Читать книгу Ena Murray Omnibus 37 - Ena Murray - Страница 10

Оглавление

7

Die trollie skiet meteens met ’n spoed vorentoe, tref Jan Swane­poel vol op die maag sodat hy sy balans verloor en klouend bo-op die klomp lekkers en tandepasta beland en daar trek hy die gladde kliniekgang af teen ’n verbysterende spoed. Selfs op hierdie ontstellende oomblik flits dit deur Elke se brein: Hy lyk nou nes ’n brulpadda op ’n vuurpyl op pad maan toe . . .

Dokter Horst is te verstom om te roer, en dis Elke wat eerste tot verhaal kom en die trollie agternasit. Maar iemand anders is voor haar daar. Dokter Julene het pas om die hoek gekom en al wat sy sien, is ’n paar swaaiende, vlieënde bene en sy moet hulle instinktief vasgryp om nie ook meegesleur te word nie. Dit veroorsaak dat die trolliewiele omswaai en Jan Swanepoel ’n halfsirkel maak en eindelik tot stilstand kom. Die jong dokter bly doodstil lê op die sjokolade en tandepasta, nog nie seker wat hom getref het nie, toe ’n paar groot blou oë in sy gesigsveld verskyn en ’n stem sissend sê: “Hou jou mond! Hou jou mond toe, Jan Swanepoel! Jy ken my nie, van g’n kant af nie, hoor?” Dan hardop, gemaak bekommerd: “O, dokter, ek is so jammer! Het u seergekry? Kom ek help u af.”

Dokter Julene stap ook vinnig nader, sit ook hand by om die nogal fris – die trolliejoggie sal dit sommer vet noem – jong dokter weer op sy bene te kry. ’n Oomblik lank ontmoet die twee vroue se oë en Elke se hart sak in haar skoene. Dis haar laaste dag in hierdie kliniek . . .

Dan word die spanning skielik verbreek toe ’n man se hartlike lag opklink en ná ’n kort oomblik val die ander toeskouers ook in. Elke staan versteen en dan kom nog ’n skok. Dokter Julene se lag meng met dié van die ander. Sy kan haar ore nie glo nie! Sy blik na die rooi-soos-beet Jan en sy hoor ’n sisgeluid by die hoek van sy mond: “Jou derduiwel! Ek sal jou terugkry!”

Sy kry darem ’n paar woorde in voordat dokter Horst hulle bereik en sê gedemp tussen skaars bewegende lippe deur: “Doen net wat jy wil, maar moet my nie verraai nie, asseblief! Ek sal later verduidelik.”

“Ai, kollega, dit was nou ’n goeie vuurdoop! Jy behoort na dese sommer tuis te voel!”

Jan Swanepoel grinnik verleë. “Ja, ek is beïndruk met my ontvangs hier,” laat hy droog hoor.

“Hoe het dit dan gebeur dat jy op die trollie beland het?” wil dokter Julene weet en staan sowaar nog altyd met ’n breë glimlag.

Jan kyk beskuldigend na Elke en so draai elke ander oog ook na haar. Sy sluk. “Ek . . . ek moes op ’n nat kol gegly het en . . . toe stamp ek die trollie en . . . enne . . .”

“En daar gaan ons nuwe narkotiseur!” lag dokter Julene en sê amper vriendelik: “Wys my jou skoensole.”

Elke moet maar haar een voet oplig en sy kry die bevel: “Jy moet vir jou rubbersoolskoene kry. Daardie sole is gans te glad.”

“Ja, dokter.” Elke gryp die trollie en begin vinnig padgee. Die waarskuwing kom in ’n steeds vriendelike stem: “Stadiger nou, kind! Dit kon ’n pasiënt gewees het wat jy so getref het!”

“Ja, dokter.” Toe sy om die hoek is, kom sy eers weer tot stilstand. Hierdie nuwe, vriendelike dokter Julene kan sy glad nie plaas nie. Wat sou oor haar lewer geloop het? ’n Toneeltjie van twee mense wat hande vashou en in mekaar se oë glimlag, skiet voor haar geestesoog verby. Natuurlik! Dis al wat hierdie metamorfose kon teweeggebring het. Die romanse het die een of ander tyd die afgelope naweek momentum gekry. Daarom is dit net ene glimlaggies vanoggend. Ook dokter Horst weet skielik hoe om hardop te lag! Hmf! Sy behoort egter dankbaar te wees vir dié twee se besonder goeie luim. Sy het eintlik baie lig daarvan afgekom. Net . . . sy voel nie dankbaar nie. Vir wat moes hulle vir Jan Swanepoel van alle dokters hier in die Meissner-kliniek aangestel het? Ja, sy weet hy was een van die puik studente in hul groep en sy weet hy het destyds as narkotiseur gaan spesialiseer, maar . . . Deksels! Sy is in die sop!

Die hele dag bly sy onrustig en vroeër as gewoonlik voltooi sy haar rondtes en keer terug restaurant toe, vra of sy nie maar ’n bietjie vroeër kan gaan nie, ’n versoek wat Peet geredelik toestaan.

“Jy kan mos ook maar gaan, Marlene,” spreek hy die moeder aan. “Jy is mos nie onder verpligte ure hier nie en jy het my boeke al taamlik agtermekaar – waarvoor ek jou innig dankbaar is.”

Marlene knik. Ja. Iets is met Elke gaande. Wat sou vandag gebeur het? Hulle is ook skaars in die motor of Elke laat mismoedig hoor: “Ek wens ons boeke was al so agtermekaar soos oom Peet s’n. Ons vorder geen tree nie, maar intussen beland ek net al dieper in die sop.”

“Wat het gebeur?”

“Die ergste wat omtrent kon gebeur het. Iemand wat my omtrent so goed soos Ma ken, het op die toneel verskyn. Jan Swanepoel is nou narkotiseur in die Meissner-kliniek.” Sy sien haar ma se verskrikte oë en knik. “Ja. Dié Jan Swanepoel wat saam met my in die klas was.”

Marlene frons bekommerd. “Ek het verwag so iets gaan die een of ander tyd gebeur. Het hy . . . jou toe verraai?”

“Hy het amper, maar voordat hy sy gapende lippe weer op mekaar kon kry om iets te sê, ry ek hom met die trollie om.”

“Elke!”

“Ek kon niks anders doen nie, Ma! Ek moes tot elke prys verhoed dat hy ’n woord verder sê!” Sy giggel skielik soos ’n tiener. “Ek wens Ma kon dit sien! Selfs dokter Julene het gelag, en dit sê baie!” Sy vertel haar ma in detail en Marlene moet ook lag, maar sy bly bekommerd.

“Jy sal aan hom moet verduidelik wat aan die gang is, my kind. Miskien het dit nog ten goede gebeur, Elke. Hy is nader aan die binnekring as ons. Hy kan miskien iets van belang te wete kom.”

Elke sug. “Ek sou nie by Jan onder ’n verpligting wou wees nie. En hy gaan die situasie uitbuit, dit moet Ma weet. Hy wou destyds al laf wees, maar ek het dit elke keer in die kiem gesmoor. Maar as hy my nou kan afpers, sal hy nie wag nie.”

“Maar Jan is ’n gawe seun, Elke! Die kere wat hy by ons aan huis was, het ek hom ’n baie oulike mens gevind . . . én hy was smoorverlief op jou.”

“Hy’s vet.”

“Ag, kom nou, Elke, wat . . .?”

“Ek hou nie van vet mans nie, Ma!”

Haar ma frons. “Van watter soort hou jy eintlik? Dokter Horst se . . .?”

“Vergeet van dokter Horst!” antwoord Elke kwaai. “Hy en dokter Julene sweef op die wolke. Dis handjies vashou en diep in mekaar se oë kyk . . .”

“Jy speel!”

“Ek speel nie! Met my eie twee oë vanoggend gesien. Heeltemal skaamteloos. Maar dan lees hulle elke dag vir my die leviete voor oor reëls en etiket.” Sy sug, beduie met die hand. “Maar ons los nou maar vir Horst en sy Julenetjie uit. Ek is bekommerd oor Jan. Ek het hom gewaarsku om sy mond te hou, maar hy was almelee so nuuskierig soos ’n ouvrou. Teen hierdie tyd moet hy al uitgebrand wees daarvan. Hy het seker al begin vrae vra oor die kliniek se trolliejoggie. Horst Buchner is nou wel ’n sot, maar nie onnosel nie. Hy gaan iets agterkom.”

Marlene knip haar oë. Sy kan nie altyd die strekking van haar slim dogter se redenasies volg nie. “Hoe bedoel jy nou? Hoe kan ’n mens ’n sot wees, maar darem terselfdertyd ook nie onnosel nie?”

“Ag, Ma! Hy is ’n sot om hom van Julene te laat vang, maar hy sal onmiddellik iets ongerymds agterkom as die nuwe narkotiseur skielik uitermate belangstel in die kliniek se trolliejoggie. Maar dis natuurlik presies wat onse Jan nou aan die doen is . . . besig om uit te vis.”

Sy is ook nie verkeerd nie. Dis presies wat gebeur toe dokter Horst die nuwe kollega vir ’n koppie koffie in die restaurant nooi nadat hy hom deur die hele kliniek geneem en op die hoogte van alles gebring het.

Jan soek versigtig na woorde. Hy verstaan geen kop of stert van daardie sissende bevel wat hy gekry het nie.

“Dié Elke – die trolliejoggie – wat het u gesê is haar van?”

Terwyl hy aan die petalje dink, glimlag Horst skrams. “Elke du Plessis. Haar ma doen blykbaar Peet se boeke. Peet bestuur ons restaurant.”

“O. Van wanneer af is dié . . . Elke hier werksaam? Ek bedoel, dit lyk of sy nog moet leer hoe om die trollie te hanteer sonder gevaarlike gevolge.”

Dokter Horst glimlag nou openlik. Hy kan die man nie verkwalik dat die insident aan hom krap nie. Dit was allermins ’n waardige intrede. “Dis maar heel onlangs dat sy die trollie begin stoot het, ja. Maar ek verseker u, dokter, dit was regtig ’n blote ongeluk. Elke sal nie doelbewus so iets doen nie. Hoekom sal sy?” Jan swyg maar. Hy weet van beter, luister verder. “Sy is nog baie jonk. En u weet hoe is vandag se kinders. Alte voortvarend en altyd haastig.”

“Wil u my sê sy het u vertel sy is nog op skool?” glip dit uit.

“Nee, sy is glo pas klaar met matriek. Moet nog besluit wat sy vorentoe wil doen. Vandaar die trolliepos. Sy oorweeg dit om verpleegster te word, maar sy wil eers die kat uit die boom kyk voordat sy finaal besluit.”

Dis nie net ’n kat wat uit die boom gekyk moet word nie, ou maat, dink Jan woordeloos. Jy weet maar net nie daar is ook ’n slang, ’n groot slang iewers in die gras.

Jan kan egter niks anders doen as om maar te wag tot hy eerste gekontak word nie. Dit sal darem verregaande wees as die nuwe dokter sommer al die eerste dag die trolliejoggie se telefoonnommer in die hande probeer kry. Dit sal al wat ’n slapende hond is, wakker maak, en soos hy afgelei het, het Elke Meissner hierdie ou groot hond van die Meissner-kliniek steeds vas aan die slaap. Horst Buchner weet beslis nie wat regtig onder sy neus aangaan nie. Maar – en Jan glimlag met sadistiese genot – hy sal darem graag wil by wees die dag wanneer Horst Buchner wakker skrik en agterkom hoe hy vir die gek gehou is! Hy het hom reeds deurgekyk. ’n Vriendelike man, ’n gawe mens; maar ’n man met baie sterk oortuigings, beginsels en standaarde. ’n Man wat vanoggend lekker kon lag toe een van sy kollegas vir ’n gratis rit geneem is, maar beslis nie daarvan sal hou om dit self te ervaar nie. Wat ook al hieragter skuil, Horst Buchner sal dit nie amusant vind nie. Maar wát skuil agter hierdie belaglike maskerade? Elke was weer reg. Jan Swanepoel kan gerus sterf van nuuskierigheid.

By die toonbank, terwyl Horst vir die koffie betaal, verneem hy of Elke al teruggekeer het van haar rondtes en Peet vertel dat sy en haar ma reeds huis toe is. Elke het nie lekker gevoel nie.

Horst knik. “Ja. Sy is ontsteld oor ’n ou tannie wat skielik oorlede is. Dis altyd vir ’n kind swaar om die dood te aanvaar. Ek is bly jy het haar maar afgegee, Peet.”

Jan volg steeds stilswyend. Daardie “kind” sal darem op ’n dag groot verantwoording moet doen, dis seker.

Hy is glad nie verbaas toe hy skaars in sy woonstel in die dokterskwartiere is of die telefoon lui nie.

“Waar loop jy so rond? Ek het al drie keer gebel,” kom dit sommer kwaai van die ander kant af.

“Verskoon my. Wie praat nou?”

“Moenie vir jou stuitig hou nie. Jy weet goed wie praat. Dis Elke, natuurlik.”

“Elke? Elke wie? O, wag, ek herken nou die stem. Dis die kliniek se trolliejoggie wat praat, nie waar nie?”

“Jan, ek voel nie lus vir grappe nie. Ons twee moet gesels. Wanneer kan ons ontmoet?”

“Juffroutjie, verskoon my, asseblief. Ek maak nie afsprake met kinders nie. En ek kan ook regtig nie dink wat ek, ’n gespesialiseerde narkotiseur, te sê kan hê vir ’n tiener wat lekkers en waslappe verkoop nie. Gaan soek jou geselskap by jou eie portuur.”

“Gaan bars, Jan Swanepoel.”

“Wag! Wag! Moenie die telefoon neergooi nie! Elke!” Hy sug behaaglik hard sodat sy dit aan die ander kant kan hoor. “So ja! Ek voel ’n bietjie beter! Van my ’n gek maak voor die hele kliniek en dit op my eerste dag!”

“Ek is jammer, Jan! Ek kon niks anders doen nie! Jy was op die punt om my te verklap!”

“Nee, ek was nie. Ek was besig om my tong in te sluk uit loutere verbasing. Ek kon nie ’n woord uitkry nie. Waarmee op aarde is jy besig, Elke?”

“Dis wat ek wil verduidelik, maar nie oor die telefoon nie. Skryf neer my adres en kom hierheen. Vanaand nog!” beveel die trolliejoggie streng en die nuwe dokter gehoorsaam sonder teëpraat.

’n Rukkie later sien Elke ’n motor voor die huis stilhou en haar hart gaan staan amper.

“Ma, hier is moeilikheid! Horst Buchner het nou net hier onder stilgehou. Dis een van twee dinge. Hy is toevallig vreeslik ontydig hier, want Jan kan ook elke oomblik hier opdaag, en ek kan my voorstel wat sal gebeur as dié twee trompop in mekaar moet vasloop. Of dokter Horst is op pad hierheen met ’n spesifieke doel voor oë. Jan het sy mond verbygepraat en Horst Buchner weet alles.”

Marlene kyk haar dogter verbaas aan. “Wat gaan ons doen?”

Daar word vinnig gedink. “Ma glip by die agterdeur uit en staan Jan voor dat hy nie ook hier inkom solank Horst hier is nie. Ek sal so gou moontlik van hom ontslae probeer raak. Niks van koffiedrinkery vanaand hier nie.”

Marlene voel bekommerd. “Jy gaan nie met die man ongeskik wees nie, Elke! Jy kan jou deesdae regtig soos ’n ongemanierde tiener gedra.”

Elke frons kwaai, begin haar ma in die rigting van die agterdeur druk. “Dis hy wat hóm nie kan gedra nie! Wat kom soek hy hier? Hierdie tyd van die aand hoort ’n man by sy nooi. Ek begin wonder of hy ooit weet hoe om te vry, dié dat hy by ander vrouens gaan koffie soek. Toe nou, Ma! Loop nou! Netnou daag Jan ook hier op en dan is die duiwel regtig los!”

Toe die deur op sy klop oopgaan, kyk hy in ’n nie te vriendelike gesiggie vas. Hy gee voor hy merk niks nie, hou net ’n pakkie na haar uit.

“Ek het dit teruggebring.”

“Wat is dit?”

“Die nagrokkie wat ouma Lalie reeds gebruik het. Hulle het nie geweet wat om daarmee te maak nie, toe sê ek ek sal dit maar vir jou terugbring. Miskien kry iemand dit later weer nodig.”

Sy knik bot, hou haar blik op die pakkie. “Ja. Dankie.” Sy bly vierspoor in die deur staan en sy sien hy loer oor haar kop na binne. “Ma is nie hier nie.”

“O. E . . . kan ek ’n oomblik binnekom, asseblief. Daar is ’n ander sakie wat ek ook wil bespreek.”

Haar hart ruk. Nes sy gedink het! Daardie Jan met sy groot mond! Sy kyk vlugtig na sy fronsende gesig. Na sy gesigsuitdrukking te oordeel, gaan dit nie ’n aangename sakie wees nie. Haar gesig word nog meer geslote en die man se frons verdiep.

“Wat makeer, Elke?”

“Nee, hoekom? Niks makeer nie.”

“Is jy nog steeds ontsteld oor ouma Lalie?”

“Nee. Ek is nie ’n kind nie! Ek kan sulke dinge hanteer.”

Sy stemtoon verloor in ’n groot mate sy vriendelikheid. “O, regtig? Wat is dit dan met jou? Jy sê jy is nie ’n kind nie, maar jy gedra jou soos ’n kind van ses. Vir wie is jy kwaad?”

“Ek is vir niemand kwaad nie,” maar haar hele houding weerspreek dit. Kan die man dan nie sien hy is nie welkom nie?

“Dan is dit ék wat gesondig het,” besluit hy. Hy druk haar aan die skouers agteruit by die deur in en trek die deur agter hom toe. Skielik lê daar ’n glimlag om sy mondhoeke en tot haar konsternasie verstewig die greep van sy hande op haar skouerknoppe. “Ek begryp nou. Ek is jammer, kleintjie. Dis ek wat my maniere vergeet het. Baie dankie. Jy weet nie hoe hoog ek dit waardeer nie.”

Sy kyk hom onnosel aan. Dis sy wat nou niks begryp nie. “Waarvan praat jy nou?” Haar skouerknoppe brand onder sy aanraking.

“Van die sukses van die partytjie en die voortreflike manier waarop jy dit gereël het. Verskoon my dat ek jou nog nie bedank het nie, maar ek was baie besig.” Hy glimlag goedig.

Ja, besig met handjies vashou . . . Sy sluk. Sy moet iets sê, maar wat? “Ja, ek wens . . . ek wens jy kon hulle sien. Veral ou Frikman . . .”

“Ek wou met my hele hart kom, Elke, maar ek was besig met ’n noodoperasie. Teen die tyd dat ek kon wegkom, was die partytjie lankal verby.” Hy glimlag in haar oë af. “Jy weet mos ek sou graag daar wou wees. Dit was mos óns partytjie.”

“Dan het jy nie aspris weggebly nie?” Dis uit voordat sy dit kon keer.

Hy lag, skud sy kop en skielik is dit asof hy haar wil nader trek. “Natuurlik nie. Hoe kon jy so iets dink? En jy weet nie hoe dankbaar ek is nie.” Skielik is sy vas teen sy bors, sy arms is om haar rug en sy stem klink vreemd. “Jy is ’n liewe kind. Ek wens . . .” Maar hy swyg skielik.

Sy lig haar gesig na hom op, haar wang teen sy skouer. “Wat wens jy?”

Hy kyk op die sproetneus af, gee ’n kortaf laggie en druk haar sagkens van hom af weg.

“Jy is gelukkig nog jonk genoeg om jou wense te laat waar word, meisietjie. Wanneer jy my ouderdom bereik, sal jy weet dat die meeste van jou wense net wense sal bly. Nag, Elke.”

Hy draai om en teenstrydig met haar wens van vroeër wil sy nou nie hê hy moet gaan nie.

“Nee, wag eers! Jy het gesê daar is nog iets waaroor jy met my wou praat,” probeer sy hom roekeloos keer. Enigiets, solank hy net nie onmiddellik loop nie!

“O ja. Ons praat maar later.” Sy hand reik na die deurknop.

“Wil jy nie eers ’n bietjie koffie hê nie? Ek kan net sulke lekker koffie soos my ma maak!” probeer sy desperaat.

Hy glimlag, sy oë steeds gevul met daardie vreemde uitdrukking wat sy nie kan peil nie. “Ek glo jou, kindjie, maar nee dankie, nie nou nie. Tot siens.”

Sy staar na die toe deur en luister hoe sy voetstappe wegsterf . . . en sy kan aan haarself geen aanneemlike, rasionele rede verskaf hoekom sy wil huil en terselfdertyd lus voel om hom met ’n skoen agterna te gooi nie.

Horst Buchner kom by Marlene en Jan verbygestap en dis nie regtig nodig vir hulle om agter ’n struik in te koes nie. Hy kyk nie links of regs nie, stap net met lang hale na sy motor en klim in asof hy baie haastig is. Maar dan sien die twee loerders hoe hy doodstil bly sit, hoe sy vuis gebal op die stuurwiel neerkom. Hulle kan natuurlik nie hoor wat uit sy mond ontsnap nie.

“Is jy besig om heeltemal van jou verstand af te raak, Horst Buchner?”

En toe, sonder om ’n antwoord op daardie vraag te kry, trek hy met ’n onverskrokke vaart weg.

“Wat gaan aan?” wil Jan gesteurd weet.

Marlene sug, skud haar kop. “Daardie twee is gedurig in mekaar se hare. Elke was natuurlik ongeskik en hy het hom, tereg ook, vererg. Kom ons gaan hoor maar wat dit nou weer hierdie keer was.”

Hulle tref ’n sedige meisie aan.

“Wat het gebeur, Elke?” wil haar ma weet. “Horst het hier weggetrek asof die duiwel op sy hakke is.”

“Hier het niks gebeur nie. Hy is seker maar net haastig op pad na sy nooi toe, dis al.”

“Het hy ’n nooi?” wil Jan geïnteresseerd weet.

“Ja, natuurlik. Het die hele kliniek jou nog nie vertel nie? Ons twee hoofde daar is ook twee verliefdes.”

Marlene frons weer liggies. Sy kan haarself nie verstaan nie, maar sy kan net nie opgewonde raak oor hierdie idee nie. “Wat het hy hier kom maak?”

“O, ouma Lalie se een nagrokkie teruggebring.”

“Het hy spesiaal stad toe gery dáárvoor?”

“Genugtig, Ma! Natuurlik nie! Hy het seker ander besigheid ook gehad,” sê Elke geïrriteerd. “Kom ons los nou vir Horst Buchner en kom by die punt ter sake . . .”

Jan Swanepoel se mond hang letterlik oop soos die verhaal ontvou en Elke dink in haar enigheid: Hy is ’n gawe maat, maar, regtig, ek wil nie snags wakker word en só ’n gesig langs my in die maanskyn in die bed sien nie. ’n Ander gesig skuif voor haar in en sy sluit haar gedagtes vinnig af met: “Dis soos sake staan, Jan. Ons probeer meer uitvind, maar ons vorder nie. ’n Mens weet nie waar en hoe jy moet begin soek nie. Ek wil met Mamma saamstem dat sy wel op die een of ander manier ’n Meissner is. Maar wie is sy werklik? Ook moet ons ter wille van my oupa se gesondheid versigtig te werk gaan. Jy kan vir ons probeer uitvind hoe ernstig hy nog is en of ’n groot skok hom miskien sy lewe kan kos. Dit is eintlik die hoofrede hoekom ons nog niks daadwerkliks probeer doen het om hierdie bedrog aan die kaak te stel nie.”

Jan knik. “Ja, ek begryp. Daar sal omsigtig te werk gegaan moet word. Wel, al wat ek voorlopig kan doen, is om my oë en ore oop te hou. Ek kan dalk op iets afkom wat ons in die regte rigting stuur. Ek sal darem daagliks met haar in kontak wees, en op intiemer vlak as die trolliejoggie.” Hy skud sy kop en glimlag. “Wat op aarde het jou op so ’n idee laat kom?”

“Ag, dit het net gebeur.”

Die gesprek gaan later terug na hul studentedae en Elke is dankbaar dat Jan juis vanaand by hulle kuier. Sy kwinkslae dwing haar om te lag en sy gevatheid bring mee dat sy, om haar man teen hom te kan staan, nie aan ander dinge durf dink nie.

Teen die end van die aand kry hy dit selfs reg om haar te oorreed om eerskomende Saterdagaand saam met hom uit te gaan, hoewel hy darem ’n voorwaarde stel: “Asseblief net een ding, Elke. Ek neem jou nie uit met daardie twee bok­sterte nie!”

Die week gaan sonder enige komplikasies verby. Miskien omdat sekere mense moeite doen om uit sekere mense se pad te bly. Elke sou half verbaas gewees het om te weet ’n sekere dokter doen van sy kant af ook moeite om nie in haar vas te loop nie. Maar dis darem net onmoontlik om mekaar pal te vermy. Die Meissner-kliniek is wel redelik groot, maar die trolliejoggie lewer haar dienste dwarsdeur die gebou, en dokter Horst beweeg ook minstens een keer op ’n dag deur al die gange.

Toe hulle skielik van aangesig tot aangesig voor mekaar staan, is albei sonder woorde. Elke wil net die trollie vinnig verder stoot toe sy stem haar keer.

“Hoe gaan dit?”

“Dit gaan altyd goed met die trolliejoggie.”

Sy stem is droërig. “Ja, met party mense gaan dit altyd goed. Terloops, het jy al ons nuwe rookkamer gesien?”

“Ja.”

“En?”

“O, dit lyk . . . goed.”

Hy lyk teleurgesteld. “Ek sou reken jy kan meer opgewonde daaroor klink. Eintlik was dit deur jou toedoen dat dit tot stand gekom het.” Sy oë is speurend. Sy is beslis nie meer die mens wat sy was toe sy die trollie begin rondstoot het nie. Iets is gaande met haar. Sy oë soek maar hy sien darem nie vrypuisies nie. Wat is dit met die kind? Sy lyk behoorlik stuurs. “Is jy al weer kwaad of is jy maar sommer net in een van daardie onverstaanbare, onverklaarbare tienerbuie?”

Sy kyk hom vererg aan. Kyk, die man moenie aanhou sukkel nie. Die sproetneus wip. “Dokter, het u klagtes oor my werk?”

“Nee, natuurlik nie, maar . . .”

“Dankie. Maar met my buie het u niks uit te waai nie. Dis my persoonlike eiendom.”

Hy het hom duidelik ook nou bloedig vererg. Hy is immers ’n baie senior dokter en een van die hoofde van hierdie kliniek. Niemand sal dit waag om hom op so ’n trant aan te spreek en af te jak nie, maar hierdie klein snip . . .

“Ek begin nou moeg raak vir hierdie beduiweldheid van jou,” sê hy ook sommer pront. “Jy moet nou begin uitkom uit hierdie onvolwasse tienerbuie van jou en begin grootword! En maniere begin leer! Jy verdien nie meer die naam Sonstraaltjie nie. Jy lyk deesdae eerder na Donderbui!”

Sy weet dis belaglik dat hulle soos twee kinders staan en stry. Sy weet sy moet haar mond hou en die trollie gryp en so vinnig moontlik padgee. Maar daar is so baie dinge in die lewe wat ’n mens weet jy liewer moet doen en dit dan nie doen nie . . .

“Dokter, ek kan jou regtig nie ook toegooi met glimlaggies nie. Ander mense s’n drup alreeds van jou af soos taai stroop. Jy gaan nog verstik as jy nie oppas nie.” En toe eers gryp sy die trollie en laat spaander.

Horst Buchner lyk op sy strengste toe hy die gang afdraai na die teater toe. Toe hy sy kollega in die oog kry, kan hy nie die glimlag miskyk nie. En dis nie net hy wat die glimlaggende Julene Meissner ’n bietjie dik vir ’n daalder begin vind nie. Die hele kliniek is blykbaar aan die wonder wat aan die gang is. Of dalk het almal al tot dieselfde gevolgtrekking gekom as die snip van ’n trolliejoggie: Al hierdie tydige en ontydige glimlaggies is spesifiek vir hóm bedoel. Vroumense! Hulle raak heel beduiweld in hul tienerjare en so bly hulle tot hul sterfdag!

“Gee jy om as ek hierdie operasie bywoon? Ek sou graag wou sien hoe jy dit doen,” laat sy vleiend hoor toe sy in pas langs hom inval.

“Jy is welkom,” is die kortaf antwoord, en hy voeg stil­swyend by: Dan is jou mond darem vir ’n ruk lank toe agter ’n masker! Ek wens net daar was iets waarmee ek daardie trolliejoggie se mond kon toestop!

Weer kan dit nie blote toeval wees nie dat dokter Horst en die trolliejoggie mekaar nie weer in die kliniek se gange raakloop nie. Dokter Horst swaai soms sommer onverwags by ’n kamer in om te verneem hoe dit gaan, al is sy rondte al afgehandel in daardie spesifieke afdeling. En die trollie word sommer skielik weer by ’n kamer ingestoot en ’n sonstraalstemmetjie vra: “Het iemand dalk netnou iets vergeet? Wat van ’n koerant?”

Vrydagmiddag keer Jan haar doelbewus voor. “Jy onthou nog ons afspraak môreaand, nè?”

“Ja, natuurlik. Kom eet sommer by ons. Het jy al enige nuus?”

“Nee, nie juis nie. Net dat sy haar opleiding in Pretoria ontvang het. Dit sê nie veel nie.”

“Nee, maar ’n mens kan probeer uitvind watter Meissners van daardie omgewing afkomstig is. Dit kan ’n mens op die spoor sit.” Uit die hoek van haar oog sien sy ’n wit doktersjas wat net by ’n kamer in wil verdwyn en dan tot stilstand kom. “Koop iets!” beveel sy vinnig.

“Hoekom?”

“Ons word dopgehou. Jy is veronderstel om te werk, nie om met die trolliejoggie te staan en ginnegaap nie, dokter Swanepoel.” Effens harder: “Hierdie doos sjokolade? Sekerlik, dokter.”

“Ek het nie geld by my nie,” protesteer Jan, maar die doos word in sy hand geprop.

“Draai jou rug en maak asof jy geld uit jou sak haal en dit vir my gee, stommerik! Jy kan my later betaal,” beveel Elke gedemp.

Jan is verplig om saam te speel en grinnik op die wipneus af: “Hou maar die kleingeld, juffroutjie!”

Die gesiggie straal. “O, dankie, dokter! Die dame gaan baie van die sjokolade hou. Ek is mal oor hierdie soort!”

Dan eers verdwyn die wit jas die kamer in en Elke sug verlig, maar keer vinnig toe Jan die sjokolade weer op die trollie wil terugsit. “Moenie laf wees nie. Jy kan dit nie nou weer terugsit nie. Hy sal mos sien jy het nie sjokolade by jou nie. Jy skuld my dit eenvoudig net.”

“Maar ek wil nie sjokolade hê nie!”

Sy glimlag hom vriendelik toe. “Maar ék hou daarvan. Bring dit môreaand saam.”

“Jy is ’n afperser en ’n crook.”

“Hie-hie. Net slim!”

Maar die volgende aand in die teater wonder Elke of sy regtig so slim is. Een ding is seker, dit was beslis nie baie slim van haar om in te stem om Jan na die vertoning te vergesel nie. Sy moes vooraf daaraan gedink het daar is ander mense wat die vertoning ook wil sien. En toeval kan dit regtig nie wees dat dit juis Horst Buchner is wat in die oop sitplek neffens haar neersak. Sy het hom onmiddellik raakgesien toe hy op die punt van die ry verskyn het. Haar hart het amper gaan staan.

“Jan! Kyk, daar is dokter Horst! Genugtig, ek hoop nie dis sy sitplek hier langs my nie!”

Jan lyk ook effens verskrik maar moet dan bieg: “Dis moontlik, want ek het ons kaartjies by hom gekry.”

“Wat?”

Jan is ongemaklik, maar laat verdedigend hoor: “Maar hy het nie gesê hy het drie kaartjies nie! Hy het gesê hy het kaartjies vir die vertoning wat ek by hom kan oorneem. Wel, toe neem ek dit by hom oor. Hoe moes ek weet hy het nog ’n kaartjie gehad?”

“Wanneer het jy die kaartjies by hom gekry?” vra Elke openlik ontevrede.

“Gister na jy my gemaak het die sjokolade koop. Ek sien toe hy kyk na die sjokolade wat by my sak uitsteek en ek sê toe maar ek het dit gekoop vir die dame met wie ek môreaand uitgaan. Toe vra hy of ek al kaartjies het en toe sê ek . . .”

“Ja, goed! Hier kom hy nou. Wel, gedane sake het geen keer nie, maar ek sê jou die duiwel gaan ons haal.”

Jan frons vererg. “Hoekom? Ek het die reg om uit te neem wie ek wil.”

“My liewe slim dokter, dis sekerlik nie etiket dat die narkotiseur van die Meissner-kliniek ’n trolliejoggie uitneem nie.”

“Jy is nie . . .”

“Hou jou mond tog toe! Ons is diep genoeg in die sop. En kyk reg voor jou. Genadiglik verdoof hulle die ligte ook nou. Maak asof jy hom nie raaksien nie.”

Sonder enige respek vir die moeite wat sy met haar kapsel gedoen het, pluk sy ’n spul hare met kammende vingers na vore sodat dit haar gesig aan die linkerkant bedek. Dan hoor sy ’n besadigde stem teen die haarsluier vasslaan.

“Goeienaand, dokter Swanepoel.”

Jan moet die groet erken. “O, goeienaand, dokter.”

“Ek hoop jy en jou vriendin sal die vertoning geniet. Volgens die resensies is dit puik.”

Elke sit met ’n skewe nek asof dit na geen kant kan draai nie.

“Ja, ek . . .” Natuurlik is hy veronderstel om sy vriendin aan sy senior voor te stel, maar ’n skerp elmboog in sy ribbes vertel hom hoe sy oor die saak voel. “Ja, ek het so verstaan.” Hy hark sy brein aan rafels, maar kan aan niks meer dink om te sê nie, en dokter Horst, na ’n oomblik van merkbare verbasing, sit terug teen die stoel en bewaar ook maar die swye hoewel sy blik telkens na die versluierde gesig langs hom gaan. Hoe die vroumens deur so ’n harwar hare gesien gaan kry . . .

Natuurlik is dit net nie moontlik om haar identiteit tot aan die einde te bewaar nie. Die een of ander tyd moet die ligte weer in volle gloed aangaan. Dis toe dat dokter Horst weer op beleefde toon vra: “Het julle dit toe geniet?”

“Ja. Dit was goed.” Jan klink maar kortaf. Die hele aand is bederf. Hy sweer Elke kon omtrent niks sien van wat op die verhoog aangaan nie. Hy self het nie veel ingeneem nie, te bewus daarvan dat hy dit nie eens kon waag om die dame aan sy sy se hand in syne te neem nie. En daardie doos sjokolade wat hy verplig was om te koop, en waarvoor hy lankal lus is, lê nog net so onoopgemaak op haar skoot. Natuurlik te bang om dit oop te maak, want sy sal daarvan aan die man langs haar ook moet aanbied en sal verplig wees om haar kop in sy rigting te draai.

Dokter Horst probeer steeds sy bes om beleef en vriendelik te wees. “En jy, juffrou? Wat dink jy daarvan?”

Die bos hare skud en swaai en die stemtoon is hees: “Goed. Goed.”

Nou frons hy behoorlik. “Is jy verkoue?”

Jan se senuwees knak. Hy kan die drama in ’n operasieteater goed hanteer. Hy is daarvoor opgelei. Maar hierdie soort drama kan hy nie hanteer nie. “Nee, dokter, sy makeer niks. Lig op jou kop, Elke, dat die man jou gesig kan sien.” Hy kyk verskonend na sy senior. “Dit was nie my idee nie. Maar u het tog seker uit die staanspoor geweet wie langs u sit.”

“Nee, ek het nie ’n idee gehad wie agter daardie bos hare skuil nie, maar . . .” Die sluier word met ’n besliste hand weggevat en die met grimering gekamoefleerde sproetgesiggie is weerloos voor sy priemende blik. Dan laat hy die hare terugval en die ysige vraag word aan sy kollega gestel: “Is sy darem nie ’n bietjie jonk vir jou nie, dokter Swanepoel?”

Jan sluk. Wat op aarde kan hy antwoord? “Hulle moet die een of ander tyd begin grootword, dokter.”

’n Onheilige stilte daal neer. Nou is dit Elke wat skielik knak. Die sluier swaai soos sy haar gesig in sy rigting keer. “Presies! Dis presies wat jy gister vir my gesê het, onthou? Dis tyd dat ek grootword! Wel, dis wat ek besig is om te doen.” Jan kry ’n stamp in sy sy. “Toe, Jan! Loop! Hulle gaan ons nog vannag hier toesluit.”

Elke druk sommer ongeskik ’n pad vir haar tussen die mense oop na buite en die arme Jan moet maar net agternakom. Toe Horst buite kom, is daar geen teken van hulle nie. Fronsend stap hy met lang hale na sy motor.

“Nee, moenie nou dadelik terugry huis toe nie. Ou Bemoei­siek sal ons tien teen een daar inwag en die leviete voorlees. Jy ken hom nog nie. Hy kan knaend wees.”

Jan sug. “Nou goed dan. Kom ons gaan drink maar êrens ’n koppie koffie. En maak oop daardie sjokolade. Ek moet darem verduiwels iets van hierdie aand geniet!”

Ena Murray Omnibus 37

Подняться наверх