Читать книгу Ena Murray Omnibus 37 - Ena Murray - Страница 7

Оглавление

4

“En hoe het dit toe gegaan?” wil Marlene van haar dogter weet toe sy haar verskyning met haar trollie maak.

“Ma moet nog vra! My kop was ’n paar keer amper afgebyt.” Sy vertel wat gebeur het.

“Maar jy moet jou hande van die pasiënte afhou, Elke! Netnou kom hulle iets oor en dan sê . . .”

“Ma! Asseblief! Ek weet wat ek doen. Ek is ’n dokter, onthou?”

Haar ma glimlag en skud haar kop. “Ja, my kind, maar as ek so na jou kyk, vind selfs ek dit moeilik om dit te onthou. Ek sou ook dink jy moet liewer van die pasiënte af wegbly.”

Elke kyk haar ma ontstoke aan. “Ma is net so erg soos daardie kamtige Julene!” Sy stoot haar trollie vererg na waar Peet Louw staan. “Hallo, oom Peet! Ek het darem sake gedoen. Nou nie veel nie. Laat ek sien . . . Drie waslappe, twee tandeborsels, een vir gewone tande en een vir valstande en . . .” Sy tel haar lysie af en Marlene skud weer haar kop. Dat haar geleerde kind teen die end van die dag van tandeborsels en waslappe verslag moet doen!

Sy spits haar ore toe Elke se stem ongeërg opklink: “O ja, oom Peet. Geen pyptabak op die trollie nie. Die arme ooms mag nie pyp rook nie. ’n Sonde, nè?”

Natuurlik stem hy saam. “Dis meer as sonde, kind. Dis mishandeling.”

“Ek voel ook so. Hulle kan ’n plan maak, ’n pyprookkamer of so iets inrig waar oom Pieta in vrede sy pypie kan gaan sit en rook.”

“Nie ’n slegte idee nie. ’n Mens kan daaraan dink,” sê ’n stem skielik agter haar en sy swaai om, kyk teen sy klein glimlaggie vas.

Peet groet die dokter vriendelik en wil weet: “Het my nuwe trolliejoggie haar darem goed van haar taak gekwyt, dokter?”

Sy antwoord is ernstig: “Baie goed, dankie, Peet. Sy is baie . . . behulpsaam. Oorgretig is eintlik die woord.”

Hy kyk na die vrou aan Elke se sy en Elke is verplig om haar ma voor te stel, en sy is nou dankbaar dat haar ma met Joachim du Plessis getroud was. “Dis my ma, mevrou Du Plessis.”

Hy frons liggies ná die bekendstelling. “Is u ook verbonde aan die kliniek?”

Marlene glimlag. “Soort van. Ek werk hier.”

“O? In watter afdeling? Ek kan nie sê dat ek u al voorheen hier gesien het nie.”

“Nee. Ek help hier in die restaurant vir Peet met die boekhouding.”

Elke kyk verbaas na haar ma, maar dié glimlag net terug.

“O, ek sien. Kan ek ’n koppie koffie kry, asseblief? En sal jy dit asseblief vir my bring, Elke?”

Elke is verplig om te gehoorsaam, maar sy laat sommer dadelik hoor toe sy die koffie voor hom neersit. “Ek is nie lus vir ’n gepreek nie. Ek het vandag genoeg daarvan gehad.”

Dis omdat sy bang is dat hy dalk vrae kan stel waarop sy moeilik sal kan antwoord, dat sy besluit om ’n parmantige houding in te neem. Die feit dat die hoof van die Meissner-kliniek nie op só ’n trant aangespreek word nie, laat haar koud. Hy was nogal gaaf op sy manier en sy sal nie graag openlik vir hom wil jok nie. Daarom is haar enigste verweer parmantigheid.

Die vriendelikheid het uit sy oë verdwyn. “Kinders word deesdae alles op skool geleer behalwe goeie maniere. Wanneer gaan jy terug?”

“Terug waarnatoe?”

“Skool toe. Wanneer begin die skole weer?”

“Ek . . .” Sy kyk hulpsoekend na haar ma, sê dan bot: “Ek gaan nie terug nie.” Dis mos die waarheid!

“Hoekom nie? Het jy gedruip? Watter graad was jy?”

Tot haar verligting voeg Marlene haar by hulle en sy vra bekommerd: “Is hier ’n probleem? Iets met die koffie verkeerd?”

“Nee, dankie. Daar is nie fout met die koffie nie. Ek wou maar net weet . . .”

“Hy wil weet wanneer ek teruggaan skool toe . . . en of ek gedruip het.” Haar blik sak af na die man. “Nie veertien wilde perde sal my weer in ’n klaskamer kry nie. Ek hét matriek.”

Sy stem is kil. “Dis die moeilikheid met die kinders van vandag. Julle dink as julle matriek het, het julle die wêreld se wysheid in pag.” Hy kyk na die verdwaasde Marlene. “U moet u dogter tot ander insigte bring, mevrou. Geleerdheid is vandag baie belangrik . . .”

“Ja, en dan raak jy soos dokter Julene . . . só slim en volleerd dat jy nie meer mens is nie,” kap Elke terug.

Marlene trek haar asem in. Nou gaan Elke darem te ver.

Die noordpoolwind waai in sy stem. “Dokter Julene beteken iets vir die samelewing en haar medemens. Die vraag is of jý eendag iets gaan beteken. Of wil jy die res van jou lewe trolliejoggie bly?”

Die blou oë spat vuur. Sy het haar met hom misgis. Hy is niks gaaf nie. Hy is net so ’n snob soos daardie kollega van hom. “My pa het altyd gesê dit maak nie saak watter soort werk jy in die lewe doen nie, al vee jy ook strate, solank jy dit net doen na jou beste vermoë en met jou hart en siel en met vreugde. Hy het gesê as ek ’n straatveër wil word, moet ek dit word. Dis geen skande nie. Ek moet net sorg dat ek ’n goeie straatveër is.”

“Jy het ’n besonderse pa. Ek sou hom graag wou ontmoet.”

“Jy kan nie. Hy is dood.”

O.” Hy kyk na Marlene wat radeloos soek na iets om te sê. “Des te meer, mevrou, moet u sorg dat u dogter verder studeer . . .”

“Dokter, nee, daar is ’n misverstand. Eintlik . . .”

Elke val haar vinnig in die rede, oortuig dat haar ma op die punt is om die dokter te vertel watter geleerde kind sy nou eintlik het: “Eintlik, dokter Horst, is ek ’n baie slim kind. Ek het nie een keer in my lewe gedop nie.”

Dit bring geen woord van lof voort nie. Inteendeel.

“As jy dan só ’n slim kind is, behoort jy verder te gaan studeer . . .”

“Maar sy . . .”

Weer moet Elke haar ma vinnig in die rede val: “Maar ek weet nie of dit goed is om só erg geleerd te wees nie. Ek . . .”

Dis sy wat nou in die rede geval word: “Stil! Jy val nie weer jou ma in die rede nie! Ja, mevrou?”

“Nee, ek wou eintlik net sê . . .” Sy kyk magteloos na Elke.

Dié kyk haar met waarskuwende oë aan. As haar ma darem nóú haar mond verbypraat . . .

“Verskoon my as ek so reguit vra, maar is daar ’n finansië­le probleem?”

“O, nee. Nee, dis nie dit nie. Dis . . .” Die blik keer bestraffend terug na Elke.

“Dis Elke wat nie verder wil leer nie,” maak die dokter sy eie gevolgtrekking. “Maar sy is ’n onmondige kind. Dwing haar eenvoudig. Sy sal u later dankbaar wees. Waarin stel jy belang?” word die vraag op Elke afgeskiet.

Sy vererg haar bloediglik, juis omdat sy so benoud is. Wat bodder die man so met haar? Pleks hy hom gaan besig hou met sy kollega en kyk of hy van haar ’n mens kan maak – ’n eerlike mens, die bedriegster!

“Waarin ek belangstel? O . . . e . . . kêrels en partytjies en video’s . . .”

“Ag, Elke, hou op met twak praat!” sê haar ma onthuts. “Sy praat nou die grootste onsin, dokter. Sy is ’n besadigde, konsensieuse kind. Sy het nog nie eens ’n vaste kêrel gehad nie en sy is darem al . . .”

“Sewentien,” moet Elke weer red. “En wat weet Ma hoeveel kêrels ek al gehad het?”

“Jy het nog nooit met een by die huis opgedaag nie en jy het self gesê geen vaste verhoudings voordat . . .”

“Ag, Ma, dit was sommer praatjies. En in elk geval, dis lekkerder om in die bondel te vry. Dis baie interessanter.” Sy giggel skielik kompleet soos ’n verspotte bakvissie. Die dokter se gesig lyk elke minuut al meer afkeurend en sy begin die speletjie geniet. Wie nie vrae vra nie, hoor nie leuens nie, sê hulle.

“Ek het bedoel in watter vakrigting stel jy belang? In die onderwys of . . .”

“Medies,” laat haar ma lakonies hoor.

“Medies? Jy wil ’n verpleegster word?” vra hy verbaas.

Elke vererg haar opnuut. Natuurlik! Hy dink klaarblyklik sy het nie genoeg verstand om ’n dokter te word soos hy en sy kollega nie. Maar dit gee haar darem ’n ontsnaproete.

“Ja. Miskien.”

“Wat miskien?” en hy besef nie hy begin nou ook al soos die “jeug van vandag” praat nie.

Marlene gryp ook die uitweg aan. “Ja. Dis hoekom sy hierdie werkie as trolliejoggie geneem het. Sy wil eers kyk of sy daarvan sal hou om verpleegster te word. Eers die wêreld van die verpleegster so van ’n afstand af bestudeer, verstaan u?” lag sy verlig.

Hy moet met ’n stywe kopknikkie toegee. “Ja, dis nogal ’n manier om sekerheid te kry of jy regtig daarvoor kans sien.” Hy frons liggies terwyl sy oë haar bestudeer, so asof hy twyfel of sy ooit vir so ’n edel beroep sal deug. “Maar een van die belangrikste vereistes vir ’n goeie verpleegster is dat sy haar aan dissipline sal onderwerp.”

“Natuurlik, dokter,” stem Marlene sussend saam en vra bekommerd: “Ek . . . ek hoop nie Elke was stout vandag nie? Sy is so ’n spontane kind . . .”

Elke lig haar oë ten hemele. Regtig, ma’s kan darem ook vreeslike goed wees. Maak nie saak hoe volleerd jy is en hoe oud jy is nie, in ’n ma se oë bly jy ’n kind. Stout wees . . .

“Nou nie juis stout nie, mevrou. Net, soos ek gesê het, ’n bietjie oorgretig en té spontaan, veral met haar mond. Daar was teenkanting teen die trolliediens en indien daar enige probleme daaruit voortspruit, kan dit maklik stopgesit word. En ek voel dit lewer ’n noodsaaklike diens aan die pasiënte, veral vir dié wat van ver af hier is en nie gereelde besoekers kry wat vir hulle die noodsaaklikhede kan koop en bring nie,” word omslagtig verduidelik. “Daarom is dit so noodsaaklik dat u dogter haar streng by die reëls sal hou en een daarvan is om so onopsigtelik moontlik te werk te gaan, met die minste steurnis vir die roetine van die kliniek.”

“Genade! Hoe op dees aarde moet ek so ’n groot trollie onopsigtelik kry?” Die blou oë kyk hom stormagtig aan. “Dis net dokter Julene wat daaroor kla. Maar sy kla in elk geval oor alles, klink dit my . . .”

“Sal jy asseblief dokter Julene uit ons gesprekke hou?” Sy stem klap soos ’n sweep. “As jy nie gaan leer om daardie mond van jou te beteuel nie, sal Peet iemand anders vir die trolliediens kry. Ek gaan nie toelaat dat die pasiënte ’n noodsaaklike diens verbeur deur jou parmantigheid nie.” Hy stoot sy halfgedrinkte koppie koffie terug en staan op. “Daar is nog iets. Nog ’n reël. Daar word nooit in die gange gehardloop nie.”

Sy kyk hom verontwaardig aan, geensins beïndruk deur sy meerderwaardige ontevredenheid nie. “Ek het nie in die gange gehardloop nie . . .”

“Jy is op volle spoed uit die kinderafdeling . . .”

“Op jóú bevel!”

“Jy praat onsin!”

“Jy het gesê ek moet maak dat ek wegkom, nè? Nou, hoe maak ’n mens dat jy wegkom sonder om jou agterent te roer?”

Dis stil. Peet en Marlene hou asem op. Die feit dat dié “kind” die gerespekteerde dokter sommer jy en jou, laat koue rillings langs Peet se ruggraat afloop. Marlene staan en wag dat Elke die klap moet kry wat ’n mens vir sulke parmantigheid gee, maar dan ontlaai die atmosfeer toe die dokter skielik saggies begin lag, tot almal se grootste verbasing, Elke inkluis.

“In ’n hospitaal leer jy om vinnig te beweeg sonder om te hardloop. Dis ’n soort stap wat jy aanleer wat jou blitsig laat beweeg sonder dat jy werklik hardloop,” verduidelik hy.

Elke keer net betyds die kopknik. Natuurlik ken sy dáárdie soort hardloop-stap, maar sy kon dit nog nooit heeltemal regkry nie. Miskien omdat sy klein en kort is en haar bene nie lang hale kan gee nie. Sy het maar deur haar hele mediese opleiding haar trippelgang gehandhaaf, natuurlik tot groot vermaak van haar medestudente. Daardie Jan Swanepoel het altyd die groep tot halt geroep wanneer sy uitasem agter hulle aangetrippel het. “Halt, mense! Ons baba bly agter. Kan ons nie vir ons ’n drasak aanskaf en haar daarin sit en om die beurt saamdra nie?”

“Of ’n stootwaentjie,” het ’n ander voorgestel. “Dan gee ons haar net ’n stampie aan die bopunt van die gang!”

Dokter Horst sien nou weer die afgehaalde gesiggie en die neergeslane ooglede voor hom en vind dat hy vir die hoeveelste keer vandag dieselfde trooswoorde gebruik: “Toe maar, dis nie so erg nie. Onthou dit net in die toekoms. Al is dit ook hóé dringend, jy hardloop nie.” Hy sug saggies. Genugtig, hy is nie lus vir sulke klas van lesings ná ’n harde dag se werk nie! Hy glimlag teenoor Marlene. “Tot siens, mevrou. Moenie so bekommerd lyk nie. U dogter gaan dalk eendag ’n oulike verpleegster word. Ons sal intussen so ’n bietjie slyp aan haar.”

Marlene kyk haar dogter bekommerd aan toe die dokter uit is. “Elke, hierdie ding gaan nie uitwerk nie.”

Elke sug en sak by die tafeltjie neer. “Nee, Ma, ek dink ook nie so nie. In die eerste plek kan ek nie help om spontaan te reageer wanneer ek sien iets is verkeerd of ’n pasiënt het hulp nodig nie. Dit gebeur net vanself. En tweedens weet ek nie of hierdie trolliestorie my enigsins gaan help om iets meer uit te vind nie. Maar ek weet ook nie wat anders om te doen nie. Weet Ma?”

Marlene skud haar kop ook moedeloos terwyl sy gaan sit. “Nee. Ek het so te sê my dienste vir Peet aangebied om ook maar hier rond te wees vir ingeval ek iets optel, maar ek weet ook nie hoe ek iets meer oor jou oupa se ander kleindogter sal wys word terwyl ek my neus in Peet se fakture het nie.”

“Sy is nie Oupa se ander kleindogter nie!” protesteer Elke weer spontaan.

Haar ma se oë is ernstig toe sy antwoord: “Sy kan dalk wees, my kind. Kleindogter of nie, maar êrens in haar loop ’n dik stroom Meissner-bloed.”

“Waar kom Ma daaraan?”

“Sy het vandag weer hier ingekom, kom vrugtesap koop. Oom Peet was ’n oomblik lank uit en ek was agter die toonbank. Ek het haar die eerste keer van naby gesien. Sy het sterk Meissner-gelaatstrekke. Jy kan dit nie mis nie.” Elke kyk haar stom aan en sy vervolg: “Jy sou dit nie opgemerk het nie, want jy het net jou pa geken en hy het meer na jou ouma getrek. Jy het nog nooit jou oupa van aangesig tot aangesig gesien nie, maar ék het, en daar is beslis ’n sterk ooreenkoms. Ek sal alles wat ek het, wed dat sy wel ’n Meissner is.”

Elke se stem is somber. “Mamma se teorie dat Pappa moontlik ’n kind verwek het voordat julle getroud is, is dus moontlik.”

Marlene skud haar kop. “Ja, maar iets vertel my dis nie so nie. Jou pa was ’n eerlike, oop mens. Ek weet hy sou my vertel het as daar so iets was.”

“Maar miskien het hy nie daarvan geweet nie, Mamma. Dit kan ook wees.”

“Ja, maar tog . . . As hy voor my só ’n intieme verhouding met ’n meisie gehad het, sou hy my vertel het. Jy het ’n baie wonderlike pa gehad, Elke, en ons was baie, baie na aan mekaar. Ons moet hierdie moontlikheid in gedagte hou, maar ek voel êrens is hier ’n ander slenter.”

“Ma bedoel al is sy ’n Meissner, is daar nog êrens ’n bedrieëry aan die gang?”

“Ja, maar hoe om dit uit te vind?”

“Ek sê nog ek moet haar trompop konfronteer.”

“Nee, my kind, wag. Hier is baie op die spel en dis nie net jóú lewe wat geraak word nie. Baie ander is nou betrokke by die saak as dinge die dag in die ope kom. Ons moet eenvoudig eers ons huiswerk doen.”

“Maar niemand hier kan ons meer vertel as wat ons reeds weet of vermoed nie, Mamma! Dis net Oupa self wat lig op die saak sal kan werp, en vir hom mag ons nie nou nader nie. Ma wil nie hê ek moet reguit met die ‘kleindogter’ gaan praat nie. Waar op aarde gaan ons dan iets uitvind?”

“Ons wag maar nog ’n rukkie, Elke. Met tyd kom raad. Daar is op die oomblik tog nie dringende haas nie.”

“Hoe weet Mamma? As Oupa môre sterf . . .”

“Ek weet, my kind, maar hy sál miskien môre sterf as hy skielik aan so ’n groot skok blootgestel word en dan dra ek en jy skuld daaraan.”

Noodgedwonge moet Elke haar maar by haar ma se wyse woorde neerlê en die volgende oggend maar weer met haar trollie en boksterte by die kliniek se hoofingang in verdwyn. Soos sy aanstap, sê sy die reëls vir haarself op: Onthou nou! Jy mag nie hardloop nie! Jy mag nie aan ’n pasiënt raak nie! Jy mag nie aan ’n apparaat raak nie! Jy mag nie by die kinderafdeling ingaan nie! Jy mag nie lekkers vir kinders gee nie! Hou jou onopsigtelik! Die reël dat sy nie pyptabak op die trollie mag hê nie, herhaal sy nie, want daar is nie vanoggend pyptabak op die trollie nie. Die feit dat sy vanoggend ’n ekstra vroulike kurwe vertoon, hinder haar gewete glad nie. Sy het nie pyptabak op die trollie nie en sy verkoop nie pyptabak nie. Maar as daardie oupatjie vanoggend weer trane in sy oë kry soos hy soebat, gaan hy ’n presentjie van die trolliejoggie kry. Sy het klaar die geld vir die sakkie tabak in Peet se geldlaai gegooi.

Sy het dan ook kwalik haar verskyning in die saal se deur gemaak of hy kom aangesukkel na haar toe, en haar hart ruk toe sy sien hy kom met ’n geldnoot voor haar tot stilstand.

“Asseblief, kindjie, ek sal jou betaal vir net een stopsel!” Hy sien die onsekerheid op haar gesig en sy hand reik na sy kamerjas se sak. “Dubbeld!”

“Nee, oupatjie, nee wag.” Sy laat sak haar asem. “Stap so ’n bietjie uit. Net hier om die hoek staan ’n watertenk. Ek sal agter die watertenk vir oupatjie iets neersit en dit kos niks nie. Gee my net kans om hier klaar te maak en dan sal ek dit daar gaan neersit. Maar onthou! Oupa weet nie waar dit vandaan kom nie!”

Toe sy klaar sake gedoen het in die saal, glip sy vinnig by die stoepdeur uit, maar toe sy by die tenk kom, sien sy oom Pieta het haar voorgespring. Hy staan haar opgewonde en inwag, pyp gereed in die hand.

Elke kyk vinnig om haar rond, maar gelukkig is daar geen sterfling in sig nie. Sy is nie bewus daarvan dat dit nie net oom Pieta se blink oë is wat die beweging van haar hand dophou toe dit voor by haar hemp in verdwyn nie. Vanaf die oorkantste ry vensters, ’n vloer bokant die grondverdieping, sien nog ’n paar oë hoe ’n verbode geel pakkie te voorskyn kom en hoe oom Pieta dit amper uit haar hand gryp. Die persoon sien ook hoe aan oom Pieta beduie word waar die pakkie tabak weggesteek moet word nadat hy klaar gerook het.

“Hier lê ’n klip. Skuif nou die pakkie so diep moontlik agter die tenk in en dan sit oupatjie die klip daarop. G’n mens sal raai daaronder lê iets nie.”

Die dampe staan soos oom Pieta trek en daar is nie ’n dankbaarder mens in hierdie kliniek nie. “Jy red my lewe, kindjie.”

Elke glimlag met deernis. Arme ou man. Hulle kan nie veel vir hom meer doen nie. So het sy pasiëntkaart haar reeds vertel. Sodra hy sterk genoeg is, moet hy maar teruggaan na sy geliefde Namakwaland en daar die onvermydelike loop van alle aardse bestaan afwag. Hoekom dan nou sy ou pypie ook van hom wegvat? Wat maak dit werklik saak as die pyprook nadelig is? Die groter kwaad lê veel dieper en hy sal daaraan doodgaan, nie omdat hy pyp rook nie. Dus . . .

“Oupatjie moet darem nie sulke kwaai dampe die lug in blaas nie. Netnou sien iemand die rook en dink die plek is aan die brand. Oupa . . .”

Dis egter reeds te laat. Iemand het reeds genoeg gesien en stap reg op die dampe af. Elke hoor die voetstappe agter haar en sy tree weer instinktief op. Die pyp word uit oom Pieta se hand gegryp en toe sy haar omswaai, hande agter die rug, kom dokter Horst net om die tenk gestap.

“Wat maak julle twee hier?” Sy stem is egalig en klink geïnteresseerd, maar sy oë is baie skerp.

“O . . . e . . . ons gesels sommer ’n bietjie.”

Oom Pieta besef hy sal sy kant ook moet bring. “Staan sommer so ’n bietjie in die buitelug rond, dokter weet? Vars, skoon lug . . . en so aan.”

“Dis nie so vars en skoon nie. Ek ruik rook.”

“O, dit kom seker van die kombuis af . . .”

“Wat het jy daar agter jou rug?”

“Agter my rug?” Tot haar ontsteltenis begin daar trane in haar oë vorm. Sjoe, deksels, maar oom Pieta het darem die pyp warm getrek. Dis of sy ’n kool vuur in haar hand vasdruk.

Sy kyk op in die rigting van waar hy hulle dopgehou het en dan terug na hom. Parmantigheid is weer haar enigste verweer terwyl sy noodgedwonge die pyp te voorskyn moet bring: “Het jy nie beter dinge om te doen as om op mense te spioeneer nie?”

Hy verwerdig hom nie om hom teen die beskuldiging te verdedig nie en frons skerp terwyl hy haar hand in syne neem en oom Pieta sy steeds vuurwarm pyp terugontvang. “Genugtig, kind, het jy dan nie verstand nie? Kyk hoe het jy jou handpalm verbrand!”

Dis regtig seer en sy moet sluk, maar bly parmantig. “Los uit my hand. Dis myne! Ek neem aan jy gaan ons nou by die ander baas verklik.” Sy probeer uitdagend lyk. “Nou toe, hardloop, voor die pad vol dubbeltjies word. Maar een ding sê ek vir jou en daardie kollega van jou: Julle het geen reg om oom Pieta te verbied om hier buite die gebou te rook nie. Die binnekant van die kliniek is julle s’n en daar kan julle baasspeel, maar hier buitekant . . . hierdie . . .” en sy beduie wild met die hand wat los is, “hierdie hemelruim om ons is die liewe Heer s’n en daarvan is julle nie baas nie.”

“Elke, bly stil! Jy praat ’n mens gek! Rook jou pyp, oom Pieta, en kom jy dat ek jou hand kan gaan dokter.”

“Jy gaan ons nie verklik nie?” Sy kyk hom met ongelowige oë aan en oom Pieta tree ook nader.

“Sy het regtig nie die tabak aan my verkoop nie, dokter.”

“Nee, ek het nie. Ek het geen reël oortree nie.”

“Hoe werk jy dit uit?”

“Ek het dit vir hom present gegee. Nêrens in die reëls staan ek mag nie soms vir iemand ’n presentjie gee nie.”

Hy kyk stip in die onskuldige oë af. “Jy is ’n slim kind, soos jy self so beskeie gesê het. Maar jy moet pasop, dogtertjie. Slim vang sy baas. Kom.”

Sy volg gedweë, staan gelate en toekyk hoe hy haar handpalm dokter, dankbaar dat hy haar nie by sy medehoof gaan rapporteer het nie. Hy is regtig nie te onaardig nie. Wonder tog hoe ernstig die verhouding tussen hom en daardie vroumens is . . .

Toe hy opkyk van haar hand, betrap hy die ernstige, deurdringende blik op hom en lyk effens verbaas. “Wat is dit? Wat hinder jou nog?”

Sy ruk haar gedagtes onder beheer. Griet, amper het sy hom trompop gevra hoe ernstig die vryery tussen hom en dokter Julene nou regtig is . . . Sy gryp na ’n veiliger onderwerp.

“Oom Pieta . . . Hy is reeds aan die sterf, is hy nie? Moenie dit wat hy nog oorhet van hom wegneem nie, asseblief. Laat sy ou vriend van jare die laaste entjie pad maar saam met hom stap.”

Sy besef nie dat sy glad nie nou getrou aan die aard van ’n tiener bly nie, maar eerder praat soos iemand wat al insig in die dieper dinge van die lewe gekry het. Die verbasing in sy oë maak plek vir ’n vreemde, sagte lig.

“Ek belowe oom Pieta kan van nou af sy ou pypie rook, maar nie in die saal nie, om verstaanbare redes. Hy kan op ’n stoel op die stoep gaan sit en rook, nie soos ’n skelm agter die tenk nie. Tevrede?”

Sy glimlag breed en dankbaar in sy oë terug en hy moet glimlag vir die sproete wat so vrolik op die neuspunt wip dat ’n mens amper kan bang wees hulle gaan afval. “Maar wat meer is, jou slim meisiekind, ek gaan toesien dat hier ’n rookkamer in hierdie kliniek kom waar al die oupatjies rustig met hul pype kan kom sit en hul senuwees kalmeer. Maak dit jou gelukkig?”

Haar glimlag kan hom behoorlik insluk en sy gee sy hand wat hare nog vashou, ’n drukkie en kom nie eens agter dis seer nie. En, so spontaan soos dit maar altyd uitborrel, sê sy dankbaar: “Ag, jy is eintlik ’n ou skattebol. Hoekom . . .?”

“Hoekom?”

Sy wou eintlik vra hoekom hy met so ’n ou suurknol soos dokter Julene deurmekaar moet wees, maar verander blitsig haar sin: “Hoekom was ek so lelik om jou van spioenasie te beskuldig?”

Hy lag saggies, los haar hand en pluk aan die een bokstert. “Ja, dit was baie lelik van jou. Maar goed. Ons vergeet nou daarvan. Net, regtig, Elke, jy sal moet leer om eers te dink voor jy doen. Ek kan jou nie pal uit die warm water hou nie. Nou toe. Neem hierdie buisie salf saam en smeer gereeld daarvan aan die palm.”

Dokter Horst begin egter in die dae wat volg wonder of dié slim kind tog nie reg was in haar beskuldiging dat hy op haar spioeneer nie. Hy betrap homself dat sy oë rondsoek elke keer as hy om ’n hoek kom of ’n gang afstap of ’n afdeling betree. Maar of sy dit doelbewus begin oefen het om onopsigtelik te wees en of dit net toevallig is, weet hy nie, maar hy kry min van die trolliejoggie te sien. Enkele kere sien hy net die punt van ’n bokstert om ’n hoek gaan of ’n stukkie van ’n agterstewetjie in ’n saal verdwyn en dan neig sy bene al in daardie rigting hoewel hy in die teenoorgestelde rigting op pad was. Hy kan dan onmoontlik vir sy kollega aan sy sy sê hy wil net eers weer ’n slag die trolliejoggie onder oë kry. Natuurlik net om te sien of alles nog goed gaan. Hy is oortuig daarvan sy het al weer ’n paar van die reëls oortree, maar aangesien sy nie betrap is nie, het hy geen grondige rede om haar doelbewus op te soek nie.

Natuurlik was daar ’n relletjie toe dokter Julene haar medehoof se veranderende houding oor die rookgewoontes van die pasiënte ontdek. Maar dokter Horst het sy skietgoed gereed gehad.

Eerstens het hy, terwyl hy seker was sy kollega is op die tennisbaan, sy hoof gaan besoek.

Dokter Albert was bly om hom te sien. Sy oë het die jongman stip betrag. “Hoekom sien ons so min van jou deesdae, Horst?” was sy reguit vraag.

Die antwoord was ontwykend. “Bly maar besig, dokter Albert. Hoe gaan dit met die hart?”

Die ou man was ontstig. Julene beweer die verhouding vorder, maar hy twyfel of dit heeltemal waar is. Dis al vir hom asof die potensiële bruidegom ontwykend is. Hy sou Horst sommer op die man af wou vra, maar selfs hy moet toegee dat Horst Buchner nie ’n man is wat jy sommer tromp-op loop nie. Solank daar die vaagste moontlikheid bestaan dat hy dalk voet in die wind kan slaan, sal daar versigtig met hom te werk gegaan moet word.

“Ek is weer perdfris. Hoe gaan dit by die kliniek? Alles reg daar? Enigiets of enigiemand nuut daar?”

Net vlugtig swaai ’n sekere patroontjie voor sy geestesoog verby en dan kom die egalige antwoord: “Nee. Alles in orde. Niks nuuts nie. Daar is egter ’n kwessie wat ek graag met u wil bespreek, dokter Albert.”

“Praat maar.”

Die volgende oggend toe hulle die saal binnestap, vind die twee dokters oom Pieta nie in die bed nie.

“Waar is meneer Van der Merwe?”

“Ek dink hy sit buite op die stoep en rook, dokter.”

“Sit en róók?”

Die suster se houding is onderdanig, maar nie haar oë nie. Vlugtig gaan haar blik na die ander dokter. “Ja. Dokter Horst het verlof gegee dat hy sy pyp op die stoep mag rook.”

Ongelowige oë swaai na hom op, maar hy ontmoet haar blik kalm. “Ja. Ek het.” Daar is skielik ’n vonkeling in sy oë. “Ons kan hom verbied om in die kliniek te rook, maar ons kan dit kwalik doen buite die gebou.”

Haar stem is styf. “Dis nog steeds op die kliniek se grond.”

“Ja, Julene. Die grond en die gebou behoort aan die Meissners, maar die oop hemelruim behoort aan die liewe Heer, en daarvan kan geen mens kaart en transport kry nie. Dis almal s’n.”

Sy kyk hom aan asof sy dink hy het die kluts kwytgeraak, maar laat dan net kortaf hoor: “Ons praat later hieroor. Gaan roep meneer Van der Merwe, suster.”

Toe hulle egter later op pad kinderafdeling toe is, kom dokter Julene in die gang tot stilstand en probeer nie haar ontevredenheid wegsteek nie.

“Ek voel regtig nie baie gelukkig oor hierdie pyprokery wat jy skielik toelaat nie. Ek is veronderstel om in beleidsake geken te word.”

“Ek is heeltemal bewus van die feit dat jy medeseggenskap in die kliniek het, Julene.”

Sy kyk hom skerp aan. Hy het duidelik weer toegeklap. “In daardie geval . . .”

“Ek het egter geweet ons sal nie oor hierdie saak konsensus bereik nie en het toe die nodige voorsorg getref.”

“Wat bedoel jy?”

“Ek wil nie hê jy moet die indruk kry ek het agter jou rug te werk gegaan nie, want dit was nie die idee nie. Maar ek vind dit belaglik dat ons vir grootmense wat, let wel, betaal om hier te wees, wil voorskryf of hulle mag rook of nie.”

“Dis ’n vieslike gewoonte!”

“Ek stem saam, maar daar is ook baie ander onaanvaarbare gewoontes. Ek vind dit belaglik en vernederend vir ’n waardige oubaas soos oom Pieta om soos ’n skelm skoolseun agter die watertenk te moet gaan staan en rook. Daarom het ek hom verlof gegee om buite op die stoep sy pyp te rook en daarom het ek dokter Albert se verlof gekry dat hier ’n rookkamer ingerig word vir veral die pyprokende pasiënte.”

“Jy het . . . wát? ’n Rookkamer . . . in ’n kliniek?”

“Ja, Julene. Jy het reg gehoor . . . en ek het dokter Albert se toestemming gekry daarvoor. Hy het nog steeds die finale sê hier. Verskoon my, ek gaan gou by klein Thalita Joubert inloer.”

Dis miskien die troebel atmosfeer wat veroorsaak dat dokter Julene min geduld het. Nie dat sy ooit van geduld oorloop nie. Sy is ’n konsensieuse dokter wat haar werk ken en dit doen, maar – soos die verpleegpersoneel dit stel – sy werk met haar verstand en sonder hart. Klein Jannie se rugmurgsappe moet vandag getrek word. Dis vir grootmense ’n verskrikking, wat nog te sê vir ’n seuntjie van ses. Toe hy die wit doktersjasse gewaar en die naald sien, weet hy wat gaan volg en hy bars in ’n histeriese vreesbui uit. Sy angswekkende gille klief deur die lug en dis ’n klein mensie, waansinnig van vrees, wat suster Marais vergeefs probeer kalmeer. Sy weet so goed soos die dokter dat die lumbaalpunksie gedoen móét word, maar aan die ander kant lyk dit of twee grootmense besig is om ’n klein seuntjie te martel.

Ook dokter Horst se aandag word getrek deur die beangste geskreeu en hy sien die verskrikte ogies van die ander pasiëntjies. Dit klink voorwaar of iemand se kop lewend afgesny word. Hy beweeg soos blits met daardie hardloop-stap waarvan hy Elke vertel het en verskyn in die deur toe dokter Julene se ongeduldige stem opklink.

“Kry hom vasgehou, suster! Ek het nie die hele dag tyd nie!”

“Net ’n oomblik.” Hy staan langs hulle. “Ek dink jy moet dit vir eers laat, dokter.”

Tot suster Marais en dokter Julene se grootste verbasing neem hy die gillende kind by eersgenoemde en druk hom styf teen hom vas. “Toe nou maar, ou grootman. Jy gaan nie seerkry nie.”

“Dokter! Dit moet gedoen word! Wat gaan met jou . . .?”

“Ek weet dit moet gedoen word, dokter.” Vir die eerste keer hoor dokter Julene ’n klank in sy stem wat haar aan kille woede laat dink. Die uitdrukking in sy oë vertel haar dat haar vermoede juis is. “Maar nie nou nie! Hy moet eers kalmeer, anders gaan jy ’n permanente vrees in hierdie kind kweek en daar sal nog dikwels in die toekoms met hom gewerk moet word. Dit kan nie elke keer gaan soos dit nou gaan nie.”

Dokter Julene pers haar lippe op mekaar. Wie dink Horst Buchner is hy? Om vir haar te staan en preek asof sy ’n junior verpleegster is! Haar eie oë spat vuur en haar stemtoon vertel hom dat sy self nou woedend is. “Goed dan, dokter. Laat my maar roep wanneer jy die pasiënt gekalmeer gekry het. Ek het nog baie om te doen.”

Sy stap die kamer uit en suster Marais verberg haar verbasing agter neergeslane ooglede. Dis die eerste keer dat die twee dokters openlik rusie maak terwyl hulle aan diens is.

“Suster, laat Elke onmiddellik na die kinderafdeling ontbied.”

“Ekskuus, dokter?”

“Die trolliejoggie.” Toe die suster hom net staan en aanstaar, totaal in die war, vervolg hy ongeduldig: “Die meisiekind wat die trollie hier rondstoot! Laat haar oor die interkom ontbied – dadelik!”

“Ja, dokter.” Suster Marais gehoorsaam hoewel sy steeds nie seker is of sy die man reg verstaan het nie. Die verwarring aan die ander kant is ewe groot.

“Wie sê jy moet ek roep?”

“Die meisiekind wat die trollie hier rondstoot,” herhaal suster Marais. Ja, dis tog wat hy gesê het.

“Wat is die naam?”

“Elke of so iets. Roep maar net die trolliejoggie. Sy moet dadelik hierheen kom, het dokter Horst gesê. Dadelik!”

Dis nie net sy wat wonder of dié plek skielik mal geword het nie toe die stem oor die interkom dwarsdeur die hele kliniek opklink: “Trolliejoggie! Trolliejoggie! Dadelik na die kinderafdeling, asseblief! Trolliejoggie! Trolliejoggie!”

Elke se oë rek en sy kyk om haar rond asof sy na die plek soek waar die stem vandaan kom. Sy kan sweer dis die interkom wat haar roep! Die suster kyk haar vinnig aan vanaf die oorkantste hoek van die mansaal. “Hulle roep jou. Wat het jy nou weer aangevang?”

Elke se oë rek groter. “Niks! Op aarde niks!” sê sy vinnig. Sy was in dae nie naby die kinderafdeling nie. Dit het bitter gegaan om daar weg te bly, maar sy het dit tog reggekry. En nou word sy daarheen geroep . . .

“Trolliejoggie! Trolliejoggie! Na die kinderafdeling, asseblief. Dadelik!”

’n Ou oom laat hoor: “Gaan maar eers, kindjie. Ek kan maar later kyk watter soort skeerseep jy het.”

Glad nie teen so ’n veilige spoed nie, vaar sy en die trollie die gang af. Want daar kom dit weer: “Trolliejoggie! Trollie­joggie! Onmiddellik na die kinderafdeling!”

Ena Murray Omnibus 37

Подняться наверх