Читать книгу Ena Murray Keur 4 - Ena Murray - Страница 8
5
ОглавлениеIn die dae wat volg, kyk Salome met nuwe oë na minstens drie van Babilon se mense.
In Ria het sy haar grootste verrassing gevind. ’n Mens sou nooit soveel begrip en diepte by hierdie stil meisie verwag as jy haar net op die oog af oordeel nie. In die huis en daaglikse omgang is Ria ’n vaal muisie sonder persoonlikheid, geheel en al oorskadu – ’n mens kan dit selfs oordonder noem – deur veral Calvyn en haar ma. ’n Meisie sonder inisiatief, vir wie ander mense dink en haar lewe vir haar beplan. Maar nou besef Salome dat Ria geensins so oninteressant en sonder ruggraat is nie. Sy het ’n besondere insig in Babilon se mense, en hoewel sy deur die jare geleer het dat dit ter wille van die vrede beter is om maar saam te stem met wat haar ma en Calvyn sê, beteken dit nog nie dat sy gaan lê het nie. In Ria het Salome daardie dag ’n ware vriendin gevind, en dit was ’n soet druppel troos om te weet dat daar darem een De Ridder is by wie sy kan aansluit en teenoor wie sy haarself kan wees.
Ook groei haar vriendskap met Hendrik Jansen in die dae wat volg. In die koeistal, waar sy gereeld vir Daisy en haar versie, Ounooi, gaan besoek, wissel hulle dikwels ’n paar vriendelike woorde. Hoe langer sy die voorman ken, hoe meer hou sy van hom en word sy oortuig dat wát die omstandigheidsgetuienis ook al teen hom was met die dood van Calvyn se vrou, Hendrik Jansen beslis geen agterbakse verhouding met sy werkgewer se vrou gehad het nie.
Die feit dat hul geselsies in die koeistal nie heeltemal onopgemerk verbygaan nie, besef sy, maar dit hinder haar nie. In die meeste opsigte sal sy verplig wees om ’n De Ridder te word, maar sy weier om mense te klassifiseer volgens hul besittings en waar hulle woon. Die voorman van Babilon is ’n man met karakter, en daarvolgens sal sy besluit. Niks en niemand, nie eens die baas van Babilon nie, sal haar dwing om snobisties te word nie.
Maar ook die baas van Babilon beskou sy nou met nuwe oë, en daar kom tye dat sy ’n innige jammerte in haar hart teenoor hom voel groei. In haar verbeelding sien sy die seuntjie wat so liefdeloos en sonder die teerheid van ’n ma moes grootword, by ’n pa wat hom indirek verantwoordelik hou vir iets waaraan hy tog nie aandadig was nie. Veral in Calvyn se geval is Salome verras deur die diep insig aan Ria se kant. Sy stem saam dat Calvyn eintlik bejammer moet word. As ’n mens vandag na die bitter man kyk, kan jy jou kwalik voorstel dat hy maklik deur ’n verleidster om die bos gelei sou kon word. Maar dis deur skande en skade dat ’n mens wysheid leer, en dis grotendeels sy huwelik met die losbandige Jessie wat van hom die man gemaak het wat hy vandag is – dit en sy eensame, liefdelose kinderjare. Kan ’n mens hom dan werklik verkwalik dat hy valse waardes in die lewe opgebou het … dat hy deur ’n harde noodlot geleer is om nie op die liefde en eerlikheid van sy medemens te reken nie, maar sy vertroue te plaas in dooie dinge en besittings – jou status en jou naam?
En Salome is reg. By Calvyn het dit ’n obsessie geword om die De Ridder-naam, wat hy indirek beswadder het deur met ’n meisie van laer stand en opvoeding te trou, weer in ere te herstel. Hy het gesweer dat nóg hy nóg een van die ander De Ridders ooit weer daardie naam skade sal aandoen. Want Babilon en die De Ridder-naam is al wat hy oorgehou het in die lewe, al wat die toekoms vir hom inhou. Dit was vir hom ’n geweldige skok toe hy moes vasstel dat ook Deon met ’n hierjy van nêrens getrou het. Maar hy, die nuwe baas van Babilon, sal sorg dat Salome haar by sy standaarde aanpas.
Namate die weke verbygaan, is daar vir Salome ’n groter probleem as die baas van Babilon. Elke dag word dit vir haar al duideliker dat haar en Deon se huwelik op die rotse is. Ten eerste is sy baie beslis oortuig daarvan dat Deon en Wanda Wolfaardt meer as net “goeie, ou vriende” is. Sy het geen vaste bewys daarvoor nie, maar Wanda se naam duik te dikwels in Deon se gesprekke op, en hulle is net te dikwels toevallig saam op plekke. Die enkele kere dat sy en Deon wel saamgenooi is na partytjies en dies meer, was Wanda ook altyd op die voorgrond en het sy Deon so in besit geneem dat Salome heeltemal op die agtergrond geskuif is. Nadat dit ’n paar keer gebeur het, het sy nog elke keer verskonings gehad om nie te gaan nie. Deon was duidelik verlig en bly daaroor. Met ’n steekpyn in haar hart het sy geraai Wanda wag gretig aan die ander kant op hom.
Salome begin al sterker besef dat sy nie kans sien om die res van haar lewe met ’n man soos Deon te slyt nie. Benewens die feit dat hy geen oomblik aarsel om die waarheid te verdraai wanneer dit hom pas nie, het hy sedert hulle op Babilon aangekom het nog geen enkele dag se eerlike werk verrig nie. Dit het vanselfsprekend al tot ernstige rusies tussen hom en Calvyn gelei, en natuurlik het sy ma elke keer vierkant agter haar bedorwe brokkie gestaan.
Deon is ook die grootste deel van die dag en gewoonlik elke aand uithuisig, en keer eers baie laat snags terug. Of die ander huismense ooit hiervan bewus is, weet Salome nie, en sy het ook tot nou toe nie daaroor gepraat nie. Met sy ma kón sy nie daaroor praat nie, want Joey de Ridder en haar skoondogter is nog steeds ná weke vreemdelinge vir mekaar. Met Calvyn sal sy dit nie waag nie, want dit sal net weer tot een van daardie vreeslike, sinlose rusies lei. Met Ria sal sy nie praat nie, want dié sal daar tog niks aan kan doen nie. Deon is ook Ria se broer, en sy wil laasgenoemde nie in ’n situasie dwing waar sy moet kant kies nie. Net Hendrik Jansen bly dus oor teenoor wie sy haar hart sou kon uitpraat. Maar ook teenoor hom swyg sy, hoewel sy in sy oë kan lees dat hy nie blind is vir wat aangaan nie. Calvyn het in die afgelope weke nog killer geword as ooit tevore. Sy wil niks doen wat nog verder die spanning op Babilon kan vererger nie.
Intussen word sy nog maerder en kleiner. Een paar oë kyk met heimlike tevredenheid en genot na hierdie agteruitang – dié van Joey de Ridder. In haar hart het sy nog nie van haar droom afgesien dat Deon en Wanda eendag die twee rykste en mees gesiene families van die omgewing sal verenig nie. Net Wanda Wolfaardt sal sy as vrou vir Deon aanvaar, en dis met groot tevredenheid dat sy die groeiende vriendskap tussen hom en die meisie van die buurplaas dophou. Dat Deon reeds getroud is en dat egskeiding ’n vloekwoord in ’n De Ridder se mond is, kan haar min skeel. Daarom dat sy nooit weier wanneer Deon haar om geld nader nie, al moet sy haarself dikwels tekort doen. Want Deon moet geld hê om die ryk Wanda Wolfaardt uit te neem. Wanda self is geen probleem nie. Sy is al die jare nog tot oor haar ore op Deon verlief. Die feit dat sy haar nie daardeur laat afskrik dat Deon getroud is nie, laat Joey hoop dat sy tog nog haar hartewens vervul gaan sien.
Maar ook drie paar ander oë sien in watter rigting sake ontwikkel, hoe die altyd fyn gestaltetjie in weerloosheid toeneem, hoe sy stiller word, meer ingetoë, die blou oë meestal afgewend of versluier. Sy was maar altyd stil, maar dis of sy deesdae niks meer te sê het nie. Op elkeen van die drie het dit ’n ander uitwerking.
In die voorman groei die opstand tot byna breekpunt terwyl hy magteloos moet toesien hoe Salome verkrummel. Elke keer wanneer sy blik op Deon val, span sy vingers styf asof hy moet stry teen ’n begeerte om iets ongeoorloofs te doen. Maar tog hou hy nie net vir Deon verantwoordelik vir Salome se duidelike agteruitgang nie. Eintlik beskou hy Calvyn as die verantwoordelike persoon.
Kan die man dan nie iets doen om daardie broer van hom in die bek te ruk nie? Hy oefen dan sulke diktatoriale gesag uit oor al wat leef en asemhaal op Babilon. Benewens die feit dat hy dikwels uitbars omdat Deon nie sy deel van die kontrak nakom en ook sy gewig ingooi by die boerdery nie, is dit asof dit hom nie veel kan skeel dat Salome en Deon se huwelik direk op ’n afgrond afstuur nie.
Hendrik werk nie verniet al jare op Babilon nie. Hy ken Calvyn beter as wat laasgenoemde sou dink, en juis omdat hy, nes Ria, ’n besondere insig in hierdie man se karakter het, kon hy al in die verlede Calvyn baie dinge vergewe en die dikwels eienaardige optrede van sy kant begryp. Maar wat deesdae met Calvyn aangaan, kan hy nie verstaan nie. Hy, wat so byna fanatiek gesteld is op die De Ridder-naam, draai ’n blinde oog waar dit sy broer se flirtasies met die buurmeisie aangaan.
Hy móét daarvan kennis dra, want behalwe dat net een kyk na Salome jou alles vertel, boer Deon op die buurplaas en gons die hele omgewing van gissings en skinderstories. Dit is so buite Calvyn se aard om so iets sonder ’n woord te laat verbygaan en byna oogluikend toe te laat, dat dit al dikwels op die punt van die voorman se tong was om hieroor met hom te praat, wat die gevolge ook al mag wees. Tog laat hy dit elke keer na, want Calvyn is deesdae so ontsettend kort van draad, so kil en ysig in sy optrede, dat selfs Ria, al mens op Babilon wat nog soms met hom kon kommunikeer, dit nie waag om ’n enkele woord uit sy plek te sê nie.
Daarom is almal verslae toe Calvyn aankondig dat hy ook na die partytjie gaan om die silwerbruilof van Wanda se ouers te vier. Al Babilon se mense is genooi. Dit gaan ’n baie groot okkasie in die stadsaal wees.
“Maar jy gaan dan nooit na sulke geleenthede toe nie,” ontglip dit die verbaasde Ria, en sy kan dadelik haar tong daaroor afbyt. Natuurlik weet almal dat Calvyn sedert sy traumatiese huwelik met Jessie nog nooit weer sy voete op sulke plekke gesit het nie. Haar broer kyk haar strak aan.
“Wel, hierdie keer gáán ek. Almal gaan.”
Dit klink soos ’n bevel en Salome kyk vinnig weg toe sy sy blik op haar voel.
Toe Calvyn uitstap, laat Deon geamuseer hoor: “Wel! Wonderwerke gebeur nog! Ons godjie begin mens word, sien ek.” Dan vernou sy oë. “Of gaan hy maar net saam om ’n vaderlike oog oor die kosbare De Ridders te hou?”
“Dis heel moontlik en, ek sou sê, hoog tyd ook,” laat Ria betekenisvol hoor, en kyk haar broer vas aan. Tot haar verbasing laat hy hom nie uitlok nie, maar glimlag net lui.
“Dan sal jy in die toekoms versigtiger moet wees met jou namiddagse … e … wandelinkies, nie waar nie, sus?”
Ria verstrak merkbaar, en Salome verstyf in afwagting. Ook sy is bewus van Ria se wandelinkies in die laat namiddae, wandelinkies wat haar toevallig altyd laat uitkom in die omgewing waar Hendrik Jansen besig is. Salome glo nie dat daar ooit iets tussen haar en die voorman gebeur nie, want Hendrik het dit bedoel toe hy gesê het dat hy hom nie meer aan die lewe sal laat hou met krummels nie. Tog gaan skraap Ria elke namiddag ’n paar krummels bymekaar, al is dit net om op ’n afstand na hom te kyk terwyl hy besig is.
Salome se oë flits woedend na Deon, en sy kan kwalik haar veragting verberg. Elke dag hou sy minder van haar man. Hy sal met geen gewetenswroeging en met ’n soort sadistiese genot ’n ander se seer uit die verborge skuilhoeke van die hart krap, daarmee spot en dit tot sy voordeel gebruik. Hoe lank gaan sy dit nog uithou om ’n huwelikslewe met hierdie man vol te hou? Hoewel hul huwelik net ’n blote klug geword het, ’n bespotting van wat dit behoort te wees, eis hy nog sy regte as man op ’n wyse wat haar laat bid dat hy liewer elke aand tot die vroegoggendure moet uitbly.
Sy kyk terug na Ria, sien die hartseer van ’n vrouehart wat vergeefs bemin in haar oë blink, en voel ineens lus om met ’n glimlag die vermakerigheid van Deon se gesig af te klap.
“Wat trek ’n mens na so ’n geleentheid toe aan?” vra Salome vinnig om aan die gesprek ’n ander wending te gee.
Toe Salome ’n rukkie later in haar kamer kom, weet sy egter dat sy beslis nie daarheen sal gaan nie. Volgens Ria sal dit dié okkasie van die jaar wees. Formele drag, volgens die uitnodigingskaartjie. Sy besit geen aandrok op haar naam nie, en sy is ook nie van plan om nou een te gaan koop nie, beslis nie met die geld wat Calvyn maandeliks in haar bankrekening stort nie. Daardie geld brand reeds soos ’n vuur wanneer sy soms verplig is om vir absoluut noodsaaklike goed daarvan te gebruik. Haar klere, het sy van die begin af besef, steek af by die ander twee vroue s’n en ook by hul vriende s’n, want sy moes in die verlede met ’n praktiese oog koop, liewer vir die duursaamheid as vir die mooiheid. Maar sy dra hulle nog steeds, en sy het besluit om hulle te dra totdat hulle van haar lyf afval, eerder as om geld te mors wat sy eerlik voel haar nie toekom nie. Sy weet voor haar siel Deon sal dit nooit terugbetaal nie.
Daarom steur sy haar in die weke wat volg maar min aan die vroue se bespreking van wat hulle daardie aand gaan dra.
“Het jy al iets vir die aand?” wil Ria op ’n dag weet, maar Salome skud haar kop.
“Nee. Ek gaan nie.”
Ria se oë rek. “Maar Calvyn het gesê …”
’n Vlammetjie van die ou vuur ontbrand skielik in Salome se oë. “Ek gee nie om wat Calvyn gesê het nie. Ek gáán nie.”
“Is dit … omdat jy nie ’n rok … het nie?” wil Ria aarselend weet. “Ek kan tussen myne kyk as jy nie een kan bekostig nie, Salome? Al probleem is net dat die mense in so ’n klein gemeenskappie mekaar se klere so goed ken en …”
“Dankie, Ria, maar al kom jy ook met ’n splinternuwe hier aan, sal ek nog nie gaan nie. Asseblief, dis finaal.”
Maar ’n dag voor die groot geleentheid kondig Calvyn aan dat hy dorp toe gaan en dat Ria en Salome moet saamgaan. Hy doen dit op so ’n subtiele manier dat Salome eers iets agterkom toe hy voor die enigste boetiek op die dorp stilhou en háár direk aanspreek waar sy tussen hom en Ria sit.
“Ria gaan nou saam met jou hier in en jy gaan soek vir jou ’n rok uit vir môreaand se geleentheid …”
“Ek gaan dit nie bywoon nie, Calvyn …”
“Ek wil geen teëpratery hê nie, Salome! Ek het gesê ons almal gaan – jy ook. Jy kan kies of jy hier gaan instap en doen wat ek sê, of dat ek jou hier indra en self vir jou ’n rok uitsoek en van ons albei ’n spektakel maak en nog iets vir die skinderbekke gee om hul tyd mee te verdryf. En ek sál dit doen. Ek waarsku jou!”
Toe sy hom net verslae sit en aankyk, leun hy oor en sit ’n tjekboek op Ria se skoot neer. “Ek het klaar die tjek geteken. Jy kan net die bedrag invul. Kyk dat sy die beste vat. Die prys maak nie saak nie. En as julle nie iets ordentliks hier kan kry nie, ry ons na die volgende dorp. Dis al. Ek kry julle weer oor ’n halfuur hier.” Hy klim uit, maak die deur vir Ria oop, en ná ’n oomblik van huiwering volg Salome gedwee.
Wat sal dit help om teen te stribbel? Hy sal presies doen wat hy gesê het. Wat meer is, sy weet hoekom hy dit doen. Ten eerste sal dit vreemd voorkom en die geskinder verder aanblaas as almal môreaand daar aankom behalwe sy. Ten tweede moet sy reg laat geskied aan die De Ridder-naam en nie dalk deur haar kleredrag Babilon se mense in die skande steek nie. Hy sal dus liewer self vir die aandrok betaal as om toe te laat dat iemand môreaand met ’n smalende vinger na ’n De Ridder van Babilon wys.
Woordeloos stap die twee meisies die boetiek binne en dis Ria wat verduidelik waarna hulle soek. Die eienares laat haar oë net vlugtig oor Salome se fyn gestaltetjie gly, en glimlag dan breed.
“O, ek het die ideale rok vir jou, mevrou. En niemand het dit nog met ’n oog gesien nie. Ek het dit nie eens uitgestal nie omdat ek nie sulke uiters fyn mensies onder my klante het nie. Kom ek gaan wys jou.”
Salome volg belangeloos, maar die brokkie vrou wat nog in haar lewe, laat haar haar asem in bewondering intrek toe die rok voor haar oopgesprei word. Sy het in haar lewe nog nooit so ’n rok besit nie, en nooit gedroom sy sal nie. Sulke mooi dinge was nog nooit vir háár beskore nie, maar vandag …
Ook Ria is in ekstase, en voordat Salome dit nog heeltemal besef, word sy in die rok gehelp. Ria se oë skitter.
“Jy lyk soos ’n feëprinses! Calvyn sal …” Dan sluk sy haar woorde haastig in en laat vinnig hoor: “Ons neem dit, mevrou. Draai dit maar toe.”
“Maar jy het nog nie eens gevra wat dit kos nie …”
“Dit maak geen saak nie. Hy het mos so gesê.”
“Maar ek …” Salome wil nog protesteer en sê dat sy beslis nie van plan is om so ’n groot geskenk van Calvyn te aanvaar nie. Sy wil verduidelik dat sy die geld sal terugbetaal – hoe en wanneer lê nog in die toekoms. Maar dan sug sy net. Dit sal tog nie help nie. Ria is klaar besig om die tjek uit te skryf, en vergeefs probeer sy oor haar skouer na die bedrag loer. Ria hou haar hand voor en is te vinnig vir haar.
“Ria, asseblief, ek moet weet wat die rok kos,” pleit Salome toe die eienares van die boetiek buite hoorafstand is om die rok toe te draai. Maar Ria skud laggend haar kop.
“Dit het niks met jou te doen nie. Jy sal ook verniet na ’n prys op die rok soek. Ek het die kaartjie afgehaal.”
“Jy en Calvyn het natuurlik saamgesweer oor hierdie ding,” verwyt Salome, maar Ria skud haar kop.
“Nee, ons het nie. Ek kan sweer. Dis net Calvyn se idee. Laat dit nou daar, Salome.”
Die volgende aand toe Salome haar aantrek, besluit sy om maar Ria se raad te volg en liewer die saak net daar te laat. ’n Mens maak jou net seer as jy jou kop teen ’n muur stamp. Met ’n wrang gevoel besef sy dat sy al klaar in ’n ewebeeld van Ria begin ontwikkel wat ruggraat betref – dis soveel makliker en minder vermoeiend om die weg van die minste weerstand te volg, om maar liewer by die besluite van die baas van Babilon in te val as daarteen te skop.
Toe sy die sitkamer binnestap, besef sy dat sy blykbaar die eerste is wat klaar is. Deon is reeds vroeg vanmiddag weg, want hy is een van dié wat die kroeg by die geleentheid sal beman. Sy gaan voor die venster staan, onbewus van die man wat in die deur verskyn het. Sy is ook onbewus van die spel van wisselende emosies op sy gesig en in sy oë terwyl hy haar swyend staan en beskou. Dan draai sy met ’n ligte suggie om en verstyf onwillekeurig. Sy het hom nog nie tevore in aanddrag gesien nie. In elke opsig is hy vanaand die baas van Babilon. Hy is ’n imponerende en aristokratiese figuur in die donker pak en ’n lang oomblik staan hulle net woordeloos na mekaar en kyk. As hy maar net een keer wil glimlag, dink sy somber.
“Ek veronderstel ek moet jou bedank. Ek hoop jy is tevrede en gerus dat ek nie vanaand die De Ridders in die skande sal steek nie.”
Sy hande soek na ’n sigaret, en as daar ’n bewing in sy vingerpunte is, merk sy dit nie op nie. Sy stem klink stug soos gewoonlik: “Ek het nog nie een enkele oomblik daardie vrees gehad nie.”
“Werklik?” Haar stem klink plat en die frons is weer terug tussen sy wenkbroue.
“Ja. Ek moet jou ook komplimenteer met jou smaak. Ek dink nie jy kon ’n rok uitgekies het wat beter by jou pas nie.”
“Dankie.” Haar oë flikker koel, byna vyandig. “Maar dis geen kuns om goeie smaak te openbaar as Babilon se rykdom agter jou is nie.”
Hy druk sy sigaret met geweld in die asbak dood en staan die volgende oomblik voor haar.
“Salome …”
Hy kom egter nie verder nie, want Ria vra van die deur af: “Wag julle al lank? Ek en Ma is ook klaar. Ons kan maar ry.”
Joey de Ridder laat net ’n koue, kritiese blik oor haar skoondogter gly en laat Calvyn toe om haar voor in die motor te help. Salome skuif agter langs Ria in en laasgenoemde leun nader toe die motor se dreuning opklink.
“Jy lyk asemrowend. Wat het Calvyn gesê?”
“Niks. Hoekom sou hy? Jy lyk ook pragtig, Ria. Ek wens so Hendrik kon jou nou sien.”
Ria laat gedemp hoor: “O, maar hy sal. Hy is ook vanaand daar. Hy moet Deon by die kroeg help.”
Daar staan reeds ’n blink skaar motors voor die stadsaal toe hulle stilhou. Hoewel sy uiterlik kalm voorkom, voel Salome hoe sy van spanning begin bewe toe hulle die treetjies opklim. In ander omstandighede sou sy dit geniet het om vanaand hier te wees, want sy is nie, soos sy tevore teenoor Calvyn beweer het, werklik so ’n antisosiale mens nie. Maar net die wete dat sy binne enkele oomblikke in Wanda Wolfaardt se oë moet kyk terwyl nuuskierige oë van alle kante op hulle gerig is, is genoeg om haar te wil laat omdraai en wegvlug. Joey de Ridder, met Ria langs haar, stap voor, en dis asof Calvyn Salome se gedagtes kan lees, want ’n hand sluit om haar elmboog toe hulle hul verskyning in die deur maak.
Hoewel haar koppie koel en trots omhoog gehou word en Calvyn se vingers om haar elmboog ’n eienaardige gevoel van kalmte en moed in haar teweegbring, moet Salome haar staal toe sy by die dogter van die gasheer en gasvrou kom, waar hulle hul gaste verwelkom. Haar blik bly strak toe sy sien hoe Wanda haar op en af beskou en daar ’n meerderwaardige glimlaggie om haar mondhoeke krul. Duidelik sê haar oë: die rok is plaaslik gekoop, nie waar nie?
Wanda self lyk soos ’n skepping uit Dior se sketsboek, en later die aand lig Ria haar ook in dat dit in Parys gekoop is gedurende haar onlangse toer oorsee.
“Dis ’n verrassing om jou vanaand in ons midde te hê, mevrou De Ridder,” laat Wanda uiters formeel hoor, met nadruk op die mevrou. Salome draai haar kop net so effens en voel hoe Calvyn se hand op haar rug haar dieper die saal instoot.
Die res van die aand is egter vir haar ’n marteling. Nie dat sy ’n muurblom is nie, want die mans toon duidelik dat hulle hierdie jong vroutjie van Deon baie aantreklik en ’n goeie dansmaat vind. Maar sy is gedurig bewus van die oë wat haar nuuskierig en soms met heimlike genot dophou, en sy weet hoekom. In so ’n klein gemeenskappie bly persoonlike besonderhede nie lank ’n geheim nie, en sy kan raai dat daar al wilde gissings oor Deon se ongesonde belangstelling in sy ou meisie kook. Dan veroorsaak sy eie gedrag dat mense onderlangs fluister, want die enkele kere dat hy kans kry om weg te breek van die kroeg, is dit Wanda Wolfaardt met wie hy dans. Maar met ’n dapper glimlaggie en versluierde oë worstel Salome die aand deur.
Hoewel Calvyn nooit die tafeltjie waar hulle sit, verlaat nie, vra hy ook niemand om te dans nie en Salome begin al dink dat hy seker glad nie ’n danser is nie, toe Ria vra: “Hoekom dans jy nie, Calvyn? Dis ’n wonderlike orkes. Glo dit as jy kan, Salome, maar hierdie ouboet van my is ’n voortreflike danser. Vat vir Salome ’n slag. Julle behoort goed saam te dans. Ek hoor die mans sê sy is soos ’n veertjie.”
Salome verstaan haarself nie, maar sy wil hoegenaamd nie met Calvyn dans nie. Sy soek haastig na ’n verskoning en gewaar Hendrik waar hy ’n paar meter van hulle af met ’n skinkbord drankies staan.
“Ek is jammer, maar ek het Hendrik hierdie dans belowe.” Sy staan ook sommer op toe Hendrik verbykom, en die verbaasde Hendrik kan niks anders doen as om die skinkbord neer te sit en Salome se arm te neem nie. Salome besef onmiddellik dat dit die verkeerdste ding is wat sy nou gedoen het, maar dis reeds te laat. Toe hulle weer by die tafeltjie verbykom, is Calvyn weg en is dit net Ria wat daar sit. ’n Roekeloosheid vat meteens in Salome pos. Daar gaan in elk geval ’n storm oor haar kop losbars. Sy kan dit net sowel die moeite werd maak.
“Dans verder met Ria. Ja, toe. Lyk sy nie pragtig nie?” Sy los die arme Hendrik ook net daar en wink na Ria, wat haar nie twee keer laat nooi nie. Hendrik gee maar die stryd gewonne en toe sy arm gretig om Ria gaan, hoor Salome hom gedemp fluister terwyl sy oë diep in Ria s’n afkyk:
“Al weer krummels, my skat?”
Salome sien hoe hulle ’n paar oomblikke later onopgemerk by ’n sydeur uitglip, en sy glimlag tevrede. Laat minstens een van ons ’n paar minute gelukkig wees, dink sy bitter. Haar tevredenheid is egter van korte duur. ’n Rukkie later trek Calvyn haar oog waar hy van die oorkant af sy blik soekend oor die pare laat dwaal. Vinnig glip Salome by die sydeur uit en instink lei haar na die motor waar sy hulle ook aantref.
“Gou, Ria. Ek dink Calvyn is op soek na jou. Gaan anderkant om en kom by die kleedkamer se deur in.”
Ria verdwyn haastig die donkerte in en ’n oomblik staan Salome en Hendrik mekaar net en aankyk. Dan, voordat een van hulle nog iets kan sê, sny ’n stem deur die donkerte agter hulle.
“Wat beteken dit?”
Salome draai nie eens om nie. Maar haar stem klink duidelik op, en so beslis soos hulle dit nog nooit gehoor het nie. “Spaar jou asem, Calvyn. Van môre af sal julle ontslae wees van die ongewenste indringer in jul midde. Ek is juis besig om Hendrik oor te haal om my ná die dans stasie toe te neem.”
“Wat bedoel jy?” Sy word bruut omgeswaai, maar nog steeds bly sy volslae in beheer van die situasie.
“Ek gaan weg, dis al. Vannag nog … en nie eens jy, Calvyn de Ridder, gaan my keer nie.”