Читать книгу Ena Murray Keur 3 - Ena Murray - Страница 9
6
ОглавлениеIn die maande wat volg op die terugvaart na Frankryk heers daar oënskynlik ’n wapenstilstand tussen die Pierre’s en die kaptein van die Hercule. Veral tussen Emile Pierre en Hercule breek daar selfs oomblikke aan dat hulle albei vergeet dat hulle eintlik vyande is. Dan kan hulle ure sit en gesels soos watter twee boesemvriende, tot Zonika se grootste ergernis en ontevredenheid met haar vader. Hoe kan hy so vriendelik met hierdie man wees terwyl hy weet die skurk is sonder ’n greintjie gewete?
Maar vir Emile Pierre is hierdie maande van die aangenaamste die afgelope jare. Hy geniet dit om Hercule en Jac te vermaak met sy wedervaringe as seerower.
“Dit klink amper asof jy trots is op die feit dat jy ’n seerower was!” laat Hercule eendag verbaas hoor.
Emile Pierre se oë word peinsend.
“Ek was daartoe gedwing. Daar was geen ander heenkome vir my toe ek verplig was om Frankryk te verlaat nie.”
“Wat het dan gebeur?” wil Jac belangstellend weet.
“Ek het ’n meisie van adellike afkoms liefgekry – een van die grootste sondes wat jy in Frankryk kan pleeg.” Kaptein Pierre se oë is op Hercule gerig.
Hercule se gesig verstrak.
“Dat jy haar liefgekry het, is in my oë nie ’n sonde nie. Maar jy het haar in die steek gelaat toe sy jou kind verwag het. Dít was onvergeeflik.”
Jac lyk ongemaklik, maar dis of die ander twee van sy teenwoordigheid vergeet het. Emile Pierre het ’n weemoedige glimlag op sy lippe.
“Dis so maklik om ’n ander se handelswyse te kritiseer as jy nie self in sy skoene staan nie, my jong vriend. Ek moes vlug vir my lewe toe die waarheid uitgekom het. Dit sou dwaas gewees het om te bly. My plan was om later in die geheim terug te keer en haar en die kind te ontvoer, indien nodig. Toe ek egter weer daar kom, moes ek vasstel dat haar vader haar gedwing het om met ’n ander man te trou. Sy was vir my vir altyd verlore.”
“En die … kind?” vra Jac aarselend, maar met opregte belangstelling. “Wat het van die kind geword?”
“Die kind het gesterf.”
Emile Pierre se stem is so deurdrenk van dié ou smart wat nog steeds binne-in hom lewe dat die saghartige Jac sy kop laat sak en prewel: “Ek is jammer.”
“Jammer! Waarvoor?” Hercule se kil stem val hard in die amper gewyde stilte neer en Jac kyk hom aan asof hy van sy verstand af is.
“Hemel, Hercule …”
“Jy sal altyd dat jou hart jou verstand beheer, mon ami. Daar kon niks beters met daardie kind gebeur het as dat hy, of sy, gesterf het nie. Watter soort lewe dink jy het op hom of haar gewag? ’n Hel! ’n Naamlose! ’n Gebrandmerkte!”
Hy swaai vinnig weg sodat sy verwronge gesig verskuil is van die ander twee se verbaasde oë. Die bitterheid in sy stem laat hulle in verslae swye luister. “Daar is niks op hierdie aarde meer werd as selfrespek, as trots op jou naam nie. Solank jy daardie twee dinge behou, is jy ’n mens wat enigiemand in die oë kan kyk. Maar as jy dit nie het nie, wat is jy dan?”
Toe daar geen antwoord op sy vraag kom nie, draai hy terug, sy oë so hard soos twee diamante, en tog het daar ’n smeking in die harde stem ingesluip wat albei mans dadelik opval.
“Help soek my na die D’Arcy-skat. Asseblief!”
Uit Emile Pierre se peinsende oë straal skielik ’n warmte wat Hercule nog nie voorheen daarin gesien het nie.
“Hercule, ’n mens kan nie daardie dinge met geld of juwele koop nie. Luister na my: jy is agter die D’Arcy-skat aan, menende dat as jy rykdom bekom het, jy daardie twee dinge wat jy so hoog ag, vanselfsprekend bykry. Maar jy is verkeerd. Daardie dinge is in jouself. Die vermoë om dit te besit, lê net in jouself – dis nie te koop nie.”
“Jy verstaan nie, mon père …” Hy noem Emile Pierre onbewus “my vader”, maar dis of nóg hy nóg die ander man dit agterkom. “Jy verstaan nie … dis al waarvoor ek lewe … die D’Arcy-skat …”
“Maar ek kan nie jou redenasie verstaan nie, mon ami!” roep Jac uit. “Jy praat asof jy geen naam het nie. Jy praat asof jy geen herkoms het nie. Jy praat asof jy ’n vondeling was! En dis tog nie so nie. Ek behoort tog te weet. Ons het soos twee broers saam grootgeword.” Jac lyk diep bekommerd. “Of is dit hebsug wat jou beetgepak het? Is die erfenis wat jou ouers jou nagelaat het, nie genoeg vir jou nie? Jy is agter meer aan as bloot die rykdom van die D’Arcy-familie. Dink jy dat jy ook die titel sal kry as jy die skat opspoor?”
Daar gaan ’n flikkering oor Hercule se gesig wat kaptein Pierre nie ontgaan nie. ’n Donker frons plooi tussen sy wenkbroue terwyl ’n onrus wat die afgelope maande in hom posgevat het, al sterker aangroei. Is Jac nie dalk op die regte spoor nie? Is dít nie wat Hercule werklik soek nie? Nie net die D’Arcy-skat nie, maar ook die graafskap?
Sonder om Jac op sy laaste vraag te antwoord, stap Hercule die kajuit uit en die twee wat agterbly, kyk mekaar ’n rukkie magteloos aan voordat kaptein Pierre reguit vra: “Wie is Hercule Cordier?”
“U vra dit asof daar ’n vreeslike geheim aan verbonde is. Het u hom nog nie self gevra nie?”
“Ja, talle kere al – en hy het my nog nie een keer daarop geantwoord nie. Ek wonder waarom …”
Jac spring op en begin rusteloos om die tafel stap. Hy sprei sy hande wanhopig oop.
“Ek verstaan niks nie – veral nie hierdie geheimsinnigheid waarmee Hercule alles omring nie. Tot sy afkoms nou al! Daar is geen geheim aan nie.”
“So?”
“Ja. Hy is die seun van ’n groot vriendin van my moeder uit haar kinderjare. Sy ouers was nou wel nie van die adel nie, maar tog vooraanstaande mense. Sy vader het hom nie ’n titel nagelaat nie, maar Hercule is vandag ryk genoeg om die res van sy lewe in weelde te lewe. Hy het ook heelwat van my vader geërf, want hy was soos ’n tweede seun vir my ouers.”
“Het jy sy ouers geken?”
“Nee. Sy vader is eerste oorlede en daarna, by sy geboorte, sy moeder. Toe het Moeder hom gaan haal en vier maande later is ek gebore. Ons het soos broers grootgeword, soos ek reeds gesê het.”
“Ek verstaan. Dan weet jy net wat jou ouers jou vertel het.”
“Ja, maar daar is geen rede om aan die verhaal te twyfel nie.”
“Waar is sy ander familie en hoekom het hulle nie die jong Hercule grootgemaak nie?”
“Daar is geen ander familie nie.” Jac frons. “Daar het deur die jare nooit familie van hom na vore gekom nie.”
“Dit klink ’n bietjie vreemd, nie waar nie?” laat kaptein Pierre peinsend hoor. “Geen familie sterf ooit só uit dat daar nie minstens een of twee lede oorbly nie.”
Jac kyk die ou man verward aan.
“Ja, noudat ek so daaraan dink … Dit klink vreemd. Kaptein Pierre, wat vermoed u? Ek kan sien …”
Emile Pierre sug hardop.
“Dit is alles baie verwarrend, maar ek sal alles wat ek besit daarop verwed dat Hercule Cordier nie Hercule Cordier is nie.”
“Wat bedoel u?”
“Net dat dit nie sy naam is nie, dat hy nie die seun van ’n groot vriendin van jou moeder is nie, en dat hy dus nie is wat hy, en jou ouers, voorgegee het hy is nie. Hercule Cordier, of wie hy ook al mag wees, dra ’n groot geheim in hom rond en daardie geheim staan in verband met die D’Arcy-familie. Hierdie man is op soek na iets meer, na iets veel groter as bloot net die verlore rykdom van die D’Arcy-graafskap.”
“Nou kan ek nog minder kop of stert van die ding uitmaak,” erken Jac rondborstig, maar met soveel openlike kommer dat die ou kaptein gerusstellend glimlag.
“Ek dink ons moet hom in sy soektog help, Jac.”
“Ek help hom al jare lank, hoewel ek nie die vaagste benul het wat agter hierdie soektog skuil nie. Jare lank het ons na ’n sekere Emile Pierre gesoek. Nou het ons hom gevind en … wat verder?”
“Waar het Hercule aan my naam gekom?”
Jac vertel hom kortliks watter verandering daar eensklaps by sy vriend ingetree het ná sy gesprek met die ou graaf, van sy skielike verdwyning en hoe hy ná ’n week weer op die Dumont-landgoed opgedaag het met die nuus dat hy ’n skip gekoop het met die doel om na ’n sekere Emile Pierre te gaan soek.
“Dis al wat ek weet. Ek weet niks verder nie,” sluit Jac af.
“Met ander woorde, jou vader moes hom daardie dag iets vertel het wat sy hele lewe omgekeer het, Dumont … dis reg. Jou vader en die ou graaf D’Arcy was groot vriende.”
“Dit kon wees. Toe ek en Hercule opgegroei het, was die ou graaf D’Arcy al oorlede en het ons geen kontak meer met dié mense gehad nie. Niemand kon Louis Corday, die man van Juliette D’Arcy, verdra nie en sover ek my kan herinner, het hulle nie juis vriende gehad nie. Hulle het hulle in elk geval aan die sosiale lewe onttrek. Eintlik weet ek niks van hulle af nie.”
“Toe julle ’n paar jaar gelede uit Frankryk weg is, wie van hulle het nog gelewe?”
“Laat ek sien … sover ek weet, is albei die D’Arcy-susters dood. In elk geval, ’n mens het nooit meer iets van hulle gesien of gehoor nie. Louis Corday het verongeluk en …”
“Maar aan wie behoort die eiendomme en kasteel dan nou?”
“Ek weet nie. Miskien is dit dié dat Hercule die afgelope tyd so roekeloos begin word het. Hy besef die tyd is min as hy sy oog op die D’Arcy-graafskap het. Indien daar ná ’n sekere tyd geen erfgenaam na vore kom nie, word daar op so ’n eiendom beslag gelê en word dit die besitting van die Kroon.”
Kaptein Pierre staan vinnig op.
“In daardie geval, my jong vriend, kan ons Frankryk nie gou genoeg na my sin bereik nie. So iets mag nie gebeur nie.”
Hy lyk skielik so opgewonde dat Jac hom verbaas aankyk.
“Wat bedoel u?”
“Ek bedoel maar net, dit sal ’n sonde wees om so ’n pragtige landgoed in vreemde hande te laat val, nie waar nie?”
Met hierdie woorde, wat die reeds so verwarde Jac geen tree nader aan duidelikheid bring nie, stap hy uit op die dek. Daar is ’n glimlag op kaptein Pierre se gesig onderwyl hy oor die donker, deinende see uitstaar. Goed, my vriend Hercule, ek sal jou na die D’Arcy-skat help soek. Jy het my ’n groot guns bewys toe jy my op die seë van die aardbol kom opspoor het, jy weet dit net nie. Dit was ’n guns vir my … maar veral ook vir iemand anders. Maar wie van ons twee die skat ook al vind, dit sal nooit aan jou behoort nie, want dit kom jou nie toe nie. Daar is iemand anders wat meer reg daarop het as jy. Jy sal onder die indruk wees dat ek jou help soek, maar al die tyd sal jy mý help. En wanneer ons dit gevind het … wag daar op jou ’n groot ontnugtering, my jonge vriend, maar hoe sê die spreekwoord? Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.
Sy hand tas na die groot, swaar sleutel wat onder sy klere versteek hang. Ek het een voorsprong bo jou, Hercule Cordier. Ek moet net vasstel waar ek dit moet gebruik.
Toe Hercule so skielik by die kapteinskajuit uitgestap het, het hy sommer blindelings ’n koers ingeslaan. Eers toe hy in die groot oë van sy vrou kyk, besef hy waarheen sy voete hom gedra het. Hy glimlag smalend toe hy eers die verbasing en dan die woede op Zonika se gesiggie sien terwyl sy die beddegoed tot hoog teen haar keel optrek.
Gemaklik, asof hy hom gereed maak om die res van die nag daar te staan, vou hy sy arms en leun teen die deur. Sy staar hom woedend aan.
In die paar weke wat verby is sedert sy met hierdie man getrou het, het hy hom hoegenaamd nie verwerdig om aandag aan haar te gee nie. O, hy was uiters beleef teenoor haar in die teenwoordigheid van ander en het haar tot satwordens toe as “madame” aangespreek, maar andersins kon sy net sowel nie bestaan het nie. Dit was vir haar ’n bitter pil om te sluk.
Sy het met hierdie man getrou om hom in haar mag te kry. Sy het gedink hy sou, veral nadat hy wettig haar man was, haar bekoring nie kon weerstaan nie. Sy het gedink dat sy hom binne ’n week soos ’n lammetjie sou kon rondlei. Sy het skielik, sedert daardie eerste nag, bewus geword van die vroulike lis in haar, die magnetiese bekoring wat sy vir die teenoorgestelde geslag uitstraal. Wat is Hercule Cordier anders as ander mans? het sy gedink. Veral as sy haar nog daarop toespits, sou dit nie lank neem om hom volslae aan haar skoonheid te onderwerp nie. En dan sou sy terugslaan, hom uitlag, sy gevoel in sy gesig terugwerp!
Maar iets het skeefgeloop met haar planne, sommer radikaal. Op haar eerste huweliksnag het sy gelê en wag op hom, uur na uur gewag dat hy moes opdaag, dat hy sy bruid moes kom opeis … maar hy het nooit gekom nie! Die môrelig het haar in ’n siedende woedebui aangetref. Sy het tot in die grond verneder gevoel. En so het baie nagte mekaar al opgevolg … en nog steeds het haar man nie na haar toe gekom nie. Eers was sy woedend, maar later het sy onrustig begin word. Vir Zonika Pierre, die vrou wat geen ander man nog durf aanraak het nie, was dit ’n onbeskryflike vernedering.
Haar haat teenoor hierdie man het met die weke aangegroei totdat sy haarself kwalik kon beheer wanneer sy noodgedwonge in sy teenwoordigheid verkeer het. Waarom het hy dan met haar getrou? Nog nooit in haar lewe het Zonika ’n gevoel van magteloosheid ervaar nie. Met ’n wapen kan sy veg, maar … hoe veg ’n vrou teen die onverskilligheid van haar eie man? Wat doen jy? Vir die trotse Zonika was dit ondenkbaar om eerste na hom te gaan, om hom uit te lok. Sê nou net hy lag haar uit? Sê nou net hy doen met haar soos wat sy van plan was om met hóm te doen?
En vanaand, onverwags, het haar kajuitdeur oopgegaan …
Wat het hom vanaand hierheen gebring? Sy is onbewus daarvan dat dieselfde vraag ook deur Hercule se gedagtes flits. Nie eens aan homself sal hy erken dat dit ’n eensaamheid so wyd soos die see is wat hom vanaand na hierdie kajuit gedryf het nie – ’n verlange om sy kop op ’n vrou se bors te lê en al sy vrese, al sy verlangens, al die eensaamheid van die afgelope jare by haar uit te stort. Te lank is dit al tweede natuur by hom om alles binne-in hom agter grendels te hou. Te lank bewaar hy al die donker vrae binne-in hom.
“Wat wil jy hê?” Haar stem is kliphard en weer is daar die sarkastiese, geamuseerde laggie om sy lippe.
“Wat ’n vraag om aan jou wettige man te stel, my vrou!”
“Jou vrou! Het jy dan so iets?” kap sy kil terug.
“Hoor ek ’n verwyt in jou stem, ma chérie? Ek is jammer. Noudat ek weer na jou kyk, besef ek ek moes seker mal gewees het om jou die afgelope weke skaars raak te gesien het, wat nog …”
Haar oë vlam.
“Dit het my uitstekend gepas, dankie. Moet jou nie bekommer nie. Dit was dankbaarheid wat jy in my stem gehoor het.”
“Omdat ek uiteindelik hier is?”
“Nee! Jy weet goed wat ek bedoel! O, jy is … Maak dat jy hier wegkom!”
“Jy bedoel dit seker nie regtig nie.”
Nog wend hy geen poging aan om na die slaapbank se kant toe te beweeg nie. Nog is sy arms op sy bors gevou en sy groot liggaam lyk ontspanne en rustig waar hy aanleun teen die deur. Maar die spottende lig in sy oë is soos ’n vlam wat haar skroei, en sy weet dat haar wange haar ontsteltenis verraai.
“Ek dink jy het op my gewag, my vrou. Jy het elke aand op my gewag, van daardie eerste aand af. Voordat jy die lakens netnou so ewe preuts tot onder jou ken opgetrek het, het ek gesien …” Hy lag vir die ongelowige, en toe duidelik skuldige trek op haar gesig. “ ’n Vrou trek nie só aan as sy alleen slaap nie, ma chérie!”
Juis omdat hy heeltemal gelyk het, voel dit vir haar asof sy uit haar vel kan bars. Daardie haatlike arendsblik van hom!
Skielik ontvou hy sy arms en stap stadig nader.
“Bly weg van my af, Hercule Cordier!”
“Was die nagte baie eensaam, ma chérie?” vra hy sag onderwyl hy op die kant plaasneem. “Toemaar. Van vanaand af sal jy nie meer eensaam wees nie.”
Sy hand reik uit en hul oë ontmoet in ’n woordelose kragmeting. Dan, met een geweldige ruk, pluk hy die laken van haar af en terselfdertyd druk hy haar met die ander arm teen hom vas. Hy buig haar kop agteroor teen sy skouer, die weelderige swart hare in wanorde oor haar naakte skouers. Met een arm hou hy haar magteloos gevange terwyl sy ander hand stadig, strelend die krulle van haar vel wegvee. Zonika het vrou genoeg geraak sedert sy hierdie man ontmoet het om die gloed in sy oë reg te vertolk. Sy probeer hom wegdruk, maar dis so goed asof sy teen ’n soliede rotsblok beur.
“Waarom stry jy teen my? Het jy my dit nie belowe nie?”
“Ek … ek het dit nie regtig bedoel nie! Jy weet dit! Ek het nie …”
“Ek het so vermoed, maar dit maak geen verskil nie. Die beloftes wat aan my gedoen word, word altyd betaal, daarvoor sorg ek self.” Dan is dit asof die ysere selfbeheersing skielik binne-in hom knak en sy spottende stem raak skor. “Ek het van jou af probeer wegbly, maar – mon Dieu! – ek kan nie!”
In die drie maande wat volg op hierdie aand, neem Zonika sowel as Hercule se lewe ’n heel ander wending. Die nagte is nie meer eensaam nie. Zonika Pierre, die vrou wat twintig jaar lank byna ’n man was, raak volkome vrou. Onder haar man se liefkosings ontluik sy tot volle wasdom – en so opvallend is dit dat almal dit opmerk.
Toe, op ’n dag, verrys die Franse kuslyn bo die horison. Ná maande, jare van omswerwinge, is die vaderland weer in sig! Ook vir Emile Pierre is dit ’n groot gebeurtenis. As jong man het hy laas hierdie geliefde toneel gesien wegsak voor sy oë. Vandag is dit ’n ou man se oë wat dit weer sien – en hy is nie eens bewus daarvan dat daar ’n duidelike vogtigheid op sy wange is nie. Dis egter met ’n beklemmende gevoel in sy hart dat hy na die naderende kus staar. Die tuiskoms hou vir hom min vreugde in. Daar is te veel geheime, te veel vrae, te veel vrese in sy hart. Maar daar is nog iets, iets waarvan Hercule en selfs sy geliefde dogter nie die vaagste vermoede het nie: ’n kille vasbeslotenheid dat die D’Arcy-skat na die regmatige erfgenaam sal gaan – as dit gevind word – al kos dit hom ook sy lewe.
Langs Emile staan sy dogter, haar oë opgewonde op die naderende landlyn gerig. Die eerste keer sedert sy haar verstand gekry het, sien sy haar vaderland, want seerowerskepe hou liewer ver van die Franse kus af. Vir haar is dit ’n groot gebeurtenis, iets wat sy graag met haar man wil deel. Sy draai vinnig na hom.
“Hercule …”
Maar haar man hoor haar nie eens nie. Sy oë staar stip na die kuslyn voor hulle en die eerste keer in baie maande sien Zonika weer die ou Hercule. Dit raak skielik koud binne-in haar. Daar is skielik weer skaduwees in Zonika se oë toe sy haar blik laat terugdwaal na die toneel voor haar. Wat wag in hierdie nuwe, vir haar onbekende, vaderland? Dis of sy skielik ’n voorgevoel van onheil kry.
Die eerste keer ervaar Zonika ook ’n ander vrees. Sy besef nou dat sy niks van haar man se vroeëre lewe in Frankryk weet nie. Hercule self het nooit daaroor gepraat nie. Daar moet tog beslis ook ander meisies in sy lewe gewees het. Dis van Jac dat sy flentertjies besonderhede opgetel het, maar daardie brokkies nuus het haar nooit onrustig gemaak nie. Nou begin dit egter kommer in haar wek.
Dit tref Zonika soos ’n donderslag dat Hercule nooit in soveel woorde sy liefde aan haar verklaar het nie. Weliswaar was sy troetelnaampies vir haar volop, veral gedurende sy liefkosings, maar beteken dit werklik iets? Praat ’n man nie maar maklik en rol die liefdeswoordjies nie vanself van ’n man se lippe wanneer die bloed deur sy are bruis en alles in hom skree om vervulling, om bevrediging nie? Durf ’n vrou haar verlaat op wat in sulke oomblikke deur ’n man gefluister word?
Op die kaai van Marseille heers daar groot bedrywigheid. ’n Oomblik is al die donker vrae in Zonika se hart vergete onderwyl sy met groot oë na die geskarrel om haar heen kyk. Jac doen sy bes om vir hulle ’n koets in die hande te kry sodat hulle so gou moontlik na die landgoed kan vertrek, terwyl Hercule toesig hou oor die aflaai van hul bagasie.
“Parbleu! Is daar dan nie ’n enkele koets op hierdie plek nie?” roep Jac naderhand uit pure frustrasie uit. Op sy landgoed staan vier pragtige koetse, en hier moet hulle sukkel. Een van die hawelui wat hy genader het, probeer later help.
“Daar anderkant staan die koets van die gravin D’Arcy. Dit moet by die Dumont-kasteel verby. Vra die koetsier om ’n boodskap vir u af te lewer dat hulle u kom haal. Dis al raad wat ek vir u het, monsieur.”
Op daardie oomblik sluit Hercule hom by die groepie aan en sy kop ruk merkbaar omhoog. Ook Emile Pierre se oë het vernou.
“Die gravin D’Arcy?”
“Ja. Sy het ’n kis sy wat met die vorige skip gekom het, kom haal. Daar klim sy nou net uit. Sy sal seker nie omgee om ’n boodskap vir u af te lewer nie. Dis tog nie uit haar pad nie.”
’n Oomblik ontmoet die drie mans se oë en dan laat
Hercule peinsend hoor: “Gaan vra haar gerus, Jac. Of wag, ek stap saam.”
Zonika en haar vader staan woordeloos en toekyk hoe die twee mans na die pragtig geklede Franse vrou stap. Sy kyk toe hoe twee matrose ’n groot kis met sy uit die Verre Ooste agter op die koets laai.
Jac kug effens ongemaklik toe hulle agter haar tot stilstand kom. Sy draai om en kyk hom vraend, half gesteurd aan. Dan val haar blik op Hercule en dadelik verdwyn die ligte frons om plek te maak vir ’n aanvallige glimlag.
“Gravin D’Arcy?” sê-vra Jac met respek, maar die vrou se oë bly op Hercule gerig.
“Ja, monsieur. Is daar iets wat ek vir u kan doen?”
Hercule buig formeel en antwoord galant: “U moet ons ons voorbarigheid vergewe, madame, maar …”
“Mademoiselle,” lag sy guitig.
“Pardon, mademoiselle. Daar moet blykbaar fout wees met die oë van vandag se mans.”
Jac blik hom effens vererg aan. Dis nie nodig om ’n hele flirtasie met die vroumens op tou te sit net om haar oor te haal om ’n eenvoudige boodskap af te lewer nie! Hy tree nou doelbewus op die voorgrond en mademoiselle D’Arcy is verplig om haar blik ’n oomblik weg te skeur van die aantreklike man voor haar.
“Gravin, ek is graaf Dumont van die Dumont-landgoed. Ek is in ’n groot verleentheid …”
“O, die graaf Dumont! Hoe aangenaam! Dan het u eindelik besluit om terug te keer na ou Frankryk.” Haar blik dwaal weer na Hercule en sy lyk so openlik vraend dat Jac nie anders kan as om sy vriend voor te stel nie, hoewel hy dit met die grootste teësin doen – hoekom weet hy nie.
“Dis monsieur Cordier! Ons het so pas geland. Ek sal dit so waardeer as u op u terugpad net …”
“Monsieur Cordier! Aangenaam! Baie aangenaam!” Sy hou haar hand uit en Hercule buig onmiddellik daaroor.
“ ’n Voorreg, gravin,” prewel hy.
“U het gesê, graaf Dumont …?” vra sy dan terwyl sy haar hand baie stadig uit Hercule s’n terugtrek.
“Ek het gevra of u nie asseblief op u terugpad net by my kasteel sal aangaan en die mense daar aansê om onmiddellik ’n koets hierheen te stuur nie. Ek kry glad nie een gehuur nie.”
“Met graagte, monsieur, maar u is baie welkom – u en monsieur Cordier – om saam met my te ry. My koets is leeg.”
“Baie dankie, maar …”
“Ons neem u vriendelike aanbod met dank aan, gravin,” laat Hercule vinnig hoor. Dit ontlok ’n frons by sy vriend, maar bring ’n tevrede glimlaggie om die gravin se mondhoeke.
“Maar daar is nog twee persone in die geselskap en wat van ons baga- …?”
Hercule kyk hom koel aan.
“Ek is seker die gravin sal plek hê vir nog twee en die bagasie kan later gehaal word. Ons kan dadelik ’n koets stuur wanneer ons op die landgoed aankom.”
Hy hou sy arm na haar uit sodat sy by hom kan inhaak en begin haar in die rigting van kaptein Pierre en Zonika lei. “U red ons uit ’n groot penarie, gravin. Dit is uiters vriendelik van u om u koets so tot ons beskikking te stel.”
“Au contraire, monsieur! Inteendeel! Dis my voorreg,” laat sy met haar sagte, goed gemoduleerde stem hoor onderwyl sy met hom glimlag.
Dan is hulle by die wagtende kaptein Pierre en sy dogter en dis goed dat die gravin D’Arcy se aandag op daardie oomblik getrek word deur die meisie wat voor haar staan, anders sou sy die skerp, ondersoekende blik van Emile Pierre miskien onruswekkend gevind het.
’n Oomblik heers daar stilte waarin die twee meisies mekaar opsommend takseer. Die eerste keer in haar lewe sien Zonika ’n dame van die Franse adel voor haar staan. Maar sy merk skaars die pragtige rok of die hoë haarstyl, die kunstige grimering of duur juwele op. Sy sien net die fyn glimlaggie – veels te intiem na haar smaak – waarmee hierdie adellike vrou Hercule begunstig en sy is intens bewus van die spierwit handjie wat nog steeds op Hercule se arm rus.
Die gravin sien in ’n oogwink alles van belang by Zonika raak. Die rok, hoewel mooi en hoewel dit haar uitstekend pas, is ’n jaar of twee al uit die mode en die onversorgde, ongekrulde hare, hoewel pragtig, word eenvoudig nie meer só in Frankryk gedra nie. Wat haar ook tref, is die koel, donker oë wat haar vyandig beskou nadat haar blik ’n oomblik gerus het op die gravin se hand op die groot man se arm.
Jac se mond gaan oop om die bekendstelling te doen, maar dis Hercule wat hom voorspring.
“Gravin D’Arcy. Ek wil u graag voorstel aan my oom en my suster, kaptein Cordier en Zonika.”
’n Oomblik lank lyk die ander drie so verslae dat die gravin ’n absolute idioot moet wees as sy nie iets vreemds agtergekom het nie. Sy laat egter niks merk nie en glimlag doodnatuurlik onderwyl Hercule haastig vervolg, sy oë waarskuwend, bevelend: “Die gravin was so vriendelik om aan te bied dat ons saam met haar tot op die Dumont-landgoed kan ry.”
“U is baie welkom,” murmel die sagte stem vriendelik.
Dan, tot Zonika en Jac se verbasing, klap kaptein Pierre se hakke teen mekaar en buig hy asof hy al die jare aan die Franse hof was en nie op ’n seerowerskip nie. Sy glimlag is bewonderend en gul toe hy oor die gravin se hand buig.
“Excellent! U laat ons sommer weer tuis voel in Frankryk.” Die gravin knik en dwing Hercule, met haar hand nog steeds op sy arm, om om te draai. Oor haar skouer sê sy na agter: “Ons kan maar dadelik vertrek.”
Woordeloos, maar elkeen vasgevang in sy eie verwarde gedagtes, volg kaptein Pierre, Zonika en Jac die twee in die rigting van die wagtende koets. Dis Hercule wat die gravin by die koets inhelp en dis Jac wat Zonika se arm neem. Ook is dit Hercule wat langs die gasvrou op die een bankie plaasneem. Dit word as vanselfsprekend aanvaar dat die ander drie saam sal sit.
En wanneer die gravin D’Arcy se hand soms onopsigtelik, soos sy beduie, toevallig ’n oomblik op Hercule se arm of been rus, merk nie een van die mans dit blykbaar op nie – maar vir Zonika is dit net te opsigtelik, gebeur dit te dikwels om dit nie raak te sien nie. En skielik is die onrus terug in haar hart … ’n diepe onrus oor die toekoms en … oor Hercule.