Читать книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

__

“Anmar!”

Sy het hom natuurlik verwag. Sy weet tog geruime tyd al dat Clive Coertze op ’n dag Kruisrivier se hospitaal sal binnestap en dat sy dan weer van aangesig tot aangesig met die verlede sal staan. Maar daar was nog ’n paar dae grasie oor en genoeg tyd om haarself te skool vir die beproewing wat voorlê. Maar sy voortydige verskyning laat haar heeltemal weerloos voor die aanslag van die verlede.

“Dit ís mos jy, Anmar? Ek bedoel . . . dit moet jy wees. Daar is net een meisie wat só lyk.” Sy stem sterf in ongemak, ongeloof en skok weg, maar sy blik bly op haar, verslind die pragtige wasbleek gelaat voor hom, swenk dan eindelik weg, kyk vraend na die man langs hom.

Paul van Drüten knik sonder om sy blik van die matrone af weg te neem. “Jy is heeltemal reg, ou neef. Ons matrone se naam is Anmar. Anmar Cloete. Dan ken julle mekaar.”

Dis nie ’n vraag nie en niemand antwoord nie. Die effens korter man se blik skiet terug na die bleek gesig en ’n vreugdeglans ontspring in sy oë.

“Anmar! Aarde, dis te wonderlik om te glo! Al die jare wonder ek waar jy is, wat van jou geword het.”

Haar stug gestalte en waarskuwende oë laat hom meteens swyg.

“Goeiedag, Clive. Ja. Ek was toe maar al die tyd op Kruisrivier, het matrone geword. Jy sien goed daar uit.”

Eienaardig tog dat ’n mens soms, wanneer jou verstand botstil staan, onverklaarbaar die regte dinge doen; die regte dinge sê. Vreemd ook dat ’n mens teenoor iemand te staan kom wat eens op ’n tyd baie dierbaar vir jou was, maar nou soos ’n algehele vreemdeling lyk. Vreemd dat jy na die een man kan kyk, maar intens bewus is van die man langs hom.

“Jy . . . jy is pragtig, soos altyd. O, Anmar, ek weet nie wat om te sê nie . . .”

Sy skud haar kop, sak lam terug in haar stoel. Wat is daar om te sê? wonder sy suf. Dan, asof deur ’n magneet getrek, ontmoet sy die priemende blik van dokter Van Drüten. Sy laat haar blik vlugtig oor sy gesig gly, oor sy groot gestalte, en hy lyk skielik soveel meer bekend, sy oë soveel meer werklik, die herinnering aan die aanraking van sý mond soveel helderder, dat sy meteens ’n vreemde kalmte van êrens vandaan haal. Sy kan selfs liggies glimlag.

“Wil julle nie sit nie? Ek kan gou tee laat haal.”

“Clive kan vertoef as hy wil. Ek moet net gou iemand gaan sien.”

Sy kyk op na hom en weer is sy stem soveel meer bekend as dié van die man uit haar verlede dat sy spontaan haar hand uitsteek om hom terug te hou. Maar hy is reeds by die deur uit en haar blik moet terugkeer na die ander man.

Sy druk die klokkie en vra gelykmatig: “Hoe gaan dit met jou, Clive? En met jou gesin?”

’n Dowwe gloed skiet by sy boordjie verby en dit verbaas haar. Clive is nie meer sy selfversekerde self nie. Die Clive wat sy geken het, was altyd die ene selfvertroue. Sy kan nie onthou dat hy dit ooit nodig gevind het om te bloos nie. Eienaardig, dink sy met ’n klein glimlaggie, eienaardig dat ek en Clive blykbaar albei eers laat in ons lewens geleer het om te bloos.

“Dit gaan goed . . . onder omstandighede. Maar ek wil nou eers van jóú hoor. Was jy regtig al die tyd hier en . . . is jy toe nooit getroud nie?”

Sy kry dit reg om hom kalm te antwoord: “Ek is al vyf jaar lank matrone hier, en nee, ek is nie getroud nie. Vertel my, hoe gaan dit met Oudokter? Wanneer het jy hom laas gesien?”

In tant Liefie se kamer word ook vrae gevra: “En wat lyk jy so bekaf, Dokkie? So asof die kraaie jou kos afgevat het.”

“Die kraaie het meer as my kos afgevat, tante. Hulle het my hart uitgepik.” Paul neem sugtend op die voetenent van die bed plaas. “Ek het toe die spook vir haar gewys, tante.”

“Ja?”

Hy skud sy kop. “Ek weet nie . . . Eers het dit gelyk asof sy werklik ’n spook voor haar sien staan. Maar sy het haar gou reggeruk. Ek weet nie mooi wat om te dink nie. Tante ken haar ook al ’n bietjie. Sy is so gewoond om haar ware gevoelens weg te steek dat ’n mens nie kan sê nie. Ek het hulle nou ’n rukkie alleen gelaat.”

Toe hy minute later weer in die deur verskyn, frons hy ergerlik en lyk kwaaier as wat hy besef. Anmar se onleesbare gesig irriteer hom meteens só dat hy haar gerus aan die skouers kan gryp en skud totdat sy wys wat sy werklik op hierdie oomblik voel en dink.

Al wat Anmar sien, is sy frons en die groen oë wat haar soos altyd ontevrede aankyk.

“Hier is nog tee, dokter Van Drüten.”

“Nee, dankie. As julle klaar is, kan ons maar gaan, Clive. Ek wil jou aan ons pasiënt in die ouetehuis gaan voorstel.”

Sy neef staan dadelik op en sit die koppie neer. “Dankie, Anmar. Dit was heerlik. Dit was ook wonderlik om jou weer te sien.”

Sy kyk in sy bewonderende oë op, maar sy is net bewus van die ander man se fronsende, ondersoekende blik.

Sy volg hulle met haar oë deur die venster toe hulle die hospitaal uitstap na die motor wat onder die groot sering geparkeer staan. Twee neefs, so eenders, en tog ook so verskillend: Clive is heelwat korter as Paul, merk sy nou terwyl hulle langs mekaar stap. Teen Paul se bonkige gestalte vertoon Clive amper skraal. Hulle manier van stap is met die eerste oogopslag baie eenders, tog is die langer neef se tred meer afgemete – asof hy presies weet waarheen hy op pad is.

Clive Coertze . . . Die jare rol terug, maar vreemd, dis of die herinneringe meteens nie meer seermaak nie. Sy kan nugter terugdink, en die gedagte dat dit onherroeplik verby is, maak nie meer saak nie. Die herverskyning van Clive Coertze was iets wat sy gevrees het. Dit het haar met ’n wurghand gegryp toe Paul van Drüten gesê het dat sy neef Kruisrivier toe kom. En vandag het hy voor haar gestaan en die wurghand het teruggesak na waar hulle hoort: na gister wat verby is. Clive Coertze maak nie meer saak nie.

Sy sluit haar oë en roep sy gesig voor haar op soos dit gelyk het in die eerste oomblik van herkenning. Sy sien die spontane bewondering in sy oë – bewondering waarna sy eens so gesmag het, maar wat haar nou koud laat. Die feit dat hy haar nog nie vergeet het nie – sy woorde en hele houding getuig daarvan – doen niks aan haar hart nie. Die wete dat Clive Coertze haar nog pragtig en begeerlik vind, bring geen opwinding of vertroosting nie. Dit kan haar nie skeel nie.

Daar is geen spook nie! Sy haal diep asem en ’n glimlag van onbeskryflike verligting verskyn op haar gesig. Op hierdie oomblik is sy meer as pragtig. Maar dan versomber haar gesig. ’n Nuwe spook het die oue se plek ingeneem. En hierdie spook is nie een wat haar verbeelding vir haar geskep het of haar herinneringe vir haar opgetower het nie. Hierdie een is werklik, veel meer werklik as wat die spook van gister ooit was.

In die motor op pad dorp toe is dit eers stil. Dan is dit of die vraag onwillig van sy lippe val: “Het jy en matrone Cloete mekaar goed geken?”

Dis of die ander man eers aarsel, maar dan erken hy: “Ja. Om die waarheid te sê, sy was my verloofde toe . . . toe die ding met Louise gebeur het.” Paul van Drüten se blik bly stip op die pad en ná ’n ruk vervolg sy neef: “Jy kon my met ’n veer omslaan toe sy so skielik voor my staan. Al die jare het ek gewonder wat van haar geword het. Ek het haar probeer opspoor.”

“Hoekom?” Die vraag is kortaf.

“Wel, ek wou darem verduidelik, met haar praat. Ons is sonder ’n enkele woord uitmekaar. Sy het haar ring per pos teruggestuur en toe ek by haar blyplek kom, was sy reeds weg, ook van die hospitaal. Niemand het geweet waarheen sy is nie. Sy het net in die niet verdwyn en nou, ná vyf jaar, vind ek haar terug op Kruisrivier.” Hy ontvang ’n skerp, ondersoekende blik van sy neef, maar merk dit nie op nie. Sy gedagtes is te vol. “Sy is nog net so pragtig soos altyd.”

“Sy is nie meer ’n onkundige meisie nie. Sy is ’n vrou van agt en twintig.”

“Ja. Dit is so. En veel pragtiger as vyf jaar gelede.” En begeerliker, soveel begeerliker, voeg hy in sy hart by. Hy het desperaat na haar gesoek aan die begin, maar hom later daarby berus dat Anmar Cloete vir goed uit sy lewe verdwyn het. Maar vandag besef hy wat hy vyf jaar gelede verloor het. Hy weet nou hy moes hemel en aarde versit het om haar terug te vind; haar gedwing het om na hom te luister, haar gedwing het om hom te vergewe. Hy moes haar nie toegelaat het om uit sy lewe te stap nie. ’n Vrou soos Anmar Cloete laat ’n man nie deur jou vingers glip nie. Hy moes alles gedoen het om hom uit die web waarin hy homself verstrik het, te bevry, maar Anmar moes hy nie prysgegee het nie. Hy was ’n dwaas, maar nou het hy dalk die geleentheid om iets daaromtrent te doen.

Anmar kom dit nie self agter nie, maar vir die res van die dag is daar ’n klein glimlaggie om haar lippe, stap sy met ligter tred deur die gange van die hospitaal, sien sy selfs klein foutjies oor wat andersins onmiddellik reaksie sou ontlok het. Haar personeel kom dit egter baie gou agter en wonder wat aan die gang is. Matrone Cloete lyk opeens mensliker as wat hulle haar nog ooit gesien het.

Vir Anmar voel dit asof sy dit kan uitjubel sodat almal kan hoor: Ek is vry, vry van gister! Gister maak nie meer saak nie! Gister is verby!

Maar natuurlik pas verspottigheid die matrone nie, dus gee sy maar net haar geheimsinnige glimlaggie en kyk met vreugde in haar grys oë na almal en alles om haar, sonder om te besef dat die personeel hul eie interpretasie daaraan heg.

Veral Elsa Dreyer hou die matrone tydens aandete met vernoude oë dop. Waar Anmar aan die tehuismatrone se tafel sit, gesels sy ongewoon gesellig saam. Gewoonlik is dit maar stil aan daardie tafel. Toe Anmar skielik hardop lag, kyk die teatersuster veelbetekend na die suster wat langs haar sit.

Dan rig sy weer haar blik intens op die matrone en geen gebaar of gesigsuitdrukking ontglip haar aandag nie.

Toe die chirurg die volgende oggend die teater binnestap, het die teatersuster haar vraag gereed: “Wat het gister in dié hospitaal gebeur, behalwe dat ons ’n nuwe dokter bygekry het?”

Vraend kyk hy haar aan. “Niks waarvan ek weet nie. Hoekom?”

“O. Nee, ek vra maar. Ek het gedink daar het iets baie besonders gebeur. Die hele hospitaal praat daaroor.”

Hy hou sy hande uit sodat sy die steriele jas vir hom kan vasknoop. “Waarna verwys jy? Ék het niks agtergekom nie.”

“Miskien is dit maar die ander se verbeelding, maar almal sweer hoog en laag dat ons matrone skielik ’n metamorfose ondergaan het.”

Sy is gou om te sien dat sy nou sy volle aandag het.

“In watter opsig?”

“O, dat sy skielik vol glimlaggies en liefde is. Almal wonder nou net oor dié welkome verandering.”

Hy draai van haar af weg sonder ’n verdere woord en stap die teater binne. Die nuwe narkotiseur knik dat alles reg is en dat hy maar met die operasie kan begin. Onder haar masker byt Elsa Dreyer haar onderlip vas en val langs hom in.

Die hewige frons sit nog steeds tussen sy wenkbroue toe hy later kortaf dankie sê en die teater verlaat. Dit bly daar tydens die saalrondtes, en toe hy die matrone in die voorportaal raakloop, keep dit nog ’n bietjie dieper in.

Anmar was net van plan om by haar kantoor in te stap, toe sy die twee dokters gewaar. Anders as in die verlede glip sy nie gou weg toe sy Paul van Drüten in haar rigting sien aankom nie. Sy staan en wag hulle in. Sy moet net weet of die gevoel van bevryding sal bly as sy weer in Clive Coertze se oë kyk. Sy moet hom weer sien om seker te maak.

Sy sien hoe sy oë verhelder toe hy haar gewaar, hoe hy sy pas versnel. Maar die kalmte in haar bly onversteurd. Dis waar, sing haar hart. Hierdie man beteken vir my niks meer nie!

Daar is ’n borrelende, ongekende vreugde in haar wat ’n spontane glimlag na haar lippe bring. Haar grys oë blink toe sy sê: “Môre, Clive. Ek sien jy is al klaar deel van ons span. Ek het dit nie gister gesê nie, maar sê dit nou.” Sy steek haar hand na hom toe uit. “Baie welkom in ons midde.”

Haar stem klink so opreg dat nie een van die twee dokters kan twyfel dat sy dit bedoel nie. Clive vou haar hand in albei syne toe en die groen oë wat haar soveel jare lank agtervolg het, kyk diep in hare af.

“Dankie, Anmar. Veral van jou waardeer ek dit baie. Dan gaan ons twee tog saamwerk,” sê hy met ’n hunkerende glimlaggie wat haar hart in twee behoort te skeur, maar nou net weemoed en jammerte in haar opwek en haar oë sag maak.

’n Identiese paar groen oë kyk oor Clive se skouer in hare vas en sy stem is amper kil toe hy sê: “Môre, matrone.”

“Môre, dokter Van Drüten.”

Hy sien hoe ’n skaduwee weer oor die grys kykers gly en dan val haar blik voor syne. Sy stem klink ongewoon kortaf: “Die spreekkamer wag, Clive.”

Hy stap sommer aan, maar Clive aarsel nog. “Wanneer sien ons mekaar, Anmar?”

Sy kyk hom fronsend aan, skud dan haar kop, glimlag weer. “O, ons sal mekaar gereeld sien.”

“Dis nie wat ek bedoel nie,” sê hy dringend, gryp meteens haar hand vas. “Asseblief, Anmar.”

Sy kyk in sy pleitende oë op en haar mond gaan oop om hom te verseker dat hulle niks vir mekaar te sê het nie. Maar dan . . . Elke mens het seker die reg om te probeer verduidelik. Sy het hom geen kans vir verduideliking gegee toe sy vyf jaar gelede net verdwyn het nie. Miskien sal dit tog goed wees as sy en hierdie man ’n laaste openhartige gesprek het. Aan haar maak dit nie meer saak nie; gister tel nie meer nie. Tog lyk dit asof die verlede nog swaar op sý gewete rus. Ter wille van wat was, kan sy seker maar na hom luister.

“Ek is maar in my woonstel wanneer ek nie aan diens is nie. Nou moet jy my regtig verskoon. Dokter Van Drüten wag op jou.”

Sy draai beslis om en hy kan niks anders doen as om aan te stap na waar sy neef met ’n strak gesig en starende oë op hom staan en wag nie.

In die dae wat volg, praat almal daaroor dat dit duidelik is dat daar iets goed met matrone moes gebeur het. Niemand waag dit egter om haar daarna te vra nie, en Anmar bly onbewus van die gekoukus agter haar rug.

Al waarvan sy bewus is, is dat sy ontslae geraak het van die sware las wat sy soveel jare met haar saamgesleep het. Sy voel weer jonk. Sy voel weer energiek. Sy voel weer lus vir die lewe. Selfs nie eens Paul van Drüten se permanente gefrons kan hierdie nuwe lewensvreugde in haar demp nie. Nie eens sy streng formele toon kan die glimlag van haar lippe verdryf nie. En selfs wanneer hy onredelik foutvinderig en moeilik is, kry hy dit nie reg om die ou Anmar Cloete weer op te tower nie. Dis of sy, meer as ooit tevore, buite sy bereik beweeg het. Haar “Ja, dokter Van Drüten”, “Goed, dokter Van Drüten” verskerp eerder sy frons en irritasie, totdat Anmar later wonder of dit óóit moontlik is om dié veeleisende man tevrede te stel.

Hoewel sake nou besonder glad verloop in die hospitaal, is dit of die wrywing tussen die matrone en die superintendent toeneem, totdat Anmar op ’n dag, ten spyte van al die wonderlike nuwe gevoelens wat sy ervaar, haar geduld verloor. Paul van Drüten is net onmoontlik!

Vir die eerste keer sien hy weer die grys oë blits soos in daardie eerste dae.

“Dokter, as jy my net wil sê presies wát jy van my verlang! Aan die begin kon jy dit nie vat dat ek my opinie ook lug nie. Noudat ek ja en amen sê op alles, is dit ook nie reg nie. Alles is net eenvoudig verkeerd. Wát verlang jy van my?”

’n Lang oomblik staar die groen oë in hare af. Dan, sonder ’n woord, swaai hy op sy hak om en stap uit. Anmar sug diep. Sy kan maar net sowel tou opgooi.

So bieg sy ook teenoor tant Liefie daardie aand: “Ai, tante, ek probeer werklik hard, maar die spook haal my elke keer in. Dit lyk my ek sal maar moet weggaan. Hierdie spook kry ek net nie getem nie.”

Sy is onbewus daarvan dat die deur agter haar ’n entjie oopgedruk word en dan roerloos aan sy skarniere bly hang. Tant Liefie hoor die sagte voetval, maar Anmar is te diep in haar eie gedagtes versonke om waaksaam te wees. Daar is niks wat sy meer kan doen om Paul van Drüten se guns te wen nie. Hy hou net eenvoudig nie van haar nie. Van die begin af het hy ’n hekel aan haar, en soos haar wantroue in hom mettertyd getaan het, so het syne blykbaar gegroei. Dis net onmoontlik vir haar om veel langer in so ’n atmosfeer te bly werk.

Die volgende aand is daar ’n klop aan haar woonsteldeur, en toe sy dit oopmaak, staan Clive Coertze voor haar. Sy sou verkies het dat hy haar nie hier besoek nie, maar aangesien dit die eerste en enigste keer sal wees, maak dit seker ook nie saak nie.

“Kom binne, Clive. Sit.”

Sy gaan neem teenoor hom plaas en ’n rukkie sit en kyk hulle net na mekaar. Vir die eerste keer is hulle weer alleen, heeltemal alleen.

Clive se mond trek wrang toe hy in haar kalm gesig opkyk. “Op pad hierheen het my kop gegons van alles wat ek jou wil vertel, wil vra, wil sê . . . En nou is dit of ek stom geword het.”

Sy knik begrypend. “Miskien is dit goed dat dít wat jy vir my wou sê, ongesê bly. Dis glad nie nodig dat ons hierdie gesprek moet hê nie, Clive. Jy wil vanaand praat oor dinge wat vyf jaar oud is, dinge wat verby is. Ons kan nooit die horlosie terugskuif nie. Nooit! As dit jou enigsins sal help, kan ek jou vanaand eerlik sê dat die verlede, en alles wat toe gebeur het, by my begrawe en vergete is en dat ek eerlik geen wrok oorgehou het nie. Ons hoef nie onnodig tussen ou doodsbeendere rond te krap waarin daar nooit weer lewe kan kom nie. Laat ons die verlede met rus laat. Toeval – of miskien ook nie toeval nie,” sê sy peinsend, kyk dan weer op, “het ons paaie weer laat kruis.”

Sy kyk na die bekende gesig, die mond, die oë, die hare wat oor sy voorkop hang. Glimlag. “Ek is bly dit het gebeur, regtig bly. Ek is baie dankbaar dat ek jou persoonlik kan sê dat die verlede vergeet en vergewe is. Daar is niks meer wat my seermaak of hartseer of verbitterd maak as ek daaraan terugdink nie.”

Clive kyk op sy hande af, sien dat sy vingers so styf inmekaargevou is dat die kneukels wit deurskyn. Sy het vergeet en vergewe, sê sy, en dis die laaste ding wat hy wou hoor. Vergewe, ja, maar vergeet? Nooit. Nou, met sy oë op haar, weet hy dat hy nooit vergeet het nie. Hy begeer die vrou hier voor hom meer as ooit tevore. Paul was reg. Anmar is nie meer die verliefde jong verpleegstertjie wat pas haar rooi epoulette op haar skouers vasgesteek het nie. Sy is ’n vrou . . . beheers, kalm, en so aanloklik dat hy daarvan kan mal word.

Hy kyk na die glinsterende donker hare wat sag om haar ore krul. Hy sien die mooi wenkbroue, die grys oë, die perfekte vorm van haar wangbene, die reguit neus, die vol, vroulike lippe. Hy sien die soepel gestalte, die deining van bors en heup, die fyn hande met die goed versorgde naels. Hy sien dit alles en iets in hom wil breek toe ’n ander beeld meteens tussen hom en hierdie pragtige mens inskuif. Dis of ’n fisieke pyn deur hom gaan.

Jare gelede sou hy geweet het hoe om haar vriendelike afsydigheid, wat vir hom erger is as woede, te hanteer. Maar die ouer Anmar Cloete sal nie meer deur mooi woordjies en liefdesfluisteringe beïnvloed word nie. Die vrou hier voor hom is nie meer die meisie wat hy altyd so maklik hanteer het nie. Die vrou wat hom so kalm in die oë kyk, beplan haar toekoms sonder hom.

Sy staan op en glimlag. “Ek gaan nou eers vir ons ’n bietjie tee maak en dan, dink ek, sal dit verstandiger wees as jy liewer gaan, Clive. Kruisrivier is ’n klein dorpie en min wat hier gebeur, ontglip die skindertonge. Dis nie die stad waar elkeen sy eie gang gaan nie. Hier is niks geheim nie.”

Sy sien nie die skuldige blos wat sy wange vlek nie, want sy is reeds doenig in die kombuisie. Hy hoor haar rondbeweeg en dit is vir hom oneindig wonderlik om te weet dat Anmar hier naby hom is. En tog besef hy dat sy nooit verder van hom af was as juis nou nie. Hy moet die drang onderdruk om na die kombuis te stap, haar na hom toe om te draai, sy arms om haar te vou en haar te liefkoos soos wat elke vesel in sy liggaam begeer om te doen, totdat sy weer week en sag en inskiklik in sy arms is soos lank gelede. Maar dit sal fataal wees.

Sy oë vernou. Hy sal haar baie versigtig moet benader. Dis ’n probleem wat hy sal pak wanneer hy eers sekerheid oor Anmar het.

Onbewus van wat in haar eertydse verloofde se gedagtes omgaan, bring Anmar die tee en drink hulle dit in ’n ongemaklike, doodse stilte. Daar het regtig niks meer oorgebly om te sê nie, en om nou oor gemeenplasies te probeer gesels, is onvanpas. Sy is dankbaar toe hy sy teekoppie neersit, en sy staan beslis op. Clive moet nou gaan.

Hy staan onwillig op, sien hoe sy deur toe stap, sien die bevel in haar oë, weet dat sy tyd verstreke is. Toe hy by die deur kom, maak sy ook sommer die voordeur oop. Hy aarsel in die deur, draai dan vinnig na haar terug.

“Dankie, Anmar.” Hulle weet albei hy bedank haar nie vir die tee nie, en sy knik net.

“Nag, Clive.”

Hy sluk, aarsel nog, trek haar meteens nader, druk sy lippe warm en dringend op haar voorkop en sy stem is hees, emosiebelaai: “Wat ’n groot dwaas was ek nie!”

Dan is hy die trappies af, stap reguit na sy motor, sien nie eens die ander motor onder die bloekom langs die verpleegsterstehuis staan nie.

Hy trek met ’n vaart weg en Elsa Dreyer laat verwonderd hoor: “Wel! Wel! Ons is darem ’n toe klomp mense in hierdie hospitaal.”

“Wat bedoel jy?”

“Alles is nou glashelder vir my – matrone se skielike metamorfose, natuurlik. Ons nuwe dokter is die oorsaak.”

“Jy sien spoke, Elsa. Kom. Ek wil gaan slaap.”

Sy kyk hom gesteurd aan toe sy langs hom buite die motor staan. “Vir wie probeer jy skerm, Paul – vir jou neef of . . . matrone?”

“Nag, Elsa.”

Sy sien hom omstap na sy kant van die motor en voordat sy nog ’n woord kan sê, trek ook hy met ’n vaart weg. Sy kyk die rooi agterliggies peinsend agterna, keer dan haar blik na die matrone se woonstel waar daar nog lig brand.

Sy glimlag. Hou so aan, matrone Cloete, sê sy in haar gedagtes. Hou so aan! Dit mag Paul grief dat jy skielik so uit jou dop gekruip het, maar dit pas my uitstekend. Dan, met ’n ingenome laggie, verdwyn sy by die voordeur in.

Ena Murray Omnibus 26

Подняться наверх