Читать книгу Ena Murray Keur 4 - Ena Murray - Страница 11
8
ОглавлениеSoos tevore sien Salome hoe Babilon voor haar ontvou toe hulle die laaste rantjie oorgaan. Soos tevore sien sy die statige ou herehuis, die bome, die blomme, die netjiese vrugteboord, die groentetuin en landerye en die damme – en weer is daar bedenkinge in haar hart. Dit was ’n dwase stap om met Deon de Ridder te gaan trou het. Maar is dit nie ’n nog dwaser stap om met die baas van Babilon te trou nie?
Die eerste keer het sy blindelings in ’n huwelik met ’n De Ridder ingestap – met ’n jongmeisiehart vol drome en sotte ideale, uit onkunde. Maar hierdie keer … Dit was ’n verbitterde, ontnugterde vrouehart wat hom deur Calvyn de Ridder laat beweeg het om ’n tweede keer in haar lewe so ’n dwase stap te doen; maar dit was ook ’n sielsmoeë moederhart vol kommer wat eindelik geswig het. Hierdie keer is dit egter nie die onervare, onkundige jong meisie wat Babilon betree nie. Hierdie keer het sy nie eens ’n verskoning nie. Sy stap met oop oë en geen verwagtinge nie oor Babilon se drumpel.
Weer eens, soos honderd keer al sedert Calvyn gistermiddag die trouring aan haar vinger geglip het, is daar verbasing, verwarring in haar hart. Selfs op hierdie oomblik, met Babilon voor haar, met sy baas se groot gestalte en strak gesig hier langs haar in die motor, kan sy dit nog nie glo nie, nog nie die werklikheid aanvaar nie. Die feit dat sy werklik met Calvyn de Ridder gaan trou het, werklik toegestem het om so iets te doen ná alles wat gebeur het, laat haar verslae, en sy besef dat die lang maande van swaarkry ’n vreemdeling van haar gemaak het, ook vir haarself.
Wat het haar besiel om so iets te doen? En tog, van die oomblik af dat sy in sy geslote gesig opgekyk het toe hy so skielik sy verskyning in haar kamerdeur gemaak het, het sy instinktief geweet dat soos Calvyn dit wil hê, so sal dit gebeur; dat wat hy besluit oor haar en haar kind, so sal wees.
Miskien het die maande wat haar weggaan van Babilon voorafgegaan het, iets daarmee te doen gehad – daardie maande wat sy geleer het om maar liewer te swig as om die baas van Babilon teen te gaan. Miskien was dit die gewoonte wat in daardie maande aangekweek is, wat haar ná vergeefse en floue proteste Calvyn maar sy gang laat gaan het, soos hy gewoond is om te doen. Want diep in haar onderbewussyn het die wete gelê: Calvyn kry tog maar altyd op die end sy sin. Waarom haar onnodig bemoei? Waarom stry terwyl sy tog nie in staat is om met haar verswakte gestel en afgestompte sinne sterk teen hom te staan nie?
Gisteraand het hulle halfpad gekom en in ’n hotel oornag. Sy was nogal verbaas oor Calvyn voorgestel het dat die pad te lank vir haar en die kleintjie is om in een skof af te lê. Maar dan, het sy besef toe sy in die bed lê en Calvyn reeds nag gesê en na sy eie kamer gegaan het, is sy bedagsaamheid natuurlik nie vir haar bedoel nie, maar vir die erfgenaam van Babilon. Die ou verbittering het weer soos ’n vlam in haar opgestoot. Dis wat haar lewe van nou af sal wees: sy sal in die skaduwee van haar kind lewe, sy sal geduld word om haar kind se ontwil. Haar oë het lank op die onskuldige gesiggie gerus. Jou toekoms is verseker, my seun, maar … watter soort toekoms wag op jou ma? Wat kan Babilon anders as nog meer trane en verdere hartseer vir my inhou? Die bitter gedagtes het in haar bly kolk en maal.
Dis op ’n ongeleë oomblik dat hulle op Babilon aankom. Toe hulle voor die stoep stilhou, kyk Salome met beklemming in haar hart na die groepie mense op die stoep. Dis teetyd en elkeen sit met ’n koppie in die hand. Hulle is almal daar – Ria, Joey de Ridder, Wanda en Deon.
Skielik voel sy ’n hand oor hare skuif en sy hoor Calvyn sê: “Daar is niks om te vrees nie. Ek het Deon se deel van die plaas oorgeneem en Babilon behoort nou heeltemal aan my. Dit is nou jóú huis, jy is die vrou daarvan. Verstaan jy, Salome?”
Sy kyk stadig na hom op met paniek in haar oë, en sy oë vernou terwyl sy greep op haar vingers versterk. “Jy is geen indringer nie. Jy is my vrou. Van vandag af neem jy die huishouding van Babilon oor, en soos jy in die huis besluit, so sal dit wees. As daar iemand is vir wie jou besluite nie pas nie, dan … wel … dan moet sy padgee. Deon en Wanda bly op Wanda se plaas. Haar ouers het dorp toe getrek. Vir hulle sal jy byna nooit sien nie. Dis maar heel toevallig dat hulle vanoggend hier is. Seker maar net vir Ma kom groet. Ek wonder wanneer het dié teruggekom, en hoekom so gou al.” Hy klim uit, maak die deur vir haar oop en trek haar uit totdat sy klein en fyn langs hom staan. Hy kyk op die blink hare af. “Hierdie keer gaan dit anders wees, Salome. Dit belowe ek jou. Hierdie keer is jy my vrou.”
Dis ’n verslae groepie mense wat sien hoe Calvyn, met sy arm beskermend om die skraal skouertjies, Salome die treetjies oplei. Dan kan Ria haar nie langer bedwing nie. Sy spring op en storm vorentoe.
“Salome!” Sy huil terwyl sy Salome styf vasdruk. “Ag, Salome!”
Dan druk Calvyn Ria sag maar beslis weg en lei Salome nader.
“Goeiemôre, Ma. Welkom terug. Soos Ma sien, is al die verdwaalde skape van Babilon terug. Salome ook – om te bly.”
“Wat … wat bedoel jy?” Joey is bleek, en hoewel sy ’n mate van hooghartigheid behou, is daar ook vrees en onsekerheid in haar stem.
“Ons is gister getroud – ek en Salome, en …”
“Getroud!” Ria kyk verbysterd van die een na die ander. “Getroud! Maar … maar mág julle? Ek bedoel … dis mos teen die wet … Ek bedoel, daar is mos ’n soort wet wat …”
Calvyn se kalm stem bring haar ontstelde stameling tot swye.
“Nee, nie meer nie. Dis lankal teruggetrek. Ek verseker jou ons is volkome wettig getroud.” Hy kyk stip na Joey, wat bleek in haar stoel sit. “En daarom is Salome van vandag af die vrou in hierdie huis. Dis haar huis en haar huishouding.” Hy lei haar ’n paar tree verder. “Goeiemôre, Wanda, Deon.”
Salome kyk eerste in Wanda se oë – oë wat haar met giftige wantroue aanstaar. Dan gaan haar blik na Deon, en weer eens tril verbasing deur haar. Sy het hierdie oomblik so gevrees, die oomblik wanneer sy weer in Deon se oë sal moet kyk. Maar sy het verniet gevrees, want Deon se blik is afgewend en dis hy – nie sy nie – wat bid dat die grond moet oopgaan. Die greintjie gewete wat nog in Deon de Ridder lewe, roer onrustig.
Calvyn druk ’n stoel teen Salome se bewende bene aan.
“Sit, Salome.” Hy laat weer sy blik oor die ander dwaal. “Daar is nog iemand wat ek aan julle wil voorstel. Ek is nou terug.”
Dis ’n swaar swye wat volg terwyl Calvyn terugstap motor toe. Toe Salome dit waag om een keer op te kyk, is dit in Ria se grootgerekte oë waarin sy vaskyk. Duidelik vra die jong meisie se ontstelde blik: Het julle hom hiérheen gebring? En duidelik antwoord Salome se oë: Ja, natuurlik, waarheen anders dan?
Hy plaas die babadrawiegie in die middel van die stil groepie neer sodat elke oog hom kan sien.
“Ontmoet die erfgenaam van Babilon – my seun, Calvyn.”
Salome kyk na hom op, en wat sy sien, laat die onstuimige woelinge in haar skielik verstil. Saam met die res staar sy roerloos na hom, sien die forse gestalte wat soos ’n wakende engel oor die mensie in die drawiegie staan, die sterk gesig, die oë so uitdagend, die mond so vasbeslote. En dit word wonderlik stil binne-in Salome, want meteens sterf die laaste vrees oor haar kind se toekoms weg. Sy weet dat sy nooit oor haar kind ’n oomblik van bekommernis hoef te hê nie, geen bedenkinge oor die klein Calvyn meer hoef te koester nie. Die ander Calvyn, die groot man wat hom so trots en uitdagend as sy seun voorgestel het, sal hom beskerm, hom alles gee wat ’n seun maar kan verlang. Wat Calvyn de Ridder ook al mag wees, watter foute hy ook al mag hê, één ding weet sy: haar kind is veilig by hom. Hy sal vir hom ’n pa wees.
Dan dwaal haar blik weg van haar man se gesig af en rus op Deon. Die eerste keer in haar lewe sien sy Deon de Ridder werklik bleek, werklik ontsteld. Net vlugtig flits sy oë in hare, maar dis yskoue oë, net so uitdagend soos dié van Calvyn, wat in syne terugstaar. En langs hom staar Wanda na die mandjie, en dis of sy in ’n standbeeld van skok verander het. Kalm draai Salome haar kop en kyk na Joey de Ridder, die tweede keer haar skoonma. Haar wange lyk deurskynend bleek, en ook sy kyk af in die mandjie asof sy die engel van oordeel self daarin sien lê. Salome draai haar kop verder, en hulle glimlag vir mekaar – Ria en Salome …
Dis weer Ria wat eerste tot verhaal kom en opspring. Sy kniel langs die mandjie en trek die kombersie verder weg van die gesiggie.
“O, Salome! Hy is te pragtig! Mag ek … mag ek hom maar optel?”
“Ja. Hy sal nou-nou wakker word. Dis sy voedingstyd,” sê sy floutjies.
Versigtig, asof hy breekbaar is, lig sy die mensie op voor almal se oë. Hy gee ’n lang gaap en knies met die vuisies teen die neus. Dan gaan die ogies ontevrede oop en kyk fronsend op na die rusverstoorder. Ria ruk haar asem in.
“Calvyn, het jy gesien?”
“Wat?” Hy sak ook op sy hurke langs Ria neer en die eerste keer in maande sien die mense van Babilon dat sy baas glimlag.
“Hy lyk nes jy en Pa! Kyk net daardie frons! Dis dan kompleet …” Dan swyg sy vinnig en ’n bloedrooi blos vlek oor haar wange. Dis Calvyn wat die delikate oomblik oorbrug.
“Natuurlik lyk hy nes ek en Pa. Dis mos ’n klein Calvyn, die toekomstige Calvyn de Ridder, wat jy nou daar vashou. Gee hom hier.” Hy neem die kleintjie uit haar arms en kom orent. Dit het stil geword op die breë ou stoep. Weer eens kan die ander net toekyk, verslae. Hy lyk half verspot – die groot man met die brose bondeltjie in sy arms. En tog, ook asof dit pas, asof dit so hoort: Calvyn de Ridder met Babilon se erfgenaam in sy arms.
Maar die jongste Calvyn is geensins beïndruk deur die ferm gesig hier bokant hom nie, salig onbewus van die belangrikheid van hierdie oomblik. Sy maag is leeg – en hy kondig dit luidkeels aan. Weer glimlag Calvyn, en in sy oë dans die vreugde toe hy na Salome afkyk en hom na haar uithou.
“Hy sê sy maag is leeg, Mamma.”
Sonder dat sy heeltemal daarvan bewus is, glimlag Salome terug – die eerste glimlag wat sy en haar nuwe man verwissel.
“So hoor ek.”
“Ek sal gou die goedjies uit die kar gaan haal.”
“Ek kom help,” bied Ria aan, en daar is ’n tinteling in haar stap toe sy Calvyn die trap af volg. Agter haar hoor sy hoe die jongste Calvyn al harder protes aanteken, hoe Salome se troostende stem vervaag toe sy die huis instap. Babilon se stil werf het skielik lewe gekry. Daar is weer geluide – ’n gehuil, nuwe lewe, nuwe betekenis …
Nie een van hulle gee verder aandag aan die drie mense wat op die stoep agterbly nie. Hulle sien nie hoe Wanda haar skoonma ophelp uit die stoel asof sy skielik in ’n paar minute oud geword het nie. Hulle hoor nie toe ’n ander motordeur klap en sien nie hoe ’n stofwolk in die pad opstyg nie. Ria is doenig in die kombuis met warm water en wat Salome ook al nodig het. Salome is besig om, in haar ou kamer, haar seun te versorg. En Calvyn stap oor die werf, koers in die rigting van die stalle, draai dan weg na ’n kampie daar naby. Hy steek sy hand uit en streel oor die satyngladde hare. “Sy is terug, Ounooi. Sy en haar seun.”
Dis eers daardie aand, terwyl Salome haar baba bad, dat sy en Ria werklik alleen kan gesels. Ria, met haar oë skuldig neergeslaan op die kaal boudjies van die kleinding, bieg eerlik: “Salome, is jy vir my kwaad? Dis ek, en nie Hendrik nie, wat jou geheim verklap het. Wanda en Deon het daardie middag van die stad af teruggekom.” Sy kyk op, en terwyl Salome haar baba op haar skoot tel en begin voed, luister sy stil na wat Ria te bieg en te vertel het, haar gesig onleesbaar. Toe Ria eindelik stil is, kyk sy op.
“Dan was dit seker so beskik dat jy in jou ontsteltenis my geheim aan Calvyn verklap het, Ria. As Wanda dan nooit kinders van haar eie kan hê nie, is dit goed dat ek teruggekom het. Dan was dit noodsaaklik, want dan is hy,” en sy kyk af op die suigende mondjie, “werklik die enigste redding vir Babilon … en Calvyn.”
“Hy kan dit nog altyd wees sonder dat jy juis met Calvyn moes gaan trou,” wys Ria stil uit. “Hoekom het jy met hom getrou, Salome?”
Dis Salome se blik wat nou afgewend is en stip op haar kind teen haar bors gerig bly. Dis lank stil voordat sy gedemp antwoord: “Daar is so baie redes, Ria, en ek wil dit liewer nie … bespreek nie. Ons is nou getroud en ek hoop maar dat dit hierdie keer … beter sal gaan. Hoe voel … Ma nou?”
“Ek was netnou by haar. Sy lê. Sy lyk nie te gesond nie. Dis hoekom sy vroeër teruggekom het van vakansie af. Sy het natuurlik ’n groot skok weg. Dis te verstane. Ek het haar ’n kalmeerpilletjie gegee. Sy het tyd nodig om gewoond te raak aan die gedagte …”
Salome glimlag meewarig. Ja, nie net haar skoonma sal tyd nodig hê om gewoond te raak aan die gedagte dat Salome weer terug op Babilon is nie. Sy self – en ander, ook die hele omgewing, al hul kennisse en vriende – sal daaraan gewoond moet raak. Sou Calvyn ooit daaraan gedink het watter skindervuur hy self hierdie keer teen Babilon se mense aan die brand gesteek het?
Ná aandete en nadat sy seker gemaak het dat klein Calvyn rustig slaap, stap Salome na buite. Haar blik dwaal oor die bekende werf. Calvyn het gesê dis nou hare. Sy is nie meer ’n indringer nie. Maar as daar nie op hierdie oomblik ’n seuntjie in sy bedjie in ’n kamer in die opstal van Babilon geslaap het nie …
Sy skud haar kop om hierdie gedagte te verwilder en stap vinnig aan. Wat sal dit help om gedurig hieroor te tob? Wat maak dit saak as dit so is, dat sy net hier aanvaar word, dat sy haar regmatige plek as die vrou van Babilon kry omdat sy die ma van die erfgenaam is? Wat daarvan? Dis tog die enigste rede hoekom sy vanaand weer eens oor Babilon se werf stap. Sy weet dit tog. Om watter ander rede sou die baas van Babilon so gulhartig teenoor haar wees? Veral noudat dit ’n feit is dat haar kind die enigste erfgenaam sal wees, is die dryfveer agter alles so klinkklaar. Selfs al sou sy nie gedwee ingewillig het nie, sou Calvyn haar nogtans op die een of ander manier gedwing het om aan sy eise te voldoen. Hy het tog reeds geweet, toe hy haar in die stad kom besoek het, dat die kind wat in die goedkoop losieshuiskamertjie lê die enigste hoop vir hom is.
Maar hoekom trou met haar? Soos Ria nugter uitgewys het, is haar kind sonder twyfel die erfgenaam van Babilon. Eintlik was dit onnodig dat sy ma ’n trouring aan haar vinger moet hê om hom sy erfenis te laat behou. Maar miskien het Calvyn besef dit is die enigste manier waarop hy haar kind sal kry … om met die ma te trou. Hy het goed geweet dat nie eens al die geld van die De Ridders, en watter invloed hy ook al mag hê, dit moontlik sal maak dat hy haar kind van haar sal kan wegvat nie. Nee, Calvyn het goed besef dat as hy die erfgenaam van Babilon wil hê, sy deel van die onderhandeling is.
En ’n blote onderhandeling is dit. Dit is geen huwelik wat Calvyn verlang nie. Hy wil net die kind hê. Sonder ’n woord het hy gisteraand nag gesê en na sy eie kamer in die hotel gestap – en sy het nie eens daaroor gewonder nie. Hulle het dit nog nie bespreek nie, maar sy twyfel of hulle dit ooit sal bespreek, want dis nie nodig nie. Albei – sy sowel as Calvyn – weet tog waarom hierdie huwelik aangegaan is. Dit draai net om die erfgenaam van Babilon.
Daarom dat sy vanoggend toe sy die huis binnestap, spontaan na haar ou kamer afgedraai het, en Calvyn spontaan sy tas weer in sy kamer gaan neersit het. Dit het nie by haar of – sy is seker daarvan – Calvyn opgekom dat die ander miskien hieroor sal wonder nie. Vreemdes sal miskien verbaas hieroor wees as hulle dit moet agterkom, maar aan die ander kant – nie Ria óf Joey sal daaroor wonder nie. Ook hulle begryp die toedrag van sake volkome.
Haar aandag word getrek deur ’n paar beeste wat met hul groot oë haar herkouend staan en beskou, en sy kom tot stilstand. Die eerste keer onthou sy en sy kyk hulle een vir een deur. Dan glimlag sy en stap nader.
“Ounooi! Ek is seker dis jy. Onthou jy my nog?”
“Ja, dit is sy. En sy onthou jou nog. Ek ook.”
Sy swaai om met ’n blye glimlag, maar daar is geen glimlag op Hendrik Jansen se gesig nie. Lank kyk hy haar ernstig aan sodat haar eie glimlag vervaag. Stadig skud sy haar kop heen en weer en dan is sy skielik in sy arms, druk hy haar styf vas en klink sy stem sag bokant haar kop: “Jou klein gek! Jou absolute klein gek! Salome, wat het jou besiel om so iets te doen?”
Sy trek terug en gee hom ’n klapsoen.
“Moenie met my raas voordat jy my nog gegroet het nie! O, Hendrik, ek het so na jou en Ria verlang! Ek is so bly om julle twee weer te sien.”
Dis jammer dat die man wat die ontmoeting sien, nie ook haar woorde hoor nie. Dan sou hy geweet het dat dit blote vriendskap, ’n mooi, egte vriendskap is wat aanleiding gegee het tot die omhelsing, en dat dit nie ’n omhelsing van twee verliefdes is soos dit vir hom op hierdie afstand in die skemer lyk nie. En die teer ondertoon in Hendrik Jansen se stem wat hy wel kan verneem sonder om die woorde uit te maak, is nie dié van ’n minnaar nie, maar van ’n opregte vriend wie se hart vol kommer en selfverwyt is. As hy Ria maar liewer nie vertel het van daardie brief nie …
Eintlik is dit dus sy skuld dat Salome weer eens ’n dwase stap gedoen het, hierdie keer soveel dwaser as die eerste keer. Want sy kon nog van Deon de Ridder wegloop, maar Calvyn de Ridder is ’n perd van ’n heeltemal ander kleur. Hulle hoor nie die sagte voetval wat in die skemerte wegsterf nie, en Salome antwoord: “Wat kon ek anders doen, Hendrik? My kind is ’n De Ridder, en Babilon ís sy erfenis. Ek sou hom skaars met die noodsaaklikste aan die lewe kon hou, en hier …”
“Hier sal hy alles kry, behalwe die noodsaaklikste – liefde en karakter.”
Sy kyk hom fronsend aan.
“Maar ek is mos ook hier. Laat Calvyn hom daardie ander dinge gee. Ek sal hom weer liefde gee en …”
Hendrik maak ’n ongeduldige gebaar met sy hand.
“Maar jy, Salome. Wat van jóú? Wat kry jy uit die onderhandeling? Gratis kos en verblyf?”
Sy kyk vinnig weg, haar stem verwerend: “Calvyn het beloof dat ek die vrou in die huis sal wees, dat ek erkenning as sy vrou sal kry, my regmatige plek …”
“So? En sien jy daarvoor kans? Vir jou regmatige plek? Sal jy dit kan vol staan, ook in … jul persoonlike lewe?”
Sy kyk vinnig op en ’n warmte spoel oor haar gesig.
“Jy … verstaan nie. Dis nie … Ek bedoel …”
“Ek verstaan maar te goed, Salome. Weer eens sal jy die een wees wat gaan gee, jousélf sal moet gee, en niks terugkry nie. Want daardie dinge wat Calvyn jou beloof het – wat hy as betaling, as vergoeding voor jou neus geswaai het om jou te oorreed tot hierdie dwase stap – is leeg en sonder betekenis as daar geen gevoel by is nie. En daar is nie, is daar? Met Deon de Ridder was daar nog ’n mate van gevoel, veral aan die begin, maar hierdie keer begin jy uit die staanspoor met niks – niks aan albei kante, of …” Sy oë vernou, kyk haar skerp, deurdringend aan. “Of het ek verkeerd?”
Sy staar hom eers verward aan, dan ontsteld.
“Natuurlik het jy reg, maar … aan die ander kant is daar my kind.”
Hy sug. “Ek verstaan jy het hom Calvyn laat doop, of geregistreer. Hoekom?” Toe sy hom net stil aankyk, vervolg hy: “En soos jy seker al self weet, Salome, was dit nie werklik nodig om met Calvyn te trou om jou kind se toekoms te verseker nie. Hy was van die oomblik wat hy sy eerste skree in die wêreld gegee het, Babilon se erfgenaam, die oudste seun van ’n nuwe geslag.”
Baie teer lê hy sy hand teen haar een wang. “Of miskien is jy nie heeltemal eerlik met my en jouself nie, Salome. Jy het so baie redes opgenoem hoekom jy weer vanaand op Babilon terug is … behalwe die eintlike een.”
“Ek … ek begryp nie …”
“Miskien is dit nog die beste dan … dat jy nie begryp nie …” sê hy raaiselagtig en stap weg terwyl Salome hom met verwarde oë agternakyk.