Читать книгу Ena Murray Keur 3 - Ena Murray - Страница 5
2
ОглавлениеKaptein Pierre vind gou uit dat Hercule Cordier nie ’n leuen vertel het nie. Daar is geen buit op die Hercule nie. Dit laat sy kommer styg. Dit wil lyk asof hierdie groot skip met sy opgeleide soldate sommer doelloos op die oseane rondgevaar het. Dit vervoer geen vrag of passasiers nie.
Volgens sy kaptein was dit na geen besliste bestemming op pad nie. Maar dit was op soek na iets – of iemand. Kaptein Pierre is seker dié iemand is gevind. Hy is oortuig daarvan dat kaptein Cordier na hom en die Seekat op soek was. Maar daar is nog iets waarna hy verwys het. Iets wat hy in sý besit het. Maar watter een van die baie besittings wat ’n seerowerkaptein deur die jare buit, kan dit wees? En hoe sou Hercule Cordier van plan wees om dit in die hande te kry?
Onderwyl kaptein Pierre op die Hercule inspeksie doen, loop Hercule Cordier weer die “kind” op die dek van die Seekat raak. Hierdie keer is die gesiggie egter skoon en die skraal gestaltetjie geklee in ’n stywe swart langbroek en ’n wye pofmoubloes. Die lang hare is netjies gekam en lê in sagte, vleiende golwe oor haar skouers. Die eerste keer vandat hulle mekaar op so ’n dramatiese wyse ontmoet het, het hulle tyd om mekaar goed te beskou.
Kaptein Pierre het toestemming gegee dat Hercule Cordier sy klere van sy gebuite vaartuig mag laat oordra. Hy is nou weer netjies geklee, soos dit die kaptein van ’n skip betaam. Tot Zonika se ergernis merk sy op dat hy geensins lyk soos ’n man wat oorwonne is en in die hande van gevreesde seerowers geval het nie. Waar hy voor haar staan met sy vierkantige skouers, kop hoog en oë koel en uitdagend, lyk dit eerder asof sy die gevangene is. Sy swart hare is netjies agter sy kop met ’n strikkie saamgevat en die hande wat liggies op die reling rus, lyk soos dié van ’n adellike. Hulle behoort beslis nie aan ’n man wat harde handearbeid verrig nie.
Hercule Cordier beskou weer met aandag die meisie wat nog met dieselfde parmantige houdinkie van netnou voor hom staan. Hy moet toegee dat die meisie wat hy as ’n blote kind aangesien het, geensins so jonk is as wat dit aanvanklik vir hom voorgekom het nie. Hy merk onwillekeurig die rondings van haar borsies en trek sy asem stadig in.
’n Effense glimlag speel om sy lippe. Geen wonder sy wou sy kop afbyt toe hy haar gestuur het om met haar poppe te gaan speel nie! Hy kan die versoeking nie weerstaan om haar te terg nie. Hy moet daardie donker oë weer sien flits van woede.
Hy buig nou galant en sê met ’n onskuldige stem: “Verskoon my, mam’selle. Ons het nog nie ontmoet nie. Ek is kaptein Hercule Cordier van die Hercule.”
Zonika se oë blits – soos hy verwag het.
“U bedoel seker u wás kaptein van die Hercule.”
“O, nee, ek is, mam’selle. Ek is. Daar is maar net ’n tydelike onderbreking solank kaptein Pierre my op sy skip onthaal.”
“O, werklik? Ek moet sê, dis die eerste keer in my lewe dat ek hoor dat ’n gevangene eintlik ’n geëerde gas is. My vader …”
’n Kreun van sy kant af laat haar swyg en verbaas vra sy: “Wat skort nou?”
“Ek is jammer, mam’selle. Dis net die skok …” Hy glimlag verskonend.
“Skok? Watter skok?”
“Die skok toe dit tot my deurdring dat u en daardie … e … barbaar susters moet wees. Ag, dis vreeslik om net daaraan te dink dat u onder so ’n las gebuk moet gaan.”
Zonika se gesig is ’n prentjie van verwarring.
“Van watter barbaar praat u, monsieur?” vra sy op haar kilste.
“Ek praat van u sussie, daardie kind … u weet. Hoe sal ’n mens haar nou noem? Sy is seker nie heeltemal normaal nie. Ag, maar u moet u nie te veel ontstel daaroor nie. Sulke dinge gebeur selfs in die beste Franse gesinne ook,” probeer hy ernstig troos toe sy hom ontsteld aankyk.
Dan sluit haar ferm lippies nog fermer saam en sy laat nie op haar wag nie.
“Ek weet, monsieur.” Haar blik dwaal kil oor hom. “Ek stem met jou saam. Sulke dinge gebeur in die beste Franse gesinne.”
“Ek is bly dat u u so berus in u lot,” glimlag hy simpatiek. Dan kyk hy vlugtig oor sy skouer. “Maar waar is sy nou? Julle hou haar seker meestal agter slot en grendel, dan nie?”
“En waarom sal ons dit doen?”
“O, maar sy is ’n gevaar, ’n absolute gevaar. Afgesien daarvan dat sy onverantwoordelik is met wapens, kan ’n mens allerhande … e … kieme kry. Sy was so ontsettend … vuil … toe ek haar gesien het.”
Zonika is sprakeloos. Gelukkig maak kaptein Pierre op daardie oomblik sy verskyning, anders sou sy haar miskien wel soos ’n “barbaar” gedra het. “Ek is werklik jammer dat ek geen buit vir u het nie, mon capitaine. Dit is mos al waarin seerowers belangstel, of hoe?” Hercule lag sag en tartend en sy stem klink innig spyt.
Kaptein Pierre is nie so ’n verharde seerower dat hy die stekie glad nie voel nie. Hy frons en sê dan: “Sal ons na my kajuit gaan? Daar is ’n sakie wat ek met u wil bespreek.”
Die twee mans is blykbaar onbewus van Zonika toe hulle wegstap. Albei se gesigte is stroef en hulle kyk mekaar vas aan toe hulle teenoor mekaar in die kajuit te staan kom. “Goed, Cordier. Gooi jou kaarte oop. Wat wil jy van my hê?” Kaptein Pierre se stem klink bars, amper uitdagend. Die beleefde u-aanspreekvorm laat vaar hy nou ook heeltemal.
“Het ek gesê ek wil iets van jou hê?” Ook Hercule het besluit genoeg is genoeg. Die tyd vir beleef wees, is verby.
“Ek is nie onnosel nie, Cordier. Jy was op soek na my, nie waar nie? Anders sou jy nie so blatant op my afgepyl het nie. Waarna soek jy?” Die seerowerkaptein klink openlik ongeduldig.
“Dis ’n moeilike vraag om te beantwoord. Ek is jou gevangene. As ons op gelyke voet kan verkeer, sal ek jou miskien kan sê. Is dit die rede waarom jy my nog nie doodgemaak het nie?”
“Sou jy mý doodgemaak het as jý die oorwinning behaal het?”
“Nee. Ek sou nie. Altans, nie dadelik nie.”
“Nie voordat jy geweet het wat jy wou weet nie, of gekry het wat jy wou hê nie, nè?”
“Ja.”
Kaptein Pierre kyk hom fronsend aan. “Ek kan nie dink waaragter jy is nie.” Dan verskerp sy blik. “Is dit miskien … Zonika?” Hercule Cordier gooi sy kop agteroor en lag hartlik.
“Werklik, kaptein, ek glo dat u seker graag van haar ontslae sal wil raak, maar ek stel regtig nie belang nie. Nee, dis nie dit nie.”
Waar Zonika net buite die deur staan en skaamteloos die gesprek afluister, kners sy op haar tande. So ’n verwaande bees!
“In daardie geval moet jy agter die een of ander van my skatte wees. In watter stuk buit van my stel jy so belang?” hoor sy haar vader vra.
“Ek het reeds gesê dat dit vir my onmoontlik is om u vrae te beantwoord, kaptein. Eendag, wanneer ons mekaar weer ontmoet, sal u dit wel te wete kom.”
“En wat laat jou dink daar sal ’n eendag wees? Ek kon jou al aan die einde van hierdie geveg laat sterf het. Wat laat jou dink jy sal hierdie skip lewend verlaat?” Kaptein Pierre se oë vernou.
“Jy sal my nie doodmaak nie, kaptein. Net so min as wat ek jou nou sal doodmaak. ’n Dooie man kan nie praat nie.”
Kaptein Pierre weet die jong man het gelyk. Hy sal sy gevangene nie doodmaak nie. Sy nuuskierigheid is geprikkel. Hy wil eers weet waaragter hierdie man is voordat hy hom om die lewe bring. Maar hy weier om te praat!
“Verduiwels, Cordier! Jou lewe is nie ’n honderdste van ’n frank werd nie. Maar daar is maniere om jou te dwing om my vrae te beantwoord.”
Hercule Cordier snap wat hy bedoel, maar die ou seerowerkaptein soek vergeefs na tekens van vrees op die manlike gesig.
“Ek is nou jou gevangene, kaptein. Jy kan natuurlik met my doen wat jy wil, maar jy moet net in gedagte hou dat daar ’n dag sal aanbreek dat die bordjies verhang sal word. Alles wat jy aan my doen, sal aan jou teruggedoen word. Miskien nie direk nie, maar wel indirek. Jy het nog ’n dogter wat jou skuld kan vereffen.”
Zonika kan dit nie langer duld nie. Hoe durf hierdie man haar vader dreig, boonop onderwyl hy ’n gevangene is! Sy bars die kajuit binne en gaan soos ’n briesende katwyfie voor die jong man staan.
Maar voordat sy nog ’n woord kan uiter, sê hy streng en kil beleef: “Sal u ons asseblief alleen laat?”
“Hoe durf jy …?”
“Mam’selle, ek versoek u die laaste keer om ons asseblief alleen te laat.”
“Jou …”
Maar voordat kaptein Pierre ’n oog kan knip, is Zonika, stewig vasgevat, op pad na die deur. Daar word sy sonder meer na buite gestamp en kortaf beveel: “Ek en jou vader het belangrike sake om te bespreek. Gaan speel solank met jou poppe.” Van sy formele en beleefde houding is daar nou geen sprake nie.
Die deur klap toe en duidelik knars die sleutel soos dit in die slot gedraai word. Die gelag van die matrose op die dek is ’n oomblik lank hoorbaar. Die twee mans glimlag onwillekeurig.
“My dogter sal jou hierna nie baie liefhê nie. Sy is nie gewoond om so behandel te word nie,” sê kaptein Pierre droog.
“Daar was van die begin af nie veel liefde tussen ons nie. Ek kan sien haar opvoeding is geweldig verwaarloos,” antwoord sy gevangene onverstoord.
“Ja.” Die ouer man roer ongemaklik, maar vererg hom dan vir homself. Genugtig! Waarom sal hy soos ’n skuldige kind voor sy gevangene staan? Hy kyk op. “Jy is ’n eienaardige man, kaptein Cordier. Ek sal eerlik erken dat jy my nuuskierigheid prikkel. Wie is jy eintlik?”
“Dit sal jy maar self moet vasstel, kaptein. En nou tot die punt. Hier naby is ’n klein eiland wat op die roete van die meeste skepe is. Jy kan my daar aflaai. Ek neem aan jy sal my skip as buit neem, nie waar nie?”
“Parbleu, Cordier! Jy is mý gevangene, nie ek jóúne nie. Ék deel die bevele uit.”
“Dit was nie as ’n bevel bedoel nie. Dit was ’n voorstel. Jy kan my natuurlik terugneem na die vasteland …”
“Jy sal my netnou vra om jou toegedraai op die trap voor die Franse hof af te lewer!” Kaptein Pierre lag en skud sy kop, amper ongelowig by die aanhoor van soveel vermetelheid.
“Dit sal my ook pas.” Hercule Cordier glimlag vriendelik en knipoog.
Die twee mans lag saam asof hulle kamerade is. Dan versober kaptein Pierre.
“Ek weet nie waarom nie, maar ek hou van jou, Cordier. As ons mekaar op ’n ander tyd en plek en in ander omstandighede ontmoet het, is ek seker ons sou groot vriende kon word. Snaaks dat so iets moes gebeur.”
Hercule Cordier se gesig is ook nou ernstig. Hy knik.
“Ja. Ek moet erken jy is nie die soort persoon wat ek verwag het om hier aan te tref nie. Dit maak my taak natuurlik moeiliker.”
“Watter taak?”
“Om jou eendag miskien te moet doodmaak as dit nodig sou blyk,” is die reguit antwoord.
Kaptein Pierre staan vinnig op en stap na die deur.
“Dit lyk my ons gesprek het op ’n dooie punt uitgeloop. Hoe gouer ons dus die takie afgehandel kry om van jou ontslae te raak, hoe beter. Kom …”
“Mon père!” Iemand ruk aan sy arm en hy kyk in sy dogter se angstige oë.
“Wat is dit, Zonika?”
“Mon père, ek … ek wil u ’n oomblik privaat spreek, asseblief.”
“O, nou maar goed. Ek wil net eers vir kaptein Cordier …”
“Dis in verband met kaptein Cordier. Ek wil u eers spreek voordat u hom …”
“Voordat ek moet sterf, mam’selle?” Die gevangene buig laag voor haar. “Dis dierbaar van u om u so oor my miserabele lewe te bekommer.” Hy het hom duidelik reggeruk en spreek Zonika nou weer baie beleef aan, asof sy ’n dame aan die Franse hof is.
Sy kyk hom kil aan.
“Ek is glad nie bekommerd oor jou miserabele lewe nie, monsieur. Ek is net bang my vader gaan jou te maklik laat sterf. Dis waarom ek hom wil spreek.”
Kaptein Pierre kyk sy dogter fronsend aan. Dis nie haar gewoonte om sadisties te wees nie, maar sy het beslis iets teen hierdie man. Hy voel spyt daaroor, maar terselfdertyd verbaas. Hy moet aan homself erken: hoewel hy hom nog net ’n paar uur ken, is hierdie Hercule Cordier die enigste man aan wie hy sy dogter sou toevertrou. Die kaptein van die Hercule is daardie soort man wat hy as skoonseun sou gekies het as hy ’n keuse gehad het. Hy kan ook nie help om die woordewisseling tussen die twee te geniet nie.
“Mam’selle, my broek bewe van vrees. Moet tog asseblief nie ’n te wrede dood vir my uitdink nie, ek smeek u! U weet, ek raak mos flou as ek bloed sien,” sinspeel hy op haar woorde van ’n paar uur gelede en dit lyk of Zonika kapabel is en gaan hom te lyf.
“Wat het jy in gedagte gehad, ma chérie?” vra haar vader ernstig.
“Hy het my beledig, mon père. Hy het my ’n barbaar genoem, vuil en vol kieme en mal!”
Kaptein Pierre kyk vinnig na die jonger man.
“Is dit waar, Cordier?”
Daar is iets in die seerowerkaptein se stem wat Hercule Cordier vertel dat hy nou versigtig sal moet trap. Zonika is hierdie man se oogappel en hy sal haar deur niemand laat beledig nie, nie eens deur hierdie man van wie hy op so ’n onverklaarbare wyse hou nie.
“Jy kan dit nie ontken nie, nie waar nie, kaptein? Jy het my al daardie dinge genoem.” Zonika se oë blink gevaarlik.
“Nooit! Hoe sal ek ooit so ’n skone, fyn opgevoede dame sulke dinge kan toevoeg?” Hy draai onskuldig na kaptein Pierre. “Ek het gepraat van daardie meisietjie, die kleintjie wat my gedurende die geveg lastig geval het. Sy was baie vuil, kaptein, dít moet jy tog self erken. En ek het eerlik die indruk gekry sy moet ’n bietjie abnormaal wees, want geen kind van daardie ouderdom sal haar tussen ’n klomp vegtende mans bevind nie. Ek erken ek het haar ’n barbaar genoem, want sy het baie verwilderd gelyk.”
Kaptein Pierre versteek haastig ’n glimlag agter sy hand. Geen wonder sy dogter voel lus om te moor nie. Niemand het nog ooit sulke dinge oor haar gesê nie! Hy plooi sy gesig terug tot strengheid.
“Hier is net een meisie op die skip, kaptein Cordier, en dis hierdie een. Ek het nie ander dogters nie.”
Hercule Cordier kyk hom geskok aan. Dan wys hy na Zonika.
“Jy bedoel … sý was … was daardie kind?”
“As jy my nog een keer ’n kind noem, dan … dan …” Zonika stotter van woede.
“Mam’selle, ek is geweldig jammer oor my flater. Ek verseker u, ek het nooit gedink … kon droom dat … U móét my verskoning aanvaar. U moet onthou dat ek net gewoond is aan die fyn dametjies van die Franse hof.”
“En ek is gewoond daaraan dat ek met agting behandel word, kaptein Cordier. Ek is die kaptein se dogter. Ek verwag dat jy my om verskoning sal vra voor al die matrose, ook jou eie.”
Binne ’n kort tydjie is almal op die dek. Ook die paar bemanningslede van die Hercule is uit die ruim na bo gebring om hul kaptein se verskoning aan te hoor. Zonika voel tevrede. Sy weet dat dit ’n vernedering vir hom moet wees om haar voor die ruwe bemanning van die Seekat en ten aanhore van sy eie bemanning om verskoning te moet vra, maar hierdie meneertjie is veels te seker van homself. Dit sal hom ’n slag goed doen om ’n bietjie verneder te word.
Sy wag glimlaggend toe hy effens na vore stap en aankondig: “Mam’selle het my versoek om haar in jul teenwoordigheid om verskoning te vra omdat ek haar ’n barbaar genoem het. Ek het ook gesê sy is vuil en … e … vol …”
“Cordier! Dis genoeg!” fluister kaptein Pierre streng en Hercule sluk vinnig die laaste woord in onderwyl daar ’n gelag uit die geledere van die Hercule se bemanning opklink.
“Jou …”
“Stil, Zonika. Jy het dit oor jouself gebring,” beveel haar vader streng. Hy draai na die bemanning. “Gaan voort met jul werk en neem die gevangenes na onder. Geen water vir die volgende twee dae nie. Ons sal hoor of hulle dan nog lus voel vir lag.” Hy draai na Hercule. “Jy het my dogter beledig. As straf sal jy gekielhaal word.”
Hercule verbleek effens onder sy bruingebrande vel. Hy is immers lief vir sy lewe. Kielhaal is een van die mees gevreesde strawwe wat op see toegepas kan word. Dit is nie dikwels dat ’n ongelukkige wat dié straf ondergaan lewend anderkant uitkom nie. Afgesien daarvan dat die ruwe houtsplinters, spykers en mossels sy liggaam aan repies kan kerf, is daar ook die haaie waarmee rekening gehou moet word.
“Sy het my gedwing om dit te doen, en jy weet dit. Dit was nie my keuse dat hierdie belaglike verskoning moes plaasvind nie. Haar eie kinderagtigheid het dit oor haar gebring.”
Kaptein Pierre besef dat Hercule in ’n sekere mate gelyk het. Maar die feit bly staan dat hierdie man Zonika voor haar eie bemanning verneder het. Daar is net één straf daarvoor.
“Jy sal môreoggend teen sonop gekielhaal word.” Hy wink na twee van sy bemanning. “Neem hom weg.”
“Mon père …”
Die eerste keer in ’n baie lang tyd is kaptein Pierre se oë kil toe hy na sy dogter kyk.
“En jy, Zonika, probeer asseblief om jou in die toekoms meer soos ’n dame te gedra. As jy by Madame agtergebly het, sou hierdie ding nie gebeur het nie. As jy jou soos ’n regte seerower gedra, kan jy ook nie verwag dat jy as ’n dame geag moet word nie. Jou kinderagtigheid gaan ’n man sy lewe kos. Ek hoop jy voel tevrede met jouself.”
“Mon père!” Sy kyk hom vol ongeloof aan. Sy kan nie glo dis haar vader wat só met haar praat nie. Hy skaar hom sowaar aan die kant van die vreemdeling!
Emile Pierre vee moeg oor sy oë. ’n Oomblik lyk dit asof hy verslaan is.
“Ek raak seker te oud vir hierdie seerowerbestaan. Ek kan nie meer hierdie onnodige en onsinnige bloedvergieting en vermorsing van menselewens uitstaan nie. Kaptein Cordier is my vyand, maar ek kan sy moed en sy dapperheid respekteer. Ek sou nie graag wou sien dat hy só aan sy einde kom nie. Maar ek het geen keuse nie.” Hy draai weg. “Ek wil nie vanaand eet nie, en ook nie gesteur word nie.”
Zonika bly alleen op die dek agter. Haar vingers klem die houtreling krampagtig vas en sy is blind vir die pragtige sonsondergang wat juis op dié oomblik die hemel en see in reënboogskakerings tooi. Die eerste keer in haar lewe voel sy onseker van haarself en … ook skaam. Boonop voel sy bitter ongelukkig. Haar vader se woorde het haar diep seergemaak en met ’n snik vlug sy na haar kajuit.
Van die eerste oomblik af dat Hercule Cordier op die dek van die Seekat gespring het, het vreemde emosies hulle van haar meester gemaak. Sy wou hierdie selfversekerde man verneder en verkleineer. Sy wou van hom ’n gek maak. Sy wou hom die bespotting van die matrose op die hals haal. Sy meerderwaardige glimlaggie, sy sarkasme wat soos ’n lem sny, sy kil en spottende oë, die trotse ken, die smalende lippe – alles, alles aan hom het ’n duiwel in haar ontketen.
Sy wou hom wys dat sy sý meerdere is, juis omdat sy diep in haar aangevoel het dat sy die mindere is. Sy het hom uitgekies om teen te veg sodat sy hom kon oorwin, hom op sy knieë kon dwing, juis omdat sy in sy forse liggaamsbou haarself as die swakkere herken het. Geen man het haar nog ooit so klein en swak laat voel soos hy nie. Sy het haarself nog altyd as die gelyke van enige man beskou. Maar hierdie man … En tog het sy sy lewe gespaar. En tog is daar steeds ’n onverklaarbare weersin in haar om te moet toesien dat hy sterf. Sy weet nie wat sy presies wil hê nie. En dié verwarde gemoed is ook vreemd vir haar.
Onderwyl Zonika met dié deurmekaar gedagtes worstel, het kaptein Pierre sy eie probleme. Waarom is hy so teësinnig om die man wat sy dogter beledig het, ’n man wat in elk geval sy vyand is, te kielhaal? Wat traak die lot van hierdie vreemdeling van wie se bestaan hy ’n paar uur gelede nog nie eens bewus was nie, hom tog? En as Hercule Cordier môre sterf, sal hy nooit weet wat dit is waaragter hy was nie. Om die een of ander onverklaarbare rede het dit ’n obsessie by hom geraak om dit te weet.
Dit is laat daardie nag dat Hercule Cordier ’n besoek van kaptein Pierre ontvang. Hercule is nog wawyd wakker toe die ouer man langs hom op sy hurke onder in die ruim neersak. Geen mens kan kalm lê en slaap as hy weet dat daar teen sonop ’n wrede en gewisse dood op hom wag nie.
Die twee mans kyk mekaar ’n ruk in stilte aan. Hercule Cordier lyk nie verbaas oor dié middernagtelike besoek van die kaptein van die Seekat nie. Hy het instinktief geweet dat die seerowerkaptein sou opdaag. En op sy beurt weet kaptein Pierre dat hierdie jong man op hom gesit en wag het. ’n Oomblik lank weet nie een van die twee hoe om die saak aan te roer nie. Dan hoor Hercule die ouer man praat en daar is kommer in sy stem. Dit klink amper asof hy sy gevangene om verskoning vra.
“Ek kon niks anders doen as om jou daardie straf op te lê nie, Cordier. Dis ’n wet op hierdie skip dat enige man wat my dogter beledig, haar aanraak met die bedoeling om haar leed aan te doen, of haar op enige wyse te na kom, gekielhaal sal word. Jy moet begryp dat ek in dié opsig baie streng moet wees. Sy is die enigste vrou op ’n skip vol … barbare, kan ’n mens hulle noem, ruwe mense. Maande lank swerf hulle oor die oseane rond sonder om ’n vrou te sien – behalwe my dogter. En om haar te beskerm, is ek verplig om so te sê die doodstraf uit te spreek oor selfs so ’n oortreding soos dié van vanmiddag.”
Hercule knik. “Ek kan dit begryp, maar …” Hy swyg. Hy kry die ouer man jammer. Dit lyk werklik asof hy baie sleg voel oor die straf wat hy gedwing was om uit te spreek. Dit sal ook niks aan die saak verander as hy hom weer daarop wys dat sy dogter die skuld vir die ongelukkige verloop moet dra nie.
“Maar wat?” wil kaptein Pierre weet.
Hy haal sy skouers ongeërg op.
“Niks. Ek wou maar net sê, dis jammer dat dinge nou so moes gebeur het.”
“Ja.”
Ná ’n oomblik vra die ouer man aarselend: “Jy weet dat jou kanse om lewend anderkant uit te kom, so te sê nul is. Weier jy nog om my te vertel waarom jy na my gesoek het en wat jy van my wou hê?”
Hercule frons en skud dan stadig sy kop.
“Nee, ek sal nie sê nie. Ek weet dis ’n groot miskien, maar miskien kan ek tog die ding oorlewe.” Hy trek sy skouers weer op. “Gebeur die teenoorgestelde, wel, dan het jy niks meer te vrees nie. Dan gaan die geheim saam met my na die bodem van die see – of na die haai se maag.” Hy sien hoe kaptein Pierre sy gesig vinnig afwend in afgryse oor sy reguit woorde en hy vervolg amper peinsend: “Jy is net so min ’n seerower as wat ek een is, kaptein Pierre.”
Die ouer man kyk vinnig op en Hercule vervolg: “O, ja, jy het ’n seerowerskip en het seker al beslis baie buit in sy ruim vervoer. Maar dis nie jou soort lewe nie, kaptein. Jy was beter gewoond. Waar kom jy eintlik vandaan?”
Laasgenoemde staan vinnig op.
“Dis nie ter sake nie. Goeienag.”
“Goeiemôre, kaptein. Dis reeds ná middernag.”
Die seerowerkaptein knik stroef.
“Ja, dit is. Tot siens.”
“Tot siens, kaptein – tot sonop.”
Maar toe kaptein Pierre uit sig verdwyn, verlaat die oënskynlike kalmte en ongeërgdheid die jong man. Hy bal sy vuiste magteloos en kyk wild om hom rond. Dit sal nie moeilik gaan om uit die ruim te ontsnap nie, maar waarnatoe dan? Al kan hy ook sy skip bereik, sal dit hom nog niks help nie, want hy het geen bemanning nie. En hoe sal hy kan wegseil sonder dat die nagwag op die Seekat dit opmerk?
Nee. Dis ’n hopelose saak. Hy sit hier soos ’n rot in die ruim vasgekeer en al wat hy kan doen, is om geduldig te wag op die dagbreek – sy laaste. ’n Fyn, skraal gesiggie met blitsende oë verskyn voor sy geestesoog en hy kners hoorbaar op sy tande. Mam’selle Zonika, jy moet bid dat jou slagoffer nie lewend aan die ander kant uitkom nie. Hercule Cordier vergeet nooit ’n onreg wat hom aangedoen is nie. Nog minder vergeet hy ’n vernedering …
Dis ’n paar uur later. Daar heers ’n swygende, somber stilte op die dek van die Seekat. In die ooste is die dag aan ’t breek en die lug en waterkim word rooi gevlek – asof met bloed. Selfs die ruwe bemanning van die seerowerskip is stil.
Zonika staan langs Pierre op die platform by die voorkasteel en sien hoe Hercule Cordier se hemp uitgetrek en sy hande stewig agter sy rug vasgemaak word. Haar bleek gesiggie toon duidelik die spore van ’n slapelose nag. Niemand merk dit egter op nie, want elke oog is gerig op die ongelukkige persoon wat nou gereed is om oor die reling gegooi te word. Hy staan stil en regop met ’n uitdrukkinglose gesig en dis of sy naakte bors die rooi van die dagbreeklumier weerkaats na die twee mense op die platform.
Zonika kan haarself nie langer keer nie en hyg skor: “Kan dit nie gekeer word nie, Vader? U is tog die kaptein van die skip …”
“Dit kan nie en jy weet dit kan nie.” Vir oulaas kyk hy na die jong man wat ook op dié oomblik opkyk en sy blik ontmoet. Zonika deins effens terug toe die gevangene se blik vlugtig op haar rus. Dan gee kaptein Pierre die teken.
Daar is geen teëstribbeling toe sterk hande die slagoffer op die reling lig nie. Daar is geen gesmeek of gille van vrees soos gewoonlik die geval is met die ongelukkiges wat hierdie straf moet ondergaan nie. Daar is ook geen desperate geruk en gepluk aan die sterk tou wat om die middel span nie. Daar is net ’n doodse, yskoue kalmte op sy uitdrukkinglose gesig en die oë wat verby haar na die gesigseinder staar … asof hy vir oulaas afskeid neem.
Die volgende oomblik is daar die geluid van water wat spat toe sy liggaam die see tref en Zonika uiter ’n gedempte gil. Aan die kant waar hy afgeval het, laat die matrose die tou skiet terwyl ’n groep aan die ander kant met alle mag begin trek. Nog ’n oomblik staan Zonika en Pierre asof versteen. Dan beweeg albei gelyktydig in die rigting van die treetjies wat na onder lei. Hulle het heeltemal vergeet dat die kaptein en sy dogter volgens gebruik op die platform bly totdat die straf voltrek is.
Hulle baan ’n weg deur die saamdrommende bemanningslede totdat hulle eindelik die reling bereik.
“Trek! Trek vinniger!” verbreek kaptein Pierre se stem die gespanne stilte en hy gryp self ook die tou.
Maar dis of eeue verbyrol voordat daar aan die trek van die tou gevoel kan word dat die slagoffer die wateroppervlak aan die ander kant bereik het. Asof in ’n nagmerrie sien Zonika die slap liggaam op die see dryf. Gretige hande, waaronder ook dié van kaptein Pierre, strek uit om hom so vinnig as moontlik uit die water op te trek. Baie versigtig word die skynbaar lewelose liggaam van Hercule Cordier op die dek neergelê.
Spontaan kniel vader en dogter langs die stil liggaam onderwyl die bemanning nuuskierig om hulle kring. Het hierdie man die wreedste van alle strawwe op see oorlewe of … ?
Kaptein Pierre se vingerpunte bewe so erg dat hy eers nie die flou pols kan voel nie. Sy dogter se oë is angstig op hom gerig.
“Mon père …?” fluistervra sy.
“Hy lewe.”
Die verligting en vreugde wat op hierdie oomblik in Zonika ontspring, is oorweldigend. Sy moet al haar selfbeheersing inspan om nie voor die talle nuuskierige oë in trane uit te bars nie. Haar hart krimp toe haar blik stadig oor sy gemartelde liggaam dwaal. Daar is byna geen vel aan sy gesig en borskas nie. ’n Spyker het sy gesig aan die een kant van bo die oogbank tot byna in die een mondhoek oopgekloof. Verder is sy hele lyf vol haak -en snyplekke. Hy is nie by sy bewussyn nie, maar begin skielik vomeer en met elke pynlike ruk wat die verflenterde liggaam gee, trek vader en dogter se harte saam. Die byna versmoorde longe ruk met hortende asemteue vars lug na binne.
Kaptein Pierre haal die dolk uit sy skede en sny die hande los. Dan, sonder om na links of regs te kyk, staan hy op en beveel van die bemanningslede om Hercule na sy kajuit te neem. Hercule word op die kaptein se slaapbank neergelê. Enkele oomblikke later kom Zonika met verbande en salf binne.
Dis Zonika en kaptein Pierre wat in die daaropvolgende weke die klein vlammetjie van lewe vertroetel wat in Hercule Cordier oor is. Die leeueaandeel in die verpleging neem Zonika op háár skouers. Sy is self onbewus van haar veranderde houding, maar haar vader merk dit op en hou haar verbaas dop. Sy word baie selde op dek gesien. Die grootste deel van die dag bring sy in die kaptein se kajuit deur; ook ’n groot deel van die nag, veral in die eerste week toe Hercule voortdurend bewusteloos en ylend is. Gelukkig vir hierdie jong man het hy ’n sterk, gesonde gestel en is dit eintlik grotendeels aan die geweldige bloedverlies te wyte dat hy die eerste paar dae so swak is. Tog is hy besig om stadigaan te herstel en die oomblik breek aan dat hy een nag kort ná middernag sy oë die eerste keer sedert sy foltering oopmaak.
Hy staar na die skraal gestaltetjie wat weggedommel in die groot stoel voor die slaapbank sit en ’n ligte frons pluk aan sy wenkbroue. Net ’n oomblik lank herken hy haar en sy omgewing nie, maar dan spoel herinnering hom te binne en sy gesig raak strak.
Zonika roer in haar slaap asof sy bewus raak van die oë wat op haar gerig is. Toe haar ooglede swaar lig, kyk sy reg in die oë wat met openlike vyandigheid op haar gerig is. Maar sy merk dit nie dadelik op nie. Wat sy wel opmerk, is dat sy blik die eerste keer helder is en dat daar herkenning in sy oë blink. Sy leun vinnig nader en raak liggies aan sy voorkop. Hy is ook beslis nie meer so koorsig as wat hy was nie.
“Hercule …”
Sy spreek sy naam sag, versigtig uit asof sy bang is dat hy sal skrik. Daar kom ’n roering om sy lippe, wrang en pynlik weens die diep sny oor die helfte van sy gesig wat nog lelik rou en opgehewe is.
“Dan is jou gebede nie verhoor nie, mam’selle. Ek het die paal gehaal,” sê hy skaars hoorbaar.
“Wat … wat bedoel jy?” fluistervra sy verward.
Hy beantwoord nie haar vraag nie, maar vra kortaf: “Wat soek jy … hier voor my bed? Dit lyk na nag.”
“Ja. Dis omstreeks middernag. Ek … ek verpleeg jou …”
Hy uiter ’n bitter laggie wat stomp afbreek en sy hand skiet op na die rou wond waar die pyn klop en skeur.
“Jý my verpleeg? Mam’selle, jy het die mees verwronge humorsin wat ek nog teëgekom het.”
“Waarom … waarom sê jy so?” vra sy onseker, skielik bewus daarvan dat sy oë soos twee stukke klipharde ys in die lanternlig glinster.
“Eers red jy my lewe tydens die geveg. Dan sorg jy dat ek gekielhaal word. Nou is jy weer besig om my lewe te red, as dit waar is wat jy my vertel. Watter van die vele soorte dode wat ’n mens kan sterf, het jy volgende op die lys vir my?”
“Jy … Jy bedoel tog nie … Dis nie so nie!”
“Daar is net een woord wat mense soos jy kan beskryf, mam’selle. Jy is ’n sadis.”
Zonika spring uit die stoel op. Sy is uitgeput van die nagte lange waak voor hierdie man se bed. Die afgelope week was sy elke uur van die dag getrou op haar pos, het sy haarself geen moeite gespaar om dit vir hom so gemaklik moontlik te maak nie. En is dit nou die dank wat sy daarvoor kry – om uitgeskel te word vir ’n sadis?
“Hoe durf jy –?” begin sy, maar hy knip haar kort.
“Gaan jy my weer laat kielhaal oor wat ek pas gesê het? Niemand durf jou mos selfs met ’n woord te na kom nie – al is dit die waarheid! Jy is ’n volmaakte godinnetjie, onaantasbaar, bo-op ’n troon.”
Zonika draai weg van hom. Sy moet liewer gaan voordat sy vergeet dat hy eintlik nog baie siek is en nie verantwoordelik gehou kan word vir wat hy kwytraak nie. Maar sy hand gryp haar pols vas en sy word gedwing om te luister.
“Mam’selle Zonika, as jy ooit in jou lewe ’n gevaarlike flater begaan het, was dit met my,” hoor sy sy stem – sag en afgemete, maar die klank daarvan stuur ’n koue rilling deur haar liggaam. Teësinnig, maar asof haar oë deur ’n magneet aangetrek word, draai sy haar kop en kyk af in sy oë. “Ek is nie die soort man wat ooit die persoon sal vergeet of vergewe wat met my lewe gespeel het nie. Eendag, mam’selle, sal ons mekaar weer op gelyke voet ontmoet en dan sal daar ’n groot rekening wees wat tussen ons twee vereffen moet word. Al is dit die laaste ding op aarde wat ek doen, maar jy sal betaal vir elke vernedering, vir elke sekonde van hel wat myne was op hierdie skip. Wees verseker daarvan, mam’selle.”
Sy luister nie langer nie, maar ruk uit sy greep los en storm by die deur uit waar sy haar byna teen haar vader vasloop.
“Ek was op pad om jou af te los. Gaan slaap, ma chérie. Jy kan nie meer uithou nie. Hoe gaan dit met hom? Dieselfde?”
Sy probeer om haar vader niks van haar ontsteltenis te laat blyk nie.
“Ek was op pad om u te kom roep, mon père. Hy is by sy positiewe …”
“Sowaar? Maar dis wonderlik!” Kaptein Pierre klink opgewonde en skuur haastig by haar verby. Hy probeer nie sy blydskap vir die jong man wegsteek nie en Zonika sou verbaas gewees het om te sien hoe die ergste hardheid uit die donker oë van Hercule Cordier verdwyn toe kaptein Pierre se hand om syne sluit.
“Ek voel die skip beweeg. Na watter bestemming?” vra Hercule later.
“Na ’n eiland waar dit veilig genoeg is om jou agter te laat. Ek het die bemanning verdeel op die twee skepe. Hulle het begin rusteloos raak.”
“Ek neem aan die Hercule gaan as buit?”
“Nee. Ek laat jou, jou bemanning en jou skip agter.”
“Wanneer sal ons daar wees?”
“Oor twee dae – as alles goed gaan.” Kaptein Pierre kug en sê dan sag: “Ons paadjies sal dus binnekort skei. Miskien … miskien is dit beter so …”
Hercule kyk hom vierkant in die oë.
“Maar nie vir lank nie. Ons paaie sal weer kruis.”