Читать книгу Ena Murray Keur 4 - Ena Murray - Страница 9
6
Оглавление“Moenie twak praat nie!”
Salome draai haar rug na Calvyn en wend haar tot Hendrik. “Sal jy my asseblief vanaand nog stasie toe neem, Hendrik?”
“Bly uit hierdie ding uit, Jansen, as jy jou lewe liefhet!” klink dit bars agter haar rug op, en twee hande span soos staalklemme om haar skouers. “Kom. Ons gaan huis toe.”
“Ja. Ek moet gaan inpak en vasstel hoe laat die passasierstrein verbykom.”
’n Klank wat na ’n vloekwoord klink, val in die stilte, en dan word sy byna gesleepdra in die rigting van die saal. Agter hulle klem Hendrik Jansen se vuiste vir die hoeveelste keer magteloos saam.
In die saal word Joey de Ridder, Ria en ook Deon aangesê om die mense te groet en te kom. Deon wil nog protesteer, maar Calvyn werp hom só ’n moordende blik toe dat hy dit nie waag om verder teen te stribbel nie.
Toe hulle die gasheer en gasvrou van die aand bedank, sluit Wanda haar by hulle aan en vra ontevrede: “Maar hoekom nou al huis toe gaan? Die aand is nog jonk, Deon, jy kan nie nou gaan nie? Jy het belowe …”
“Salome voel siek en ons gaan almal saam huis toe. Deon veral, want Salome is sy vrou en sy plek is by haar.”
Salome lyk inderdaad siek. Sy is bleek en daar is ’n merkbare bewing in die skraal lyfie. Niemand waag dit om verder iets te sê ná Calvyn se laaste woorde nie, en hulle beweeg deur toe. Maar Salome voel hoe Wanda se oë op haar rug brand. Ook Joey het nog niks gesê nie, maar aan die enkele blik wat sy haar skoondogter toewerp, weet Salome dat sy by haar skielike besluit van vanaand moet bly. Langer kan en durf sy nie op Babilon aanbly nie.
Toe hulle wegtrek, vra Deon woedend van agter uit die motor: “Sal jy ons nou asseblief inlig waaroor al hierdie bohaai is?” Calvyn hou sy oë bewegingloos op die pad, maar in die flou lig van die paneelbord kan Salome sien hoe sy vingers styf om die stuurwiel span en hoe sy kake granietagtig en hoekig blink.
“Kyk na jou vrou, dan sal jy weet.”
Deon probeer Salome se gesig langs hom in die donker onderskei. “Wat makeer jou skielik? Het jy te veel gedrink?”
Selfs Ria snak geskok na asem en hierdie keer is dit sy wat Deon antwoord: “Jy behoort jou te skaam, Deon! Ek was die hele aand by Salome en sy het net een drankie gedrink. Die glasie was ook nog half toe ons daar weg is. Het jy geen gevoel in jou nie?”
’n Snork van Deon is al antwoord wat sy kry, en Calvyn sê ferm: “Nie ’n enkele woord verder voordat ons op die plaas kom nie. Ek het die einde van my geduld bereik sover dit jou aangaan, Deon. Ek waarsku jou!”
Daarna heers daar ’n ongemaklike stilte terwyl Calvyn met ’n roekelose snelheid oor die plaaspad ry. Salome se gedagtes het ’n vakuum geword. Al waarvan sy in hierdie lang oomblikke bewus is, is dat sy met alle mag moet stry teen die naarheid wat haar wil oorweldig. Binne-in haar is ’n bewerasie waaroor sy geen beheer het nie, en telkens moet sy swaar sluk.
Toe haar voete grondvat op Babilon, moet sy haastig padgee en dis eers minute later dat sy bewend in die badkamer orent kom en in Ria se simpatieke oë opkyk.
“Drink dit,” hoor sy Ria vaag sê, en sy gehoorsaam werktuiglik. Op die agtergrond hoor sy harde stemme, met nou en dan die skril, woedende stem van haar skoonma tussenin. Sy maak haar oë ’n oomblik lank toe en leun dankbaar teen Ria se skouer aan.
“Kom. Jy gaan nou dadelik bed toe en …”
Sy skud haar kop en dwing haar liggaam orent en haar oë oop. Nee, sy kan nie nou gaan slaap nie. Daar is iets, iets belangriks, wat eers afgehandel moet word …
Sy hoor nie eens Ria se protesterings toe sy tastend met die gang langs aanstrompel na die sitkamer nie. Sy kom eindelik in die deur tot stilstand en leun swaar teen die kosyn terwyl sy na hulle kyk – die De Ridders van Babilon – en sy voel ’n nuwe mislikheid in haar opstoot. Sy hoor hoe harde woorde heen en weer geslinger word, maar wat hulle sê, dring nie tot haar deur nie. Dan gewaar hulle haar, en daar volg ’n kort stilte.
Deur ’n waas kyk sy na hulle, en hulle is net vae skimbeelde in haar swemmende, verwarde gedagtes. Tog klink haar stem sterk en beslis toe sy die stilte verbreek.
“Daar is niks om oor te baklei nie. Ek gaan weg. Niemand gaan my keer nie. Ons huwelik is verby, Deon. Dit moes nooit gebeur het nie. Dit was ’n fout. Ek hoort nie hier nie. Ek sal nooit hier inpas nie. Ek sal nooit ’n De Ridder word nie.”
Dan is dit of een van die drie swemmende beelde vaste gestalte kry. Sy kyk na hom op, en die leegheid van haar siel word in haar oë weerkaats. “Daar is niks wat jy daaraan kan doen nie, Calvyn. Ek gaan weg. Dis finaal.”
“Laat haar gaan. Waarvoor wil julle haar nog keer? Sy is heeltemal reg. Hoe gouer sy hier wegkom, hoe beter,” sê Joey, en op hierdie oomblik is alle sluiers weggeskuif, lê al die haat ontbloot in haar stem.
“Dis ’n huwelik waarvan jy praat, Ma. Dis nie iets wat ’n mens sommer net wegskuif van jou wanneer jy daarna voel nie.”
’n Glimlaggie – só wrang en só pateties op die bleek gesiggie – breek oor die bewende lippe.
“Met hierdie soort huwelik doen jy dit, want dit was nog nooit werklik ’n huwelik nie. Luister na jou ma, Calvyn. Dis goeie raad, die beste onder die omstandighede.” Haar oë soek na dié van haar skoonma. “Die heel eerste keer sedert ons mekaar leer ken het, stem ons saam. Hoe gouer ek hier wegkom, hoe beter … vir ons almal.” Onwillekeurig flits haar oë weer na Calvyn terug. Vreemd dat sy in hierdie oomblikke van finale beslissing nie na haar man kyk nie, nie met Deon redeneer nie, maar met Calvyn. “Sal jy my stasie toe neem, asseblief, of moet ek vir Hendrik vra?”
’n Lang oomblik is dit stil, baie stil in die sitkamer van Babilon.
“Ek sal jou neem … maar eers môre. Jy moet eers vannag rus.”
Sy kry dit reg om te glimlag, ’n toegewende glimlaggie.
“Goed. Môre dan.”
Sy draai om en stap die gang af terwyl gedempte snikke haar volg, en sy wonder vaag wie dan op Babilon oor haar sal huil. Sy draai die sleutel in die slot toe sy haar kamerdeur agter haar toedruk, en met hierdie gebaar, besef sy, sluit sy Deon de Ridder finaal uit haar lewe uit. Geen regter, geen egskeidingsbrief, kan haar meer finaal van haar man skei as die draai van die sleutel in die slot nie.
Die volgende oggend toe Salome wakker word, is dit met die besef dat dit haar laaste oggend op Babilon is. Maar daar is geen emosie in haar hart nie. Sy lê en wag dat gevoel in haar moet opstyg – enige gevoel: blydskap, hartseer, frustrasie, teleurstelling, selfs vrees vir ’n onbekende toekoms wat sy van vandag af weer alleen sal moet aandurf. Maar daar is niks, totaal niks nie. Dis net ’n dooie leegheid wat in haar lê.
Sy staan op, trek haar aan, begin inpak. Dieselfde powere twee verweerde bruin tasse met dieselfde inhoud waarmee sy ’n paar maande gelede op Babilon aangekom het, gaan vandag saam met haar terug. Sy het in die maande wat verby is niks nuuts bygekry nie. Dit was net Calvyn se aandrok …
Haar blik gaan na die oop deur van die hangkas waar sy ’n gedeelte van die rok kan sien hang. ’n Feëprinses! Dis om oor te lag! ’n Onvanpaste giggellaggie breek in haar keel en sy druk vinnig ’n gebalde vuis teen haar lippe. Wat moet ek daarmee maak? wonder sy. Sy sal dit maar hier laat hang, net vir Calvyn daarvan sê, natuurlik. Want dit is nie eintlik werklik hare nie. Dis deel van Babilon, soos die trekker op die lande, die roomafskeier in die buitekombuis. Dis die baas van Babilon se eiendom, en wat aan hom behoort, kan nooit hare wees nie. En dit pas by Babilon, hierdie droomaandrok. In sy sagte voue en drapering is al die glorie van die De Ridders ingewerk; die luukse en baldadigheid van sy vertoning weerspieël die stand en status, die rykdom en verhewenheid van Babilon en sy mense. Dit sal nie pas in ’n bruin, verweerde tas nie. Dit sal heeltemal uit sy plek lyk in ’n goedkoop losieshuiskamertjie in die stad.
Huiwerig, asof sy aan iets raak wat nie vir haar veroorloof is nie, gaan haar hand uit en streel oor die materiaal. En skielik is die doodsheid weg, breek dit soos ’n sluis in haar oop, is al die gevoel en al die emosies waarvoor sy netnou gelê en wag het, daar – en Salome huil met die trane van ’n ontnugterde, verbitterde vrou, soos wat Hendrik Jansen dit maande gelede sien kom het – onafwendbaar, onvermydelik.
Toe sy leeg is, soos ’n dam wat oopgebars en leeggeloop het, vee sy haar oë af, was haar gesig, tel haar handsak op en draai die sleutel in die slot. Sy moet vertrek. Sy moet Calvyn gaan soek.
Sy kry hom in die studeerkamer waar hy roerloos agter die lessenaar sit, sy oë stip voor hom. Hy kyk stadig op, maar nie te ver nie, want sy is klein en kort hier voor hom, delikaat en breekbaar soos die fynste porselein op Babilon se toonrak.
Maar toe sy oë eindelik hare bereik, besef Calvyn de Ridder dat dit nie die Salome is van ’n paar maande gelede, die Salome wat soms so parmantig kon wees, wat hier voor hom staan nie. Ook nie die Salome wat die afgelope weke geleer het om maar liewer haar mond te hou en toe te laat dat die baas van Babilon haar lewe reël en regeer nie. Die oë wat na hom kyk, is die oë van ’n vrou wat in ’n kort tydsbestek ’n hele lewe se ervaring deurgegaan het, en al die lesse wat daar te leer is, kláár van die lewe geleer het. Sy is nie meer parmantig nie. Sy is nie meer gedwee nie. Sy is Salome, ’n volwasse vrou wat van vandag af self haar besluite neem, self haar lewe sal beheer – en, soos sy reeds gesê het, sal selfs die baas van Babilon haar nie keer nie.
Haar oë vertel hom dit, en toe sy praat, het haar stem ’n klank van gesag, ’n gesag wat alleen verkry word deur die maalkolk van die lewe intiem te leer ken.
“Goeiemôre, Calvyn. Ek het klaar gepak. Het jy toe vir my vasgestel hoe laat die trein vertrek?”
“Môre, Salome. Ja. Om elfuur is daar ’n trein stad toe. Wil jy regtig …?”
“Ja, ek wil. Ek sal om halftien gereed wees. Dit gee my nog genoeg tyd om ’n paar sakies af te handel. Dankie vir jou moeite.”
Hy wil haar nog vra of sy vanoggend gesond voel, maar sy draai dadelik om en die regop rug, die waterpas skouertjies, die kop so regop gehou, die vaste, seker tred waarmee sy wegstap, ontneem hom die vrymoedigheid om haar terug te hou.
Toe Salome van Calvyn af wegstap, maak sy eers ’n draai by die koeistalle. ’n Oomblik lê sy haar hand sag teen die sagte fluweel tussen die groot oë. Ounooi … Maar ook sy moet agterbly op Babilon. Dan draai sy vinnig om en stap blindelings uit, byna vas teen Hendrik Jansen. ’n Lang oomblik kyk hulle net na mekaar.
“Ek was juis op pad om jou te gaan soek.” Sy steek haar hand uit. “Tot siens, Hendrik. En … dankie vir wat jy vir my beteken het in my tydjie hier.”
Styf word die handjie in die growwe werkershand geneem en innig gedruk.
“Ek gaan jou nie probeer terughou nie. Maar jy is ’n dapper vrou, Salome.”
Sy kyk hom met ’n meewarige glimlaggie aan.
“Dapper? Om weg te hardloop?”
Sy oë is ernstig.
“Nee. Om te besef dat jy met ’n verlore stryd besig is, en dit betyds te besef … en iets daaraan te doen. Ek is my lewe lank met ’n verlore stryd besig, maar ek kon nog nooit daardie punt bereik wat jy vandag bereik het nie. Maar ek is bly dat jy verstandiger is as ek. Mag dit met jou goed gaan.”
Toe sy die huis binnestap, tref sy Ria by haar tasse aan – ’n Ria wat baie duidelik al baie trane gestort het – en toe Salome voor haar tot stilstand kom, begin die trane weer vloei terwyl sy haar arms om Salome slaan.
“Ek het nooit besef hoe lief ek vir jou geword het voor vandag nie,” erken Ria dan, en Salome glimlag.
“Dan sal hier darem een wees wat my sal mis,” sê sy, maar sonder bitterheid, met ’n gelatenheid wat nie by haar jare pas nie.
“Jy gaan nie sommer net heeltemal verdwyn nie, Salome. Asseblief, belowe my. Jy moet vir my skryf. Asseblief! Skryf na Hendrik toe. Ek sal die briewe by hom kry.” Toe sy die aarseling by Salome sien, pleit sy opnuut: “Asseblief, Salome! Jy is al een, al mens teenoor wie ek my hart kan uitpraat, wat weet …”
“Goed. Ek sal. Ek sal van my laat hoor.” Die groot staanhorlosie slaan in die voorportaal. “Ek moet nou gaan. Calvyn wag seker al.”
Net vlugtig druk sy Ria ’n oomblik lank styf teen haar vas.
“Moenie saamkom nie. Bly hier,” fluister sy hees, en dan is sy by die deur uit. In die voorportaal aarsel sy. Dan stap sy met besliste tred op die stoep uit en oorhandig die twee tasse woordeloos aan Calvyn. Deon en sy ma is nie met ’n oog te sien nie. Miskien is dit beter so. Daar is tog niks te sê nie.
Dis lank stil in die motor op pad dorp toe. Calvyn het ’n hewige frons op sy voorkop. Salome se gesig is stil, onleesbaar.
“Wat gaan jy nou doen?” vra hy eindelik.
“Ek gaan weer vir my werk kry soos voorheen, natuurlik.”
“Sal jy … regkom?”
“Ja. Ek is gewoond om vir myself te sorg.”
“Salome …” Die eerste keer sedert sy Calvyn de Ridder leer ken het, lyk hy amper verleë, half ongemaklik. “Salome, ek sal bly wees as jy sal toestem om ’n maandelikse toelaag te ontvang. Ek voel jy is geregtig daarop. Deon sal …”
“Ek verwag niks nie. Nie van jou nie, en ook nie van Deon nie. Ek is op niks geregtig nie, en ek verkies dit so. Daar is geen rede hoekom jy oor my slapelose nagte moet hê nadat ek vandag vertrek het nie.” Sy aarsel. Hoekom iets so belagliks kwytraak? vra sy haarself af. Asof die baas van Babilon ’n enkele minuut oor háár sal wakker lê.
Sy vervolg haastig: “Babilon was ’n blote tussenspel in my lewe, en ek is van voorneme om so gou moontlik daarvan te vergeet. Daar is eintlik niks wat die moeite werd is om te onthou nie. Ek gaan my ou lewe, soos ek dit geken het voordat Deon de Ridder op die toneel verskyn het, hervat asof daar geen onderbreking was nie. Ek sal julle aanraai om dieselfde te doen.”
Dan is dit stil tussen hulle. Hy help haar op die stasie, sien toe dat haar tasse in die kompartement kom, koop selfs vir haar vrugte en ’n paar tydskrifte by die boekstalletjie. Dan word haar gesiggie geraam in die treinvenster en hy hoor haar sê: “O ja, terloops, jou aandrok hang in die kas. Jy sal dit daar kry. Dankie vir … die leen daarvan.”
Sy mond gaan oop, maar die trein het reeds begin beweeg. Dis sy wat die laaste woord inkry: “Die geld wat jy die afgelope maande in my bankrekening inbetaal het, sal ek terugbetaal sodra ek weer ’n vaste inkomste het … met rente. Babilon sal geen skade deur my ly nie.”
“Salome!”
Die trein vermeerder snelheid en die treinvensters flits soos rolprentsnitte by hom verby. Dan is sy weg en sy oë staar vas teen twee blink spoorstawe.
In die trein skiet die landskap by haar verby, maar Salome sien dit nie. Haar blik is na binne gekeer, waar dit so kil en dood en leeg is. Is dit hoe ’n mens voel wanneer jy voor die grootste mislukking van jou lewe te staan kom? Is dit hoe ’n mens voel wanneer jy dapper genoeg is om te besef dat jy met ’n verlore stryd besig is en die wit vlag hys? Is dit hoe jy voel wanneer jy eindelik tot die volle besef kom dat jy te gou te maklik beloftes aan ’n mens en geloftes aan God afgelê het en jy dié punt bereik waar jy met ’n hangende kop moet bely: ek kan nie, Here, ek kan my geloftes nie gestand doen nie?
In die maande wat volg, gaan die lewe op Babilon sy gewone gang, asof Salome en haar teenwoordigheid van ’n paar maande skaars ’n floue rimpeling op die oppervlak veroorsaak het – soos ’n naaldekoker wat rakelings oor die watervlak vlieg en net ’n skaars merkbare rimpeling teweegbring.
Oënskynlik … Salome het op ’n keer gesê dat sy ’n spook in die groot herehuis van Babilon is, en so vind drie mense dat sy tog nie heeltemal van Babilon verdwyn het nie, dat haar spook dikwels op die mees onverwagte oomblik opduik, en in hul harte wek dit verskillende emosies.
In die voorman, Hendrik Jansen, stu opstand en die ou verset teen standverskil opnuut en helder na die oppervlak. Hoe dikwels haal jy nie die room van karaktervastheid en ruggraat onder die eenvoudige klere en harde werkershand uit nie? En hoe dikwels is die vrot en vuil nie onder die blink glans van geld verberg nie? Die eerlike werker word nie geken nie, maar Deon de Ridder, omdat hy daardie van dra en Babilon en sy geld agter hom staan, word baie vergewe en min toegereken.
’n Hendrik Jansen word summier veroordeel en beskuldig toe dit uitkom dat hy in die motor was waarin sy baas se vrou verongeluk het, want hy is Hendrik Jansen, ’n voorman, ’n nul met net sy klere aan sy lyf en die paar rand van sy salaris aan die einde van die maand in sy sak. Maar ’n Deon de Ridder kan oop en bloot ontrou pleeg, en hoewel daar baie agteraf gefluister word, word hy nog steeds met stroperige vriendelikheid gegroet, word hy nog steeds uitgenooi en sy sondes voor sy onskuldige vrou se deur gelê. Sy was sleg, sy is self die oorsaak dat Deon groener weivelde gesoek en gevind het. Dis háár skuld, alles haar skuld. En Deon de Ridder gaan skotvry, bly gewild, sy karakter sonder ’n skrapie.
Toe Deon ná drie maande en nadat sy egskeiding van Salome gefinaliseer is, dadelik aankondig dat hy met Wanda Wolfaardt gaan trou, is dít ook niks nie. Niemand is verbaas of geskok nie, want hy is ’n De Ridder, van die ryk verhewe-bo-kritiek De Ridders van Babilon.
Vir Ria is haar dae nou nog eensamer as ooit tevore. Salome het op haar stil manier, met haar sagte glimlag en begrypende hart, die lewe soveel draagliker gemaak, soms selfs ’n sprankie vreugde daarin gebring. Net die wete dat nog iemand weet – en verstaan – dat sy die voorman van Babilon bemin, het al so baie beteken. En nou is Salome weg en dis of die eensaamheid en frustrasie Ria in hierdie maande wil wurg.
Was dit nie dat Salome woord gehou het en af en toe van haar laat hoor via Hendrik nie, weet Ria nie of sy dit langer op Babilon sou kon uithou nie. Maar haar briewe aan Salome is darem ’n uitlaatklep waarin sy al haar geheime verlangens en hartseer met vrymoedigheid kan uitstort. Dat daar nog steeds kontak tussen Ria en Hendrik en Salome is, weet nie een van die ander mense op Babilon nie; dit is ’n geheim wat Hendrik en Ria nougeset bewaar.
Dat Calvyn se onmoontlike humeur, sy lang, bot stilswyes, sy maskeragtige gesig aan die spook van Salome toe te skryf is, sou niemand kon raai nie. Al wat almal besef, is dat Calvyn by die dag onmoontliker raak, dat jy dit skaars kan waag om jou mond teenoor hom oop te maak of hy spring in jou keelgat af, dat hy niks meer vir enigiemand te sê het nie, maar hom terugtrek in sy studeerkamer, en dat hy soos ’n slaaf en besetene op die plaas te kere gaan asof hy alles in een dag wil vermag. Calvyn se gedrag word al onverstaanbaarder en onverklaarbaarder vir die mense wat saam met hom in een huis woon.
Waar Salome eindelik ná haar dagtaak die veilige hawe van haar losieshuiskamertjie bereik en moeg op die bed gaan lê, vou sy, nadat sy eers ’n rukkie met toe oë gelê het, die koerant oop. Dis al verlede week se koerant wat sy altyd uit die kantoor neem om te lees nadat die nuwe een verskyn het. Belangeloos dwaal haar blik oor die hoofopskrifte, haar gedagtes elders. Sy weet nie hoe sy dit gaan regkry nie, maar op die een of ander manier sal sy móét deurkom, want haar maandelikse paaiement van afbetaling aan Calvyn móét gestuur word. Sedert sy weer werk gekry het, het sy getrou elke einde van die maand ’n bedrag in ’n koevert gesit en Babilon se adres daarop geskryf. Hoe bitter dit ook al gegaan het om deur te kom, en hoe dikwels sy al sonder die noodsaaklike moes klaarkom – daardie bedrag is elke maand eerste afgetrek en gepos. Daar was nooit ’n briefie by nie, nooit ’n verduideliking nie. Dit was nie nodig nie. Calvyn sou onmiddellik weet van wie dit kom. En hy wéét … Elke maand wanneer hy die afbetaling uit die koevert trek, word sy gesig grimmiger, ongenaakbaarder.
Sy wil net verby die sosiale kolomme blaai, toe ’n laggende gesig haar aandag trek. Lank … baie lank kyk sy na die twee gesigte, en verwonder haar dat ’n mens nog ná maande so dood binne-in jou kan voel, só dood dat jy na die laggende gesig van jou gewese man kan kyk, na die oorwinnende glimlag van sy nuwe bruid, en nog steeds geen gevoel in jou ervaar nie.
Dis in hierdie oomblik, met haar oë gerig op die laggende bruidspaar voor haar, dat sy dit voel … ’n vae, floue roering … maar onmiskenbaar …