Читать книгу Ena Murray Keur 3 - Ena Murray - Страница 8
5
ОглавлениеDis of die spanning wat in die kaptein se kajuit en in die besoekerskwartier heers ook tot die res van die skip se bemanning deurdring. Soos dit maar altyd gaan, weet die matrose gou van die vete tussen hul kaptein en sy gevangenes en hoor hulle selfs van sy dreigement dat die meisie die volgende dag teen sonop gekielhaal sal word indien haar vader nie sekere inligting verstrek nie. Watter inligting dit is wat hul kaptein so naarstiglik wil bekom, weet hulle nie, maar ’n rusteloosheid vat pos waarvan Hercule, sy gedagtes te verstrengel in die D’Arcy-knelvraag, niks agterkom nie.
Daardie nag slaap minstens vier mense op die Hercule glad nie. Sy kaptein bring die grootste deel van die nag by die reling van die bodek deur, turend oor die donker, golwende see voor hom. Dis teen middernag se kant dat Jac, sy getrouste offisier en op land sy grootste vriend, hom onopsigtelik by hom aansluit.
“Waarom slaap jy nie, Hercule?” vra hy sag en noem sy kaptein op die voornaam soos dit die gebruik is wanneer hulle alleen is.
Hercule sug sag en antwoord ontwykend: “Jy slaap ook nie. Dis nie jou beurt om nou wag te hou nie, nie waar nie?”
“Nee, maar … ek kon nie aan die slaap raak nie. Mon ami …” Aarselend begin hy, maar vervolg dan met meer moed: “Daar gaan ’n fluistering onder die matrose rond dat jy die meisie môreoggend gaan kielhaal.” Stilte. “Hercule, ek het my in die verlede nog altyd sonder teëspraak by jou besluite neergelê, maar hierdie keer … gaan jy te ver.”
Met ’n woeste gebaar swaai sy kaptein na hom om en in die flou lig van die wiegende skeepslantern lyk sy gesig strak en wreed.
“Waar kom die bemanning daaraan?”
Jac trek sy skouers op.
“Niemand weet nie. Jy weet mos, op die een of ander manier kom sulke dinge uit. Dan ís dit so! Jy gaan haar kielhaal!” Die skok is duidelik hoorbaar in sy stem.
’n Smalende trek plooi om die sterk mond van die kaptein.
“Só het ek kaptein Pierre laat verstaan – indien hy my nie die verlangde inligting gee nie.”
“Hercule!” Jac kyk sy vriend bekommerd aan. “Hierdie ding begin jou onderkry, mon ami. Staak dit, in hemelsnaam. Jare lank dwaal ons nou al oor die seë van die wêreld rond, doelloos.”
“Nie doelloos nie, Jac. Met ’n doel. En nou het ek daardie doel bereik – amper.”
Jac Dumont, in werklikheid graaf Dumont, staar voor hom uit. Hy is duidelik ongelukkig.
“As jy my net in jou vertroue wil neem, mon ami, as jy my net die doel agter al hierdie dinge, hierdie vreemde optrede, hierdie jare lange soektog, wil vertel, sal ek miskien beter verstaan waarom jy … dinge doen wat enige beskaafde mens teen die bors sal stuit, soos om ’n vrou te wil kielhaal. Dis tog iets … barbaars! Waarna soek ons al hierdie jare, Hercule?”
Die bitterheid lê vlak in Hercule Cordier se oë toe hy stil antwoord: “Hierdie ding kan ek selfs met jou nie deel nie, mon ami. Ek is jammer, maar … ek kan nie!” Die stem raak nog skerper. “Maar van een ding kan ek jou verseker: ek sal tot enige uiterste gaan om my doel te bereik. So belangrik is dit vir my. En, Jac, dis nie nodig dat jy by my móét bly nie. As jy liewer wil teruggaan na jou landgoed, moet jy net sê. Jy het vrywillig saamgekom. Jy wou nie agterbly toe ek met hierdie soektog begin het nie, hoewel jy die doel daarvan vandag nog nie weet nie.”
“Moenie twak praat nie,” laat Jac vinnig hoor. “Ek bly by jou. Jy kan dit nie bekostig om sonder my te wees nie. Ek is nog al een wat in ’n mate ’n beskawende invloed op jou uitoefen.” Hy pleit weer: “Hercule, jy kan nie daardie pragtige vroumens kielhaal nie! Dis ’n sonde om daardie volmaakte liggaam onder ’n skip deur te trek!”
Die haatlik smalende glimlag roer weer om Hercule se mondhoeke.
“Jy klink begogel, Jac! Moenie my vertel dat jy, wat kan kus en keur aan die Franse hof, deur ’n seerowermeisie betower is nie! Haar dood sal geen skade wees nie, mon ami. Of ken jy seerowermeisies so swak?”
’n Ligrooi gloed slaan teen die jonger man se wange op en ’n verergde frons verskyn tussen sy oë. Jac het ’n uiters onversteurbare humeur, maar die afgelope tyd kry Hercule dit reg om hom net ’n bietjie te ver te dryf.
Sy stem klink styf, uitdagend, toe hy antwoord: “Ek weet wat jy bedoel, maar ek en jy weet albei dat sy nie daardie soort meisie is nie. Of moet ek sê, was nie? As sy wel daardie soort is, dan het sy dit deur jou geraak, mon ami!”
Daar heers ’n ademlose stilte nadat die reguit beskuldiging weggeraak het in die gedruis van die oseaan om hulle. Dis of die gekraak van die takelwerk harder as gewoonlik in Hercule se ore vasslaan. ’n Blinde oomblik vergeet hy dat dit Jac Dumont is wat voor hom staan en sy vuis skiet moordend vorentoe.
Jac steier terug en val teen die touwerk aan, verbyster. Dan trek hy homself stadig orent. Sy stem is verbasend gelykmatig. “Ek weet nie wat dit is wat binne-in jou soos ’n kanker vreet nie, Hercule. Maar ek begin die vermoede kry dat dit beter sal wees as jy nooit daardie D’Arcy-skat in die hande kry nie – om jou eie ontwil sowel as om ons vriendskap.”
Toe Jac in sy kajuit kom, het die bitterheid hom verlaat. In sy hart is daar slegs weemoed. Hy en Hercule het soos twee broers saam grootgeword. Maar toe word die ou graaf Dumont baie siek en voordat hy gesterf het, het hy die jong vriend van sy seun ontbied. Jac het dit nie vreemd gevind nie, nie op daardie oomblik nie. Hy het geweet dat sy vader Hercule soos ’n eie seun beskou. Maar toe die deur weer oopgegaan en Hercule sy verskyning gemaak het, het Jac besef dat daar iets veel meer as ’n sterfbedgesprek tussen sy vader en sy vriend plaasgevind het. Hercule het in ’n oogwenk verander. Dit was ’n vreemde, stugge, bitter jong man wat by die ou graaf se kamer uitgestap het. Maar hy het nooit, selfs teenoor sy boesemvriend, laat blyk wat hierdie radikale verandering teweeggebring het nie. ’n Week later het die ou graaf gesterf.
’n Maand ná die begrafnis het Hercule skielik spoorloos van die Dumont-landgoed af verdwyn. Ná ’n week het hy teruggekeer, nog steeds die veranderde vreemdeling, maar met ’n nuwe gloed in sy oë, ’n gloed wat geïnspireer is deur ’n doel.
“Waar was jy, Hercule?” het Jac verwytend laat hoor. “Ek was mal van bekommernis oor jou. Jy verdwyn sommer skielik en niemand weet waar jy is nie!” Sy stem het die seer in sy hart verraai. In die verlede het hulle twee nog altyd alles saamgedoen. Daar was nooit geheime tussen hulle nie. Maar nou het sy vriend skielik so vreemd, so afsydig begin optree.
Hercule het op ’n stoel neergesak en met ’n moeë sug ’n glasie wyn uit die hand van sy vriend ontvang. Hy het daar sleg uitgesien. Dit het gelyk asof hy nagte lank nooit geslaap het nie. Daar was donker halfmane onder sy oë, sy klere was vuil en sy mond ’n dun wit lyn.
“Ek was die afgelope week die hele Frankryk deur, veral die hawestede. Ek het na iemand gaan soek.”
“Na wie?” het Jac met openlike verbasing gevra.
“Na ’n sekere Emile Pierre.”
“Emile Pierre?” Jac het sy kop fronsend geskud. “Ken hom nie. Nog nooit van hom gehoor nie. Wat het jy met dié man te doen?”
“Ek is op soek na die D’Arcy-skat en hy is blykbaar die enigste wat my daarheen kan lei.”
“Die D’Arcy-skat?” Jac se verbasing het toegeneem. “In hemelsnaam, mon ami, wat wil jy daarmee maak? Jy het meer as genoeg van jou eie. Boonop, wat is die verband tussen jou en die D’Arcy-skat?”
“Dis wat ek wil vasstel,” was die somber antwoord.
Jac se kommer was opnuut aangeblaas.
“Hercule, vertel my wat aangaan, asseblief. Watter moontlike verband kan daar tussen jou en die D’Arcy-familie wees? Ons weet van hulle, maar ons ken hulle nie eens nie. Ek weet hier was jare gelede ’n gerug dat die D’Arcy-juwele spoorloos verdwyn het, maar dit het niks met jóú te doen nie.”
“Dit het blykbaar alles met my te doen.” Hy het die glasie hard neergesit en vinnig opgestaan. “Asseblief, mon ami, geen verdere vrae nie. Ek … kan nie daaroor praat nie. Ek kan nie verduidelik nie. Ek weet net één ding: ek moet die D’Arcy-skat vind!” Hy het moeg oor sy oë gevee. “En ek moet ’n sekere Emile Pierre opspoor – al neem dit my die res van my lewe. Ek het ’n skip gekoop en ’n bemanning gehuur. Ek vertrek oor ’n week.”
“Waarheen?”
“Ek weet nog self nie. Ek moet Emile Pierre opspoor.”
“Wat laat jou dink dat jy hom op see sal vind?”
“Hy is ’n seerower. Dis die enigste plek waar ek hom sal raakloop. Ek het dit uitgevis nadat ek nagte lank saam met matrose in die kroeë gesit en drink het.”
’n Week later het die Hercule uit die hawe van Marseille gevaar, die blou oneindigheid in, sonder ’n eindbestemming maar met ’n vaste doel voor oë, soos ’n bloedhond wat die spoor geruik het. Op die dek het die jong graaf Dumont langs sy vriend gestaan. Hy wou nie agterbly nie. Hercule het geprotesteer, maar uiteindelik het Jac gewen. Vir hom was die seereis ’n avontuur wat hy nog nie voorheen beleef het nie. Maar mettertyd het die avontuur afgewater geraak. Nie een keer het Jac egter laat blyk dat hy na Frankryk wou terugkeer nie. Hy kon Hercule nie alleen laat nie. Nie dat laasgenoemde ooit getoon het dat hy afhanklik is van Jac se teenwoordigheid nie. Maar diep in sy hart het Jac geweet dat sy vriend hom nodig het en hy sou hom nie in die steek laat nie.
Ook waar Hercule nou weer alleen by die reling staan, dwaal sy gedagtes terug na die verlede. Ook in sý hart is daar weemoed, ’n hartseer verlange na die sorglose jare van sy jeug. Maar toe het die ontnugtering gekom … die skok … die verbittering … die haat. As hy net geweet het wie om te haat. Op iemand moes hy sy haat uithaal en soos wat die jare verbygegaan het en Emile Pierre hom telkens ontwyk het, het hy begin om dit teen die onbekende seerower te rig. Toe het Zonika, sy mooi dogter, ook in die prentjie gekom … en hy kon sy haat verdeel. Al sy frustrasie, al sy bitterheid het hy in sy hart teen hulle opgekrop. En die vreemde, vir hom amper skokkende gevoel toe hy Emile Pierre uiteindelik opgespoor het: hy hou van die man! Nog meer, hy het respek vir hom. Maar sy persoonlike gevoelens is nie van belang nie. Hoofsaak is dat Emile Pierre hom die D’Arcy-skat moet gee, hom moet sê waar hy dit kan vind. Daar is net een probleem: Emile Pierre weier om te praat!
Elke vesel in die jong, sterk liggaam span styf in kille vasbeslotenheid. Kaptein Pierre sál praat, al moet hy, Hercule, tot watter uiterste gaan. Al moet daardie lieflike liggaam van sy dogter aan flarde gesny word!
’n Geweldige frons lê tussen sy saamgetrekte wenkbroue. Net ’n oomblik laat hy toe dat sy gedagtes teruggaan na verlede nag toe daardie pragtige, volmaak vroulike liggaam van Zonika Pierre polsend in sy arms gelê het en daardie tergende, sagte kurwes hom alles laat vergeet het, behalwe dat hy ’n man is. Maar net ’n oomblik … dan verstrak sy gesig weer en sterf die gloed van hartstog in sy oë. Daar is baie vroue op die aarde en daar ís dinge in die lewe wat belangriker is as die mooi, sagte liggaam van ’n vrou onder jou hande – dinge soos selfrespek, trots, jou naam …
In haar kajuit lê Zonika Pierre ook die eerste keer in haar jong lewe die nag se ure slapeloos en omtel. Gelukkig dat sy nie nou al kennis dra van die swaard wat oor haar kop hang nie. Nóg haar vader nóg enigiemand anders het haar al vertel dat daar ’n groot moontlikheid bestaan dat sy teen sonop gekielhaal sal word. Dit is ’n straf wat sy al menigmaal in die lang jare op ’n seerowerskip voltrek gesien het en wat een keer deur haar eie toedoen aan iemand uitgedeel is. Sy is salig onbewus daarvan dat die hel wat Hercule Cordier ’n paar jaar gelede deur haar toedoen moes deurgaan, dié keer ook op haar wag. Nee, wat Zonika hierdie nag laat wakker lê, is die gevoel van vernedering wat soos ’n lem in haar vrouwees insny elke keer dat sy aan die vorige nag dink – en die onbeskryflike ontnugtering wat sy die oggend moes ervaar toe sy in die koel, kil oë van haar minnaar van ’n paar uur gelede gekyk het. Dit is ’n gevoel wat sy nog nooit voorheen ervaar het nie.
Hy het haar verwerp nadat hy hom met haar vermaak het.
Dis die naakte, bitter besef waartoe sy moes kom. Hercule het van haar gemaak wat al die ander vroue is wat op die kaaie saamdrom wanneer die matrose die loopplank ná maande van afsondering afhardloop, daardie tipe vrou teenoor wie sy nog altyd met ’n stille trots meerderwaardig gevoel het, op wie sy nog altyd neergekyk het met bejammering en weersin. En nou … Nou is sy niks anders, niks beter as hulle nie. Sy is ook nou een van hulle – goedkoop, veragtelik. En dis Hercule Cordier wat dit gedoen het! Hierdie man wat sy die afgelope jare nie kon vergeet nie, met wie sy elke ander man vergelyk het. Hierdie een en enigste man wat sy in haar ruwe seerowerloopbaan gevrees het. O, watter gek was sy nie!
Nie ver van haar af nie sit Emile Pierre regop, sy kop nog tussen sy hande. Sy verstand is al suf gedink. Hy weet dat hy deur sy woorde aan Hercule so te sê erken het dat hy die D’Arcy-skat in sy besit het, wat ’n onwaarheid is. Hy was tot op daardie oomblik toe Hercule hom gevra het waar die skat is, nie eens bewus daarvan dat dit verdwyn het nie. Maar hy het gehoop om tyd te wen. Solank Hercule onder die indruk is dat hy die skat in sý besit het, is sy lewe veilig. Maar daardeur het hy onwetend sy dogter se lewe in die grootste gevaar gestel.
Hy hou van Hercule Cordier. Hoe vreemd dit ook al is, is daar iets in hierdie jong man wat hom geweldig aantrek. Diep in sy hart glo hy geen oomblik dat Hercule vir Zonika werklik sal laat kielhaal nie, en tog … Daar was iets desperaats in die oë wat na hom gestaar het toe hy sy dreigement geuiter het en Emile Pierre weet dat ’n desperate man ’n gevaarlike man is. ’n Desperate man sal iets doen wat hy normaalweg nooit sal droom om te doen nie.
Maar hoekom is hierdie jong man so erg desperaat om die D’Arcy-skat in die hande te kry? Dis al vir hom asof daar iets meer agter skuil as net die blote besit van geld en juwele. Emile Pierre besef ook dat dit hom nie meer sal baat om eerlik te bieg dat hy nie die vaagste benul het waar die skat is nie. Hercule sal hom nie glo nie. Voor sonop môreoggend moet hy aan ’n plan dink, anders …
Dis nog in die vroeë skemeroggend voordat die son se eerste strale oor die water skiet, maar al wat asemhaal, is byeen op die Hercule se dek. Toe Jac Dumont aan Zonika se deur klop, kyk sy op in ’n jong, diep bekommerde gesig wat duidelik die spore van ’n slapelose nag toon. Maar sy is self te suf om veel aandag daaraan te skenk. Ook vra sy nie na die rede vir sy versoek om hom te vergesel nie. Eers toe sy op die dek uitstap, besef sy hier is iets buitengewoons aan die gang. Eenkant, met strak gesigte, staan die bemanning. Teen die reling, ’n entjie van mekaar, staan haar vader en Hercule Cordier. Selfs in hierdie oomblik merk sy sy indrukwekkende gestalte op, die breë skouers wat duidelik afgeëts teen die skemer horison staan, die windjie wat liggies met sy hare speel … en haar naels vreet diep in haar handpalms. Haar blik gaan na haar vader en dit verstil binne-in haar. Hy lyk moeg en oud en baie bleek. Haar blik dwaal rusteloos heen en weer. Wat is die doel van hierdie vreemde, vroeë byeenkoms? En dan sien sy die tou … die tou oor die reling met die lus wat op die dekvloer hang …
Sy kyk vinnig op, meer uit verbystering as vrees. Sy merk die kil blik in die oë van die matroos by die tou … en dan tref die waarheid haar soos ’n donderslag: sý gaan gekielhaal word! Een eindelose oomblik laai paniek in haar op – maar dan trek die skraal skouertjies skielik agteroor en sonder Jac se hulp stap sy tot reg voor haar laksman. Die oë wat na hom opkyk, is koel, uitdagend, vreesloos; die wrangheid om die sagte mond duidelik merkbaar vir die man wat elke trekkie van haar gesig soos ’n arend dophou.
“Is dit wat jy met vroue doen nadat jy jou klaar met hulle vermaak het? Ek het nogal gewonder wat doen jy om van hulle ontslae te raak.”
Hy ignoreer haar woorde, hoewel sy blik brandend op haar bly. Uit die hoek van sy mond laat hoor hy: “Dis jou laaste kans, Emile Pierre.”
Daar volg ’n stilte. Zonika kyk fronsend na haar vader, dan na die ander strak gesigte. Daar heers ’n gespanne afwagting op die dek wat jy met ’n mes kan sny.
Uiteindelik praat kaptein Pierre, sy stem dun van spanning.
“Jy sal haar nie werklik kielhaal nie, Hercule.”
’n Oomblik lank keer Hercule sy yskoue blik van Zonika af na die ouer man langs hom. Sy stem klink sissend, onheilspellend.
“Jy ken my swak, kaptein Pierre.”
Emile leun terug teen die leuning en kyk die jong man waterpas in die oë.
“Nee, ek dink nie so nie.”
“Daag jy my uit, kaptein Pierre?”
“Ja. Ek daag jou uit.”
Dis of Jac Dumont ’n afwerende beweging wil maak, maar dan hyg almal hoorbaar na asem toe die jong kaptein met ’n vloek op sy lippe omswaai en die lus oor Zonika se kop en skouers laat gly. Doelbewus, met ’n soort sataniese genot trek hy dit styf totdat hy die pyn in haar oë sien flits. ’n Oomblik staan almal versteen. Selfs kaptein Pierre het die laaste bietjie kleur in sy wange verloor. Wasbleek, maar sonder enige verdere teken van vrees, staar Zonika se groot oë na Hercule op. Dis vreemd dat sy op hierdie oomblik werklik geen vrees ervaar nie. Dis of sy dieselfde instinktiewe gevoel as haar vader het: Hercule Cordier sal sy dreigement nie uitvoer nie.
Die gesig hier digby hare is so hard soos graniet en sy oë is meedoënloos, maar Zonika glimlag skielik en sê sag, sodat net Hercule kan hoor: “Jy sal van ander middele gebruik moet maak om ’n Pierre te buig, kaptein Cordier. Soos jy sien, laat ons ons nie bluf nie.”
“Wat laat jou so seker voel dat ek jou nie sal kielhaal nie?” Dis of die woorde swaar deur sy lippe kom.
Haar glimlag is tergend en onwetend teer toe sy fluisterend antwoord: “Miskien het … voorverlede nag iets daarmee te doen.”
Tot almal se verbasing, haar vader s’n inkluis, leun sy skielik vorentoe, trek haar op tot op die punte van haar tone en soen hom baie liggies op die lippe. “Daar wag nog baie sulke nagte op ons, Hercule. Hoekom sal ons hulle vir die haaie voer?”
’n Oomblik kyk hy haar strak aan. Dan raak sy oë peinsend, opsommend. Die volgende oomblik tas sy vingers na die knoop van die lus.
“Ek sal haar laat gaan op een voorwaarde: dat ons onmiddellik in die huwelik verbind word. Wat is jou antwoord hierdie keer, kaptein Pierre?”
Jac Dumont kyk sy vriend beangs aan. Dat Hercule weer die een of ander duiwelse plan in die skild voer met hierdie skielike frontverandering van hom, is duidelik. Ook Emile Pierre se oë vernou en hy staar Hercule aan asof hy sy gedagtes wil lees. Zonika het ook ’n oomblik verstyf, maar nou kyk sy dringend na haar vader en toe sy sy oë ontmoet, knik sy skaars merkbaar maar met ’n bevel in haar oë.
Dan knik kaptein Pierre ook.
“Goed. Ek sal my dogter aan jou gee in die huwelik.”
Die bemanning bars in ’n verligte gejuig los. Net die jong graaf Dumont deel nie in die toejuiging nie. Daar is ’n frons op sy gesig en met ’n gedempte verskoning stap hy weg.
Dan sê Hercule saaklik: “Nou goed. Die plegtigheid sal vanmiddag plaasvind. Kry alles solank in gereedheid.” Die lus val op die dek en sonder ’n terugblik stap hy weg in die rigting waarin Jac verdwyn. Hy tref hom op die agterstewe aan. “Wat pla jou nou, Jac? Is daar niks meer wat ek in jou oë reg doen nie? As ek die vroumens wil kielhaal, is dit nie goed nie. As ek met haar wil trou, is dit ook nie goed nie.”
Jac draai ’n bleek gesig na sy vriend.
“Dis nie nodig om mooi broodjies by my te bak nie, Hercule. Jy voer die een of ander plan in die skild met hierdie trouery.”
“Ek ontken dit nie. Maar tot tyd en wyl ek my doel bereik, kan ek sekerlik die tydjie geniet.”
“Parbleu! Ek verstaan jou glad nie meer nie, Hercule. Jy was ’n man wat jou nog nooit veel aan vroue gesteur het nie. Moenie my kom vertel dat jy skielik besef het dat jy ’n geweldige belangstelling in Zonika Pierre ontwikkel het in die paar minute voordat jy haar oor die reling wou gooi nie!”
“Ek kon Emile Pierre nie knak met my toneelspel nie. Ek het geen ander keuse as om met sy dogter te trou nie.”
Jac kyk hom verbyster, ongelowig aan.
“Jy … jy bedoel jy was nooit van plan om Zonika te kielhaal nie?”
Hercule se antwoord is gedemp.
“Jy behoort beter te geweet het as om een oomblik te kon dink dat ek werklik so iets sou doen. Ek wou maar net kyk of ek kaptein Pierre kon dwing om my te vertel wat ek wil weet. Die man het durf en moed, Jac. Hy is heel besonders. Ek begin al meer agting vir hom kry. ”
“Die man het durf, ja – en sy dogter is mooi!”
Hercule kyk sy vriend skerp aan.
“Sy is – maar onthou dat sy binne ’n paar uur my vrou sal wees.”
Jac lyk eers verward, dan skater hy dit uit.
“Hercule! Verbeel ek my of hoor ek jaloesie in jou stem?”
“Tiens! Moenie verspot wees nie. Sy beteken niks vir my nie, behalwe dat ek deur haar ’n houvas op haar vader het en as sy eers my vrou is, is die greep des te sterker.” Hercule frons dreigend.
“Ek verstaan.” Jac knik peinsend. “As Emile Pierre wel die D’Arcy-skat in sy besit het, sal sy dogter vanselfsprekend die erfgenaam daarvan wees … en deur haar, jy. En ’n man verklap geheime makliker aan sy skoonseun, nie waar nie?”
Hercule glimlag.
“Jy begin regkom, mon ami.” Hy frons. “Daar is net een ding wat my hinder.”
“Wat is dit?”
“Dat Emile Pierre so maklik sy toestemming tot die huwelik gegee het …”
“Ja, terwyl jy dit noem … En Zonika het ook nie geprotesteer nie.”
“Hm … Vader en dogter het blykbaar ook planne van hul eie. Wel, dit maak die situasie net interessanter.”
Die huweliksplegtigheid vind op die dek plaas toe die laaste strale van die son wegsak. Kaptein Pierre, in sy hoedanigheid as skeepskaptein, neem self die bevestiging waar. Daar het ’n murmeling van bewondering onder die geledere van die bemanning opgestyg toe Zonika haar verskyning maak. Jac het met openlike bewondering na haar gestaar, maar as Hercule opgemerk het dat sy bruid asemrowend daar uitsien, het hy dit hoegenaamd nie laat blyk nie en teen wil en dank moes Zonika haar teleurstelling onderdruk. Dit kon net sowel ’n pop vol saagsels gewees het wat hier langs hom gestaan het, het sy gedink onderwyl haar vader die kort formulier voorlees.
Nadat dit afgehandel is, word hulle na die kaptein se kajuit gelei waar ’n feesmaal op hulle wag, met Jac die enigste gas. Gedurende die dag het vader en dogter mekaar nie te siene gekry nie, aangesien hulle ná die drama op die dek die oggend in hul kajuite toegesluit is. Hercule wou geen kanse waag nie.
Dis ná afloop van die eetmaal dat Hercule en Jac om verskoning vra en die kajuit verlaat om ’n bietjie voggies aan die bemanning uit te deel. Die eerste keer sedert sake so ’n dramatiese wending geneem het, is vader en dogter alleen bymekaar.
“Mon père, hoe het u geweet dat Hercule my nie werklik sal kielhaal nie?” is haar eerste vraag.
“Ek weet nie, ma chérie. Instink, sal ek sê. Hercule is nie ’n moordenaar nie – en beslis nie ’n moordenaar van vroue nie.”
Zonika frons. Hierdie vreemde aanvoeling wat haar vader aangaande Hercule het, was nog altyd vir haar onverklaarbaar. Haar tweede vraag kom aarselend, versigtig: “Waarom het u u toestemming tot ons huwelik gegee?”
Emile Pierre staan op en dwaal rusteloos om die tafel.
“Dis ’n moeilike vraag. Ek sal so eerlik moontlik probeer wees, Zonika. Ek raak oud. ’n Seerower se lewe is elke dag in gevaar. Ek kan te eniger tyd iets oorkom, en dan … wat van jou? Dit het my al slapelose nagte besorg. Voordat ek sterf, moet ek weet dat jy versorg en beskerm is.”
“En u dink Hercule Cordier is die aangewese man vir daardie taak?” vra sy koel, effens smalend.
“Ja, vreemd genoeg. Hy is die enigste man wat ek ken aan wie ek jou sal toevertrou. Hy is nie ’n man wat ooit op sy woord sal teruggaan nie.”
“Vader, u verbaas my!” roep sy uit. “Hoe kan u so seker wees? U ken hom nie. Wie is hy? Wat is hy? Wat wil hy van u hê?”
“Die D’Arcy-skat.”
“Die … Maar ons het nie so iets nie … of het ons? Is dit miskien onder die buit wat ons deur die jare vergaar het?” vra sy verward.
“Nee, my kind. Ons het nie. Ek het nie die vaagste benul waar die goed is nie. Ek het nie eens geweet dat dit gesteel is nie, nie voordat Hercule my daarvan gesê het nie. Maar hy is onder die indruk dis in my besit.”
“Wat is die D’Arcy-skat en waarom dink hy Vader het dit?”
Emile Pierre se oë is afgewend. Dan kyk hy op en sug hardop. Die een of ander dag, het hy geweet, sal hierdie oomblik aanbreek. Dit het tyd geword om Zonika die waarheid te vertel.
“Dis ’n lang verhaal, my kind. ’n Baie tragiese verhaal en een waarvoor ek grotendeels verantwoordelik is. Maar … voordat ons daarby kom … waarom wou jy met Hercule trou?”
“Wou ek?” Dis nou haar beurt om haar oë af te wend en kaptein Pierre kyk haar skerp aan.
“Jy het vir my geknik, het jy nie? Dit was nie my verbeelding nie. Waarom, Zonika? Is hy die een man wat daarin geslaag het …?”
Sy spring op.
“Ja, hy is die een man wat daarin geslaag het om my te verneder, my te verkleineer.” Sy swaai reguit na haar geskokte vader. “Ek haat hom! Ek háát hom! Dis waarom ek met hom wou trou, ek wel met hom getrou het. Daar is ’n rekening wat hy moet vereffen – en hy sal die res van sy lewe daaraan afbetaal. As hy geweet het wat vir hom goed is, moes hy my liewer vanoggend gekielhaal het. Maar hy het nie, die … sot!”
“My kind, maar …”
“U sal nie verstaan nie, mon père. Hercule Cordier sal die dag berou dat hy besluit het om na die D’Arcy-skat te soek en my ontmoet het. Eendag sal hy ’n honderd skatte wil gee net om van my ontslae te raak … maar hy sal nie. Ek sweer hom voor …”
“Dit klink asof daar ’n baie interessante huwelikslewe op my wag,” sê ’n geamuseerde stem vanuit die deur. Hercule stap stadig nader. Hy kom reg voor Zonika tot stilstand, sy oë spottend, uitdagend. Dan buig hy asof hy aan die Franse hof is. “Madame, ek dink die opwinding van u huweliksdag was ’n bietjie te veel vir u. Ek is seker u wil u graag gaan gereed maak vir die nag. Ons sal u verskoon.” Voordat sy ’n woord kan uitkry, buig hy ook in die rigting van sy nuwe skoonvader. Sy stem is lig spottend: “En u ook, mon père. U lyk moeg.”
Zonika is blind van woede. Sy plant haar vierkant voor hom neer en kyk smalend op in sy gesig.
“Jou arme gek, jy dink jy het die oorwinning behaal. Maar jy het verloor – totaal verloor.” Sy lag skielik histeries. “Die D’Arcy-skat! Jy dink ons het dit en ons weet daar net so min van af soos jy!”
Hercule verbleek merkbaar en swaai na die ouer man. Emile Pierre beveel met ’n streng stem: “Gaan na jou kajuit, Zonika. Onmiddellik!”
Haar vader se kil, bevelende stem bring haar onmiddellik tot bedaring. Met ’n snik storm sy by die deur uit en die twee mans staan bewegingloos teenoor mekaar.
“Was dit ’n grap?”
“Nee, Hercule. Ek vrees dis die reine waarheid. Ek het nie die vaagste benul waar die D’Arcy-skat is nie. Ek weet daar werklik net so min van af soos jy.”
Hercule is wasbleek.
“Maar al die tyd gee jy voor jy het dit in jou besit! Jy móét dit hê!”
“Ek het dit nie. Ek gee jou my woord van eer.”
’n Lang oomblik staar hulle mekaar aan en Hercule weet meteens instinktief dat Emile Pierre nie vir hom lieg nie. Hy sak langs die tafel neer.
“Dan is ek net so ver as wat ek was. Alles verniet.” Hy trek die wynkraffie nader en ledig ’n glasie met een sluk. “Waarom het jy my belieg? Waarom het jy toegelaat dat ek vandag met jou dogter trou? Toemaar, jy hoef nie te antwoord nie. Ek weet.” Hy staan op, die bitterheid van sy groot teleurstelling soos edik in sy stem. “Omdat jy op geen ander manier ’n man vir daardie helleveeg sou kry nie. En ek het reg in jou val ingestap. Maar sy is verkeerd. Ek het nog nie verloor nie. Van hierdie oomblik af is jy en jou dogter saam met my in hierdie soektog. Van hierdie oomblik af sal julle saam met my soek na die D’Arcy-skat, verstaan jy, ou man?”
“Hercule, waarom is jy so gretig om daardie skat, juis dié van die D’Arcy-familie, in die hande te kry? Wie is jy?”
’n Bitter hoonlag volg op sy woorde.
“ ’n Goeie vraag, monsieur. Ek sal dit beantwoord die dag wanneer ons die skat gevind het. Herinner my daardie dag weer aan dié vraag.”
Hy stap met lang treë by die deur uit en ’n oomblik later hoor Emile die bulderende bevel oor die dek opklink: “Verander koers! Terug na Frankryk!”