Читать книгу Ena Murray Omnibus 35 - Ena Murray - Страница 8
ОглавлениеHoofstuk 5
5
“Charlene!” Wat Lochner se plan ook al was, hy vergeet totaal daarvan toe sy oë op die skoonheid in die deur val, en Ansie sien met ’n sinkende hart hoe hy gretig nader stap, die twee kaal skouers vasvat en breed op die kundig gegrimeerde gesig aflag. “Waar op aarde kom jý so skielik vandaan?”
Maar voordat hy haar kans gee om te antwoord, buk hy af en soen haar vol op die rooi mond.
Daarmee is die dame egter nie tevrede nie. Die rooi lippe lag guitig en ’n paar pragtige hande met lang rooi naels krul om sy nek en hy kry ’n stewige omhelsing terwyl die blou oë bokant sy skouer uitdagend na die verstomde Ansie kyk. “Jou lekker verras, nè?” Hy laat haar gaan en sy staan terug, kyk hom op en af deur, glimlag weer en laat koketterig hoor: “Jy lyk goed, hoor.”
“En jy lyk soos altyd . . . beeldskoon.”
Ansie se maag maak ’n draai. Darem snaaks hoe gou ’n man kan verander onder die bekoring van die listige vleitaal van ’n mooi vroumens. Só verander dat hy selfs sy teësin in grimering totaal oorkom en met genot ’n rooigesmeerde mond soen terwyl hy háár nie eens wou toelaat om ’n ligte lipstiffie te koop nie. Mansmense!
Sy wil net omdraai en padgee toe Don ook in die deur verskyn, en al het die ander twee net oë vir mekaar, sien hý Ansie beslis raak en roep verbaas uit: “Wat op aarde het jou kop oorgekom?” Dan geamuseerd: “Liewe land, dit lyk of die vlakvarke jou beetgehad het!”
Die ander twee se aandag is skielik ook op haar gevestig en Ansie kan stik. Lochner lag hartlik saam met die ander twee terwyl dit hý is wat haar so mismaak het! So ’n bees! Sy ruk haar ken op en kyk Don koel aan: “Wat weet jy ook van die jongste modes af? Lang hare is al geruime tyd uit die mode.” Sy kyk veelbetekenend na die golwende swart hare van die meisie wat onnodig styf teen Lochner staan. Hulle het tog klaar gegroet. Hulle kan mekaar nou maar los.
Don probeer vergoed vir sy taktloosheid. “Jammer, Ansie. Dit het net vir ’n oomblik . . . e . . . vreemd gelyk, maar . . . dit pas jou nogal.”
Charlene se laggie klink op. “Vreemd lyk dit beslis.” Maar die oë wat op haar gerig is, is nie goedig nie. Dit sê: Van waar het die kat jóú ingedra? “Is dit jou niggie, Lochner? Don het my van haar vertel.”
Ansie voel haar nekhare rys, en weer loop haar tong met haar weg voordat sy kan keer: “En ek neem aan dis jou suster, Don? Lochner het nog nooit van haar gepraat nie, maar ek dink jý het een keer na haar verwys.”
Die frons tussen Lochner se wenkbroue waarsku haar dat sy miskien haar hand nou oorspeel het, maar sy is te vererg om om te gee. Sy voel regtig soos ’n ding wat die kat ingedra het. Teenoor die gesofistikeerde, beeldskone wese moet sý maar baie swak vertoon met haar kortbroek en beswete hempie en nou nog met haar motgevrete hare daarby.
Vir die res van die broer en suster se besoek het sy nie veel te sê nie. Luister maar net en voel van voor af ’n indringer. Charlene Cawood is ’n selfversekerde mens wat nie net haar kant in die modewêreld bring nie, maar ook saam met die mans oor jag en die natuur kan praat. Ansie voel of sy al kleiner krimp van minderwaardigheid en sê vir haarself: Ek wonder wat dié wêreldwyse modepop sal doen as ek soos ’n vaal veldmuis by die voordeur uitskarrel. Sy giggel skielik en vind drie paar verbaasde oë op haar. Weer is daar ’n frons tussen die gasheer se oë.
“Vind jy iets snaaks, Ansie?”
“O . . . nee. Jammer. My gedagtes het gedwaal.” Tot haar ergernis voel sy hoe ’n blos oor haar nek sprei en sy weet dit verdiep toe die ander dame in die geselskap se hooghartige blik haar vertel: Jy lýk nie net eienaardig nie; jy ís ook ’n bietjie eienaardig.
Sonder verdere seremonie sê Charlene aan Lochner: “Ek sou nie nou al gekom het nie, maar my kontrak het verstryk en ek het ’n rukkie af voordat ek weer moet begin. En toe Don my vertel van die filmspan wat hierheen kom, het ek gedink ek kan miskien vir hom kom help.”
“Natuurlik kan jy,” laat haar broer dankbaar hoor. “Dis net wat ek nog gekort het . . . ’n elegante en bekwame gasvrou.”
Lochner se frons begin oortyd werk. “Dan kóm hulle?”
Don en Ansie se oë ontmoet vlugtig en dan antwoord hy so nonchalant moontlik: “Ja. Ek verwag die klomp môre.” ’n Kort, gespanne stilte heers en Don vra reguit: “Jy het nog nie van houding verander nie?”
“Beslis nie. Onthou net wat ek gesê het.”
Die geselskap wil daarna nie meer vlot nie, en die Cawoods vertrek ná ’n rukkie. Toe Ansie ook wil padgee, word sy egter teruggeroep.
“Net ’n oomblik.” Sy kyk teen ’n geweldige frons vas. “Jou maniere vroeër vanaand het veel te wense oorgelaat,” word sy trompop aangeval. “Jy was openlik katterig teenoor Charlene.” Sy het geen verweer nie, kan net staan en terugkyk. “Wat het jou makeer?”
Sy staan met ’n mond vol tande, weet regtig nie wat om te antwoord nie, want sy voel self ontevrede met haarself. Sy weet min van haarself af, maar sy weet dat sy nie swak maniere het nie en dat dit nie in haar aard is om katterig te wees nie. Sy is besig om hier op Friedesheim te verander, en nie altyd ten goede nie. Sy moet hier wegkom. Skuldig bely sy dan eerlik: “Ek is jammer, Lochner. Ek weet nie wat in my gevaar het nie. Ek is jammer as ek onbeleef was. Sy was immers ’n gas in jou huis.”
Die oë onder die frons is nou meer peinsend as veroordelend. “Maar wat het daartoe aanleiding gegee? Jy en Charlene het mekaar tog vandag vir die eerste keer ontmoet.”
Sy kyk vererg weg. Kan hy nie haar verskoning aanvaar en dit daar laat nie? Maar soos Lochner is, wil hy nou lykskouing hou. Aanval is die beste verweer, besluit sy. “Jou Charlene het ook nie oorgeloop van vriendelikheid teenoor my nie.” Sy gaan nie al die blaam alleen dra nie. Dit was ’n instinktiewe, wederkerige antagonisme.
“Ek sien. Jy moet altyd die skuld op ander pak. Dis vir jou onmoontlik om te sê: Ek is jammer. Ek is skuldig, vergewe my.”
“Maar ek hét om verskoning gevra! Ek hét gesê ek is jammer!” Haar oë blits nou. “As jy verwag ek moet Charlene om verskoning gaan vra, sal jy lank wag. Ek sal dit nie doen nie.”
“Nee. Ek verwag dit nie, want ek weet jy is nie in staat om dit te doen nie,” is sy verdoemende oordeel, en sy sluk. Kragtie, is dit regtig nodig om só ’n bohaai oor ’n nietigheid te maak? Sy volgende woorde vang haar heeltemal onkant. “Daar is een punt waarop ons mekaar baie duidelik moet verstaan, Ansie. Terwyl daardie filmspan op die Lodge is, sit jy nie jou voete daar nie. Ek wil geen kontak met hulle hê nie.”
“Hoekom nie?” daag sy hom uit, haar oë ondersoekend. “Wat het jy teen filmmense?”
“Ek het niks spesifiek teen filmmense nie. Maar vir die soort lewe waarvan hulle deel is, het ek nie tyd nie. Dit kan jou net kwaad doen om met hulle kontak te maak en vriendskappe te sluit. Hulle kan net ’n slegte invloed op enige jong mens uitoefen . . .”
“Wag ’n bietjie, neef!” Ansie gee ’n verbaasde laggie. “Ek is nie ’n tiener nie! Genugtig! Ek is jare lank al mondig! En wie het gepraat van vriendskappe sluit? Hardloop jy darem nie nou die ding vooruit nie? Ek ken die mense van geen kant af nie, het nog nooit my oë op hulle gelê nie, maar jy gaan te kere asof ek reeds ’n bose en verbode verhouding met een van hulle aan die gang het!”
Hy besef dat hy onredelik klink, maar hy hou voet by stuk, en op so ’n wyse dat sy besef dat hy doodernstig is: “Ek weet waarvan ek praat, Anna! En dis ’n bevel: bly weg van die Lodge af terwyl hulle daar is!”
Maar Ansie toon sy het ook ’n goeie streep familiekoppigheid weg. “Ek sal dit doen as jy my ’n billike rede kan gee.”
“Ek hoef geen redes te verskaf nie.”
Sy besef verbyster dat hulle in ’n volbloed rusie gewikkel is. “Ek is nie ’n kind nie, Lochner!”
“Nee, nie in jare nie, maar op die oomblik is jy nie in staat om te weet wat goed is vir jou en wat nie.”
“Twak! Ek het my geheue verloor, nie my verstand nie!” baklei sy verontwaardig terug. “Jy gaan my nie soos ’n verstandelose kind behandel nie, Lochner! Ek staan nie onder jou jurisdiksie om my te beveel waar ek mag gaan en waar nie!”
“Ek sien. Jy is nou oor die skok, begin nou jou ware kleure wys.”
“Wat bedoel jy?” vra sy totaal verward.
“Jy het skielik verander. Jy het skielik opstandig en weerbarstig begin word – ’n slim, wêreldwyse juffrou wat haar van niemand laat leer nie, want sy is ’n dame van ervaring. Sy ken die lewe van hoek tot kant. Die Ansie wat hier aangekom het, wat huil wanneer ’n vlakvark gevang word, het nie regtig bestaan nie, nè?”
Sy is nou bleek van ontsteltenis. “Dis nie waar nie! Jy wéét . . .”
“Ek weet wat ek weet, ja. En ek weet wat ek sien. Ek was ’n dwaas om te dink . . .” Hy breek stomp af en vervolg dan vinnig: “Soos jy uitgewys het: ek het geen jurisdiksie oor jou nie. Doen wat jy wil. Gaan as jy wil gaan.”
“Wie het van gaan gepraat?” Haar hart sit in haar keel. Is hy besig om haar weg te jaag? “Ek wil nie by die filmspan gaan aansluit nie! Maar ek weier om Hunters Lodge soos die pes te vermy net omdat daar ’n filmspan is en . . .”
“Ek het mos gesê doen wat jy wil. Nag, Anna.”
Toe sy ook haar kamerdeur ’n minuut later agter haar toedruk nadat sy na die harde toeklap van sýne geluister het, voel sy verstom oor wat pas gebeur het. Om heeltemal eerlik te wees, sy het nie ’n benul waaroor die bakleiery eintlik gegaan het nie. As sy Lochner se optrede onverklaarbaar kinderagtig vind, staan sy eintlik ewe skuldig. Sy was ook niks minder as ongelooflik kinderagtig nie. Want wat het sy met ’n filmspan uit Londen uit te waai? Sy het geen belangstelling in hul doen en late nie. Sy kyk nie eens na die flieks op die televisie nie! Tot netnou het dit ook nooit by haar opgekom om spesiaal oor te ry na die buurplaas om te gaan kyk wat hulle daar aanvang nie. Inteendeel. Solank daardie godin op Hunters Lodge gasvrou speel, het sy geen begeerte om die buurplaas te besoek nie. En daar staan sy en gaan te kere asof sy tot elke prys daarheen wil gaan. En dit net omdat Lochner haar verbied het om dit te doen!
Dis met ’n baie vaste voorneme om die lug tussen hulle te suiwer dat Ansie vroeg die volgende oggend opstaan en gereed maak om weer saam met Lochner veld toe te gaan. Sodra sy hom alleen kry waar Salmon nie by is nie, sal sy hom om verskoning vra. Hy behoort haar natuurlik ook om verskoning te vra, maar sy het nie veel hoop dat dit sal gebeur nie. Nietemin is sy bereid om vir háár aandeel aan gister se sinnelose rusie ekskuus te sê en hom te belowe dat sy nie haar voete op die Lodge sal sit nie omdat dit haar nie skeel wat daar aangaan nie. Sy het geen belang daarby nie. Dit behoort hom tevrede te stel.
Maar goeie voornemens het soms ’n manier om by die eerste breek van daglig saam met die nag te verdwyn. Ook hierdie een, so opreg voorgeneem, verdwyn soos mis voor die opkomende rooi Bosveldson toe Ansie uit die stort uitkom en deur haar kamervenster Don se bakkie die werf sien inry. En natuurlik is dit nie Don wat uitklim nie.
Selfs in kakieklere lyk sy soos ’n model. Die lang, donker hare is in ’n vleiende warboel op haar kop saamgevat en ’n swaarkalibergeweer hang aan ’n band oor haar skouer. Wat die dame se bedoeling ook al is, dit is beslis nie om saam met Lochner se motgevrete niggie te kom tee drink nie.
’n Roering uit die stalle se rigting laat vir haar lig opgaan. Salmon is besig om twee opgesaalde perde nader te lei en die volgende oomblik kom die tweede ruiter in sig, ook met sy groot jaggeweer oor die skouer. Sy kan die blye weersiens nie miskyk nie. Bedremmeld staan sy deur haar kamervenster en kyk hoe hulle wegry, die vroueruiter soos ’n veteraan in die saal.
Bedees doen sy ’n rukkie later navraag by Salmon en dié vertel haar dat Lochner vandag grensdrade nagaan. Sy wend haar maar tot haar diere, maar dis of die liefdevolle vertroeteling nie genoeg is om die brandplek hier diep in haar te verlig nie. Hy kon haar ten minste net gesê het hy het ander planne vir die dag. En hy kon ten minste darem net vir Liesbet gesê het sy moet hom nie vir middagete terugverwag nie. Sy ken hom as ’n bedagsame mens, maar blykbaar vlieg maniere by die venster uit wanneer ’n sekere dame haar verskyning maak.
“Wil juffrou nie kom eet nie? Daar is lekker koue vleis en slaaie in die yskas.”
“Miskien moet ons nog so ’n rukkie wag, Liesbet. Miskien kom meneer nog,” sê sy teen alle hoop in.
“Ek dink juffrou moet maar eet. Hy sal nie kom nie. As daardie twee eers by mekaar is, het hulle nie tyd nie,” dien Liesbet die finale slag toe.
Sy kan haarself nie keer nie. “Kom juffrou Charlene dikwels hier wanneer sy op die Lodge kuier?” Sy voel sommer vies vir haarself. Wat traak dit haar of die vroumens hier lê of nie?
“O ja. Sy en meneer is groot vriende.”
Snaaks. Dis mos amper onmoontlik om nie met jou tong in ’n seer tand te karring nie. “Miskien word sy nog eendag die vrou van hierdie huis!” Sy hoop haar laggie klink vrolik en ongeërg.
Maar Liesbet skud haar kop. “Ek weet nie. Dan sou dit al lankal gebeur het. Hulle ken mekaar darem al jare.”
Maar dis geen troos vir Ansie nie. Seker daarom dat Lochner so knorrig is. Hy wag al jare vir Charlene om ja te sê, maar hierdie dame, hoewel baie tuis in Lochner se wêreld, sien nie kans om finaal van haar glanswêreld afstand te doen nie. Simpel vroumens!
Toe Don bel om te verneem waar sy suster dan is, want die filmspan het gearriveer, bied Ansie ewe roekeloos en gul aan: “Maar ek kan jou kom help as jy hulp nodig het, Don.”
Sy is spyt dat haar aanbod van die hand gewys word. “Dankie, Ansie, dis gaaf van jou, maar daar is geen dringendheid nie. My personeel is goed opgelei en alles is onder beheer. Ek wou Charlene maar net laat weet het hulle is hier. Sê haar maar net as sy daar kom. As Lochner nie so onredelik was nie, sou ek gesê het julle twee moet ook vanaand oorkom. Ek trakteer die spul vanaand op ’n egte boerebraai.”
Toe die twee ruiters eindelik tuis kom, is die beste deel van die middag al verby. Ansie is gou om Don se boodskap oor te dra en dik sommer skaamteloos ’n bietjie aan ook. “Jou broer het gebel, al vroeg vanmiddag. Die filmspan is daar en jy is glo veronderstel om as gasvrou op te tree.”
Of die frons tussen Lochner se oë daar is omdat die filmspan gearriveer het of omdat haar stemtoon betigtigend klink, Ansie gee nie om nie. Maar as sy gehoop het dat die verwysing na haar pligte die dame dadelik ore in die nek sal laat groet, misgis sy haar deeglik.
Charlene antwoord koel: “Ek wérk nie vir Don nie. Ek speel maar net outomaties gasvrou as ek daar is, en hy weet dit. A, dit was wonderlik om weer ’n hele dag in die bos te kon wees!”
Onvergenoeg sien Ansie hoe Charlene haar ongenooid op ’n stoepstoel neervly. Tot haar ergernis merk sy op dat die model, ten spyte van ’n hele warm dag op ’n perd se rug, steeds baie goed vertoon. Sý lyk gewoonlik soos ’n uitgewringde bondel wasgoed wanneer hulle saans terugkeer uit die veld.
“Kan ons asseblief iets kouds kry?” Lochner kyk Ansie skaars aan toe hy die versoek rig. Hy wend hom dadelik tot Charlene en glimlag goedkeurend: “Ek moet sê, jy dwing my bewondering af, Charlene. Jy was lanklaas op ’n perd se rug. Is jy nie styf en seer nie?”
Die meisie lag na hom op met vonkelende oë. “O, nee, my vriend! Ons kan maar môre weer so maak. Ek is superfiks. Ek ry weliswaar nie so baie perd oorsee nie, maar ek is verplig om ’n streng oefenprogram te volg.”
“Natuurlik. Daardie figuur moet opgepas word.”
Ansie gee pad kombuis toe, dra Lochner se versoek aan Liesbet oor en vlug kamer toe. Sy is nie vanaand lus vir die geselskap op die stoep nie. Gefrustreerd wag sy om die dreuning van die bakkie te hoor, maar dit bly uit. Toe Liesbet kom sê sy moet kom eet, kan tien wilde perde haar nie uit haar kamer getrek kry nie.
“Ek wil nie eet nie, dankie, Liesbet. Sê hulle moet maar eet.”
Liesbet kyk haar ondersoekend aan. “Maar jy het vanmiddag ook nie geëet nie.”
“Ek is nie honger nie. Ek gaan nou stort en lê.”
Maar sy straf haarself verniet. Die twee op die stoep mis haar glad nie. Elke dan en wan klink ’n klokhelder lag op en dikwels word dit vergesel deur die dieper lag van die man. Wat hulle betref, is daar net twee mense op Friedesheim vanaand. Hy kon ten minste darem kom navraag doen het. Vir al wat hy weet, kan sy siek wees. Toe die bakkie se dreuning eindelik vervaag, voel sy werklik nie meer so gesond nie. Toe daar kort daarna ’n klop aan haar deur opklink, is haar redelikheid ook daarmee heen. Wat kom soek hy nóú hier?
“Ansie . . .” Die deur word sommer oopgemaak en sy kyk hom gesteurd aan. Hy kyk vas in ’n paar onvriendelike oë. “Jy het nie kom eet nie en Liesbet sê jy het vanmiddag ook nie geëet nie. Wat makeer?”
Ek wens ek het self geweet, antwoord sy swygend. Ek moet van lotjie getik wees. Ek verstaan myself nie meer nie. Hardop antwoord sy: “Niks.”
Hy kom nader na die bed, sy oë skerp. “Voel jy siek? Is jy warm?”
Sy hét ’n hoofpyn ontwikkel, maar sy weet dis van frustrasie en niks anders nie, maar sê dan: “Ek het net ’n ligte hoofpyn.”
“Drink jy jou malariapille gereeld?” vra hy streng en steek ’n handpalm na haar voorkop uit.
Sy ruk terug asof ’n slang haar wil pik. “In hemelsnaam, moet ek nou jou verlof dáárvoor ook kry? Mag ek nie meer op my eie ’n hoofpyn ontwikkel sonder jou toestemming nie?”
Hy lyk skoon uit die veld geslaan deur hierdie onredelike aanval. Dan verstyf hy merkbaar, sy gesig strak en styf, so ook sy stem: “As daar een ding is wat ek nie kan vat nie, is dit ’n sogenaamde kunstenaarstemperament, want dis niks anders as ’n tekort aan selfbeheersing en skone beduiweldheid nie. Moenie daardie speletjie met mý probeer nie, Anna. Jy gaan die slegste daarvan afkom.”
Sy staar na die deur wat agter hom toeklap. Die man praat in raaisels. Vir haar kom sê sy het ’n kunstenaarstemperament, wat eintlik beteken dat sy geen selfbeheersing het nie en bloot beduiweld is . . . Maar sy voel tog skaam. As hy hierdie skielike beduiweldheid van haar nie verstaan nie, kan sy hom dit nie verkwalik nie, want sy verstaan dit self nie. Sy het skielik soos handomkeer verander van die meisie wat hier op Friedesheim aangekom het. Tóé kon sy skaars boe of ba sê. Het met alles saamgestem, toegelaat dat hy vir haar besluite neem, haar lewe reël. En nou skielik, noudat sy weer mens voel, is sy opstandig en weerbarstig, ja, selfs onbeskof. Hy het verwys na die ware kleure wat sy begin wys noudat sy oor die ergste skok is . . . Is dit maar soos sy werklik is? wonder sy bekommerd. Sy staan op en stap na die spieël.
Vir die eerste keer in ’n lang tyd bekyk sy haar eie spieëlbeeld weer aandagtig. Die onbekende gesig van daardie eerste dag toe sy tot haar sinne gekom het, kyk steeds terug na haar. Haar gesig is nie meer bleek nie, maar bruingebrand en voller en haar hare is nie meer netjies kort nie, maar uitgepluis en stoppelrig. Maar die gesig bly steeds onbekend vir haar. Weer kom die gedagte soos daardie eerste dag in haar op: Dis nie ek nie. Ek ken hierdie vrou nie! En noudat sy meer van haar geaardheid leer ken, kom die gevoel nog sterker na vore: Dis nie ek nie! Ek sal nie mense sommer afjak nie, my sonder selfbeheersing deur onverklaarbare gevoelens laat rondslinger nie. Dis nie soos ek is nie en dis nie soos ek wil wees nie!
Weer pak ’n benoudheid in haar saam, net intenser as tevore. Dis vreeslik om nie te weet wie jy werklik is nie, en, soos sy begin uitvind, wát sy werklik is nie!
Weer vertel haar nugter verstand haar dat sy hier moet padgee. Haar lewe op Friedesheim is ’n beklemmende sirkel van dag tot dag bestaan. Sy word gedwing om te leef soos iemand sonder ’n verlede, maar sy leef ook soos iemand wat geen toekoms het nie. Sy leef net vir die hede. Om soggens op te staan, saam met Lochner veld toe te gaan, vanaand moeg terug te keer, moeg maar gelukkig, te stort, te eet en in die bed te klim en te slaap. Dit kan nie so voortgaan nie! Geen wonder sy begin van haar trollie af raak nie! Maar dan – en die kommer verdiep in haar – sy weet nie eens verseker of sy al ooit daarop was nie! Volgens wat sy uit Lochner se op- en aanmerkings moet aflei, was haar lewe tot voor die ongeluk ook nie juis een van stabiliteit, selfbeheersing en onbesprokenheid nie. Volgens hom was sy maar ’n moeilike entjie mens, versot op die stadsliggies. En sy het ware kleure en dit klink nie na kleure waarop sy trots kan voel nie. En nou het sy nog ’n kunstenaarstemperament op die koop toe. Glad nie ’n kombinasie wat by die vaal gesiggie met die groot, bekommerde oë in die spieël pas nie.
Dis ’n baie verwarde en steeds bekommerde jong meisie wat die volgende oggend doelbewus lank draai om Lochner kans te gee om veld toe te vertrek. So graag as wat sy saam met hom wil gaan, so min moed het sy om hom vanoggend in die oë te kyk. Sy is ook te bang om ’n hele dag in sy geselskap deur te bring, te bang dat sy weer iets sal sê wat hom ontstig, of nog erger, weer sal toelaat dat haar kunstenaarstemperament oorneem en haar al dieper in die warm water laat beland. Daarom bly sy in die bed lê en laat weet saam met Liesbet wat die oggendkoffie bring dat sy moet sê sy gaan nie vandag saam veld toe nie. Natuurlik het sy min hoop gehad dat hy dit summier sal aanvaar en ’n paar oomblikke later hoor sy sy voetstappe doelgerig in die rigting van haar kamer kom. Sy vlieg soos ’n vlakhaas uit die bed en storm die storthokkie binne, draai die krane oop en begin sing, nogal nie onaardig nie, sodat leef en beef vergaan.
Maar sy behoort haar neef beter te ken as dit. ’n Harde klop aan die halfdeursigtige glasdeur van die stort laat haar die hoë noot halfpad insluk en sy hoor die bevel duidelik bokant die geluid van die vallende water.
“Kom uit! Ek wil met jou praat.”
Die glasdeur gly effens oop en ’n handdoek word vir haar uitgehou. Sy gryp dit, drapeer dit vinnig om haar en tree dan by die stort uit.
“Genade! Kan jy ’n mens nie eens in die stort in vrede laat nie?” glip dit al weer uit.
Hy ignoreer die parmantigheid, vra kortaf: “Is jou hoofpyn oor?”
“Ja.”
“Ja, dankie.”
Sy aarsel, gehoorsaam dan maar: “Ja, dankie.”
“Jy voel glad nie siek vanoggend nie?”
“Nee . . . dankie.”
“Hoekom wil jy dan nie saamgaan veld toe nie?” kom die gevreesde vraag.
Sy gryp wild in haar gedagtes rond. Sy kan nie sê sy wil briewe skryf nie, want sy ken niemand vir wie sy ’n brief kan skryf nie. Sy kan nie sê sy het hoofpyn nie, want sy het nou net gesê sy het nie. Sy . . .
“Los maar. Jy hoef nie jou verstand so te breek net om leuens uit te dink nie.”
“Ek wou nie jok nie!” jok sy skaamteloos.
“O? Dan wou jy erken jy is maar nog net so beduiweld soos gisteraand?”
“Lochner . . .”
“Anna, jy gaan jou vasloop. Moenie met my probeer speletjies speel nie. Ek laat my nie vermaak nie, en beslis nie deur jou nie. Staak hierdie kinderagtigheid liewer dadelik. Ek kan myself dalk vergeet as ek vanmiddag terugkom en ek moet weer teen jou suur gesig vaskyk. Want dis tog iets wat ek nie kan verdra nie . . . ’n dikmond-kleuter.”
Met hierdie verdoemende woorde draai hy op sy hak om en stap by die vertrek uit terwyl die water plassies om haar voete maak. Sy staan soos ’n soutpilaar toegedraai in die groot wit handdoek. Waar, wáár op aarde kom sy aan hierdie aaklige neef? wonder sy verstom.
Al haar goeie voornemens om haar reg te ruk en beheer oor haarself te kry, rol saam met die Land Rover se wiele die werf uit. Sy voel haar nate kraak en dis of iets elke oomblik in haar gaan ontplof. Selfs haar geliefde diere bring haar nie in ’n beter bui nie. Inteendeel. Sy haal haar slegte humeur op hulle uit. Veral Lang Leentjie kry die wind van voor vanoggend.
“Mors jy nou weer op hierdie stoep dat ek dit moet kom skoonmaak . . . Toe loop! Loop veld toe na jou maters toe. Jy hoort daar, nie hier nie! Geen koekies meer vir jou nie! Loop vreet blare soos jy moet! Sjoe! Weg is jy! Loop soek vir jou ’n maat en kry kleintjies vir jou beduiwelde baas!”
Ook die Tweeling is vanoggend nie so gewild nie. “Ek is nou siek en sat daarvan om elke oggend bed op te maak vir julle. Kyk hoe lyk hierdie kombers! Dis aan flarde! Julle ís varke. Julle hoort snags agter ’n bos of in ’n gat in die grond te slaap. Geen sjokolade meer nie. Gaan grawe bolle!”
So baklei-baklei het sy die stalle bereik, kom by die staldeur tot stilstand en kyk toe hoe Salmon besig is om die perde te versorg. Die beeld van ’n meisie wat lyk asof sy in haar bosbroek gegiet is en asof sy op ’n perd se rug gebore is, verskyn vlugtig voor haar. Weer is dit sommer haar tong wat aan die praat gaan: “Salmon, saal vir my daardie perd op.”
Sy oë rek. “Juffrou?”
Sy stoot die onderdeur van die stal oop, stap na die blou skimmelmerrie, streel met haar hand oor haar nek. Sy het die perd die eerste dag al hier gesien en sy het Lochner en Salmon haar al ’n paar keer sien ry en gister was die groot madame ook op haar rug. Die perd het haar nog altyd opgeval en sy weet instinktief dat sy goed geteel is. Sy het skielik ’n drang om die merrie te ry.
“Jy het gehoor wat ek gesê het.”
“Maar kan juffrou dan perdry?”
“Ja.” Sy weet nie waar sy daaraan kom nie, maar sy weet sy kan. Hoe goed weet sy nie, maar sy weet skielik sonder twyfel sy het al voorheen perdgery. Sy kan ’n perd hanteer.
“Maar juffrou het nog nooit saam met meneer gery nie,” keer Salmon half verskrik.
“Hy het my net nog nooit genooi nie.” Sy frons. Nee, hy het nie. Sommer net aanvaar ’n stadsjapie kan nie perdry nie, soos hy so baie ander dinge ook net aanvaar . . . “Waarheen is meneer? Hoekom is jy nie saam nie?”
“Ek moet vanoggend die gras sny en die bome natmaak. Meneer is na die olifanttrop toe. Hy het gaan kyk na die nuwe kalf wat aangekom het.”
“Wat? Is daar ’n nuwe kalfie?” vra sy verras.
“Ja. Ons het gister op hom afgekom. Die een koei was mos dragtig.”
Ansie byt haar onderlip vas. O, hoe spyt is sy nou dat sy dit misgeloop het! Hy kon haar mos daarvan gesê het en dat hy vanoggend gaan kyk, dink sy vererg. Plaas daarvan steek hy toe liewer ’n preek af! Sy is sommer van voor af vies. Sy vergeet gerieflikheidshalwe dat sy wél genooi was.
“Toe nou, Salmon. Saal op die merrie.”
“Maar ek dink nie meneer sal wil hê juffrou moet alleen ry nie,” probeer Salmon ongemaklik keer. “Hy laat juffrou Charlene nie eens toe om te ry as hy nie by is nie.”
“Kom sy dikwels hier perdry? Haar broer het mos ook perde.”
“Ja, maar dis sommer plaasperde, nie sulke goeie goed soos hierdie nie. Sy kom ry dikwels saam met meneer wanneer sy op die Lodge is. Juffrou het gister seker gesien . . .”
“Ja, ek het gesien. Maar ék het niemand nodig om my hand vas te hou nie. Ek kan alleen ry.”
Salmon trap rond. “Maar dis gevaarlik! Die perd kan in ’n gat trap of enigiets kan gebeur wanneer julle by die hekke uit is en daar is gevaarlike diere in die veld.”
Sy begryp Salmon se penarie en gee ’n bietjie toe. “Ek sal nie veld toe ry nie, Salmon. Sommer net ’n entjie met die pad langs.” Sy sien die onsekerheid bly in sy oë en sê ongeduldig: “Nou toe dan maar. Ek sal self opsaal as jy te bang is vir jou meneer. Ék is nie vir hom bang nie.” Sy klink parmantig, maar sy is glad nie so seker van haar saak nie. Sy glo sy het al perdgery, maar sy is nie so seker of sy al een opgesaal het nie.
Salmon moet maar kopgee, duidelik baie onrustig en hy waarsku die hele tyd: “Moet asseblief nie van die pad afdraai nie! Moet asseblief nie te ver ry nie! Moet . . .”
“O, Salmon, jy kloek soos ’n ou hen,” keer sy die stortvloed en sit haar voet in die stiebeuel. Die effense onsekerheid in haar wyk toe sy in die saal sit en die leisels neem. Sy kán perdry! Hoe goed, sal sy uitvind sodra sy onder Salmon se wakende blik uit is.
Sy is nie so goed soos Charlene nie, besef sy na ’n rukkie. Sy bly bo en sy ry redelik, kan haar perd beheer, maar sy is beslis nie ’n ekspert nie. Nietemin. Dit gee haar groot vreugde om darem ook iets te kan doen wat daardie dame kan doen. Sy voel nie meer so heeltemal minderwaardig nie.
Maar saam met hierdie gevoel van selftevredenheid skiet daar ook onwelkome vrae in haar op. Vir ’n gewone stadsjuffrou wat in ’n woonstel bly en in ’n kantoor werk, is dit ’n bietjie vreemd dat sy kan perdry. Daar is wel ryskole, maar sy dink nie sy het in dáárdie kategorie geval nie, want lesse is ’n groot luukse vir ’n gewone sekretaresse. Maar waar op aarde sou sy leer perdry het? Sy sug. Elke dag raak die vrae net al meer en die antwoorde bly uit. Haar verlede is vir haar nou nog ’n groter raaisel as toe sy die eerste dag haar bewussyn herwin het. Miskien moet sy liewer nie so hard probeer delf nie. Miskien was dit baie wys woorde van suster Gertenbach toe sy haar gewaarsku het dat sy dalk moet bly wees dat sy alles van gister vergeet het, want baie mense sal wát wil gee om van gister te vergeet.
Sy is so diep versonke in haar somber gedagtes dat sy nie besef dat sy verder ry as wat sy oorspronklik beplan het nie. Skielik doem die lyndraad tussen Hunters Lodge en Friedesheim voor haar op.
Sy trek die perd in, huiwer. Sy wens sy kon gou vir Don gaan dagsê, maar net die gedagte dat sy haar teen sy suster sal vasloop, laat haar dadelik daarvan afsien. Dié dame sal natuurlik nie kan wag om Lochner in kennis te stel dat sy een van sy strengste reëls oortree het nie, en dit is om alleen te gaan perdry. Buitendien is die Lodge vir haar verbode grond. Die filmspan – die gruwelike, sondige, bose mense – is mos daar. Sy frons. Tog, sy is nuuskierig. Sy twyfel of sy sou gewees het as Lochner nie so ’n onverstaanbare houding aangeneem het nie. Maar nou . . . Sy glimlag effens. Hy sê mos sy is kinderagtig. Dan is sy seker, want sy weet sy tree nou presies soos ’n kind op: sê vir ’n kind nee dan is dit so goed jy sê ja! Ná nog ’n oomblik van nadenke, draai sy die perd weer terug en stuur haar voort in die rigting waarin hulle gegaan het. Maar toe sy die lynhek deur is, gaan sy nie langer padlangs nie. Teen Salmon se bevel in, en teen haar eie nugter verstand in, draai sy van die pad af die veld in.
Natuurlik besef sy dat sy ’n onverantwoordelike ding doen. Soos Salmon gewaarsku het, is dit baie gevaarlik om te perd op ’n wildplaas rond te ry waar daar groot roofdiere is. Die perd kan in ’n gat trap en haar afgooi; of dit kan vir iets skrik en op loop sit; of ’n slang kan dit pik of . . . ’n Duisend gevaarlike dinge kan met haar gebeur, maar Ansie oorweeg dit nie nou nie. Sy weet nie hoekom nie, maar sy is nou verskriklik nuuskierig om te sien wat op die Lodge aangaan. Miskien is die filmspan nie eens daar nie, dalk is hulle al besig om êrens in die veld tonele te skiet. Maar dit weerhou haar nie daarvan om die merrie versigtig in die huis se rigting te stuur nie. Daar is nie sonde in kyk nie. En as niemand weet sy kyk nie, is dit nog minder sonde. Dis mos nie dat sy met die mense kontak maak en onder hul bose invloed kan verval nie, troos sy haarself geamuseerd. Sy wil maar net kyk en dan sal sy teruggaan.
Versigtig nader perd en ruiter die omheining om die werf. Soos Lochner, het Don ook ’n hoë wildheining om die werf gespan en word die groot hekke saans toegemaak en gesluit, veral ter beveiliging van die gaste wat hy gereeld ontvang. Sy bring die perd tot stilstand onder ’n boom en bekyk die toneel voor haar deur die diamantdraad. Daar is groot doenigheid aan die gang. Don se Land Rover en nog ’n ander een staan voor die hoofgebou. ’n Paar mans en van Don se plaaswerkers is besig om ’n groot kamerastel op ’n vragmotor te laai. Oral is mense aan die beweeg. Sy gewaar twee vroue in bosklere identies aan dié wat Charlene dra. Bevele word uitgeskree. Dis duidelik hulle maak reg om veld toe te gaan.
Stil bestudeer Ansie die toneel voor haar en met elke verbygaande sekonde voel sy hoe iets haar keel al meer toedruk. Daar is ’n drukking in haar bors asof haar hart wil bars en êrens . . . êrens in die donker newels van gister roer daar iets, net ’n ligkol wat sukkel om uit die swart duisternis te ontsnap. Haar oë nael vas op die kameras agter op die vragmotor . . . en sy weet . . . sy wéét net sy het dit voorheen gesien. Dis nie ’n onbekende toneel voor haar nie. Iets . . . iets is vir haar baie bekend . . .