Читать книгу Ena Murray Omnibus 35 - Ena Murray - Страница 4

Оглавление

Hoofstuk 1

1

Dis of sy uit ’n diepe slaap wakker word. Sy sukkel om weg te breek uit die donker newels van niks om haar. Dit verg intense inspanning en konsentrasie om haar bolyf orent te trek . . . maar iets vertel haar sy moet . . . sy moet dit nóú doen. Sy durf nie weer salig wegsak in die swart niks waarin sy so lank was nie. Vir hoe lank sy daar was, weet sy nie . . . maar dit was lank . . . baie lank . . . te lank . . .

Sy kreun saggies toe sy haar knieë optrek om haar elmboë daarop te stut. Pynprikkels skiet deur haar bene asof hulle vir ’n lang tyd in onbruik was. Haar gesig val vooroor in haar hande. Haar kop is swaar en dof en dis of haar nek nie genoeg krag het om dit orent te hou nie.

Hoekom voel sy so ellendig? Nie ellendig siek nie. Ellendig swak en dof en amper verstandeloos . . .

Sy stroop haar hande van haar gesig af weg, dwing haar nek om sy werk te doen. Sy moet haar regruk. Sy móét haar regruk! Watse slegtigheid . . .

Haar tam oë dwaal oor haar hande. Sy maak haar oë toe, weer oop. Hulle lyk nog dieselfde . . . die hande voor haar . . . en sy ken hulle nie. Dit moet haar hande wees . . . háre . . . maar sy herken hulle nie! Sy bring hulle nader aan haar gesig soos iemand wat bysiende is, sprei die vingers wyd oop, maar hulle bly vreemd, nie hare nie! Háár hande lyk nie só nie! Sy weet dit net. Háár naels is lank en goed versorg. Hierdie . . . hierdie vreemde hande se naels is lakloos, kort geknip. Sy weet sy het altyd ringe gedra. Hierdie vingers is ringloos . . .

Verskrik, verward kyk sy stadig om haar rond. Dis ook nie haar kamer nie! Sy ken hierdie kamer nie! Daar is niks wat bekend is nie! Nie die gordyne nie, nie die mat, nie die meubels nie . . .

Iets in haar trek styf. Sy gooi die beddegoed af, swaai haar bene van die bed af, nou skaars bewus van die pynstekies daarin. Haar nagrok . . . Nee, dis nie haar nagrok nie. Sy ken dit nie! Sy het nog nóóit ’n nagrok besit nie!

Badkamer . . . Sy moet by die badkamer kom! Sy moet haar gesig gaan was, dan sal hierdie nagmerrie tot ’n einde kom. Haar oë soek vervaard, sien dan die halfoop deur raak en sy sukkel daarheen, druk dit aarselend oop. Sy weet instinktief wat sy hier gaan vind: sy ken ook nie die badkamer nie! Dis koud en kaal. Háár badkamer is vrolik, vol plante, met lekkerruikgoed en toiletware wat oral rondstaan. Hier is niks nie. So vinnig as waartoe sy in staat is, pyl sy na die wasbak toe, buk en draai die kraan oop, snak effens na asem toe die hande vol koue water haar warm vel tref. Oor en oor spoel sy haar gesig af asof sy iets wil wegwas, die dofheid en onkunde uit haar brein wil uitwas. En dan lig sy haar gesig op, kyk vas teen die spieëlbeeld voor haar . . . en haar hande gryp die wasbak vas. Die vrou in die spieël ken sy nie!

Sy wil wegdraai, wegvlug, maar staan vasgenael, gehipnotiseer deur die vrou wat na haar terugkyk.

“Dis nie ek nie!” Sy weet nie dat sy fluister-praat nie. “Ek ken jou nie! Jy is nie ek nie!”

Maar die spieëlbeeld bly met stomme verbystering terugkyk.

Wie is sý dan? En wie is ék? Sy sluit haar oë, probeer konsentreer. Maar alles is dof en vaag in haar. Sy probeer haar gesig onthou, soos wat sy moet lyk, maar dis agter digte newels verberg. Daar is vrees in haar oë toe sy hulle weer oopmaak. Daar is een sekerheid in haar toe sy weer teen die spieëlbeeld vaskyk: sy lyk nie só nie!

Haar oë soek na die verskille. Die hare . . . Die vrou in die spieël se hare is kort, reik skaars tot onder haar ore. Dis sonder styl en vaal. Sy wéét háár hare dra sy lank en gekrul. Dis blink en gesond en ’n ander kleur. Sy soek verder. Die wenkbroue van die vrou in die spieël is duidelik onversorg. Sy sou dit beslis ’n bietjie gepluk het. Die vrou se vel is ook bleek en droog en daar is nie ’n tikseltjie grimering of velversorging te sien nie. Sý sou beslis iets aan so ’n kleurlose prentjie gedoen het. Sy ken hierdie vrou nie!

Sy lig bewende hande na haar bewende mond, bekyk weer die hande wat by die spieëlbeeld pas maar nie by háár nie. En die nagrok . . . Sy weet net sy het nog nooit ’n nagrok besit nie. Sý slaap in kort, duur pajamas.

Sy swaai weg. Sy wil wegkom van hierdie onsinnigheid. Niks maak sin nie. Sy stap terug na die slaapkamer, stap na die venster, nou met vaste tred, asof die benoude angs in haar die nodige adrenalien verskaf. Sy trek die gordyne oop; die vreemde gordyne met die aaklige patroon wat sý nooit sou gekies het nie. Maar soos sy vermoed het, is dit ook ’n vreemde toneel wat haar oë begroet. Sy weet net sy het dit nog nooit tevore gesien nie. Dis ’n lieflike tuin met berge op die agtergrond. ’n Rustige, mooi prentjie . . . maar so vreemd . . . so vreemd . . .

Sy laat haar blik om haar dwaal en dis of sy haar geskokte verstand onder beheer begin kry. Bly kalm. Dis ’n misverstand. Dis ’n grap . . . Ja, dis ’n grap. ’n Sieklike grap. Êrens, êrens moet hier tog iemand wees wat haar kan vertel wie sy werklik is. Dis asof die skok van die besef haar heeltemal verstandeloos laat . . . Sy kan nie eens haar naam onthou nie!

Sy hyg na asem, haar oë verstar. Dis waar! Sy ken nie haar eie naam nie! Sy weet nie wie sy is nie! Al wat sy weet, is dat sy nie die vrou in die spieël is nie. Haar kop ruk heen en weer soos sy desperaat om haar rondkyk. Waar . . . wáár vind jy uit wie jy is as jy nie weet wie jy is nie?

Haar identiteitsboekie! Sy moet een hê. Elke mens het een. Sy sal ook een hê. Handsak . . . Daar sal ’n handsak in die kas wees . . . Dit sal daarin wees . . .

Sy voel na huil toe sy die kasdeur oopmaak en die handsak sien. Sy gryp daarna, versteen dan. Sonder om deur die skamele paar rokke te blaai, weet sy dis nie haar smaak nie. Dit sal by die vrou in die spieël pas, nie by haar nie. Haar vingers met die onbekende, kort naels bewe toe sy die handsak oopmaak. Dit móét hierin wees!

“O dankie!” adem sy amper huilend toe sy die bekende boekie gewaar. Sy sukkel om dit oop te maak, haar vingers dom van bewerasie. Dan, vir die tweede keer kyk sy teen die vrou in die spieël vas, maar hierdie keer kyk die vreemde wese na haar terug vanuit ’n foto. En sy lees die vreemde vrou se name stadig, hardop: “Anna Maria Magdalena van der Merwe.”

Sy sak op ’n hopie op die mat neer, verberg haar gesig in haar hande terwyl koue rillings deur haar gaan. Ek is besig om mal te word!

Sy word eers bewus daarvan dat sy nie meer alleen is nie, toe hande skielik haar skouers aanraak. Haar kop ruk omhoog en daar lê naakte vrees in haar oë.

Die gesig bokant hare frons in diepe kommer. “Toe nou maar. Toe nou maar. Alles is reg. Daar is niks om voor bang te wees nie,” sê hy vertroostend soos teenoor ’n kind.

Sy laat toe dat hy haar optrek tot op haar voete, om te verdwaal in hierdie vreemde wêreld waarin sy haar bevind, sonder om teë te stribbel. Ook toe hy haar sonder seremonie optel en bed toe dra, laat sy dit sonder ’n geluid van protes toe. Sy is totaal weerloos, geheel aan hierdie onbekende man uitgelewer, en sy weet dit.

“Daar’s hy. Beter?” Sy lê en kyk net woordeloos na hom en hy stap terug na waar die handsak en die oop identiteitsboekie nog lê. Hy buk, tel dit op en kyk sydelings na die bed, sy oë skerp. Al die vrees keer met hernieude felheid terug. Waar kom hierdie vreemde man vandaan wat haar kamer sommer so eiegeregtig instap? Wie is hy?

Hy sit die boekie terug in die handsak, en plaas die handsak terug in die kas asof hy weet waar dit gelê het. “Hoe voel jy?” vra hy.

“Wie is jy?”

“Herken jy my nie? Ek is jou neef, Lochner.” Toe sy net bly staar sonder herkenning, vul hy aan: “Lochner Bothe.”

Vir haar is dit ’n totaal vreemde naam. Hy kon net sowel gesê het hy is Kersvader. Die groot vraag huiwer op haar lippe, maar sy ontwyk dit nog. “Waar . . . waar is ons?”

Hy glimlag gerusstellend. “In ’n hotel buite die stad. Ek het gedink dis die ideale plek nadat jy uit die kliniek ontslaan is. Rus en stilte . . .”

“Kliniek? Wat . . . watse kliniek?” Dan het daar iets gebeur . . . iets groots . . .

Maar sy stem is baie kalm en steeds gerusstellend toe hy vir haar die prentjie begin teken: “Jy was baie lank siek, het maande lank in ’n kliniek in die stad gelê. Toe het ek jou gister hierheen gebring, want fisiek is jy nou gesond, hoewel jy nog baie swak is, soos jy seker self uitgevind het toe jy netnou opgestaan het.”

Fisiek . . . Die paniekerige angs is terug in haar. Maar haar verstand . . . “Hoe . . . hoe siek?”

“Baie siek,” kom die eerlike antwoord. “Jy was maande lank in ’n koma, en toe het jy stadig begin herstel.” Hy glimlag skielik en lê sy een hand warm oor hare. “Jy gaan nog heeltemal gesond word. Dit verseker ek jou. Dit sal stadig gaan. Jy moet jouself net nie dryf nie. Alles sal op die ou einde reg wees.”

Alles? Sy lig haar oë op na syne en die erkenning bars uit haar los: “Ek kan niks onthou nie! Niks!”

“Ek weet, maar dis niks om oor bekommerd te wees nie. Dit sal mettertyd regkom. Jy is vandag al klaar baie beter as gister. Gister kon jy absoluut niks onthou nie en vandag . . .”

“Maar ek onthou nog steeds niks nie! Ek weet nie eens wat my eie naam is nie!” roep sy uit.

Hy bly kalm. “Maar vandag begin jy al vrae vra, het jou brein begin besef daar is dinge wat hy vergeet het, en dit beteken groot beterskap, Ansie. Dit beteken jou brein het begin werk.”

“Ansie?” Natuurlik! Wat anders kan jy genoem word as jy Anna Maria Magdalena gedoop is? “Ek is Ansie van der Merwe?”

“Ja.”

Ek is nie! Dis nie my naam nie! Ek wéét dit! Sy draai haar oë weg. By hom is ook nie hulp te kry nie. Hy is kop in een mus met daardie vrou in die spieël!

“Wat het gebeur? Ek bedoel, hoe het ek in die kliniek beland?”

“Jy was besig om inkopies te doen toe ’n bom ontplof het.” Haar oë ruk terug na syne. “Daar is twaalf mense dood, baie vermink. Jy was van die gelukkiges. Jy het heeltemal gesond geword.”

Heeltemal gesond? Hoe kan hy so sê? Die woorde ontval haar lippe voordat sy dit besef. “Ek het breinskade opgedoen . . . en jy noem my gelukkig?”

“Nee! Dis nie waar nie!” Sy stem is nou meer dringend. “Fisiek het jy geen letsel oorgehou nie. Maar dit was ’n geweldige skok, Ansie. Jy was lank baie, baie ernstig siek. Jy moet jou gees nou ’n kans gee om ook heeltemal gesond te word. Dit sal regkom teen die end.”

“Dis net mooi woorde . . . e . . . Lochner. Ek weet daar is iets groots verkeerd met my.”

“Maar niks wat tyd nie sal regmaak nie. Al wat jy nodig het, is baie rus en stilte en niks wat jou ontstel nie. Moet jou nie bekommer oor wat jy vergeet het nie. Dit sal vanself terugkom. Hoe meer gespanne jy is en hoe meer jy jou daaroor ontstel, hoe langer sal die blokkasie duur. Daar is baie mense wat al aan geheueverlies gely het, party selfs jare lank, en op ’n dag het alles net weer teruggekom.”

Maar sy woorde verlig nie die gevoel van volslae swartgalligheid wat in haar posvat nie. “Maar ek kan nie jare lank so aangaan nie! Om nie te weet wie ek werklik is nie . . . niks van gister te onthou nie . . . Dit sal my mal maak!”

Sy stemtoon verander skielik, is skielik so streng dat sy half verskrik na hom opkyk. “Moet jouself net nie begin bejammer nie. Die houding wat jy nou aanneem, is dié van ’n baie ondankbare mens. Jy het blykbaar nie goed geluister nie. Ek het jou vertel daar is mense wat dood is en ander wat vir die res van hul lewens vermink is. En jy lê en kerm omdat jy ’n paar dingetjies nie kan onthou nie!”

Sy sit verontwaardig regop. “ ’n Paar dingetjies! Ek kan my hele lewe tot op hierdie dag nie onthou nie! Dis nie ’n paar dingetjies nie!”

Net so skielik glimlag hy weer, maar dis ’n ietwat siniese glimlaggie. “Glo my, daar is baie wat met jou sou wou ruil.”

“Wat?” Dié man is ook nie reg in sy kop nie!

“Ja. Daar is baie mense wat alles sou wou gee om gister heeltemal uitgevee te hê en met ’n heel nuwe, skoon lewe te begin. Ek sê weer, jy was gelukkig, al wil jy dit nie insien nie.”

“Maar waar moet ek met die kastige nuwe, skoon lewe begin?” vra sy sarkasties. “Ek ken nou al my naam. Ek weet darem waar ek my bevind – in ’n hotelletjie buite die stad, maar watter stad weet ek nie eens nie. Ek weet darem nou al ek het ’n neef met die naam Lochner Botha . . .”

“Bothe,” korrigeer hy haar terwyl hy kalm na haar tirade luister.

Sy swaai haar hand geïrriteerd. “Wat ook al . . . maar ek ken hom van g’n kant af nie. Ek weet nie eens waarvan ek gelewe het, wat ek gedoen het voordat die bom my getref het nie. Ek weet nie . . .”

“Jy was ’n sekretaresse.”

“Regtig?” Hy lieg. Sy wéét net sy het nie in ’n kantoor gewerk nie.

“Ja.”

“En waar het ek gewerk? Ek bedoel by watter firma? En waar het ek gewoon?” Sy kyk om haar. “ ’n Doodgewone sekretaresse kan beslis nie só ’n woonplek bekostig nie.”

“Natuurlik nie. Jy het in Kaapstad gewerk en jy het ’n woonstel gehad.”

“Ons is nou in die Kaap?”

“Nee. Johannesburg.”

“O? En wat soek ek hiér?” Sy kyk hom openlik agterdogtig aan maar hy kyk kalm terug. “Hoe kon ’n bom my in Johannesburg tref as ek in die Kaap woon?”

“Maklik. Jy het hier kom kuier.”

“By wie?”

“Eintlik nie spesifiek hier kom kuier nie. Jy was op pad . . . na my toe.”

“Na jou toe?” herhaal sy papegaaiagtig. “En waar was jy?”

“Op Friedesheim, natuurlik.”

“Dit beteken vir my net mooi niks nie,” sê sy aanvallend.

Hy behou sy geduld, laat haar maar toe om haar frustrasie op hom uit te haal. “Friedesheim is my wildplaas in die Bosveld.”

“En ek was op pad daarheen om by jou te kom kuier? Hoekom sou ek by jou wou gaan kuier?”

Sy oë lag skielik vir haar. “Hoekom nie? Ons is niggie en neef en ek is jou enigste familielid op aarde.”

Sy antwoord nie. Laat hom maar dink sy eet alles vir soetkoek op. Instink vertel haar dat sy alles maar met ’n knypie sout moet neem. Hy en daardie vrou in die spieël . . . Sy glo nie een van hulle nie. Sy wéét net daardie vrou in die spieël is nie sy nie, nie die sý wat sy was nie. Maar hoe die ander sý regtig lyk, weet sy ook nie.

’n Sug ontsnap haar. Kan ’n mens regtig in ’n groter penarie beland as om een oggend wakker te word en nie te weet wie jy is nie, waar jy vandaan kom nie, waarheen jy op pad is nie? Om alles te moet glo wat jy in die spieël sien en wat jou vertel word, omdat jy dit nie kan weerspreek nie omdat jy skielik ’n mens sonder ’n verlede is. Daar waar geheue moet wees, is net ’n swart kol. Sy kyk weer op in die oë wat haar so stip dophou, gee ’n meewarige glimlaggie: “Ek veronderstel dis min of meer hoe Rip van Winkel moes gevoel het toe hy ná honderd jaar wakker geword het.”

“Dank die Vader dat jy nie honderd jaar geslaap het nie, maar net ’n paar maande. Ansie, moet jou asseblief nie so ontstel nie. Moet jouself nie dryf om te probeer onthou nie. Vat elke dag soos dit kom. Wees dankbaar dat jy lewe en gesond genoeg is om weer ’n normale lewe te kan lei. Die dokter het gesê jy kan op ’n oggend wakker word en skielik alles onthou; of die verlede sal mettertyd stukkie vir stukkie terugkom na jou toe. Kyk wat het vanoggend gebeur. Gister was jy nog soos ’n zombie; vanoggend het jy begin vrae vra. Dit is ’n geweldige groot stap op die pad na algehele herstel.”

Sy sug weer. Hy het seker reg, maar . . . “Maar om so in die lug te hang! Waar moet ek begin? Ek moet tog weer ’n soort lewe vir myself uitwerk. Hoe . . .?”

“Die waar is op Friedesheim en die hoe is om so rustig en ontspanne moontlik te lewe tot alles weer reg is.”

Sy kyk hom fronsend aan, besef dat dit ’n baie mooi gebaar van sy kant af is. Natuurlik is dit blote familieplig wat hom dit laat doen. Hy het immers gesê hy is die enigste naasbestaande wat sy op aarde het. Haar lippe trek styf. Sy wil nie op hierdie man se nek gaan lê nie, neef of nie neef nie. Hy is vir haar ’n totale vreemdeling. Maar is daar ’n alternatief? As sy hierdie onselfsugtige aanbod van die hand wys . . . waarheen dan? Terug Kaapstad toe, na haar woonstelletjie? ’n Stad wat vir haar net so vol vreemde mense sal wees as wat Johannesburg vir haar is. En sy sal moet werk soek, het natuurlik lankal haar pos verloor. Niemand kan verwag dat ’n baas ’n sekretaresse se pos moet oophou terwyl sy maande lank bewusteloos lê nie. Kon ook nie veel van ’n betrekking gewees het nie, nie te oordeel na die vrou in die spieël se uiterlike nie. So ’n ou vaal, oninteressante gesiggie . . . Maar om in ’n vreemde stad, tussen vreemde mense ’n werk te begin soek wat sy kan doen . . . Sy weet nie eens wat sy kán doen nie!

“Dit kan ’n lang tyd wees. Jare selfs.”

“Nee. Ek glo nie so nie. Ek is oortuig daarvan dat jy van vandag af baie vinnig gaan vorder. Moenie dat ons die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, Anna. Vir eers kom jy saam Friedesheim toe.”

“Hoekom noem jy my Anna? Ek dog . . .”

“Ek noem jou Anna wanneer ek ernstig is, of wanneer ek jou oor die kole moet haal, of wanneer ek jou siel wil uittrek.”

Sy kyk hom onseker aan. Sy weet nie of hy die waarheid praat en of hy besig is om haar te terg nie. “Ek hou nie daarvan nie.”

Hy glimlag nou openlik. “Jy het nog nooit nie. Ek kon nog nooit verstaan waarom jy nie daarvan hou om op jou doopnaam aangespreek te word nie. Daar is niks verkeerd met Anna nie. Dis ’n goeie, sterk naam sonder tierlantyntjies.”

En jy hou nie van tierlantyntjies nie, som sy swygend op, maar hou koppig vol: “Ansie klink . . . sagter.” Maar daar is tog honderde ander pragtige name wat sy liewer kon gekry het!

Hy begin aanstap deur toe. “Moenie met mý daaroor baklei nie. Ek het jou nie laat doop nie! Ek sal gaan kyk waar suster Gertenbach is. Jy wil seker bad.”

“ ’n Verpleegster? Hoekom? Ek kan myself bad,” keer sy verbaas.

Maar hy skud sy kop, verduidelik: “Tot gister was jy amper soos ’n babatjie. Miskien het ons nie meer haar dienste nodig nie. Sy kan jou egter vandag nog help. Jy is nog baie swak. Ons sal hoor wat die dokter vanmiddag sê.”

“Moet ek die dokter vanmiddag sien?”

“Ek glo hy sal jou wil sien as hy die goeie nuus hoor. Ek gaan hom nou bel. Sien jou later.”

Sy lê nog steeds na die deur en kyk, haar hart en verstand in ’n warboel, toe dit weer oopgaan en ’n mollige, goedige gesiggie verskyn.

“Ons meisie is wakker, vertel dokter Bothe my. Watter wonderlike nuus! Hoe voel jy, my kind?”

Maar sy beantwoord nie die vraag nie. “Dokter Bothe? My . . . neef? Is hy ’n dokter? Maar hy . . .”

“Ja. ’n Veearts. Jy het seker maar net vergeet. Moenie bekommerd wees nie, skatjie. Alles sal nog regkom. Ek gaan solank jou badwater intap.”

Hoe Ansie ook al probeer uitvis, sy word nie veel wys by suster Gertenbach nie. Sy het maar ’n week gelede by hulle aangesluit toe Lochner Bothe haar uit die kliniek hierheen gebring het. Die middeljarige, mollige verpleegster babbel aanmekaar, en sy ontstel Ansie meer met die inligting wat sy uitlap as iets anders.

“Dit moet die man ’n fortuin kos om ons almal hier te huisves. Dis ’n duur plek hierdie, Ansie. Jy weet, hulle laat nie kinders onder tien hier toe nie. Dis glo om die plek stil en rustig te hou. Dis meer die stad se ryk snobs wat hier kom ontspan wat nie geraas en rumoer om hulle wil hê nie. Dis pragtig hier, hoor. Maar ek het vir dokter Bothe gesê, regtig, ek gee nie om om ’n kamer met jou te deel nie. Ek moet jou tog oppas. Dis immers waarvoor ek hier is. Maar hy sê toe nee, ek kry my eie kamer en badkamer, want ek moet ook my rus kry. ’n Dierbare man. En natuurlik skatryk ook. Hy het gesê ek moet net sê as jy iets nodig het; hy sal dit gaan koop. Maar jy het tot nou toe niks gekort nie. Hy het jou regtig so goed uitgerus, van nagklere tot dagklere. En glo my, alles pas nommerpas. Net met die bra’s het hy hom misgis. Hulle is ’n bietjie te groot,” lag sy en droog haar pasiënt af ten spyte van Ansie se floue protes. “En hy was so bekommerd oor jou, weet jy? Die tye dat ek gaan rus het, of net ’n entjie gaan stap het vir vars lug, het hy by jou gesit. Hy wou jou skaars ’n minuut alleen los. Ja-nee, kind, jy is gelukkig om sulke familie te hê. Vandag se dae steur familie hulle mos nie aan mekaar nie. Kinders vind ouers ’n oorlas en wil net hul eie gang gaan en ouers weet nie eens aldag waar hul kinders is nie . . .”

Ansie se ore tuit en haar kop sing. Sy is amper openlik verlig toe daar ’n klop aan die deur kom en die wonderlike dokter Bothe weer sy verskyning maak. Snaaks, die draaiorrel in haar kop is ook onmiddellik stil.

“Dokter Engelbrecht sê hy kan jou vanmiddag drie-uur sien. Hy is baie opgewonde oor jou reuse-vordering. En nou gaan ons al drie ’n goeie ontbyt nuttig. Ons moet ’n bietjie vet om daardie geraamte kry, nie waar nie, suster Gertenbach?”

Ja, want jou bra’s pas nie, dink Ansie droog en laat haar maar soos ’n skaap by die deur uitlei.

Dokter Engelbrecht steek nie sy opwinding en ingenomenheid weg nie. Die feit dat Ansie vanoggend skielik na die nugter wêreld van denke teruggekeer het, beloon hom meer as genoeg vir die (soms wel wankelmoedige) vertroue wat hy oor haar gekoester het, naamlik dat haar prognose nie so swak is soos wat sommige van sy kollegas gedink het nie. Hy het bly glo dat as Ansie haar net eers een maal kon ontruk van daardie donker wêreld waarin haar onderbewussyn haar geplaas het, sy alle kanse het om volkome te herstel. Want die menslike gees is nog selfs in hierdie eeu van hartoorplantings en mediese wonderwerke tot groot mate ’n onontdekte wêreld – soveel groter as die fisieke wêreld van die mediese wetenskap. Die onderbewussyn van die mens laat hom nie inperk in ’n vaste raam en voorskryf tot vasgestelde gedrag nie. In hierdie “onderwêreld” van die menslike struktuur lê baie onopgeloste raaisels wat nog verklaar moet word, soos ook in Ansie van der Merwe se geval.

Sy was een van die baie bebloedes wat daardie dag deur die ambulanse aangery is ná die skokkende terreuraanval in ’n inkopiesentrum in die stad. Aanvanklik is net na die onmiddellike fisieke nood van die pasiënte omgesien. Die operasiesale het soos ’n slagplaas gelyk. Daar is bloeiende are toegeklem en afgebind, gapende wonde ontsmet en toegewerk, buike oopgesny om te kyk wat aan die vergruising gedoen kan word, ledemate met die grootste geduld gespalk, party geamputeer. En party moes hulle wegstoot dodehuis toe. Suigelinge, kleuters, grootmense, ou mense, swart, bruin, wit . . . as ’n bom ontplof, vra dit nie vrae nie.

Een van hulle was Anna van der Merwe, volgens die identiteitsboekie in haar handsak. Dit was nog vasgeklem in haar hande toe die noodspanne op haar bewustelose liggaam afgekom het. Gelukkig kon sy dadelik geïdentifiseer word. Daar was so baie wat eers ure later, party selfs dae later, geëien is.

Die foto in die boekie het kwalik vergelyk met die opgeswelde gesig, blou oë en bloedbeklonte hare. Alles is gedoen wat gedoen moes word. Daarna kon hulle net wag en hoop.

Maar soos die weke maande geword het, wou die hoop beskaam. Fisiek het sy heeltemal herstel, maar sy het geweier om die donker wêreld te verlaat waarin sy so brutaal geslinger is. Toets op toets is gedoen, tweede menings, derde menings is ingeroep, en teen die end was dit net dokter Engelbrecht wat bly vasklou het aan die hoop dat daar wel ’n kans op herstel is. Hy, en Ansie se neef wat op ’n dag uit die bloute by die kliniek opgedaag het. Hoekom Lochner Bothe eers maande ná die ontploffing sy verskyning gemaak het, het hy nie gevra nie. Dit was vir hom genoeg om te weet hy bedoel dit opreg met Ansie en dat hy geen steen onaangeroer sou laat om haar te help om weer ’n normale lewe te lei nie. Die arme meisie het ten minste nou iemand gehad wat na haar kon omsien, wat werklik omgegee het.

Soos drenkelinge het hy en Ansie se neef vasgeklou aan die power strooihalmpie dat wonderwerke nog gebeur; wel al gebeur het met pasiënte wat lang tye in ’n koma was. Dokter Engelbrecht het die een na die ander geval opgediep en as voorbeeld voorgehou ter versterking van Lochner Bothe se hoop en sy eie wankelmoedige geloof. Talle mense het al in die verlede ná weke, maande, jare uit ’n koma bygekom, gesond geword en ’n normale lewe gelei. Dit kan met Ansie ook gebeur.

En vandag het dit gebeur. Weliswaar is daar miskien nog ’n lang pad voor, maar van vandag af kan sy begin aanstap, het die stagnasie geëindig. Sy dink normaal, reageer normaal. As gister net ’n swart vergetelheid agter haar is . . . Wie weet, miskien is dit ’n genade.

By die dokter se spreekkamer word Ansie ook niks wyser nie. Sy hoor maar net wat sy reeds weet. En sy kry dieselfde preek. Moenie jou ontstel oor jou geheueverlies nie. Ontspan. Dit sal vanself terugkom. Maklik om te praat . . . Maar sy swyg, luister hoe haar toekoms deur die twee mans beplan word.

“Sy is nog baie swak, maar met Liesbet se hulp sal sy oor die weg kom tot sy sterk genoeg is om haarself te versorg. Dink u ons sal so oor ’n week of veertien dae al kan ry?” wil Lochner weet en Ansie vererg haar. Hy staan en tref reëlings sonder om eens na haar kant toe te kýk – asof sy ’n verstandelose kind is wat nie in ag geneem hoef te word nie.

“Ons moet maar kyk hoe sy vorder. Ek glo egter sy sal binne ’n week gereed wees. Ek glo sy sal nou elke dag aansterk. Sy is fisiek gesond.”

En die dokter is net so erg! Bespreek haar sonder om eens te vra hoe voel sý oor alles! Kragtie, sy het haar geheue verloor, nie haar verstand nie!

“Ek dink ek is sterk genoeg om dadelik te vertrek. Dis onnodig dat ons langer hier rondlê.”

Die twee koppe draai gelyk na haar en sy lig haar ken. A nee a! Sy mag darem seker ook ’n stuiwer in die armbeurs gooi terwyl dit nou om háár armbeurs gaan. Want dis iets wat haar die afgelope ure geweldig begin hinder het. Die koste wat hierdie onbekende neef al ter wille van haar aangegaan het. Suster Gertenbach het vertel hoe duur die hotel is. En sy sal self ook nie vir ’n hongerloon werk nie. En daar is dokter Engelbrecht . . . en die maande in die kliniek . . . Sou Lochner vir alles moes betaal . . . of het hulle haar as ’n staatspasiënt behandel? wonder sy onrustig.

“As ons nou oorhaastig is, kan jy dalk ’n terugslag kry,” sê Lochner versigtig.

“Watse terugslag kan ek kry? Dokter Engelbrecht sê ek is gesond. Wat kan my oorkom? Ek sal tog seker nie in ’n week se tyd by ’n vreemde hotel my geheue terugwin nie. Ek sien geen rede hoekom ons langer hier moet ronddraal nie. Ek . . . wil wegkom van hierdie plek af.”

Die twee mans se oë ontmoet vlugtig. Die dokter knik. “Sy is miskien reg. Hoe gouer sy uit die stad wegkom, hoe beter. Daar in die stil, rustige natuur van jou wildplaas sal sy gouer tot kalmte kom en rustiger word.”

Toe Lochner nog onseker lyk, val Ansie weer weg: “Ek kan mos in die motor lê as ek moeg word. Asseblief, Lochner!” Sy weet nie hoekom nie, maar sy het skielik ’n intense drang om uit die stad pad te gee, en dis nie net om verdere koste te bespaar nie. As sy dan ’n ruk lank op sy wildplaas moet gaan bly, laat hulle dan daar kom.

“Ons vlieg terug.”

“Maar jou motor . . .?”

“Dis ’n gehuurde motor. Ons vlieg terug. My buurman sal ons met sy vliegtuig kom haal. Nou goed dan. As jy seker is . . .”

Sy knik net, beaam niks hardop nie, want sy is glad nie seker nie. Wat haar betref, gaan sy binne enkele ure in ’n vliegtuig klim en toelaat dat ’n wildvreemde man haar wegneem na sy eensame wildplaas êrens in die gramadoelas . . . en of dit die regte ding is, is sy glad nie so seker van nie. Maar die alternatief is heeltemal onaanvaarbaar: om op ’n vliegtuig Kaapstad toe gesit te word en dan aan haar lot oorgelaat te wees . . . Nee. Sy sal Lochner Bothe net moet vertrou, dis al.

Suster Gertenbach wag hulle by die hotel in en kry die blye nuus dat die dokter só tevrede is met sy pasiënt dat hy selfs verlof gegee het dat hulle dadelik huis toe kan vertrek.

“Ek sal u natuurlik ’n volle maand se salaris betaal en is ook bereid om u vir ’n kennisgewingmaand te vergoed. Dit was baie gaaf van u om ons so te hulp te kom, suster.”

Die ronde gesiggie straal van oor tot oor. “Natuurlik moes ek julle eers help. Plig kom voor plesier. Wanneer moet ek begin inpak?”

“U goed kan u maar dadelik pak. Ek gaan nou ons reëlings tref en dan sal ek sê wanneer Ansie se goed gereed moet wees. Ek verwag egter dat ons so teen môremiddag sal vertrek.”

Ansie word na haar kamer begelei en toe die deur agter die twee dames toegaan, keer eersgenoemde haar na die ouer vrou.

“Suster, sê my net . . . Dra u kennis van gevalle waar mense hul geheue verloor en dit later weer teruggekry het?”

Die suster glimlag met deernis. Sy begryp. “Ja, my kind. Ek weet van ’n hele paar gevalle. Party s’n het mettertyd, stuk-stuk teruggekeer. Ander het weer die een of ander skok opgedoen en toe skielik was alles weer daar. Jy moet jou nie bekommer nie. Alles sal vir jou regkom.”

“Maar daar is dié wat nooit weer onthou het nie, nie waar nie?”

“Ja, maar dit hang alles af van hoe ernstig die oorspronklike beserings was. Mense met ernstige breinskade . . . Maar jy, Ansie, het nie ernstige breinskade opgedoen nie. Dokter vermoed dit was net die geweldige skok wat gemaak het dat jy tydelik jou geheue verloor het.”

“Ek weet, ja, maar . . . Kry almal wat nie ernstige breinskade opgedoen het nie die een of ander tyd hul geheue terug?” dring sy aan.

“So te sê. Of hulle onthou ten minste later groot gedeeltes. Ek het ’n vriendin gehad wat saam met my verpleeg het. Sy en haar man was op hul wittebrood in ’n motorongeluk. Sy het ook tydelik haar geheue verloor. Al wat sy nooit teruggekry het nie, was haar kennis van verpleging. Sy was ’n ten volle gekwalifiseerde suster, maar niks van daardie kennis wou ooit weer tot haar terugkeer nie.” Die ouer vrou druk Ansie se hand. “Is dit werklik so belangrik om alles oor gister te moet onthou? Dis tog die toekoms wat tel, Ansie.”

Sy knik, kyk weg. “Ja, dis seker waar.” Maar ’n toekoms sonder dat dit geanker is aan ’n verlede lyk so onseker, so vol vraagtekens, so vol probleme. En sy is bang daarvoor, want dis so onbekend vir haar soos wat haar verlede aan haar onbekend is. Daar kan enigiets in haar verlede lê en enigiets kan op haar in die toekoms wag.

Sy stap deur badkamer toe, wil haar gesig afspoel, maar kyk eers weer na die vrou in die spieël. Haar mondhoeke trek ironies toe sy haar aanspreek: “Ons twee vertrek môre na ’n onbekende bestemming. Nugter weet wat op ons wag, maar wat dit ook al is, ons sal dit moet vat. En ek hoop jy is so bang soos ek . . . of weet jy dalk iets meer as ek?”

Ena Murray Omnibus 35

Подняться наверх