Читать книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray - Страница 6
3
Оглавление__
Nie eens haar grimering verberg die volgende oggend die tekens van ’n slapelose nag nie. Tog vertoon sy soos altyd koel, kalm en beheers toe sy aan diens kom. Watter woelinge ook al in haar aan die spook is, die bleek gesig met die grys oë wys geen tekens daarvan nie. Dit is eerder asof sy selfs meer as gewoonlik soos ’n pragtige maar gevoellose robot van die een saal na die ander beweeg toe sy haar rondte doen.
As daar vanoggend openlike vyandigheid, gemeng met nuuskierigheid, in suster Elsa Dreyer se blik is, wys die statige houding van die matrone geensins dat sy dit raaksien en verstaan nie. Dis eers toe sy terug is in die veiligheid van haar kantoor dat die grys oë effens die sluiers lig.
Dis baie duidelik dat Elsa geensins van die idee hou dat Paul van Drüten gisteraand in die matrone se woonstel was nie. Sy beskou Paul reeds as haar persoonlike eiendom. Anmar se lippe trek wrang. Sy hoef geen vrees te hê nie. Paul van Drüten is die laaste man op aarde met wie sý iets te doen wil hê. Wel, amper die laaste.
Weer voel sy die koudheid om haar hart vasslaan soos in daardie ontsettende stonde gisteraand. Clive . . . Clive Coertze kom na Kruisrivier toe, kom werk in hierdie selfde hospitaal waar sý matrone is. En dit deur Paul van Drüten se toedoen! O, hoekom moes Oudokter se seun sy plek kom inneem het? Alles was so wonderlik, so rustig, so kalm totdat hy op die toneel verskyn het. Sy het amper soos ’n non in ’n klooster geleef, afgesluit van die alledaagse lewe, afgesterf van die gewone menslike emosies, onaangetas deur groot vreugde of intense pyn.
En toe kom Paul van Drüten . . . en asof dit nie genoeg is nie, gaan hy nog vir Clive Coertze ook bring.
Hy staan al ’n rukkie in sy nou bekend peinsende houding voor haar voordat sy hom gewaar. Sy was onbewus daarvan dat hy gefassineerd na die speling van emosies op haar gesig staan en kyk het. Die klein glimlaggie wat nou in sy mondhoeke keep, vertolk sy reg, maar die oorsaak daarvan verstaan sy verkeerd.
Soos altyd deins sy intuïtief terug, maar dis of dit die dokter vandag nie ontstel nie. Die gebruiklike frons verskyn nie op sy voorkop nie.
Die oorwinnaarsglimlaggie om die sterk, besliste mond is soos ’n rooiwarm yster op Anmar se hart. Dieselfde hart wat sedert gisteraand weer, soos van ouds, die sentrum van haar gevoel geword het. En sy haat hom daarvoor – haat hom dat hy dit wat sy as dood gewaan, dood gewens en vyf jaar lank probeer doodwerk het, met ’n enkele aanraking weer so maklik kon laat herlewe het. En hy weet dit, besef sy met ontsetting. Dié dat hy so oorwinnend glimlag. Hy weet hy het gewen. Hy weet hy het dit vir haar absoluut onmoontlik gemaak om langer op Kruisrivier te bly, langer matrone van hierdie hospitaal te wees.
Sy ruk haar asem in toe hy meteens iets uit sy sak haal en voor haar neerlê. Eers maak die repies papier voor haar op die blink blad van haar lessenaar geen sin nie. Dan kyk sy op.
“Ek het jou reeds gesê dat jou bedanking nie nou al noodsaaklik is nie.”
Soos die vorige aand is sy te oorbluf deur die man se vermetelheid om iets te sê. Dan skiet sy uit haar stoel orent, blind van woede. “Hoe durf jy so iets doen? Hoe durf jy my bedanking by die sekretaris vat en opskeur? Wie is jy om . . .?”
“Ek is Paul van Drüten, soos ek jou gisteraand al gesê het. En ek, anders as die man of mans van wie jy kennis dra, bedoel wat ek sê, Anmar. Hoe gouer jy dit in jou kop kry, hoe beter. En as ek sê dat jy nie nou al gaan bedank nie, bedoel ek presies net dit. Spaar jou dus die moeite om weer ’n bedankingsbrief in te dien. Dit gaan jou nêrens bring nie.”
Sy kan stik van woede. Vir die eerste keer in baie jare voel sy hoe sy bewe van ontsteltenis en weet sy nie hoe haar gesig en oë meteens lewe nie. “Ek sal my nie langer deur jou laat domineer nie, dokter Van Drüten. Jy is nie by magte om my bedanking af te keur nie. Ek sal dit persoonlik by die eerste sitting van die hospitaalraad indien.”
“En as ek Clive Coertze se aanstelling kanselleer, sal jy dan nog weghardloop?”
Sy staan soos ’n marmerbeeld voor hom. “Clive Coertze het niks . . .”
“Het hy nie?”
Sy oë priem in hare, hou haar blik vasgetrek in syne. Sy staar terug, magteloos, weerloos. En dan besef sy dat dit waar is, dat sy nie Clive Coertze in gedagte gehad het toe sy vanoggend haar bedankingsbrief ingedien het nie. Dit was hierdie man, hierdie Paul van Drüten, wat in haar gedagtes was toe sy finaal geweet het dat sy hier moet padgee, en gou ook. Al weet sy dat hy haar nie gaan glo nie, antwoord sy nou eerlik: “Nee! Ek het bedank omdat ek jou onuitstaanbaar vind, dokter Van Drüten, as jy dan moet weet. Ek sien nie kans om langer saam met jou te werk nie.”
Hy glimlag byna goedig en sy lyk eg geskok daaroor.
“In daardie geval hoef jy glad nie eens daaraan te dink om te bedank nie, matrone. Jy vind my so omdat jy my nog nie ken nie. Eintlik is ek ’n baie gawe mens. Maar ek het mos belowe dat ons mekaar van nou af beter sal leer ken. Ek is baie seker dat jy my heeltemal aanvaarbaar sal vind as . . .”
“Smaak verskil, dokter. Ek en Elsa Dreyer het beslis nie dieselfde smaak nie.”
“Daarvoor dank ek die gode, matrone! Daar is tussen julle twee geen vergelyking nie. Maar suster Dreyer pas glad nie in hierdie prentjie nie. Ek verseker jou jy het geen rede tot jaloesie . . .”
“Jaloesie!”
“Ja, wel, dis al afleiding waartoe ek kan kom. Die feit is net dat . . .”
“Die feit is dat jy nie reg wys is nie, Paul van Drüten! Jy en Elsa Dreyer kan vir my part saam maan toe vlieg!”
Sy gesig trek verbaas, sy oë is spottend. “In daardie geval kan ek die rede vir jou bedanking glad nie peil nie, matrone. Goed, ek erken dat daar ’n bietjie wrywing en misverstand die eerste paar weke was, maar sedertdien het dinge verander en jy moet erken dat alles in die hospitaal deesdae op geoliede wiele loop. Dan moet ek nou aanvaar dat ék die oorsaak is. Maar as ek vandag plegtig beloof om myself in die toekoms meer aanvaarbaar vir jou te maak? Sal jy dan bly, Anmar?”
Sy sluk, skeur haar oë weg van sy intense blik. “Ek . . .” Sy swyg. Hy het haar in ’n hoek gedryf waaruit sy nie weet hoe om te kom nie. Sy kan kwalik sy aanbod weier sonder om kinderagtig voor te kom. Hoewel sy ’n nare gevoel het dat hy maar net besig is met ’n stukkie goeie toneelspel, gee sy woorde die indruk dat hy waarlik ’n opregte begeerte het om probleme van sy kant uit die weg te ruim. Sy sal haarself in ’n baie slegte lig stel as sy subiet weier en geen tegemoetkoming van haar kant toon nie.
Maar sy wíl die man nie tegemoetkom nie. Sy wíl hom nie beter leer ken of hom meer aanvaarbaar vind nie. Sy wil met hom niks te doen hê nie! Hoe minder sy van hom sien en hoe verder hy van haar af wegbly, hoe beter. Sy wens hy en Elsa Dreyer wil maan toe vlieg en haar en haar hospitaal in vrede laat sodat hulle kan voortgaan soos in die goeie ou dae voordat hy alles kom ontwrig het.
“Anmar . . .”
“Goed, dokter. Ek sal my bedanking voorlopig terugtrek, maar op mý voorwaarde.”
“Voorwaarde?”
“Ja.” Sy lig haar kop, kyk vas terug in sy fronsende blik. “Ek verkies dat ons mekaar net op professionele vlak ontmoet.”
“Ek sien. Jy is bereid om saam met dokter Van Drüten te werk, maar vir Paul wil jy nie ken nie.”
“Presies. Ek stel nie in die minste belang nie.”
“Ek begin verstaan. Dis nie as dókter dat jy my onuitstaanbaar vind nie. Dis oor gisteraand dat jy wil bedank.”
Tot haar ontsteltenis voel sy ’n warm gloed teen haar hals opstyg en dit kos haar al haar moed om hom onverskrokke te bly aankyk. “Dan verstaan ons mekaar, dokter.”
“Beter as ooit tevore, matrone. Daar is net een puntjie waaroor ek baie graag helderheid sal wil kry voordat ons ons openhartige gesprek afsluit.”
“Ja?”
“Ek het nie gisteraand die indruk gekry dat jy onwillig in my arms was nie – as jy my sal verskoon dat ek so reguit is,” voeg hy met ’n ironiese glimlaggie by. “Ek wil nie op besonderhede ingaan nie, maar jy kan nie ontken dat jy my vasgehou en teruggesoen het nie. Aan wie was dit wat jy op daardie oomblik jou oorgawe gegee het – aan my . . . of die spook?”
Sy staar hom aan, verwese voor sy brutale woorde. Geen ware heer sal eens verwys na wat gisteraand gebeur het nie. Maar Paul van Drüten verwys nie net nie, hy hou lykskouing. O, hy ís onuitstaanbaar!
“Die antwoord daarop is tog voor die hand liggend,” herwin sy haar bravade.
“Nie noodwendig nie.”
Weer skiet die rooi blos oor haar gesig, hierdie keer hoër. Hy is die vermetelste mansmens wat sy nog ooit teëgekom het. Tog staan sy soos ’n pilaar voor hom, verwoes hom met haar oë. Weer het hy haar in ’n hoek gedryf. Natuurlik was haar oorgawe nie aan hom nie, wil sy heftig verweer. Maar dan was dit aan die “spook”, en dit kan sy ook nie erken nie.
“Toe maar, matrone. Jy hoef nie te antwoord nie. Jou swye is antwoord genoeg. Ek weet nou. Maar ek wonder of jý weet . . . regtig weet wat die antwoord op my vraag is.”
Sy sien hom wegstap en sak terug in haar stoel, ’n nuwe onrus in haar; ’n onrus wat dieper gaan as haar ontevredenheid oor die ontwrigting van haar hospitaal.
Sy staan rusteloos op, stap na die venster. Wat ís die antwoord op daardie vraag? Het Paul van Drüten, soos hoeveel kere in die verlede, weer eens gelyk gehad? Ken sy nie die antwoord nie? Wie was dit wat daarin geslaag het om vir ’n enkele oomblik weer die vrou in haar na vore te bring? Wie was dit wat haar vir ’n oomblik weer weerloos en sag en vol emosie gemaak het? Dit kon tog nie Paul van Drüten gewees het nie, dis tog nie moontlik nie! Sy het ’n hekel aan die man! Maar was dit dan die spook uit haar verlede?
Die blos verdwyn van haar wange, laat hulle bleek. Was dit Clive Coertze se lippe wat hare gedwing het om oop te gaan in oorgawe? Was dit die herinnering aan Clive se liggaam wat haar Paul teen haar laat vasdruk het met ’n drang wat sy nie geweet het nog in haar kan wees nie? Was dit Clive Coertze se beeld wat in haar gedagtes en hart was toe sy Paul van Drüten se soen beantwoord het?
Vir die eerste keer in jare roep Anmar ’n beeld uit die verlede doelbewus voor haar op, probeer sy om dit duidelik te kry soos toe dit gedurig, dag en nag, verblindend helder tot in die fynste besonderheid voor haar bly sweef het. Verbaas besef sy dat sy nie daarin slaag om dit weer só intens duidelik op te tower nie.
Dis of die jare wat verby is ’n genadige wasigheid daaraan verleen het. Sy probeer stip kyk met die geestesoog, maar al wat sy sien, is vaag bekende gelaatstrekke, en dan is sy ook nie so seker of dit lewensgetrou is nie. Dit is vir haar asof die beeld agter die wasigheid na dié van Paul van Drüten wil lyk. Sy knip haar oë, konsentreer hard, maar kan nie van die gevoel ontslae raak dat die vae beeld dié van Paul van Drüten se gesig is nie.
Ergernis stoot opnuut in haar op. Hierdie Paul van Drüten het selfs nou al in haar verlede begin indring; haar herinneringe só ontwrig dat sy nie eens meer haar eie verlede kan herken nie! Wat is hierdie man besig om met haar aan te vang en hoekom, hoekom was sy so sotlik om haar bedanking terug te trek? Nou eers besef sy dat hy weer, soos altyd, sy sin gekry het. En sy, arme swaap, het onder die waan verkeer dat sy die hef in die hand het. Dat sý die voorwaarde stel.
Voorwaarde. Hoe belaglik! Sy voel iets in haar wegkrimp. Dit was totaal onnodig om so ’n voorwaarde te stel, selfs ná wat die vorige aand gebeur het. Want dit beteken niks. Hoe kan dit? Gisteraand was ’n weerspreking van alles wat tot op daardie oomblik gebeur het.
Wat hom besiel het om haar te soen, weet hy seker self nie. Hy was vermoedelik net nuuskierig om uit te vind hoe die kil, vyandige matrone, wat hom so ontegemoetkomend behandel, gaan reageer as hy haar soen. Moontlik was hy bloot verveeld – of dalk ergerlik gefrustreerd omdat hy so gejaag het om hier te kom en toe is Elsa Dreyer nie tuis nie. Hy het hom waarskynlik by gebrek aan interessanter afwisseling maar met háár vermaak.
En die volgende oggend stel sy so ’n belaglike voorwaarde aan hom, asof sy in gevaar verkeer dat hy sy attensies op haar sal afdwing in die toekoms. Hy moet op hierdie oomblik heerlik in sy hart lag, veral nadat hy haar so uitdruklik verseker het dat daar geen vergelyking tussen haar en Elsa Dreyer is nie en dat hy die gode dank dat hulle nie dieselfde smaak het nie. Wat het haar besiel? Hy sal die indruk kry dat sy iets meer in daardie soen gelees het as wat hy bedoel het en hy sal beslis wonder hoekom.
Ja, hoekom sal ’n soen van ’n man wat sy nie voor haar oë kan verdra nie haar so hewig ontstel? Sy maak sowaar ’n gek van haarself!
Daardie aand vind sy dit nog moeiliker om te probeer slaap. Toe sy wel insluimer, skrik sy ná ’n ruk wakker met ’n bewing in haar ingewande en haar wange nat van die trane. Sy vee vervaard oor haar gesig en wonder suf watter jare laas sy wakker geword het met trane op haar wange. Maar selfs nadat sy opgestaan en haar kamerjas aangetrek het, is dit of die droom nie van haar wil wyk nie.
Sy was in ’n hospitaalgang, ’n lang, eindelose gang wat tot in die verskiet strek. Sy was besig om daarin af te stap, een kilometer na die ander totdat haar voete besig sleep het en sy geweet het dat sy die einde nie sal bereik en nooit weer uit die gang sal kom nie. En toe, meteens, was daar iemand daar ver voor wat in haar rigting aangestap kom. Sy kon hom eers nie eien nie, maar hoe nader hy gekom het, hoe duideliker het hy geword, hoewel sy gelaatstrekke in ’n vreemde wasigheid gehul gebly het. Tog het sy intuïtief geweet wie dit is en sy het hom tegemoet begin hardloop, huilend-dankbaar dat hy haar kom soek het en seker daarvan dat hy haar uit die verskriklike gang kom red het.
Dit was Clive wat met uitgestrekte arms na haar aangekom het, en na wie se omhelsing sy snikkend gehardloop het. Maar net toe sy by hom kom, net toe sy sy arms om haar voel gaan, het die wasigheid wat hom omring het, skielik verdwyn en dit was Paul van Drüten se gesig wat oor haar gebuig het met daardie klein, oorwinnende glimlaggie in die een mondhoek.
Die res van die nag is ’n rustelose, sielstergende gejaag van gedagtes, ’n deurmekaar mengelmoes van die gisters en hedes wat sy self nie altyd kan onderskei nie. Moeg en mat bly Paul van Drüten se woorde in haar kop draai: “Ek verseker jou, jy het geen rede tot jaloesie nie.”
Sy vee moeg oor haar oë terwyl sy vanuit die bed lê en kyk hoe die vroeë oggendlig steelsgewys nader kruip. Sy erken dat dit seergemaak het toe hy suster Dreyer openlik bo haar gekies het om in die teater te werk. Sy erken dat sy kritiese houding, sy foutvindery, die wyse waarop hy haar so te sê uit die hospitaallewe gestoot het, haar seergemaak het. Sy erken selfs in hierdie vroeë môreuur dat sy opvallend vriendeliker houding teenoor almal, veral teenoor Elsa Dreyer, haar ongelukkig maak. Maar dit is tog natuurlik, menslik.
Maar dan weer, van wanneer af het sy meteens so menslik geword dat dit haar moet ontstig? Sy wil tog nie van die man hou nie. Sy sal nooit van hom kan hou nie.
Selfs al verander hy dramaties teenoor haar, sal dit nie help nie. Daarvoor is sy oë, sy mond, selfs sy manier van stap te bekend – dit herinner haar te veel aan die verlede om ooit iets meer as beleefdheid tussen hulle moontlik te maak.
En tog, toe sy hom daardie oggend in die gang raakloop toe sy aan diens kom, tref sy afsydige houding haar dubbel so erg en wonder sy onwillekeurig hoe dit sal voel as hy net een keer teenoor haar glimlag soos hy dit teenoor Elsa Dreyer doen.
“Goeiemôre, dokter.”
“Goeiemôre, matrone.”
Sy stem is so formeel soos hare en sy wil vinnig by hom verbystap, maar hy roep haar tot stilstand.
“Ek het tant Liefie na ’n privaat kamer laat oorplaas. Sy het vanoggend vroeg weer ’n terugslag gehad. Ek is nou op pad na haar toe. As jy wil, kan jy saamstap. Ek het nog nie tyd gehad om vanoggend by haar in te loer nie.” Hy sien haar aarseling en sy gesig verstroef. Sy oë dra meteens ’n ironiese glans. “Ek beloof ek sal jou nie op pad daarheen probeer soen nie.”
Sy ruk asof hy haar geklap het en haar waardige beheerstheid verdwyn soos mis voor die son. “Jy sal nooit weer daardie voorreg hê nie, dokter Van Drüten.”
Meteens kry sy die glimlag waaroor sy oomblikke gelede gewonder het. “Wil jy my wed, matrone?” Sy oë dartel in hare af.
Onseker kyk sy hom aan. Hierdie sy van hom ken sy nie. Hierdie ligte, amper teer terging weet sy nie hoe om te hanteer nie. Die blos, wat deesdae tot haar grootste ergernis so maklik op haar wange verskyn, is meteens weer daar; maar as haar wange warmer word, word haar grys oë beslis killer.
“Verspottigheid pas jou nie, dokter Van Drüten. En onthou asseblief ons gesprek van gister. As jy jou nie by jou belofte gaan hou nie . . .”
“Ai, matrone, ek weet van geen belofte wat ek gemaak het nie. Ek weet jy wil my net op professionele vlak ken, maar ek is ’n professionele man op alle gebiede!”
Sy hartlike lag volg haar in die gang af toe sy omdraai en vinnig in die rigting van haar kantoor verdwyn.
Tant Liefie kyk hom bestrawwend aan toe hy by haar kamer instap. Die ou liggaam is moeg ná die moeilike nag, maar die lewensvuur glinster nog in die kraalogies.
“Hoekom koggel jy altyd met haar, Dokkie?”
Hy lê ongemerk sy hand oor haar pols. “Dan het tante gehoor?” Hy glimlag skeef. “Ek het al alle maniere probeer, maar nie een was tot dusver die regte metode nie.”
“Metode vir wat?”
Hy neem sy hand weg en kyk op haar af, goedig en vol deernis. “Die regte metode om spoke weg te jaag.”
“Spoke? Watter spoke?”
“Spoke – of liewer, een spesifieke spook.”
“Kry ’n Slams uit die Kaap. Hulle is goed met spoke en goëlery en sulke dinge. My oorle pa was mos gegoël, weet jy? Hy . . .”
Hy skud sy kop laggend. “Wat sal ons waardige matrone sê as ek, ná alles, ook nog met ’n Slams hier ingestap kom? Nee, tante, ek sal maar sonder ’n Slams se hulp moet klaarkom.”
“Maar is dit ’n rêrige spook?” vra tant Liefie diep geïnteresseerd, ten spyte van die naarheid in haar. “Soms dink ’n mens maar dis ’n spook, en dan is dit nooit rêrig een nie.”
“Juis, tant Liefie. Ek dink dis wat dit eintlik is. Nie ’n rêrige spook nie. Maar hoe oortuig jy iemand dat dit nie ’n rêrige spook is nie?”
“Jy wys hom. Ek bedoel, jy vang die spook en wys hom vir daardie een, sodat hy met sy eie oë kan sien hy hol almelee verniet weg.”
Paul van Drüten se oë is peinsend. Dan knik hy. “Ja, ek het al daaraan gedink, eintlik al begin om die spook te vang om hom te kom wys. Maar sê nou dit is régtig ’n spook, tante? Wat maak jy dan?”
Die ou tante frons. “Ja, dit sal ’n gemors wees. Jy sal dit maar moet waag, of hoe?” Die ou oë is meteens skerp. “Hoe gouer jy die spook vang, hoe gouer sal jy weet of dit ’n rêrige een is of nie.”
“Ja, tante is reg. Dis seker maar die beste.”
“En as dit ’n rêrige spook is, is daar net een raad, Dokkie. Dan bly nog net die Slams oor.”
Hy lag hartlik en druk die ou hand liggies. “Glo my, as ek moet uitvind dis ’n rêrige spook, sal ek so desperaat wees dat ek niks daarvan sal dink om ’n Slams te laat kom nie, matrone of nie!”
’n Ruk later stap hy sy kantoor binne, lig die telefoon van die mik af en bel sy neef.
“Clive, ek weet ek het gesê jy kan maar eers volgende maand begin, maar ek het gewonder of dit nie vir jou moontlik sal wees om vroeër te kom nie. Hier is ietwat van ’n krisis . . . Wat? Nee, nie ’n epidemie nie. Ons is maar net ontsettend besig en ’n ekstra paar hande sal baie welkom wees. Sal jy kan? Gaaf. Groete vir Louise.”
Hy plaas die gehoorbuis weer terug en sit ’n oomblik peinsend voor hom en uitstaar. Dan grinnik hy. Tant Liefie, ek hoop nie jy is nou besig om my van die wal af in die sloot te help nie. En ek hoop jy ken ’n goeie Slams as dinge begin skeefloop.
In die paar dae wat volg, kry Anmar dit reg om die superintendent te vermy, en as hy dit agterkom, laat hy niks merk nie.
Toe hy weer een môre tant Liefie se kamer binnestap, sien hy dat sy regop teen die kussings sit en heelwat beter lyk. Maar sy glimlag word nie beantwoord nie.
“En hoekom so suur vanmôre?”
“Ek is kwaad vir jou,” kom dit onomwonde.
“O? En wat het ek gedoen?”
“Kyk, ek het ook eers gedink hierdie matrone van julle is opstêrs en befoeterd. Maar ek is nou al ’n hele rukkie in die hospitaal en ek het haar goed deurgekyk. Die kind is glad nie onaardig nie. En vandat sy soms snags kom inloer, het ek sommer ’n ander gedagte oor haar gekry. As ek geweet het jy gaan met haar raas, sou ek jou nooit vertel het dat sy soms snags hier is nie. Raai, ek het haar die afgelope nagte gemis.”
“Het sy vir tante vertel dat ek met haar geraas het?”
“Ja, en haar verbied het. Nee a, Dokkie, wat is dit dan met jou? Sy was gisteraand in trane, die arme kind.”
Sy gesig is meteens ernstig, sy stem skerp. “Was sy weer verlede nag hier? En wat het sy gesê?”
“Ja, sy was hier. Het soos ’n skelm hier ingesluip asof dit nie ook háár hospitaal is nie. Sy sê niks wat sy doen is reg nie, en jy dink sy is oorbodig. Dis glo nou net suster Dreyer voor en suster Dreyer agter. Wat makeer jou dan, Dokkie? Jy het mos darem seker ’n bietjie van jou pa se verstand gekry? Jy kan mos met jou blote oog sien daar is g’n vergelyking tussen die twee nie.”
Paul glimlag en plaas sy hand kalmerend op haar pols. “Natuurlik is daar nie, tante. Maar die arme kind is so deurmekaar met spoke dat sy nou óral spoke sien.”
Tant Liefie se blik is vreemd. “Snaaks dat jy die laaste tyd so vol spookgesegdes is. Sy het ook van spoke gepraat.”
“O?”
“Ja. Wag, wat was dit nou weer? Laat ek sien. Ja. Sy het skielik hier ingekom, amper hier ingesweef, so saggies het sy gekom. Toe ek maar sien, staan sy langs my bed. Sy het gevra hoe dit gaan, en toe sê ek vir haar dit lyk my beter as met haar. Sy vra toe wat ek bedoel. Toe sê ek sy lyk soos ’n ding wat die spoke rondjaag. Het jy opgemerk, Dokkie, hoe vreeslik maer die arme mens geword het?”
Sy gesig is nou ernstig en die groen oë het hul vonkeling verloor. Hy knik. “Daar is niks, nie die kleinste besonderheid in verband met matrone Cloete wat my oog ontglip nie, tant Liefie. Maar gaan voort. Wat sê sy toe?”
“Sy het nie dadelik iets gesê nie, net so na my staan en kyk. En toe vra ek: Wat is dit dan met jou, hartjie? En toe begin sy sommer huil. Droewig soos ’n klein kindjie. Foei tog, ek kon my eie trane nie keer nie. Toe sy eindelik kon praat, sê sy: ‘Tante is reg. Die spoke jaag my al jare lank rond, maar die spook wat my nóú rondjaag, kan ek nie meer verduur nie. Ek sal móét weggaan.’ En toe vertel sy my hoe kwaai jy met haar is. Nee a, Dokkie. Jý is mos die spook wat die arme kind so verniel!”
“Nee, tante, nie ek nie. Dis iemand anders.” Hy sug, die oë weer peinsend. “Maar ek het tante se raad gevolg. Ek het die spook gevang. Hy sal vandag nog hier aankom en dan . . . dan sal ons maar moet sien wat gebeur. Ek weet ek loop ’n geweldige risiko, maar so kan dit nie langer voortgaan nie. Dis tyd dat Anmar Cloete die spook reg in die oë kyk. Mag die Vader gee dat sy dan sal besef dat hy geen bedreiging vir haar inhou nie.”
Tant Liefie kan haar goed onnosel hou as dit haar pas. Maar soms, soos nou, skemer ’n skerp brein deur en verraai sy dat sy gans en al nie so ’n eenvoudige ou vrou is as waarvoor die mensdom haar aansien nie.
“En as sy sien dit ís ’n spook, ’n rêrige spook? Wat maak jy dan? Sal die Slams ooit help?”
“Nee, tant Liefie. Ek is bevrees dit sit dan nie in ’n Slams se broek om die spook te verdryf nie. Dan . . . dan sal ek moet aanvaar dat daar altyd ’n spook sal wees.” Hy glimlag skeef. “Maar hulle sê mos ’n mens raak alles gewoond, nie waar nie? Miskien sal ek haar dan kan leer dat al spook dit in ’n huis, ’n mens nogtans daar kan lewe. Ons sal maar moet sien.”
’n Paar uur later rus sy oë versluierd op die klassieke gelaatstrekke van die matrone toe hy en ’n ander man saam by haar kantoor instap. Hulle staan langs mekaar, en hoewel daar tog ’n definitiewe verskil tussen die twee mans is en jy hulle nooit met mekaar kan verwar nie, is daar ook ooreenstemmende gelaatstrekke wat duidelik toon dat hulle familie is.
Anmar kyk op en versteen opmerklik. Dan kom sy stadig op haar voete, haar gesig wasbleek, asof sy ’n spook voor haar sien staan.