Читать книгу Ena Murray Keur 3 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

Die dag het intussen gebreek. Hercule kyk om hom rond, op na die bollende wit seile, na die kraaines, dan terug oor die dek. Sy liggaam verstyf skielik merkbaar. Hy trek sy asem stadig in onderwyl sy blik vasgenael bly op die vrou wat haar verskyning op die trap gemaak het. Met haar rok verkreukel, die swart hare deurmekaar oor die skouers, die oë nog verdwaas van slaap, skep Zonika Pierre nog steeds ’n asemrowende prentjie van vroulike begeerlikheid. Die man se oë verdonker en daar is ’n ligte bewing in sy vingerpunte onderwyl hy roerloos op die reling bly sit terwyl sy nader kom. Sy blik vang die ontstelde deining van haar bors toe sy reg voor hom tot stilstand kom.

Hulle staar mekaar ’n oomblik stip aan en iets kouds slaan om Zonika se hart vas toe sy die strak gesig van die man voor haar merk. Kan dit wees dat sy ’n paar uur gelede nog in sy arms gelê en sy liefkosings beantwoord het met ’n vuur wat amper skaamteloos was? Maar onderwyl sy in sy oë opkyk, besef sy dat sover dit hóm aangaan, verlede nag verby is …

“Wat … wat beteken dit?” vra sy kortaf, haar stem glad nie so seker nie.

“Dit beteken dat jy my gevangene is … mam’selle. Die bordjies is verhang.” Sy stem is emosieloos en die antwoord baie reguit.

“Waar is die Seekat? Jy het dit tog nie laat sink nie?”

“Nee, natuurlik nie. Ons is egter al van lank voor dagbreek af aan’t seil. Die Seekat kan ons nie meer inhaal nie.”

Haar oë blits.

“As jy dink my vader sal toelaat dat jy my sommerso ontvoer, begaan jy ’n fout, mon capitaine. Hy sal nie rus voordat hy jou gevind het nie … en dan sal ek nie graag in jou skoene wil wees nie.”

Hy buig, maar sy gesig bly uitdrukkingloos.

“Jy vlei jouself, mam’selle. Ek is nie besig om jou te ontvoer nie. Jy was net per toeval op die Hercule toe ek jou vader ontvoer het.”

“Vader! Maar … maar hy is vroegaand na ons skip …”

“Korreksie. Hy het net tot by die reling gevorder. Toe het hy aan die slaap geraak … soos die res van sy bemanning.”

Sy kyk hom met die grootste veragting aan.

“Ek begryp. Daar was natuurlik ’n slaapmiddel in ons drank gegooi.”

Die eerste keer is daar die flikkering van ’n glimlag op sy gesig.

“Net nie in jou drankie nie, mam’selle. Dit was nie nodig nie. Ek het vermoed dit sou nie moeilik wees om jou … e … besig en uit die pad te hou nie.”

“Jou …”

Sy vingers gryp haar pols in ’n staalgreep vas, sy oë ysig. “Ek het maar net van jou eie taktiek gebruik gemaak, mam’selle. By ’n vorige geleentheid het jy my besig gehou sodat jou vader die oorwinning kon behaal. Hierdie keer het ek jou besig gehou sodat ék ’n slag kon wen. Jy moet dit darem erken, mam’selle – my manier was baie aangenamer!”

“Jou … ek … ek sal jou vermoor, jou … traître … verraaier! Jy het jou voorgedoen as ’n vriend en …”

“Jy en jou vader het albei geweet dat ek jul vyand is, mam’selle. Ek het van die begin af geen geheim daarvan gemaak nie.”

Sy kyk hom verbaas aan. Natuurlik het hy gelyk. Hy het haar vader tog reguit daarvan verseker dat hy hom nog sal doodmaak en aan haar het hy belowe dat as hul paaie weer kruis … ’n Verslaentheid sak oor haar toe. Verlede nag … alles wat tussen hulle gebeur het … hy was maar net besig om haar haar rekening te laat vereffen soos hy beloof het. Sy het nogal gedink … Maar dit was alles net sy manier om haar terug te betaal.

Zonika Pierre, die trotse, die vrou wat haar daarop beroem het dat geen man nog die voorreg gehad het om haar met ’n vinger aan te raak nie, beleef in hierdie oomblik die grootste vernedering van haar lewe.

“Ek het nooit geweet dat ek in staat is om te haat soos wat ek jou op hierdie oomblik haat nie, Hercule Cordier. Jy sal betaal …” Haar stem is diep en skor toe sy eindelik praat.

“Dan open ons maar weer ’n rekening, mam’selle. Baie onverstandig van jou, moet ek sê. Jy het dan blykbaar nog nie jou les geleer nie. Jy moet Hercule Cordier nooit die stryd aansê nie, mam’selle. Wees gewaarsku!”

Zonika bly alleen agter onderwyl Hercule wegstap. Die geboë skouertjies is duidelik verslae en die oë wat nikssiende oor die see uitstaar, is leeg en … wanhopig. Hoe kón sy gisteraand so kop verloor het? Watter duiwelse spel het hierdie man met haar gespeel en hoe kon haar hart haar so verraai het?

Maar sy moet erken dat sy magteloos was van daardie eerste oomblik af dat Hercule Cordier se lippe oor hare gesluit het. Sy moet erken dat hierdie man in staat is om die vrou in haar, wat sy nog altyd geminag en verloën het, uit die kerker diep binne-in haar te bevry – in so ’n mate dat dit selfs haar heldere denke oorheers.

En tog haat sy hom. Maar sy weet ook, hoewel sy dit skaars sal erken, dat hy die enigste man is vir wie sy werklik vrees koester – nie omdat sy bang is vir sy swaard nie, maar vir die emosie wat hy in haar kan wakker skud.

Op daardie oomblik kyk kaptein Pierre en Hercule mekaar stip aan. Hercule het ’n oomblik gelede die kajuit binnegestap waar die seerowerkaptein geslaap het. Laasgenoemde het slegs enkele minute tevore wakker geword uit sy diep verdowingslaap en het nog skaars reg besef waar hy hom bevind toe die deur oopgaan en Hercule sy verskyning maak.

“Goeiemôre, kaptein Pierre. Aangename nagrus gehad?” vra Hercule beleef, maar die veranderde stemtoon val die ouer man dadelik op.

“Ons seil.” Die ouer man beantwoord nie die vraag nie, maar stel bloot ’n feit.

“Ja. Van verlede nag eenuur af.”

Hy hoef nie verder te verduidelik nie. Kaptein Pierre begryp in ’n oogwenk die ware toedrag van sake en Hercule voel onwillekeurig bewondering in hom opstoot toe hy die ander man se selfbeheersing merk. Kaptein Pierre se gesigsuitdrukking verander glad nie. Daar het wel ’n verskerpte waaksaamheid in sy oë gekom, maar sy kalmte is onversteurd. “Dan is die bordjies verhang,” merk hy net op.

“Dit wil so voorkom,” beaam Hercule.

“Waar is my dogter?”

“Op dek. Daar sal geen kwaad aan haar gedoen word indien sy haar gedra en ons twee tot ’n ooreenkoms kan kom nie.”

“Ek verstaan. Ons sou mos vanoggend gesels het nadat ons eers ons herontmoeting gevier het.”

Die woorde is duidelik bedoel om te beledig, maar Hercule se oë wyk nie voor syne nie. Hy is self tergend kalm.

“So het ons afgespreek.”

Stilte.

“Wel?”

Hercule se blik boor nou soos dolke in die ander man in.

“Ek soek na die D’Arcy-skat.”

Daar gaan ’n merkbare rilling deur kaptein Pierre se lyf en net ’n oomblik lank kan Hercule die skrik in sy oë lees. Dan is die kalmte terug.

Op afgemete, dodelik vasbeslote toon gaan Hercule voort: “Jy het dit, kaptein Pierre. Ek wil dit hê.”

“Ek weet nie waarvan jy praat nie,” antwoord die seerowerkaptein kortaf. “Was dit buit wat ek miskien van die een of ander skip gevat het?”

Maar Hercule skud sy kop.

“Dit sal nie help om dit te ontken nie. Jy weet net so goed soos ek van watter skat ek praat. Of moet ek jou eie geskiedenis vir jou vertel? Die geskiedenis van jou en … Juliette D’Arcy?”

Kaptein Pierre word wasbleek en dis duidelik dat hy ’n mate van sy kalmte verloor het. Sy vuiste is gebal toe hy stadig opstaan en na die patryspoort stap. Dis duidelik dat sy oë niks raaksien terwyl hy oor die see uitstaar nie.

“Moet haar naam nie op jou lippe neem nie, jou … skurk!” Sy stem is grof van spanning.

“Jy het my gedwing om dit te doen, kaptein. Wel? Gaan jy my sê waar daardie skat is?”

Weer heers daar stilte. Dan draai die ouer man sy kop en sy oë is kliphard toe hy antwoord: “Ek sterf liewer.”

“Dapper woorde, kaptein Pierre, maar ongelukkig nog net woorde. Hulle kan natuurlik getoets word, maar dit sal onnodig wees. Op die ou einde gaan jy tog praat.”

“Geen foltering sal my lippe open nie, Cordier. Dit kan jy maar toets. Ek herhaal: ek sterf liewer voordat ek die D’Arcy-skat aan ’n skurk oorhandig.”

Hercule Cordier trek sy skouers op.

“Miskien. Miskien sal jy werklik liewer sterf as om te praat. Maar het jy vergeet dat jou dogter ook op my skip is?”

Die dreigement is duidelik genoeg, maar weer moet die jonger man kaptein Pierre bewonder oor die manier waarop hy hom net kalm aankyk.

“Ek het dit nie vergeet nie, Cordier, maar ek is nie bereid om my dogter se lewe die onderwerp te maak van ’n saketransaksie nie.”

“Weer dapper woorde, kaptein. Ons sal wel sien of dit lippetaal is. Dink solank oor alles. Ek kom oor ’n paar uur terug.”

Hercule Cordier kry geen antwoord nie en hy verlaat die kajuit, so diep in gedagte versonke dat hy nie eens die meisie by die skipreling opmerk of haar hatige blik aanvoel nie. Hy stap reguit na sy kajuit en toe die deur agter hom toeslaan, bal hy sy vuiste in frustrasie. Kaptein Pierre is blykbaar nie so ’n maklike kalant as wat hy gedink het nie. As hy die regte seerowertipe was, is hy seker dit sou hom nie lank geneem het om uit hom te kry wat hy wil hê nie. Maar van die eerste oomblik af het Hercule besef dat hierdie seerower ’n man van persoonlikheid en karakter is, ’n man met selfbeheersing en ’n wil van staal.

Kaptein Pierre sal egter móét ingee. Hercule frons diep. Hy kan sê wat hy wil, maar hy sal nie kan toesien dat sy dogter gemartel word nie. Die een of ander tyd en op die een of ander manier sal sy weerstand gebreek word. Hy is immers net ’n mens met menslike uithouvermoë. En tog weet Hercule Cordier instinktief dat daar ’n fel stryd voorlê en dat daar nog baie dinge sal gebeur voordat die seerowerkaptein hom sy sin sal gee.

Hercule stap doelloos op en neer in die kajuit. Daar is ’n rusteloosheid in hom, ’n gevoel van onsekerheid en ook van skaamte. Hoe hy ook al probeer om sy optrede teenoor veral Zonika te regverdig, kan hy diep in sy hart geen verskoning vir homself vind nie. Dit laat hom ergerlik voel. Wat sal hy omgee vir ’n seerowermeisie se gevoelens?

Maar daar is nog iets wat hom pla, iets wat hy teen wil en dank ook nie kan ontken nie. Hy het Zonika met voorbedagte rade begin liefkoos. Die bedoeling was om haar te verneder soos sy hom eens verneder het. Maar die oomblikke dat sy in sy arms was, wat sy sy liefkosing met oorgawe beantwoord het, het hy totaal vergeet wat die bedoeling agter alles eintlik was. Daar is ook in hom ’n vuur aangesteek wat alle nugter denke oorheers het.

O, hy het Zonika Pierre terugbetaal vir elke sekonde van die kielhaalfoltering twee jaar gelede. Daaraan twyfel hy nie. Maar dit gee hom geen bevrediging nie, en nog minder ’n gevoel van oorwinning. Inteendeel.

In sy kajuit staan kaptein Pierre nog steeds roerloos voor die patryspoort. Sy gedagtes dwaal terug deur die jare … vyf, tien, vyftien … twintig jaar gelede.

Frankryk … die Seine … vrugbare valleie met groen wingerde … bosryke klowe en hange … groen kweek op die grasperke tot teenaan die koperbeslaande dubbeldeur van die groot kasteel op die landgoed wat ver langs die vrugbare oewer van die Seine strek. Die landgoed van die D’Arcy-graafskap. Eenkant, beskeie weggesteek tussen die groot bome en uit sig van die kasteelvensters, was die nederige woning van die Pierre-egpaar, getroue diensknegte van die graaf Louis Armand Villefranche D’Arcy. Die graaf het twee beeldskone dogters gehad – Margot en Juliette – sy enigste kinders en erfgename van die D’Arcy-fortuin, wat ontelbare franke beloop het. Heimlik was hy egter teleurgesteld omdat daar geen manlike erfgenaam was nie. In die beskeie woning van die Pierre-gesinnetjie was daar een seun, Emile, ’n jong man so sterk soos ’n bees, gebore in knegskap, ’n slaaf van die aristokrate – maar ’n jong man met karakter en mooi van aansien.

Hy het stadigaan opgegroei tot volwassenheid. Ook die twee susters in die kasteel het grootgeword en die jong Emile het dit raakgesien. Veral die een, Juliette, het sy aandag getrek en op ’n goeie dag, toe hulle toevallig ’n paar woorde moes wissel, het hy besef dat hy verlief was op haar.

Maar Juliette het ook gehou van die jong man. Emile het aanvaar dat sy liefde tevergeefs was, maar die dogter uit die kasteel, wat haar hele lewe lank daaraan gewoond was om te kry wat sy wou hê, het tog ’n geleentheid gesoek om die aantreklike jong kneg van haar vader te sien … en weer … en weer …

Dit was die begin van die einde.

Hul jong liefde het aangegroei tot ’n storm binne-in hulle, miskien juis omdat dit verbode was. ’n Roekeloosheid het van hulle besit geneem en al die ongeskrewe reëls is verbreek totdat die werklikheid hulle ingehaal het …

Juliette het ’n baba verwag.

Kaptein Pierre se gesig is vertrek van pyn by die herinnering daaraan. Dat soveel smart en ellende gebore kon word uit die mooi en opregte liefde tussen hulle … Die groot man sidder nog steeds toe hy weer dink aan wat gebeur het nadat dit bekend geword het dat Juliette D’Arcy ’n kind gaan hê van Emile Pierre, ’n kneg in diens van die graaf. Dit was asof die hel en al sy trawante oor die twee jong mense se koppe losgebars het. Juliette is soos ’n gevangene opgesluit in die kasteel van haar vader en Emile Pierre moes vlug vir sy lewe.

Dis of die emosies in hierdie oomblik sy knieë onder hom laat knak en kaptein Pierre sak in die naaste stoel neer. Hy onthou die smart van sy ouers – dierbare mense wat, ten spyte van die feit dat hulle van afkoms uit die werkersklas was, tog aristokrate in karakter en lewenswandel was. Hulle moes van hul enigste kind afskeid neem en het hom nooit weer gesien nie.

Toe kaptein Pierre tien jaar later dit eendag in die geheim gewaag het om na die D’Arcy-landgoed te gaan, was die Pierre-egpaar reeds dood. Deur ’n desperate verlange gedwing na sy jeugliefde, het hy dit tot binne die kasteelmure gewaag. Hy het ten volle besef dat sy lewe niks werd sou wees as hy betrap word nie, maar hy moes die vrou wat hy liefgehad het, net een keer weer sien. Dit was egter haar suster, Margot, wat op hom afgekom het waar hy in die gange rondgesluip het.

Hy onthou nog alles so goed, asof dit net gister was …

Dis twintig jaar gelede. Die fakkels en muurkandelare in die lang gange van die D’Arcy-kasteel is reeds gedoof. Die inwoners slaap reeds, want dis al meer as twee uur ná middernag. Soos ’n skaduwee beweeg hy versigtig vorentoe. Êrens in die vleuel sal hy haar kry … Juliette, die meisie wat hy nie kan vergeet nie, die vrou wat hy nog steeds bemin.

Dan, skielik, om ’n draai in die lang gang, bots hy amper teen ’n vrouegestalte in ’n lang, wit naggewaad. Albei hyg na asem en deins verskrik terug. Hulle staar mekaar in stilte aan. Dan is dit Emile wat eerste tot verhaal kom.

“Juliette?” fluister hy vraend.

“Wie is jy? Wat … wat soek jy hier?”

“Juliette, is dit jy?” vra hy weer dringend en beweeg nader. Maanlig streep deur die venster en val oor sy gesig en weer is daar ’n gesnak na asem van die kant van die vrou.

“Emile! Is dit jy?” fluister sy skor, geskok.

Dan herken hy haar stem.

“Margot! Margot, waar is Juliette? Ek moet haar sien! Asseblief, ek móét!”

Sy kyk onrustig oor haar skouer na agter en wink dan angs-tig met haar hand. Sy lei hom by ’n deur in wat sy geluidloos agter haar toedruk. Dan draai sy vinnig na hom en haar stem bly ’n lae fluistering.

“Wat soek jy hier, Emile? Besef jy dan nie …?”

“Ek weet. Ek weet, maar …”

“Jy is van jou sinne beroof om dit te waag om hierheen te kom. Hy sal jou dadelik doodmaak. Jy weet nie …”

“Ek moet vir Juliette sien, Margot!” herhaal die jong man op afgemete toon en baie beslis. “Is sy hier?”

“Ja, maar …”

“Neem my na haar toe.”

“Jy is mal, Emile. Gaan weg! Ek smeek jou, gaan weg voordat nog meer tragedies hulle hier afspeel. Loop! Loop nóú, asseblief, ter wille van ons almal,” smeek die vrou rukkend onderwyl sy Emile beangs aan die bors beetkry.

Maar hy bly vasbeslote.

“Ek versit geen tree voordat ek vir Juliette gesien het nie, Margot. Van watter tragedies praat jy?”

Hy beskou haar nou met aandag. Dis nie meer die Margot van tien jaar gelede nie, besef hy onderwyl hy na die tekens van spanning op die vermaerde gelaatstrekke staar. Hy gryp haar bewende hande vas in syne.

“Wat het gebeur vandat ek hier weg is? Vertel my! Watter tragedies het plaasgevind?” vra hy dringend.

Die vrou begin vertel, eers hortend, stadig asof sy bang is. Dan al vinniger soos ’n sluis wat oopgeruk word.

“Nadat jy hier weg is, is ek en Juliette soos gevangenes ingekerker tot ná … nadat die baba gebore is …”

Die man ruk asof daar ’n weerligstraal deur sy liggaam gaan. Hy gryp haar skouers pynlik vas en sy blik gloei op haar neer.

“Wat het gebeur? Waar is … die kind?” vra hy skor en met pyn in sy stem.

“Ek weet nie. Niemand weet nie. Nadat … alles verby was, is die baba weggeneem. Daar is vertel dat die kind dood is.”

“Maar wat het van die baba geword?”

“Dit weet niemand nie. Ou Maria – jy onthou haar seker, sy het ons opgepas toe ons klein was – het Juliette met die geboorte gehelp. Daar was niemand anders by nie. Ou Maria het vertel dat die baba ’n rukkie ná die geboorte gesterf het. Ek weet nie eens waar hy of sy begrawe is nie. Tot vandag toe het niemand ooit weer van die baba gepraat nie.”

“Mon Dieu!” Die woorde skeur uit Emile se binneste en hy sluit sy oë ’n oomblik. “My arme klein Juliette! Waar is sy nou?”

“Ons het almal gedink sy sou dit nie oorleef nie. Daardie eerste week ná die geboorte … haar onophoudelike geroep na jou en die kind … dit het ons tot raserny gedryf. Toe het sy stadigaan beter begin word, maar sy was soos ’n dooie mens, sonder belangstelling of lus vir die lewe. O, Emile, dit was ontsettend! Jy moes haar gesien het …”

“Moenie, asseblief!” kreun die man. “Wat het toe gebeur?”

Die jong vrou, wat reeds so vroeg in haar lewe verouder het, se stem verhard.

“Vader het vir ons twee mans uitgesoek en ons gedwing om met hulle te trou.”

“Nee!”

“Tog. Sy keuse vir my was nie te sleg nie. Ons het mekaar nie liefgehad nie, maar ons het mekaar ten minste gerespekteer. Maar Juliette …” Sy sidder. “Juliette is getroud met ’n telg van Satan self. Hy is ’n wreedaard, ’n monster uit die hel, Emile!”

“Wie is hy?”

“Louis Corday. Hy is meer as twintig jaar ouer as Juliette. En dis of hy sataniese genot daaruit put om iemand te martel. Arme Juliette ervaar hel by hom,” sê sy onomwonde.

Dis of elke woord soos ’n swaard deur Emile se hart gaan. Dis vir hom ondenkbaar dat die fyn, brose Juliette met só ’n man getroud kan wees.

“Maar dis nog nie al nie,” gaan Margot fluisterend voort. “Pas ná ons troue, myne en Juliette s’n, het Vader en Moeder gesterf in ’n ongeluk met ’n koets. Ons het almal daardie tyd gedink dit was ’n ongeluk. Vandag weet ek van beter. Ek weet – ek is oortuig daarvan – dat hulle vermoor is.”

Hy kyk haar geskok aan.

“Maar wie sou so iets wou doen?”

“Wie anders as Juliette se man? Hy was van die begin af agter die D’Arcy-fortuin, dit is nou vir my so duidelik soos daglig. Vader en Moeder moes eers uit die weg geruim word. Die volgende op sy lys was ek en my man en ons twee kinders. Weer was daar ’n eienaardige ongeluk. My man en my seuntjie is dood.” Sy kyk strak na hom en daar is naakte vrees in haar oë. “Hy sal nie rus voordat ek en my dogtertjie ook gesterf het nie. Dan sal daar nie ander erfgename meer oor wees nie. Net Juliette … maar dié is van minder belang. Sy is tog so te sê nie meer ’n mens nie. Ek en my kind lewe elke dag in die skaduwee van die dood. Elke oomblik van die dag en nag wonder ek wanneer hy op ons sal toeslaan …”

“Maar is daar dan niemand wat teen hom kan optree nie?” roep Emile skor uit. Margot skud haar kop.

“Wie? Ek of Juliette? Die res van die D’Arcy-mans is almal reeds dood. Hy is ook baie slim, Emile. Daar is geen bewyse nie. Sover dit die buitewêreld betref, is dit ’n reeks tragiese ongelukke wat die D’Arcy-gesin getref het. Maar ek wéét dit was nie ongelukke nie. Ek wéét hy gaan my en my kind ook nog vermoor en op die einde miskien ook vir Juliette …”

“Nee! Dit sal nie gebeur nie, ek sê jou! Waar is sy? Ek sal julle hier wegneem …”

“Hoe gaan jy dit regkry? Ons word soos gevangenes bewaak. Hy het ’n spul spioene wat ons gedurig dophou. Vir al wat ons weet, word ons selfs nou afgeluister.”

Daar volg ’n emosiebelaaide stilte waarin albei onrustig om hulle rondkyk, maar alles is so stil soos die graf. Dan praat Emile weer. “Margot, dit maak nie saak wat gebeur nie, maar ek moet vir Juliette sien. Veral nou, ná alles wat jy my vertel het, kan ek nie sommer net so weggaan nie.” Daar is iets soos ’n desperate bravade in sy stem. “Ek gaan Juliette hier wegneem …”

Margot staar hom met wydgerekte oë aan.

“Jy is mal,” sê sy op haar reguit manier. “Jy weet nie waarvan jy praat nie! Al slaag jy ook daarin om met haar weg te kom, sal hy nooit rus voordat hy jou opgespoor en laat boet het nie. Hy weet van jou en wat tussen jou en Juliette gebeur het. Hy haat jou, Emile. Hy haat jou met ’n ontsettende haat. Asseblief, vergeet daarvan en gaan weg … voordat …”

Sy breek haar sin skielik af en gryp na haar keel onderwyl sy snak na asem. Hy sien hoe haar oë in naakte vrees langs sy skouer verbystaar en hy swaai om. Ook hy versteen toe hy vaskyk teen die loop van ’n pistool wat sekuur en roerloos op sy hart gemik is. Dan gly sy blik hoër totdat hy die oë van die man agter die pistool ontmoet … en dis of sy hartklop ’n oomblik verstil. Nog nooit tevore het hy soveel haat in een paar oë gesien nie. Niemand hoef hom te vertel dat dit Juliette se man is wat hier voor hom staan nie. Hy besef ook dat ’n gewisse dood hom in die gesig staar.

“Emile Pierre! Dan het jy eindelik gekom!” Dis of die man werklik bly is om hom te sien. “Ek wag al tien jaar op hierdie oomblik!” vervolg hy met soveel sataniese genot in sy stem dat Margot openlik sidder en Emile se kake krampagtig op mekaar klem.

Skielik verdwyn die man se glimlag.

Emile word van agter af stewig vasgevat en hy hoor die bevel: “Kerker toe met hom!”

Elke dag het Juliette se man hom daar kom besoek en hom verlustig in die wete dat die gehate Emile Pierre eindelik in sy mag is, die man wat nog ná soveel jare so helder in sy vrou se hart lewe dat hy haar nog nooit werklik kon besit nie. Maar toe, nadat dit vir Emile al begin voel het of hy heeltemal van sy verstand gedryf word deur die uittarting en sadisme van sy daaglikse besoeker, het daar uitkoms gekom …

Hy het nog geslaap toe twee vroue skielik oor hom buk.

“Moenie ’n geluid maak nie. Kan jy loop?” fluister Margot dringend. Woordeloos knik hy.

“Kom dan.” Hulle help hom op en beweeg struikelend deur die groot kelder na ’n halfmaanvormige kliptrap. Daar is ’n dringende haas by die twee vroue wat sy arms aan weerskante beethet en hy doen sy bes om met sy verswakte liggaam by te hou. Sy verstand werk nie meer nugter nie, maar tog dring dit tot hom deur dat hierdie twee vroue besig is om hom na vryheid te lei.

Dis soos ’n ewigheid voordat hulle hande-viervoet deur ’n valdeur na buite klouter tussen die bosse en rankplante deur wat die hele opening toegegroei het. Hulle help hom weer op sy voete en dis toe hy regop kom en die vars naglug met diep teue in sy longe intrek dat die waas van sy verstand wegskuif.

“Dankie. Baie dankie, Margot.” Toe hy na die ander gestalte draai, laat dié haar swaar mantel val en in die flou lig van ’n sekelmaan herken hy die gesig. Ou Maria! Sy was ook ’n kneg van die D’Arcy-familie toe Emile se ouers nog gelewe het. Daar is egter geen glimlag by haar te bespeur nie. Maar dan trek Margot hom weer angstig aan die arm in die rigting van die donker bosse en net toe hulle in die skaduwees wegsmelt, skuif die sekelmaan agter ’n drywende miswolk weg.

Nog so ’n paar tree en dan runnik ’n perd saggies in die donkerte voor hulle. ’n Kombers en water is aan die saal vasgemaak. Emile draai na Margot en druk haar ’n oomblik innig teen hom vas.

“Dankie, Margot,” fluister hy hees. “Wil jy … wil jy nie maar saam met my kom nie? Jy het gesê jou lewe is in gevaar …”

“Nee, Emile. Ek kan Juliette nie alleen laat nie, selfs al moet ek met my lewe daarvoor boet. Maar …” Sy aarsel en haar stem is skielik opgewonde. “Wag ’n oomblik. Ek kom nou terug.”

Sy verdwyn haastig in die rigting van die kasteel en Emile volg haar met angstige oë. Dis ou Maria wat die stilte verbreek.

“Jy moet ry. Ry voordat Margot terugkeer.”

Hy draai na die ou vrou en spreek haar die eerste keer direk aan.

“Ek kan nie. Ek moet wag totdat Margot terugkeer. Wat gaan aan? Ons was in die verlede vriende. Dit lyk amper asof … asof jy my haat. Wat het ek gedoen …?”

“Hoe durf jy nog so iets vra? Dis deur jou dat my arme klein Juliette die afgelope tien jaar in ’n hel moet lewe. As jy jou plek geken het …”

Hy maak haar met ’n handgebaar stil.

“Ja, ek weet. Jy is natuurlik reg,” sê hy sag en die selfverwyt klink rou in sy stem. “Wat sal dit help om te sê dat ek my bloed sal tap as ek net alles kon terugroep? Mon Dieu, kon daar uit so ’n mooi liefde soveel smart gebore word?”

Die ou vrou kyk hom strak aan.

“Emile Pierre, ek gee nie om om jou reguit te sê dat ek jou haat nie. Ja, ek haat jou weens al die ellende wat jy oor my klein Juliette gebring het. Maar ek haat ook die man met wie sy getroud is – selfs meer as wat ek jóú haat. Daarom gee ek jou hierdie sleutel. Bewaar dit soos jy jou eie lewe sal bewaar, want hierin lê die geheim van baie dinge.”

“Wat …?” Hy kyk verbaas af na die sleutel wat sy in sy handpalm geplaas het. “Wat beteken dit? Van watter geheim praat jy?”

“Jy sal eendag verstaan. Nou kan ek jou niks meer sê nie. Bewaar net daardie sleutel. Dit is die voortbestaan van die D’Arcy-geslag. Steek dit weg. Margot moenie daarvan weet nie. Niemand moet weet nie. Net ek en jy.”

Emile gehoorsaam en vra dan stil: “Margot sê jy was by …

by Juliette toe … ons kind gebore is. Wat het van my kind geword?”

“Die kind is dood ’n paar uur ná die geboorte,” antwoord sy dadelik en Emile se kop sak op sy bors.

Die vrou se oë is kliphard. Dan begin sy wegskuif. “Ek gaan nou. En onthou, bewaar daardie sleutel soos jou eie lewe.”

“Maar vertel my wat die geheim van daardie sleutel is …” begin hy en swyg dan. Die nag het die krom ou gestalte reeds ingesluk. Daar is ’n geritsel in die bosse aan die oorkant en die volgende oomblik sluit Margot haar weer by hom aan.

“Waar is ou Maria?”

“Sy het eenvoudig verdwyn. Ek verstaan haar glad nie. Sy is vreeslik geheimsinnig. Het jy my dan nie vertel dat sy verdwyn het pas nadat Juliette …”

“Ja, sy het. Ek kon op my rug val toe sy vanaand skielik in my kamer verskyn het. Hoe sy van jou te wete gekom het, weet ek nie. Sy maak my bang. Sy het ’n vermoë om te verskyn en te verdwyn soos dit haar pas. Sy het my net beveel om saam met haar te kom sodat ons jou kan gaan bevry. Die ou heks ken die kasteel soos die palm van haar hand. Sy het my deur ondergrondse gangetjies en geheime deure gelei waarvan ek nie eens bewus was nie totdat ons by jou uitgekom het. Kon sy jou niks van … van jou kind vertel nie?”

“Nee.” Hy sug diep. “Ook maar net dat hy of sy dood is ná die geboorte. Margot …” Hy neem haar aan die skouers. “Jy sê jy vrees vir jou en jou kind se lewe. Kom saam met my.”

“Hoe kan ek, Emile? Wat van Juliette? Hoe kan ek haar nou alleen laat? Ek is nog al wat sy oorhet.”

“Dis waar. Maar is daar dan niks wat ek kan doen nie?”

“Nee, niks. Ry nou. Ek het vir jou ’n mandjie padkos gebring. Gaan dadelik, asseblief!”

Kaptein Pierre staan weer stadig uit die stoel op en beweeg terug na die kajuitvenster. Sy een hand vryf langsaam oor sy middellyf waar hy die vorm van ’n sleutel duidelik onder sy klere kan voel. Sy oë raak peinsend.

Waarom sal Hercule Cordier die D’Arcy-skat by hom kom soek? Hoe het hy geweet van hom, van sy verlede en sy verbintenis met die D’Arcy-familie? Wie ís Hercule Cordier? En weer die vraag: waarom word die D’Arcy-skat duisende myle ver van die landgoed af gesoek? Sou die skat dan verdwyn het?

Sy oë vernou toe sy vingerpunte weer aan die sleutel raak. Ou Maria … sy wou nie die geheim van die sleutel bekend maak nie. Hy moes dit net soos sy eie lewe bewaar. Sou hierdie sleutel iets te doen hê met die D’Arcy-skat wat blykbaar vermis word? Wat het in Frankryk gebeur ná daardie nag toe hy die donkerte in verdwyn het? Sou Margot en Juliette nog lewe? En ou Maria? Het sy iets te doen met die verdwyning van die D’Arcy-skat of bewaar hierdie sleutel ’n heeltemal ander geheim?

Kaptein Pierre frons skerp. Die antwoord op hierdie vrae sal hy slegs in Frankryk vind. Op die een of ander manier moet hy so gou moontlik daar kom, besef hy skielik. Dit het dringend noodsaaklik geword. Hy moet hierdie vreemdeling, Hercule Cordier, wat ook êrens in die prentjie pas, aan ’n lyntjie hou. Hy moet tyd wen totdat hy die oplossing vir al die tergende geheime gevind het. Êrens … êrens tussen die grou mure van die ou kasteel in Frankryk sal hy die antwoord kry …

Hy kom nie agter dat die deur agter hom oopgegaan het nie en word eers van Hercule se teenwoordigheid bewus toe dié agter hom praat.

“Is jy nog vasbeslote om niks te sê nie, kaptein?”

Hy antwoord nie, maar kyk net die jonger man vierkant in die oë. Ná ’n oomblik trek Hercule sy skouers op. “Ek gee jou nog tot môreoggend tyd, kaptein Pierre. As jy dan nog nie wil sê waar die D’Arcy-skat weggesteek is nie, sal jou dogter gekielhaal word,” sê hy ongeërg.

Ena Murray Keur 3

Подняться наверх