Читать книгу Ena Murray Omnibus 35 - Ena Murray - Страница 5
ОглавлениеHoofstuk 2
2
Dis met die gevoel van iemand wat geblinddoek en op ’n nou paadjie met afgronde aan weerskante neergesit is dat Ansie die volgende dag van suster Gertenbach afskeid neem en sy en haar neef lughawe toe vertrek. Daar aangekom, vind hulle dat Lochner se buurman ook pas met sy private helikopter gearriveer het.
Sy staan bedees en toekyk hoe die twee mans hand skud, duidelik bly om mekaar weer te sien. Dan kyk Don Cawood nuuskierig na sy vriend se niggie en kan vir ’n onbewaakte oomblik nie sy ware gevoelens vir die meisie voor hom wegsteek nie. Nie dat Don enigsins ’n aanduiding gehad het van wat om te verwag nie. Tog is die vaal, maer, kleurlose stukkie mens voor hom ’n soort skok. Waar op aarde het Lochner hierdie familielid van hom opgespoor?
Maar hy ruk hom vinnig reg en laat met sy ingebore vriendelikheid hoor: “Bly te kenne, Ansie. Friedesheim is nou net die regte plek vir jou. Baie vleis en pap gaan jou sommer gou heeltemal regruk!” Dan aan Lochner: “Ek het reeds gereël. Ons kan dadelik vertrek as julle gereed is.”
“As jy nie wil vertoef nie . . .”
“Nee. Ek het geen besigheid hier nie. Ons kan maar gaan.”
’n Rukkie later volg sy die twee mans steeds ewe gedwee na die wagtende helikopter. Hoewel sy nie met sekerheid kan weet nie, vermoed sy dat sy nog nooit tevore in een gery het nie. Sy weet nie of sy opgewonde of bang voel nie.
Sy klim agter in saam met hul bagasie en Lochner neem langs Don sy plek voor in. Dié twee gesels nog land en sand, en hoewel dit alles vir haar vreemd is, luister sy tog met belangstelling hoe daar oor wilde diere, miltsiekte in die Nasionale Krugerwildtuin, suipplekke en droogte en honderd ander dinge wat verband hou met ’n wildplaas, gepraat word.
Toe die skroef al draai, kyk Lochner weer na agter. “Alles reg?”
Sy knik net en voel hoe hulle die aarde verlaat en haar maag maak ’n snaakse draai. Dis seker hoe die man wat eerste die ruimte ingeblaas is, moes gevoel het, dink sy. Hy kon enigiets te wagte gewees het. Enigiets kon gebeur het en . . . hy kon dalk nooit weer teruggekeer het nie. En dis kompleet soos sy nou voel. Die aarde lê ver onder haar en sy is op pad na nêrens. Sy sluk, dwing haar negatiewe gedagtes in ’n ander rigting, bekyk die twee mans voor haar, want vir die eerste keer kry sy die geleentheid om haar barmhartige neef regtig goed deur te kyk.
Lochner Bothe kan beslis nie as ’n Griekse god beskryf word nie. Ook sal hy nie kan plek inneem in ’n ry van Hollywood-helde nie. Hy is ietwat te grof van struktuur en die effens geboë neus met die vierkantige kakebeen en ruie wenkbroue laat ’n mens dink aan ’n beeldhouwerk wat nog nie klaar afgerond is nie. Maar die oë onder die wenkbroue, die vierkantige skouers en die spelende spiere op die voorarms vertel jou onmiddellik dat jy met ’n ware man te doen het. Vir ’n sekere soort vrou sal Lochner Bothe geweldig aantreklik wees. Hy sal ’n baie goeie vriend uitmaak – ’n man ook gewild onder sy eie geslag. Dat die twee voor haar groot vriende is, is duidelik. Don Cawood is minder fris gebou; die meer verfynde Engelsman – ligte hare, blou oë. Dié soort man by wie ’n mens dadelik tuis en op jou gemak voel, anders as met die Duitser langs hom. Lochner se grysblou oë is net ’n bietjie te skerp en ondersoekend om jou heeltemal op jou gemak te laat voel, en daardie vae skynsel van rooi in sy hare waarsku jou ook dat hy nie ’n man is wat hom dooddra aan geduld nie. Ansie het die gevoel dit sou vir haar voordeliger gewees het as Don Cawood liewer haar neef was, want sy kan net nie van die gevoel ontslae raak dat sy en hierdie sogenaamde neef van haar nie na alles deur dieselfde bril kyk nie. Uit die staanspoor het sy instinktief geweet dat sy haar man teen hom sal moet staan as sy nie wil toelaat dat hy haar totaal oorweldig en haar lewe heeltemal oorheers nie. En dis presies wat hy tot dusver gedoen het, besef sy misnoeg. Sy is gesê sy kom saam Friedesheim toe, en alle reëlings is deur hom getref op ’n wyse wat laat deurskemer het dat hy gewoond is om besluite te neem en geen teenkanting sal duld nie. Hy sê en jy doen. Haar hart sit in haar keel toe die bosryke aarde onder hulle begin nader kom en die helikopter sy landingsplek tussen die Bosveldbome kry.
“Ons is hier.” Lochner glimlag na agter en Ansie kyk om haar rond.
As sy net kan seker wees dit is die plek waar sy moet wees, dink sy ongelukkig.
Don Cawood help haar uit en sê vriendelik: “Welkom op Hunters Lodge.”
Ansie kyk verras om haar rond. Sy het nie so iets in die hart van hierdie uitgestrekte boswêreld verwag nie. In die paar uur wat verby is, het die onrus in haar weer begin aangroei terwyl sy na die wilde wêreld ver onder haar afgekyk het. Dis of hulle die beskawing totaal en al verlaat het. ’n Paar keer het Lochner aan haar troppe olifante, bokke, kameelperde en sebras uitgewys en hoe verder noord hulle gevorder het, hoe digter het die bosse en bome geword.
Met verligting sien Ansie egter nou dat daar ook ’n beskaafde peil in hierdie ongetemde wêreld gehandhaaf word. Ses moderne chalets van klinkersteen smelt pragtig saam met die omgewing. Die hoofgebou is van dieselfde steen en natuurlik is die sentrale punt die groot, koel lapa met sy rietdak. Want in hierdie wêreld met sy versengende hitte leef sy bewoners graag buite. Sy merk ook op dat elke chalet met lugreëling toegerus is.
“Ons gaan darem seker eers iets koels geniet voordat ek julle huis toe neem,” laat Don hoor en hulle stap aan na die hoofgebou. Ansie se nuuskierige oë sien alles raak en sy hou van wat sy sien. Die sitkamer met sy ingeboude kroeg is smaakvol en baie netjies. Don het ’n woonstel aan die hoofgebou.
“Jy het heelwat chalets. Kry jy baie besoekers hier?” wil Ansie belangstellend weet terwyl sy aan haar yskoue maroeladrankie proe.
“Ja. Plaaslik sowel as van oorsee. Veral van oorsee. Trofeejagters.”
“Wat is trofeejagters?”
“Hulle stel net belang daarin om die dier te skiet en met die kop en horings terug te gaan en tuis daarmee te gaan spog,” beantwoord Lochner haar vraag.
Don glimlag goedig, laat teenoor Ansie hoor: “Jou neef het ’n broertjie dood aan hierdie soort jagters. Hy glo jy maak nie ’n dier dood om jou ydelheid te streel nie. Jy skiet net ’n dier om drie redes: om hom uit lyding te verlos; om uit te dun wanneer die spesie se voortbestaan bedreig word en vir kos. Maar Hunters Lodge is ’n sakeonderneming en word as sodanig bedryf. Sonder trofeejagters sal dit nie winsgewend wees nie.”
Ansie kyk vraend na Lochner. “Hoe bedryf jy dan jou wildplaas om dit winsgewend te kry?”
“Ek vang en verkoop lewende diere. Daar word ook gejag, maar alleenlik op dié wat ek verplig is om uit te dun.”
Don verduidelik verder: “Ons is in ’n soort vennootskap. As hy diere het wat moet uitgedun word, laat hy toe dat ek my jagters Friedesheim toe bring. Maar hy kan ons gewoonlik nie gou genoeg van sy grond af wegkry nie!”
Lochner kap fronsend terug: “Jy weet dis nie hoe ek dit bedoel nie, maar ek het ’n hekel aan ledige, ryk mense.”
“Maar daardie ledige, ryk mense bring vir ons baie geld in, vriend.”
Lochner staan op, wys daardeur duidelik dat hy nie nou in ’n diskussie betrek wil word nie. “Ons moet nou huis kry.”
Hul bagasie is reeds in die Land Rover ingelaai en hulle lê die tien kilometer tussen die opstalle vinnig af. Dis ’n heel ander prentjie as die Lodge wat Ansie se oë begroet toe hulle op Friedesheim se werf stilhou. Dit pas meer by haar idee van ’n wildplaas in die hart van die gramadoelas. Tog . . . sy hou van wat sy sien, dalk meer as van Don Cawood se plek.
Lochner se kliphuis smelt saam met die omringende natuur. Dis duidelik ook ’n buiteleweplek. ’n Breë klipstoep, onder die grasdak gestut deur ruwe boomstompe, omring die hele huis en toe hulle binnestap, is dit soos sy verwag het dit sal lyk. Die nodige toegewings aan die beskawing om gerieflik en gemaklik te leef, is gedoen. Maar vir die res is alles duidelik so ru moontlik gehou. Velle van verskillende diere lê gestrooi op die blink klipvloer. Die gemakstoele op die stoep en in die ruim sitkamer is doelbewus onafgewerk gelaat terwyl die stoffering die nodige gerief verskaf. Deur ’n halfoop deur kan Ansie die moderne geriewe in die kombuis sien en tot haar verbasing gewaar sy ook ’n televisiestel en ’n hoëtroustel in die sitkamer.
“Jy het sowaar ’n televisie ook,” kan sy nie help om verbaas te sê nie.
Lochner glimlag tergend. “Ja. Ons vang die sein van Polokwane se toring op. Dis darem nie heeltemal so primitief soos wat jy verwag het nie, nè?”
Sy bloos effens. Hierdie neef van haar se afleidings is na haar sin gans te na aan die kol.
’n Swart vrou, onberispelik netjies, maak haar verskyning in die binnedeur, en toe sy Lochner gewaar, straal haar gesig. Ook Lochner se breë glimlag verraai dat hy bly is om weer tuis te wees.
“En hierdie is Liesbet. Sy is die baas van die huis. Binnekant is haar woord wet. Liesbet, dit is my niggie, Ansie van der Merwe. En my eerste opdrag aangaande haar is dat jy haar sal vet voer sodat sy ’n bietjie vleis om haar gebeentes kan kry.”
Lochner kyk tergend af op die effens gesteurde gesiggie hier digby sy skouer. “Nou kan sy my ’n slag uitlos en toesien dat jy jou kos alles opeet. Het jy ’n kamer vir haar gereed, Liesbet?”
“Natuurlik, meneer. Meneer Don het laat weet ek moet meneer en ’n gas vandag verwag. Kom, juffrou. Ek sal jou jou kamer gaan wys. Sal ek iets te drinke stoep toe bring?”
Lochner skud sy kop. “Dankie, nee, Liesbet. Ons het pas iets by die Lodge gedrink. Ek wil eers ’n bietjie inspeksie doen. Sorg jy maar dat juffrou Van der Merwe alles het wat sy nodig het. Waar is Salmon?”
“Suipplekke gaan nagaan, maar hy behoort nou enige tyd terug te kom.”
Die twee mans stap weer op die breë, koel stoep uit.
“Dankie vir jou moeite, Don. Ons sal regmaak.”
“Vergeet dit.” Hy kyk sy buurman ondersoekend aan. Hy bly steeds verbaas oor die skielike verskyning van ’n niggie in Lochner se lewe. Hulle stap darem nou al ’n paar jaar saam, goed ’n stuk of tien, en nog nooit het Lochner van ’n niggie gepraat nie. En toe skielik is hy inderhaas hier weg en keer nou met ’n niggie terug – ’n vaal, bleek muisie en een wat duidelik baie siek was. “Hoe gaan dit regtig met jou niggie?”
Weer kry Don die gevoel dat Lochner nie gretig is om oor haar te praat nie toe hy net kortaf antwoord: “Sy is gesond, moet net goed uitrus en aansterk. Enigiets snaaks hier rond gebeur terwyl ek weg was?”
“Nee, nie juis nie.” Hy kan sien Lochner brand om inspeksie te begin doen en groet maar. “Sien julle later weer.”
In die huis word Ansie in geen twyfel gelaat wie die baas van die plaas is nie. Dis meneer voor en meneer agter en hoewel die heldeverering Ansie effens irriteer, besef sy ook hoe gelukkig sy was om net ’n huishoudster hier aan te tref. Liesbet gaan uit haar pad om meneer se niggie tuis te laat voel, maar dit sou dalk ’n heel ander prentjie gewees het as dit Lochner se vrou was wat skielik met ’n onbekende niggie opgesaal gesit het. Maar daar sal natuurlik êrens ’n vrou op die toneel wees. ’n Man soos Lochner Bothe sal wel ’n vriendin of selfs vriendinne hê. Sy frons, wonder bekommerd hoe haar skielike verskyning sy private lewe gaan beïnvloed. Sy kan die gevoel dat sy ’n indringer is nie afgeskud kry nie. Feit is tog dat dit nie sý was wat haar aan hom opgedring het nie. Dis hý wat haar summier in sy lewe ingesleep het. Die heel beste ding sal wees om maar toe te laat dat Liesbet haar vet voer sodat sy haar eie paadjie kan loop. Sy kan nie vir ’n onbepaalde tyd aalmoese van hierdie neef bly ontvang nie. Sy weet nie hoe en op watter vlak sy in die verlede ’n bestaan gevoer het nie. Maar een ding weet sy instinktief en dis dat sy nie vir haar daaglikse behoeftes in ander se oë gekyk het nie. Sy het vir haarself gesorg . . . en hoe gouer dit weer begin gebeur, hoe beter.
Die ergste hitte van die Bosveldse somerdag het begin afneem toe sy later, ná twee koppies tee en vier tuisgemaakte koekies, op die stoep uitstap. Daar is geen teken van haar gasheer nie. Sy het, terwyl sy besig was om haar skamele klerevoorraad uit te pak, die dreuning van ’n voertuig gehoor. Dit was natuurlik Lochner wat nie gou genoeg terug in die natuur en tussen sy wilde diere kon kom nie. Die tyd wat hy om haar ontwil in die stad moes deurbring, was seker vir hom ’n marteling, en weer voel sy verbaas daaroor. Kry ’n mens werklik vandag nog sulke konsensieuse familielede?
Ansie gaan op haar eie inspeksietog. Eers loop sy deur die huis. Vanuit die ruim sitkamer gaan haar kamer met sy private badkamer regs uit en aan die oorkant vind sy nog ’n slaapkamer en badkamer, duidelik die baas s’n. Ook in die vertrek wat sy as sy kantoor eien, word dieselfde ru afwerking in meubels en klipvloere herhaal wat die plek so ’n bekoring van sy eie gee. Opnuut besef sy haar neef is nie ’n man wat hom met tierlantyntjies en fieterjasies moeg maak nie. Nêrens is die afronding van ’n vrouehand te sien nie. Sy huis is soos hy is – jy vat hom soos hy is of jy los hom.
Agter die huis vind sy stalle met vier perde in, en hoewel sy nie seker is of sy enige ware kennis van perde het nie, kan sy sien dat dit kwaliteitdiere is. Hul versorging en die netheid van die stalle is onberispelik. Nog ’n entjie verder is die woonkwartiere van sy werkers, en ook hier val die netheid haar op. Sy merk ’n televisie-antenne op die dak op. Lochner sorg vir sy mense. Hy is blykbaar net so ’n pligsgetroue baas as neef.
Op haar terugpad kom ’n Land Rover en ’n bakkie aangery. Dis seker Lochner en sy regterhand, Salmon, wat terugkeer. Agter op die bakkie merk sy tot haar verbasing ’n kameelperd.
“Is hy dood?” vra sy geskok en kyk ontsteld na die lelike, rou wond in die agterboud.
“Nee. Net verdoof. Ek ry nooit sonder my verdowingspyle nie. Jy kan help as jy wil. Ons moet haar wond regsien voordat sy bykom.”
Ansie gril vir die bloederige wond, maar sy kry gewillig ’n poot beet en help trek tot die kameelperd op die trollie is. Dis ’n tuisgemaakte kontrepsie van planke met vier wiele onder. Salmon en Lochner gryp die trekstang vas en Ansie volg in die rigting van die stalle. Twee deure word oopgestoot en sy sien ’n groot vertrek met ’n sementvloer, ingerig soos die spreekkamer van ’n veearts. Dis dus hier waar Lochner sy siek en beseerde diere dokter. Sy staan eenkant en toekyk hoe Lochner en ’n baie vaardige Salmon die wond begin behandel.
“Hoe op aarde het julle haar op die bakkie gekry?” vra sy, nog half uitasem van die ongewone oefening.
“Dit het maar gelol. Ons ry altyd los planke op die bakkie saam vir sulke gebeurlikhede. Gelukkig is sy nog baie jonk. ’n Volgroeide een sou ons nooit gelig gekry het nie.”
“Wat sou jy dan gedoen het?”
“Haar aan haar lot oorgelaat het.”
Ansie kyk hom geskok aan. “Jy bedoel . . . jy sou haar net so gelos het dat die wilde ding wat agter haar aan was haar maar vang en opvreet?”
Hy kyk vlugtig op. “Hierdie is ’n ander soort wêreld as wat jy ken, Ansie. Hier geld die wet van die natuur: die oorlewing van die sterkstes.”
Sy frons misnoeg. “As dít dan is hoe jy voel, hoekom het jy haar in die eerste plek hierheen gebring en haar nie net daar gelos nie?”
“Omdat sy nog jonk is, nog nooit gekalf het nie. Die wond is gelukkig van so ’n aard dat dit mooi behoort te herstel.” Hy praat verder met Salmon: “Nou moet ons gou speel en haar in die stal kry. Sy begin bykom.”
Die kameelperd word op die trollie na ’n vertrek gestoot wat blykbaar die herstelkamer is, aangrensend tot die perdestalle. Die binnedeur word toegemaak en hulle stap by die staldeur uit. Die onderdeur word op knip gesit, terwyl hulle buite staan en kyk hoe die kameelperd wankelmoedig op haar voete kom en dronkerig die kop swaai.
“Mooi. Sy sal regkom. Jy kan nou maar na die perde gaan omsien, Salmon, dankie.”
“Wat is dit wat haar wou vang? ’n Leeu?”
“Nee. Ek vermoed dit was wildehonde.”
Dit het begin skemer raak en Ansie kyk vlugtig om haar rond. “Leeus en wildehonde is mos gevaarlike goed. Loop hulle los rond?”
Hy glimlag net. “Ek hou nie wildehonde aan nie. Hulle teel te vinnig aan. Hulle moes êrens deurgekom het na my kant toe. Ons sal môre moet spoorsny.”
“Hoe kom hulle deur en waarvandaan kom hulle?”
“Meesal deur rivierlope en ook deur swak plekke in die heining. Maar ek gaan baie gereeld die grensdraad na. As dit wildehonde is, moes hulle deur die rivier gekom het. Die hele gebied is wild en hulle kom van ander wildplase en reservate af deur.”
Hulle begin terugstap huis toe en Ansie vra, steeds onrustig: “Het jy baie roofdiere hier? Kom hulle nie soms tot by die huis nie?”
Hy glimlag gerusstellend: “Ek het al vyf die grotes hier, maar jy hoef nie bekommerd te wees nie. Agter daardie bome loop ’n geëlektrifiseerde heining. Hulle kan nie inkom nie.”
“O.” Dan belangstellend: “Wat bedoel jy met die vyf grotes?”
“Die olifant, die renoster, die luiperd, die leeu en die buffel – nou nie almal roofdiere nie, maar hulle is die sogenaamde vyf grotes waaroor jagters so gaande is. Maar natuurlik is die oorgrote meerderheid die boksoorte. Koedoes, elande, rooibokke en so meer. Dan is hier natuurlik ook hiënas, blou- en swartwildebeeste, sebras en krokodille. Ek was gelukkig om verlede jaar twee seekoeie in die hande te kry. Ek het nou alles waarmee die Krugerwildtuin kan spog.”
Sy kyk vinnig na hom op. “Maar het dit nie ’n fortuin gekos om alles so te kry nie?”
Sy gaan sit half uitasem op ’n stoel op die stoep en besef opnuut hoe swak sy nog is.
“Ja. Dis haas ’n saak van onmoontlikheid om vandag so ’n versameling op te bou. Jy betaal jou omtrent bankrot aan ’n renoster. Ek was gelukkig dat ek die grootste gedeelte van Friedesheim se wild geërf het. My pa het baie jare gelede daaraan begin opbou toe die mensdom nog net uitgeroei het en niemand bewaringsbewus was nie. Hy was gelukkig versiende genoeg om te besef dat hierdie diere op ’n dag skaars sal word. Lank voordat wette gemaak is om wildsoorte teen uitroeiing te beskerm, het hy dit al toegepas. Ek pluk vandag die vrugte daarvan.”
Ansie sit terug in haar stoel, laat die aandstilte oor haar spoel. Op die westerkim staan die bome se silhoeëtte uit teen ’n son wat lyk asof dit in ’n bloedbad ondergaan. Dof in die verte klink geluide op wat nog nie deur haar ongeoefende oor geëien kan word nie. Maar dit maak alles deel uit van ’n groot, magtige geheel . . . skemeraand oor ’n stuk wilde wêreld – ’n klein, baie klein oorskietstukkie van die oorspronklike bloudruk van die skepping.
“Is dit hoekom jy nie graag wil laat jag hier nie?”
Hy gaan sit, sy oë op die rooi son op die kim. “Ja. Want die mens maak dood omdat doodmaak vir hom lekker is. Dis vir hom lekker om ’n dier te sien val. Dit streel sy ego. Dit laat hom baas voel oor die natuur, oor God se natuur waaraan hy nie gehelp skep het nie. Trouens, van die begin van sy menswees het die mens nog net verniel en verwoes en uitgeroei. Kyk hoe lyk ons aarde vandag. Die mooiste wat God die mens gegee het, het ons stelselmatig en gewetenloos verwoes tot ons nou in die laaste stadium van oorlewing beland het. Ons moet nou al diere in hokke in dieretuine aanhou, hulle selfs kunsmatig laat aanteel, sodat ons kan sê daar was eens op ’n tyd so ’n spesie op die aarde. Dis ’n skreiende sonde wat ten hemele roep en die mens gaan nog daarvoor betaal.”
Ansie kyk na hom, na die sterk kontoere van sy gesig teen die skemer afgeteken. Die bitter woorde kom uit sy hart, en sy besef dat hierdie man baie na aan die skepping leef.
“Dan hou jy ook nie van dieretuine nie?”
“Nee, maar ek is dankbaar vir hulle. Ek gaan nooit na ’n dieretuin toe nie, want ek haat dit om ’n dier in ’n hok te sien. Dis nie hoe die Skepper dit bedoel het nie. Maar vir baie soorte is dit die enigste plek van oorlewing. Die enigste plek waar hy teen sy grootste vyand, die mens, beskerm word. Ek verkoop soms aan dieretuine dwarsoor die wêreld. Ek doen dit met die grootste teësin. Maar die alternatief is om dood te maak. Friedesheim kan net sóveel diere onderhou, en sodra daardie perk oorskry word, moet ek uitdun of verkoop. Ek probeer eers verkoop; daarna laat ek Don en sy jagters toe om te kom uitdun.”
“Jy skiet nooit self nie?”
“Ja, ek skiet ook, maar volgens die voorbeeld wat die natuur stel.”
“Wat beteken dit?”
“Ek jag soos die leeu. ’n Leeu jag net omdat hy wil kos hê. Wanneer hy versadig is, sal die bokkies om hom wei en hy sal net na hulle lê en kyk. Hy sal nie een vang nie. Maar wanneer hy honger is, vang hy. Ek sal ’n koedoe skiet wanneer ek vleis vir die huis en my mense nodig het. Ek skiet nie sommer net vir die genot van doodmaak nie. Ek skiet baie selektief.”
Dit word ’n genotvolle en insiggewende aand vir Ansie. Sy leer ’n faset van haar neef ken wat sy weet sy nie voorheen mee kennis gemaak het nie. Sy vra hom ook.
“Was ek al voorheen op Friedesheim? Dit voel nie vir my so nie.”
“Nee. Dis die eerste keer dat jy hier kom. Jy was . . . is baie geheg aan die stad en die stadslewe.”
Sy kyk hom fronsend aan, swyg egter. Wie is sy om vir hom te sê hy is verkeerd, sy sal honderd maal liewer só ’n lewe verkies as om in ’n stad te bly. Want dit is soos wat sy eerlik op hierdie oomblik voel, baie dankbaar dat Lochner haar hierheen gebring het. Daar is nie ’n greintjie van verlange in haar na die stad nie.
Sy laat reg geskied aan Liesbet se boerekos en toe Lochner net ná ete voorstel dat sy dadelik bed toe gaan en gaan rus, praat sy nie teë nie. Dit was ’n vol dag, vol van vreemde ervaringe en gewaarwordinge. Ook veranderde gevoelens, erken sy toe sy in die bed lê en na die naggeluide luister. Eers het sy haar vererg vir hierdie neef van haar wat sommer haar lewe begin reël en regeer het. Maar vanaand, in hierdie oomblik, is sy dankbaar dat hy dit gedoen het. Eers het sy hom opgesom as ’n dominerende persoon wat sy wil aan ander opdwing. Vandag het sy ’n ander kant van hom leer ken. ’n Man wat teer en versigtig met ’n verwonde dier kan werk, pynlik presies sy taak kan verrig. ’n Man met ’n ruim hart vir God se natuur en met die diepste respek vir die skepping en die Skepper daarvan. ’n Man wat nie huiwer om sy opinie te lug nie en wat nie ’n sentimeter sal afwyk van sy oortuigings nie. ’n Man wat haar baie veilig en beskermd laat voel . . . en haar oë val toe.
Sy is teleurgesteld toe sy die volgende oggend wakker word en van Liesbet verneem dat Lochner en Salmon al ligdag weg is veld toe. Sy stap later af stalle toe, sien tot haar vreugde dat die pasiënt staan en smul aan die voer wat vir haar gegooi is en dat haar oë helder en belangstellend is toe sy haar besoekster gewaar.
“Hallo, Lang Leentjie,” groet-doop sy hardop. “Ek is bly om te sien jy voel beter vandag.”
“Wat makeer Lang Leentjie dan?” vra ’n stem skielik agter haar en sy swaai om en kyk in Don se laggende gesig vas.
“O, ek het jou nie hoor kom nie. Goeiemôre!” groet sy vrolik en Don se wenkbroue lig. Sy lyk vanoggend darem beter as gister.
“Môre. Wat makeer ons langbeendame?”
“Lochner dink wildehonde het haar beetgekry. Hulle het haar gistermiddag ingebring. Sien jy? Haar boud het ’n lelike wond.”
“Ek sien. Ek is op pad dorp toe. Is daar iets wat ek vir julle kan saambring?”
“Ek weet nie, en Lochner is veld toe. Kom ons gaan hoor by Liesbet.” Hulle begin aanstap en Don Cawood begin subtiel uitvra, want hierdie niggie van sy vriend interesseer hom.
“Jy lyk vanoggend baie beter as gister,” laat hy hoor. “Lochner moes jou al vroeër huis toe gebring het, in plaas daarvan om ’n maand daar by jou te gaan sit het. Hoe lank was jy siek?”
Sy frons liggies. “Baie lank. Maande lank. Was Lochner ’n hele maand daar by my?”
“Ja. Weet jy dan nie daarvan nie?”
Sy aarsel, antwoord versigtig: “Dis maar eintlik die laaste paar dae dat ek myself geraak het. Dit was baie gaaf van hom om . . . om na my om te sien. Dit moes vir hom soos vier eeue gevoel het. Hy is nie ’n stadsmens nie.”
“Nee, beslis nie. Ek was self verbaas dat hy so lank daar gebly het. Hy moet baie vir sy niggietjie omgee om ’n maand in die stad te kan oorleef het.”
Ansie voel ongemaklik. Don voer iets in die mou en sy weet nie wat nie. “Lochner het ’n baie sterk pligsbesef.”
“Ja, dit is so. Ek kan net nie verstaan hoekom hy al die jare so oor jou geswyg het nie. Die een of ander tyd moes dit tog in ’n gesprek uitgekom het dat hy nog ’n niggie êrens het. Ook toe hy uit die stad gebel het om te hoor hoe dit hier gaan, het hy net genoem hy is vir siekte van ’n familielid daar. Gister op die lughawe het ek maar ontdek dis ’n niggie wat hy al die tyd so opgepas het. Ís jy sy niggie?”
Die vraag is totaal onverhoeds en sy kyk hom verslae aan. “Natuurlik, hoe . . .?” Sy klap haar mond toe. Is sy? Hoe weet sy? Maar hoekom sal Lochner so iets wil voorgee? Dis tog onsinnig. Die wonderlike vrede en gerustheid wat sedert gistermiddag in haar posgevat het, lê skielik aan skerwe.
Don sien haar ontsteltenis en doen sy bes om sy taktloosheid toe te smeer: “Ek terg sommer. Natuurlik is jy sy niggie. Dis maar net eienaardig dat hy nooit voorheen van jou gepraat het nie.”
Ansie frons. “Miskien nie so eienaardig nie. Ons het aparte lewens gelei, niks met mekaar te doene gehad nie. Dis maar as gevolg van die ongeluk dat ons paaie gekruis het. Ons het nie een verwag dat ons ooit deur omstandighede saamgegooi sou word nie. Dit het maar net gebeur. Dis ook net tydelik. Sodra ek sterk genoeg is, gaan ek terug.”
“Terug waarheen?”
“Stad toe. Kaap toe.” Verlig roep sy na Liesbet toe hulle die stoep bereik en sy voel nog meer verlig toe Don vertrek. Sy weet nie hoekom sy vrae haar so ontstel nie. Dis tog belaglik. Lochner sal tog nie sê sy is sy niggie as sy nie sy niggie is nie?
Maar toe Lochner en Salmon daardie namiddag moeg en gesweet uit die veld terugkeer, spook hierdie vraag nog steeds in haar en het dit genoeg tyd gehad om haar deur die lang, ledige, warm dag buite verhouding te treiter.
Hy kom nie dadelik iets agter nie. “Ons het die spore van die wildehonde gekry. Ek sal Don moet waarsku. Hulle is deur die rivier na sy kant toe. Dis ’n groot trop. Hulle het een van my rooibokke gevang.”
Dis eers nadat hy met Don oor die telefoon gepraat het en moeg op ’n stoel neersak, ’n koue bier in die hand, dat hy haar geslote gesig opmerk.
“Hoe gaan dit vandag? Is iets verkeerd?”
“Nee. Ek voel goed, beter as gister.”
“Dis goed. Wat het jy heeldag gedoen?”
“Gelees, gesit, gelê. Lang Leentjie besoek . . .”
“Lang Leentjie?”
“Die kameelperd. Dit lyk of sy gesond gaan word.”
“Ja.”
Stilte. Hy hou haar onderlangs dop, sê dan kortaf: “Iets is nogtans verkeerd. Is dit omdat jy verveeld was? Daar is baie interessante leesstof in my kantoor as jy wil . . .”
“Ek was in jou kantoor, maar ek kon nie vind waarna ek soek nie.”
“Wat soek jy? Ek het nie vrouetydskrifte . . .”
“Maar jy het darem seker ’n fotoalbum?”
“ ’n Fotoalbum?”
“Ja. Ek het gesoek na ’n fotoalbum. Almal het tog foto’s van hul familie. Waar hou jy joune?”
Hy frons ontevrede. “Ek hou nie sulke goed aan nie. Ek is nie die sentimentele soort nie.”
Sy is openlik vererg. “Dis nie sentimenteel om familie-foto’s te hou nie. Dis onnatuurlik om dit nié te hê nie.”
Sy frons verdiep. “Wel, dan is ek seker onnatuurlik. Ek het nie prentjies nodig om die mense wat vir my iets beteken, te onthou nie. Ek onthou hulle in die hart.”
Sy is nou vies. Hy laat haar soos ’n gek voel, ’n sentimentele gek. “Jy het dus ook geen foto van my nie?”
“Nee. Hoekom sal ek hê? Ek het ’n foto van my ma en pa as jy dit wil sien.”
Sy sug, swaai haar hand gefrustreerd. “Aag, los maar . . .”
“Waaroor gaan dit alles, Anna?”
Hy noem haar Anna! Versigtig nou, Ansie, waarsku sy haarself. Hierdie neef is nou ook vies. Maar sy lig haar ken.
“Ek het maar net skielik daaraan gedink ek het geen bewys dat jy my neef is nie. Hoe is ons familie? Van watter kant af?”
Hy sit sy bierblik hard neer en sy grysblou oë neem weer dieselfde vreemde uitdrukking aan as toe hy gister gepraat het van die mense wat die natuur so verniel. Dis yskoud en kliphard.
“Jy dink dus ek het jou onder valse voorwendsels hierheen gebring. Om wat te maak, kan jy my sê?”
Sy voel sy sak al dieper in die modder weg. Sy het die saak totaal verkeerd benader. Maar die kwaad is klaar gedoen . . .
“Lochner, ek bedoel niks . . . Dis tog seker vanselfsprekend dat ek graag meer van myself sal wil weet. Ek . . .”
“Ek sal al jou vrae beantwoord as jy net eers hierdie een vraag van mý sal beantwoord: As ek en jy nie niggie en neef is nie, soos die duiwel jou nou blykbaar wysgemaak het, waar op aarde sou ek aan jou gekom het? Jy wat in Johannesburg in ’n kliniek bewusteloos lê en ek wat hier op ’n wildplaas in die Bosveld sit? Hoekom sou ek my met jou bemoei het, ’n maand lank in daardie afgryslike stad gaan sit en jou toe saam met my teruggebring het? Vir watter doel dink jy?”
Sy laat haar kop sak. Natuurlik het hy reg! “Ek is jammer. Ek . . . was verspot.”
Maar hy vergewe nie so maklik nie. “Meer as verspot. Ek hou jou nie terug nie, Anna. As jy voel jy wil liewer weg . . .”
“Nee! Nee, ek . . . bedoel dit nie so nie . . .” Hy mag haar nie nou wegjaag nie! “Asseblief, Lochner, ek is jammer. Ek weet nie waar my verstand was nie!”
Hy ontspan effens, maar die styfheid bly in sy stem. “Nou goed dan. Ons laat dit daar. Maar ek kan jou die versekering gee jy kan my ten volle vertrou. Ek sal nie ’n haar op jou hoof skaad nie, Ansie.”
Sy voel of sy kan huil van verligting. Hy het haar darem weer Ansie genoem! “Ek weet dit, Lochner. Ek sou nie saam met jou gekom het en ek sou nie hier gebly het as ek jou nie vertrou het nie.”
Die stilte wat hierop volg, word onuithoudbaar. Die saak is blykbaar afgehandel. Hy het niks verder te sê nie. Hy hou hom besig met sy bier en sy pyp, die oë doer êrens op niks gerig en sy voel by die sekonde slegter, voel sy moet nog iets sê, begin dan sukkelend: “Dis net . . . ek is so bang ek ontwrig jou lewe.” Die oë draai terug na haar en sy ploeter voort: “Jy het miskien . . . seker ander verpligtinge ook . . .”
“Soos wat?”
“Soos . . .” Ag, liewe land, hoekom het sy nie liewer haar mond toegehou nie? “Soos ’n . . . vriendin of . . . verloofde miskien?”
Die ironiese lig in sy oë laat haar lippe toeklap. “Of dalk ’n vrou êrens en ’n halfdosyn kinders?”
Dis skone senuwees wat haar vererg laat sê: “Jy is nie snaaks nie!”
“Nee. Dis jý wat snaaks is. Wat wil jy regtig weet? Vra my direk en jy kry ’n reguit antwoord. Moenie draaie loop nie.”
“Ek wil niks . . .” Dan swyg sy weer vinnig. Sy jok nou en hy weet dit. Sy wil weet of hy ’n nooi of ’n wat ook al het. Hoekom weet sy nie, maar sy wil weet. Haar ken wip op. “Goed dan. Het jy ’n verloofde?”
Sy oë lag haar nou openlik uit. “Jy begin in die middel. Begin by die begin. Nee, ek het nie ’n vrou nie en het nog nooit een gehad nie. Nee, ek het nie ’n verloofde nie en was nog nooit verloof nie. Nee, ek het nie ’n vaste nooi nie.”
“Hoekom nie?” Sy weet sy raak nou parmantig en sy vinnige frons vertel haar dit ook. Maar terwyl hulle nou op die onderwerp is, gaan sy uitdagend voort: “Omdat jy te vol fiemies is?” Nee-a, hy kan darem nie altyd die beste daarvan afkom nie.
“Nee, Anna Maria Magdalena van der Merwe, bloot omdat ek nog nie ’n meisie raakgeloop het wat by my pas nie. Of ek moet liewer sê in my wêreld inpas nie. Friedesheim is my wêreld en my soort lewe. Maar die meisies wat tot dusver my pad gekruis het, is almal verslaaf aan die stad en sy skitterglans en sy klatergoud en sy valsheid en sy ydele gejaag na plesier en na niks. Verslaaf aan vertoon en verbygaande roem.”
Die bitterheid van sy woorde toon duidelik dat ’n teer saak aangeraak is. Was hy, of is hy, verlief op só ’n meisie, ’n meisie wat hy weet nooit deel van sý soort lewe kan word nie?
Sy staan sonder ’n verdere woord op en stap kombuis toe om te kyk hoe ver Liesbet met die ete is. In haar hart dink sy: ’n Meisie wat die stadslewe verkies bo die lewe wat jy haar hier kan bied, my liewe neef, moet baie onnosel wees. Sy is nie die moeite werd om oor te treur nie.
Sy sou verbaas gewees het om te weet waaroor Lochner op daardie oomblik sit en wonder. Dis ek wat oor jóú moet wonder, Ansie. Was daar ’n man of mans in jóú verlede?