Читать книгу Ena Murray Omnibus 35 - Ena Murray - Страница 7

Оглавление

Hoofstuk 4

4

Toe sy daardie aand hoor Lochner sê vir Liesbet dat hy die volgende dag dorp toe gaan en dat sy haar lysie gereed moet kry as sy iets vir die huis nodig het, besluit Ansie dat sy eenvoudig nou die bul by die horings sal moet pak. Daar is ’n paar persoonlike goed wat sy dringend moet hê. Verder vind sy haar rokke heel onprakties vir die bos. ’n Paar kortbroeke met ligte bloesies daarby is net wat sy hier nodig het. Dan ook ’n paar lekker loopskoene vir die bospaadjies. Maar sy het nie ’n sent geld nie.

Veral ná vandag se kolossale uitgawe vir die lugreëling voel sy nog onwilliger om die saak aan te roer. Maar sy het geen keuse nie.

“Lochner, het ek nie geld by my gehad toe hulle my ná die bomontploffing gekry het nie? Ek moes darem seker ’n paar rand by my gehad het. Ek was tog besig om inkopies te doen.”

Sy sien sy vinnige frons en haar hart sak in haar skoene. Sy kan nie van die gevoel ontslae raak dat Lochner onmiddellik ontevrede is wanneer daar na daardie traumatiese dag verwys word nie.

“Ja, jy moes seker geld by jou gehad het, maar volgens die polisieverslag was net jou handsak by jou, gelukkig nog met jou identiteitsboekie daarin. Jou handsak het waarskynlik oopgegaan met die val en die res van die inhoud het uitgeval en niemand het hulle daaraan gesteur nie. Die ambulansmanne het nie tyd gehad om rond te soek vir ’n paar rand of ’n sakdoek nie. Hulle moes jou so gou moontlik by ’n hospitaal kry.”

“Ja. Ja, natuurlik. Ek verstaan dit. Maar . . . ek moet uitvind waar ek gewerk het. En ek moet by my woonstel kom.”

Sy blik is nie bemoedigend nie. “Waarop stuur jy af? Wat krap aan jou? Ek het gedink jy is gelukkig hier.”

“Dis nie waarom dit gaan nie, Lochner!” sê sy ongeduldig. “Jy kan alles so maklik afmaak. Dis nie so maklik vir mý nie. Dis ék wat met die probleme sit.”

“Watse probleme?”

Sy sug moedeloos. Die wonderlike atmosfeer tussen hulle is bederf. Sy kan dus maar sê wat sy moet sê en klaarkry daarmee. Die een of ander tyd moet dit tog gesê word. “Een van die probleme is dat ek geld nodig het en ek het nie ’n sent by my nie.”

Hy lyk openlik verlig. “Is dit al wat jou hinder? Dan het jy nie ’n probleem nie. As jy iets nodig het, skryf dit op Liesbet se lysie en ek sal dit koop.”

“Dis nie so eenvoudig nie! Daar is goed wat ek sélf moet koop, wat jy nie vir my kan koop nie. En verder . . . ek hou nie daarvan om op iemand te teer nie. Ek is al klaar so diep in die skuld by jou. Ek moet uitvind of ek êrens nog geld het, in ’n spaarrekening of ’n bankrekening of iewers. Ek moet weet waar ek staan. Ek kan nie so in die lug rondsweef nie! Asseblief, Lochner, verstaan!” Sy kyk hom pleitend aan, maar sy gesig word net stroewer.

“Jy skuld my niks. Ek wil nooit weer hoor dat jy so praat nie. Ek sal môre vir jou ’n bankrekening oopmaak en ’n bedrag daarin stort. Dan kan jy jou eie goed koop.”

Sy swyg. Lochner is goed opgeruk, maar daar is tog iets wat sy moet ophaal, al ontplof hy nou ook. “Dankie, Lochner. Ek sal alles natuurlik eendag teruggee . . . sodra . . . sodra my lewe weer normaal raak.” Sy gesig verstyf opnuut maar sy gaan voort: “Daarom voel ek dat ek moet teruggaan. Ek sal nie hiér my geheue terugwen nie. Hier is niks wat my aan my verlede kan herinner nie. Ek moet teruggaan na die plek waar ek gebly het en na die soort lewe wat ek geken het . . .”

“Nee!” Dit word só beslis gesê dat sy hom net kan aanstaar. “Dan was alles wat jy vanoggend gesê het net toneelspel.”

“Dat dit vir my heerlik is hier? Dit is die waarheid! Ek het dit bedoel, Lochner! Hoekom op aarde sal ek probeer toneel speel daaroor?”

“Ek wonder self.”

Sy kyk hom kwaad aan. “Ek volg nie nou die strekking van jou gedagtes nie. En jy verstaan mý blykbaar ook heel verkeerd. Dis tog logies dat as ek my verlede wil terugwen, ek dit moet gaan soek waar dit ís . . . en dis in die Kaap, nie hiér nie! Ek wíl nie weggaan nie, ek móét!” Sy voel skielik na aan trane. As hy maar weet hóé graag sy hier wil bly. Maar nugter verstand vertel haar sy moet padgee, nie net ter wille van haarself nie, maar ook ter wille van hom. Sy is ’n meulsteen om sy nek. Sy durf nie langer so inbreuk maak op sy privaatheid nie. Hy het ’n lewe van sy eie. Maar diep in haar hart weet sy ook dat sy grootliks ter wille van haarself hier moet wegkom. Die afgelope maand was soos ’n paradys waarin sy gelewe het. Net sy en Lochner en die natuur in al sy skoonheid om hulle. Maar dis ’n gekke-paradys, iets wat op ’n dag verby sal wees, en hoe gouer hoe beter, al het sy ’n ewige vrees in haar om hier weg te gaan en aan haarself oorgelaat te wees.

“Dis alles dinge wat kan gebeur wanneer jy eers heeltemal herstel het.”

“Maar ek hét heeltemal herstel. Fisiek, bedoel ek. Ek kan liggaamlik nie gesonder word as wat ek nou is nie. Daar is geen rede hoekom ek . . .”

“So? Jy dink jy is nou in staat om jou pad alleen te vind, jou weg alleen oop te veg?” Hy klink uitdagend. “Jy is gereed om op ’n vliegtuig Kaapstad toe te klim?” Hy sien hoe sy haar asem inruk, sien die instinktiewe vrees in haar oë en knik. “Presies, Ansie. Jy is nog nie gereed nie. Ek wil nie weer ’n enkele woord hiervan hoor nie. Gaan slaap nou. Ek het administratiewe werk om te doen.”

Hy verdwyn in die rigting van sy kantoor en sy moet bedremmeld gehoorsaam. Tog kan sy die verskriklike verligting dat hy haar versoek summier geweier het, nie ignoreer nie. Maar sy voel dit haar plig, plig teenoor ’n nugter verstand en gewete, om haarself hard aan te spreek toe sy in die bed klim: Dis malligheid om so lank hier te bly, Ansie. Hoe langer jy hierdie gekkeparadys uitrek, hoe swaarder gaan dit wees om daarvan afskeid te neem. Tog, toe sy aan die slaap raak, is daar ’n glimlag om haar lippe en die man wat ’n ruk later suutjies haar kamer binnekom om homself te vergewis dat sy rustig is, kyk lank daarna in die maanskyn.

Die volgende oggend op pad dorp toe is Ansie verlig om te sien dat Lochner weer sy ou self is. Sy wil hom vra wanneer sy dan gereed sal wees om na haar ou lewe terug te keer, maar besluit daarteen. Sy kan dit nie verduur as hy ontevrede met haar is nie en vir niks op aarde wil sy weer die gemoedelike atmosfeer tussen hulle bederf nie.

Hy ry reguit bank toe, kom ’n rukkie later terug om haar te roep om haar handtekening te kom gee. Sy sien sy het ’n saldo van ’n paar duisend rand.

“Ek het geen idee wat jy nodig het nie. Is dit te min?”

“Goeiste, nee! Dis heeltemal te veel. Ek soek net ’n paar kleinigheidjies. Dankie, Lochner. Ek sal . . .” Sy sien die waarskuwing in sy oë en verander haar sin vinnig: “Ek sal dit oordeelkundig gebruik.”

“Dis te hope. Nou, waar wil jy eerste wees?”

“By ’n apteek, asseblief.”

“Ek hoop nie jy gaan grimering koop nie.”

Sy kyk hom verbaas aan. “Ek het dit nie spesifiek in gedagte gehad nie. Darem ’n lipstiffie. Hou jy nie van grimering nie?”

“Nee,” kom die pront antwoord en dan ewe pront die bevel: “Los die lipstiffie. Dit pas nie in die bos nie. Toe, maak gou, ek het ook besigheid om te doen.”

Sy wip uit, koop dan maar net die ander benodigdhede en kyk in die verbygaan verlangend na die ry uitgestalde lipstiffies. Sy lyk darem so bleek vir haarself. Maar Lochner sê ’n rooi mond pas nie in die bos nie, en wat Lochner sê, is wet. Dus . . .

“Het jy nou klaar alles gedoen?”

“Nee, ek wil by ’n klerewinkel in.”

Hy glimlag skuins na haar af. “Om kleiner bra’s te koop?”

Sy wil haar eers vererg, lag dan guitig. “Nee, agie. Om vir my kortbroeke te koop. Daardie rokke van jou pas ook nie in die bos nie.”

“Wie sê dis my rokke?”

Sy kyk hom uitdagend aan. “Ek weet net dis jy wat daardie rokke gekoop het. Dis nie my smaak nie.”

“O? Jy weet skielik baie. Het jy nog iets meer omtrent jouself uitgevind?”

Ja, dat ek gans te verknog aan Friedesheim en sy baas raak. Maar sy sê hardop: “O, so ’n ietsie hier en ’n ietsie daar. Niks van belang nie.”

Sy oë is skielik skerp. “Jy moenie met my speletjies speel nie.”

Sy rek haar oë geskok. “Maar natuurlik nie, my liewe neef. Hoekom sal ek? Jy sal dit mos ook nie met mý doen nie, nie waar nie?” Sy wip weer uit en verdwyn by die klerewinkel in. So ja. Dit behoort hom ’n rukkie besig te hou solank sy haar inkopies doen, want van een ding is sy oortuig: Lochner het haar nie alles oor haarself vertel wat hy weet nie. Hy hou dinge van haar terug en sy kan byna sweer hy het al kluitjies ook oor haar gebak. Hoekom, slaan haar totaal dronk. Maar hy moet darem besef sy is nie so ’n uilskuiken as waarvoor hy haar skynbaar aansien nie.

Ansie het heeltemal gelyk. Dis met effense ongemak dat hy haar agterna kyk en dan diepdenkend op haar sit en wag. Hierdie Anna van der Merwe is nie onnosel nie. Hy sal haar fyn moet dophou.

Hoogs tevrede met haar inkopies, skuif sy ná ’n ruk weer langs hom in waar hy geduldig op haar sit en wag het.

“Alles gekry wat jy wou hê?”

“Ja, dankie. Dié winkeltjie het nogal pragtige goed.”

By die huis gaan sy dadelik verklee in ’n gemakliker en koeler kortbroek en moulose hempie. Sy hou asem op toe sy voor Lochner verskyn en hy haar krities beskou. Sy het al uitgevind dat hierdie neef van haar verrassend konserwatief is, amper outyds in sekere opsigte. Tot haar verligting knik hy net en laat hoor: “Ja, dis seker meer prakties as ’n rok.”

Dis ’n paar dae later dat Ansie haar eerste vangs belewe, iets wat sy hoop om nooit weer te sien nie. Sy weet dat dit vir baie mense, veral die toeriste in die wildreservate, die hoogtepunt van hul besoek is as hulle op ’n vangs afkom, en baie sien dit, tot hul spyt, nooit nie. Vir haar is dit egter ’n aaklige ervaring.

Salmon het eerste die luiperd gewaar. Met sy gekolde lyf is hy so goed gekamoefleer in die boswêreld dat slegs ’n kennersoog hom sal kan raaksien.

“Hy staan en kyk na iets anderkant die rantjie.” Lochner stuur die Land Rover versigtig met die veldpaadjie tot op die koppie. Voor hulle lê ’n graskol met net hier en daar ’n bos en nou kan hulle duidelik sien wat die luiperd in die oog het.

“Daar is twee vlakvarke!” roep Ansie ontsteld uit, want sy het ’n besondere gevoel vir dié onooglike spesie ontwikkel. “Maar luiperds vang bokke. Hy sal seker nie ’n vlakvark vang nie?”

“Hy vang enigiets as hy honger genoeg is. Dis ’n jong luiperd. Hy is seker nog nie so gekonfyt in die jagkuns nie. Kyk, daar kom hy nou oor die rantjie. Hy het beslis planne met hulle.”

“Maar jaag hom weg! Hy gaan hulle vang!”

Lochner kyk half ongeduldig na haar ontstelde gesig. “Ons is in die natuur, Ansie. Hier gaan dit om oorlewing. Ek het jou reeds gesê . . .”

“Hy kan vir hom ’n bok gaan vang,” sê sy bot. Die vlakvarke is vir haar te oulik, want die oomblik dat hulle skrik en in beweging kom, lig die stertjie kiertsregop die lug in. Sodra hul agterente in rat kom, gaan staan die stertjie soos ’n antenne regop.

“En wanneer die luiperd ’n bok wil vang, wil jy daar ook keer? Bewonder liewer sy jagtersvernuf. Kyk daar. Hy het gesorg dat hy bokant die wind kom sodat die varke hom nie kan ruik nie. Nou kom hy met ’n lang ompad, kruipend en stukkie vir stukkie nader. Hy kan sien in watter rigting die varke wei.”

Ansie is stil. Dis egter ’n lang driekwartier wat verbygaan.

“Die varke is nou omtrent by die plek waar hy lê. Hoekom vang hy nie en kry klaar nie?” laat sy later senuweeagtig hoor, en Lochner en Salmon glimlag.

“Dis een van die lesse wat ons mense van die natuur kan leer. Geduld. Hy sal op ’n goed oorwoë oomblik spring. Dáár!”

Die luiperd spring, maar dit is so vinnig dat Ansie nie die beweging sien nie. Die volgende oomblik tril die lug met ’n vreeslike geskreeu en Ansie se hart ruk byna tot stilstand. Geskok en met grootgerekte oë kyk sy vasgenael na die toneel voor haar. Dis ’n worsteling op lewe en dood . . . en almal weet wie die oorwinnaar gaan wees. Wat vir Ansie nog erger is as die verskriklike geskreeu van die vark, is die optrede van haar maat. Die beer hardloop so vier tree weg, draai dan om, kyk verwilderd na die wrede toneel voor hom waar sy maat desperaat skop en veg, die oë verstar. Die angsvolle hulpgeroep van sy maat laat hom met ’n heldemoed omdraai, dan weer weg, terug, weg, terug, weg . . .

Dis ’n nagmerrie-ewigheid vir Ansie voordat die geskreeu stil raak, voordat die agterpootjies ophou met skop. Die beer staan net en kyk. Die stilte daal oorverdowend neer. Ansie se ore suis met dié wete: Sy is dood.

“Kyk daar!” roep Lochner en wys na regs.

’n Groot hiëna het asof uit die niet te voorskyn gekom, aangelok deur die geskreeu van die vlakvark, en is nou vinnig op pad met sy logge hardlooppassie. Hy pyl reg op die luiperd af en Ansie se hart, wat nou al ’n paar keer wou gaan staan het, sit in haar keel. Sy sien nie kans vir nog ’n genadelose, wrede geveg tot die dood toe nie. Tot haar verbasing gee die luiperd dadelik pad, word hy selfs ’n entjie deur die hiëna verjaag voordat laasgenoemde omdraai na die prooi. Die volgende oomblik kyk sy met siddering toe hoe hy stukke vleis uit die vark losruk.

“Dis iets wat ’n mens nie aldag sien nie,” laat Lochner peinsend hoor. “Hy sou dit nie met ’n veteraan reggekry het nie. Die luiperd is nog jonk en onervare en het maar besluit bang Jan is beter as dooie Jan, want hy weet dat die sterkste kake aan die hiëna behoort.” Hy wys weer uit: “Kyk daar. Daar kom die aasvreters aan. Daar draf ’n jakkalsie ook nader, hopende daar sal iets vir hom oorbly. En kyk bokant ons in die lug. Dit was netnou nog skoon, en nou draai die aasvoëls daar.” Dan kyk hy sywaarts en frons. “Ansie . . .”

Maar sy kan haarself nie meer beheer nie. Sy bars in trane uit en die twee mans se oë ontmoet vlugtig. Dan trek Lochner haar met ’n sagte glimlag nader en sy verberg haar gesig skaam teen sy bors. Hy streel haar agterkop, troos: “Toe nou maar. Dis alles verby. Dit is maar soos die natuur is, Ansie.”

Slukkend, snikkend, stotterend protesteer sy huilend teenoor hom: “Dis aaklig, dis wreed! Daardie arme mannetjie van haar! O, dit was so hartroerend! Waar is hy nou?”

“Hy het maar spore gemaak toe die hiëna ook op die toneel verskyn. Ansie, jy moenie menslike eienskappe aan wilde diere wil toedig nie. ’n Dier is anders. Hy sal vir ’n oomblik geskok wees, maar tien minute later het hy alles vergeet. Dis nie soos die mens wat treur en onthou . . .”

Sy lig ’n nat, stowwerige gesig na hom op en kyk hom amper vyandig aan. “Hoe weet jy? Wat weet jy wat in ’n vark se hart en verstand aangaan?”

Hy skud sy kop, glimlag skuins na Salmon: “Ons laat dit liewer daar. Ons gaan terug huis toe.”

Sy skuif weg, sê kortaf: “Ja. Ek het genoeg gehad vir een dag.”

Maar toe hulle oor die rantjie kom, wie staan rustig langs die pad en wei?

“Ek het jou gesê. Daar staan hy lustig en wei asof daar op aarde niks gebeur het nie. Jy verbeel jou verniet dat hy nou aan ’n gebroke hart gaan sterf.” Lochner kan nie help om te terg nie.

Hy ontvang ’n yskoue blik. “Hy is maar net soos al wat man is. Vergeet sommer baie gou. Ek is seker as dit die wyfie . . .”

“Die sog.”

“Nou goed, die sóg was wat oorgebly het, sou sy nou nog verwese rondgedool het.”

Sý oë is skielik kil. “Ons mans is dus harteloos. Is jy báie seker daarvan?”

Sy kan hom net verstom aankyk toe hy hardhandig van rat verwissel en hulle met ’n gevaarlike spoed oor die bospaadjie vorder.

Lochner se vreemde kil en teruggetrokke bui duur vir die res van die dag voort en Ansie begin haar vererg. Dis nie nodig dat hy hom só hoef te wip net omdat ’n ander meisie hom blykbaar vergeet het nie! Dan is sy nog steeds ongelukkig oor die toneel wat sy die oggend aanskou het. Sy kan die ontsteltenis van die arme beer nie vergeet nie. Lochner kan sê wat hy wil, diere hét gevoelens. Veral die vlakvarke, het sy opgelet, is baie sterk gesinsgebonde. Hulle is altyd ’n gesinnetjie bymekaar. Dit laat haar aan iets anders dink en teen wil en dank is sy verplig om met haar bot neef te praat.

“Lochner, hoe weet ons of daardie mavark nie kleintjies gehad het nie? Wat word nou van hulle?”

Hy kyk haar geïrriteerd aan. Hy het beslis ernstiger dinge om aan te dink as vlakvarkwesies. “Dan sou hulle in die omtrek gewees het. Dit was net die sog en die beer.”

“Maar hulle kan nog baie klein wees, heeltemal babatjies,” hou sy koppig vol.

Hy sug en kan sy ongeduld nie meer beteuel nie. “In hemelsnaam, Anna! Sal jy ophou met karring oor vlakvarke?”

Haar oë en stem is ysig. “Vir ’n man wat voorgee hy gee so danig baie vir diere om, klink jy maar bra ongevoelig. Dan is jou danige liefde vir die natuur ook maar net vertoon. En wie praat altyd so smalend van ander se valsheid?”

Sy storm die huis met mening binne, en op die stoep gaap die man se mond behoorlik oop. So ’n geitjie!

Ansie het glad nie ’n rustige nag nie, die nuwe lugversorging ten spyt. Sy is ontsteld en vies, met die gevolg dat sy eers laat aan die slaap raak en haar die volgende oggend verslaap. Lochner en Salmon is reeds weg veld toe en sy is sommer van voor af vies. Sy haal dit op die niksvermoedende Liesbet uit.

“Hoekom het jy my nie kom wakker maak nie?”

“Meneer het gesê ek moet jou laat slaap. Juffrou het glo sleg geslaap laas nag.”

“O? En hoe weet hy dit?”

Liesbet is ongestoord. “Meneer weet alles,” sê sy betigtigend.

Ansie snuif net deur haar neus en stap op die stoep uit. Meneer het haar seker met sy X-straaloë op haar bed sien rondrol. Meneer weet gans te veel na haar sin. Wat meer is, sy is oortuig daarvan meneer weet baie meer van haar as wat hy wil laat blyk. En daar word maklik op meneer se tone getrap. Hy is oorgevoelig. Sal die man hom regtig nog verknies oor ’n simpel vroumens wat dit nie werd is nie? En nou haal hy dit sommer op haar uit!

Sy staan haar nog so en opwerk toe die Land Rover die werf binnery. Haar oë is glad nie vriendelik nie, en sy môregroet word met ’n skaars merkbare knik van die kop beantwoord. Sy gaan hom nie só maklik vergewe nie.

“Toe! Toe! Toe! Wat staan jy daar? Kom haal jou babas.”

“My wat?”

“Jy wou mos babas gehad het. Wel, hier is hulle nou. Twee vlakvarkwesies.”

Sy spring soos ’n pyl uit ’n boog weg, al haar grimmigheid vergete. “Dan wás daar kleintjies! Ek het jou mos gesê!” Salmon sit en grinnik net met die twee klein varkies weerskante in sy arms en Lochner laat hom maar die verwyt welgeval. “ ’n Tweelinkie! Maar hulle is nog skaars mens!”

“Asseblief! Jy bedoel skaars vark.”

“Aag, Lochner, is hulle nie te dierbaar nie!”

“Hmm. Nie Lochner, nie Salmon en beslis ook nie Liesbet weet iets van hulle af nie. Hulle is jóú indaba. Jý kyk na hulle.”

“Maar wat eet sulke klein varkies?”

“Hulle eet nog nie, o groot natuurbewaarder. Hulle drink nog melk.”

Sy neem die twee varkies by Salmon en druk hulle teen haar vas. Dan kyk sy op in haar neef se glimlaggende gesig, haar oë sag. “Dankie, Lochner, dat jy gaan kyk het. Ek is jammer oor wat ek gisteraand gesê het. Ek het geweet dis nie waar nie. Ek weet jy gee om.”

Sy arm gaan skielik om haar skouers en sy en die varke kry ’n drukkie. “Moenie my so gou bedank nie. Jy en Liesbet gaan nog lelik vassit oor hierdie varke, en ek wil niks daarvan hoor nie.”

Dis ook sommer met die intrapslag so. “Jy hou daardie goed uit my huis uit, juffrou! Hulle is vuil en hulle is stout en hulle is lelik.”

“Maar, Liesbet, hulle is so klein! Kyk net hoe dierbaar is hulle! En hulle is sonder ’n ma. Hul ma is dood.”

“Almiskie! Hulle bly varke!”

“Maar jy sal hulle darem nie van honger onder jou oë laat doodgaan nie, sal jy? Jý wat ook ’n moeder is, Liesbet?”

Natuurlik kry sy haar sin, én ’n bottel met tiet en al. En melk. Liesbet en Lochner kyk toe hoe sy sommer plat op die grond gaan sit en die eerste klein varkie bottel gee, terwyl sy vra: “Sal die melk met sy magie akkordeer? Dis dalk te sterk . . .”

“Ek twyfel of daar enigiets is wat nie met ’n vark se maag sal akkordeer nie,” antwoord hy en sê saggies sodat net Liesbet hom kan hoor: “Sy het ons hopeloos in die sak, Liesbet.”

Maar Liesbet lyk nie ontevrede nie. “Die plaas het sommer lewe gekry vandat sy hier is, meneer. Jy moet haar nie weer laat weggaan nie.”

Met sy oë op die toneeltjie voor hom, antwoord hy gedemp: “Die toekoms sal ons maar moet leer, Liesbet. Dis nie in ons hande nie.” Dan hardop: “Jy weet ook niks van babas af nie, dit kan ek sien. Jy moet hom op die rug vryf nadat hy klaar gedrink het sodat die winde kan uitkom!”

Liesbet se hartlike lag keer dat sy onmiddellik tot die daad oorgaan, en sy jil terug: “Nee, dit los ek vir Liesbet.”

“Aikôna,” is al antwoord wat sy kry.

Die Tweeling, soos hulle sommer dadelik gedoop is, gedy soos sponse in water onder al die liefde en sorg wat op hulle uitgestort word. Snags slaap hulle in ’n omgekeerde kartondoos in ’n klein pakkamertjie, lekker warm toegemaak in ’n ou deken wat Liesbet wie weet waar uitgekrap het. Bedags begin hulle al op die werf rondwei en Liesbet het, in haar eie woorde, maar koebaai gesê aan haar blomme. Tussen die Tweeling en Lang Leentjie is daar geen hoop op ’n blom nie. Om alles te kroon, kom ’n steenbokkie wat met ’n af been gekry is, ook nog by en Bambi, soos sy liefderyk gedoop word, raak groot vriende met die ander werfdiere.

Lochner lyk ietwat verleë onder sy buurman se blik toe Don op ’n dag daar aankom. “Jou lanklaas gesien, buurman. Jy is skaars die afgelope tyd,” groet Lochner.

Don knik, sy oë verbaas op die werf vol diere. “Ja, ek was taamlik besig.” Hy laat na om te verduidelik waarmee hy besig was. Hy wil liewer nie vertel hy was besig om die Lodge ’n bietjie op te knap vir die koms van die filmspan nie. “Wat op aarde gaan hier aan?” vra hy dan maar liewer. “Dis mos teen jou geloof om ’n wilde dier mak te maak. En kyk wat loop nou al hier rond . . . kameelperde, varke, bokkies . . .”

“Jy oordryf. Dis een kameelperd, een steenbokkie en twee vlakvarke. En natuurlik is dit steeds teen my beginsels, maar gaan sê dit vir ’n koppige vroumens wat anders dink.”

“Dan is sy nog altyd hier?”

“Natuurlik.”

Hy kyk sy vriend ondersoekend aan. “Maar jy het gesê sy kuier net hier. Sy is darem nou al lank hier.”

“Sy kan kuier so lank sy wil.” Lochner wil van die onderwerp afstap en sê: “Sien jy daar? Daardie een se naam is Lang Leentjie. En Lang Leentjie is so rond en vet nie van kameeldoringblare nie, maar van koekies.”

“Koekies?”

“Koek, my vriend. Daardie kameelperd vreet koek. En sien jy daardie twee varke wat soos twee skoothondjies agter haar aandraf? Daardie twee vlakvarke eet sjokolade. En daardie bokkie, gedoop Bambi, drink elke middag saam met ons tee.”

“Ek sou dit nie geglo het as ek dit nie met my eie oë gesien het nie. Koek en sjokolade en tee! En jy laat dit toe? Jý?”

Lochner grinnik. “Ek glo dit self nie!”

’n Rukkie later kyk Don Ansie streng aan. “Ansie, ek verstaan jy gee hierdie wilde diere koek en sjokolade en tee. Dit druis teen elke beginsel van die natuurliefhebber in. Jy gee nie aan wilde diere iets buite sy natuurlike dieet nie. Trouens, hierdie diere behoort al lankal in die veld teruggeplaas te gewees het. Dit lyk my Lochner kan jou nie beheer nie.”

Sy kyk hom eers verbaas dan vererg aan. “Lang Leentjie kry soggens twee kléin koekies en middae twee kléin koekies. Die Tweeling kry saans voor hulle gaan slaap net één sjokoladeblokkie en Bambi kry net middae één ou pierinkie tee. En, Don, elke haan is baas op sy eie mishoop. Gaan kraai koning op joune en los ons mishoop uit.” Sy stap opstandig weg, die twee varkies huppelend agterna.

Lochner se lag klink hartlik op terwyl hy spottend sê: “Sien? Verstaan jy nou?”

“Genugtig, ek sou nie kon dink daar is soveel vuur in haar nie. Om die waarheid te sê, ek het haar kwalik herken. Sy het sommer ’n mooi meisie geraak met haar bruingebrande bene en noudat sy ’n bietjie meer kurwes bygekry het . . .”

Lochner se hartlikheid verdwyn soos mis voor die son. “Stadig, Don. Sy is nie in die mark nie.”

Don kyk hom verbaas aan. “Hoekom nie?”

“Omdat ek so sê. Kom, wil jy iets drink?”

Don frons. Die atmosfeer tussen hom en hierdie buurman van hom is nie meer wat dit was nie. Hy verstaan nie wat gebeur het nie. “Lochner, ek het niks verkeerd bedoel met . . .”

“Ek weet. Maar dis miskien goed as ons mekaar op daardie punt van die begin af duidelik verstaan.”

“Ja. Ja, natuurlik. Nee, dankie. Ek sal nie nou iets drink nie. Ek moet ry. Iets van die dorp af nodig?”

“Nee, dankie.”

Toe Lochner by haar op die stoep aansluit nadat Don vertrek het, wil sy weet: “Wat het hy hier kom soek as hy nie eens iets wou drink nie?”

“Hy het net aangekom om te hoor of ons iets van die dorp af nodig het.”

“O, dis jammer ek het nie geweet nie. Hy is darem seker nie so vies vir my dat hy my nie ’n geleentheid dorp toe sou gee nie.”

Lochner frons. “Wat wil jy daar gaan maak?”

“My hare laat sny. Die goed groei vreeslik vinnig en die lang hare is lastig en warm.”

“Ek kan jou ook maar inneem daarvoor,” bied hy aan, maar sy skud haar kop.

“Ag, nee, dit kan wag tot ons weer moet ingaan. Of . . . jý kan dit sommer korter sny.”

“Ek?”

“Ja. Dis eenvoudig. Wag, ek gaan haal gou Liesbet se kombuisskêr. Dis lekker skerp.”

“Ansie . . .” Maar sy is reeds weg en Lochner se oë word peinsend. Mooi meisie geraak . . . Ja. Daardie hare moet maar sommer redelik kort afgesny word.

Natuurlik loop dit op ’n fiasko uit. Of dit maar net uit onkunde oor die haarsnykuns is en of dit doelbewus so gebeur, weet selfs Lochner later nie meer nie. Tot Liesbet moet uiteindelik kom hand bysit.

“Ek wil my hare net korter hê! Julle is besig om alles af te sny!” protesteer Ansie waar sy op ’n kombuisstoel sit, ’n koerant om haar gedrapeer sodat die hare maklik grond toe kan gly.

“Maar, juffrou, hierdie kant is langer as die ander kant. Meneer sal hierdie kant nog ’n bietjie moet wegvat.”

Teen die end is dié kant weer langer en moet aan die ander kant nog “’n bietjie weggevat word”. Die eindresultaat is ’n poenskop wat lyk asof die motte ’n hele seisoen lank daarin geboer het. Dis happe en gate net waar jy kyk en Ansie kry amper hartversaking toe sy haarself eindelik in ’n spieël betrag. Aan die bondel hare wat Liesbet bymekaargemaak het, het sy gewonder of sy ooit iets oorhet op haar kop. Nou wonder sy of sy nie beter sal lyk met ’n heel kaalgeskeerde kop nie. Lochner verskyn agter haar en laat verskonend hoor: “Ek is jammer, Ansie. Ek het jou gewaarsku ek weet niks van hare sny af nie.” Sy oë is bekommerd. Hy het darem ’n bietjie te wild te kere gegaan . . .

Sy kyk terug na die potsierlike wesentjie voor haar in die spieël. Sy is seker haar eie ma sal haar nie nou herken nie. Dan begin sy giggel, al harder en dan kraai sy van die lag. Lochner lag verlig saam.

“O, jou derduiwel! Onthou net ék sny jou hare wanneer jy weer ’n haarsny nodig het!”

“O, nee. Jy sal nie naby mý kop kom nie!”

Weer meng hul uitbundige gelag en hy vee die lagtrane van haar wange af, kyk met warm oë op haar neer. “Jy is nog steeds pragtig.”

“Ek . . . is?”

“Jy was nog altyd pragtig.”

Skielik is die atmosfeer gelaai, voel Ansie die elektrisiteit tussen hulle. Sy staar met groot oë na hom op, sien hoe sy gesig nader kom en sonder dat sy weet dat sy dit doen, lig haar mond op na syne.

Dan is daar ’n beweging by die deur en sy verstyf in sy greep. Duidelik gesteurd kyk Lochner om en hy sien wat Ansie sien . . . ’n Pragtige donkerkopmeisie, slank en baie deftig aangetrek. Sy staan hulle en aankyk, en die uitdrukking in haar oë vertel hulle dat sy nie kan glo wat sy voor haar sien nie.

Die twee meisies se oë ontmoet . . . en Ansie weet instinktief dis die begin van die einde van die gekkeparadys van die afgelope weke.

Ena Murray Omnibus 35

Подняться наверх