Читать книгу Ena Murray Keur 4 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеWatter tyd Deon daardie nag ingekom het, weet Salome nie, want sy het soos ’n klip geslaap, so tevrede en vreemd gelukkig soos nog nooit sedert haar aankoms op Babilon nie.
Toe sy die volgende oggend wakker word en haar blik op haar man val wat nog in diepe slaap is, hinder dit haar die eerste keer glad nie dat hy die aand laat uit was sonder haar, en – soos sy al tevore ook agtergekom het – dat daar ’n ligte drankwalm in die kamer hang nie. Vanoggend is dit asof dit haar net nie meer kan skeel wat Deon doen, waar hy gaan en hoe hy teenoor haar optree nie. Dis of dit net nie meer so belangrik is nie, en sy lê ’n rukkie en wonder van waar dié skielike traak-my-nie-agtigheid kom waarmee sy vanoggend wakker geword het. Daar het tog niks gebeur wat dit kon veroorsaak nie … of het daar?
Dan roer sy haar skouers ongeërg en staan geluidloos op. Hoekom sal sy te diep wil delf na die oorsaak as sy die eerste keer in maande met vrede in haar gemoed wakker word en selfs gelukkig voel? En dan … sy kan nie wag om by die koeistalle te kom nie. Hoe sou dit vanmôre met Daisy en haar kalfie gaan?
Dis nog sommer vroegoggend toe sy by die een staldeur inglip, en Daisy lig haar kop vinnig van die krip af op toe sy die vreemdeling gewaar. Dan is dit asof daar herkenning in die diepbruin oë kom, en Salome stap glimlaggend nader.
“Môre, mevrou Daisy. Jy is darem seker bly dis nie gisteroggend dié tyd nie, nè?” lag sy en streel die blinkgladde vel. Haar oë blink sag en vol vreugde op die kalfie wat haar met onskuldige oë staan en aankyk. Salome kan haarself nie keer nie: sy slaan haar arms om die kalfie se nek en druk haar gesig styf teen die voorkoppie aan, terwyl sy die warm asem van die diertjie teen haar hals voel.
Die oë wat haar vanuit die staldeur betrag, trek peinsend saam. Dan stap die man nader.
“Goeiemôre, mevrou. Ek is Jansen … Hendrik Jansen, die voorman. Ek wil jou gelukwens met wat jy gister gedoen het. Selfs meneer De Ridder kon sy ingenomenheid nie wegsteek toe hy my vanoggend daarvan vertel het nie. Ek is jammer dat jy so alleen moes sukkel, maar toe ek op die dorp kom, het meneer De Ridder my verlof gegee om die middag af te neem. As ek geweet het …”
Salome kom orent en lag terwyl sy haar hand spontaan uitsteek. Dit word ná ’n oomblik van aarseling geneem.
“Nou is ek bly julle was almal weg, want anders sou ek nie vanoggend ’n versie ryker gewees het nie! Het Calvyn jou vertel? Hy het my die kalfie gegee, en is sy nie pragtig nie, ounooi!” Sy kyk weer terug na hom. “Ek is bly om jou te ontmoet, meneer Jansen. Ek is sommer net Salome. Los maar gerus die formaliteit! Daisy lyk heeltemal goed vanmôre, nè?”
Hy glimlag ook spontaan.
“Uitstekend! En die kalfie is ’n klein kampioen. Is jy baie lief vir diere?”
“O ja. Ek het op ’n plaas grootgeword. Maar hierdie kalfie is die eerste diertjie wat ek besit, wat werklik myne is.” Dis stralende oë wat na hom kyk. “Die eerste dingetjie ook wat werklik myne is op Babilon.”
Sy sê dit sonder selfbewustheid, onbewus daarvan dat die voorman soveel meer in dié enkele sinnetjie lees – en so goed begryp. Daar kom ’n jammerte in sy oë terwyl hy op die skraal mensie voor hom afkyk, en toe sy ná ’n vrolike groet van hom af wegstap, gaan hy in die staldeur staan en kyk haar agterna. Diep binne-in hom woed ’n skielike opstand en hartseer. Hy ken hulle so goed – die De Ridders van Babilon. Hy weet so goed wat met hierdie stralende vroutjie van vanoggend gaan gebeur. Iemand so mooi en jonk, teer en opreg soos Salome de Ridder sal gebreek word tot ’n verbitterde en ontnugterde vrou, en hy wéét dit gaan kom. Opstand ofte nie, daaraan sal hy niks kan doen nie. Watter mag het ’n blote plaasvoorman teen ’n De Ridder? En wat ’n jammerte dat iets moois en goeds soos hierdie fyn vroutjie vermors moet word op mense soos die De Ridders. Hulle sal bo-oor haar loop, op haar trap totdat daar niks meer oor sal wees van die mooi siel wat hy netnou in haar blou oë gesien het nie. Pêrels voor die swyne …
Hendrik Jansen, ’n man in sy vroeë dertigerjare, korterig, stewig gebou, met muisvaal hare en die wysheid en lewenskennis van ’n seun wat swaar grootgeword het, stap weg om met sy dagtaak voort te gaan, terwyl Salome terugstap na die plek waar sy hoort, of veronderstel is om te hoort: die groot ou herehuis van Babilon. Die plaasvoorman se vriendelike grys oë is peinsend saamgetrek en sien nie die man raak wat hom fronsend vanuit ’n ander staldeur staan en beskou nie.
Die vreemde vrede en geluk waarmee Salome vanoggend opgestaan het, is van korte duur. Dit verdwyn soos mis voor die son die oomblik toe haar man sy verskyning maak. Deon kan net nie uitgesels raak oor Wanda Wolfaardt nie. Salome luister fronsend, en dit bring ’n geringe mate van vertroosting toe sy sien dat ook Ria haar broer verward aankyk en dat daar ’n ergerlike frons tussen Calvyn se oë verskyn. Dis net sy ma wat stralend en vol belangstelling luister na haar seun se vertelling van die vorige aand se visbraaiery, en hom aanpor om nog meer te vertel. Die res gaan swyend voort met hul ontbyt, totdat Calvyn dit blykbaar nie meer kan uithou nie.
“Ek kan nie verstaan hoekom jy vanoggend skielik so gaande oor Wanda is nie. Julle het saam grootgeword en jy ken haar so goed soos jou eie suster. Jy het al honderde kere met haar gedans en voorheen nog nie een keer daaroor in ekstase geraak nie.” Sy stem is ysig. “As ek reg onthou, het jy nie te veel van haar gehou net voordat jy van Babilon af verdwyn het nie.”
’n Rooi gloed gly oor Deon se wange en hy gluur sy halfbroer openlik aan. Wanneer sal Calvyn leer om te onthou dat hy nie meer ’n seuntjie is om so aangespreek te word nie? Sy oë blits uitdagend.
“Wanda het baie verander in die paar maande dat ek weg was. Sy het meer … e … volwasse geraak. En julle, jy en Ma, het haar destyds so in my keel afgedruk dat ek haar nie voor my oë kon verdra nie. En sy het beslis die afgelope tyd goed leer dans. Sy dans eenvoudig wonderlik.”
“Sy het glo danslesse oorsee geneem toe sy nou oor was,” voeg Ria by, maar dis of Calvyn haar nie eens hoor nie. Sy stem is snydend:
“En terwyl jy Wanda Wolfaardt opnuut ontdek, het dit nie by jou opgekom dat jy ’n vrou het en dat sy saam met jou daar moes wees nie?”
“Calvyn! Ek …”
“Stil, Ma! Ek kan my verdedig. Ek is nie meer ’n seuntjie nie,” laat Deon bars hoor. Sy oë blits terug na die bopunt van die tafel. “Ek het haar gevra of sy wou saamgaan en sy wou nie. Ek en Wanda is ou vriende, soos jy self gesê het. Salome weet dit. Gelukkig is sy nog nie so agterdogtig en altyd gereed om net die verkeerde van my te glo soos jy nie. Bloot omdat ek gesê het Wanda het ’n oulike meisie geword en dat sy wonderlik dans, beteken nie dat daar nou ’n verhouding tussen ons aan die gang is nie.” Die skeptiese lig in Calvyn se oë laat hom verwoed voorttier: “Jy glo my al weer nie? Vra haar. Toe, vra haar of ek haar nie gesoebat het om saam te gaan nie.”
Salome sit lamgeslaan te midde van ’n volbloedrusie aan die ontbyttafel. Maar wat haar die meeste lamslaan, is Deon se houding, sy blatante leuens en sy vermetelheid om te verwag dat sy dit moet bevestig. Hy weet so goed soos sy dat sy uitdaging aan Calvyn ’n bluf is, maar soos altyd is hy so seker van haar dat hy nie ’n oomblik twyfel dat sy hom ook nou sal ondersteun nie. Diep binne-in haar het die vrede en geluk van die oggend plek gemaak vir ’n dowwe pyn. Is dit die man met wie ek getrou het? wonder sy verslae. Hierdie onvolwasse seuntjie wat hom sonder aarseling met leuens sal verontskuldig?
Sy voel Calvyn se blik op haar en dit is net trots wat haar haar ken laat oplig en sy oë laat ontmoet. Nie een van hierdie ander drie De Ridders moet weet dat dit nie so is soos wat Deon wil voorgee nie. Êrens vandaan haal sy die krag en moed om Calvyn in die oë te kyk, daardie oë wat so diep kan kyk, en sy hoor haar eie stem kalm, so vreemd kalm sê: “Ek weet nie waaroor die bohaai gaan nie. Ek is nie ’n sosiale mens nie. En gelukkig is ek nie jaloers van geaardheid nie.”
Sy vra verskoning, staan op en verdwyn by die deur uit. Sy moet net wegkom van al daardie oë – van Deon s’n wat met heimlike vermaak glinster, van haar skoonma s’n wat hard en vyandig blink, van Ria s’n waarin sy die jammerte so duidelik kon herken, en veral van Calvyn s’n, wat so peinsend en onleesbaar op haar gerig is en haar die meeste van almal ontstel.
Salome stap sommer blindelings by die huis uit, net om weg te kom, onbewus van die trane op haar wange wat die oggendson weerkaats. Sy huil nie omdat sy nog eens ’n nuwe faset in haar man se karakter ontdek het nie, ’n faset wat haar met haar ingebore eerlikheid afstoot en haar hart nog meer van teleurstelling en ontnugtering laat pyn. Van nou af is daar niks meer in Deon wat sy kan ontdek wat haar verder sal skok nie, omdat sy eindelik daardie punt bereik het waar sy nugter na haar man kyk en hom sien soos hy is.
Wat haar wel laat huil, is die ontnugtering in haarself, die feit dat haar eie oordeel haar so in die steek kon laat dat sy verblind geraak het deur die valse front wat Deon voorgehou het. Binne-in haar is ’n kommer wat aan wanhoop begin grens wanneer sy na die toekoms kyk – en dit net donker voor haar is.
Sy kyk al ’n hele rukkie in die peinsende, simpatieke oë van Hendrik Jansen voordat dit tot haar deurdring. Soos ’n kind vee sy met die rugkant van haar hand die nattigheid vinnig van haar wange af, en terwyl haar oë nikssiende na die koelte van die vrugteboord om hulle kyk, hoor sy die voorman sug.
“Dit was ’n fout, Salome.”
Sy kyk terug na hom, vraend, en haar hart keer om toe sy die jammerte en begrip in sy oë lees.
“Ria het my gisteraand vertel wie jy is, of was – ’n voorman se dogter, ’n mens van my stand, soos die De Ridders van Babilon ons klassifiseer – en daarom het ek die vrymoedigheid om so reguit met jou te praat, as jy my sal vergewe. Moet ek voortgaan of moet ek liewer stilbly?”
“Nee, Hendrik, gaan voort. Soos jy gesê het, ons praat dieselfde taal, ’n ander taal as die De Ridders. Praat en sê my wat ek kan doen.”
“Ek wens ek kon jou raad gee, maar …” Weer sug hy diep, en hierdie keer is dit sý oë wat na die koelte van die bome wegdwaal. “Maar ek het nie eens raad vir myself nie. Ek weet net dat dit ’n fout is, ’n groot fout dat mense soos ek en jy ooit kan hoop om in die kring van Babilon in te dring en te dink dat ons daarin opgeneem sal word en daarin gelukkig sal wees. Dis ’n geslote kring waaruit ons moet bly as ons ons siele wil behou.”
Die innige jammerte in sy oë toe hy weer na haar kyk, laat haar hart pyn. “Ek is jammer. Dit kan jou geen troos bied nie. Maar as jy ooit ’n skouer nodig het om op te huil, iemand teenoor wie jy kan uitpraat en wat vir seker sal verstaan, onthou dan vir my, die voorman. Ek sal verstaan, Salome.”
Hy buk vinnig af, laat sy lippe saggies in ’n troosgebaar aan haar voorkop raak en stap weg. Sy kyk hom agterna totdat hy in die groen lower van die vrugteboord wegraak.
Haar hart ruk tot stilstand toe sy omdraai. Hier kort agter haar, sy gesig soos graniet, sy oë glasig van hardheid, staan Calvyn. Sy sissende stem laat ’n koue straal van vrees deur haar gaan.
“Daar is een ding wat jy baie goed moet verstaan, Salome. Jy is nou ’n De Ridder. Of jy dit wil wees of nie, jy is. En jy sal jou soos ’n De Ridder gedra, en dit beteken onder meer dat die voorman nie jou maat en geselskap is nie. Verstaan ons twee mekaar goed? As ek julle weer op so ’n intieme voet betrap, sal jy en Hendrik Jansen jammer wees.”
Sy staan hom net en aankyk, maar wat hy in haar oë lees, laat sy blik nog verder verhard en bring ’n smaaltoon in sy stem, ’n toon wat bedoel is om te kwets. “Ek weet die spreekwoord sê ‘soort soek soort’, en dat dit moeilik, selfs onmoontlik is vir een soort om by ’n ander soort aan te pas, maar indien jy op Babilon wil bly, sal jy dit eenvoudig moet leer doen. Daar is nog iets wat jy liewer van die begin af moet besef. Die De Ridders ken nie so iets soos egskeiding nie. Dus, jy is eenmaal met Deon getroud. Dit sal jy bly. Hoe gouer jy dus leer om jou by ons en ons standaarde aan te pas, hoe beter vir ons almal.”
Dis ’n bleek en peinsende Salome wat heelwat later terugkeer huis toe. Een ding weet sy – Hendrik Jansen het gelyk: Dis ’n geslote kring waaruit ons moet bly as ons ons siele wil behou. Dis wat hy gesê het. Net … met blinde oë het sy daardie kring binnegedring en Calvyn de Ridder sal haar dwing om haar aan te pas, al is alles binne-in haar in opstand teen die eise wat hy stel. Hendrik Jansen is reg. Sy gaan haar siel verloor hier op Babilon. En daar is geen uitkomkans nie. Sy is reeds gewaarsku. Die De Ridders ken nie so iets soos egskeiding nie.
Sy wil net by die onderpunt van die vrugteboord uitstap toe sy stemme hoor. Dis nie dat sy doelbewus wil afluister nie, maar daar is ’n teësin in haar om op hierdie oomblik mense raak te loop. Deur die groen lower herken sy die stem.
“Dit was gisteraand, Ria. Hoe gouer jy gisteraand uit jou gedagtes kry asof dit nooit gebeur het nie, hoe beter.”
“Maar hoe kan jy so wees, Hendrik?” Ria se stem klink byna paniekerig, smekend. “Het dit dan vir jou niks beteken nie …”
“Jy weet so goed soos ek wat dit vir my beteken het.” Die voorman se stem is hees, gedemp. “Dit was soos ’n krummel brood vir ’n honger man, soos ’n beker water vir ’n dorstige. En dis verkeerd. ’n Mens voed nie ’n verhongerde man met krummels nie. Jy gee ook nie ’n enkel beker water aan ’n man wat vergaan van dors nie. Dan liewer niks nie. Dan liewer sterf van honger en dors as om hom op daardie manier aan die lewe te hou. Dis wreed. Dis sadisties.”
“Hendrik!”
“Ek is jammer.” Sy stem is skielik weer sag. “Ek gooi dit nie teen jou kop nie. Maar ek sien nie kans vir sulke dinge nie, Ria. Ek haat marteling van enige aard. Ek is op stuk van sake ook ’n mens, al is ek ’n ronde nul in die oë van Babilon se mense. Moet my asseblief nie weer alleen opsoek nie. Moenie my dwing om onbeskof teenoor jou te wees en jou onnodig seer te maak nie. Dis die laaste ding op aarde wat ek wil doen, maar as dit nie anders kan nie …” ’n Snik laat sy sin kort afbreek, en dan hoor Salome sy swaar voetstappe haastig wegstap.
Dis ’n hele ruk stil voordat Salome dit waag om te voorskyn te kom. Die twee meisies se oë ontmoet en dan draai Ria haar kop vinnig weg.
“Geen wonder jy hardloop van ons af weg nie. Ons is ’n sieklike spul hier op Babilon. Ek weet nie hoe jy, wat van buite af hier inkom, dit kan uithou nie. Ek behoort al daaraan gewoond te wees, en tog is daar tye … dae soos vandag …”
Salome neem stil langs haar op die walletjie plaas en slaan haar arms om haar opgetrekte knieë. Dan vra sy aarselend: “Hoekom is hy … so … so bitter, so hard?”
“Van wie praat jy?”
Salome sug. “Van wie anders as die baas van Babilon?”
“Calvyn?” Dit lyk asof Ria ook eers aarsel en dan skielik tot ’n besluit kom. “Salome, as Calvyn moet weet dat ek jou hierdie dinge vertel, sal hy iets oorkom. Dis dinge wat verbode is op Babilon. Maar miskien sal dit beter wees as jy daarvan weet; dan sal jy hom beter kan begryp. Al kan jy hom dan nie altyd vergewe vir sy houding nie, sal jy dit makliker kan verduur. Calvyn is nie ’n maklike mens nie. Daar kom dae … soos vandag … dat ek hom ook haat, hom verwens in my siel. Maar ander tye het ek hom selfs lief, is daar oomblikke wat ek hom jammer kan kry …”
Salome kyk haar vas aan. “Ek sal dit waardeer as jy my vertel, Ria. Ek erken ek vind dit … e … moeilik om hom te verstaan, om die hele opset hier op Babilon te verstaan.”
Ria knik. “Ja, ek glo dit goed. Wel, Calvyn se ma is dood met sy geboorte. Pa was daarna nooit weer dieselfde nie, so is ek vertel. Hy het net heeltemal verbitterd geword, ’n wrok teen die lewe begin koester, en hoewel ek in my hart glo dat hy dit nie doelbewus gedoen het nie, het hy dit in groot mate op Calvyn uitgehaal. Calvyn het nooit iets soos sagtheid en teerheid en liefde as kind geken nie. ’n Paar jaar later is Pa met my ma getroud. Dit was vir Calvyn geen verbetering nie. Jy ken self vir Ma. Ek hoef jou niks verder daaroor te vertel nie. Eintlik het dinge vir Calvyn versleg met hierdie tweede huwelik van Pa, veral ná Deon se geboorte. Deon is Ma se oogappel. En toe het Calvyn gaan trou …”
“Calvyn? Was Calvyn getroud?” Salome staar haar skoonsuster verslae aan.
“Ja. Het jy nie geweet nie?”
Salome laat haar ooglede vinnig sak. “Nee. Niemand het my vertel nie. Ek hoor dit nou die eerste keer. Wat … wat het van sy vrou geword?”
“Dit verbaas my nie dat niemand jou vertel het nie. Dis iets waaroor daar nie gepraat word nie. Sy is dood … binne twee jaar ná hul huwelik.”
“Wat het dan gebeur?”
“Sy het verongeluk.” Ria aarsel eers en gaan voort: “Ek dink ek moet jou maar al die fyner besonderhede van dié nagmerrie vertel. Jy is nou een van die familie. Wat meer is, die hele omgewing weet dit. Die een of ander tyd sal jy dit wel hoor … met stertjies en al. Calvyn is benede sy stand getroud. Dinge wou maar van die begin af nie vlot nie. Sy was ’n pragtige meisie, maar … goedkoop.”
Sy sien die ongeloof in Salome se oë en skud haar kop. “Dis waar. Calvyn is nie die eerste man wat deur ’n mooi gesig en liggaam betower is en later moes vasstel dat hy eintlik met ’n mooi, leë dop getroud is nie. Ek het destyds baie jammer gevoel vir hom. Hy was maar drie en twintig, en juis omdat hy so in homself gekeer was en so min kontak met ander mense gehad het, was hy ’n maklike prooi vir Jessie.” Sy lag grimmig. “Toevallig dat haar naam werklik Jesebel was, nè? Dan ook, glo ek, was een van die redes die feit dat Calvyn – honger vir liefde sedert sy vroegste kinderjare – klatergoud vir die egte aangesien het toe daar skielik iemand kom wat aandag aan hom gee en ’n ophef van hom maak. Agterna, sommer kort ná sy huwelik, moes hy agterkom dat dit geen liefde was wat Jessie so op hom uitgestort het nie, maar ’n sug na status en mag en rykdom – dié dinge wat sy nog nooit in háár lewe gehad het nie. Maar sy het haar teen Pa en Ma vasgeloop. Sy het gedink dat my ouers van die plaas af sou padgee ná hul huwelik, maar sy het haar fout gou agtergekom. Toe het sy hulle begin tart.”
Ria sug. “Dit was ’n vreeslike tyd daardie. Hier was nog nooit baie liefde op Babilon nie, maar daardie tyd … En vir alles wat Jessie gedoen het, moes Calvyn die spit afbyt by Ma en Pa en ook by die res van die gemeenskap. Soos ek gesê het, hy was maar altyd ’n introvert, maar gedurende daardie tyd het hy heeltemal in homself gekeer en hard en koud soos klip geword. Hy het Pa se verskriklike trots geërf, en dit moet vir hom seker onhoudbaar gewees het om magteloos te sien hoe sy vrou te kere gaan en geen geleentheid laat verbygaan om die De Ridders skande en skade aan te doen nie. Verwyte van Pa en Ma se kant was daar meer as genoeg, en hy kon hom nie teen hulle verweer nie, want alles wat hulle gesê het, was waar.”
“Maar wat het sy gedoen?” vra Salome, terwyl skok soos ’n lamheid in haar lê.
“Vra liewer wat het sy nié gedoen het nie,” antwoord Ria bitter. “Sy het geflankeer en te kere gegaan met al wat broek dra, maak nie saak wie of wat hy was nie. Haar gedrag op partytjies was sodanig dat Calvyn later net geweier het om haar te vergesel, en menige nag het sy nie eens ná partytjies huis toe gekom nie. Dan was sy maar altyd baie onverfynd, en haar maniere, haar taal, álles was ongepoleerd, eintlik skurf. Dis iets waaraan nie een van ons gewoond kon raak nie, en wat elke keer soos ’n mes deur jou gesny het wanneer jy saam met haar in geselskap verkeer het.”
“Hoe het sy verongeluk?”
Ria se gesig raak geslote, haar oë ontwykend.
“Dit was een aand ná ’n partytjie. Sy het natuurlik weer alleen gegaan, soos gewoonlik. Sy was dronk, ook soos gewoonlik. Op pad terug het die ongeluk plaasgevind. Sy is op slag dood.” Daar heers ’n oomblik stilte. Dan klink Ria se stem weer gedemp op: “Hendrik … Hendrik Jansen was by haar in die motor. Hy het net ligte beserings opgedoen.”
Salome se kop ruk omhoog. Die manier waarop Ria dit sê, spreek boekdele.
“Jy bedoel … daar was iets tussen hulle …”
“Dis wat almal glo.” Ria se gesig is heeltemal weggedraai. “Ook Calvyn glo dat daar iets tussen sy vrou en sy voorman was. Hoekom was hulle dan saam in een motor?”
Salome kyk fronsend voor haar uit.
“Omdat hulle saam in die motor was toe die ongeluk plaasgevind het, beteken nog nie dat daar ’n verhouding tussen hulle was nie. Wat het Hendrik te sê gehad?”
“Hy het aan die begin geen kans gekry om iets te sê nie. Later, toe hy wel die geleentheid gehad het om te verduidelik, wou hy nie. Ek … ek het hom gebid en gesmeek om Calvyn en my ouers te vertel wat daardie aand gebeur het en hoekom hy in die motor was, maar hy was toe al so verbitterd en het net gesê: ‘Selfs ’n arm man het ook sy trots,’ en die saak daarby gelaat.”
Salome kyk Ria bekommerd aan.
“Wel, ek ken Hendrik Jansen van gister af, maar ek sal byna sweer dat hy nie die soort man is wat ’n verhouding met sy werkgewer se vrou sal aanknoop nie. Hy … is net nie vir my daardie soort man nie, of ek moes hom baie swak opgesom het. Jy glo ook nie dat dit so is nie, nie waar nie?”
“Nee, natuurlik nie! Ek weet dit is nie so nie, omdat hy my …” Sy swyg, en ’n oomblik kyk sy Salome verskrik aan. Dan sien sy hoe haar nuwe skoonsuster se oë eers rek in ongeloof, en dan verteder, en die volgende oomblik huil sy teen Salome se bors. “O, Salome!”
Met teerheid en innige jammerte vou Salome haar arms om die rukkende skouers. Vanoggend was ’n oggend van openbaring. Skielik verstaan sy so baie dinge: Hendrik Jansen se houding en vreemde woorde van ’n rukkie gelede, asook die stukkie gesprek wat sy tussen hom en Ria gehoor het. Hoe ironies tog dat al drie die De Ridder-kinders buite hul “klas”, soos Deon se Ma dit sou stel, moes verlief raak. Calvyn se huwelik is reeds iets van die verlede. Diep in haar hart weet Salome dat ook Deon en háár huwelik gedoem is tot mislukking. En Ria … die arme Ria sal haar lewe lank vergeefs die voorman van Babilon bemin. Van Calvyn of haar ma sal sy nooit toestemming kry om met ’n man van soveel laer stand as sy self te trou nie. Daarvoor is mevrou De Ridder te snobisties en te bewus van standverskil, en Calvyn loop ná jare nog met die bitterheid van so ’n huwelik in sy binneste rond. Al sou sy ook sonder hul toestemming wil trou, sal Hendrik Jansen self nie daarvoor te vinde wees nie. Dit weet Salome instinktief van die bietjie wat sy van hom ken.
“Hoekom gaan jy nie liewer hier weg nie, Ria?”
Ria laat moedeloos hoor: “Ek wou al. Honderde kere al. En elke keer … kan ek nie.” Sy kyk Salome met swemmende oë aan. “Ek het Hendrik lief, Salome. Al baie jare lank. Ek kry dit nie reg om my van hom los te skeur nie.”
“Maar Hendrik self …” Daar is kommer en begrip in haar stem terwyl sy Ria se hande styf vashou. “Dit verbaas my eintlik dat hy nie ná die ongeluk padgegee het nie … of selfs dat Calvyn hom nie in die pad gesteek het nie.”
“Daardie dae was Calvyn nog nie baas van Babilon nie, Salome. Pa het nog gelewe en hy het geweier om Hendrik te laat loop, want Hendrik is ’n baie flukse man en ken Babilon se boerdery soos geen ander nie. Die feit dat hy Hendrik elke dag onder oë gehad het, het Calvyn se bitterheid natuurlik nog verder gevoed. Maar dit was iets waaraan hy niks kon doen nie. Hendrik wóú eers gaan, maar Pa het hom blykbaar omgepraat om aan te bly. Dan ook … Ek dink hy is net so min in staat om hom van Babilon weg te skeur as wat ek is. Hoewel hy daarteen stry, weet ek dat hy my ook liefhet.”
“Weet … Calvyn hiervan?”
“Ja. Hy het dit nog nooit in soveel woorde gesê nie, maar hy het my al op indirekte wyse goed laat verstaan dat ek van Hendrik Jansen kan vergeet. Ek was gisteraand totaal verslae toe hy gesê het Hendrik moet my na die partytjie neem.” Haar mond trek wrang. “Dis aande soos gisteraand waarvoor ek lewe. Krummels … maar darem beter as niks nie.”
Salome swyg. Wat kan sy daarop antwoord? Miskien is haar bejammering onnodig. Miskien moet sy Ria eintlik beny. Sy kry darem soms nog krummels, maar waarmee gaan sy wat Salome is in die jare wat voorlê haar honger hart voed?