Читать книгу Ena Murray Keur 4 - Ena Murray - Страница 6
3
ОглавлениеMaar daar is iets anders wat Salome veel meer hinder as haar skoonfamilie se kille, afsydige houding. Deon het skielik vir haar ’n vreemdeling geword. Pleks daarvan dat die eerste huweliksmaande hulle nader aan mekaar gebring het, het dit ’n stelselmatige verwydering tussen hulle veroorsaak – ’n kloof wat sy reeds in die stad agtergekom het, maar wat hier op Babilon elke dag al opmerkliker en groter word. Sy durf dit nie langer ignoreer en aan haar verbeelding toeskryf nie.
Hy kom en gaan gedurig sonder dat hy iemand, selfs vir sy vrou, sê waarheen en waarom. Hulle is nooit meer alleen nie, en wanneer hulle saans eindelik privaat in hul kamer is, is daar skielik niks om oor te gesels nie. As die ander huismense Deon se gedurige afwesigheid opmerk, sê hulle niks nie.
Op ’n dag merk Ria terloops op dat Deon ’n geweldige groot vriendekring in die omgewing het en steeds baie gewild is onder die jong mense. Hy soek seker maar almal weer op. Salome het niks daarop te sê nie, want dit is onnodig. Albei dink dieselfde: ’n man vat sy vrou saam en stel haar bekend wanneer hy sy vriende van weleer opsoek.
In die stad sou Salome miskien nog met Deon hieroor gepraat het, maar dis of sy, sedert hulle op Babilon aangekom het, nie meer die vrymoedigheid het om met haar man te gesels oor dinge wat haar hinder nie. ’n Wye poort skuif stadig maar seker tussen hulle in. Hoe groot daardie gaping reeds is, laat Salome verslae teen die einde van haar eerste week op Babilon. Daar is niks wat sy daaraan kan doen nie, besef sy bitter. Sy staan heeltemal magteloos. Nie net het sy geen voeling met Deon se mense nie, sy het ook heeltemal kontak met hom verloor.
Wat soek ek hier op Babilon? is die vraag wat telkens by haar opduik. Hoekom bly ek hier?
Sy is net ’n vyfde wiel aan die wa hier. Haar skoonma wil beslis geen skoondogter hê nie. Die baas van Babilon ignoreer haar bestaan. Deon toon duidelik dat hy nie werklik ’n vrou nodig het en beslis ook nog nie ryp vir die getroude lewe is nie. Dis net Ria in wie Salome ’n moontlike vriendin sien, maar sý is ’n nietige, minder belangrike ratjie in die komplekse struktuur van Babilon se wêreld.
Saterdagoggend, sewe dae ná hul aankoms op Babilon, sê Calvyn uit die bloute dat hy dorp toe moet gaan. Ria vra dadelik om saam te gaan vir inkopies, en hy draai vraend na Salome. “En jy? Het jy nie ook inkopies te doen nie?”
Salome skud net haar kop. Daar is kleinigheidjies wat sy wel nodig het, maar aangesien haar paar randjies onrusbarend skraps begin word, kan sy maar daarsonder klaarkom. Ook die finansiële sy van haar huwelik en verblyf op Babilon is nog ’n groot bron van geheime kommer. Wanneer die paar rand in haar beursie op is – wat dan? Op Deon kan sy beslis nie staatmaak nie. Wat hy het en wat hy so kwistig uitstrooi, kom van sy ma af, en Salome ly liewer gebrek voordat sy een enkele sent van haar hooghartige skoonma vir persoonlike behoeftes aanvaar. Dit steek haar steeds dwars in die krop dat sy hier kos en slaapplek ontvang sonder dat hulle tot die algemene lopende koste van die huishouding bydra. Sy is nie gewoond om te teer op ander nie, en namate die dae verbygaan, sluk sy haar kos al swaarder af.
Sy kyk weer vlugtig na Calvyn en sien dat hy haar fronsend aankyk. Nadat al die rekeninge en los goedjies betaal is, het daar bloedweinig van haar geldjies oorgebly toe hulle na Babilon gekom het, en natuurlik het sy nie ’n enkele sent gebruik van die rol note wat hy daardie dag op die tafeltjie tussen hulle neergesit het nie. Sy het Deon ook nie daarvan vertel nie, en wag nog steeds vir ’n geskikte geleentheid om dit weer aan Calvyn terug te gee.
Toe sy ’n rukkie later gangaf stap, word sy egter voorgekeer. Toe sy in sy oë kyk, besef sy opnuut dat Calvyn de Ridder ’n vlugge verstand het en dat daardie skerp oë dieper as die oppervlak kyk.
“Ek wil jou in my studeerkamer spreek, asseblief.” Dis ’n bevel, en sy knik.
“Ja. Ek wil jou ook spreek. Ek wil net iets gaan haal.”
Enkele oomblikke later kyk hy fronsend na die geld wat sy op die blink blad van die lessenaar tussen hulle neersit.
“Jy kan dit maar tel. Dis nog presies soos jy dit vir my gegee het. Ek het niks daarvan gebruik nie.”
Fronsend kyk hy op na waar sy uitdagend, trots voor hom staan, en kom toe stadig orent, iets waaroor sy jammer is. Dis of sy makliker haar man teen hom kan staan solank hy sit. Maar sy fors gestalte rys voor haar op en nou moet sy haar kop agteroor gooi om in sy priemende oë te kyk.
“Jy probeer doelbewus moeilik wees, nè, Salome? As jy nie hierdie geld gebruik het nie, moet jy sonder geld sit. Ek ken my broer goed genoeg om te weet dat hy heelwat skuld sou gehad het om te vereffen voordat julle hierheen gekom het. Neem hierdie geld …”
“Dankie, maar ek het nie jou geld nodig nie. Ek sal regkom.”
Dis duidelik dat sy humeur die oorhand oor hom begin kry.
“Jy wil nie vanoggend saamgaan dorp toe nie omdat jy nie geld het nie, nie waar nie? Jy vermaak net jouself, Salome. Daar moet tog goed wees wat jy nodig het, indien nie vandag nie, dan wel op ’n ander dag. Neem hierdie geld, en ons kan later ooreenkom oor ’n maandelikse toelaag vir jou. Ma kry dit, en so ook Ria. Aangesien jy nou een van die gesin is, is jy ook daarop geregtig.”
Salome lyk bleek en ontsteld, maar nog steeds trots en baie vasberade.
“Ek sal my geen reg aanmatig waar dit die De Ridders van Babilon aangaan nie. Jy maak ’n fout. Ek is nie een van die gesin nie en sal dit nooit wees nie.” Die mooi mond trek wrang. “Ek het nog nooit gehoor dat ’n mens ’n toelaag kry om te spook nie.”
“Wat bedoel jy?”
Sy stem waarsku haar dat sy eers moet dink voordat sy praat, maar haar antwoord kom dadelik en helder: “Dis wat ek is – ’n spook in die groot herehuis van Babilon. Ek dien geen doel hier nie. Ek …”
Hy swaai sy hand in ’n ongeduldige gebaar, en agter daardie beweging eien Salome die woede van ’n groot man.
“Moenie twak praat nie, Salome! Jy is nou ’n De Ridder, die vrou wat waarskynlik die De Ridder-geslag sal voortplant. Hoe kan jy sê jy dien geen doel nie?” Sy blik is onheilspellend op haar gerig, maar sy kyk terug. “Dis nie net die De Ridders wat skuld daaraan het dat jy nie deel van ons gesin voel nie. Jou eie houding maak dit vir ons byna onmoontlik.”
“Dan dien ek tog ’n doel? Nog ’n nuwe stuk gereedskap op die plaas, dis wat ek is, nè? ’n Nuwe broeimasjien vir Babilon sodat daar altyd ’n De Ridder vir Babilon sal wees!”
“Salome!” Sy vuis kom met geweld op die lessenaar neer sodat die rolletjie note eintlik tril. “Jou woordkeuse is onvanpas en platvloers. Ek wil nooit weer hoor dat jy jouself só noem nie. Dis …”
Die eerste keer in sy lewe ervaar die baas van Babilon die onaangename gevoel om in die rede geval te word, en in geen onseker taal nie.
“Hoekom mag ek nie daardie woord gebruik nie? Ek kan weliswaar nie spog met die verfynde opvoeding waarmee Babilon se kinders grootgeword het nie, maar ek is darem van kleins af geleer om eerlik te wees en nie met die waarheid om die bos te spring nie. Dis dan die rede hoekom jy en Deon se ma my hier duld: omdat ek die vrou is wat Babilon se nageslag in die wêreld moet bring. Nou begryp ek. Maar ek wil vandag vir jou sê, Calvyn, ek is geen dooie, siellose, koue stuk masjinerie wat na Babilon gebring is om ’n spesifieke doel te dien, soos wat jy ’n trekker sou aanskaf om jou lande te ploeg nie, verstaan! Ek is ’n mens en … waar dit die nageslag van Babilon aangaan … daaroor het nie Deon se ma óf jy – die grootbaas van Babilon – enige seggenskap of mag nie. Daardie sakie berus net by my. Of het die baas van Babilon sulke onbeperkte, selftoegeëiende mag dat hy selfs sy broer se slaapkamersake vir hom gaan reël?”
“Salome!”
Was dit onder ander omstandighede, sou Salome kon uitbars van die lag vir die uitdrukking op Calvyn de Ridder se gesig. Skok oor sulke blatante taal, verbystering dat iemand dit durf waag om hom op só ’n toon aan te spreek, woede oor die opstand van die onbelangrikste en mins geagte lid van die gesin en, les bes, parmantigheid van ’n klein hierjy van nêrens teenoor hom, die groot diktator van Babilon, is duidelik in sy oë en op sy gesig te lees. Maar hy kom nie verder nie. Sy skud haar kop en hou ’n fyn handjie omhoog – maar ’n handjie wat hom tot swye bring toe sy voortgaan: “Ek is ook nie te koop nie, Calvyn. Vat jou geld. Ek sal regkom.”
Sy wil omdraai, maar hy is te gou vir haar, en die volgende oomblik voel sy hoe sterk vingers in die sagte vleis van haar boarms inboor. Dis ’n donker, woedende gesig, so kil en so koud soos ’n ysblok, waarin sy opkyk. Selfs die oë blink glasig van ysigheid.
“Ek het nie nou tyd om verder met jou te redeneer nie. Anderdag kan ons weer oor hierdie netelige sakie praat. Maar die geldsaak word nou beslis. Dis nie my geld nie. Ek verseker jou ek sal presies boekhou van elke sent wat jy ontvang. Ek is geensins van plan om my broer se vrou te onderhou nie. Maar Deon het geen geld om jou te gee solank die boedel nog nie afgehandel is nie. Daarom skiet ek vir jou – én vir hom – voor. Sodra die boedel afgehandel is, sal ek sorg dat julle my elke sent terugbetaal … plus rente. Dus hoef jy nie jou neus vir die geld op te trek nie. Dis nie myne nie. Dis jou eie wat jy sal gebruik.”
Sy kyk aarselend na hom op. Die saak klink nou heeltemal anders, maar nog is daar ’n teësinnigheid in haar om geld uit sy hand te ontvang. Sy voel nog steeds dat dit haar dan onder ’n eienaardige verpligting teenoor hom plaas, haar afhanklik van hom maak – en Calvyn de Ridder is die laaste mens op aarde teenoor wie sy ’n verpligting wil voel of van wie sy afhanklik wil wees.
Hy sien dat sy nog aarsel, en sy hoor hom liggies op sy tande kners. Dan haal hy sy hande vinnig van haar boarms weg en sê styf: “Ek sal vanoggend by die bank reël dat daar ’n rekening vir jou oopgemaak word, en jou eerste toelaag daarin stort.” Sy oë rus weer skerp op haar. “En as ek jy is, sal ek jou man nie daarvan vertel nie. Deon het sy eie rekening, afgesien van wat hy uit sy ma trek. Jou rekening is bedoel vir jou persoonlike behoeftes.”
Hy stap by haar verby en sy bly alleen agter. Dis eers nadat sy al ’n lang ruk na die foto staar dat sy bewus word waarna sy kyk. Sy stap nader en beskou die skraal, fyn gesiggie. Die vrou vertoon delikaat in die groot, met goud versierde raam. Daar is ’n mooi, sagte glimlaggie om die vol lippe en die oë kyk begrypend terug in hare. Dan gaan haar blik na die groot raam langsaan, en dis of sy na ’n ewebeeld van Calvyn kyk – dieselfde vierkantige skouers; dieselfde reguit, vaste blik; die besliste kakebeen; die skerp, prominente neus. Calvyn se ouers.
Weer trek die vroutjie in die vergulde raam haar oë, en Salome kyk haar peinsend aan. Was jy gelukkig hier op Babilon? wil sy haar vra. En hoe het jy daardie eerste Calvyn gehanteer? Maar dan besef sy dat dit verspotte vrae is. Want hierdie vroutjie was die vrou van die eerste Calvyn, die vrou van sy hart. En sy, Salome, is niks van die tweede Calvyn nie.
Sy draai vinnig om, loop uit en kom aarselend tot stilstand toe sy die vreemde jong meisie langs haar skoonma op die stoep by die teetafeltjie gewaar. Sy wil vinnig omdraai, maar die meisie het haar reeds gewaar en kom nader gestap.
“Ek neem aan jy is Salome.”
Salome kan net knik, want ook hier sien sy geen vriendelikheid in die oë wat na haar kyk nie, hoewel daar ’n beleefde glimlaggie om die ander se mond is. ’n Hand word na haar uitgesteek. “Ek is Wanda Wolfaardt van die buurplaas.” Sy lag, en hoewel sy dit seker as ’n grap bedoel het, klink dit bitter en onnatuurlik. “Jy het seker al van my gehoor. Ek is die meisie wat, soos almal gedink het, eendag Deon se vrou sou word. Ek het spesiaal vandag na Babilon gekom om te kyk hoe lyk Deon se keuse. Ek het maar gister van vakansie af teruggekeer en toe die … e … nuus ontvang.”
Salome neem die uitgestrekte hand. Sy besef dat dit verstandig sal wees om liewer van hierdie meisie ’n vriendin as ’n vyand te probeer maak, maar die bitterheid huiwer nog in haar en haar stem is koel.
“Aangename kennis, juffrou Wolfaardt. Nee, ek het nog nooit van jou gehoor nie.”
Die ander lyk ’n bietjie van stryk gebring deur so ’n reguit antwoord. Dan lag sy, en hierdie keer klink dit beslis humorloos.
“Ek moet erken dit verbaas my. Gewoonlik is Babilon se mense nie so danig taktvol nie.”
Hulle staan mekaar ’n rukkie en beskou, en meteens verlaat die ergste opstand Salome en kry sy die jong meisie voor haar jammer. Nog iemand wat verwagtinge van Deon gekoester het en wat teleurgestel is; nog iemand wat haar hoop en drome op ’n De Ridder van Babilon gevestig het en bedroë daarvan afgekom het.
Sy is ’n mooi meisietjie met kort, donker krulle, diepbruin oë en ’n songekleurde vel wat getuig van ’n gesonde buitelewe op die plaas. Teenoor haar vertoon die ligte Salome bleek en gans te maer. Met ’n ligte frons en afgewende oë neem Salome teësinnig langs die teetafel plaas. Een ding is seker – nog ’n maand en dan sal sy aan so ’n minderwaardigheidskompleks ly dat sy nooit weer daarvan sal herstel nie. Tot die buurmeisie van Babilon laat haar uit haar plek voel. As sy nie wil toelaat dat hierdie mense haar geheel en al verswelg nie, wag daar ’n bitter stryd op haar om haarself te laat geld, om as ’n mens uit eie reg hier te bly en nie maar net ’n blote stuk gereedskap vir ’n doel op Babilon te word nie.
Soos gewoonlik neem Salome nie aan die gesprek deel nie. Sy luister maar na wat tussen haar skoonma en Deon se gewese nooi gesels word. Dat hierdie twee op baie goeie voet verkeer, en dat die hooghartige mevrou De Ridder die bure se dogter as skoondogter sou verwelkom het, blyk baie duidelik. Salome het gou in die sewe dae geleer dat dit beter is om sulke dinge soos water van ’n eend se rug te laat afrol. Waar dit haar skoonma aangaan, moet sy hoor en ook nie hoor nie.
Gelukkig kom daar geleentheid vir haar om van die rol van stille toehoorder te ontsnap toe die telefoon lui. Sy staan dadelik op, hoewel dit die eerste keer sedert haar aankoms op Babilon sal wees dat sy die telefoon beantwoord. Sy sug saggies toe sy die bruuske stem aan die ander kant dadelik herken.
“Ek bel om te sê dat ek moeilikheid met die motor gekry het en dat ons seker eers vanmiddag sal huis toe kom. Ria wil graag die middagvertoning van ’n rolprent sien en aangesien ek seker maar eers die motor teen eenuur sal kry, kan ons maar net sowel bly. Is alles reg daar?”
“Ja.”
Daar heers ’n oomblik stilte. Sy kan duidelik in haar verbeelding sien hoe die donker frons nou weer tussen die wenkbroue verskyn, en die ergerlikheid klein blitse in sy oë maak oor haar kortaf antwoord. Hy sê egter niks daaroor nie, want dis ’n plaaslyn en soms kan ’n mens se bure ongewone belangstelling in jou private gesprekke toon, veral as dit Babilon se lui is. Wat die mense van Babilon doen of sê, was nog altyd ’n baie interessante onderwerp vir hulle wat buite staan. Dit weet Calvyn teen hierdie tyd baie goed, dus sê hy net kortaf: “Laat weet asseblief vir Jansen dat hy die bakkie moet neem en inkom dorp toe en die goed by die koöperasie gaan oplaai. Ons sal dit die naweek nodig kry.”
“Goed.”
Toe sy die telefoon neersit, is daar ’n leë, teleurgestelde gevoel in haar. Sy sou self graag weer ’n goeie fliek wou sien en ’n rukkie wegkom van Babilon af. Om ’n hele Saterdagmiddag alleen met haar skoonma te wees, is ’n beproewing. Deon het natuurlik reeds weer verdwyn. Glo gaan visvang by ’n groot dam op een van die naburige plase. Soos sy hom ken, weet sy goed dat sy hom nie voor middernag moet terugverwag nie.
Sy gee die boodskap aan die huishulp in die kombuis om aan die voorman te gee en besef dat sy Hendrik Jansen nog nie ontmoet het nie. Maar op Babilon is dit nie vreemd nie. Soos sy hulle opgesom het, sal die De Ridders geen familiariteit met ’n voorman toelaat nie.
Goeie maniere verplig haar om terug te keer na die stoep, en sy sien met verligting dat die gas op die punt staan om te vertrek.
“Pappa-hulle is ook Vaaldam toe vir die visvangery. Ek gaan ook netnou. Ons gaan vanaand vis oor die kole braai en ’n bietjie dans in oom Hans se skuur. Jy kom seker later oor, nie waar nie?”
“Nee, ek is nie van plan om te gaan nie.” Sy sê niks meer nie, maar kyk trots, uitdagend terug in die ander meisie se oë. Twaalf wilde perde sal dit nie uit haar trek dat dit nou die eerste woord is wat sy van ’n visbraaiery en dansery hoor nie, nog minder dat sy nie genooi is nie.
“Wel, ek sal seker vir Deon daar kry, want hy is beslis genooi. Sien jou later.”
Ook hierdie eertydse vriendin van haar man het ’n wakker verstand, besef Salome terwyl sy met brandende wange van vernedering die motor agternakyk. Sy sal in haar pasoppens moet bly. Sal haar senuwees dit ooit hou?
Teen drie-uur die middag kom roep ’n verskrikte Saartjie haar in haar kamer met die nuus dat Apools buite is en vra dat sy dringend die baas moet soek. Een van sy beste koeie is besig om te kalf, en dit lyk asof daar moeilikheid is. Salome gaan doen eers self navraag by Apools en verneem dat hy die koei tot in die stal gebring het, en dat dit na ’n bruggeboorte lyk. Saartjie vertel haar dat mevrou De Ridder nog slaap, en Salome wonder bekommerd waar sy Calvyn of sy voorman in die hande sal kan kry. Laasgenoemde het ook nog nie van die dorp af teruggekom nie.
Met ’n baie bekommerde Apools aan haar sy gaan stel sy self ondersoek in, en vind dat die ervare ou plaaswerker beslis gelyk het. Daar ís komplikasies. ’n Oomblik kyk sy in die groot, stom oë van die koei, wat so hulpsoekend na haar kyk. Dan sak sy op haar knieë en begin bevele uitblaf aan die handewringende Apools. Toe hy haar net met groot, verskrikte oë staan en aangaap, word haar stem kwaai: “Maak gou, Apools! Daar is geen tyd nie. Bring die goed en kom help my.”
Die volgende paar uur kan ’n verstomde Apools net swyend en met die grootste bewondering toekyk hoe vinnig en ervare die fyn handjies van die nuwe vrou op Babilon werk. Dis ’n stryd tot die dood toe, en eerlank tap die sweet Salome af. Die son begin sak, maar nie sy óf Apools kom dit agter nie. ’n Klein drama speel hom in die koeistal af, waar ’n ma, al is sy stom, haar dank met donker oë bring toe ’n nuwe lewe eindelik volmaak te voorskyn kom.
Salome besef nie, toe sy tot die dood toe uitgeput langs die dankbare ma terugsak, dat daar ook trane met die sweetstroompies op haar wange meng nie. Sy het geen benul watter unieke en verbysterende prentjie sy – haar hare in slierte, haar gesig vuil, haar klere bemors – daar langs die koei uitmaak nie. Die man wat onverwags in die staldeur verskyn, kan haar ’n oomblik net in verstomde swye aanstaar.
“Wat in hemelsnaam gaan tog hier aan? Apools! Wat de … Wanneer het dit gebeur?”
Sy hoor hom agter haar praat, maar is te moeg om op te kyk of selfs ’n poging aan te wend om op te staan van die stalvloer af. Sy sit en kyk na die pasgebore kalfie terwyl haar hand die sagte satynvel van die ma streel. Hier langs haar heup verskyn ’n groot voet, en dan buk Calvyn vinnig langs haar. In die agtergrond hoor sy Apools se opgewonde verduideliking, maar sy hoor dit nie eintlik nie. ’n Hand onder haar ken dwing haar kop omhoog.
“Ek is jammer. Ek … het nie geweet waar om jou … te kry nie … Ek was so bang sy gaan dood … Apools sê dis jou beste koei.”
“Jy het geweet waar om my te kry. Ek het jou gesê ons gaan bioskoop toe.”
Die moeë oë rek effens verward, verbaas.
“Dis waar, ja. Ek … het heeltemal vergeet daarvan toe ek in die stal kom. Ek is jammer, Calvyn, maar … maar sy lewe darem … en die kalfie ook …” ’n Swak, bewerige glimlaggie huiwer om haar mond. “Dis ’n versie. Het jy gesien?”
’n Sterk arm sirkel om haar en lig haar op haar voete.
“Ek het gesien, ja. En sy is joune.”
“Myne?” Groot oë kyk na hom. “Hoekom?”
Die eerste keer sien Salome hom glimlag teenoor haar, en sy word ook nou bewus daarvan dat die sterk arm haar nog steeds regop hou.
“Omdat die baas van Babilon so sê.” Maar hierdie keer is daar geen bytende sarkasme of baasspelerigheid in die woorde nie, en sy slaan haar ooglede verward neer. ’n Skielike duiseligheid oorweldig haar noudat die spanning verdwyn het en die besef tot haar deurdring dat Calvyn nie vir haar kwaad is nie.
Sy voel hoe sy opgehelp word, en hier digby haar gesig sê hy: “Toe, Apools, maak skoon. Om te dink dat ’n vrou vir jou moet leer.”
“Daardie ene …!” Apools beduie wild. “Daardie handjies weet net waar om te vat. Die nuwe vrou van die plaas is goed by die koei …”
Toe Calvyn met ’n besmeerde Salome in die agterdeur verskyn, rek Ria se oë groot, en nog groter toe sy die ongewoon breë glimlag op haar broer se gesig gewaar.
“Daisy het vanmiddag onverwags begin kalf toe ons en Jansen almal van die plaas af weg was. Dit was ’n bruggeboorte en, glo dit as jy kan, Salome het haar gehelp en haar skitterend van haar taak gekwyt. Ma en dogter albei wel, maar die dokter is tot die dood toe moeg, want sy sukkel glo al van drie-uur vanmiddag af met haar.” Hy kyk op die fynbesnede gesiggie hier by sy skouer af. “Sy is besmeer van kop tot tone. Help haar gou om te bad en kyk dat sy iets te ete kry.”
Asof sy ’n baba is, help Ria haar in die bad en in haar slaapklere en in die bed, en Salome laat haar dit maar welgeval. Sonder Ria se hulp sou sy nooit gebad gekom het nie, want sy is net te moeg.
Sy is byna aan die slaap toe Ria, gevolg deur Calvyn, met ’n skinkbord kos verskyn. Hoewel sy nie honger is nie, eet sy soos ’n soet kind om nie aanstoot te gee nie, terwyl sy met ’n halwe oor luister na wat Ria en Calvyn gesels.
“Ons sal moet roer as ons nie laat daar wil kom nie. Die visbraaiery is al seker aan die gang.”
“Ek gaan nie meer nie. Ek sal vir Jansen vra om jou oor te neem.”
“Vir … Jansen?” As Salome nie so moeg en aan die slaap was nie, sou die verbystering op Ria se gesig vir haar baie vreemd voorgekom het. Maar as sy dit nie merk nie, merk haar broer dit beslis wel, en sy gesig raak weer geslote.
“Ja. Ek is nie meer lus om te gaan nie. Gaan maak jou solank reg.”
Ria verdwyn vinnig uit die kamer en dis Calvyn wat die skinkbord by Salome neem. Sy voel selfbewus en weier om na hom op te kyk.
“Vergewe my dat ek so nuuskierig is, maar waar het jy geleer om ’n bruggeboorte te hanteer?” Salome aarsel eers, maar kyk dan onwillig op, want sy weet haar antwoord gaan hulle weer eens terugplaas in twee aparte kampe. En net nog ’n klein rukkie sou sy die Calvyn van die koeistal wou behou.
“My pa was ’n voorman op ’n plaas. Ek het met diere grootgeword. Ek het hom baie gehelp.” ’n Wrang glimlaggie trek aan haar mondhoeke toe sy die geslote gesig voor haar sien en onwillekeurig glip dit uit: “Om ’n voorman se dogter te wees, kan ook sy voordele hê. Ek sou dit nooit kon dink nie.”
’n Lang oomblik kyk hy haar net stip aan. Dan staan hy op en tel sonder ’n woord die skinkbord op. By die deur draai hy terug. “Ek sê in elk geval baie dankie. Ek het dit ook bedoel toe ek gesê het die versie is joune.” Sy oë vernou. “Jy verbaas my, Salome de Ridder. Jy lyk asof jy nog nie eens die feite van die lewe ken nie, en vandag behartig jy ’n bruggeboorte soos ’n ou veteraan. Is daar nog verrassings wat jy vir Babilon se mense in die vooruitsig stel?”
Sy kyk stil terug. Dan skud sy haar kop moeg. Enigiets, maar sy sien nie kans om nou met Calvyn kragte te meet nie.
“Nee. Niks meer nie. Ek is maar net Salome, en ’n De Ridder sal ek nooit word nie.”
“Ek wonder … Ek begin tog wonder … Goeienag. Slaap gerus. As jy iets nodig kry … ek is in die studeerkamer.”
“Nag, Calvyn, en … dankie vir die versie.”
Sy wenkbroue trek omhoog. Sy weet nie of hy sarkasties is nie toe hy, voordat hy die deur agter hom toetrek, sê: “Dankie dat jy darem hierdie keer sonder protes iets van die gehate baas van Babilon aanvaar.”