Читать книгу Ena Murray Keur 3 - Ena Murray - Страница 6
3
ОглавлениеZonika het gesorg dat sy Hercule nie weer te siene kry voordat hy en sy oorblywende paar bemanningslede veilig op die eiland afgelaai is nie. Nie een van die twee mans het na haar verwys toe hulle mekaar die hand reik nie, hoewel albei intens bewus was van haar afwesigheid.
Hulle was skielik baie formeel.
“Tot siens, kaptein Cordier.”
“Tot siens, kaptein Pierre.”
Net ’n oomblik het die twee mans mekaar in die oë gekyk. Toe het die seerowerkaptein vinnig weggedraai en na die dek van sy skip teruggekeer. Hercule Cordier en sy bondeltjie bemanningslede het klein en verlore op die strand gelyk. Toe kom die massiewe romp van die Seekat in beweging, eers baie stadig, maar al vinniger toe die wit seile bokant hom ontplooi.
Op die strand het Hercule Cordier se oë skielik vernou toe daar nog ’n gestalte langs dié van kaptein Pierre by die reling verskyn. Hy kon haar gesig eintlik nie meer sien nie, maar hy het die waaiende swart hare geëien. Mam’selle Zonika het haar dus tog verwerdig om hom tot siens toe te wuif. Hy het haar groet beantwoord, maar sy oë was kil.
Vader en dogter het langs mekaar gestaan totdat die Hercule net ’n spikkeltjie op die horison was. Toe het hulle omgedraai en sonder ’n verdere woord teruggestap.
Dit is twee jaar later. Oënskynlik het daar nie veel op die Seekat verander nie. Die seerowerskip vaar nog steeds oor die seë, belewe bloedige gevegte en vergaar ryk buit in sy groot ruim. Zonika het tot dusver nog elke keer wanneer die Seekat seil daarin geslaag om hom te vergesel, ten spyte van kaptein Pierre en Madame se sterk teenkanting. Madame het moed opgegee om ooit van haar ’n dame te maak.
Ja, oënskynlik is alles nog presies dieselfde. En tog …
Tog het iets verander. Die ontmoeting met die Hercule en sy kaptein het ’n indruk op sowel vader as dogter gelaat … en nie een van die twee kon dit verklaar nie.
Kaptein Pierre het stiller geword en meer dikwels die horison dopgehou, asof hy verwag het dat die seile van die Hercule enige oomblik daar sou verskyn. En elke keer dat daar wel ’n vreemde seil oor die waterkim geskuif het, was hy merkbaar opgewonde en het sy oë geblink asof in blye afwagting.
Terwyl haar vader stiller geword het, het Zonika onverskilliger geword. Hy moes haar in die twee jaar wat verby is, dikwels streng aanspreek oor haar roekeloosheid. Dit was asof sy skielik nie meer ’n duiwel omgegee het nie. Sy het skouer aan skouer met haar ruwe bemanning geveg en soms so waaghalsig opgetree dat die bloed in kaptein Pierre se are eintlik koud geword het. Sy het boaan die mastoppe geswaai, resies gejaag na die kraaines met Haan, soms selfs die stuur by Haan oorgeneem en ná ’n oorwinning saam met die matrose om die vat rum feesgevier.
Haar vader het haar bekommerd dopgehou. Aan die begin het hy haar probeer keer – gedreig, mooigepraat, enigiets gedoen om haar tot haar sinne te bring. Maar later het hy, soos Madame, liewer geswyg, want hoe meer hy met haar gepraat het, hoe roekeloser het sy geword. Hy het skielik nie meer sy dogter verstaan nie. Dat hierdie verandering by haar ingetree het ná die ontmoeting met die Hercule, was duidelik, maar hoekom die voorval juis só ’n uitwerking op sy dogter moes hê, was vir kaptein Pierre ’n raaisel en ’n bron tot groot kommer.
Zonika kon die verandering in haarself sedert die afskeid van die Hercule net so min verklaar as kaptein Pierre. Dit was asof daar iets van haar besit geneem het, asof sy iets aan haarself wou bewys, maar nie geweet het wat dit was nie. Waar sy aan die begin Madame se voorstelle teengegaan het net omdat sy gemeen het daar was nog genoeg tyd oor om ’n dame te word, het sy nou ’n openlike weersin in dié gedagte ontwikkel. Niks op aarde kon haar dwing om ’n rok aan te trek nie. Alles wat vroulik en verfynd was, het sy verfoei en bespot. Dit was baie duidelik – Zonika wou beslis geen vrou en veral nie ’n dame wees nie. Daarby het sy blykbaar die grootste plesier daarin gevind om mense te skok. Sy het ’n paar seerowerwoorde aangeleer wat kaptein Pierre nie eens gebruik het nie. Ure lank het sy geoefen met die swaard, pistool en kapmes. Sy kon naderhand ’n sambok se punt laat krul en klief soos enige man. Sy was bemind maar gevrees onder haar makkers. Almal wis dat sy ’n vrou is, maar niemand sou dit waag om eens ’n opmerking daaroor te maak nie.
Maar Zonika het ook grootgeword in dié twee jaar. Die harde lewe wat sy gevoer het, het haar volwasse gemaak – ’n volwasse vrou. Dié feit kon sy nie verbloem nie, al het sy haar uiterste bes gedoen. Hoewel haar kleredrag veel te wense oorgelaat het, kon sy die kurwes van haar vroulike figuur nie wegsteek nie. Sy kon die fynbesnede, beeldskone gelaatstrekke nie agter ’n masker verberg nie. Nog minder kon sy die vroulike aantrekkingskrag smoor wat van êrens diep binne-in haar soos magnetiese strale na buite geskiet het. Ja, Zonika was ’n vrou – ’n pragtige, begeerlike vrou wat deur baie oë raakgesien is … maar wat niemand tot dusver nog gewaag het om aan te raak nie.
Hercule Cordier se naam is nooit tussen vader en dogter genoem nie. Dit was asof daar ’n stilswyende ooreenkoms tussen hulle tot stand gekom het dat hierdie onderwerp vermy sal word.
En só was dit op die dag toe daar weer ’n seil op die gesigseinder sigbaar raak. Soos altyd kondig Haan dit uit die kraaines aan.
“Hoo- … laaa!”
’n Gespanne stilte volg en dan kom die bekendmaking: “Dis die Hercule!”
Elke oog hou nou die naderende seile dop. Eers is net die hoofmas met sy wapperende vlag sigbaar. Dan verskyn ook die symaste, voormaste, fokmaste en dan die romp met die naam daarop. En weer, soos twee jaar gelede, verander die Hercule dadelik van koers en pyl direk op die Seekat af.
Zonika kyk vinnig na haar vader wat roerloos by die reling staan. Toe die stilte al langer rek, stap sy haastig na hom toe.
“Moet u nie die bevel gee dat die skip in gereedheid gebring word nie?” waag sy dit om te vra, maar eers lyk dit of kaptein Pierre haar nie gehoor het nie. Dan antwoord hy, sy oë nog steeds op die romp van die naderende skip gerig: “Daar sal nie geveg word nie.”
Zonika kyk hom verbyster aan.
“Wat bedoel u, Vader? U gaan tog nie net so bly staan dat daardie … man ons aan flenters skiet nie? Waarom wil u nie veg nie? Hy is duidelik van plan …”
Net ’n oomblik kyk kaptein Pierre na haar. Sy stem is beslis. “Ek het gesê daar sal nie geveg word nie.” Dan keer sy blik terug na haar en hy vervolg: “Jy hoef nie bang te wees nie. As hy ons aanval, sal ons ons verdedig. Maar hy moet die eerste skoot skiet.”
Zonika is oorgehaal om hom te vertel hoe dwaas sy optrede is, maar sy stem was so beslis dat sy weet dit sal nie help om hom tot ander insigte te probeer bring nie. Sy voel skielik onrustig. Hercule Cordier het geen geheim daarvan gemaak dat hy agter haar vader se bloed aan is nie. Ná wat twee jaar gelede gebeur het, sal hy beslis op háár ook wraak wil neem. En hier staan haar vader sonder ’n enkele woord en toekyk hoe hul dood ongehinderd nader seil! Sy gryp hom desperaat aan die arm. Sy weet dat sy haar vader nie weer moet aanspreek nadat hy in daardie stemtoon gepraat het nie, maar sy kan nie stilbly nie.
“Mon père, asseblief, daardie man gaan ons doodmaak! Hy sal nie aan ons dieselfde genade betoon wat u aan hom betoon het nie. Ons …”
“Zonika, ék is die kaptein van hierdie skip en ék gee die bevele. Ek het klaar gepraat!”
Dan kry haar humeur die oorhand oor haar. Hoe durf haar vader hulle almal se lewe só in gevaar stel? Wat hy nie weet nie, is dat daardie man haar gedreig het voordat hy twee jaar gelede afskeid van hulle geneem het. Sy gaan beslis nie met gevoude hande staan en toekyk hoe sy in sy kloue beland en hy sy dreigement ten uitvoer bring nie!
Sy draai om, gereed om die bevel te gee dat die skip in gereedheid gebring moet word, toe die woorde op haar lippe verstil en sy verskrik terugswaai na die reling. ’n Paar skote uit die Hercule se kanonne het skielik deur die stilte gedreun! Maar dan frons sy. Dit was beslis nie gevegskote daardie nie. Haar oë rek wyd toe sy na die dek van die ander skip kyk. Die hele bemanning hang oor die reling en waai vriendelik vir hulle. En daar, op die voorpunt, groot en fier, staan die kaptein. Ook sy arm is omhoog in ’n vriendelike groet. Dit was saluutskote wat afgevuur is.
Die eerste keer ontspan kaptein Pierre se gesig en laggend kyk hy na sy dogter se verbysterde gesig.
“Wat het ek jou gesê? Daar sal nie geveg word nie.” Dan waai hy sy arm opgewonde in die lug rond en skree so hard as hy kan: “Hercule!”
Zonika sien hoe die sonverbrande gelaat van die jonger man verhelder in ’n breë glimlag en sy hoor hom terugskree. Haar oë vernou. Êrens is ’n skroef los. Sy vertrou hierdie man nie, maar sy is magteloos. Stilswyend staan sy en toekyk hoe die twee houtrompe uiteindelik teen mekaar stamp soos twee ou vriende wat mekaar innig groet ná jare van skeiding. Sy stap nie nader toe die kaptein van die Hercule ligvoets oor die reling spring en op die dek van die Seekat te lande kom nie. Daar is openlike vreugde in sy oë toe kaptein Pierre sy hand uitsteek.
“Hercule! Dis ’n aangename verrassing! Ek is bly om jou weer te sien.”
Hercule neem die hand en druk dit stewig. Daar is iets onpeilbaars in sy oë toe hy antwoord: “En dis aangenaam om weer die Seekat se dek onder my voete te voel, kaptein.” Dan blik hy oor die ouer man se skouer en glimlag. “A, mam’selle!”
Zonika verstyf merkbaar en sy wil wegdraai, maar hy spring haar voor. “Ek het ook daarna uitgesien om jou weer te ontmoet, mam’selle. Ek was bang jy sou nie op die skip wees nie.” Sy oë glinster vriendelik, en daar is geen sprake van die voorheen so uiters formele houding en aanspreekwyse nie.
“Ek is bevrees dat ek nie jou ekstase oor ons herontmoeting deel nie, kaptein Cordier. Sal jy asseblief my hand los?” Sy kyk hom kil aan.
Hy kyk af op die fyn handjie wat hy nog stewig in syne vashou en glimlag. Net soos hy verwag het. Dis nie van die skoonste nie! Zonika het beslis nie in die afgelope twee jaar verander nie! Haar vingers rem weg van syne, maar hy bring hulle doelbewus na sy mond en ’n oomblik lank rus sy lippe op haar pols. Daar is ’n effens verdwaasde uitdrukking op Zonika se gesig toe hy haar hand los. Dis die eerste keer in haar lewe dat ’n man haar pols soen en sy is ’n oomblik te uit die veld geslaan om te weet hoe om op te tree. Die glimlag het ook nou van sy gesig af verdwyn en hy kyk haar ernstig aan. Haar mond gaan oop om hom nog ’n afjak te gee, maar dis of sy nie iets kan vind om te sê nie. Eindelik kan sy haarself sover bring om hom die rug toe te keer en weg te stap.
Kaptein Pierre se geamuseerde laggie klink agter Hercule op.
“Dis die eerste keer in my lewe dat ek my dogter na woorde sien soek!”
Hercule glimlag skrams, maar sy oë bly op die trap gerig waar sy verdwyn het.
“Sy is beeldskoon. Sy is werklik beeldskoon,” prewel hy, meer tot homself as die ander man.
Kaptein Pierre se glimlag verdwyn.
“Ja, sy is. En sy is ’n goeie kind as ’n mens haar net reg hanteer.” Daar brand ’n vonkie hoop in hom. Verlede keer het dit gelyk asof sy dogter en hierdie man mekaar nie kon vind nie. Maar nou … miskien …
“Kom ons gaan klink ’n glasie wyn, Hercule. Ons moet ons ontmoeting vier,” nooi kaptein Pierre gul en Hercule volg hom woordeloos met ’n laaste blik na die trap.
Onderwyl die twee mans in die kaptein se kajuit vrolik oor ’n glasie wyn gesels soos twee ou boesemvriende, staar Zonika in haar eie kajuit by die patryspoort uit. Watter mag het hierdie man om haar so te ontstig elke keer dat hulle mekaar sien? Waarom laat hy haar altyd minderwaardig voel? Soos netnou toe hy haar pols gesoen het. Sy het die gevoel gekry dat hy met haar die spot dryf … en tog was sy oë ernstig.
Wat voer hierdie man in die skild? Haar frons verdiep. Veronderstel hy voer nié iets in die skild nie. Veronderstel sy gevoelens teenoor haar en haar vader het verander in die twee jaar wat verby is. Sal dit dan nie beter wees om liewer van hom ’n vriend te maak as ’n vyand nie? Maar hoe kan sy seker wees dat sy hom kan vertrou?
Weer tas haar vingerpunte liggies oor haar pols waar sy lippe gerus het. Hercule het met hierdie gebaar van hom die vrou wat sy so diep in haar weggesteek het, aangeraak. Ten spyte van haar ergernis, wil haar hart nie sy normale klopping hervat nie. Dit fladder in haar kuiltjie en haar bors dein onrustig. Dit is met iets soos wanhoop dat sy aan haarself moet erken dat Hercule Cordier baie aantreklik is – en beslis die enigste en eerste man wat aan haar doen wat hy aan haar doen. Maar daar is één ding waarvoor sy hom nooit sal vergewe nie … Sy sal nooit, ooit vergeet dat hy gesê het sy is vuil en vol kieme nie! Sy voel vandag nog moorddadig as sy net aan daardie dag terugdink.
Sy neem plaas voor die lang spieël. Haar blik dwaal krities oor die beeld wat na haar terugkaats. Vuil en vol kieme, nè? Haar lippe sluit ferm saam. ’n Barbaar, nè? Kaptein Cordier, jy sal nog jou woorde een vir een terugsluk, jou verwyfde Franse hofknaap! Daar is ’n lig in haar oë wat niks goeds voorspel nie toe sy die deksel van ’n swaar kis oplig en daarin begin rondkrap.
Onderwyl daar allerhande duistere dinge in Zonika se gedagtes aangaan, sit die twee mans elk met ’n glasie in die hand. Die geselskap wil ná die eerste ontmoeting meteens nie vlot nie. Daar is ’n stremming tussen hulle waarvan albei intens bewus is. Albei weet ook waaroor dit gaan. Kaptein Pierre beskou die jonger man stip oor die rand van sy glasie. Twee jaar gelede het hierdie man hom belowe dat hulle mekaar weer sal raakloop en dat hy hom dan sal doodmaak as dit moet. Wel, hier is hulle nou weer bymekaar, maar pleks van ’n bloedige geveg, sit hulle nou soos ou vriende saam en drink. Wat is hierdie man se planne?
Hercule staar oor sy glasie se rand terug in die oë wat hom so ernstig aankyk en hy frons innerlik. As hy net hierdie ongemaklike gevoel – so asof hy ’n verraaier is – van hom kan afskud! Die man hier reg voor hom is sy vyand en hy behoort hom geen genade te betoon nie. Hy wéét tog dat kaptein Pierre nie die man is wat hy voorgee om te wees nie. Hy wéét dat hierdie man ’n roekelose, gewetenlose moordenaar is, ’n dief, ’n skurk deur en deur. Daarom te meer laat hierdie vreemde vriendskap wat van die eerste oomblik van hul ontmoeting af tussen hulle ontstaan het hom elke keer verbyster as hy net daaraan dink. Hoe is dit moontlik dat hy, ná alles wat hy van hierdie man af weet, ook van hom kan hou? En dan ook soveel dat hy huiwer om teen hom op te tree? Watter onverklaarbare mag hou sy hand elke keer terug wanneer dit na sy swaardlem wil afsak?
Dis kaptein Pierre wat die ongemaklike stilte verbreek.
“Dan het ons mekaar weer ontmoet. Jy het dit voorspel.” Sy oë is stip. “Jy het ook ander dinge voorspel.” Hy wag dat die ander daarop moet antwoord, maar toe dié hom net sit en aanstaar, vervolg hy kortaf, duidelik gespanne: “As jy net wil praat! As jy my net wil sê waarna jy soek. Miskien is alles net ’n misverstand …”
“Daar is geen misverstand nie. My feite is honderd persent korrek.”
“Wat is dit dan, mon ami? Praat! Waarna soek jy en waarom het jy gedreig om my dood te maak?”
Hercule sug en sit sy glasie neer.
“Dis ’n lang storie. Ons kan later praat. Laat ons nou eers daarvan vergeet en ons herontmoeting vier. Daar is baie vate wyn in die Hercule se ruim. Laat ons bemanning vanaand ontspan. My kok is besig om vir ons ’n feesmaal voor te berei. Ek nooi jou en mam’selle Zonika om vanaand by my te kom eet. Daar sal Franse sjampanje ook wees.”
Hy glimlag en na ’n oomblik ontspan die strak lyne van kaptein Pierre se gesig ook. Hy glimlag terug.
“Nou goed dan. Vanaand hou ons jolyt – en môre praat ons.”
Die bemanning van die Seekat is in die wolke toe hulle van Cordier se voorstel hoor. Gretig help hulle die deftig geklede matrose van die ander skip om die vate na die Seekat oor te rol. Hercule het voorgestel dat die bemanning liewer hul jolyt op die Seekat hou sodat hy en sy twee gaste ongesteurd hul ete op sy skip kan geniet. Ten spyte van die feit dat die twee skepe se bemanningslede so hemelsbreed van mekaar verskil, laat die smaak van die rum in hul monde hulle gou daarvan vergeet en dis nog sommer vroegaand dat die gebabbel en gelag van die Seekat af Hercule vertel dat hulle heeltemal goed met mekaar oor die weg kan kom. Hy glimlag waar hy op die dek van sy skip staan.
Dan draai hy na een van sy ondergeskiktes.
“Ek dink jy moet ook maar aan die vrolikheid gaan deelneem, Jac.” Daar is iets veelseggends in die opdrag wat die offisier blykbaar verstaan, want hy glimlag en gehoorsaam dadelik.
“Miskien sal dit die beste wees, mon capitaine. Hulle kan hulle miskien te buite gaan.”
Hy en kaptein Pierre steek mekaar verby op die loopplank wat tussen die twee skepe gelê is. Die seerowerkaptein glimlag geamuseerd toe hy Hercule by die reling bereik.
“Dit gaan uitbundig op die Seekat. Ek hoop daar bly iets oor van my skip!”
Hercule glimlag ook en knik.
“Ek het Jac nou juis oorgestuur om toesig te hou dat hulle dit nie dalk aan die brand steek nie. Laat hulle dit maar geniet. Soos hulle nou aangaan, sal hulle oor ’n paar uur in elk geval almal vas aan die slaap wees.” Hy kyk na die Seekat. “Waar is mam’selle Zonika?”
“Ek het aan haar kajuitdeur geklop, maar sy sê sy is nog nie gereed nie. Sy sal nou-nou kom.”
“Dan kan ons solank ’n drankie drink.”
Kaptein Pierre se blik dwaal met welgevalle om hom rond. Alles getuig van weelde en gemak. Hierdie jong man moet oor heelwat geld beskik om die eienaar van só ’n skip te wees. En weer kan hy die vraag wat by hom opkom nie keer nie: wie is hierdie Hercule Cordier?
Die twee mans het pas elkeen ’n glasie tussen die vingers toe die deur van die kapteinskajuit oopgaan. Hulle kyk op … en nie een van die twee is in staat om ’n woord te uiter onderwyl Zonika stadig die vertrek binnestap nie. Haar vader se verbasing is net so groot soos dié van Hercule, wat ’n oomblik sy goeie maniere vergeet en die visioen voor hom skaamteloos aanstaar.
Die eerste keer in sy lewe sien kaptein Pierre sy dogter soos ’n dame geklee. Die spierwit rok … deel van die een of ander buit … is asemrowend. Dit het ’n lae halslyn en klok wyd van haar skraal middeltjie af tot op haar voete. Die bolyfie is uitgeborduur met krale en die swart hare en sonbruin vel wek ’n indrukwekkende kontras. Ook haar hare lyk anders. Sy het dit saamgevat sodat dit in ’n groot lok oor die een skouer na vore hang en die eerste keer merk Hercule op dat die donker oë in werklikheid diep hemelsblou is. Sy probeer haar ongeërg voordoen, maar die duiweltjies in haar oë verraai hoe sy die situasie geniet.
Hercule Cordier se een donker wenkbrou lig vraend en dan moet hy teen wil en dank glimlag. Hy ruk hom reg en buig laag oor die handjie wat ongeërg na hom uitgehou word.
“Mam’selle, daar is geen blom aan die Franse hof wat met jou vergelyk kan word nie.”
“Flatteur! Vleier!”
Weer is die twee mans se verbasing byna tasbaar. Nie net het Zonika uiterlik ’n byna onherkenbare verandering ondergaan nie, maar blykbaar ook haar houding teenoor Hercule Cordier. Hulle kyk haar fronsend aan. Wat voer sy in die skild? In albei lê hierdie vraag.
Haar vader, wat haar van kleins af ken, vertrou geensins hierdie nuutgevonde oënskynlike welwillendheid nie. Hy glo geen oomblik dat Zonika sommer skielik besluit het om die strydbyl te begrawe nie. Sy is nie iemand wat maklik vergeet of vergewe nie. Daar het ook niks gebeur wat hierdie veranderde houding by haar kon teweeggebring het nie. Nee. Sy voer wel iets in die skild, daarvan is hy seker.
Die blik wat nou op Zonika rus, is fronsend, priemend. Dis of die donker oë van Hercule Cordier dwarsdeur haar wil kyk, maar hoewel ’n vreemde opgewondenheid van haar besit neem, slaag sy tog daarin om uiterlik kalm voor te kom. Hercule se skielike mak houding vertrou ook sy glad nie.
Hy lei haar na ’n stoel en die geselskap raak algemeen.
Zonika is besonder stil en telkens draai die twee mans se oë na haar, asof hulle hulle elke keer moet vergewis dat dit tog die rabbedoe Zonika is wat daar soos ’n beeldskone dame aan die Franse hof sit.
Die ete verloop vlot en sowel kaptein Pierre as sy dogter wens Hercule ná die ete geluk met sy Franse kok. In die agtergrond kan die rumoer van die Seekat af dofweg gehoor word en nie lank daarna nie maak kaptein Pierre verskoning dat hy na sy skip moet terugkeer. Hercule dring egter daarop aan dat hulle nog vir oulaas ’n glasie saam moet klink en hy stem geredelik toe. Zonika staar na die breë rug wat ’n oomblik na haar gekeer is terwyl hy die glasies vul.
Hoewel sy dit skaars aan haarself erken, weet sy dat Hercule die enigste man is wat nog ooit ’n indruk op haar gemaak het. Hoe sy ook al hierdie afgelope twee jaar probeer het, sy kon hom nie uit haar gedagtes weer nie.
Hoewel sy haar vanaand doelbewus mooigemaak het, is sy tog vroulik genoeg om die bewondering in sy oë te kon opmerk en gevlei te voel daaroor. Tog voel sy ook onseker. Eers nadat sy haar klaar aangetrek en in die spieël beskou het, het sy op haar plan gekom.
Sy het nie vergeet dat Hercule Cordier haar vader twee jaar gelede met die dood gedreig het nie. Ook het sy nie vergeet dat hy haar belowe het dat sy eendag ’n rekening by hom sal moet vereffen nie. Toe sy na haar spieëlbeeld gestaan en kyk het, het sy skielik besef dat sy werklik beeldskoon is. En Hercule Cordier is ’n man. As sy hom sover kan kry om op haar verlief te raak, sal hy tog seker nie meer aan die vereffening van rekenings dink nie. Nog minder sal hy daaraan dink om sy aanstaande skoonvader om die lewe te bring! En as hy eers verlief is, sal sy hom om haar pinkie kan draai. Sy sal uitkrap waaragter hy is, waarom hy hulle oor die seë agtervolg en dan … Sy glimlag. Dan sal sy die hef in die hand hê.
Want natuurlik haat sy hierdie man! Natuurlik! Sy het haar dit ten doel gestel om eendag vrees in daardie vreeslose oë te sien en om daardie selfversekerde glimlag van sy lippe af te vee. Dan sal Hercule Cordier eers besef dat Zonika Pierre nooit vergeet of vergewe wat aan haar gedoen of gesê is nie.
Hercule hou die geheimsinnige glimlaggie om haar lippe dop en die ekstra sintuig wat hom altyd teen gevaar waarsku, roer weer diep binne-in hom. Dan glimlag hy ook, net so geheimsinnig, en weer blink sy oë met ’n vreemde gloed.
Kaptein Pierre sit sy glasie neer en staan op.
“Dis tyd vir my om bed toe te gaan. Ek is ’n ou man.”
“Ek dink jy moet liewer op die Hercule oornag, kaptein. Jy sal met al daardie geraas maar min rus op die Seekat kry en die passasierskajuite hier is leeg.”
Maar kaptein Pierre skud sy kop.
“Nee, mon ami, dankie vir jou aanbod, maar ek slaap op my eie skip. ’n Kaptein moet op sy skip wees. Kom jy, Zonika?”
Sy staan gehoorsaam op, maar dadelik sluit sterk bruin vingers om haar pols.
“Jy gaan tog nie ook nou al slaap nie, mam’selle. Die aand is nog jonk.” Hy glimlag innemend. “Ek was maande laas in die geselskap van ’n dame. Ons twee het ook nog nie eens lekker gesels nie. As jou vader nie sal omgee nie …”
“O, nee, nee. Julle kan maar nog gesels, maar ek gaan slaap.” Hy verberg ’n gaap agter sy hand. “Dis seker die wyn en sjampanje wat my aantas. Ek kan my oë nie oophou nie. Goeienag.”
“Ek stap saam tot by die loopplank. Verskoon ons, asseblief. Ek is nou terug,” sê Hercule aan Zonika en sy knik.
“Wil jy regtig nie maar liewer hier slaap nie, kaptein?” herhaal hy weer sy aanbod toe hulle op die dek kom. “Hoor net hoe raas dit daar anderkant.”
“Nee, dankie, ek sal maar liewer oorgaan. Dan gesels ons môre, nè?”
Hercule knik.
“Ons gesels môre – goeienag, kaptein Pierre.” Hy wag ’n oomblik en voeg by: “Rustige nag.”
Kaptein Pierre lig sy hand om te groet, maar dan stort hy skielik met ’n draaibeweging inmekaar. Hercule vang hom net betyds voordat hy die dek tref. ’n Skaduwee beweeg vinnig nader en Hercule fluister: “Hy is so uit soos ’n kers. Sal jy hom versorg, Jac?” Hy glimlag. “Hy het blykbaar te veel gedrink en die vars lug was die doodskoot. Neem hom weg voordat iemand hom in dié toestand sien.”
Al Zonika se aandag is toegespits op die glasie wyn tussen haar vingers toe Hercule binnekom. Sy kyk nie op nie. Hy stoot die deur agter hom toe en leun met gevoude arms daarteen. Daar is ’n glimlag om sy lippe onderwyl die stilte al langer en langer rek. Eindelik is Zonika verplig om op te kyk en nou kan sy met die beste wil ter wêreld nie weer haar oë van syne wegskeur nie. Skielik begin haar hart benoud klop. Het sy miskien iets aangedurf wat sy nie enduit sal kan deurvoer nie? Is sy werklik opgewasse teen hierdie man? Zonika het nog nooit in haar lewe voor iets of iemand te staan gekom waarvoor of vir wie sy nie kans gesien het nie. Dis vir haar ’n vreemde ervaring om nou aan haarself te twyfel.
“Jy het nog nie jou wyn gedrink nie, mam’selle,” verbreek hy die stilte en kom stadig nader.
Sy lag effens senuweeagtig en sit die glasie neer.
“Ek dink ek het genoeg gehad vir een aand. As jy my sal verskoon, kaptein, sal ek liewer nie dié een neem nie.”
“Natuurlik. Daar is veel beter dinge om te doen as om in ’n bedompige kajuit te sit en wyn drink. Voel jy nie lus om ’n bietjie vars lug op die dek te gaan soek nie?”
Byna oorhaastig spring sy op.
“Ja, ja, asseblief. Dis … ’n bietjie bedompig hier.”
Hy knik en glimlag weer effens. Hulle is albei stil totdat hulle die dek bereik. Hy lei haar na die dek aan die ander kant van die Seekat. Zonika kyk strak voor haar oor die golwe uit. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy alleen by ’n man op dek staan, skiet die gedagte skielik deur haar. En as die man dan nog Hercule Cordier is … Sy sidder liggies.
“Kry jy koud, mam’selle? Jy bewe,” merk hy op en sonder om op haar antwoord te wag, swaai hy sy mantelbaadjie van sy skouers af en vou dit om haar. Sy hande bly op haar smal skouertjies waar die bewing maar nie wil verstil nie. Sy hou haar gesig afgewend in die rigting van die golwe en hoe sy ook al in haar gedagtes rondtas na iets om te sê, kan sy aan niks dink nie. Sy glimlag verdiep en sy hande beweeg op na die mantel se lapelle sodat sy vingers onder haar ken inskuif. Stadig, doelbewus draai hy haar kop totdat sy verplig is om na hom op te kyk.
“Jy bewe nog steeds. Is jy bang vir my, Zonika?”
Haar oë flits op na syne en die kennetjie druk oudergewoonte na vore. “Natuurlik nie! Ek is vir geen man bang nie!” verweer sy driftig, amper te driftig.
Maar pleks daarvan dat sy glimlag by die aanhoor van haar woorde verbreed, verdwyn dit en hy kyk stip op die fyn gesiggie af.
“Natuurlik! Jy is nie net beeldskoon nie maar ook dapper. Ek het dit net ’n oomblik vergeet.” Dan skielik terg sy oë weer. “Sê my, het ’n man jou al gesoen?”
“Natuurlik! Hope al. Wat het jy gedink?”
“En lewe hulle nog?”
Haar gesig verstrak en sy beur van hom af weg. ’n Oomblik vergeet sy al haar planne en antwoord woedend: “Hulle lewe nog almal én hulle is ook nie besmet met kieme nie!”
Hy lag saggies.
“Jy sal my dít nooit vergewe nie, nè? Ek wou maar net weet, want ek wil jou baie graag soen, maar nie ten koste van my lewe nie. Maar as jy werklik die waarheid praat en dis heeltemal veilig …”
“Verskoon my, monsieur! Ek laat my nie deur enigeen soen nie …”
“Jy het tog geweet dat ek jou sal soen voordat die aand verby is, het jy nie?” vra hy reguit en ’n oomblik kan sy hom nie antwoord nie. Ja, natuurlik het sy dit geweet toe hy haar na die dek genooi het …
“Jy het vanaand, toe jy jou so mooi aangetrek het, geweet dat ek jou nie sou kon weerstaan nie, nie waar nie?” Die vingers om die lapelle trek haar al nader teen hom aan. Die stemtoon raak dieper, die donker kop sak na haar toe. “Jy weet ook dat ek jou die afgelope twee jaar nie kon vergeet nie, net so min as wat jy my vergeet het. En jy het geweet dat wanneer ons mekaar weer raakloop, dit sal gebeur …”
Hy soen haar nie met geweld soos sy verwag het nie, maar stadig en lank totdat hy eindelik, ná wat na ’n ewigheid voel, sy lippe van hare af wegskeur. Sy staan roerloos, in absolute onvermoë om te beweeg deur wat alles op hierdie oomblik binnekant haar gebeur. Hulle albei weet dat sy ’n leuen vertel het; hulle albei weet dat hy die eerste en enigste man is wat haar nog gesoen het. Maar Zonika alleen weet watter emosies die aanraking van sy lippe in haar ontketen het. Sy is verstom oor wat al die tyd binne-in haar gelê het, maar waarvan sy nooit bewus was nie.
Hulle staar mekaar aan, albei se gesigte ernstig. Daar is ’n verdwasing in haar oë. Êrens, diep agter die newels wat oor haar helder denke geskuif het, waarsku ’n stemmetjie haar dringend dat dinge nie volgens plan verloop nie. Die bedoeling was om hóm verlief te maak. Sy sou nie betrokke raak nie. Maar sy het nooit voorsien dat sy enigsins geroer sou word deur hierdie man se liefkosings nie. Op hierdie oomblik leer Zonika dat die verstand dikwels planne maak, maar dat die hart hom nie laat voorskryf nie en nie altyd gehoorsaam is aan die bevele van die rede nie.
“Jy het nie netnou die waarheid gepraat nie, nè, Zonika?” fluister Hercule vraend teen haar oor. “Ek is die eerste man wat jou soen.”
“Ja.” Sy antwoord sonder dat sy daarvan bewus is. ’n Groter mag dwing haar om eerlik te wees.
Hercule Cordier trek haar styf teen hom vas sodat hy die bewing van haar jong liggaam teen syne kan voel. Hy kyk af op die gesiggie wat na agter gebuig is, die oë wat nog so effe verdwaas na hom staar, die sierlike boog van haar nek, en ’n oomblik lank voel hy skuldig. Maar toe haar hande skielik om sy agterkop sirkel en hy voel hoe sy uit haar eie sy gesig nader trek, vergeet hy alles behalwe dat hy ’n beeldskone, maagdelike meisie in sy arms het en dat hy die eerste is om haar lippe te soen en haar liggaam vas te druk. Hierdie keer staan sy nie net passief soos die eerste keer nie. Sy soen hom terug en só dat alles om hom duisel.
Hy voel haar warm asem teen sy gesig en dan skuif hy alle gedagtes aan selfbeheersing op die agtergrond. Waarom sal hy nie neem wat die gode in sy skoot gooi nie?
Met ’n gedempte kreun span sy arms nog stywer om haar en dan word sy opgetel. Hy stap haastig met haar in die rigting van die trap wat na sy kajuit lei. Hy is so intens bewus van die meisie in sy arms dat die vreemde stilte op die Seekat hom nie eens opval nie. Ongeduldig skop hy die deur na sy kajuit oop en lê Zonika versigtig op die slaapbank neer. Asof sy nie heeltemal besef wat aangaan nie, lê sy en kyk hoe Hercule Cordier met haastige vingers sy deftige baadjie losknoop en eenkant toe gooi. Dis eers toe hy die krawat losmaak en sy hemp begin oopknoop dat daar iets van die werklikheid tot haar verstand deurdring. Sy sit haastig orent, die oë groot en diepblou in die gesiggie. Hercule skuif vinnig voor haar op die slaapbank in.
“Hercule …”
Sy probeer keer, maar hy dwing haar weer teen die kussings terug, sy lippe soekend na hare. Sy ontwyk sy lippe, want sy weet sy is verlore as hulle eers oor hare gaan sluit. Sonder veel krag druk sy teen sy naakte bors.
“Hercule, nee …”
“Ma chérie, moenie bang wees nie,” fluister hy skor, sy asemhaling effens rukkerig onder haar vingerpunte. Dan kan sy sy lippe nie langer ontwyk nie en hy voel hoe die styfheid uit haar verdwyn, hoe sy meegee onder die drang van sy liefkosings. Hercule Cordier weet hy het gewen … hy weet daar is niemand wat hulle sal steur nie … en dat die nag lank is.
’n Paar uur later is daar ’n sagte kloppie aan die kajuitdeur. Daar word ’n paar woorde gefluister en dan begin Hercule hom geluidloos aantrek. Onderwyl hy sy baadjie vasknoop, staar hy uitdrukkingloos na die slapende meisie. ’n Spiertjie spring in sy wang waar die litteken van twee jaar gelede nog helder lê. Die volgende oomblik verlaat hy die kajuit op sy tone en trek die deur saggies agter hom toe. Dis seker nog goed drie tot vier uur voor dagbreek toe Hercule op dek verskyn. Vlugtig kyk hy op na die sterre wat nog nie begin verdof het nie en hy knik tevrede teenoor Jac toe dié hom by hom aansluit.
Hy hou sy stem laag toe hy ’n paar bevele uitreik en enkele oomblikke later val die ingekorte seile van die Hercule los en begin hulle in die ligte windjie bol. Die stuurman se hande vou om die groot wiel terwyl die bemanning van die Hercule, verbasend nugter ná die vorige aand se jolyt, stil met die takelwerk na benede seil. Stadig, byna ongemerk, kom die groot romp in beweging …
Hercule neem plaas op die kant van die reling en tuur na die liggies van die Seekat wat al dowwer en dowwer word. Oor ’n paar uur, wanneer die dag breek, sal die besope bemanning van die Seekat wakker word en vind dat hul skip sonder aanvoerder is, want op hierdie oomblik lê kaptein Pierre nog in die diepe slaap van die verdowingsmiddel wat in die laaste kelkie wyn was, veilig in een van die weelderige kajuite van die Hercule.
“Jy kan aan die bemanning sê dat ek baie tevrede met hulle is,” merk Hercule op toe Jac, sy regterhand, langs hom by die reling kom staan.
“Hulle het hulle goed van hul taak gekwyt. Ek was self verbaas dat hulle hulle so ingehou het terwyl die ander klomp van die Seekat in volle maat geskep het.” Jac glimlag trots.
Jac stap aan en Hercule is weer alleen. Hy kyk op na die sterre. Hul glans begin verflou. Oor ’n uur of wat sal kaptein Pierre tot die ontnugtering kom dat hy ’n gevangene is … Ook op die meisie wat nog rustig in Hercule Cordier se kajuit lê en slaap, wag daar ’n wrede ontnugtering.
Die oë wat na die dek staar, is uitdrukkingloos. Ja, wanneer die eerste strale van die dag die mastoppe van die groot seilskip rooi verf, sal Zonika Pierre weet dat sy liewer nooit vir Hercule Cordier die stryd moes aangesê het nie …