Читать книгу Ena Murray Omnibus 37 - Ena Murray - Страница 8

Оглавление

5

Haar voete dra haar in die rigting van waar die droewige gehuil opklink. Toe sy in die deur tot stilstand kom, sien sy dokter Horst met ’n seuntjie in die arms. Hy doen sy sussende bes, maar die kleinman wil niks weet nie.

Daar is openlike verligting in sy oë toe hy haar gewaar, maar sy stem is kwaai: “Waar bly jy so lank?”

“Ek het dadelik gekom . . .” stotter sy en beweeg nader. “Hoekom huil hy so?” wil sy weet.

“Hy is bang. Dink jy jy sal hom gekalmeer kry?”

“Natuurlik. Gee hier.”

Haar arms gaan uit, maar hy hou terug. “Hy is te swaar vir jou. Ek sit hom op die bed . . .”

“Gee hier! Ek het nie kougom vir spiere nie! Toe nou, boetie! A, ou grootman, kyk, ek het vir jou kom kuier.”

Die kleintjie gewaar dadelik die verskil. Die vrou wat voor hom staan, het nie ’n wit jas aan nie en sy het nie ’n lang naald in die hand nie. Sy lyk amper soos Mamma wanneer sy in die tuin werk met haar blou broek aan. Die handjies steek na haar uit.

“Ek wil na my ma toe gaan!”

“O, jong, maar jy is swaar! O, aarde, maar jy is al ’n grootman. Kom ons sit liewer op die bed, netnou lê ons albei op die vloer.” Sy neem, natuurlik teen dokter Julene se reëls in, op die bed plaas met die seuntjie op haar skoot. “Aardetjie, jong, hoe oud is jy dan al? Vier? Vyf?”

“Ses.”

“Ses jaar oud al! Soveel?” en sy hou ses vingers op.

“Ek is môre-môre ses. Ek verjaar dan,” kom dit gretig.

“Haai, regtig?”

Dokter Horst laat sy oog oor die pasiëntkaart dwaal. “Hy is reg. Hy verjaar regtig oormôre.”

“O, maar dan kan ons partytjie hou! O, dit gaan lekker wees! Ons nooi van die ander kinders en ons kan vir jou presentjies bring . . .”

“Stadig, Elke. Jy praat al weer te vinnig en te baie.”

Sy kyk hom pleitend aan. “Maar kan ons nie maar nie? ’n Mens is net een maal ses en . . .” Haar blik praat klankloos verder: en dit is dalk sy laaste verjaardag . . .

Dokter Horst frons ontevrede. Hy kry die nare gevoel hy word al weer by ’n saak betrek waarteen hy later vure sal moet doodslaan. “Dit hang af wat so ’n partytjie gaan behels,” antwoord hy versigtig.

“Maar natuurlik lekkers en koeldrank en koek en presente . . .”

“Elke, dis siek kinders hierdie!”

Die kennetjie stoot uit en sy druk die lyfie teen haar vas, en onder haar ken kyk die kinderogies geïnteresseerd toe, die trane vergete. ’n Partytjie . . .

“Maar steeds kinders. ’n Mens kan mos die getal kontroleer sodat dit nie te erg daaraan toegaan nie.”

Voordat hy nog kan protesteer, weet hy hy het klaar verloor. “En die presente? Waar moet dit vandaan kom?”

“Ek sal dit koop en opmaak. Nie dat jy iets daarvan sal oorkom om ook ’n rand of twee by te dra nie. Dis immers jóú pasiënt wat gelukkig gehou moet word.”

Hy kry weer die glimlaggie om die mondhoeke. “Is dit soos dit werk? Jy maak die planne en ek betaal daarvoor?”

Sy gee ’n giggeltjie. “Niks op hierdie aarde is verniet nie, dokter Horst. Ek beskou dit maar net as betaling vir my diens­te vandag. Kyk net hier. Hier sit die grootman traanloos en stroopsoet. Ek het gedoen wat jy gevra het. Hy is kalm.”

“Ja, deur ’n kind om te koop en vir my af te pers.” Maar sy oë lag in hare terug.

“O, wel, as ’n mens nie sterk is nie, moet jy slim wees.”

“En jy is slim, juffroutjie. Dit gee ek jou toe. Nou goed, kry wat nodig is en ek sal regmaak. Binne perke, hoor? Veral die eetgoed. Ek wil nie met ’n hele kinderafdeling vol gastro sit nie.” Hy begin vroetel onder sy wit jas. “Of miskien moet ek jou sommer nou ’n paar rand gee, dan is dit klaar. Ek sal eers net moet kyk hoeveel ek by my het. Hmm.” Hy hou ’n paar note na haar uit.

“Dis genoeg. Ek sal bysit as dit nodig is.”

“Jy kan nie . . .”

“Ek kan. Ek vaar nogal goed.”

“Met waslappe en seep?”

“Nee, dokter Wil-als-weet, met tips!” Sy lag hartlik. “Veral in die mansafdelings. Die ooms is nogal ruimhartig. Die tannies is ’n bietjie toehand.”

Hy skud sy kop. “Kry jy regtig fooitjies?”

“Natuurlik! Onthou, ek lewer uitstekende diens met ’n glimlag. Hulle het my nou Sonstraaltjie begin noem, en vir die pasiënte wat rook, is ek sommer die hele son self!”

Hy lag sag, druk die geld in haar hand. “Neem hierdie en sê hoeveel nog kortkom. Gebruik jou fooitjiegeld vir jouself, Sonstraaltjie. En dankie vir jou hulp vandag. Dink jy jy sal weer behulpsaam kan wees wanneer ek oor sowat ’n uur ’n lumbaalpunksie op hom kom doen?”

“Ja. Goed. Maar voordat jy hier inkom, trek tog net daardie wit jas van jou uit. Die kinders dink julle is spoke met jul wit gewade.”

Hy kyk haar vraend aan. “Dink jy regtig dit beïnvloed die kinders?”

“Natuurlik. Die wit jas assosieer hulle met seerkry. Selfs hierdie melkwit verpleegsters is verkeerd. Die oomblik as die kinders ’n wit ding sien, is hulle klaar op hul senuwees. Daar is klinieke in Amerika waar die personeel in die kinderafdeling bont rokke dra. Alle dokters dra informele drag.”

“Regtig?” Sy oë is skielik baie skerp en Elke besef te laat haar glips. “Waar kom jy aan al hierdie kennis van jou?”

“O . . . e . . . iewers gelees,” antwoord sy vaag.

“Dis dokter Albert se idee dat medici wit moet dra. Ek weet daar is baie klinieke wat van die wit uniform afstand gedoen het.”

“Maar hoekom praat jy nie met Oupa hieroor nie? Vertel hom hierdie wit gewade is uit die oude doos.”

“Oupa?”

Sy sluk, kyk onskuldig terug. “Ja. Oupa Albert. ’n Mens noem mos alle ou ooms bokant sestig oupatjie. Jy moet net sê wanneer ek jou ook so moet begin noem!”

Hy grinnik skielik en lyk jare jonger – beslis baie ver van die oupa-stadium af. “As jy darem die loesing van jou lewe wil hê, moet jy vir my begin ‘oupa’. Daardie man op jou skoot is aan die slaap. Lyk my jy het ’n spesiale soort doepa om mense aan die slaap te kry.”

Sy lê die kleintjie versigtig neer, laat hoor: “Ja. Ek wens net dit wou op dokter Julene ook werk.”

Hy maak keel skoon. “Verbode onderwerp daardie, jong dame. Kom. Maak dat jy wegkom voordat sy jou hier betrap . . . en onthou hoe ek jou geleer het hoe om jou te roer sonder om te hardloop.”

“Ek sal my bes doen, dokter,” laat sy sedig hoor, gryp haar trollie en laat spaander met swaaiende agterstewe sodat hy maar net sy kop weer skud, maar met ’n vonkel in die oog.

Toe sy ’n uur later weer haar opwagting in Jannie se kamer maak, tref sy die dokter op die kant van die bed aan, besig om skynbaar net so hard soos die seuntjie met sy motorkarretjies te speel, en sy merk dadelik op daar is geen teken van die lang wit doktersjas nie. Weer moet hy hom op die trolliejoggie se oorredingsvermoë verlaat om die seuntjie sover te kry dat hy die lumbaalpunksie op hom kan doen. Maar met Sonstraaltjie, soos die dokter sê haar naam is, se stokkielekker hard tussen die tandjies vasgebyt, sy handjies styf in hare vasgevat en haar sussende stem wat vertel van alles wat sy vir die partytjie gaan koop, kom hulle wonderbaarlik met die minimum trane deur die beproewing. Dis ’n dankbare dokter Horst wat die palm van sy hand ’n oomblik teen haar wang lê.

“Dankie, meisiekind.”

Tot haar ontsteltenis voel sy hoe die bloed skielik na haar wange stroom en sy beweeg vinnig deur se kant toe, vra, om die aandag van haar af te trek: “Het jy al verlof gekry vir ons partytjie oormôre?”

“Verlof? Van wie?”

“Jy vra nog!”

Hy glimlag en tot haar verbasing knip hy vir haar oog soos ’n stout seun. “Daar is meer as een manier om ’n kat dood te slaan, juffroutjie. Die medehoof van die kliniek doen hierdie naweek diens. Aangesien ek egter volgende naweek dringende sake het, gaan ek haar vra of ons kan ruil.”

“Jou ou doring!”

“Doring? Dit klink nie vleiend nie. Ek hou meer van skattebol.”

Sy lag hom openlik uit. “Dokter, jy raak nou net so parmantig en voor op die wa soos die trolliejoggie!”

Hy grinnik. “Jy is baie aansteeklik.”

Vir ’n kort oomblik glimlag hulle teenoor mekaar en dan draai sy vinnig om, waai tot siens en verdwyn. Dis regtig eintlik ’n sonde dat hy eendag met dokter Julene moet trou.

Dit het eintlik nie so maklik gegaan om naweke geruil te kry soos wat hy wou voorgee nie. Julene was, om dit sagkens te stel, nie in ’n inskiklike bui ná die oggend se episode nie.

“Ek het Jannie se lumbaalpunksie klaar gedoen,” het hy ’n aanknopingspunt gesoek. As hy ’n dankie verwag het, sou hy lank wag. Julene was nie in ’n dankbare bui nie. Hy het net ’n skuins kyk ontvang en teen sy sin moes hy verder: “Ek is jammer as jy die saak so opneem, Julene. Daar was niks persoonliks teen jou gemik nie. Die beswil van die pasiënt is tog altyd hoofsaak.”

Sy het haar arms gevou en hom vas in die oë gekyk. “Niks persoonliks nie, nee. Maar teen my as dokter. Jy dink nie ek is ’n goeie dokter nie, nè?”

Hy moes moeite doen om sy stemtoom egalig te hou. Dit word al moeiliker om hierdie kleindogter van dokter Albert tegemoet te kom. “Daar is niks met jou verkeerd as dokter nie, Julene, maar . . .”

“Maar wat?”

“Maar as mens wel.”

Sy het haar asem ingetrek en haar ooglede het verstyf. “Mag ek weet wat presies jy daarmee bedoel?”

“Ja. Jy het jou opleiding, jy het die kennis om ’n dokter te wees. Maar ’n goeie dokter moet ook ’n mens wees. Hy moet ook deernis en begrip hê.”

Sy het in ’n mate haar selfbeheersing verloor. “Wil jy beweer ek gee nie vir my pasiënte om nie?”

“Nee. Nee, ek weet jy gee om. Ek weet jy gee baie om. Jy wil baie graag mense gesond maak . . . en in die proses sal jy selfs hulle verdomde nekke afbreek as dit jou sal help om dit reg te kry.”

“Horst!”

Die skok en verbystering het naak op haar gesig gelê en hy het amper vir homself geskrik. Goeie genugtig, waar het hy geleer om sommer te sê wat hy dink? Of moet hy liewer vra by wie?

“Jammer, Julene, ek druk dit nou ’n bietjie kras uit, maar feit bly, ’n dokter moenie net met sy verstand en al die kennis wat hy versamel het, sy pasiënte benader nie, maar ook met die hart. Jannie is immers ook ’n mens. ’n Siek seuntjie, ja, maar ook ’n bang seuntjie. Die lumbaalpunksie moes gedoen word, ja. Maar nie terwyl hy besete van vrees vasgedruk word asof . . . asof hy maar net ’n dier is nie.”

Sy het bleek en ontsteld vertoon, haar oë weggedraai en gesluk. “Soos jy dit stel . . . dit klink baie kras.”

“Daar is soms dinge wat maar liewer reguit gesê moet word. Maar dit nou daar gelaat. Ek wil nie post mortem hou nie. Ek wou eintlik ’n guns vra.”

Sy het steeds sy oë ontwyk. “Sê maar.”

“Ek wou vra of ons nie naweke kan ruil nie. Ek sou graag volgende naweek wou vry wees en nie hierdie naweek nie.”

“Hoekom?”

“Dis privaat,” het hy ongemaklik geantwoord.

Sy het vinnig opgekyk en dit het gelyk asof sy op meer besonderhede wou aandring, maar toe net gesê: “Ek het eintlik al reëlings vir volgende naweek getref. Daar is ’n drama in die stad waarvoor ek kaartjies het.”

“Die een oor jeugbendes? Dit speel hierdie naweek ook. As ek vir jou kaartjies vir hierdie naweek kan kry . . .”

Haar lippe het op mekaar gepers. Die bedoeling was eintlik dat sy hom wou vra om haar daarheen te vergesel. Maar hy het blykbaar ander planne. Sy voel skielik ontsettend moeg en kapituleer meteens: “Goed dan. Ons kan maar ruil as jy vir my twee plekke vir hierdie naweek kan kry.”

“Dankie, Julene.”

“Plesier. Ek gaan nou huis toe. Tot siens.”

Toe dit tyd is dat hy ook van diens kan gaan, stap hy eers restaurant toe. Dis so droewig om in ’n leë woonstel aan te kom en vir jouself ’n koppie koffie te maak.

Die trolliejoggie en haar ma is blykbaar ook net klaar met hul dagtaak toe hy binnestap.

Hy knik vriendelik vir die moeder. “Op pad huis toe?”

“Ja. Eintlik nie huis toe nie, winkels toe. Elke moet goed vir ’n partytjie in die kinderafdeling gaan koop.”

“Ja. Ek weet. Het julle vervoer?”

“Ja, dankie. Ek het my motortjie.”

Peet kyk glimlaggend toe terwyl Elke hard besig is om haar kleingeld te tel.

“ ’n Hele sak vol geld vandag!” basuin die trolliejoggie haar geluk uit. “Dit gaan goed, oom Peet!”

Hy skud sy kop glimlaggend. “Ek dink jy toor die ou mans. Jou voorgangers het nooit so goed geld gemaak nie!”

“Is dit alles fooitjies, my kind?” vra haar ma verbaas en ook bekommerd, kyk vlugtig in die dokter se rigting. “Is dit toelaatbaar, dokter?”

“Dat ’n sonstraaltjie bedank word vir die warmte wat sy versprei – en ek praat nie eens van die warmgetrekte pype nie! Natuurlik, mevrou. As die pasiënte voel sy verdien ’n fooitjie, is daar geen rede hoegenaamd dat sy dit moet weier nie.” Hy kyk goedig na die wipneus. “Eintlik is die trollie harde werk. Wat gaan jy met jou fooitjies maak? Lekkers en koeldrank koop?”

“Nee. Ek gaan nog bysit en twee nagrokke koop vir ouma­tjie Lalie in die chirurgiese saal.”

Sy oë word ernstig. “Hoekom?”

“Haar ou nagkleertjies is al vreeslik dun geslyt. Een is al by die mou van die elmboog gestop. Jy kan natuurlik iets bydra as jy wil.”

“Elke! Dis bedel!” sê haar ma geskok.

“Issie! Dis kollekteer vir ’n goeie saak.”

Hy glimlag maar sy oë bly ernstig. “Natuurlik sal ek bydra, maar net op een voorwaarde.”

“Ja?”

“Ek wil eers ’n koppie koffie drink en dan gaan ek saam inkopies doen.”

“Dis twéé voorwaardes,” betig sy.

“Dis twee nagrokke,” verweer hy.

Elke kapituleer. “Goed. Ek sal gou koffie gaan haal, maar jy moet gou drink. Ons moet die winkels nog oop vang.”

“Ek wil nie kafeekoffie hê nie. U maak nie miskien regte, egte boerekoffie nie, mevrou?”

Marlene lag. “Ek maak, dokter! Jy is baie welkom. Ry net agter ons aan.”

Op pad huis toe waarsku Elke: “Ma moenie so oorvriendelik met dié man wees nie. Ons weet nie watter rol hy dalk in hierdie bedrogspul speel nie.”

Marlene frons kwaai. “Hoor ’n bietjie! Ek is bloot net vriendelik. Dis jý wat sommer pront geld by hom bedel!”

“Hoekom nie? Hy kan selfs tien nagrokke koop uit dankbaarheid dat hy dokter Julene se strop tot dusver ontduik het. Hy gaan bars as sy dit eers stewig om sy nek het.”

“Dan is dit ’n uitgemaakte saak dat hulle gaan trou?” vra die ma en laat spytig hoor: “Dis ’n jammerte. Hy lyk so ’n gawe man.”

“Hy is . . . maar ek sou graag wil weet hoeveel hy presies van dokter Julene af weet. Ma kan hom gerus oor koffie pols. Dit sal snaaks lyk as ék uitvra. Wat meer is, hy weet ek het g’n ooghare vir die vroumens nie.”

“Maar hoe dink jy kan hy betrokke wees by die bedrieë­ry?”

“Ek weet nie, maar dis moontlik. Aangesien hy en dokter Julene so dik is . . . O, Mamma, ek weet nie meer wat om te dink nie en ek voel ons vorder geen tree nie!” Die motor kom tot stilstand voor die huis en dokter Horst trek agter hulle in. “Ek kan ook nie begryp hoekom hy skielik wil saamgaan om nagrokke en lekkers en koeldrank te koop nie. As dokter Julene dit moet uitvind, kry sy sweerlik ’n oorval!”

Maar dokter Horst wys glad nie dat hy dit enigsins vreemd vind om saam met die trolliejoggie van die kliniek inkopies te gaan doen nie. Of dat hy hom enigsins kwel oor wie hom dalk mag sien of dat dokter Julene hiervan te hore sal kom nie. Nadat hy sy egte, regte boerekoffie gedrink het, jaag hy haar aan en omseil só die subtiele vrae wat gestel word. Al wat ma en dogter meer van hom te wete kom, is dat hy al drie jaar verbonde is aan die Meissner-kliniek en voordat Julene Meissner se naam nog by die gesprek betrek kan word, is die koppie leeg en staan hy op.

“Is jy gereed? Ons sal ons nou moet roer. Ons ry sommer met my motor. Ek neem aan u het seker nie lus om dié tyd van die dag nog by winkels rond te dwaal nie, mevrou? Is daar iets wat ons vir u kan saambring?”

“Nee . . . of, ja, wag, tog. Ek sal bly wees. Elke, kan jy vir my kyk of jy ’n skaaplewer in die hande kan kry. Ek wil vanaand vir ons lewerkoekies maak.”

“Het u gesê lewerkoekies?”

“Ja. Eet jy dit?”

“Ek het dit laas as kind geëet.”

Met ’n verskonende kyk na Elke kan sy nie anders as om hom te nooi nie, en met ’n tevrede glimlag volg hy Elke by die deur uit. Dit gaan voorspoedig met die inkopies en nadat alles vir die partytjie gekoop is, sê Elke: “Nou nog net die nagrokke. Ek sal gou maak. Ek is nou terug.”

“Hoekom kan ek nie saamgaan nie?”

“Maar . . . gee jy nie om om in die damesafdeling gesien te word nie?”

“Nee, hoekom? Ek werk dan heeldag tussen vrouens in nagklere.” Daar is ’n flikkering in die oë. “Ek behoort eintlik ’n ekspert te wees op damesnagklere!”

Sy glimlag, skud haar kop. “Nou goed dan. Jy kan die nagrokke uitsoek. Maar onthou, oumatjie Lalie is vier-en-tagtig. Sy kan niks doen met die flentertjies goed wat jy hier om jou uitgestal sien nie.”

Hy lag in sy keel. “Hoekom koop jy nie vir jóú een van hierdie flentertjies nie? Jy het mos nog al jou fooitjiegeld,” want hy het natuurlik tot dusver aangedring om vir alles te betaal. Tot die lewer ook.

Sy kyk hom verontwaardig aan. “Moenie laf wees nie. Ek is nie van die kaalbasgarde nie.”

“Nie? Ek dog dan julle tieners is almal . . .”

“Tieners is nié almal eners nie!” protesteer sy heftig.

“Ek begin so agterkom . . . dank die gode daarvoor.” Sy stem klink amper teer.

En terwyl Horst Buchner later behaaglik wegval aan lewer­koekies, fynaartappels en gesmoorde uie, is die atmosfeer glad nie so rustig en ontspanne in die groot herehuis van Albert Meissner nie.

Hy het Julene se rusteloosheid opgemerk en die manier waarop sy sy oë ontwyk. Soos sy gewoonte is, vra hy op die man af: “Iets verkeerd?”

“Nee. Nee, niks nie.”

Die ou man frons. Hy haat dit as mense probeer draaie loop. Reg of verkeerd in ander se oë, hy het nog altyd direk afgestuur op wat hy wou hê of sê. Daardie ding wat hulle takt noem, steur hy hom nie aan nie. Dit het sy nadele ook, maar die voordele is meer. Hoewel van sy pasiënte hom soms te blatant vind, weet hulle immers altyd waar hulle met hom staan, en dit versterk hul vertroue in hom. Dokter Albert draai nie doekies om nie. Hy sal nie vir jou probeer wysmaak jy kan dalk oormôre huis toe gaan as hy goed weet jy kan dalk oormôre in die lykshuis lê nie. Hy sal vir jou presies vertel wat die posisie is en onomwonde stel wat hy van jou eis. En as jy nie bereid is om sy bevele stiptelik te gehoorsaam nie, moet jy betyds padgee uit sy kliniek, want hy het nie tyd om te mors nie. Daar is ander mense wat net so siek of nog sieker is as jy. Mense wat, watter tyd van die dag of nag ook al, weet dokter Albert waak soos ’n beskermengel oor jou en niks, net niks, sal keer dat hy van sy kant af sy alles gee om die dood van jou te weer nie. Daarom het almal wat deur die jare met hom in aanraking was nie net ’n heilige vrees vir hom nie, maar die meeste van die tyd ook ’n slaafse aanbidding en geloof in hom as dokter. Dat daar skandes in sy private lewe was waarmee baie nie kon saamstem nie – soos dat hy sy enigste broer en ook sy enigste seun onteien het – was algemene kennis. Maar dit was as medikus wat die wêreld hom geken en nodig gehad het, en dit was genoeg.

Hy bestudeer nou die mooi jong meisie skuins oorkant hom in die diep leunstoel en frons liggies. Hy beroem hom daarop dat hy ’n mensekenner is, maar hierdie kleindogter van hom kon hy nog nooit heeltemal lees nie. Daar is iets in haar wat vir hom heeltemal ontwykend bly, asof daar ’n deel van haar is wat net sý ken. Dit irriteer hom, veral sedert sy hartaanval. Wanneer die dag aanbreek dat hy die pad van alle vlees bewandel, moet alles afgerond wees. Daar moet geen los drade rondlê nie. Hy moet weet die Meissner-kliniek is in veilige hande. Want die Meissner-kliniek is die monument wat hy vir homself tot stand gebring het.

“Ek kry die indruk dat dit nie so voorspoedig met jou en Horst se gesamentlike gesag in die kliniek gaan nie.”

Sy is dadelik op die verdediging. “Hoekom? Het hy kom kla?”

Dokter Albert se frons verdiep. “Horst Buchner kla nie. Hy stel sy standpunt en klaar.”

“Ek veronderstel Oupa verwys na die rookkamer?”

“Onder andere. Julle twee kon blykbaar nie eenstemmigheid daaroor bereik nie.”

“En toe hardloop hy na Oupa toe.”

Die oë kyk haar stip aan. “Jy klink vyandig. Waaroor het julle nog rusie gehad?”

Sy sug, vee oor haar oë. O, soms wens sy sy het nooit Albert Meissner se kleindogter geword nie! Die eise wat dikwels gestel word . . . “Ons het nie rusie gemaak nie en ek is nie vyandig nie. Ek is net moeg. Ek weet ’n Meissner is nie veronderstel om sulke menslike swakhede te openbaar nie, maar soms vind ek ’n Meissner is ten slotte ook van vlees en bloed gemaak. Dit was ’n harde dag.”

“Dis juis waaroor ek begin wonder – die vlees-en-bloed-storie.”

Haar kop rug omhoog. “Wat bedoel Oupa?”

“Die feit dat ’n vrou eenvoudig net nie die stamina besit wat ’n man het nie.”

“En wat presies beteken dit?”

“Dat ’n man aan die hoof van die kliniek moet staan. Ek weet waarvan ek praat. Ek was veertig jaar lank hoof van hierdie kliniek en ek weet watter eise dit soms stel en dat ’n vrou dit na liggaamskragte bloot nie in haar het om daaraan te beantwoord nie.”

Haar gesig is gespanne in die lamplig. “Wat wil Oupa sê? Dat Oupa my gaan onterf?”

“Nee. Ek het gehoop die gedeelde hoofskap sal uitwerk, veral aangesien ek ook die hoop koester dat julle twee later meer as net kollegas sal wees. Maar dit lyk my jy en Horst kyk na niks deur dieselfde bril nie.”

Sy pers haar lippe op mekaar. “Verwag Oupa dus dat ’n Meissner teen haar sin en beterwete moet kapituleer net om die vrede te bewaar? Dis logies dat ek en Horst nie altyd oor alles sal saamstem nie. Maar Oupa is mos daar om die finale beslissing te vel.”

“Dis juis die punt, Julene. Ek gaan nie altyd daar wees nie. Op ’n dag sal ek nie daar wees om die finale beslissing te gee nie en dis die kliniek wat daaronder gaan ly.” Hy hou haar oë gevange met syne. “Een ding moet jy duidelik verstaan: die kliniek kom eerste, altyd eerste.”

“Ek begryp. Selfs bokant jou eie kleindogter. Oupa het my pa nog nooit vergewe nie, het Oupa?”

“Jou pa is nie nou ter sprake nie. Jy is. En jou toekoms. En die toekoms van die kliniek. Ek gaan nie sit en toekyk dat dit dalk tot niet gaan net omdat ek ’n kleindogter het nie. Ek het ’n groter verpligting teenoor die kliniek as teenoor jou, Julene. Ek het die Meissner-kliniek doelbewus en doelgerig tot stand gebring en opgebou, maar jy het uit eie keuse ’n dokter geword. Ek het dit nie van jou geëis nie. Dis uit eie vrye wil dat jy vandag ’n medikus is, en jy sal moet bewys dat jy die Meissner-kliniek waardig is. Moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar dat jy maar net eendag sal oorneem nie.”

Sy vertoon nou baie bleek. “Horst Buchner is blykbaar reeds waardig genoeg gevind.”

“Ja. Maar ek het nie geweet ek het ’n kleindogter nie en daarom hou ek jou voorlopig in die beplanning van die kliniek se toekoms. Maar dit gaan alles net van jou afhang. As jy en Horst nie oor die weg kan kom nie, nie kan saamwerk tot beswil van die kliniek nie, dan gaan my keuse op Horst val.”

Duideliker kan dit nie gestel word nie. Haar stem is bitter. “Bloed is nie regtig dikker as water nie, nè, Oupa?”

“Die kliniek beteken vir my te veel om my deur sentiment te laat lei. Jy is óf die kliniek waardig óf nie. Dis baie eenvoudig.”

“Baie eenvoudig.” Sy lag kortaf. “Net soos wat u destyds u eie broer weggejaag het ná ’n menslike fout . . .”

Die feit dat die ou man aan die herstel is van ’n hartaanval, kom blykbaar nie by die dokter op nie en Albert Meissner self dink ook nie nou daaraan nie.

“Die menslike fout, soos jy dit noem, het ’n lewe gekos. En wat was die oorsaak van die menslike fout? Die narkotiseur het aan ’n wulpse verleidster staan en dink terwyl sy aandag by sy pasiënt en sy apparaat moes gewees het! Ek was nie bereid om hom oor die hoof te sien en te verskoon bloot oor die sentimentele feit dat hy my broer was nie! En so voel ek vandag nog! Maar dit bring my by die punt wat ek wil tuisbring. Spanning, onenigheid, struweling – noem dit wat jy wil – kan nie tussen twee dokters in verantwoordelike posisies in my kliniek geduld word nie. Jy en Horst vind mekaar op kollegiale vlak en ook in jul persoonlike lewens, of ek moet julle skei.”

“Beteken dit dat Oupa my ook gaan wegjaag . . . net omdat ek Horst Buchner nie sover kan kry om met my te trou nie?”

“Nee. Maar julle kan dan nie gesamentlik baas van die kliniek wees nie. Of julle vind mekaar en trou en is gesamentlik in beheer van die kliniek, óf die een moet eenvoudig ondergeskik wees aan die ander.”

“En dis ek wat ondergeskik moet raak.”

“Soos sake nou staan, ja. Jy het nog baie te leer, Julene. Jy sal dit sekerlik erken. Horst Buchner het al die ervaring wat jy nie het nie. Ek kan hom beslis nie jóú ondergeskikte maak nie. Verstaan jy?”

“Maar te duidelik.”

“Daar is nog iets, Julene. Moenie Horst Buchner hiervandaan probeer verwilder nie. Dis glad nie vanselfsprekend dat jy outomaties hoof van die kliniek sal word as Horst dalk besluit hy gee liewer pad nie. Glad nie.” Hy staan op. “Ek gaan slaap. Nag.”

“Nag, Oupa.”

Sy luister hoe sy voetstappe in die gang afgaan, afdraai en ’n deur toegaan. Dan is daar ’n stem agter haar.

“Jy moet doen wat hy sê, Julene.”

“Al weer staan en afluister.” Sy draai haar kop teësinnig in die rigting van die lang, maer vrou. “Ek weet nie of ek aan sy vereistes kán voldoen nie, Anna.”

“Natuurlik kan jy! Wat bedoel jy?” kom dit skerp.

“Veral daardie een vereiste . . . Ek weet nie of ek dit sal regkry om met Horst Buchner te trou nie.”

Die vrou is ontsteld. “Hoekom nie? Jy het dan self gesê hy is die enigste man wat jy tot dusver raakgeloop het met wie jy sal trou.”

“Ja, maar ek twyfel sterk of ek die enigste vrou is wat hy tot dusver raakgeloop het met wie hý bereid is om te trou.”

Dokter Albert se huishoudster neem eiegeregtig op haar werkgewer se stoel plaas, haar gesig strak. “Jy is jonk, mooi en intellektueel sy gelyke. As jy nie slaag nie, sal dit wees omdat jy nie hard genoeg probeer het nie.”

Die jong vrou se lippe smaal. “Jy moet, behalwe mooi en jonk en slim wees, nóg ’n eienskap hê.”

“Wat is dit?”

“Jy moet ook wulps wees, Anna. Jy weet wat ek bedoel? Of nee, jy sal nie weet nie. Ek is nie so seker of ék weet nie.” Sy lag kortaf. “Ek was al die jare so hard besig om aan my en jou drome te werk, dat ek net die karaktertrekke wat vir ’n dokter nodig is, ontwikkel het en by ander in gebreke gebly het.”

“Hou op onsin praat, Julene!” Die stem is streng. “Jy moet net nie die stoel so vol sit nie. Moenie Buchner teëgaan nie. Wat maak dit saak as daar ’n bietjie pyptabak op die kliniek se blink vloere val? Wat is dit in vergelyking met wat jy kan wen?”

“Ek het ’n dokter geword, Anna, nie net omdat die gedagte van kleins af saam met my babakos vir my gevoer is nie. Ek het ook een geword omdat ek een wóú word . . . en ek wil ’n goeie dokter wees. Dit druis teen al my oortuigings as dokter in dat daar pyp in die Meissner-kliniek gerook mag word!”

Anna snork onverfynd. “Goeie dokter! Jy sal geen dokter wees as jy hierdie kans van jou lewe gaan verbrou nie, Julene. En moenie dan op mý reken nie. Ek sal ook nie daar wees nie!”

Sy laat haar kop tussen haar hande sak toe Anna se ontstelde voetstappe wegsterf. Sy is so moeg, so ontsettend moeg om iets te probeer wees wat sy weet sy nooit werklik kan wees nie: Albert Meissner se kleindogter; Albert Meissner se opvolger. In hierdie oomblik wens sy amper dat die regte kleindogter nou by die voordeur wil instap . . .

Ena Murray Omnibus 37

Подняться наверх