Читать книгу Ena Murray Omnibus 37 - Ena Murray - Страница 5

Оглавление

2

Stilte.

Toe Marlene weer verslae na haar dogter kyk, sien sy die blou oë strak op die ander meisie gerig en sê waarskuwend: “Moenie so openlik staar nie, Elke! Die vrou sal iets agterkom!”

“Wat daarvan? Sy is ’n indringer, ’n bedriegster van die eerste water! Ek is lus en stap sommer nou na haar en stel haar voor al hierdie mense summier aan die kaak! Ek . . .”

“Beheer jou, kind!” Marlene voel haar ingewande bewe van ontsteltenis. Sy ken haar dogter goed genoeg om te weet sy is kapabel en doen presies wat sy dreig. Sy gryp haar dogter se hand oor die tafel met bewende vingers. “Wag eers, Elke! Hier is ’n misverstand. Wie sê die kelnerin het die storie ooit reg? Wat sal sy in elk geval weet van die lewensgeskiedenis van enige van die dokters hier? Sy werk net in die restaurant . . .”

“Ma, daar is kwalik ’n plek waar meer geskinder word as in ’n hospitaal. Vra vir my, ek weet. Die bostelegraaf sal in hierdie kliniek ook oortyd werk. Van die kombuis en was­kamer tot in die restaurant; in die sale en kamers en operasieteaters weet almal alles van almal af. Sy werk in die restaurant, ja, maar sy kon ons met groot oortuiging vertel dat Julene Meissner nie baie gewild is nie en dat sy maak asof sy reeds die baas van die kliniek is. Hier is nie ’n misverstand nie, Mamma. Hier is ’n yslike bedrogspul aan die gang!”

“Nietemin, my kind, ons moet eers meer uitvind voordat . . . voordat jy sommer optree,” keer Marlene desperaat. Haar brein sing.

“Wat wil Mamma meer uitvind?” wil Elke opstandig weet. Marlene kyk desperaat om haar rond asof sy êrens vandaan hulp verwag. Maar in plaas van teen moontlike hulp vas te kyk, kyk sy in ’n paar koel blou oë vas voordat die dokter en haar gesel opstaan en die restaurant verlaat. Twee paar oë volg hulle magteloos.

Die man betaal die rekening en sy sien die ouerige man agter die geldlaai praat glimlaggend ’n paar woorde met hom, maar gee net ’n stywerige kopknik in die blonde dokter se rigting voordat hulle uitstap.

“Daardie man agter die toonbank . . . Hy lyk al ouerig. Miskien is hy al lank hier. Hy sal ons dalk meer kan vertel,” sê Marlene en kyk vraend na haar dogter.

“En hoe gaan Ma die saak aanvoor? ‘Meneer, hier staan Albert Meissner se enigste en ware kleindogter voor jou. Ek behoort te weet, want ek is haar ma. Kan jy my sê hoe dit gebeur het dat die vrou wat nou net hier uit is, daarop aanspraak maak dat sy Albert Meissner se kleinkind is?’”

Skok en senuwees laat Marlene se humeur ook vlamvat. “Moenie verspot wees nie!”

“Ek is nie . . .”

“Ja, jy is, én kinderagtig daarby! Ek verbied jou om . . .”

“Ma, ek wás al mondig!”

“Moet jou dan nie gedra soos ’n kind van sewentien nie!” Dis selde dat Marlene haar humeur verloor. Maar Elke onthou die enkele kere wat dit wel gebeur het, en sy kapituleer.

“Wat gaan ons doen? Ons kan nie die saak sommer net so laat nie, Mamma! Behalwe dat dit ’n skreiende skande en wederregtelik is, is dit ook onvergeeflike bedrog teenoor ’n ou man. Laat hom wees wat hy wil, en laat hy ook hoe verkeerd teenoor Pappa opgetree het, maar hy bly my oupa en daardie vroumens is besig om hom gruwelik te bedrieg!”

“Ja, ek weet, my kind, en ek besef ons kan die saak nie daar laat nie. Maar ons moet eers meer uitvind. En ons moet veral eers kalm word. Ons moet seker wees van al ons feite voordat . . .”

“Ons ís seker van al ons feite, Ma!” wys Elke haar tereg. “Ek het alles wat nodig is, swart op wit, om te bewys ek is oupa Meissner se ware en enigste kleindogter en nie daardie . . . daardie bedriegster nie.”

“Ons ken óns kant, Elke, maar nie die ander kant nie. Ons moet meer van die ander kant uitvind.” Sy kyk weer in die rigting van die toonbank. Die man het nou met ’n koppie koffie of tee by die hoektafel gaan sit terwyl een van die kelners agter die geldlaai oorgeneem het. “Ek het ’n gevoel daardie man sal ons iets meer kan vertel.”

“Wel, ons moet êrens begin; hoekom nie by hom nie? Ons knoop sommer in die verbygaan ’n praatjie met hom aan oor . . . oor die oulike restaurant wat hy hier het, die flinke diens . . . so iets.”

Op hierdie vae voorstel moet Marlene maar reageer en toe sy by die tafel verbykom, knik sy vriendelik en glimlag. “Dankie, meneer. Ek wil u gelukwens met u restaurant.”

Hy glimlag breed terug, lig hom effens. “Dankie, mevrou. Vriendelik van u.”

“Ek moet sê, ek het nie so iets hier verwag nie. Ek het gedink dis maar ’n ou klein kafeetjie wat net die allernodigste aanhou.”

Sy gesig straal. “O nee, mevrou. Ook die restaurant moet by die Meissner-tradisie hou. Net die beste! Daar kom selfs saans mense uit die stad om hier te kom eet,” vertel hy trots.

“Werklik? Dan moet u kos puik wees,” laat Marlene bewonderend hoor.

“En ek hou net die beste Bolandse wyne hier aan,” voeg hy by. “Ons is gelisensieerd ook!”

“Nou werklik! Ek en my dogter moet ’n slag hier kom eet. Dié ou Meissner darem. Hy glo net aan die beste, sê u? Interessante man, nè?”

“Dít kan u weer sê! Ek het al jare lank met hom te doen. Jy kan maar sê ek het saam met die kliniek gegroei en saam met Godfather oud geword!” lag hy.

“Dis werklik interessant!” Marlene kyk haar dogter vlugtig aan. “Ek sou graag meer wou hoor. Die kliniek gryp ’n mens se verbeelding aan. Kan ons ’n oomblik sit, of het u nie tyd nie?”

“Sekerlik! Sekerlik! Dis nie nou so besig nie. Sal u iets saam met my geniet?” vra hy galant toe hulle teenoor hom inskuif.

“Nee, baie dankie. Ons het pas tee gehad. U sê u ken dokter Meissner goed?”

“O ja! Van my kinderdae af. Ek ken die hele geskiedenis van die plek. Albert Meissner het hierdie plek opgebou tot wat dit vandag is. ’n Ou korrelkop en so beduiweld soos die dag lank is, maar as hy nie so was nie, sou die Meissner-kliniek nie vandag so beroemd gewees het nie. Lê hier ook van u mense, mevrou . . .?”

“O, ag ekskuus. Ons het ons nog nie voorgestel nie. Ek is Marlene du Plessis en dis my dogter, Elke.”

“Peet Louw.”

“En jy sê, Peet – ek kan seker maar so sê, nè? – dokter Meissner is ’n kwaai oubaas?”

“Ja. Hy regeer hierdie plek met ’n ysterhand, hoewel die ou nou heelwat minder aktief is, ná sy onlangse hartaanval.”

“Was dit ernstig?” wil Elke vinnig weet.

“Nee. Maar dit was die eerste waarskuwing dat hy nou moet stadig. Hy is ook nie meer ’n kind nie. Die kliniek is sedertdien grootliks onder beheer van dokter Horst Buchner en sy kleindogter.”

“Sy kleindogter . . .?” Onder die tafel vind ma en dogter mekaar se hande. “Ek verstaan hy het net hierdie een kleinkind . . . ’n kleindogter?”

Peet Louw knik en glimlag. “Ja. Dis nou ’n pil wat Godfather maar moes sluk . . . om net een kleinkind te hê en dit nogal van die vroulike geslag! Maar hy het amper glad nie een gehad nie.”

“Ag nee. Hoe so?”

“Ja, dis nou weer ’n ander storie. Die ou man het mos net een seun gehad en die . . .”

Verslae sit en luister ma en dogter hoe hul eie lewensverhaal vir hulle vertel word, amper tot in detail. Die verhaal van Albert Meissner en sy seun en die vete tussen hulle is blykbaar algemene kennis in die Meissner-kliniek.

“En jy sê toe daag die kleindogter sommer op ’n dag hier op? Wanneer was dit?”

“O, omtrent twee jaar gelede. Die feit dat die kleindogter darem toe dokter geword het, het Godfather maar laat besluit om die verlede te vergeet en haar te aanvaar. Sy is natuurlik ook sy enigste erfgenaam.”

’n Kort stilte. Elke waag dit om te vra: “Is hy . . . die dokter Meissner . . . baie erg oor hierdie kleindogter?”

“Ag, jy weet, juffie, met ons Godfather kan ’n mens nooit weet nie. Hy is nie ’n man wat met sy gevoel op sy mou rondloop nie. Maar op die oog af lyk dit of die twee mekaar gevind het. Ja,” en Peet skud sy kop, “Albert Meissner is meer gevrees as bemind by die personeel en tog het ek hom al dikwels jammer gekry, veral ná sy vrou se dood.”

“Hoekom?”

“Hy het dikwels hier ingekom, veral saans, en dan het hy by daardie hoektafeltjie gaan sit – dié een waarby julle gesit het – en dan een koppie koffie na die ander gedrink sonder om met iemand te praat, sy oë net voor hom op die tafel gerig. Daardie tye het die groot Albert Meissner vir my soos ’n eensame, patetiese man gelyk en ek kon nie help om hom jammer te kry nie. Ek is seker hy het aan sy seun gedink . . .die seun wat hy gehad het. Daarom was ek baie bly om sy onthalwe toe die kleindogter op die toneel verskyn en dat sy in haar oupa se voetspore gevolg het – al moet ek sê, ’n mens sou wens dat sy ’n bietjie van ’n ander soort geaardheid gehad het.”

Elke kyk hom vas aan en vra reguit: “Hou u nie van haar nie?”

Peet lyk effens skuldig oor sy geskinder. “Nie juis dat ek nie van haar hou nie, maar sy is nie iemand aan wie ’n mens maklik vat kry nie, as julle verstaan wat ek bedoel. Jy kry mos mense met wie jy sommer dadelik oor die weg kom wanneer julle ontmoet, en dan kry jy weer mense wat vir jou ’n vreemdeling bly, al het jy jare lank met hulle te doen. Nou, Julene Meissner is een van laasgenoemdes. Jy weet nooit hoe jy dit met haar het nie. Daar is altyd ’n soort afsydigheid oor haar, selfs as sy glimlag. So asof sy jou pal op ’n afstand hou.”

Marlene knik. Sy het dieselfde indruk van haar gekry.

“Hoe ’n soort dokter is sy? Goed genoeg om in Albert Meissner se stoel te gaan sit?” vis Elke onbeskaamd.

“Nee, dit weet ek nou nie. Ek het nog nie klagtes oor haar as dokter gehoor nie. Die personeel is nie baie mal oor haar as mens nie. Sy is natuurlik baie streng en vol draadwerk – nes haar oupa. Maar synde ’n Meissner sal sy sekerlik bekwaam wees. Ou Albert sal daarvoor sorg. Hy dril die dokters van die kliniek daagliks en as jy droogmaak, word jy eenvoudig in die pad gesteek. Hy het tot sy eie broer hier weggejaag.”

“Haai, regtig?”

“Ja. Ek kan nie meer alles onthou nie, maar dit het iets te doen gehad met ’n ander vroumens met wie die broer ’n verhouding gehad het en nalatigheid in die operasiesaal. Hy was ’n narkotiseur en hy het blykbaar nie sy volle aandag by sy werk gehad nie en toe Godfather weer sien, sterf die pasiënt onder sy hande op die operasietafel. Die herrie was los. Daar was ’n groot debakel en uiteindelik is sy broer sak en pak sommer in die nag hier weg en hy het nooit weer sy gesig hier gewys nie. Ek het eendag gehoor iemand sê hy is Switserland toe en werk glo daar in ’n kliniek. Feit bly, as Godfather met jou klaar is, is hy met jou klaar. As hy eenmaal vir jou vaarwel gesê het, is dit koebaai vir altyd. Ja, Elsie? Wat is dit?”

“Meneer, Pieter se ma het gebel en gesê hy kan nie meer die trollie vir meneer doen nie. Hy het ander werk gekry.”

“Ag toggie,” sug Peet moedeloos. “Ek sal maar netnou gaan kyk watter kelnerin ek kan afknyp om die trollie te doen. Ek kom nou.”

“Trollie? Wat is dit?” probeer Marlene die gesprek aan die gang hou.

Hy glimlag. “Dis so ’n ekstra diensie wat ek aan die pa­siënte lewer. Hier kom baie mense van ver af wat nie besoekers kry wat vir hulle dingetjies kan gaan koop en bring nie, soos ’n tandeborsel of ’n koekie seep. Nou het ek ’n trollie waarop sulke goed is – waslappe, tandeborsels, gesigseep, poeier, ’n bietjie lekkers, ’n paar dose sjokolade, sulke goed – en dan stuur ek die trollie deur die kliniek. Ek gebruik gewoonlik studente wat vir sakgeld werk, maar dis maar ’n wisselvallige besigheid soos julle pas gehoor het. Sal julle my verskoon, asseblief? Laat ek gaan kyk wat ek aan die probleem kan doen.”

Ma en dogter se oë ontmoet toe hy weg is.

“Ons het heelwat te hore gekom.”

“Ja. Maar dit bring my niks nader aan die vraag wat my te doen staan nie. Ek voel nog steeds lus om summier met die hele sak patats vorendag te kom.”

“Nee, my kind. Nee, ons moet omsigtig te werk gaan, veral ter wille van jou oupa. Hy het reeds ’n hartaanval gehad en ons weet nie hoedanig hy al daarvan herstel het nie. Ek wil nie ’n mens se dood op my gewete hê nie.”

Elke frons, knik. “Ek het nie so ver gedink nie. Dit sal seker vir hom ’n geweldige skok wees as hy van die bedrog moet uitvind, veral as hy miskien nog al sy drome om hierdie vals kleindogter gebou het. Dit kan gevaarlik wees vir sy gesondheid. Maar hoe kan ons te werk gaan, Mamma? Ek sien ook regtig nie kans om net terug te staan sodat iemand anders voortgaan om mý rol hier in die kliniek te speel nie!”

“Nee, natuurlik nie, maar ons sal die saak eers baie goed moet oordink. Kom ons ry maar eers.”

Dis twee rustelose vroue wat daardie aand doenig is in die kombuis. Hoekom hulle ook moeite doen om iets voor te berei, weet hulle self nie. Nie een voel tog na eet nie. Teen slapenstyd is albei suf gedink en nog niks nader aan ’n oplossing nie.

“Ek sien steeds geen ander manier as om Oupa en daardie vroumens openlik te konfronteer met my bewyse nie. Dalk moet ek na ’n prokureur gaan en alle besonderhede aan Oupa laat pos. En dan maar kyk wat gebeur.”

Marlene frons. Tot ’n paar uur gelede sou sy verkies het dat haar kind van hierdie Meissner-manie, soos sy by haarself daarna verwys, sal afsien en totaal van Albert Meissner en sy kliniek vergeet. Maar noudat hulle daar was en gehoor het wat hulle gehoor het, het die prentjie skielik verander. Toe haar oë op die imposante kliniek val, het Marlene besef dat dit inderdaad haar dogter se erfenis is. Elke is immers Albert Meissner se enigste nasaat. Maar nou het iemand anders, ’n indringer en bedrieër, haar dogter voorgespring en sy is van plan om koel en kalm met wat Elke se regmatige erfenis is, weg te loop. Dit is eens te veel. Om haar voor te doen as Albert Meissner se enigste kleinkind, is verregaande. Dieselfde determinasie wat in haar dogter is, het ook in die moeder begin groei. Nee a, wat darem te erg is, is te erg!

“Nee, Elke. Nie een van hierdie planne van jou gaan werk nie. In die eerste plek hou dit steeds gevaar vir jou oupa se gesondheid in. En in die tweede plek ken ons nie jou oupa nie. Ons weet nie hoe hy sal reageer as hierdie ding op die lappe moet kom nie.”

Elke kyk haar ma verontwaardig aan. “Maar hy sal die waarheid móét aanvaar as al die bewyse voor hom lê, Ma! Hy sal nie ’n keuse hê nie!”

“Ja, Elke, maar hy is nog steeds nie verplig om jóú dan te aanvaar nie. Het jy al daaraan gedink? Vir die tweede keer sal sy wêreld aan skerwe lê. Jou pa het dit reeds een keer opgebreek. Nou het hy sy hart miskien op hierdie meisie gesit en skielik kom jy en ontwrig weer eens sy lewe. Dit gaan ’n vreeslike debakel veroorsaak, my kind. Besef jy dat ’n mens dit kwalik vir die publiek sal kan wegsteek? Elke koerant sal dit uitbasuin. Hulle gaan die hele ou geskiedenis ook weer oprakel. Ek het ’n vermoede jou oupa gaan jou nie dankbaar wees nie. Ek dink hy sal, nadat hy die onomstootlike feite aanvaar het, só kwaad wees dat hy nie net die vals kleindogter nie, maar ook die egte kleindogter die deur sal wys. Hy is blykbaar ’n onvoorspelbare mens. Wat gaan dit jou help om alles op die lappe te bring en hy reageer so? Jy sal niks wen nie, my kind. Inteendeel.”

Elke lyk na aan trane van moedeloosheid. “Maar wat gaan ons dan dóén, Mamma?” roep sy uit.

“As ons net nader aan die situasie kan kom . . . Ek bedoel, in die binnekring kan indring. Miskien kan ’n mens iets daar optel.”

“Maar hoe gaan ek dit regkry? Ek kan kwalik daar instap en sê ek is dokter Elke Meissner en ek wil daar werk, asse­blief. Hulle sal tog onmiddellik wil weet van watter Meissners ek is. Wat antwoord ek dan? Of moet ek ook bedrog pleeg en my naam op my sertifikate vervals?”

“Moet tog nie laf wees nie!” roep Marlene vererg uit.

“Ek weet!” Elke spring op. “Ma, ek het dit! Ek het dit!”

Marlene lyk verward. “Wat het jy?”

“Die oplossing! Hoe om daar in te kom! Ek, Mamma, gaan vir Peet sy trolliediens in die hospitaal doen!”

“Wát?”

Elke lag sommer hardop van opgewondenheid en verligting. “Ja! Só sal ek in die sale en gange kom en miskien iets te hore kry . . . Ma, dis die enigste manier!”

Marlene skud haar kop verdwaas. ’n Volwaardige kinderarts wat jare lank gestudeer het wat nou trollies met waslappe en seep en lekkers rondstoot. “Ag, jy is seker verspot! Dis te belaglik vir woorde!”

“Wat anders dan? Kom, sê my? Watter plan is daar?” Stilte. “Ma, wat is so vreeslik aan my voorstel? Ek gee nie om om ’n trollie rond te stoot nie, nie as ek iets daardeur gaan bereik nie. Ma het reg. Ek moet nader aan die betrokkenes kom. Ek moet die vroumens, en haar gesante wat haar miskien help, goed deurkyk en ek moet my oupa ook leer ken. Dit kan ek nie van buite af regkry nie. Ek moet in die kliniek kom en ek gáán, al is dit met ’n lekkergoedtrollie!” sê sy vasberade.

Marlene se wind is uit haar seile. Elke is sowaar ernstig! “Maar my kind, hulle sal dwarsdeur jou sien. Jy sal agterdog wek . . .”

“O? Hoekom? Ek word dan heeldag aangesien vir ’n tiener?” Sy swaai met die hand. “Gee my vyf minute. Bly sit Ma net daar waar jy nou sit. Moenie roer nie. Ek is nou terug.”

Sy trippel die kombuis uit en Marlene skud haar kop. Soms vind sy dit self moeilik om te glo Elke is al afgestudeer! Vier minute later rek haar oë. ’n Jong dogter staan voor haar. Die gesiggie is sonder enige teken van grimering en die sproete staan vrolik op die wipneus uit. Die hare is agteroor gekam met ’n middelpaadjie en twee geel strikke hou die twee boksterte uit mekaar.

“Waar kom jy aan daardie strikke?” vra Marlene verdwaas.

“In die bêrelaai gekry. Ou linte wat in ’n rangskikking was. Dis al wat ek kon kry. Hoe lyk ek vir Ma?”

Sy draai in die rondte. Die stywe jeans span om die agterstewetjie en eindig in ’n paar wit sokkies en tekkies. Toe sy terugdraai, begin Marlene teen wil en dank lag. “O, my kind, jy lyk . . . presies tien!”

“Ag, nee, kom nou, Mamma! Dis darem nie só erg nie!”

“Goed dan. Sewentien – maar nie ’n dag ouer nie!” Marlene skud haar kop, haar oë teer van liefde. “Elke, dit voel vir my ek moet jou ook vra om jou sertifikate te gaan haal en vir my te kom wys. Jy ’n kinderarts? Gaan speel!”

Elke lag hartlik. “Ek verseker u, mevrou, ek het my papiere!” Dan gaan sy langs haar ma sit en slaan ’n arm om haar skouers. “Mamma sal my help, nè?”

“Natuurlik, my kind. Mamma het nog altyd, het ek nie?”

“Ja. Dankie, Mamma . . . vir alles. Ek is lief vir jou.”

Marlene sluk swaar en sê laggend om die emosie in haar te verberg: “Haal tog net eers daardie linte uit jou hare. Jy lyk te potsierlik vir woorde!”

Elke trek die twee boksterte laggend los. “Ek sal môre vir my rekkies gaan koop. Maar nou eers . . . Wat gaan ons vir oom Peet sê? Sommer net dat ek ’n los joppie soek?”

Marlene frons. “Ja, dis ’n probleem. Oom Peet lyk my ook maar lief vir praat. Sal ons dit kan waag om hom in ons vertroue te neem?”

“Nooit! Dis te gevaarlik. Dié ou lyk my lief vir skinder. Onder geen omstandighede mag iets uitlek voordat ons weet presies wat aan die gang is nie.”

“Ja. Dit sal die verstandigste wees. Elke . . .” Marlene kyk haar dogter skuldig aan. “Vergewe my dat ek so iets kan dink, maar . . . sedert ’n paar uur gelede ry die duiwel my bloots. Die mees fantastiese en onmoontlike moontlikhede het al deur my kop gegaan.”

“Wat bedoel Ma?”

“Ek bedoel . . . sê nou maar . . . sê nou maar net daardie ander meisie is werklik ’n kleindogter van jou oupa?”

“Ma? Wat praat Ma nou? Is Ma dan nou die kluts heeltemal kwyt? Ék is my oupa se kleindogter, maggies! Ma behoort te weet! Ma het vir my in die wêreld gebring, genugtig!”

“Ja, my kind, natuurlik. Maar . . . jy is dalk nie jou pa se enigste kind nie . . .”

“Ma!” Elke se bene swik onder haar en sy gaan sit weer. Haar oë is soos twee albasters en die sproete op haar neus is nog opvallender in haar bleek gesig.

“Ek bedoel . . . sy kan dalk ’n wilde saad wees wat jou pa in sy jong dae gesaai het . . . Ag, my kind, ek is jammer . . .”

“Ma praat nou twak,” kom dit onomwonde. “Julle twee was op universiteit vas gekys. Hoe kon hy dan ’n ander meisie . . .?”

“Jou pa was reeds drie jaar op universiteit toe ons mekaar ontmoet het,” wys haar ma uit en wens dat sy liewer stilgebly en haar duistere vermoedens vir haarself gehou het.

Elke se gesig straal haar teleurstelling en ontevredenheid baie duidelik uit. “Ma praat nie sulke goed van my pa nie,” laat sy lojaal hoor. “Ek was baie lief vir hom.”

“Ek ook, my skat, maar ’n mens is ’n mens en . . . O, goed, ek is jammer. Dis maar net die duiwel wat hier op my skouer kom sit en leuens in my oor fluister. Maar dit is ’n moontlikheid,” hou sy koppig vol. “Daarom dat dit goed is dat ons dinge eers deurkyk en agter die waarheid kom voordat ons na jou oupa toe gaan. Ons moet eers uitvind wie hierdie meisie werklik is en hoe sy sover kon kom om haarself as Albert Meissner se kleindogter te presenteer. Ek is net bang ons kom by jou oupa aan met ons storie en hy lag ons uit.”

“Hoekom sal hy ons uitlag?” wil Elke bot weet. Ten spyte van haar heftige teenkanting, bly haar ma se teorie haar pla.

“Omdat hy al die tyd ten volle bewus was van die feit dat Julene Meissner ’n buite-egtelike kind van sy enigste seun is en dat ons hom nie gaan skok wanneer ons hom konfronteer nie. Natuurlik sal hy nie aan die wêreld verkondig dat sy Fritz se dogter buite die huwelik is nie. Hy sal haar net as sy kleindogter aan die wêreld voorstel; verdere persoonlike besonderhede gaan niemand aan nie. En die wêreld aanvaar vanselfsprekend dis die kind wat uit Fritz se huwelik gebore is.” Sy skud haar kop en sê weer skuldig: “Ek doen jou pa se nagedagtenis seker nou ’n groot onreg aan. In my hart weet ek dis nie waar nie. Maar ek is so verward op die oomblik, Elke! ’n Mens weet regtig nie wát om te dink nie!”

“Ek verstaan, Mamma. Ek weet self nie wat om van hierdie situasie te dink nie, maar ek gaan uitvind hoe die vurk in die hef steek. Maar om terug te kom tot oom Peet . . . Ek het ’n plan. Ek gaan hom vra om my die trolliediens te laat doen, omdat ek beoog om verpleegster te word, maar nog nie so seker van my saak is nie. Daarom wil ek eers die wêreld van die verpleegster goed deurkyk voordat ek finaal besluit.” Sy frons toe sy haar ma se skerp blik ontmoet. “Ek dink dis ’n puik plan. Ma het netnou gesê ek lyk nie ’n dag ouer as ’n matriekmeisie nie.”

“Nee, jy sal maklik vir ’n matriekleerling deurgaan. Waaroor ek bekommerd is, is dat ek vandag eers ontdek hoe maklik en seepglad die dogter wat ek so reg probeer grootmaak het, leuens kan fabriseer.”

Elke lag, lyk tog effens skuldig. “Ma, dis ’n noodgeval!”

“Almiskie!”

Dan meng hul lag en Elke sê: “Almiskie se voet! Dis almiskie of ek gaan toelaat dat iemand anders wegloop met wat myne is en ek moet droëbek staan en toekyk.”

“Elke! Jou taal!”

Die blou oë dartel. “Ag, Ma, dis soos die tieners van vandag praat! Dit help nie ek lyk soos een en ek klink soos Metusalag nie!”

Marlene sug en gooi haar hande in die lug. “Dis een van die groot nadele in die lewe om ’n slim kind te hê. Hulle het vir alles ’n antwoord gereed. Maar jy gaan nie begin lelik praat nie!”

“Haai, nee, Ma! Ma’t my mos nie so grootgemaak nie!”

Maar toe hulle die volgende oggend weer voor die Meissner-kliniek stilhou, voel nie een meer in ’n luimige bui nie. Marlene voel onrustig en Elke voel verspot. As een van haar klasmaats haar nou moet sien . . . Sy kan al hoor hoe brul hulle soos hulle lag. Veral daardie Jan Swanepoel. Hy was altyd die voorste terggees. Dis hy wat haar die simpel bynaam van Baba gegee het. Al haar gedreig met koelbloedige moord het geen hond haaraf gemaak nie en Baba Meissner het sy gebly tot hulle die dag hul finale eksamen afgelê en uitmekaar gespat het.

Sy onthou ook dit was hy wat met gereelde tussenpose by haar verneem het of sy regtig nie familie van dié Meissner is nie. Tot vervelens toe en tot groot ergernis het sy hom oor en oor verseker sy is niks van Albert Meissner nie.

“Jy moet wees. Dié van is nie so volop in die land nie,” het hy altyd teruggekap.

Met blitsende oë en wippende sproete – wat snaakse dinge aan die jongmanshart gedoen het – het sy hom probeer fnuik: “Ek het jou reeds gesê ek stam uit dié Meissner wat ’n oujongkêrel was.”

Sy het nie geweet hy móés eenvoudig weer daardie sproete sien dans nie. “Nou maar, eg of oneg, jy is familie!”

“Moenie simpel wees nie, Jan Swanepoel! Daar was ’n rede hoekom hy ’n oujongkêrel was.”

“O? Wat?”

“Hy was impotent.”

Sy is hartlik uitgelag. “Oho, nè? En hoe kon hy dan sy wilde hawertjies saai? Jy beter gaan leer, my meisie. Ons skryf môre toets oor geslagsvoortplanting en jy, kom ek agter, ken nie die ABC daarvan nie.”

Sy het hom uit die hoogte aangekyk. “Simpel! Dit was maklik. Ek was ’n proefbuisbaba!”

“O, regtig, nè? Dan moet jy nou eers in jou tienerjare wees, want dis min of meer toe die eerste proefbuisbaba die lig gesien het. Jy weet niks . . .”

“Ag, wat weet jý, Jan Swanepoel? Kunsmatige inseminasie is al deur die ou Romeine toegepas.”

“Op diere, ja.”

“En wat is die mens anders as ’n dierlike spesie? En jý is natuurlik een van die beste voorbeelde daarvan!”

Elke skud haar kop en glimlag nou. Arme Jan! En tog was hy een van die uitblinkers in hul groep. Daarom dat hy so geweldig in Albert Meissner belanggestel het. Hy het ook ’n droom gehad . . . dat hy eendag miskien, net miskien, in die Meissner-kliniek sal kan beland, want hy het ’n grenslose heldeverering vir Albert Meissner gehad. Arme ou Jan, hy kan maar daardie droom op sy magie skryf en met sy hempie afvee, soos wat sy dalk met haar droom ook sal moet doen. Haar blik lig na die naam in versierde letters bo die hoofingang.

“Elke, wil jy nog voortgaan?” vra haar ma weer en sy ruk haar gedagtes onder beheer.

“Natuurlik. Kom.”

Peet Louw groet hulle vriendelik toe hy hulle herken. Dan verstyf sy glimlag effens toe hy Elke goed bekyk. Ai, vandag se kinders tog! Gister het sy so gaaf gelyk en kyk hoe lyk sy vandag. Die kinders van vandag trek darem ook heel anders aan as in sy jong dae. Toe was die meisies altyd vol frilletjies en valletjies en strikke, kompleet soos versiersuikerpoppies. ’n Mens wou net vat en lek aan die goedjies. Maar deesdae . . . Hier kom soms meisies in aan wie hy nie eens met ’n tang sal vat nie, wat nog te sê probeer lek. Maar hierdie dogter is ten minste skoon. Die blonde hare met die effense rooi skynsel staan nou wel half snaaks in twee poniesterte by haar ore verby, maar dis blinkskoon. So ook die gesiggie. Sy is ten minste nie beplak soos party van die tieners wat soms kompleet soos bloukopkoggelmanders lyk nie.

“Dis gaaf om julle weer te sien. Hoe gaan dit?”

“Baie goed, dankie, Peet,” glimlag Marlene. “Is jy baie besig of kan ek jou ’n oomblik spreek, asseblief?”

Hulle neem weer by die tafeltjie van die vorige dag plaas en sonder meer stel Elke haar saak self.

Peet Louw lyk verlig en dankbaar. “Dogter, jy help my uit ’n penarie, anders moet ek elke keer ’n kelnerin afstaan vir die trollie en ek het juis ’n tekort aan personeel.” Hy lyk ver­skonend. “Ek is jammer, maar ek sal jou nie veel kan betaal nie.”

Elke is so dankbaar dat dit op die punt van haar tong is om te sê sy sal dit verniet doen. Net betyds onthou sy sy is veronderstel om ’n tiener te wees en tieners het altyd geld nodig.

“Dis alles reg, oom. Ek is maar te bly om ’n ietsie te verdien en veral om die geleentheid te kry om te kyk wat alles hier aangaan.”

“Gaaf dan, dogter. Wanneer kan jy begin?”

“Sommer vandag nog, oom. Ek is mos nou hier en ek het niks anders om te doen nie.”

Nie lank daarna nie is die nuwe trolliejoggie van die Meissner-kliniek gereed en sy wuif haar ma vrolik tot siens. Marlene kyk haar agterna en skielik is daar ’n knop in haar keel. Om darem te dink hoeveel sweet en opoffering dit gekos het om haar kind geleerdheid te gee en hoeveel jare se harde studie agter daardie skraal ruggie lê . . . en om haar nou so te sien wegstap om waslappe en lekkers en tandepasta te gaan verkoop. Dis meer as wat ’n moederhart kan verduur.

’n Simpatieke stem klink langs haar op. Peet Louw het die skielike blink in die ma se oë gesien. “Ja, Marlene, hulle word vinnig groot. As hulle eers klaar is met skool, dan is hulle uit jou hande. Het sy vanjaar klaargemaak?”

Marlene ruk haar reg, aarsel en antwoord versigtig, want openlik lieg, dit wil sy darem ook nie: “Ja. Sy het vanjaar klaar gestudeer. Die gode weet wat vorentoe wag.”

Hy knik begrypend. Hy is self die pa van twee dogters “ ’n Mens hoop en bid maar alles sal uiteindelik goed uitwerk.”

“Ja. Dis al wat ’n mens kan doen – hoop en bid dat alles sal uitwerk.” Sy kyk hom vraend aan. “Jy het gesê jy sit op die oomblik met ’n tekort aan personeel?”

“Ja. As ek net een het wat die administrasie van my skouers kan afneem. Dit hou my so besig.”

“Maar miskien kan ek jou help. Ek is op die oomblik ledig. Nie dat ek dink ek is ’n vreeslike boekhoudster nie, maar as dit nie te ingewikkeld is nie . . .”

Hy straal behoorlik. Hy het nog altyd ’n broertjie dood gehad aan administrasie. “Ek sal jou ewig dankbaar wees. As ons net eers die spul fakture gesorteer kan kry . . .” Hy kyk haar skuins aan. “Maar sal jou man nie dalk . . .?”

“Ek is ’n weduwee en my tyd is my eie. Kom, kom wys my daardie fakture van jou.”

Sy glimlag meewarig teenoor haarself toe hulle die restaurant binnestap. Of Albert Meissner hiervan gaan hou of nie, maar sy skoondogter én sy kleindogter het pas hul deel in die Meissner-kliniek begin doen, al is dit nou ook waslappe verkoop en fakture sorteer. Feit is, hulle werk by die Meissner-kliniek. Sy lag amper hardop. Hulle is deel van die Meissner-mafia – uiteindelik!

Ena Murray Omnibus 37

Подняться наверх