Читать книгу Ena Murray Keur 6 - Ena Murray - Страница 10
7
ОглавлениеDeidre sak terug in die stoel, heeltemal verbyster. Van die skok is haar stem byna onherkenbaar en onverstaanbaar van heesheid.
“Blind! Maar … maar wat het gebeur? Hoe …?”
“’n Proefbuis het in sy gesig ontplof.”
Daar volg ’n lang stilte waarin hulle mekaar net sit en aankyk. Dan vra Deidre stil: “Hoe het dit gebeur? Neil was nooit nalatig of onverskillig nie.”
“Dit het maar net … gebeur, my kind, soos sulke dinge maar altyd gebeur. Neil was oorwerk, totaal oorwerk en … miskien was hy as gevolg daarvan nie so versigtig en oplettend soos altyd nie.”
“Wanneer presies het dit gebeur?”
“Sowat vier maande nadat jy weg is.”
“Hoekom het oom my nie hiervan laat weet nie?” vra sy met verwyt in haar stem.
“Neil het my dit verbied. Hy het selfs daarin geslaag om dit vir die koerante stil te hou. Hy het verdwyn net nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.”
Deidre spring op en gaan voor die venster staan. Die volle besef van wat oom Alwyn haar so pas vertel het, begin nou eers tot haar deurdring. Neil blind! Daardie briljante man, wat soveel vir die mensdom kon beteken het, blind? Daardie geniale man nou ’n hulpelose blinde! Dis ondenkbaar!
“Kan daar niks vir hom gedoen word nie, oom? Hulle verrig vandag soveel wonders in die mediese wêreld. As hulle ’n mens se hart uit jou liggaam kan haal en vir jou ’n ander een insit, kan hulle seker Neil se oë aan hom teruggee!” roep sy uit.
Maar oom Alwyn skud sy kop.
“Nee, my kind, ongelukkig nie. Daar is geen hoop nie. Neil se oë is permanent beskadig.”
Sy dwaal rusteloos deur die vertrek en skud haar kop heen en weer asof haar verstand net weier om die wrede waarheid te aanvaar. “Ek kan dit nie begryp nie! Het dit gebeur met ’n motorongeluk of so iets, sou ek dit kon aanvaar. Maar ’n ongeluk in sy laboratorium! Nie met Neil nie! Oom sê hy was baie oorwerk? Hoekom? Was hy op die spoor van iets besonders?”
“Nee … e … nie juis nie. Nie waarvan ek in elk geval weet nie. Hy het maar net soos ’n besetene begin werk, byna dag en nag en …” Hy trek sy skouers op.
“Ons het almal gepraat en gepleit, maar hy het geen ag daarop geslaan nie. Hy sou mos, voordat hy met heeltydse navorsing begin, eers met vakansie gegaan het. Hy het sy vakansie uitgestel, eintlik afgestel, en dadelik weer begin werk en aanhou werk totdat …”
Deidre frons. Sy het nie geweet hy sou eers vakansie gaan hou het nie. Hy het haar daardie tyd nie daarvan vertel nie. Maar hoekom het hy nie eers vakansie gaan hou nie?
Haar blou oë is donker van bekommernis.
“En nou, oom? Wat maak hy op daardie plasie? Hoe leef hy?”
“Die ou tannie van wie hy die plasie gekoop het, het as sy huishoudster aangebly. Daar was nog ’n verband op die grond toe haar man oorlede is, en sy was verplig om te verkoop. Neil het toe die grond oorgeneem en haar sommer gevra om as huishoudster aan te bly.”
“Maar wat doen hy om sy dae om te kry?”
“Moenie my vra wat die eerste ruk daar aangegaan het nie. Oor daardie deel van Neil se lewe is ’n digte sluier getrek. Maar dit lyk tog of hy weer rigting begin kry. Hy het die afgelope maande ’n poging begin aanwend om die navorsing wat hy tot dusver gedoen het, te boek te stel. Dit sukkel maar geweldig, maar dit hou hom darem aan die gang, gee hom iets om te doen.”
“Alleen?”
“Nee, dis natuurlik vir hom ’n onbegonne taak om dit sonder hulp te doen. Die afgelope maande het ek al omtrent ’n stuk of ses sekretaresses vir hom gestuur, maar dis net ’n week of veertien dae of uiters ’n maand, dan trek hulle sak en pak.”
“Hoekom?”
“Om baie redes. Vir baie van hulle was De Hoop – dis die plekkie se naam – te stil en afgesonder. Maar die grootste rede is natuurlik dat Neil ’n baie moeilike mens is om mee klaar te kom.”
Deidre kyk hom ongelowig aan.
“Dis nie waar nie, oom Alwyn,” verdedig sy lojaal. “Neil is die wonderlikste baas wat ’n mens kan verlang. Ek weet mos. Ek het jare vir hom gewerk.”
“Ja, my kind, vir die óú Neil. Die blinde Neil is ’n heeltemal ander mens. Jy sal hom skaars herken. Soos die laaste meisie wat daar was – sy het net ’n week uitgehou – dit sommer reguit gestel het: Neil is die befoeterdste mens op aarde! Wat dit natuurlik nog moeiliker maak, is dat nie een van die meisies wat ek in die hande kon kry om daarheen te gaan, al ooit vantevore met laboratoriumwerk en navorsingswerk te doen gehad het nie en nie altyd so gou kan snap waarna Neil soek nie. Dan verloor hy sy humeur, wat die afgelope tyd maar baie kort geraak het, en dan moet hulle aanhoor dat hulle onnosel skape is en nie die verstand van ’n kleuter het nie, ensovoorts, ensovoorts. Die gevolg is dat hulle hul goedjies gaan pak en hom net so los. Ek is nou weer juis een aan die soek, maar ek het nie veel hoop nie. Ek het net gister ’n brief gehad van die enigste een wat ek gehoop het bereid sou wees om te gaan. Sy het net laat weet sy sien nie meer kans om te gaan nie. Ek is byna seker een van die voriges het haar naaldgesteek oor wat om te verwag en sy het besluit om maar liewer vroegtydig kop uit te trek.”
Oom Alwyn glimlag effens. “Ek moet jou darem ook sê dat ek haar dit nie kwalik neem nie. Neil het glo al sy aantekeninge op stukkies papier aangebring en dié lê die hele wêreld vol. Dit sal geen grap wees vir iemand wat geen kennis van sulke goed het om dit te sorteer en agtermekaar te kry nie.”
Deidre glimlag ook effens, byna weemoedig.
“Ja, ek weet hy het dit altyd gedoen. As hy op iets afkom, moet die eerste die beste stukkie papier diens doen. Toe ek daar weg is, was een hele liasseerkabinet volgepak met leë sigaretdosies waarop geskryf was, en gewoonlik in ’n handskrif wat net Neil en ek, wat al jare daaraan gewoond is, sou kon verstaan en ontsyfer. Vir ’n absolute leek op daardie gebied moet sy notas en aantekeninge Grieks wees.”
Skielik wil die hartseer haar oorweldig. ’n Nostalgiese verlange na die goeie ou tyd toe die lewe so ongekompliseerd was, neem van haar besit. ’n Meewarige glimlaggie ruk aan haar mondhoeke. Ja, ’n mens is nooit tevrede nie. Daardie jare was haar lewe vir haar baie gewoon, baie eenvoudig, baie saai en eentonig, die een dag soos die ander. Sy het gesmag na opwinding, na iets anders, na roem, na … wat? Toe het haar lewe skielik verander in ’n malle warrelwind. Nie een dag was soos die vorige nie. Daar was nie ’n oomblik van verveling nie. Daar was nie meer tyd vir enigiets nie. Elke dag en aand was in vaste ure afgebaken en sy moes jaag om deur haar vol program te kom. Sy het gekry waarna sy altyd verlang het, maar hoe dikwels het sy nie tussendeur daardie malle gejaag intens verlang na die stille, rustige alledaagsheid van haar ou lewe nie!
Vandag verlang sy nog meer terug daarna. Sy wil daardie ou lewe terughê, net soos dit was.
Ja, vandag wens sy met haar hele hart dat sy die tyd kan terugkoop, die wysters van die horlosie kon terugskuif. Sy wil alles terughê soos dit was, die vreugde in die klein dingetjies, die rustige vreedsaamheid van die alledaagse. Ook vir Neil, die ou Neil begeer sy terug. Die man met die sagte grys oë wat altyd bereid was om te luister en raad en hulp te verleen, die man met wie sy alles van haar lewe kon deel soos met ’n sorgsame pa, die man met wie sy die vrymoedigheid gehad het om te raas as hy op ’n koue oggend sonder baadjie by sy kantoor opdaag of vir wie sy dikwels ’n knoop sommer daar in die kantoor moes aanwerk, die man om wie se ooghoeke fyn lagplooitjies gevorm het terwyl hulle ’n grappie deel. Daardie Neil wil sy terughê, daardie vriend, daardie pa.
Maar sy het hom verloor … onherroeplik verloor, volgens oom Alwyn. Daardie Neil bestaan nie meer nie. Dis ook nie net Neil wat sy verloor het nie, maar so baie ander dinge, dinge van waarde, besef sy nou. Dis eers op hierdie oomblik dat sy werklik besef hoeveel sy moes opoffer vir twee jaar van roem … vir ’n skynglans wat net twee jaar gehou het.
Sy is onbewus daarvan dat die trane oor haar ooglede begin val het. Oom Alwyn staan op, stap om die lessenaar en lê ’n arm om haar skouers.
“Gaan huis toe, my kind. Ons sluit tog oor ’n uur. Jy het ’n groot skok gehad. Gaan huis toe na tant Bettie toe,” laat hy hoor, want hy was nog maar altyd, soos die meeste mans, onbeholpe wanneer ’n vrou begin huil.
Toe Deidre ’n rukkie later by die voordeur instap, kan tant Bettie sommer dadelik sien dat daar iets skort. Sy stap vinnig na die jong meisie en neem haar vertroostend in haar arms.
“Wat makeer, my hartjie?”
“O, tant Bettie!” Deidre lê haar kop op die moederlike bors neer en nou probeer sy nie meer die stortvloed van trane keer nie. Tant Bettie laat haar ’n rukkie begaan en dan neem sy haar beslis aan die skouers.
“Kom, my kind. Kom ons gaan sit daar onder die ou akkerboom. Ek het juis my tee daarheen geneem. Ek kry solank vir jou ook ’n koppie. Dan vertel jy my rustig wat skort.”
Deidre gehoorsaam en ’n oomblik later sluit tant Bettie haar by haar aan. Sy skink eers die tee in, want sy glo dat ’n koppie tee ’n noodsaaklikheid in ’n tyd van krisis is. Sy het ’n sterk vermoede waaroor die trane gaan en hoewel sy geensins uitsien na die volgende paar minute nie, besef sy dat die tyd vir eerlikheid en reguit praat aangebreek het. Tant Bettie Bruwer is ’n vrou met ’n groot, ruim, simpatieke hart, maar sy is ook ’n baie verstandige vrou en iemand wat nie aarsel om die waarheid te praat as sy dit nodig ag nie.
“Drink eers jou tee, my kind, en dan kan ons rustig oor die tweede koppie gesels,” laat sy bevelend hoor, en Deidre glimlag ten spyte van die trane wat nog op haar wimpers blink. Dierbare tant Bettie! Die tweede koppie tee het al tweede natuur geword, en as daar een medisyne is wat – so glo sy vas – vir ’n seer en ongelukkige hart sal help, dan is dit twee koppies tee! Sy gehoorsaam, en dis eers nadat tant Bettie weer hul koppies gevul het, dat sy Deidre vas aankyk en kalm laat hoor: “Nou toe, Deidre. Waaroor was die trane?”
Die blou oë swem weer opnuut toe sy bewerig antwoord: “Neil … Oom Alwyn het my van Neil vertel.”
Tant Bettie knik begrypend.
“Ek het so vermoed. Ja, my kind. Dis tragies. My hart breek as ek aan hom dink, maar … dis een van daardie dinge in die lewe wat die beste is om maar liewer met berusting te aanvaar. Opstand maak net seer en bring jou nêrens nie.”
“Dit was vir my ’n verskriklike skok. Ek kan my net nie Neil blind en hulpeloos voorstel nie!” laat Deidre gedemp hoor.
“Ja, maar wat dit vir my eintlik swaarder maak, is dat hy so alleen en eensaam lewe. Gelukkig het die mens daardie gawe van die Skepper ontvang om hom by alle omstandighede aan te pas. En Neil is geen swakkeling nie. Aanvanklik was hy bitter opstandig en toegerol in selfbejammering. Maar dit is menslik. Hy het hom begin aanpas en weer rigting begin kry, want hy besit karakter en ruggraat. Maar die eensaamheid … ’n Mens kan nooit werklik aan eensaamheid gewoond raak nie.”
“Maar hy verkies blykbaar die eensaamheid, tante,” merk Deidre op, maar tant Bettie skud haar kop.
“Nee, Deidre. Geen mens kan werklik eensaamheid verkies nie. Maar vir ’n mens soos Neil het eensaamheid noodgedwonge ’n uitvloeisel geword van sy nuwe omstandighede. Neil was al die jare ’n baie onafhanklike mens en trots daarop. Vir sulke mense sal dit onuithoudbaar wees om terwyl hulle altyd so onafhanklik was, skielik hulpeloos en afhanklik te word. Vir sulke mense is hulle afhanklikheid noodgedwonge ’n skande. Vir hulle is dit ’n vernedering. Sulke mense soek die eensaamheid op, nie omdat hulle dit geniet nie, maar om hulself te beskerm. Het jy al daaraan gedink, Deidre, hoeveel erger die eensaamheid van ’n blinde moet wees as dié van ’n gewone mens?”
“Dit moet … vreeslik wees,” erken Deidre sag. “Oom Alwyn sê my hy het soos ’n besetene aan die werk gespring. Ek kan dit nie begryp nie. Oom Alwyn sê ook hy sou eers gaan vakansie hou het, maar het dit toe afgestel. Ek kan die dringende haas om met sy navorsing voort te gaan, nie begryp nie. Volgens oom Alwyn was hy nie op die spoor van iets definitiefs nie.”
Tant Bettie aarsel en vra dan sag, haar oë vas op die jong meisie: “Verstaan jy werklik nie, Deidre?”
Deidre kyk op, haar oë vraend, verward. “Nee, tante. Behoort ek te verstaan?”
Tant Bettie sug saggies. ’n Oomblik worstel sy met haar gedagtes. Dis ’n groot besluit wat sy moet neem. Durf sy by al die teleurstelling en smart wat Deidre die afgelope tyd moes ervaar, nog ’n verdere las op haar gewete plaas? Tog … In tant Bettie se hart begin ’n ou, halfvergete droom weer lewe … Miskien, wie weet, miskien kan die waarheid in hierdie geval net goed voortbring.
“My kind, Neil het nie kans gesien om met sy vakansieplanne voort te gaan nie. Hierdie vakansie sou vir hom iets baie spesiaals wees, en toe sy planne deur die mat val, het hy geen lus gehad om alleen daarmee voort te gaan nie.”
“Wat bedoel tante?”
“Hy wou dit sy wittebroodsreis maak, Deidre … saam met jou.” Deidre sit haar net en aankyk en tant Bettie se oë verteder. “Ja, my kind. Ek weet jy weet niks daarvan af nie. Hy het eers gewag om te hoor of sy planne om hom heeltyds op navorsing toe te lê, geslaag sou wees. Dan was hy van plan om ses weke vakansie te gaan hou.”
“Hy … hy wou my gevra het om … om met hom te trou?” fluister sy die vraag skor, verbyster.
“Ja. Hy het alles reeds tot in die fynste besonderhede uitgewerk gehad – waar julle sou gaan, wat julle sou doen, en so meer. Hy het vir my en oom Alwyn soos ’n opgewonde kind in die geheim kom vertel soos sy planne stap vir stap gevorder het. Maar hy wou dit alles vir jou as ’n verrassing hou. Hy wou jou al die wonderlike nuus sommer gelyk vertel en jou dan vra om met hom te trou.”
Deidre knyp haar oë ’n oomblik styf toe. Sy onthou hoe sy hom die oggend op kantoor oorval het met háár wonderlike nuus. Al die tyd het hy gebrand om haar sý wonderlike nuus mee te deel! Geen wonder dat hy nie geesdriftig oor haar prestasie kon raak nie! Terwyl hy op die punt gestaan het om haar te vra om sy vrou te word, moes hy hoor dat sy van plan is om heeltemal uit sy lewe te verdwyn.
Daardie aand het hy na die woonstel gekom … en Norman Zietsman, haar bestuurder, soos sy hom uitdagend voorgestel het, daar aangetref. Later, nadat Norman weg is, het hy die doel van sy besoek bekend gemaak. Daar was iets wat hy haar wou vertel – en iets wat hy wou vra. Toe het hy haar vertel dat hy eindelik sy groot droom verwesenlik gekry het: In die toekoms sou hy hom heeltyds op navorsing kon toelê. Die vraag wat hy haar wou vra, het hy egter nooit gevra nie. Op haar vraag het hy geantwoord dat dit nou nie meer saak maak nie. Sy het nie eens daarop aangedring om te weet wat dit was nie! Sy het nie belanggestel nie! Sy was te vol van haarself, haar eie planne …
Dis of ’n fisieke pyn deur haar gaan. Hoe verskriklik teleurgesteld en seergemaak moes hy nie gewees het nie! Nou kan sy sy vreemde, vyandige houding van daardie tyd verstaan! Nou kan sy begryp hoekom haar dierbare vriend skielik in ’n vyand verander het!
Hy was toe reeds ’n man van agt en dertig, ’n man wat nog nooit in ’n vrou belanggestel het nie, ’n man wat jare geduldig gewag het op die oomblik dat hy die meisie van sy keuse sou kon vra om met hom te trou. En toe daardie oomblik eindelik in sig was, is sy reg voor sy neus weggeraap …
As Neil haar wel daardie aand, ten spyte van die nuwe wending wat in haar lewe ingetree het, tog gevra het om met hom te trou … Sou sy ja gesê het? Sy twyfel. Sy het Neil nooit as ’n potensiële eggenoot gesien nie. Hy was die jare lange vriend, ’n pa … Maar ás hy haar gevra het en ás sy ja gesê het, hoe anders sou dit vandag nie gewees het nie! Sy sou nog met dieselfde soet stem gepraat het en terwyl sy haar huiswerkies verrig in ’n melodieuse stem liedjies vir haarself gesing het. En Neil sou nie vandag blind gewees het nie! ’n Koue rilling trek deur haar. As … so ’n frustrerende, futiele woordjie.
“Kan jy nou verstaan hoekom Neil soos ’n besetene begin werk het?” klink tant Bettie se simpatieke stem op. “Ons het by hom gesoebat dat hy jou tog moet vra, maar hy het geweier. Hy wou nie in jou pad staan nie.”
Tant Bettie dink terug aan daardie dag en sy sien die strak, streng gesig van Neil Maritz voor haar. Haar hart het daardie dag vir hom gebloei. Sy en oom Alwyn het reeds jare al geweet dat daar net een meisie vir Neil bestaan, maar dat hy geduldig gewag het dat Deidre moes opgroei, moes grootword. Sy diepe teleurstelling was ook hulle s’n. Sy onthou nog sy stem soos dit daardie dag geklink het toe hy beslis hul gesoebat opsy geskuif het.
“Nee, tante, oom, ek sal haar nie vra nie. Dis nou vir my baie duidelik dat Deidre my nie liefhet nie, nie op die manier wat ek verlang nie. Sy het nog nooit só aan my gedink nie en dit was dwaas van my om hoop in daardie rigting te koester. Ek was al die jare maar net ’n pa vir haar, ’n pa wat nou lastig en oorbodig geword het. Ek neem haar dit ook nie kwalik nie. Ek kon haar pa gewees het. Ek is baie jare ouer as sy.”
“Twak, man!” het oom Alwyn ontsteld, woedend, gefrustreer uitgeroep. “Van wanneer af raak ’n seun van vyftien jaar pa? Neil, dis jou eie skuld dat sy jou nog nooit in daardie lig beskou het nie. Jy het toegelaat dat sy jou soos ’n pa begin sien. Dis in jou hande om haar uit daardie verspotte waan te red. Wys haar jy is ’n man. Wys haar jy het haar lief. Vra haar om jou vrou te word!” het oom Alwyn gepleit, maar Neil was onversetlik.
“Nee, oom Alwyn. Dit is die allerlaaste ding wat ek nou sal doen. Sy het my onomwonde gevra om my neus in die toekoms uit haar sake te hou. Sy het my baie duidelik laat verstaan dat sy niks verder met my te doen wil hê nie, dat ek geen deel in haar nuwe toekoms het nie. En, asseblief,” het hy streng gewaarsku, “nie ’n woord hiervan aan haar nie. Dis nie nodig dat sy van my planne moet weet nie. Sy stel nie belang nie.”
Na geen kant toe kon hulle hom beweeg om ’n poging aan te wend om Deidre te behou nie. Hulle was magteloos. Neil het hulle baie beslis verbied om Deidre die geringste aanduiding te gee van wat werklik in sy hart omgaan. Hulle moes met bekommerde harte sien hoe Deidre met Norman Zietsman na Johannesburg vertrek en Neil homself in sy laboratorium begrawe.
Tant Bettie sug weer hardop. Dit was ’n moeilike, kommervolle tyd. Toe hulle hom eindelik weer ná ’n hele paar weke sien, het sy en oom Alwyn geskrik. Neil het merkbaar verouder in die kort tydjie. Dit was duidelik dat hy ontsettend moeg was en met die minimum slaap klaarkom. Weer het sy en oom Alwyn gepraat, gepleit, maar weer het dit geen indruk op Neil gemaak nie. Toe het die ongeluk gebeur.
Langs tant Bettie sit Deidre ook woordeloos, roerloos. Hoe langer die stilte rek, hoe bleker raak sy. Dan, eindelik, kom haar stem krakerig en hees: “Maar dan … maar dan is ék mos daarvoor verantwoordelik dat hy blind is!”
Tant Bettie kyk vinnig na haar.
“Nee, my kind. Moenie die saak uit verband ruk nie. Jy het niks van hierdie dinge geweet nie. Jy het geen benul gehad dat hy só oor jou voel nie en dat hy van plan was om jou te vra om met hom te trou nie.”
“Nee, ek het nie. Werklik, tante, ek het nooit ’n gedagte in daardie rigting gehad nie. Maar … tog is dit onregstreeks deur mý dat hy vandag blind is. Hy het soos ’n besetene gewerk om … om my te vergeet en as gevolg daarvan het die ongeluk gebeur. Dit is so, nie waar nie?” dring sy aan om te weet, hoewel sy reeds die antwoord in haar hart ken.
“Ja.” Tant Bettie se stem is simpatiek, maar dit is soos dit is en sy gaan nie doekies daarom probeer draai nie. Daarvoor is Deidre darem ook te intelligent.
Daar heers ’n rukkie stilte. Dan staan Deidre op en met ’n skaars hoorbare “verskoon my” hardloop sy die huis binne.
Enkele minute later tref oom Alwyn sy vrou nog onder die akkerboom aan, by ’n leë teepot. Hy groet haar en sak dan neer in die stoel wat Deidre ’n rukkie gelede verlaat het. Tant Bettie wil opstaan om vir hom koffie te gaan haal, maar hy keer haar met ’n handgebaar.
“Laat staan maar eers die koffie. Ek wil met jou praat.” Sy knik.
“Ja. Dan weet Deidre nou eindelik. Dis beter so, Alwyn. Ons kon dit tog nie vir ewig vir haar weggesteek het nie.”
“Ja, maar sy was baie ontsteld. Die arme kind …”
“Ja, my man. Deidre is te bejammer. Maar wat van Neil? Dink jy nie hy is nog meer te bejammer nie?”
“Ja, vrou, dit is so, maar Deidre is nog jonk …”
“Kyk, Alwyn, dit het nou hoog tyd geword dat jy en Neil Maritz ophou met daardie storie. Deidre is glad nie meer so ’n jong kind as wat jy wil voorgee nie. Sy is amper vyf en twintig. As sy nou nog nie ’n volwasse mens is nie, is dit tyd dat sy een word.”
Oom Alwyn kyk sy vrou verbaas aan en dan frons hy. “Bettie, wat het jy aangevang?”
“Wat bedoel jy?”
“As jy sommer uit die staanspoor op die aanval is, weet ek jy voel skuldig oor iets. Vrou, jy het tog nie …?”
“Luister hier, Alwyn Bruwer, jy is nie die enigste mens wat ’n bietjie verstand gekry het nie. Ek het ook so ’n lekseltjie ontvang, en dit lyk my ek gebruik myne bietjie beter as jy. Ek het nou net moeg geraak vir hierdie gepamperlang van Deidre. Goed. Sy het gely. Maar Neil het swaarder gekry. Jy het Neil se verhaal in die mooiste voeë aan haar vertel. Ek het haar die waarheid vertel.”
“Bettie!” Oom Alwyn spreek sy vrou baie streng aan. “Ek het jou gesê dat sy onder geen omstandighede onder die indruk gebring moet word dat sy dalk in ’n mate verantwoordelik gehou kan word vir wat met Neil gebeur het nie, selfs al sou dit wees! Sulke dinge gebeur mos maar …”
“Heeltemal reg, my man. Sulke dinge gebeur met ’n Hoër Wil se toestemming, maar ek sê jou baie van die ellende van die wêreld bring ons op onsself en op andere. Net ’n bietjie verder dink as wat jou neus lank is, net ’n bietjie meer bedagsaamheid vir ’n ander se gevoelens, sê ek jou, dan sal die ongelukkigheid op ons ou tranedal met die helfte verminder. Deidre was daardie tyd so vol van haarself en …”
“Maar, Bettie! Dit klink dan amper asof jy nie vir Deidre lief is nie en haar …”
“Ag, twak, Alwyn Bruwer!” knip sy hom sommer kort. “Natuurlik is ek lief vir die kind. Maar ek is lief vir Neil ook. Baie jare het Neil alles vir haar gedoen, tot vir haar gedink ook. Dit sal haar glad nie kwaad doen as sy nou weer ’n slag iets vir hom doen nie.”
“Vrou, waarop sinspeel jy?”
“Ek dink ek begryp, oom Alwyn,” hoor hulle Deidre se hees stem hier dig agter hulle en die twee ou mense swaai effens skuldig om. Sy stap nader en sê bedaard: “Ek dink tannie is reg. Ek dink dit het tyd geword dat ek my skuld aan Neil Maritz vereffen – en dis veel meer as die duisende rande wat hy my geleen het. Sal oom nou asseblief Neil se adres vir my gee?”
Oom Alwyn kyk verward van sy vrou se gesig waarop ’n tevrede, gelukkige glimlaggie verskyn het, na Deidre se ernstige gesiggie.
“Ek begryp nie nou mooi nie. Waarvan praat julle twee vroumense en hoekom …?”
“Alwyn, my ou man, dis tyd dat jy aftree. Jy is nie meer so vlug van begrip nie. Deidre wil vir Neil gaan help om sy boek klaar te maak, nie waar nie, my kind?”
Die twee vroue se oë ontmoet in volle begrip en dan knik die jonger een.
“Dis reg, tante. Oom Alwyn het gesê hy kry nie iemand om Neil te gaan help nie. Ek is die ideale persoon vir daardie taak. Ek sal hom geweldig baie kan help. Aangesien ek op die oomblik niks te doen het nie en … en self ’n afgesonderde plekkie verkies, klink De Hoop vir my na die ideale plek.”
Oom Alwyn kyk ontevrede na sy vrou wat instemmend sit en knik. Kan Bettie dan nie haar verstand gebruik nie? Sy ken mos die omstandighede!
“My liewe kind, dis baie dierbaar van jou, maar ek het jou al tevore gesê hy sal jou nie ontvang nie. Bettie, jy weet dit net so goed soos ek!” wend hy hom tevergeefs om hulp na sy vrou. “Neil wil niks met jou te doen hê nie,” sê hy doelbewus reguit.
“Maar ’n sekretaresse wat hy nie ken nie sal hy wel ontvang,” werp tant Bettie tussenbeide met ’n vonkel in haar oë wat haar man al meer ontstel. Hy kyk haar onbegrypend aan, maar dis duidelik dat Deidre die strekking van haar woorde volg.
“Ek het ook so gedink, tante.” Sy draai na oom Alwyn. “Wat het oom gesê was die laaste meisie se naam wat vir oom geskryf het sy sien nie meer kans om te gaan nie?”
“Esther Olivier, maar wat het dit …?”
“Dis glad nie ’n slegte naam nie. Nee, glad nie,” sê tant Bettie peinsend.
Oom Alwyn vererg hom bloedig. Wat sal die vroumens aanhou met peuter en sulke dubbelsinnige taal praat!
“Kyk hier, Bettie, wat voer jy in die mou?”
“Ék? Niks, my man. Deidre het maar net gedink dat sy as Esther Olivier De Hoop toe kan gaan en Neil gaan help met sy boek. Kyk, hy sal mos nie weet dis sy nie. Hy kan haar nie sien nie en … en wat meer is, hy sal haar nie eens aan haar stem kan herken nie. Op hierdie manier, voel Deidre, sal sy hom kan help soos wat hy haar al so baie in die verlede gehelp het.”
Oom Alwyn lyk geskok.
“Neil sal ons vermoor as hy die waarheid moet agterkom!”
“Hoe sal hy dit weet, behalwe as jy gaan verklik?” antwoord sy vrou en lag dan hartlik, die eerste keer sedert Deidre by hulle kuier. “Deidre, ek het ook Neil se adres. Ek sal dit vir jou gee as oom Alwyn te koppig is.”
Deidre glimlag ook nou, stap nader en plaas haar arms om oom Alwyn se nek.
“Maar oom sal dit mos vir my gee, nè, oom? Asseblief, oom!”
“Wil jy regtig gaan, my kind?” vra hy bekommerd, glad nie gerus oor hierdie wilde plan nie.
“Ek wil, oom,” antwoord sy sag, “met my hele hart. Help my asseblief dat ek my skuld aan hom betaal.”