia nie. Omdat sy bly hoop het dat hy uit sy eie sou bieg voor haar? Omdat sy nog altyd die hoop bly koester het dat hy haar opreg liefhet, en nie net ’n ontsnappingsroete soek om nie met Julia in die eg te tree nie?
’n Rou snik ontsnap uit haar bors toe hy haar inhaal en saggies met haar praat.
“Jessica, my meisietjie, jy verstaan nie. Jy dink verkeerd, hoor. Maar ons moet nou eers uit die reën kom. Netnou word ons siek. Kom, ek sal by die huis alles aan jou verduidelik.”
Dog, toe hulle die spruit bereik, is dit met die eerste oogopslag duidelik dat hulle nie meer die oorkantste wal gaan haal sonder om meegesleur te word deur die siedende bruin watermassa nie.
“Ons sal nie hier kan deur nie,” sê Bennie eintlik meer tot homself as aan Jessica, en sy kyk verslae na hom.
“En nou?”
Die gedruis van water maak haar stem onhoorbaar, maar hy sien die verslaentheid op haar gesig en sy blik verteder toe hy sy arms om haar sluit en naby haar oor praat sodat sy hom kan hoor.
“Die water het ons afgesny van die huis. Ons sal weer moet bergop. Daar is ’n grot daar bo. Sien jy kans om te klim? Ek sal jou help.”
Haar blik beweeg hulpsoekend stroomop en stroomaf, maar dis baie duidelik dat hulle nooit die oorkantste oewer veilig kan bereik nie. Toe knik sy. Want anders kan sy doen? Uit frustrasie en pyn haarself in die kolkende watermassa werp? Nee, dan maar liewer ’n nag van pyn en hartseer in ’n grot saam met die man wat sy, ondanks alles, so verskriklik liefhet.
Dis ’n lang en moeisame tog die berg uit. Veral die laaste ent na die grot moet hulle met groot omsigtigheid klim, want die reënvlae en aandskemerte beperk hul uitsig so dat hulle niks verder as ’n meter voor hulle kan sien nie. Gelukkig ken Bennie die omgewing soos die palm van sy hand en hy ondersteun Jessica voortdurend. Toe hulle oplaas die ingang na die grot bereik, steek Jessica vertwyfeld vas.
“Moet ons hier in?” vra sy benoud en wys na die donker gat.
“Toe maar, dis nie so erg as wat dit lyk nie. Die grot is ruim binne. Dis net die tonnel hier voor wat so skrikwekkend geheimsinnig lyk. Ek sal eerste ingaan en net gaan seker maak of dit veilig is binne. Reg?”
Jessica knik en kyk hoe hy wegraak in die donkerte. Toe ’n vlermuis rakelings teen haar kop kom draai, los sy verskrik ’n gilletjie.
“Is daar fout?” hoor sy Bennie roep.
“Hier’s vlermuise!”
“Toe maar, hulle is onskadelik. Koes maar net.”
Dis makliker gesê as gedaan, veral as ’n mens op ’n smal rotslysie staan en die reptielagtige vlerkgedoentes sleep in pare teen jou gesig verby. Sy los ’n sug van dankbaarheid toe daar ’n skynsel van ’n flou liggie in die bek van die tonnel verskyn.
“Kom, ek help jou deur die tonnel.”
Jessica laat ook nie op haar wag om gehelp te word nie. Nog nooit was sy so dankbaar oor die bestaan van ’n ding soos ’n kers nie. En toe sy binne is, kyk sy verras om haar rond. Die grot lyk maar ’n bietjie spookagtig in die flikkerende kerslig, maar die plek ís ruim, en dis droog.
Bennie staan ook swyend en inspeksie doen. Dan grinnik hy opeens. “Wel, hier is ons. Sal ons dit Die Vyfster-hotel doop? Kyk, ons het darem hout, daar’s ’n paar komberse, ons het kerse, vuurhoutjies en selfs ’n waskom. Wat meer kan ’n mens begeer?”
Jessica trek so hard haar asem in dat Bennie vraend na haar kyk.
“My tas!”
“Jou tas? O, ons sal maar sonder ons tasse moet klaarkom.”
“Nee, man. Ek praat van my tas wat daar bly lê het. Daar waar die bobbejaan … waar jy my gejaag het. Ek het my tas daar vergeet!”
“Het jy ’n tas by jou gehad?” Sy knik. “Wat is daarin? As dit klere is, gaan dit buitendien nou sopnat wees.”
“Dit sal nie nat wees nie. Ek het dit onder ’n rotsblok ingeskuif. My tjekboek is daarin, my klere, en ’n bietjie kos,” erken sy verleë.
“Kos? Watse kos?”
“Sommer van die orige kos wat tant Mart vir ons ingepak het vir die pad en wat ons toe nie geëet het nie. En ek dink die droëkoekies en biltong wat oom Josie en tant Mart vir jou ouers saamgestuur het, is ook daarin.”
“Jessica, jy’s ’n skat! Luister, ek gaan gou ’n vuurtjie aanpak sodat jy droog kan kom. Ek dink die beste ding wat jy kan doen, is om ontslae te raak van daardie nat klere van jou. Ons kan dit hier by die vuur hang om droog te word. Het jy iets wat jy kan aantrek in daardie tas van jou?”
“Daar’s twee sweetpakke in as ek reg onthou.”
“Mooi. Een vir jou, en een vir my. Onderklere?”
Sy bloos. “Ja, maar ek weet nie of daar iets gaan wees wat vir jou gaan pas nie.”
“Dit maak nie saak nie. Solank daar net iets vir jou is.”
Toe die vuur begin brand, kom hy orent en kom staan digby haar. “Jessica, ek het nie ’n kind verwek by Julia nie. Sy verwag glo wel ’n baba, en sy’t my gevra om met haar te trou sodat sy vir haar kind ’n naam kan gee. Wat sy jou vertel het, weet ek nie. Daaroor kan ons netnou gesels nadat ek jou tas gaan haal het en ons eers warm en droog is, maar ek wil hê jy moet weet dat ek nog nooit op ’n intieme voet met Julia verkeer het nie, laat staan nog ’n baba verwek het! Glo jy my? Nee, moenie wegkyk nie. Kyk in my oë en sê vir my of jy dink ek lieg?”
Tot haar ontsteltenis skiet haar oë vol trane en sy sluk verbouereerd. Ag, kan sy hom nie maar glo nie? Maar hoe moet sy weet of hy die waarheid praat?
“Toe maar, jy hoef my nie te antwoord nie. Ek kan sien jy glo my nie. Verskoon my, ek is nou terug.”
Sy knip verslae haar trane weg toe hy deur die tonnel kruip en storm agterna. “Wag, Bennie!”
“Ja?” kom sy antwoord bot van buite en sy byt op haar onderlip.
“Sal jy regkom? Dis dan pikdonker buite. Moet jy nie liewer die tas los nie?”
Vir ’n paar tellings hoor sy net sy diep asemhaling iewers naby die bek van die grot.
“Jy hoef jou nie te bekommer oor my veiligheid nie, Jessica. Ek sal regkom, dankie. Ontklee jy jou maar en draai jou solank in een van die komberse toe. En bewaar jou as jy probeer wegkom!”
Die bitter klank in sy stem ontgaan haar nie. Weg is die bietjie gemeensaamheid van ’n rukkie gelede al weer, dink sy verslae toe sy omdraai en langs die vuur gaan hurk sodat die hitte die koue uit haar liggaam moet dryf. Maar hoe kan hy van haar verwag om hom te glo? Julia het dan gesê hy is die enigste vader vir haar kind. Vír haar kind? Ván haar kind? Hoe het Julia dit gestel? Die woorde was dan so vasgebrand in haar geheue. Hoekom weet sy dan nou nie meer nie?
’n Vonkie hoop vlam op in Jessica. Sê nou maar net dis soos Bennie sê? Dat dit nie sý kind is wat Julia verwag nie? Moet sy hom nie ’n kans gee om sy kant van die storie te vertel nie? Sy sou hom tog bitter graag wou glo!
Bennie is nie net bibberend van die koue toe hy uiteindelik terugkeer met haar tas nie, hy is nog ontevrede met haar ook.
“Hoekom het jy nie gemaak soos ek gesê het en jou nat klere uitgetrek nie? Wil jy hê ek moet boonop met siek mense sukkel?”
“En jy?” klim sy dadelik op haar perdjie. “Jy is seker te goed om siek te word. Ek is klaar feitlik droog.”
“Nee, ek is nie te goed om siek te word nie, maar ek is nie domastrant nie.” En voor haar verdwaasde oë begin hy sy nat klere afstroop.
Haar nek maak eintlik ’n klapgeluid toe sy vinnig haar kop wegdraai toe hy wraggieswaar sy broek ook begin uittrek.
“Haal daar ’n sweetpak vir my uit die tas uit,” beveel hy.
Sy voer sy bevel uit, maar het ’n probleem om dit aan hom te oorhandig sonder om na hom te kyk. Haar blik beweeg versigtig grondlangs tot dit sy voete vind, en sy skuif skaam nader. “Dè, vat dit.”
“Dankie. Ek sal jou nou-nou kom help om van jou klere ook ontslae te raak.”
“Dis nie nodig nie,” stamel sy verleë. “Ek sal self regkom.”
“Dan beter jy begin. Ek is honger. Ons moet eet wat daar te ete is, want ek wil gaan slaap.”
Jessica raap haastig haar onderklere en die orige sweetpak uit die tas en skarrel dan met ’n wantrouige blik oor haar skouer na die verste, donkerste hoekie in die grot. Sy bloos oor die forsgeboude borskas wat sy raakgesien het toe Bennie sy nat klere uitgetrek het. Die duiwel is darem maar listig, dink sy so by haarself. Hy wil haar dan al dwing om weer te kyk. “Voertsek!” snou sy hom egter sissend toe in die donker, en skrik haar heeltemal angsbevange toe hy op haar been spring.
“Help! Help!”
Haar gille sny deur murg en been en Bennie moet naarstig oorgaan tot aksie om te keer dat sy nie dwarsdeur die vuur hardloop nie.
“Toe maar, toe maar, Jessica, dit was seker maar net ’n vlermuis,” paai hy vertroostend, maar Jessica skud haar kop so hewig dat haar haarslierte hom in die gesig tref.
“Dit was ’n duiwelse ding! ’n Harige besigheid!”
“Wat het hy gemaak? Het hy oor jou hand gehardloop?”
“Oor my been! Hier, oor my …” Haar tirade breek stompaf, want Bennie kyk daar waar sy wys en al wat sy aan het is haar onderklere. Aarde, gaan tog oop en sluk my in! Heelhuids, bid sy vurig, maar haar gebedjie word nie verhoor nie en sy soek radeloos uitkomkans.
“Dit lyk nie asof hy jou gebyt het nie,” sê Bennie en hy klink so kalm dat Jessica wonder hoe gewoond hy dan is aan meisies in onderklere.
“En nou?” vra sy in ’n dun stemmetjie.
“Nou staan jy net hier doodstil tot ek jou klere uitgeskud en vir jou gebring het.” En hy voer die selfopgelegde takie voorwaar uit sonder om te blik of te bloos. Om alles te kroon, bring hy haar nat onderklere ook nog saam. Hy bring dit nie net saam nie, hy hang dit ook nog op oor die draad wat skuins agter die vuur gespan is. “Daar’s hy. Nou is ons ten minste weer droog. Nou kan jy kyk wat daar vir ons te ete is in jou tas.”
Sy kalm houding help Jessica om haar selfbeheersing te herwin, al bly sy pynlik aan die bloos as sy daaraan dink hoe skamel gekleed hy haar gesien het.
Bennie is ook verstandig genoeg om nie spottenderwys daarna te verwys nie, want hy vrees haar humeurtjie. Al sou hy wat wou gee om haar siel uit te trek! Want hy wil tog ook glo dat Jessica nie werklik so onverskillig teenoor hom staan as wat sy hom probeer wysmaak nie. Waarom het sy dan trane in haar oë gehad toe sy hom verwyt het oor die kind van Julia van wie hý dan nou kwansuis die pa sou wees? En daar was tog ’n tikkie besorgdheid in haar stem toe hy weg is om die tas te gaan haal.
Hy laat egter niks van sy vermoedens deurskemer nie, en hy hou hom ook oënskynlik onbewus van haar ondersoekende blik op hom wanneer sy haar verbeel dat hy dit nie raaksien nie.
“Toe, hier is nou vir ons ’n tafel reg langs die vuur. Watse dis het jy vir ons?”
“Jy het ’n keuse tussen sardiens, droë broodrolletjies, biltong, droëkoekies en nartjies.”
“Ek dink ons eet eers die broodrolletjies en sardiens. Die ander goed sal nie sommer bederf nie, en ons weet nie hoe lank ons hier sal moet vertoef nie.”
“Regtig?” roep Jessica ontsteld uit.
Hy haal sy skouers op. “Dit hang af hoe lank die reën gaan aanhou.”
“Maar jou ouers? Hulle gaan mos bekommerd raak. Jou pa sal tog seker kom soek na ons?”
“En hoe dink jy gaan hy ons bereik? Hulle sal weet ons skuil in die grot, maar noudat ek daaraan dink, ek en my pa het ’n soort kommunikasiestelsel uitgewerk. Ek dink ek moet …”
Sy stem word verswelg deur die galmende geklap van ’n geweerskoot, en vir die tweede keer beland Jessica amper binne-in die vuur.
“Toe maar, dis my pa wat daar geskiet het. Net ’n oomblik. Ek wil hom net antwoord.”
Hoe? wonder Jessica. Die skoot het dan so naby geklink. Sê nou dis boosdoeners? “Bennie, wag! Jy kan nie buitentoe gaan nie. Netnou is dit nié jou pa nie!” Maar hy steur hom nie aan haar kommer nie en raak weg in die donkerte van die grot se uitgang. Die volgende oomblik hoor sy weer ’n knal, ’n oorverdowende knal, en dit kom sommer uit die donker hier reg voor haar!
“Bennie! Bennie, pas op!” Aan haar eie veiligheid is daar nie nou tyd om te dink nie en sy bondel holderstebolder deur die tonnel. “Bennie!” roep sy weer beangs toe sy op die rotslysie te lande kom. “Bennie, leef jy? Waar’s jy, Bennie?”
Toe dit darem nou vir Bennie begin lyk asof sy kapabel genoeg is om die bosse in te hardloop op soek na hom, hou hy op om te glimlag en los ’n steungeluidjie, sommer hier langs haar.
“Bennie? is dit jy, Bennie?”
“Uhh.”
“Het die vloekstene jou raak geskiet?”
“Hu-u.”
“Toe maar, hier is ek nou by jou. Waar het die vloekstene jou gewond?”
Hy kreun net weer saggies, en lê dan glimlaggend en voel hoe sy hom al pratende betas.
“Hier’s nie bloed aan jou kop nie, ook nie aan jou nek nie. Dankie tog, jy is nie deur jou hart geskiet nie! Ook nie in jou maag nie. Ek voel gelukkig niks klewerig aan jou lyf nie.” Daarna kom sy arms en bene aan die beurt.
Hy moet die begeerte om haar in sy arms te neem met inspanning onderdruk, maar dit sal fataal wees om haar nou plotseling die versekering te gee dat hy in werklikheid niks makeer nie, dus uiter hy maar weer ’n steungeluidjie.
“Ag, toggie! Bennie, praat met my!”
“Uhh! Wat … waar’s ek?”
“O, dankie tog. Kan jy my hoor?” vra sy angstig.
“Waar …?”
“Jy’s by die grot, buite die grot. Dink jy jy sal kan opstaan?”
“Grot? Watse grot?” hou hy hom ylend.
“Die grot op julle plaas.”
“Weet nie van grotte nie,” mompel hy deurmekaar.
“Ag, dis ’n lang storie. Die wind druk die reënvlae hier onder die oorhangende rotse in. Ons moet jou binne-in die grot kry. Jy gaan natreën en siek word.”
“Siek word? Ek wil siek word. Ek kan maar doodgaan ook. Jessica wil my mos nie hê nie.”
Haar mond gaap oop. “Waar kom jy vandaan? Wie sê vir jou sy wil jou nie hê nie?”
“Sy’t my nie lief nie. Julia het haar vertel sy verwag my baba, en nou glo Jessica haar. Sy wil nie glo die pa van Julia se kind sit in Johannesburg nie. Sy wil nie glo dat ek heeltemal onskuldig is aan die hele besigheid nie. Nee, want sy wil mos net glo wat Julia haar vertel het.”
Jessica se oë rek in die donker. “Genade, hoekom sê jy dan nou eers vir my die pa van haar kind sit in Johannesburg?”
“Wie is jy?”
“Ek is Jessica. Jou Jessica.”
“Jessica?” Hy los weer so ’n paar steungeluide en beur dan kermend regop in ’n sittende posisie. “Eina, maar my kop pyn. Waar is ek? Wat … ek het mos geval?”
“Bennie, is jy nou by? Of yl jy nog?”
“Yl? Nee, ek yl nie, maar Jessica, hoe kom jy hier buite?”
“Ek het jou kom soek. Daar het ’n geweerskoot geklap hier buite. Jy’t gesê jy gaan antwoord, maar toe skiet iemand op jou en toe het ek kom kyk wat aangaan. En toe kry ek jou hier.”
“En toe?”
“Toe niks. Maar ons moet in die grot kom. Wees net versigtig,” maan sy hom toe hy opstaan. “Ek weet nie hoe hoog die afgronde hier om ons is nie.”
“Hier is nie afgronde nie. En niemand het op my geskiet nie. Ek het self ’n skoot afgetrek uit my rewolwer sodat my pa kan weet ons is veilig. Weet jy of hy ook weer ’n skoot afgetrek het? Hy sou as hy myne gehoor het, maar ek kon nie luister vir sy antwoord nie, want ek onthou net my voet het gegly en van ’n slag toe my kop die rots getref het.”
“Ja, ek verbeel my ek het nog ’n skoot hoor klap, maar ek was so bekommerd oor jou dat ek …”
“Bekommerd oor my? Regtig?”
Dis vir ’n lang ruk doodstil.
“Ek was bekommerd oor jou, ja. Ek kon mos nie weet of jy dalk raak geskiet is of iets nie. Jy’t dan net gelê en kreun.”
“Het jy gesê ek het geyl ook? Het ek nie iets gesê nie?”
“Niks verstaanbaar nie. Jy’t sommer net gemompel en eina-eina gesê.”
Bennie is dankbaar dis donker, want hy het moeite om sy lag te onderdruk. Dit sal haar leer om so woer-woer te speel met sy gevoelens, dink hy met ’n breë glimlag en ’n warm gevoel om die hart. Sy toneelspel het voorwaar geslaag. Dis net jammer hy kon dit nie nog verder rek nie. Hy sou graag wou weet van daardie vent op Oudtshoorn, of sy werklik verlief is op hom.
“Dink jy jy sal deur die tonnel kan kruip? Moet asseblief tog net nie weer jou kop stamp nie.”
“Ek sal versigtig wees,” antwoord hy sedig en laat haar ewe gelate toe om hom voor te skryf hoe hy daar moet deur.
“So, ja. Gaan sit jy nou daar by die vuur. Ek sal jou kos bring,” pamperlang sy nog verder, maar terwyl hulle sit en eet, bars sy skielik uit van die lag en hy kyk haar verbaas aan.
“En nou? Het ’n duisendpoot jou gebyt?”
“Dis jy! Kyk hoe snaaks lyk jy. Jou hele maag is kaal en jou broekspype sit dan net onderkant jou knieë!”
Hy kan hom nogal voorstel hoe hy in haar klein sweetpakkie moet lyk en giggel dus maar saam, dankbaar vir die gemoedelike atmosfeer tussen hulle. Dit vergemaklik ook sy taak om haar van Julia te vertel.
“Sy’t nie geweet Danie Schoeman is met verlof nie, en dis ook nie dat sy mý daar in Danie se woonstel sou kry nie. Sy’t egter so beteuterd en verwese gelyk dat ek haar, tot my latere spyt, binnegenooi het. Sy’t geloop nadat ons tee gedrink het, maar die volgende dag het sy vir my koek en tert daar aangebring. En so het sy tydig en ontydig daar by my aangekom totdat sy op ’n dag vir my vertel het van haar dilemma. Dat sy ’n kind verwag van wie sy nie eens weet wie die pa is nie.”
“Maar hoe is so iets moontlik?” vra Jessica verward.
“Enigiets is.”
“Enigiets is moontlik?” vra Jessica verward.
“Enigiets is moontlik as jy betrokke raak by die dwelmslawe in Johannesburg, Jessica. Dis nie ’n mooi storie nie. Ek voel ook nie lus om jou te vertel nie. Nie wat sy my vertel het nie. Die feit is net dat sy swanger geraak het en desperaat iemand soek wat met haar sal trou sodat haar ouers nie moet uitvind van haar misstap nie. Sy’t my direk gevra om met haar te trou. Toe ek weier, het sy my selfs probeer verlei.”
Hy uiter ’n skor laggie. “Jy weet nie in watter verknorsing ek was daardie Saterdagoggend toe jy en oom Josie my kom oplaai het Kaap toe nie. Sy wou my kom verras met ontbyt in die bed, en was sy ontstoke toe ek haar sê ek is op pad uit saam met jou!”
“Wat het sy gesê? Was sy vir mý kwaad?”
“Ek weet nie vir wie sy kwaad was nie, maar om net van haar ontslae te raak sodat ek by julle kon uitkom, belowe ek haar mos toe dat ons die aand kan gesels. Min wetend dat ek na tant Mart toe genooi sou word vir die partytjie vir jou. En toe was dit weer ’n hele gedoente om die aand van Julia ontslae te raak.”
“Kon sy dan nie agterkom jy wil niks met haar te doen hê nie?” vra Jessica verbaas. “ ’n Meisie dring haar mos nie so op aan ’n man nie.”
“Sy’t in ’n ander soort huis grootgeword as ek en jy, Jessica. Blykbaar gewoond daaraan om haar sin met alles te kry. Eintlik voel ek jammer vir haar. Sy is nog bitter onvolwasse. Daarby is sy wispelturig van aard en het sy kommunikasieprobleme met haar ouers ook. Jy sal dit dalk nog beter verstaan as ek. Kyk dan wat het jý alles aangevang om by daardie minnaar van jou uit te kom!”
“Ag, nee, hy’s g’n my minnaar nie. Ek ken die vent van geen kant af nie!” blaker sy dit uit.
“Dit maak die saak nog erger, want jy was maar te gewillig toe hy jou ‘blommetjie’ en jou na sy kamer wou sleep. En ek het mos darem met my eie oë gesien hoe gaan jou mond oop toe hy jou wou soen. Ek het gewonder of jy hom nie gaan insluk nie!”
“Ga! Ek gril my morsdood as ek net daaraan dink dat hy my wou soen!”
“Maar hy het jou mos gesoen?”
“Hy het nie!”
“Natuurlik het hy. Tot my vuis hom getref het.”
“Hy het nie! Ek het hom gebyt. Ek het dan glad ’n bloedsmaak in my mond gehad agterna. Die mislike ding!”
“Nou maar wat het dan nou regtig daar gebeur?”
Toe is Jessica maar verplig om hom die hele storie te vertel. Hoe sy hom en Julia afgeluister het ook. En toe sy klaar vertel het, skuif sy skaamverleë van hom af weg, maar hy hou haar terug.
“Net een vragie nog, Jessica, en ek verwag ’n eerlike antwoord: Dink jy ek staan ’n kans om jou liefde te wen?”
Hy is ernstig, flits dit deur haar gedagtes, en sy byt eers haar onderlip vas alvorens sy met ’n teenvraag kom: “As jy my kan sê wie dan die pa van Julia se kind is, sal ek jou antwoord op jou vraag.”
Hy laat sak sy kop en toe hy haar antwoord, sak haar hart tot in haar skoene.