Читать книгу Ena Murray Keur 6 - Ena Murray - Страница 8
5
ОглавлениеMet die grootste teerheid en ’n hart wat van innige medelye binne-in hom saamkrimp, druk Alwyn Bruwer die maer lyfie teen hom vas en luister na die snikke teen sy skouer.
“My kind … my kind!” is al wat hy met tussenpose uitkry. Eindelik lig Deidre haar traanbenatte gesig omhoog en die blou oë skitter die eerste keer vol vreugde in syne op.
“O, oom Alwyn, ek besef nou eers hoe verskriklik ek die afgelope twee jaar na julle almal verlang het!”
Hy knik en sy sak weer terug teen die kussings, maar die maer hande hou syne styf vas.
“Ons het ook baie verlang, Deidre.” Sy oë kyk vas in hare. “Soms het dit vir ons gevoel jy het ons heeltemal vergeet, jy het heeltemal van ons weggedrywe.”
’n Ligte rooi blos spoel oor die bleek wange en haar hees stemmetjie klink skuldig en skaam toe sy erken: “Ek weet, oom Alwyn. Ek pleit skuldig. Ek weet my briefies was maar min, veral die afgelope tyd, maar …”
“Min en niksseggend, my kind.” Hy glimlag om die verwyt in die woorde te versag. “Maar ek het nie gekom om te kla nie, my kind. Ek weet jy was baie besig en …”
“Ja, oom, ek was werklik baie besig. Ek het baie hard gewerk.”
“Dit glo ek volkome. Jy móés, om so ver in twee jaar te gekom het. Ek en die tante het begin wonder of jy dan nooit ’n bietjie wegbreek en ’n kort vakansietjie sal neem nie. Ons het jou sedert jy weg is nog nooit weer gesien nie.”
“Daar was net nie tyd nie, oom Alwyn. Ek het die afgelope twee jaar nooit vakansie geneem nie. Soms het ek met my hele hart begeer om ’n paar dae weg te breek, maar …”
Sy trek haar skouers op en die ou prokureur knik begrypend. Hy verstaan maar te goed. Norman Zietsman het sorg gedra dat sy geen wegbreekkans sou kry om haar vriende van die verlede op te soek nie. Hy was baie beslis dat sy geen verdere kontak met hulle sou maak nie. En nou …
Met ontsetting in hul harte het hy en sy vrou daardie aand voor die radio gesit en na die uitvoering geluister. Daar was verbystering in hul harte terwyl hulle geluister het na Deidre se krakerige stem en daardie onbeskryflike oomblik van stilte teen die end van die lied. Met beklemde harte het hulle gehoor toe die aankondiger op onpersoonlike wyse ’n oomblik later aankondig dat juffrou Retief ongesteld is en die volgende kunstenaar voorstel. Hy het dadelik die radio afgeskakel.
Met opregte kommer in hul harte het hulle die koerantberigte dopgehou. Met sy hele hart sou Alwyn Bruwer daardie tyd graag na Deidre wou gaan om haar in hierdie krisistyd by te staan, maar hy het nie die vrymoedigheid gehad nie. Deidre het, soos hy tereg gesê het, die afgelope twee jaar van hulle weggedrywe. Aan die begin het haar briewe gereeld gekom, vol opgewondenheid oor die nuwe lewe waarin sy haar bevind het. Toe het hulle ongemerk korter en al minder begin word. Die laaste ses maande was daar net een keer ’n poskaartjie van haar en só niksseggend dat dit vir hom en sy vrou gevoel het asof dit van ’n vreemdeling kom.
Eindelik het die koerante die finale aankondiging gedoen: Deidre Retief sal nooit weer sing nie. Hiermee het haar blinkende ster verskiet. Die kroon waarvoor sy twee moeilike jaar gewerk het, is op Elsa Grünewaldt se hoof geplaas, en in die toekoms sal Deidre Retief net ’n naam wees op die CD’s wat sy gemaak het. En soos dit maar altyd gaan, sal ook hulle van die toneel verdwyn, sal hulle mettertyd agter in pakkamers lê en stof vergader, uitgedien.
Maar nog het oom Alwyn Bruwer gehuiwer om na haar te gaan. Eerstens omdat hy nie seker was dat Deidre haar ou vriende van weleer juis op hierdie tydstip van mislukking en teleurstelling sal wil sien nie, en tweedens omdat sy vennoot siek geword het en hy onmoontlik op daardie tydstip die kantoor alleen sou kon laat. Daarom dat ’n hele tyd verstryk het voordat hy in sy motor geklim en Johannesburg toe gery het. Hy het ’n koerant gekoop voordat hy hospitaal toe gekom het. Daarin het hy gelees dat die verlowing tussen die voormalige sangeres, Deidre Retief, en haar bestuurder, Norman Zietsman, verbreek is en dat laasgenoemde die bekroonde Elsa Grünewaldt na Milaan sal vergesel. Hy het nie langer geaarsel om haar te gaan opsoek nie. Hy het instinktief geweet dat Deidre haar ou, halfvergete vriende nou nodig het.
Terwyl hy Deidre se maer hande in syne hou, besef hy dat hy vroeër moes gekom het. Die openlike vreugde waarmee sy hom verwelkom het, het al sy vrese vir goed die nek ingeslaan. Dit het maar net gelyk asof sy haar ou vriende die afgelope twee jaar vergeet het. Hy weet nou sy het nie, en hy het ’n nare vermoede dat haar ou vriende die enigste is wat vir haar oorgebly het.
“Hoe gaan dit, my kind? Wanneer kan jy uit die hospitaal kom?”
“Een van die dae. Ek is self haastig om hier uit te kom. Ek wil … wegkom … van alles en almal. O, oom Alwyn, dit … Ek weet nie wat om te sê nie. Oom en Neil het my gewaarsku, maar in my blinde jeugdigheid en onkunde wou ek nie luister nie. Vandag pluk ek die bitter vrugte daarvan.”
“Ons moet maar almal leer, Deidre. Ek en Neil dra ook skuld. Ons het nie genoeg vertroue in jou gehad nie. Ons het nie werklik geglo dat jou stem sulke hoogtes sou bereik nie. En dan was ons ook selfsugtig. Ons wou jou behou, vir onsself, en dit was verkeerd. Elke mens het die reg, eintlik die plig, om die talente wat die goeie Gewer aan hom gegee het, te ontwikkel. Al verskoning wat ek vandag kan aanvoer, is dat ons jou liefgehad het en wou keer dat jy sou seerkry. Jy was nog so sag, so kinderlik onskuldig. Ons wou jou beskerm teen die harde kunstenaarswêreld.”
Hy sug. “Miskien was dit ook verkeerd. Ja, ek sien dit vandag in. Dit was verkeerd van ons om jou altyd teen die harde slae van die lewe te wil beskerm. Dit spyt my, my kind. Ek besef vandag eers hoe verkeerd ons optrede werklik daardie tyd was. As ons anders opgetree het, sou hierdie ding nie gebeur het nie.”
“Oom Alwyn!” roep sy ontsteld uit. “Hoe kan jy jouself verwyt oor wat met my gebeur het? Jy het tog geen aandeel daaraan gehad nie!”
“Ja, my kind, ek het. Ons almal het. Daar staan geskrywe dat nie een blaartjie aan die boom geel word sonder die medewete en goedkeuring van die hele boom nie. Nee, Deidre, ons het almal skuld daaraan. Ek en Neil moes nooit alle bande met jou verbreek het nie. Ons moes jou laat gaan het, maar ons moes kontak met jou behou het, steeds jou vriende en raadgewers gebly het. Dan kon hierdie ding verhoed gewees het.”
“Oom het nie kontak met my verloor nie. Ons het darem die afgelope jare gekorrespondeer.”
“Dis nie wat ek bedoel met kontak behou nie.”
Sy sug ook nou en laat haar blik sak.
“Ek weet. Maar as iemand skuld daaraan het, is dit ek.”
“Jy het ook skuld, Deidre, maar die grootste skuld lê voor my en Neil se deure. Ons is volwasse, ervare mense. Ons moes beter geweet het. Ons moes nie toegelaat het dat jy ons wegstoot nie, dat ons verbitter teenoor jou raak nie …”
Hy breek vinnig af en ’n lang ruk is albei stil. Die bietjie kleur wat Deidre die afgelope dae in haar wange teruggekry het, het verdwyn. Die eerste keer in ’n baie lang tyd neem Neil Maritz weer ’n prominente plek in haar gedagtes in; sien sy hom voor haar staan soos hy daardie dag gelyk het toe sy hom voor oom Alwyn se kantoor gegroet het: koud, ongenaakbaar, afsydig … bitter.
Sy weet intuïtief dat oom Alwyn van Neil gepraat het toe hy sy laaste woorde uitgespreek het. Neil is bitter teenoor haar. Dis of ’n koue hand ’n oomblik haar hart vasgryp en druk. As dit nie so was dat hy vandag nog bitter teenoor haar voel nie, sou hy saam met oom Alwyn hierheen gekom het. Ook die feit dat oom Alwyn net sy vrou se groete oorgedra en geen melding van Neil gemaak het nie, staaf hierdie vermoede. Neil het haar vandag nog nie vergewe dat sy sommer net uit sy lewe gestap het nie, hom so weggestoot het nie. Durf sy hom dit verkwalik?
Die vraag bewe op haar lippe om oom Alwyn direk na hom te vra, maar sy besluit daarteen. Die feit dat oom Alwyn nie spontaan en vanself van Neil praat nie, vertel haar dat hy daardie spesifieke onderwerp liewer wil vermy. Ook in die twee jaar wat verby is, het nóg hy nóg sy vrou ooit melding van Neil in hul briewe gemaak. Sy besef eers op hierdie oomblik dat sy werklik niks weer van Neil te hore gekom het sedert sy hom daardie dag gegroet en na Johannesburg vertrek het nie.
Daar is skielik die eerste keer in twee jaar ’n drang in haar om te weet hoe dit met Neil gaan, of hy nog navorsing doen, wat met hom gebeur het sedert sy hom laas gesien het. Eens was hy so deel van haar daaglikse bestaan dat sy haar ’n lewe sonder hom nie kon voorstel nie. En nou het hy ’n totale vreemdeling geword … ’n herinnering.
Dis of daar ’n stywe band om haar keel trek en sy sluk swaar. Neil moes tog ook gehoor het van die tragiese gebeure. Die koerante was vol daarvan. Hy moet tog weet watter ramp haar getref het. Hy moes tog in die koerante gelees het dat haar en Norman se verlowing verbreek is. Ter wille van die vriendskap wat jare gelede tussen hulle was, behoort hy darem van hom te laat hoor, al het hy maar net ’n kort briefie geskryf of … groete en beste wense saam met oom Alwyn gestuur. Maar daar is niks, geen reaksie van sy kant nie.
Alwyn Bruwer sien die vrae in die blou oë en hy wend sy blik vinnig af. Hy weet wat in Deidre se gedagtes omgaan. Hy het ’n vermoede watter vrae binne-in haar spook en wat sy graag aan hom sou wil vra, maar waarvoor sy nie die moed het nie. Hy wens met sy hele hart hy kon haar gerusstel, en vertel dat sy met die grootste vrymoedigheid na haar ou vriende en ou lewe kan terugkeer en met oop arms ontvang sal word. Maar hy kan nie. Waar dit homself en sy vrou aangaan, sal Deidre altyd welkom wees. Sy deur sal altyd vir haar oopstaan. Maar Neil …
Die dag toe Deidre van hulle af weggestap het, het daar ’n ysterhek binne-in Neil toegeslaan: ’n hek wat hy nie van plan is om ooit weer oop te sluit nie, ’n hek wat Deidre altyd buite sal hou. Maar hoe kan hy dit juis nou vir haar vertel, noudat sy hul vriendskap en bystand en begrip so nodig het? Hoe kan hy hierdie meisietjie, wat reeds so baie verloor het, so baie gely het, nog ’n wond toedien? Hoe kan hy haar vertel dat haar eertydse en grootste vriend, die man wat sy soos ’n pa beskou het, niks van haar wil weet nie en niks met haar te doen wil hê nie?
“As jy nog nie ander planne gemaak het nie, wil ek en die tante baie graag hê dat jy ’n rukkie na ons toe kom wanneer jy uit die hospitaal ontslaan word,” sê hy nou om die gespanne stilte te verbreek.
“Ek het geen planne nie, oom. Ek … sal graag wil kom, dankie. Ek voel skaam om ná my gedrag teenoor julle van jul gasvryheid gebruik te maak, maar … ek het nêrens om te gaan nie,” erken sy gedemp.
In Alwyn Bruwer se oë is daar skielik ’n vogtigheid en sy stem bewe aangedaan toe hy sê: “My liewe kindjie, jy was nog altyd soos ’n kind vir ons en ek en die tante sal jou dit beslis kwalik neem as jy nie by ons kom aansterk nie. As daar ook enigiets anders is waarmee ek kan help, reëlings wat jy wil tref en dies meer, moet jy net praat.”
“Ek sal so dankbaar wees, oom. Ek sal so bly wees as oom my prokureur hier in die stad kan gaan spreek en sommer my woonstel se huur kanselleer en reëlings tref vir die verkoop van my meubels. Ek … weet nog steeds niks van sulke sake af nie. Norman … Norman het daardie deel maar behartig.”
“Natuurlik, my kind. Maar wil jy al die meubels verkoop? Is daar nie iets wat jy graag wil behou nie?”
“Net Pappa se lessenaar en ’n paar stukkies van Ma. Die ander wil ek verkoop. Ek wil … niks behou nie.”
Nee, sy wil skoon breek met alles wat haar aan die afgelope twee jaar kan herinner. Dis beter so. Hierdie twee jaar was maar net ’n tussenspel in haar lewe. Hoe gouer sy daarvan wegbreek, hoe beter.
“Ek sal by dokter Beneke hoor hoe gou ek ontslaan kan word. Ek … is nou haastig om saam met oom Alwyn te gaan.”
Ja, by oom Alwyn en tant Bettie sal sy miskien weer die drade wat sy jare gelede so skielik afgeknip het, kan optel. En miskien … miskien sal sy vir Neil daar raakloop. As hy haar die geleentheid wil gee, sal sy hom vertel dat sy hom nie werklik vergeet het soos wat hy seker dink nie. Sy het dikwels ontsettend na hom verlang, maar was te trots en hardkoppig om eerste toenadering te soek. Sy sal hom ook vertel dat hy gelyk gehad het. Sy het agter ’n skynglans aangehardloop … En toe sy eindelik haar doelwit bereik, het sy dit wel, net soos hy gesê het, bar en ru en eensaam gevind. Veral eensaam.
Dokter Beneke steek nie sy vreugde weg toe hy hoor dat ou vriende van Deidre haar graag by hulle sal wil neem tot tyd en wyl sy weer haar voete gevind het nie. Hy loop oom Alwyn voor Deidre se deur in die gang raak en die ouer man rig sommer dadelik sy versoek tot die dokter om Deidre saam met hom te neem.
“Jy kan haar maar môreoggend kom haal, meneer Bruwer,” gee dokter Beneke dadelik sy toestemming en die ergste onrus oor haar sak in hom weg. Hy het sommer met die eerste oogopslag van die middeljarige prokureur se gesig gehou, veral toe hy hoor dat Alwyn Bruwer ’n vriend van Deidre was voordat sy as sangeres beroemd geword het. Hy is tevrede dat hy haar met veiligheid in sy hande kan laat. Dit is al deur en deur bewys dat die vriende wat jy geken het voordat roem en rykdom jou te beurt geval het, steeds die beste vriende bly. Ou, bewese vriende is soos suiwer goud – hulle kan die vuurproef deurstaan en gelouter en baie waardevol anderkant uitkom.
Die volgende oggend kom haal oom Alwyn haar by die hospitaal, en solank Deidre haar goedjies bymekaarkry, gaan soek hy haar prokureur op. Toe hy met middagete weer die woonstel binnestap, is sy gesig baie ernstig en kan Deidre sommer dadelik sien dat hy hewig ontsteld is oor iets.
“Wat makeer, oom Alwyn?” vra sy ook dadelik.
Dis of hy eers aarsel, maar dan antwoord hy reguit: “Ek is bevrees ek bring nie alte goeie nuus vir jou van jou prokureur af nie, Deidre. Volgens hom het jy nie geld nie.”
“Wat!” Haar oë rek verbaas. “Maar … maar ek het dan gedink ek maak heelwat geld met my CD’s!” laat sy verdwaas hoor.
Alwyn Bruwer knik grimmig.
“Jy maak ook, maar jy lewe alles uit. Ek is verbaas, Deidre. Jy was nooit spandabelrig nie, maar volgens wat meneer Maree my vertel en bewys het, het jy en jou bestuurder darem buite perke rojaal aangegaan!”
Deidre weet nie hoe om haarself te verweer nie. Sy weet niks van haar eie geldsake af nie. Om die waarheid te sê, het sy nie eens ’n idee wat haar klere kos nie. As Norman gedink het dit is tyd dat sy ’n nuwe uitrusting kry, of ’n nuwe aandrok vir ’n spesiale geleentheid, dan het sy na die beste boetiek in die stad gegaan, een uitgesoek en die rekening is na die prokureurskantoor verwys waar Norman die tjeks geteken het.
Sy sak nou verdwaas op ’n stoel neer en sê bedees: “Dit is jammer. Is dit … baie erg?”
“Ek sou so dink!” laat oom Alwyn driftig hoor. “Laat ek ’n bietjie vir jou voorlees uit hierdie rekening: Een aandrok – drieduisend rand. So ’n bedrag … vir ’n ding om om jou lyf te hang! Werklik, Deidre!”
Sy stem slaan weg en Deidre keer net betyds die glimlag om haar lippe. Oom Alwyn is nog van die goeie ou soort, en om soveel geld te bestee aan ’n ding wat jy net met glansgeleenthede dra, is vir hom die toppunt van spandabelrigheid! Hy het in die harde skool van die lewe grootgeword en dit het tweede natuur by hom geword om respek vir geld te hê.
Sy probeer verduidelik: “Dit is ’n spesiaal ontwerpte modeskepping, oom Alwyn. Norman wou nie hê dat ek iets anders as boetiekklere dra nie. Daar is geen ander aandrok soos daardie een nie. Dit was nodig vir my prestige …”
“Prestige se voet!”
Sy vra haastig: “Is daar nog iets wat … wat baie duur was?”
“Nie nog iets nie! Talle! Luister ’n bietjie hier. Een leerjas – tienduisend rand. Ek bid jou aan! Tienduisend rand vir ’n ding om jou warm te hou … dis verregaande!”
Hierdie keer voel Deidre nie lus om te glimlag nie. Haar gesig het verstil en sy draai haar blik vinnig weg. Die jas was ’n geskenk van Norman daardie aand – so het sy altans aangeneem. Nou blyk dit dat sy self vir haar geskenk moes betaal – en seker vir al die ander wat hy haar in die verlede gegee het. Sy sug saggies. Ag, wat maak dit ook saak? Dit sal haar nie ’n bloue duit in die sak bring om Norman nou te begin verdink en beskuldig van oneerlikheid nie. Oom Alwyn se driftige stem ruk haar gedagtes terug.
“Maar ek het sommer daardie dag geweet toe die laventelhaan so baie vra om mee te begin dat hy geen benul van geld het nie. Meneer Maree vertel my dat hy al dikwels bekommerd was en met jou wou praat, maar aangesien jy hierdie … vent volmag gegee het, was sy hande afgekap.”
“Het ek niks geld nie?” vra sy asof die besef van wat oom Alwyn haar vertel het en watter implikasies en komplikasies dit vir haar gaan meebring, nou eers ten volle tot haar deurdring.
“Daar is so ’n bietjie, maar daar is nog uitstaande skuld. Die prokureur dink egter dat jy van tyd tot tyd nog heelwat geld behoort in te kry uit CD-verkope …”
Hy swyg en kug ongemaklik. Dan gaan hy vinnig voort: “In elk geval, my kind, daar is geen rede om jou te bekommer nie. Jy sal darem nie niks hê nie, maar beslis nie soveel dat jy van nou af tot die dag van jou dood ’n luilekker lewe sal kan voer met uniek ontwerpte skeppings en swierige jasse nie. Maar aangesien jy so ’n fortuin aan klere bestee het, behoort dit jou die volgende vyftig jaar te hou. Ek meen te sê, ’n mens dra mos nie ’n rok en ’n jas in een jaar op nie. Ons moet nou maar reëlings tref en huis toe gaan. Hoe gouer jy uit hierdie woonstel kom, hoe beter. Weet jy hoeveel die huur van hierdie plek is? Agtduisend rand per maand!”
Deidre frons.
“Nee, dit is nie. Dis vierduisend rand. Nee, oom Alwyn, regtig. Oom kan maar vir die opsigter gaan vra as oom my nie wil glo nie.”
“Wel, daar is elke maand ’n agtduisendrandtjek geteken vir woonstelhuur. Hier staan dit. Het jou … e … bestuurder ook ’n woonstel gehad?”
“Ja.” Haar oë rek. “Oom bedoel … hy het my laat betaal vir sy woonstel ook? Maar …”
“Dis al verklaring wat ek kan kry, en jy? Deidre, besef jy dat hierdie skurk jou rot en kaal besteel het?”
“Nee, oom Alwyn!” Lojaliteit laat haar die afwesige Norman driftig verdedig. “Ek kan dit nie glo nie! Norman het ontsettend baie vir my gedoen. Sonder sy hulp sou ek nooit so ver gekom het nie!”
“Hy het gesorg dat jy hom baie goed vir daardie hulp betaal, my kind. Dis nie net die woonstelhuur wat vir my agterdogtig maak nie. Hier is ’n paar ander items ook.”
“Maar dit kan nie wees dat Norman … dat hy … Hy het ’n salaris getrek en hy het my altyd verseker dat hy heeltemal tevrede met sy inkomste was.”
“Watter salaris?”
“Hy het as my bestuurder ’n sekere persentasie van my inkomste gekry, waarop ek eerlikwaar gevoel het hy geregtig was.”
Oom Alwyn snork minagtend.
“’n Sekere persentasie! My liewe kind, jy het hom die afgelope twee jaar in weelde onderhou. Hy het soos ’n parasiet op jou geteer.”
Hy swyg toe hy die hewige ontsteltenis op haar gesig sien, kom vinnig nader en lê sy arm om haar skouers. “Dit spyt my, Deidre. Ek het vergeet dat jy nog nie sterk genoeg is vir sulke skokke nie.”
Sy skud haar kop verdwaas.
“Dit maak nie saak nie,” fluister sy, haar stem nog heser as gewoonlik. “As dit so is, dan moet ek dit weet, nie waar nie? Ek … kan dit net nie glo nie! Ek en Norman was verloof! As … as hierdie dinge nie gebeur het nie, sou ons seker teen hierdie tyd getroud gewees het. Ek kan nie glo dat hy my al die tyd so bedrieg en uitgemergel het nie!”
“Dit is nietemin so, Deidre. Die bewyse is onomstootlik daar. Ek sal die skurk aan die pen laat ry!”
“Nee!” Sy draai vinnig na hom. “Nee, asseblief, oom Alwyn! Laat hom … gaan. Ek wil nie verdere onaangenaamheid hê nie. Dis my eie skuld dat so iets gebeur het.”
Haar hees stemmetjie het ’n kraak van bitterheid in. “Ek het my lewe lank in goeder trou gehandel. Ek het my lewe lank toegelaat dat ander mense vir my dink en my sake vir my reël. Eers was dit Neil … Ongelukkig vir my was sy opvolger nie ook so pynlik eerlik soos Neil Maritz nie. Maar dis my verdiende loon.”
“Jy bedoel … jy gaan hom sommer net laat wegkom met alles?” vra haar ou prokureursvriend ontsteld en sy knik beslis.
“Ja, oom Alwyn. Ek gaan niks doen nie. Norman Zietsman het reeds uit my lewe verdwyn. Ek is nie van plan om hom weer daarin te laat terugkom nie, veral nie met ’n onsmaaklike hofsaak nie. Goed. Hy het my besteel, soos oom dit gestel het. Ons laat dit daar. Geld was en is nie vir my van soveel waarde nie. Solank ek net ’n ietsie het om die eerste rukkie mee oor die weg te kom, is ek tevrede. Wanneer dit op is, sal ek vir myself sorg. Ek het darem nog my kwalifikasie … en ek sal darem seker êrens ’n baas raakloop wat nie van sy sekretaresse verwag om ook te kan sing nie …”
Skielik druk sy haar gesig teen sy breë, vriendelike skouer en haar liggaam ruk weer van rou, diep snikke. Sy het Norman Zietsman nooit liefgehad nie, maar sy was tog geheg aan hom. Sy het hom so vertrou. Die feite wat oom Alwyn so pas aan die lig gebring het, het haar dieper geskok as wat sy wou voorgee. Dis of die laaste bietjie grond onder haar voete uitgeslaan is. Die vriendskap en hulp, die bystand en raad, die trotse glimlag en sy woorde van aanmoediging en liefde was dus alles vals … vals soos die skynglans van die maan.
Bokant haar kop vernou oom Alwyn se oë bekommerd. Sou Deidre hierdie man nog liefhê? ’n Vrou is ’n snaakse wese. Al weet sy alles van hom af, al weet sy dat hy ’n opperste skurk is, kan sy nog die man wat sy liefhet, nie vergeet nie. Dit het sy beroep hom al so dikwels deur die jare bewys. En Deidre was verloof aan hom. Hulle was van plan om binnekort te trou …
So vinnig as wat hy kan, tref oom Alwyn die nodige reëlings en twee dae later vertrek hulle uit Johannesburg terug huis toe, soos hy dit stel. Deidre laat hom maar begaan, maar met ’n verlore gevoel in haar hart besef sy dat sy werklik “huisloos” is. Hoewel oom Alwyn dit nie weet nie, en onder die indruk verkeer dat sy ’n lang en onbepaalde tyd by hom en tant Bettie kom bly, het Deidre haar reeds voorgeneem dat dit nie die geval gaan wees nie. Sy sal die eerste rukkie by hulle kuier, maar sodra sy van ’n plekkie hoor waar sy alleen kan wees, en veral onbekend sal wees, gaan sy haar kuiertjie by die Bruwers kortknip. Sodra sy meer mens voel, sal sy ook moet begin uitkyk vir ’n werkie.
Dit sal vreemd wees om ná twee jaar weer net ’n gewone sekretaresse te wees, weer deel van die gewone lewe en een van die gewone mense. Maar sy is nie bevrees dat sy haar nie weer sal kan aanpas nie. Diep in haar hart was sy nooit regtig deel van die kollig en sosiale verkeer nie. Diep binne-in haar het sy maar Deidre Retief, die kantoorwerkertjie, gebly, besef sy nou.
Toe hulle eindelik voor oom Alwyn se huis stilhou en Deidre haar blik oor die bekende omgewing laat dwaal, voel dit nie vir haar asof twee jaar verbygegaan het nie. Dis of die afgelope twee jaar skielik van haar wegval, in die niet verdwyn. Sy kom ’n oomblik tot stilstand in die middel van die tuinpaadjie.
Dit is werklikheid dié. Dit is standvastigheid, sekuriteit dié: die liefde en deernis in oom Alwyn se oë. Die vreugde in tant Bettie se glimlag waar sy in die deur verskyn. Die son, warm en weldadig op die groen grasperk – oom Alwyn se trots – en koesterend op die blombelaaide some – tant Bettie se troetelkind. Die huis, van die ou soort met ’n groot, wit gewel, nestelend teen die groot ou akkerboom. Rustig. Vreedsaam. Hier is voorwaar geen skynglans nie. Eenvoudig, sonder opsmuk … en eg.
Dan hardloop sy vorentoe in tant Bettie se uitgestrekte arms in … en sy weet dat Deidre Retief, die sangeres, finaal van die toneel af verdwyn het.
Bokant haar kop ontmoet die ou egpaar se oë mekaar met gemengde vreugde en kommer. In hul harte is daar dankbaarheid dat Deidre huis toe gekom het, maar daar is ook diepe kommer, want hulle weet dat al die seerkry nog nie vir hierdie meisietjie verby is nie. As Neil maar net hier was … is die gedagte by albei toe tant Bettie haar die voordeur inlei.