Читать книгу Ena Murray Omnibus 37 - Ena Murray - Страница 6

Оглавление

3

Die twee dames agter die ontvangstoonbank van die kliniek kyk die patroontjie voor hulle verbaas aan. Dan herken hulle die trollie en glimlag.

“Hallo! Ons het ’n nuwe trolliejoggie!”

Die twee glimlag vlugtig vir mekaar. Kan die kind nie iets met daardie twee boksterte aanvang nie? Dit lyk of hulle jou in die oog kan steek. Die eienares van die boksterte se oë blink vrolik. Sy het die glimlag onderskep en weet presies waaroor dit gaan.

“Ja. Oom Peet het gesê ek moet hier by julle kom hoor waar ek mag gaan en waar nie.”

“Ja. Jy mag al die sale aandoen en ook die privaat kamers, behalwe waar daar staan Geen besoekers. En dan is die kinder­afdeling ook verbode.”

Dis ’n groot teleurstelling. “Hoekom?”

“Omdat, juffroutjie, kinders nie geld het om iets mee te koop nie. En al sou hulle hê, sal hulle die lekkergoed binne ’n minuut van daardie trollie af hê en hulle is veronderstel om siek te wees en die regte kos te eet om weer gesond te word. Die kinderafdeling is taboe.”

“Is dit al?” vra Elke onderdanig.

“Jy mag nie in ’n kamer of saal ingaan as jy sien hulle is besig met ’n pasiënt nie. Jy moet sorg dat jy nie onder die personeel of dokters se voete beland nie.”

“Ja,” waarsku die ander ook, “bly liewer heel uit sig van dokter Julene as jy kan. Sy was glad nie ingenome met hierdie trolliediens nie. Dis maar dokter Horst wat die trolliediens deurgevoer gekry het.”

“Wie’s hy?” vra Elke nuuskierig.

“Dokter Horst Buchner is die hoofchirurg en saam met dokter Julene Meissner in beheer van die kliniek. Al die dokters word hier op hul voorname genoem, maar onthou, die titel kom altyd vooraan!”

“Nou wie is dié dokter Julene nou eintlik?” vra Elke, en hoop maar hulle vind haar nuuskierigheid doodgewoon.

“Dokter Julene is natuurlik dokter Albert se enigste kleinkind.”

Natuurlik se voet! wil Elke sê, maar bedwing haar en kom in beweging. “Nou goed. Sien julle weer later.”

Sy swenk af na die eerste afdeling en die bekende hospitaalgeure prikkel haar neus. Ergernis wil sommer weer in haar opstoot. Vir wat moet sy hier rondloop met ’n trollie vol onbenullighede terwyl sy ’n baie positiewe diens kan lewer? Daardie vroumens . . .

“Daardie vroumens” kom skielik om ’n hoek gestap en nou sien Elke ook hoe lyk die ander baas van die kliniek, want sy is weer vergesel van die lang man wat saam met haar in die restaurant was. Elke soek na ’n opening waar sy haarself en die trollie op ’n manier uit hul pad kan kry, gedagtig aan die waarskuwing wat sy so-ewe ontvang het. Maar die twee is reeds op haar en sy word onvermydelik raakgesien. ’n Frons vorm onmiddellik op die mooi, lang vrou se voorkop en sy bekyk die nuwe trolliejoggie van kop tot toon.

Nes ek die een of ander aansteeklike geval is! dink Elke ergerlik. Dan skiet haar blik na die man wat ’n sagte laggie uiter en sy kyk in ’n paar vonkelende oë vas.

“Genugtig, waar kom Peet hieraan?” wil hy van niemand in die besonder weet nie, en die geamuseerdheid verdiep in sy oë toe hy die stormagtige blou oë sien. Verontwaardiging spreek alte duidelik uit die joggie se hele houding, en heel ongehoord vir Horst Buchner, steek hy ’n hand uit en trek aan een van die boksterte. Hy ontvang ’n tweede vernietigende kyk uit ’n ander paar oë. Hulle sê duidelik: Gedra jou! Watse familiariteit is dit?

“Ek dink nog steeds hierdie trolliestorie is oorbodig en ontwrigtend vir die dissipline van die hospitaal.”

En wat jý dink, is al wat van belang is, dink Elke en laat ook sommer hoor: “Maar dis noodsaaklike goed hierdie vir enigiemand in ’n hospitaal. Kyk . . . hier is waslappe, tandeborsels, seep . . .”

“Dis goed wat ’n mens saambring as jy opgeneem word! En waar kom jy daaraan . . .?”

“Maar dit kan opraak,” hou Elke parmantig vol en ignoreer die man se geamuseerde verbasing. Dat sy dit kan waag om dokter Julene teen te praat . . . én in die rede te val . . .

“Tandeborsels en waslappe raak nie sommer op nie en waar kom jy daaraan . . .?”

“Natuurlik raak dit op! En wat dan van die lekkers en twak . . .?”

“Tabak!” Die geleerde dame buk en laat ’n arendsblik oor die tweede ry gly. Sowaar! Daar is pyptabak ook op die trollie! Haar stem is ysig toe sy haar regop ruk. “Niemand word toegelaat om in hierdie kliniek pyp te rook nie! Verstaan jy dit? Wie het hierdie goed op die kind se trollie gesit? Peet weet . . .”

“Ek het.” Die sproete dans parmantig. Wat op háár trollie is, is háár saak. “As hulle sigarette kan rook, kan hulle mos maar pyp ook rook. Wat is die verskil?”

“Volgens my geen. As ek my sin kan kry, sal hier glad nie gerook word nie. Maar geen pyprook word toegelaat nie. Daar sit ek my voet neer.”

“Hoekom?”

Die man tree nou vinnig tussenbeide, sy gesig op ’n erns­tige plooi getrek, maar in sy oë dans nog ’n duiweltjie rond. Hy wonder of Julene ooit besef hierdie kind het iets reggekry wat geen ondergeskikte personeellid al reggekry het nie, en dis om met haar te redeneer. Vir die susters en matrone is wat dokter Julene sê ja en amen. Jy bevraagteken haar nie – nie as jy verstandig is nie. Maar hierdie parmant met die boksterte en sproete weet natuurlik nie van beter nie, en hy sal moet red wat daar nog te redde is of die Meissner-kliniek is sy trollie­diens kwyt.

Hy tree weer teen sy aard op en verduidelik omslagtig: “Want pype stink en daar is pypolie en sulke gemors. Ons laat sigarette in die spesiale rookareas toe, maar moenie weer pyptabak hier inbring nie.”

Die blou oë draai hul volle gloed op hom en die onskuld van ’n kind wat nog die wêreld moet leer ken, lê in haar oë. “Wat van roltwak?”

Hy is onkant gevang. “Roltwak? Wat is dit?”

“Daardie wat hulle kou en . . . O nee, dit sal seker ook nie toegelaat word nie, want as hulle klaar gepruim het, spoeg hulle weer die wêreld vol . . .”

Openlike afkeer lê op dokter Julene se gesig. Sy beweeg om die trollie en sê beslis: “Kom, Horst. Die kind maak my naar.”

Hy kom ook in beweging, maar huiwer toe hy die breë glimlag en dartelende oë gewaar. “Meisietjie, moenie jou geluk te ver beproef nie. Jy gaan verloor.”

“Sê wie?”

Met ’n laaste waarskuwende, streng blik op haar is hy verplig om sy kollega te volg, maar by die hoek betrap hy homself dat hy weer vlugtig terugkyk. Die klein snip staan hulle nog steeds met ’n oorwinningsglimlag en agternakyk. Dis duidelik dat sy oortuig is sy het die beste uit hierdie relletjie gekom . . . en hy is nie so seker dat sy verkeerd is nie.

In die kraamafdeling word sy hartlik verwelkom. Dis terwyl sy goed sake doen – veral die sjokoladehoekie sak vinnig – dat sy opmerk dat een van die pasiënte se binneaarvoeding nie drup nie.

“Tannie, hierdie dingetjie van jou loop nie. Dis veronderstel om egalig te drup, maar hier gaan niks aan nie. Wag, laat ek . . .” Sy wil net haar hande uitsteek om die saak reg te stel, toe ’n ontstelde stem haar tot stilstand bring.

“Los daar! Wat dóén jy?”

Die suster is langs haar, rooi in die gesig, en agter haar staan die twee dokters op hul saalrondtes.

Elke besef haar flater. Sy is nie veronderstel om iets van binneaarapparate te weet nie. Sy sluk, bewus van die streng oë op haar. Hierdie keer is daar nie ’n geamuseerde vonkel in dokter Horst se oë nie.

“Ek . . . ek het gesien die ding drup nie . . . en ek het gedink dit moet seker drup en . . . ek wou dit net ’n plukkie gee . . .”

“Het jy in jou lewe al . . .! Vat jou trollie en maak dat jy hier wegkom! Horst, ek gaan hierdie trolliestorie stopsit!”

Horst Buchner se gesig is geslote, sy stem streng en baie formeel: “Ons sal dit later bespreek, Julene.” Sy oë pen Elke vas wat nou half verskrik lyk. “Wag buite in die gang.” Dan aan die suster: “Hoekom sien ’n kind dat hierdie ding nie werk nie en nie jy nie, suster?”

Elke maak haar uit die voete. Sy voel jammer vir die suster. Horst Buchner se stem het soos ’n sweep geklap en Elke weet intuïtief sy sal liewer met dokter Julene deurmekaar wil wees as met dokter Horst. Dokter Julene se gekyf maak haar nie bang nie, maar daar is ’n gesagstoon in dokter Horst se stem wat jou laat verstaan dat hy elke dag Albert Meissner se septer kan oorneem. Nalatigheid is die een ding waarvoor hy nie te vinde is nie.

Bekommerd staan Elke langs haar trollie in die gang en wag. Dit lyk vir haar sy gaan skaars een volle dag op trolliediens wees . . .

“Wat is jou naam?” vra hy skielik agter haar en sy swaai haar om.

“Elke.”

“Nou, Elke, ek wil hê jy moet nou baie mooi luister en goed verstaan wat ek sê.”

Sy rek haar oë onskuldig, hoewel sy in haar hart sê: Genugtig, lyk ek dan vertraag? Maar sy is ook dankbaar dat sy Julene-skaduwee hom hierdie keer toegelaat het om sonder haar te verskyn.

“Ja, dokter?”

“Jy raak aan niks, aan net mooi niks in hierdie kliniek nie. Jy raak net aan jou trollie.”

Sy sluk. “En as ek sien iets is verkeerd soos . . . soos netnou?” wil sy darem weet.

“As jy iets sien wat vir jou verkeerd lyk, dan roep jy ’n suster, maar jy hou jou hande af van alle apparaat. Is dit duidelik?”

“Ja, dokter. Goed, dokter. Ek . . . is jammer, dokter. Ek . . . wou net help. Die ding hét nie gedrup nie, rêrig nie!”

Dis ’n innerlike lekkerte om te sien hoe hy val vir haar toneelspel. Sy weet sy lyk nou nes ’n kind wat dit baie goed bedoel het en toe ’n klap gekry het! Sy sien sy gesig versag.

“Nee, dit het nie gedrup nie. Maar jy was onverantwoordelik om dit te wou regstel. Jy sien, Elke, dis menselewens wat hier op die spel is. Ons kan mos nie kanse waag met mense se lewens nie, nè?”

“Nee, dokter! Nooit nie, dokter!” Haar mond hang behoorlik oop van ontsteltenis by hierdie gedagte.

Hy klop haar liggies op haar skouer en glimlag meteens. “Nou toe. Gaan voort met jou trollie, maar onthou net wat ek gesê het.”

“Ja, dokter. Dankie, dokter. Dokter . . .”

“Ja, wat is dit? Ek is besig met saalrondtes.”

“O, ek is jammer, dokter.”

“Toe nou maar. Praat net gou. Wat wou jy weet?”

“Nee, ek wou maar net vra . . . hierdie ander dokter . . . die vroumensdokter . . .” Die vraag kom uit soos wat net ’n onskuldige kind spontaan sou vra: “Is sy maar altyd so ’n gifangel?”

Dokter Horst staar haar eers aan, kry dan sy gesigsuitdrukking reg en sê streng: “Elke, dis nog iets wat jy ook moet onthou. Jy moet jou mond toe hou. Jy praat te veel. Ek sal jou aanraai om liewer te probeer om aan dokter Julene se regte kant te kom.”

“Het sy dan so iets . . . ’n regte kant, bedoel ek? Want dan het niemand in hierdie plek dit al ontdek nie.”

“Wat praat jy?” vra hy geskok.

“Ek bedoel maar net niemand in hierdie plek hou van haar nie. Oom Peet sê hy hoor mos die verpleegsters praat. Hy sê hulle sê sy is net ’n dokter met haar verstand maar nie met haar hart nie. Hulle sê . . .”

“Stil tog, kind! Jy praat al weer te veel! En dan skinder jy ook nog!”

“Ek skinder nie! Ek praat die waarheid! Ek kan mos nie help as hulle so . . .”

“Stil, Elke!” Hy kyk vlugtig oor sy skouer, dan half moedeloos, half geamuseerd na haar. “Asseblief, gaan aan met jou trollie. Ek en jy sal later verder praat. Toe, loop nou!”

Elke waag dit eers om die lekkerte hier binne in ’n breë glimlag na buite te laat uitstort toe haar rug op hom gekeer is. So ja, nou voel sy beter!

Dis regtig ongelukkig dat Elke weer op ’n situasie afkom wat haar instinktief laat optree. Maar sy is ’n dokter, en dis blote refleksbewegings wat haar later die oggend na die bed laat haas om die stikkende man te hulp te snel.

Toe die twee hoofde van die kliniek eindelik terugstap ná hul saalrondtes, hoor hulle skielik ’n stem.

“Spoeg, oompie, spoeg. Nee! Hier is die bakkie, nie op my nie! Ja, spoeg lekker dat die nare goed kan uitkom! Ja. Dis reg! Dis beter, nè? Nee! Nee! Nie water nie. Oompie kan nie nou al water drink nie. Jy gaan naar word. Kyk, ek vee oompie mooi skoon af en maak jou lippe nat met ’n wattetjie en . . .”

Soos een man beweeg die twee dokters na die deur, stamp die trollie weg in die verbygaan.

“Wat de duiwel! Gee pad hier!”

Elke word sonder meer weggestamp en dokter Julene buk oor die pasiënt. Elke kyk vas in twee ysige oë voordat hulle ook afsak na die bed.

“Het u naar geword, meneer Verwey? Hoekom het u nie die klokkie gedruk nie?”

“Ek wou, maar kon dit nie in die hande kry nie. Maar toe kom die verpleegstertjie in en help my. Ag, dankie tog! Ek dog ek verstik my morsdood.”

Die “verpleegstertjie” besluit dis tyd om haar uit die voete te maak. Sy blits by die deur uit, net toe die arme suster wat haastig op die rooi lig in die kantoor reageer, wil binnekom. ’n Botsing is onvermydelik en daar klink twee ontstelde gilletjies in die gang op, gevolg deur ’n dowwe slag.

Dokter Julene se kop ruk omhoog. “Wat gaan in hierdie plek aan vandag? Het dit in ’n malhuis ontaard?”

Toe dokter Horst in die deur verskyn, is die suster besig om steierend orent te kom en hy sien net die punt van ’n bokstert om die hoek verdwyn. Hy ondersteun die verdwaasde suster wat verskrik vra: “Wat . . . wat het my getref?”

“Ek begin self wonder,” is die droë antwoord.

Dan is daar nie meer tyd om te wonder nie. Dokter Julene is op die oorlogspad.

“Hierdie pasiënt was besig om te stik, suster! Waar was jy?” Die woordjie “gifangel” wil al ’n weerklank in iemand se geheue kry. Dis ’n onredelike vraag. Geen kliniek kan immers voltyds vir elke pasiënt ’n opgeleide verpleegster aan diens langs die bed hê nie.

“Besig met my verslag, dokter. Die . . . die klokkie het nie gelui nie.”

“Nee, want dit was nie binne sy bereik nie.”

Die pasiënt kom haar tot hulp. “Ek het dit self weggestamp toe ek begin stik het, dok-”

Maar daar word nie geluister nie. “Hier is ’n laksheid wat ek onmiddellik gaan stopsit. Moenie . . . móénie dat ek weer op so iets afkom nie. Verstaan jy my?”

“Ja, dokter.”

Hulle sê as ellende jou eers beet het, kom dit altyd in drieë. Elke moes dit onthou het toe sy op die end van haar rondte by die ingang na die kinderafdeling verbykom. Of miskien het sy gedink sy het reeds nommer drie raakgeloop en gefnuik. In die een mansaal moes sy eenvoudig haar hart verhard, maar dit het swaar gegaan.

“Ag, asseblief tog, my groot dogter, verkoop aan oom Pieta daardie tabak! Net die een pakkie!”

“Ek mag nie, oupatjie. Hulle het gesê julle mag nie hier pyp rook nie. Dit stink en waar spoeg julle die pypolie?” verduidelik sy geduldig.

“Maar ek beloof jou, hartjie, ek sal die pypolie insluk. Toe nou, dogtertjie . . .”

“Nee, oupatjie, ek mag nie. Ek sal in die moeilikheid kom.”

“Maar hulle hoef mos nie te weet nie. Ek sal dit wegsteek. Kyk, hier lê my ou pyp. Ek het dit ingesmokkel. Nou net die tabak . . . Ag, kindjie, ek kom doer uit Namakwaland se wêreld. Ek het oud geword saam met my pyp. My senuwees is klaar. As ek net twee trekke kan trek, sal ek weer moed kry. Ag, kindjie . . .”

Elke voel sy kan saam met die ou oom huil. “Ai, oupa-tjie, hulle sal mos weet oupatjie rook pyp. Hulle sal dit mos ruik.”

“Nee, kindjie, ek stap al so ’n bietjie rond. Ek sal hier buite om die hoekie gaan staan en my trekkies trek. Toe nou, asseblief! Ek sal jou dubbel betaal. Geld is nie ’n kwessie nie.”

Maar eindelik kon Elke haar wegskeur en vinnig padgee terwyl sy soos ’n wreedaard voel.

Dis toe dat sy ’n kind baie droewig hoor huil. Weer is dit blote refleksseine van haar brein af wat haar voete tot stilstand bring. Sy registreer nie eens die letters bo-aan die twee groot deure wat toegang tot die afdeling verleen nie. Die trollie word net so gelos en sy is klaar binne. Haar voete dra haar vanself na die huilende kind. ’n Ontevrede stem vanuit ’n ander kamer bereik haar ore: “Ek wens hulle wil besoektye aan die kinderafdeling totaal en al stopsit. Die ouers moet hul kinders hier aflaai en eers weer te sien kry die dag wanneer hulle ontslaan word. Hoor nou net hoe skree klein Frik. Hy wil nou opsluit saam met sy ma huis toe. Dit ontstig net die kinders. Dis al.”

“Wel, Frikkie moet nou maar huil. Daar is nie nou tyd om kinders te troos nie. Ons moet baba Meintjies gereed kry. As dokter Julene en dokter Horst nou hier instap en hy is nog nie gereed nie . . .”

Elke sluip die kamer binne en haar hart gaan uit na die seuntjie wat met bang oë in die hoë hospitaalbed sit en snik. Sy maer, bleek gesiggie vertel haar dat hy ’n baie siek seuntjie moet wees en sy blik vinnig na die besonderhede op sy kaart aan die voetenent van die bed. Haar hart trek saam, want klein Frikkie se prognose is baie swak. Sy neem vinnig op die kant van die bed plaas, sit haar arms om hom en trek hom styf teen haar vas.

“As ek vir jou ’n vissie gee, sal jy dan ophou met huil?”

“ ’n . . . Vissie? In ’n bak? Wat swem?”

“O, ons kan altyd speel ons gaan hom in ’n bak sit en hy gaan daarin rondswem. Dis ’n lekkergoedvissie, maar as jy hom eet, gaan hy mos na hierdie bak toe,” en sy kielie hom op die maag, “en dan swem en swem en swem hy al in die rondte daar!” en sy maak sirkels met haar wysvinger.

Skielik skater hy van die lag. “Jy kielie my!”

“Is nie! Dis die vissie wat so swem!” Sy staan vinnig op, wys met haar vingers sjuut en maak haar oë groot en rond. “Ek gaan haal dit gou!”

’n Rukkie later sit hy op haar skoot, trane vergete, besig om die malvavissie te eet terwyl sy hom die storie van die stout vissie vertel: “. . . en daar vang die seun hom in die net en pardoems! gooi hy hom in ’n blik. En daar is die stout vissie gevang en . . .”

“Jy kan maar ophou. Hy slaap vas.”

Sy kyk vinnig op. Hy staan in die deur, kom nader. Sy het geen verweer nie. Sy is al weer betrap.

“Werklik, Elke, jy het net so min ore aan jou kop soos daardie stout vissie.”

“Maar hy was hartseer en die verpleegsters het nie tyd vir hom gehad nie en . . .”

Hy sug. “Ja, toe maar. Ek weet dit alles. Maar jy moet nou maak dat jy hier wegkom voordat hulle jou betrap.”

“Ek is klaar betrap. Jý het my betrap.”

Hy frons skerp. Dié kind is beslis nie onnosel nie. Eintlik gans te opmerksaam. Hy omseil ’n antwoord en buig oor Elke en die slapende kind. “Kom ek help jou dat ons hom versigtig neersit sodat hy nie wakker word nie.” Hy neem die halfgeëte lekker uit die taai handjie en sit dit op die kassie langs die bed neer, kyk dan terug in die blou oë wat so naby syne is. “Gelukkig sal klein Frikkie niks oorkom van ’n halwe lekker nie, maar dit kon ewe goed gevaarlik vir hom gewees het. Jy bedoel dit goed, ek weet, maar dit kon gevaarlik vir hom gewees het . . .”

“Maar ek . . .” Sy klap haar lippe vinnig toe. Sy kan mos nie vertel dat sy eers klein Frikkie se hele kaart deurgelees het voordat sy besluit het om hom met ’n lekkertjie te troos nie. Wat op daardie pasiëntkaart staan, is veronderstel om vir haar Grieks te wees. Sy eindig dan maar lamlendig: “Maar ek het hom so jammer gekry. Ek . . . is jammer.”

“Nou toe nou maar,” hoor hy homself vir die hoeveelste keer sê. Regtig, sy lyk al weer soos ’n kind wat onverdiend ’n afjak gekry het! Maar as dit Julene was wat vir die hoeveelste keer op haar afgekom het terwyl sy met ongeoorloofde dinge besig was, sou sy beslis aan haar boksterte by die deur uitgegooi gewees het. “Ek maak oor ’n rukkie ’n draai by die restaurant. Wag daar tot ons gesels het. Daar is een ding wat jy regtig moet verstaan, Elke. Daar is redes vir die reëls van hierdie kliniek en . . .” vervolg hy kwaai toe haar mond weer parmantig wil oopgaan, “ék het dit saam met dokter Julene opgestel. Dis nie net dokter Julene se reëls nie. Dis myne ook. Toe. Weg is jy!”

Sy wip by die deur uit en hy kyk die netjiese agterstewetjie agterna wat so blitsig om die hoek verdwyn. Tieners is ’n spesie op hul eie . . . Hoe op aarde hou hul organe dit so saamgepers in sulke stywe broeke? Dan moet hy glimlag. Nie dat dit enigsins hierdie parmant se beweeglikheid strem nie. Toe hy in die gang uitkom, sien hy nog net die punt van ’n bokstert om die hoek verdwyn. Dit laat hom dink . . . Hy sal haar ook daarop moet wys dat ’n mens nie in ’n hospitaal hardloop nie . . .

Agter sy rug kyk die twee susters half ontsteld na die halfgeëte lekkergoedvis op die bedkassie. “Waar op aarde kom dít vandaan?”

“Natuurlik die ma. Prop die kinders mos vol lekkers tydens besoekure en dan verwag die dokters ons moet dit regkry dat hulle hul kos eet. Gou! Steek dit weg in die laai. Hier kom dokter Horst.”

Die dokter kom langs die bed tot stilstand en beduie met die hand. “Laat hom slaap. Ek kan hom later weer besoek.” Hy draai terug by die deur. “Susters, soms kan ’n lekker ’n hartseer seuntjie meer goed as kwaad doen. Moenie sy halfgeëte vissie weggooi nie. Hy kan dit maar opeet wanneer hy wakker word.”

Die twee verpleegsters gaap hom aan. “Maar, dokter, dis amper etenstyd!” protesteer een spontaan.

“Ek weet, suster,” en sy blik sak af na die klein liggaampie. “Maar waarheen hy op pad is, is daar nie lekkergoedvissies nie. Laat hy maar hierdie enetjie eet.”

“Slaan my dood!” laat die een suster hoor toe hy in die gang verdwyn. “Dokter Julene kry die stuipe as sy moet hoor dokter Horst gee verlof dat ’n kind lekkers voor ete mag kry.”

Die ander frons en haal Frikkie se vissie weer uit die laai, sit dit so dat hy dit kan sien wanneer hy wakker word. “Maar dis soos hy gesê het, suster Scholtz. Waarheen ou Frikman op pad is, is nie lekkergoedvisse te kry nie. Ek stem saam. Hy kan dit maar eet.”

Suster Scholtz draai weg. “Die kinderafdeling vang my soms. Ek wil vra dat hulle my ’n slag na ’n ander afdeling oorplaas.”

Suster Marais knik begrypend. Op die lang duur raak dit te veel vir elkeen wat lank in die kinderafdeling van ’n hospitaal werk. Want dood bly steeds iets wat moeilik geassosieer kan word met ’n kind. Elke keer dat ’n klein liggaampie uitgestoot word na die lykshuis, wil jy protesteer: Maar hy het dan nog nie gelewe nie! Hy het dan nog nie ’n kans gehad nie! Sy sug en volg die ander vrou na die deur. “Ja. Ek het al baie gewens, as ek mense so hoor kla en kerm oor onbenullighede, dat hulle net ’n maand lank in ’n kinderafdeling van die een of ander hospitaal of kliniek kan werk. Dan sal hulle uitvind hulle het nog nooit ’n rede gehad om te kla nie.”

Net buite die kinderafdeling loop die twee dokters mekaar raak. Horst sien haar nie dadelik nie, sy oë peinsend op die vloer van die gang gerig, ’n klein glimlaggie om sy mondhoeke. Dokter Julene kom tot stilstand en beskou hom krities.

Die dag toe sy die Meissner-kliniek die eerste keer binnegestap het, toe sy as volwaardige dokter ontvang is, en nog as Albert Meissner se enigste kleinkind op die koop toe, het sy gedink daar is nou niks meer wat sy van die lewe verlang nie. En toe ontmoet sy Horst Buchner . . .

Sy kon in die twee jaar sedert daardie nag nog nie vasstel of haar skielike verskyning hom regtig nie kon skeel nie. Feit is, hy was dokter Albert se regterhand toe sy so asof uit die niet opgedaag het. Dit is algemeen aanvaar dat hy die leisels eendag by die ou dokter sal oorneem, nie omdat daar enige familiebande is nie, maar bloot omdat hy aan dokter Albert se byna bomenslike standaarde as dokter voldoen. Oor Horst Buchner se bekwaamheid is daar geen twyfel nie, en almal het vanselfsprekend aanvaar dat hy die nuwe hoof van die Meissner-kliniek sal wees wanneer dokter Albert die dag die tuig neerlê.

En toe verskyn dokter Albert se enigste kleinkind op die toneel en alles verander plotseling. Dokter Albert, jare al gewoond aan die gedagte dat hy geen nageslag het wat die moeite werd is om te onthou nie, word skielik op ’n dag gekonfronteer met ’n pragtige, lang meisie met sterk Meissner-gelaatstrekke. Om alles te kroon, lê sy haar bewyse voor hom neer dat sy ook ’n waardige opvolger vir hom in die kliniek kan wees.

Dokter Albert het skielik met ’n probleem gesit. Horst Buchner het so te sê al die versekering van die Godfather gekry dat hy sy opvolger sal wees. Maar nou sit hy met ’n kleindogter wat geregtig is op daardie eer. Sy is vlees van sy vlees en bloed van sy bloed en ’n droom wat jare gelede gesterf het, het weer herlewe: dat ’n Meissner, sy eie nageslag, aan die hoof van die kliniek sal staan wanneer hy die dag nie meer daar is nie.

Die situasie is aan Horst Buchner verduidelik en selfs dokter Albert kon nie deur ’n enkele woord of oogknip agterkom hoe hy werklik oor hierdie nuwe verwikkeling voel nie. Toe die voorstel aan hom gedoen is dat hy en Julene gesamentlik aan die hoof van die kliniek sal staan, het hy hom sonder meer daarby neergelê. Tog het hy, en sy kleindogter, dikwels gewonder wat Horst Buchner regtig in sy hart voel.

Hy is nou byna by haar en die glimlaggie is nog steeds om sy lippe. Julene se oë vernou effens. In die twee jaar wat hulle nou al so intiem saamwerk, het Horst steeds ’n onbekende faktor vir haar gebly. As medikus het sy hom goed leer ken. Sy briljantheid in die operasieteater, sy besondere vermoë vir die regte diagnose, sy bekwaamheid oor die algemeen, het sy leer ken en waardeer. Maar as mens . . . Sy weet die kliniek is onder die indruk dat daar ’n verhouding tussen hulle bestaan, ’n indruk wat sy subtiel aanpor, hoewel sy weet dat sy selfs met behulp van verbeeldingsvlugte en wensdenkery dit nie naastenby ’n verhouding kan noem nie. Weliswaar is sy nie bewus van ’n ánder meisie in Horst Buchner se lewe nie, maar sy moet in alle eerlikheid teenoor haarself erken dat sy haar ook nie so kan noem nie. Horst Buchner stel blykbaar nie belang in ’n huwelik nie. Sy hele bestaan draai skynbaar om die kliniek en sy werk hier. Selfs die kere dat hulle saam uit was, het die gesprekke oor mediese sake gegaan. Hoe sy hom ook al in ’n hoek probeer keer het om iets meer as net professionele belangstelling van sy kant te ontlok, hy het so glibberig soos ’n paling gebly.

Ná twee jaar het sy nou die punt bereik dat sy haar vir hom begin vererg. Dit sal tog ideaal wees as daar ’n verbintenis tussen hulle twee kan wees. Sy as Albert Meissner se enigste nasaat, sal tog immers ook sy enigste erfgenaam wees. En dit sê baie. Horst het wel aandele in die kliniek, maar dokter Albert besit vyf-en-sewentig persent daarvan. En sy kleindogter sal dit eendag erf. Dit kan Horst Buchner net loon om met daardie erfgenaam te trou. Ook, weet Julene, is dit die laaste groot begeerte in dokter Albert se hart. Hy het onlangs weer in daardie rigting gepraat, haar daarop gewys dat dit ’n verlies vir die kliniek sal wees as Horst Buchner moet bedank. Hy moet só verbind word tot die kliniek dat daar nie die vaagste moontlikheid bestaan dat hy ooit sal wil weggaan nie.

Dis nie pertinent gestel nie, maar die onderliggende bevel was tog daar: Jy moet sorg dat jy Horst Buchner vastrek.

Maar hoe?

Sy glimlag nou breed toe hy amper in haar vasloop en laat skalks hoor, ’n stemtoon wat die hospitaalpersoneel beslis nooit te hore kry nie: “Ons is baie diep ingedagte en daardie glimlag lyk asof iemand skielik ’n groot geskenk ontvang het.”

Hy skud sy kop en die glimlaggie verdiep. “Ek sal dit nie ’n geskenk noem nie, maar . . .”

“Maar wat?”

“E . . . nee, niks.”

Sy probeer die glimlag behou maar ’n ligte fronsie keep tussen haar wenkbroue. Daar klap hy weer toe! “Gaan ons netnou ’n bietjie tennis speel?”

“Nee. Ek kan nie. Ek het ’n ander afspraak.”

“O?” Sy wag dat hy moet verduidelik, maar hy is blykbaar nie van plan nie. Haar frons word dieper. “Hoekom kom eet jy nie vanaand by ons nie? Jy weet Oupa sien jou altyd graag.”

“Dankie, Julene, maar nie vanaand nie. Sê groete vir hom. Hou hy hom nog rustig?”

Die ergernis in haar wil oorkook. Hy kan ten minste sê hoekom hy haar uitnodiging nie kan aanvaar nie! “Ja, soort van. Jy ken hom mos. Hy is op die oomblik besig om al wat nuwe hospitaalapparaat is, te bestudeer. Daar is glo ’n nuwigheid by ’n longmasjien wat hom baie interesseer.”

“Goed vir hom en goed vir die kliniek. Die nalees hou hom ten minste stil en as die kliniek later as gevolg daarvan gaan baat, nog beter.” Hy soek uitkoms by die elektriese horlosie teen die muur. “Wel, ek dink dis voorlopig al. Ek hoop ons het ’n rustige nag. Dit het verlede nag ’n bietjie dol gegaan. Ek is van plan om vanaand vroeg te gaan inkruip. Tot siens, Julene.”

Hy stap weg en sy kyk hom agterna. As hy dan van plan is om vroeg te gaan slaap, het hy ten minste nie ’n afspraak met ’n ander vrou nie. Dit troos darem. Sy draai om en stap in die teenoorgestelde rigting om vir haar ’n tennismaat te gaan soek. Horst swenk weg in ’n rigting wat heeltemal weglei van die woonstelkwartiere vir ongetroude dokters. Enkele oomblikke later stap hy die restaurant binne om sy afspraak met ’n sekere sproetgesig parmant na te kom.

Ena Murray Omnibus 37

Подняться наверх