Читать книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

__

Hy verskyn in die deur. “Môre, matrone. Kan ons maar gou ons rondte doen? Ek het nog plaasbesoeke ook vanaand.”

Die donkerkopvrou knik en staan van agter haar lessenaar op. “Seker, dokter Brits.” Terwyl hulle aanstap na die eerste saal, kyk sy hom vraend aan. “Nog nie weer iets van Oudokter gehoor nie?”

“Ja, sy seun het my vanoggend vroeg gebel. Dit gaan nie goed nie. Darem ook nie slegter nie, maar . . .” Dokter Brits skud sy kop en haal sy stetoskoop uit. “Ek is bevrees Oudokter sal nooit weer praktiseer nie. So ’n beskadigde hart heel soms wonderbaarlik, maar hy sal hom van nou af baie goed moet oppas as hy nog ’n tydjie by ons wil wees.”

Anmar Cloete knik, ’n fyn fronsie tussen haar welgeboogde wenkbroue. “Ek kan my die hospitaal, ag, selfs nie eens Kruisrivier, sonder Oudokter voorstel nie.” Sy kyk weer op. “Het u gesê sy seun het u gebel? Ek het dan gedink hy is oorsee.”

“Hy was. Maar hy het dadelik teruggekom toe hy van sy pa se hartaanval hoor.” Hy sug en staan opsy sodat sy voor hom die saal kan instap. “Ek weet nie hoe ek en Naas alles hier raakgevat gaan kry nie. Noudat hy weg is, kom ’n mens eers agter hoe goed Oudokter alles deur die jare behartig het – ten spyte van sy ouderdom. Ons sal onmiddellik moet hulp kry, maar waar? Waar kry jy in die middel van die jaar ’n locum? Drie dokters was klaar te min vir Kruisrivier en sy groot distrik, en twéé is heeltemal hopeloos. Ek en Naas sal dit nooit kan bybring nie.”

Sy knik instemmend toe hy oor die eerste bed buk, sy oë goedig op die ou vroutjie gerig.

“Môre, tant Liefie. En wat hoor ek van tante?”

“Nee, wat?” wil die ou vroutjie agterdogtig weet.

“Ek hoor tante het toe sowaar vir oom Gielie gevang. Wanneer gaan ons troukoek kry?” korswil die kort, fris dokter met ’n vonkeling in die oog.

“Moenie vir jou vroeg op ’n Maandagmôre stuitig hou nie, doktertjie. Wat sal ek met ou Gieljam Skraalstap wil maak? Die arme mens kan homself skaars help,” verweer sy heftig en kom nie eens agter dat hy so onder die geskerts deur besig is om haar nagrok voor oop te knoop nie. Net toe hy die stetoskoop wil nader bring, kry hy ’n stewige klap op sy hand. “Jy bly weg van my lyf, hoor? Ek’t julle gesê ek laat nie kinders aan my vat nie. Oudokter is my dokter en net hy kyk na my.”

Karel Brits kom orent en kyk moedeloos na die netjiese gestalte aan die oorkant van die bed. “Matrone, het julle dan nóú nog nie daarin geslaag om haar te laat verstaan dat Oudokter ernstig siek lê in die stad en dat sy my eenvoudig sal móét toelaat dat ons na haar kyk nie?”

Anmar Cloete skud haar kop, duidelik ook moedeloos. Tant Liefie is wel die koppigste, maar beslis nie die enigste probleemgeval sedert Oudokter se hartaanval nie. Daar is van die ouer garde wat subiet weier dat “kinders” hulle dokter. Hulle hou vol dat hulle maar sal wag totdat Oudokter weer op die been is. Dat hy dalk nooit weer sal kan praktiseer nie, glo hulle nie. Oudokter is ’n kanniedood, nes hulle – en hulle sal uithou totdat hy terugkom. Natuurlik sal hy terugkom. Dat die “kinders”, Karel Brits en Naas Faure, ook al aanstap in die jare en albei reeds die halfeeumerk bereik het, oortuig hulle glad nie.

Anmar kyk na die saalsuster en beveel saaklik: “Suster, trek toe.” Dan kyk sy na die ou vroutjie en haar gesig en stem is streng. “Tant Liefie, nou hou hierdie lawwigheid op. Dokter het nie tyd vir nonsens nie. Laat suster jou regkry. As ons terugkom, kom ondersoek dokter jou.”

Karel Brits en die saalsuster wissel ’n veelbetekenende blik. Almal ken daardie stemtoon. Dit duld geen verdere teenspraak nie.

Die matrone stap beslis na die volgende bed en die dokter volg haar, maar hy het skaars met sy ondersoek begin, of suster Dreyer roep dringend: “Dokter, kom tog gou!”

Toe hulle vinnig nader storm, is dit duidelik dat tant Liefie haar só opgewen het oor die ondersoek wat op haar afgedwing gaan word dat sy enige oomblik ’n hartaanval kan kry. Daar is openlike verwyt in suster Elsa Dreyer se oë en Anmar voel hoe ’n kriewelrige skuldgevoel in haar opstoot. Miskien moes sy nie so streng met tant Liefie gewees het nie, maar dan motiveer sy haar opdrag deur ysig te sê: “Tant Liefie, dit is my plig om hierdie hospitaal te laat funksioneer. Ons is verskriklik besig met dié dat daar nou net twee dokters op Kruisrivier is. Daar is nie tyd om aandag te gee aan preutse grille en ouvroustories nie. Laat ons nou hierdie ondersoek agter die rug kry, asseblief.”

Vir die res van daardie dag is almal op die punte van hul tone, want ’n insident soos dié met tant Liefie doen sommer gou die rondte in so ’n klein hospitaaltjie, en almal ken teen hierdie tyd matrone Anmar Cloete goed genoeg om te weet dat jy moet lig loop as sy daardie uitdrukkinglose masker op haar gesig dra.

Omstreeks eenuur verlaat Anmar haar kantoor vir ete, maar eers stap sy weer in die rigting van die vrouesaal. Die episode met tant Liefie pla haar. Die gepynigde verwyt in die ou oë en die byna openlike vyandigheid in die saalsuster se blik het haar die hele oggend bygebly. Om die een of ander rede hou Elsa Dreyer nie van haar nie, maar sedert die blondekopsuster ses maande gelede hier begin werk het, voel Anmar haar vyandigheid aan.

Sy het haar tot dusver nie daaraan gesteur nie, want sy weet sy is nie gewild by enige van haar personeellede nie. Daarvoor ken hulle haar te swak. In die vyf jaar dat sy matrone van hierdie hospitaal is, het niemand haar nog ooit werklik leer ken nie. Al wat hulle van haar weet, is dat sy ’n uiters bekwame en konsensieuse werker is; iemand wat nie lyf wegsteek nie. Benewens die verantwoordelike pos as matrone, is sy ook die een wat die dokters in die teater bystaan. Sy weet sy doen meer as wat van ’n matrone verwag word ten opsigte van die praktiese verpleging in die hospitaal. Dit is haar gebruik om altyd, as daar ’n baie ernstige geval is, gedurende die nag te kom kyk hoe dit gaan, en al haar susters weet dat hulle haar te eniger tyd kan inroep as hulle met ’n probleemgeval te doen kry. Sy doen ook gereeld elke oggend saam met die dokters hul saalrondtes, iets wat nie binne die bestek van haar amp val nie, maar dit het deur die jare só roetine geword dat niemand dit meer vreemd vind nie.

Sy moet by die suster se kantoor verbystap voordat sy in die saal kom, en waar sy andersins nie sou huiwer om sommer deur te stap en reguit op tant Liefie se bed af te pyl nie, huiwer sy nou effens toe sy die kantoordeur nader. Streng gesproke is dit nie etiket vir ’n matrone om sonder die saalsuster se wete haar saal binne te stap nie, maar op Kruisrivier het die fynere puntjies van etiket met die jare vergete geraak, want die atmosfeer hier is noodwendig meer intiem en minder formeel as in ’n groot hospitaal. Sy frons liggies. Miskien moet sy tog in hierdie geval ’n uitsondering maak. Suster Dreyer was gewoond aan die gebruike in ’n groot kliniek en sal miskien haar matrone se vrymoedige kom en gaan in haar saal verkeerd vertolk. Sy wil net by die deur indraai, toe sy die suster se stem duidelik hoor opklink.

“Ek kon haar gerus wurg omdat sy tant Liefie so onnodig ontstel het. Sy mag van die goue medaljes behang wees soos wat jy vertel, Rina, maar sy het absoluut geen aanvoeling vir ’n pasiënt nie. Sy is soos ’n masjien. Daar is geen gevoel in haar nie.”

Die junior suster se verweer is nie juis entoesiasties nie: “Ag, sy is nie so onaardig nie. Sy doen haar werk stiptelik. En sy is darem baie mooi.”

’n Snuif sny haar sin kort. “Mooi? Ja, sy is seker mooi, maar ’n mens sien dit nie juis raak nie. Haar houding en manier van lewe is dié van ’n uitgeknipte oujongnooi. In die ses maande wat ek nou hier is, het ek haar nog nie een keer sien uitgaan nie. Of ’n enkele keer hoor lag nie. Sy loop net van haar woonstel hospitaal toe en terug. Dis al paadjie wat sy ken. Geen wonder sy het nie ’n greintjie aanvoeling vir haar medemens nie.”

Anmar wag nie langer nie. Sy begin aanstap sonder om links of regs te kyk, en toe sy by die oop kantoordeur verbykom, kan sy duidelik die junior suster se verskrikte snak na asem hoor. Sy ignoreer die twee in die kantoor en stap direk deur saal toe.

“Hoe voel tant Liefie nou? ’n Bietjie beter?”

Die klein ogies kyk haar gebelg aan en Anmar wonder skielik of die blondekopsuster nie dalk iets beethet nie. Miskien hét sy aanvoeling met haar pasiënte verloor . . . al wy sy haar lewe aan hulle en al doen sy meer vir hulle as wat van haar verwag word. Sy kyk op die opstandige oumensgesiggie af en sug saggies.

“Ek is jammer oor vanoggend, tante. Ek was seker ’n bietjie te kwaai. Ek hoop u sal my vergewe. Asseblief?” Sy is bewus van ’n gestalte wat by die voetenent van die bed verskyn, maar gee voor dat sy niks oplet nie. “Ons wil u net só graag gesond maak, tant Liefie. Ek wil hê u moet dit onthou.” Dan eers draai sy haar na die ander persoon. “Dankie, suster. Ek wou net ’n paar woorde met tant Liefie praat.”

Sy stap weg, wetende dat die twee vroue haar verbaas agternakyk.

Toe sy by die deur uit is, laat tant Liefie dan ook onomwonde hoor: “So by my kool! Ek sou nooit kon dink dat daardie geitjie kan sê sy is jammer nie. Raai, sy het nogal ’n oomblik lank skoon lieftallig gelyk.”

Ook suster Dreyer is verbaas en, ja, effens ongemaklik. Dan skud sy haar skouers. Wat maak dit saak as sy gehoor het? Dis die waarheid!

Anmar draai regs in die verbindingsgang tussen die hospitaal en die verpleegsterstehuis, swaai weer ná ’n paar treë links en stap by haar woonstel in. Sy is nie vanmiddag lus vir eet nie. Daar is ’n vreemde matheid in haar toe sy kombuis toe stap om vir haar net ’n koppie tee te maak. Sy weet dat dit nie ’n fisieke moegheid is nie. Sy het die hele naweek in haar woonstel omgeluier, eintlik omverveel, om heeltemal eerlik te wees.

Nee. Dis ’n matheid van die gees, besef sy, en vanmiddag erken sy ruiterlik teenoor haarself dat dit al baie lank is dat sy hierdie matheid in haar omdra; ’n lewensmoegheid wat al swaarder op haar druk. Vyf jaar om presies te wees.

Tot dusver het sy dit reggekry om dit te ignoreer; te versmoor in haar werk. Suster Elsa Dreyer is honderd persent reg. Sy ken net een paadjie – van haar woonstel hospitaal toe en terug. Sy ken Kruisrivier se mense – want die een of ander tyd beland die meeste maar in die hospitaal – maar daar is in vyf jaar nog geen vriendskapsbande tussen haar en hierdie klein gemeenskappie gesmee nie.

Aan die begin het sy die mense doelbewus vermy. Sy het baie duidelik getoon dat sy nie belang stel om saam te kuier nie, en Kruisrivier het hom onttrek. Nou, ná vyf jaar, smag sy soms daarna om vriende te hê na wie sy kan stap om ’n bietjie te gesels, of by wie sy ’n vry naweek kan deurbring. Sy sal graag ’n bietjie wil wegkom van die hospitaal af, maar ná soveel jare van eiesinnige terughouding stel die mense van Kruisrivier nie meer belang nie. Hulle aanvaar dat sy haar pad alleen stap.

Daarom is die gemis aan Oudokter so geweldig. Sy weet dat die hele Kruisrivier hom mis, maar sy mis hom soveel méér. Want dit was net teenoor Oudokter dat sy soms kon ontdooi. Hy het die kuns verstaan om agter haar masker van ongeërgdheid en die houding van ek-lewe-alleen-en-ek-het-niks-van-jou-nodig-nie in te kyk en haar vreeslike eensaamheid raak te sien.

Broksgewys het hy kykies gekry agter die sluier van bekwame afsydigheid wat sy om haar getrek het. Hy is die een mens op Kruisrivier wat weet van haar vernedering en die hartseer van vyf jaar gelede.

Haar verlange na die ou man met die sagte, begrypende oë en die kalm, bedaarde stem raak byna te veel op hierdie oomblik. Niemand op Kruisrivier sou ooit kon raai hoe sterk die pragtige matrone van hul hospitaal oor hul geliefde Oudokter voel nie. Niemand weet eens dat dit hy is wat haar voete weer op ’n nuwe pad geplaas het toe die een waarop sy was skielik voor haar die afgrond in verdwyn het nie. Niemand weet van daardie bitter tyd toe eensaamheid en hartseer haar wou verteer en sy haar in haar woonstel opgesluit het sodra sy van diens af gekom het nie; dat dit Oudokter was wat dikwels in daardie tyd ongenooid maar vrymoedig kom aanklop het net om ’n “bietjie te kom gesels”.

Dit was gedurende daardie geselsies, wat sy eers so onwelkom gevind het maar wat later soveel vir haar begin beteken het, dat sy Oudokter leer ken het. Baie beter leer ken het as die res van Kruisrivier, wat gedink het hulle weet alles van hom af. Hy het nooit ingedring in haar leed nie, maar oor sy eie smart gepraat, vrymoedig, met ’n getemperde hartseer, ’n berustende weemoed.

Aan die begin het hy haar vertel van sy eensaamheid, daardie skrynende, ontroosbare hartseer toe hy sy lewensmaat ná ’n paar kort jare verloor het; van die jare wat daarop gevolg het en die gemis wat net altyd meer en nie minder geword het nie. Ook van sy seun het hy haar baie vertel; van sy kinderjare, die ambisies wat hy vir hom gekoester het, die trots en vreugde wat die kind vir hom gebring het. Paul van Drüten het pas oorsee vertrek vir verdere studie toe sy op Kruisrivier aangekom het. Sy het hom nog nooit ontmoet nie, want haar jaarlikse verlof het altyd saamgeval met die besoeke wat Paul vanuit die buiteland aan sy pa gebring het.

En nou is Oudokter uiters siek en sy seun het uit die buiteland teruggekeer. Dis of die kalm stroom waarin haar lewe vyf jaar gelede begin vloei het meteens ’n versnelling toon, ’n rimpeling van onrus waarvan sy nie hou nie, maar wat sy ook magteloos is om te verhoed.

Die nuus dat Oudokter nie verdere terugslae ondervind het nie en nou buite gevaar is, laat die hele Kruisrivier ’n sug van dankbare verligting slaak.

“Paul sê dis ’n uitgemaakte saak dat sy pa nooit weer sal kan praktiseer nie,” sê Naas Faure waar hulle almal in die matrone se kantoor vergader nadat die operasielys afgehandel is.

“Ons sal moet begin adverteer,” sê Karel Brits bekommerd.

“Ja. Ons sal móét hulp kry. Die hospitaalraad sal moet sit, matrone. Ons moet ’n nuwe superintendent aanstel.”

Sy knik net, haar gemoed op hierdie oomblik te vol. Sy hou haar gesig afgewend, en weer is die maskeragtigheid van haar mooi gelaat misleidend.

Mag, sy is darem ’n snaakse soort mens, dink Karel Brits by homself. Ons is almal hewig ontsteld oor Oudokter en die ontwrigting, maar dit lyk nie of dit haar juis skeel nie.

Op die ingewing van die oomblik besluit sy om die naweek na ’n vakansieplaas ’n paar kilometer buite Kruisrivier te vlug. Miskien sal sy daar in die stilte van die veld die pad voor haar sien oopgaan. Want sy weet sedert Oudokter se hartaanval het haar lewe ook dramaties verander. Sy siekte het ’n swenk in haar reguit paadjie veroorsaak; die ongekompliseerde pad waarop sy vyf jaar lank so rustig aangestap het, onverwags versper.

Miskien het Oudokter met sy versiendheid al voor sy aanval reeds van hierdie swenk in die pad geweet, want die aand net voor hy siek geword het, het hy weer so terloops by haar woonstel ingestap. Sy het soos altyd vir hulle lekker sterk koffie gaan maak, en toe het hy gesê: “Anmar, dis tyd dat jy besef dat jou lewe nie só kan voortgaan nie. Jy is nog jonk. Jy kan nie vir altyd vir die lewe wegkruip nie.”

Sy het onwillig opgekyk, wetend dat hy gelyk het, maar te koppig en bang om dit te erken. “Ek is tevrede met my lewe, dokter. Ek werk baie lekker hier en solank u tevrede is met my werk . . .”

“Kind, moenie met my om die bos probeer spring nie. Jy bedrieg my net so min as wat jy jouself bedrieg. Vyf jaar is lank genoeg vir rowe om te vorm en vir wonde om te genees. Jy, as bekwame verpleegster, weet dat selfs die ergste wonde op ’n dag genees sodat slegs die letsels oorbly. Jy was lank genoeg in die hospitaal – en ek praat nie van Kruisrivier s’n nie.”

Sy het swyend gesit, net haar kop geknik. Soos altyd het hy gelyk gehad. Sy het na Kruisrivier gevlug met wonde wat rou en seer was, diep wonde aan haar hart en gees – só diep dat sy daaraan wou beswyk. Maar vyf jaar is verby, vyf jaar waarin sy in “die hospitaal” was, soos Oudokter dit gestel het, en op daardie oomblik het sy met ’n skok besef dat die ou, dowwe pyn lankal nie meer daar is nie en dat haar gedagtes lankal opgehou het om terug te dwaal na die verlede. Toe het sy opgekyk, ligte verbasing in haar oë, en ook dankbaarheid.

Oudokter het begrypend geknik. “Dis reg, my kind. Dis verby. Jy is gesond. En nou moet jy weer aanstap.”

“Maar hoe?” Die woorde het byna pleitend uitgekom, want sy was te lank in die skaduwees van gister om sommer te weet hoe om weer in die sonlig uit te stap en dit te geniet. Sy het so gewoond geraak daaraan om alleen te leef, om weg te skram van mense en van emosie.

“Ons sal aan ’n plan dink. Natuurlik sal ek jou nie hier wil verloor nie, maar dit sal baie selfsugtig van my wees om jou terug te hou as jou pad bedoel is om weg te draai van Kruisrivier af. Ons sal weer praat.”

Hy het diep gesug, opgestaan, en vir die eerste keer het sy gesien dat hy baie moeg en bleek lyk. Sy het betigtigend laat hoor: “Dokter, u ooreis u totaal. U sal net móét stadiger. Kruisrivier kan nie sonder u nie.”

Maar hy het sy kop geskud, geglimlag. “Nee, Anmar. Geen mens is onmisbaar nie. Ook maar goed dat dit so is, nè? Jy het dit nou self ervaar. Daar is niemand wat nie vervang kan word nie. Wanneer my tyd op Kruisrivier verby is, sal Hý sorg dat daar iemand is wat my plek inneem. En wanneer die tyd ryp is, sal Hý ook sorg dat daar iemand kom wat die leë plek in jou hart sal vul. Nag, kind. Dankie vir die koffie.”

Sy het hom nie weer gesien nie. Die volgende oggend het sy vergeefs gewag dat hy vir sy hospitaalrondtes moet opdaag. Hulle het hom in sy huis aangetref, bewusteloos. Dokters Brits en Faure het hom dadelik per vliegtuig stad toe laat neem en ’n vakuum het op Kruisrivier ontstaan.

Hier waar sy nou deur die veld stap nadat sy by die vakansieplaas ingeteken het, wonder sy of Oudokter ooit werklik vervang sal kan word. Natuurlik sal daar ’n vennoot gevind moet word om sy deel van die praktyk oor te neem. Maar ’n mens met soveel diepte van gees en empatie vir sy medemens? Nee, dit kan sy haar nie voorstel nie.

Soos Anmar in die stilte van die Karooveld aanstap, weet sy skielik net dat die paadjie van haar woonstel hospitaal toe en terug nie meer voldoende is nie.

Maar waarheen nou? Hoe keer ’n mens na die lewe terug? Hoe leer jy om jou medemens weer te vertrou en hom toe te laat om in jou hart te kyk en deel te hê aan dit wat jy daar bêre? Hoe wys jy vir mense wat jy vyf jaar lank vermy het dat jy nou hul vriendskap en begrip nodig het? Hoe haal jy die masker van gevoelloosheid wat jy vyf jaar lank voor jou gesig gehou het weg?

Sy het die kuns om te lewe verloor, besef Anmar Cloete, en die gedagte vul haar met vrees. Sy het te lank vir die lewe weggekruip, te lank haarself tot gevoelloosheid gedwing. Omdat sy wou wegskram van die smart van die lewe, het sy ook haar vreugde en lewenslus verloor. Hoe gaan sy uit hierdie groef kom waarin haar lewe verval het? Oudokter sou haar kon gehelp het, maar Oudokter is siek, en al word hy weer gesond, sal dit maande duur voordat hy weer op Kruisrivier sal wees, maande waarin sy weer kon begin lewe het as sy net geweet het hoe.

Sondagaand laat stuur sy haar motortjie by die hospitaalhek in. Dan trap sy verbaas rem. Die teaterlig brand!

Sy loop een van die verpleegsters in die gang raak. “Wat gaan in die teater aan, verpleegster?”

“Hulle doen mevrou Swanepoel se keisersnee, matrone. Hulle moet haas klaar wees.”

Anmar frons skerp. “Hoekom? Het daar iets gebeur?”

“Niks waarvan ek weet nie, matrone. Hulle het net hier ingekom en gesê mevrou Swanepoel moet gereed gemaak word vir die teater. Wel, sy was byna dadelik gereed, want sy was mos oorspronklik vir môreoggend op die lys.”

Anmar haas haar die gang af na die teater waar sy haar vinnig gereed maak, skrop en verklee. Binne rekordtyd laat sy haarself versigtig by die teater in. Dan kom sy in haar spore tot stilstand. Sy herken dokters Brits en Faure, maar ’n derde man is ook in die groep om die operasietafel en hý is die een wat oor die groot buik gebuk staan en die operasie uitvoer. Wat sou gebeur het en wie is hierdie vreemdeling wat besig is om in haar teater te opereer?

Fronsend en ontevrede stap sy nader. Almal het geweet waar sy haar bevind en dis net ’n halfuur se ry van die vakansieplaas tot hier. Sy kon maklik betyds terug gewees het om soos gewoonlik haar plek langs die chirurg in te neem. Maar dis suster Dreyer wat die instrumente aangee.

Ongemerk skuif sy nader en fluister sag: “Dankie, suster Dreyer. Ek sal nou oorneem.”

Blou oë flits na haar op en weer is Anmar bewus van ’n byna openlike vyandigheid in die blik. Maar dan sak die ooglede en sy staan versigtig terug om plek te maak vir haar senior. Die volgende oomblik kyk Anmar in ’n paar fronsende groen oë vas en die groot, bonkige gestalte van die chirurg kom ’n bietjie meer orent.

“Ons kom heeltemal goed klaar, dankie. Suster Dreyer is ongetwyfeld bekwaam genoeg om voort te gaan. Skalpel, suster!” Gehandskoende vingers strek na suster Dreyer uit en sonder dat Anmar bewus is van die beweging, tree sy terug om weer plek te maak vir Elsa Dreyer.

Daar word voortgegaan asof daar geen onderbreking was nie. Karel Brits hou sy blik op die narkose-apparaat en Naas Faure s’n volg die vreemdeling se handbewegings. Anmar staan uitgestoot buite die klein kring soos ’n oorbodige, lastige indringer.

Vir die eerste keer in baie jare voel sy ’n byna onbeheerste woede in haar opwel. Niks die afgelope vyf jaar kon haar ooit so kwaad kry of soveel emosie by haar wek dat sy gevoel het sy gaan haar selfbeheersing verloor nie, maar skielik, van nêrens af, kom ’n vreemdeling by haar hospitaal ingestap en vertel haar koel en kalm dat sy oorbodig is!

Wie is hierdie man? Wie is hý om haar so te sê die deur te wys in die enigste wêreld wat sy ken? Sy voel ’n vreemde onrus in haar roer, ’n gevoel wat haar bang en onseker maak. Ná die ure lange bepeinsing van die afgelope naweek is dit of hierdie vreemdeling se skielike verskyning en sy houding teenoor haar nóg ’n vingerwysing is.

So onopsigtelik soos sy haar verskyning gemaak het, verdwyn sy weer, stroop die teaterklere van haar af en stap uit in die gang. Sy stap by haar kantoor in waar sy die nagsuster aantref.

Dié staan dadelik op. “O! Goeienaand, matrone. Is daar iets verkeerd?”

Sy is bewus van die nagsuster se ondersoekende blik en sy pluk die masker van uitdrukkingloosheid vinnig op haar gesig terug. “Nee, suster. Ek het maar net kom inloer toe ek sien die teaterligte brand. Ek verstaan dis mevrou Swanepoel wat in is. Het daar komplikasies ingetree?”

“Nie juis nie, matrone. Maar soos u weet, was mevrou Swanepoel die laaste paar dae verskriklik gespanne. Dokter het toe besluit om liewer nie tot môre te wag nie, maar die operasie sommer vanaand nog te doen.”

“Dokter . . . wie?”

“Dokter Van Drüten.”

Net vlugtig roer daar emosie oor die stil, pragtige gesig. “Dokter Van Drüten!”

“Oudokter se seun, ja. Hy het Vrydagmiddag net nadat u vertrek het hier aangekom. Hy gaan glo sy pa se plek inneem tot tyd en wyl sake gereël kan word. Moet ek die tee maak?”

Anmar knik en sak agter haar lessenaar neer. Oudokter se seun! Daardie man wat haar so onbeskof langs die operasietafel weggejaag het, is Oudokter se seun! En hy gaan sy pa se plek inneem, het dit rééds ingeneem. En sy sal met hom moet saamwerk.

Net toe die nagsuster met die skinkbord instap, hoor Anmar voetstappe met die gang af kom. By die deur klink ’n vreemde stem op: “Dankie, suster Dreyer.”

“Dit was ’n plesier, dokter. U kan my enige tyd weer roep. Dit was wonderlik om weer ’n slag langs die operasietafel te staan.”

Karel Brits se stem klink ook op: “Daar behoort tee in die kantoor te wees. Wil u nie eers ’n koppie drink voordat u gaan nie?”

“Dankie. Dit sal welkom wees. Om die waarheid te sê het ek vanmiddag laas iets oor my lippe gehad.”

“O, maar dan gaan maak ek sommer ook vir u ’n paar toebroodjies,” hoor Anmar Elsa Dreyer gretig sê.

Die vreemde stem klink dankbaar: “As dit nie te veel moeite sal wees nie, sal ek dit baie waardeer, suster. Baie dankie.”

Elsa se ligte voetstappe sterf oorhaastig in die gang weg op pad kombuis toe, en dan verskyn hy in die deur. Anmar was op die punt om op te staan toe iets in haar styf ruk en sy verslae en bleek terugsak in die stoel. Sy kan net bly staar na die man wat haar vanuit die deur met skerp, groen oë staan en aankyk.

Sy hoor Naas Faure se stem toe hy hulle bekend stel, maar sy is nie in staat om te roer nie. Toe sy geen poging aanwend om op te staan of haar hand uit te steek nie, knik die groot vreemdeling net ligweg sy kop.

“Matrone is nie regtig ’n vreemdeling vir my nie, dokter. Ek het al heelwat van haar by my pa gehoor. Baie bekwaam, glo.”

“Uiters bekwaam,” laat val Karel Brits lojaal en kyk verbaas na die matrone se bleek gesig. Wat sou haar makeer? Dit lyk asof sy ’n spook gesien het.

Dis die geluid van teekoppies wat in hul pierings rinkel wat Anmar weer tot die werklikheid terugbring. Vir ’n kort oomblik was sy baie ver weg van hierdie kantoor en die mense om haar – was sy terug in die verlede.

Sy staan op en dwing haarself om in die peinsende groen oë te kyk, oë wat meteens vir haar so bekend gelyk het. “Goeienaand, dokter. Hoe gaan dit met u pa?”

“Onder omstandighede goed, dankie. Hy het baie groete laat weet.”

“Dankie.” Sy weet sy behoort hom welkom te heet. Sy weet sy behoort ook dankbaar te wees dat hy hulle kom uithelp. Maar sy sê niks, want hy is nie hier welkom nie. Sy wil hom nie hier hê nie. Nie hiérdie man nie . . . hierdie man met die pynlik bekende oë, die pynlik bekende gelaatstrekke. Hy is soos ’n spook uit die verlede wat onverwags op haar toegesak het, juis noudat sy besluit het om Oudokter se raad te volg, om die verlede agter te laat en weer te begin lewe. Nou kom hy skielik hier aan om die verlede eensklaps intens te laat herlewe, die afgelope vyf jaar van vergeet weg te skuif soos ’n dun gordyn.

“Tee, matrone?”

Sy skud haar kop, vee oor haar oë asof sy iets wil wegvee. “Nee dankie, suster. Ek . . . ek dink ek sê maar eers goeienag.”

Die mans staan beleef op toe sy uitstap en by die hoek van die gang bots sy byna teen Elsa Dreyer wat vinnig om die draai kom.

“Ag, ekskuus, matrone!”

Sy knik net, lees die leedvermaak in die blou oë, die kwalik verborge triomf. Sy stap aan, druk haar woonsteldeur agter haar toe, leun daarteen aan, voel die bewing in haar ingewande, voel hoe die ou bekende, dowwe pyn wat so lank stil was, weer begin klop . . . klop.

Ena Murray Omnibus 26

Подняться наверх