Читать книгу Ena Murray Keur 6 - Ena Murray - Страница 9
6
ОглавлениеDie eerste week van Deidre se verblyf by oom Alwyn en tant Bettie Bruwer gaan soos ’n stil, rustige droom verby. Sy vind dat al wat sy moet doen, is eet en slaap en ontspan. Vir Deidre, wie se lewe die afgelope twee jaar ’n wilde gejaag van die een afspraak na die ander, en veral die afgelope twee maande, ’n maalkolk van emosionele storms was, is hierdie dae van stilte en rus en vrede soos lieflike kristalle wat die een na die ander deur haar vingers glip. Sy, en so ook die dierbare twee ou mense, weet maar te goed dat sy nie vir ewig so kan voortgaan nie, maar al drie sluit doelbewus hul gedagtes vir hierdie feit.
Môre, dink Deidre by haarself, môre sal ek planne moet begin beraam. Môre sal ek vir oom Alwyn vra of hy nie van ’n klein, rustige, afgesonderde plekkie weet waarheen ek kan gaan nie.
Môre, dink oom Alwyn en tant Bettie, môre sal sy miskien met die gevreesde vrae begin, môre sal ons haar miskien moet vertel van Neil. Die een of ander tyd sal ons hierdie onnatuurlike stilswye oor Neil Maritz moet verbreek. Een van hierdie mooi, lieflike sonskyndae sal ons nie langer kan voorgee dat Neil Maritz nie bestaan nie en dan sal ons Deidre moet vertel. Maar môre gaan verby vir al drie, en die volgende môre volg dit op en die volgende …
Dis gedurende die tweede week dat Deidre van ’n rusteloosheid in haar gewaar word. Dis of sy skielik agtergekom het dat daar ten spyte van die skynbare volmaaktheid wat aan elke dag kleef, ’n gemis is, iets wat ontbreek. Omdat tant Bettie en oom Alwyn nog steeds oor Neil swyg en nog nie een keer sy naam sedert haar aankoms hier by hulle genoem het nie, vind sy dit ook onmoontlik om eerste na hom te verneem. Sy raak elke dag meer daarvan oortuig dat hulle hierdie onderwerp doelbewus vermy. Hoekom? Al is Neil nog vir haar kwaad, is dit nie nodig om soos die graf oor hom te swyg nie. Die feit dat hy ook nog nie een keer sedert haar aankoms sy opwagting hier gemaak het nie, vertel haar dat hy bewus is daarvan dat sy by oom Alwyn-hulle is, maar dat hy die huis doelbewus vermy.
’n Gedagte vat skielik by haar pos; ’n vermoede wat so ontstellend is dat sy verward en verslae daaroor voel. Sou Neil dalk intussen getrou het? Die moontlikheid van so iets is groot, want Neil is ’n aantreklike en aangename man. Sy was destyds, toe sy nog by hom gewerk het, verbaas dat Neil nie trou nie en blykbaar so min belangstelling in die teenoorgestelde geslag toon.
Maar hy kon intussen die vrou van sy hart raakgeloop het. Sy weet nie hoekom sy oor so ’n moontlikheid ontsteld moet voel nie. Dis tog nie dat sy Neil die geluk van ’n huwelik misgun nie. Inteendeel. Dis ook nie dat sy bang voel dat sy huwelik inbreuk op die vriendskap tussen haar en hom sal maak nie, want sy besit nie meer sy vriendskap nie. Hy het totaal uit haar lewe verdwyn.
Sy kan ook nie verstaan hoekom dit die rede moet wees dat oom Alwyn en tant Bettie so hardnekkig oor hom swyg nie. Nee, daar moet ’n ander rede wees, maar wat, kan sy nie dink nie.
Toe die tweede week verby is, besluit sy om die bul by die horings te pak. Sy kan nie die res van haar lewe so nutteloos deurbring nie. Eerstens is sy nie gewoond aan leeglê nie en tweedens is dit finansieel noodsaaklik dat sy weer werk vir haar hande kry.
Hulle sit die aand voor die kaggel, want die winterwindjie het skielik onwelkome knypvingers uitgesteek. Oom Alwyn sit soos gewoonlik met sy koerant. Tant Bettie sit en brei, en Deidre lê-sit met hande doelloos gevou in die vuur en staar.
“Oom Alwyn,” verbreek sy skielik die stilte. Hy laat sy koerant sak.
“Ja, my kind?”
“Ek dink dis tyd dat ek begin uitspring,” kondig sy aan en kyk die twee ou mense beurtelings aan. “Asseblief, moet my nie verkeerd verstaan nie. Dis heerlik hier by julle en julle sal nooit weet hoeveel hierdie afgelope veertien dae vir my beteken het nie. Jul huis was … ’n veilige hawe vir my en ek sê baie dankie vir jul gasvryheid en liefde wat my so opreg omring het. Maar ons al drie weet dat ek nie die res van my lewe so kan voortgaan nie. Ek het nou goed uitgerus en aangesterk en … nou moet ek weer met my lewe begin.”
Oom Alwyn kug eers voordat hy laat hoor: “Ek verstaan, Deidre, en ek weet die tante ook. Jy weet dat jy welkom is om so lank as wat jy wil hier te bly. Ek en die tante sal jou nou baie mis. Ons het die afgelope dae so gewoond aan jou geraak, maar ons wil nie selfsugtig wees nie. Soos jy gesê het, jy moet weer met jou lewe begin. Het jy enige vaste planne?”
Sy skud haar kop. “Nee. Ek weet net ek sal graag na ’n stil … e … afgesonderde plekkie wil gaan waar niemand my ken nie. Weet oom nie van so ’n plekkie nie?”
Hy kyk haar bekommerd aan.
“My liewe kind, waar in ons land kan mens vandag nog onbekend bly?” Sy stem is sag, teer, bang om ou wonde weer oop te ruk. “Dit help nie om te gaan wegkruip nie, Deidre. Die een of ander tyd haal die lewe jou in. Selfs op ’n stil, afgesonderde plekkie sal die naam Deidre Retief nie onbekend wees nie. Selfs op afgesonderde plekke word CD’s gespeel, TV gekyk, die radio aangeskakel … en koerante gelees.”
Deidre se moed sak in haar skoene. Dis waar. Sy het nooit só daaraan gedink nie. Haar blik dwaal onrustig oor die vlamme. Maar waarheen sal sy dan gaan?
Dis tant Bettie se stem wat sag, begrypend en baie verstandig opklink: “Is jy nie miskien te haastig nie, my kind? Baie probleme in die lewe los hulself op as hulle net genoeg tyd gegee word. Moenie oorhaastig besluit nie. Alles kan nou nog vir jou donker lyk, maar daar sal binnekort ’n lig vir jou opgaan en dan sal jy weet wat jy moet doen, waar jy moet gaan.”
“Miskien het tannie gelyk, maar … maar ek begin rusteloos word. Ek is nie gewoond om so ledig te wees nie. Maar goed. Ek sal nog ’n paar dae wag,” gee sy onwillig toe. Sy sou so graag weer rigting in haar lewe wil kry. Hierdie rigtinglose bestaan van die afgelope veertien dae was wel heerlik en seker ook noodsaaklik vir haar om haar ewewig terug te kry, maar ledigheid is die duiwel se oorkussing. Baie ledige ure bring mee dat die duiwel genoeg tyd kry om allerhande gedagtes in jou kop te prop en allerhande onsinnige vrae en vrese en spoke by jou op te tower.
“Maar as jy regtig iets wil doen om jou besig te hou, kan ek jou miskien tydelik help,” hoor sy oom Alwyn op ligte toon sê. “My sekretaresse wil ’n week verlof neem om na haar ma, wat ongesteld is, te gaan. As jy wil, kan jy gerus dié week in my kantoor kom help, dan stapel die werk nie so op nie.”
“Ag, Alwyn, die kind voel seker nog nie lus vir kantoorwerk nie,” begin tant Bettie protesteer, maar Deidre gryp na die kans.
“O, ek verlang na so iets, tannie!” sê sy dadelik. “Dit sal my sommer die kans gee om weer in die ding te kom. Ek doen dit graag, oom Alwyn.”
Deidre is verbaas dat sy so gou weer in die kantoorroetine inpas en dit voel soms vir haar asof sy nooit weg was nie, maar nog altyd agter ’n rekenaar gesit het. Die twee jaar dat sy sangeres was, raak al meer ’n fantastiese droom wat sy net in haar verbeelding belewe het.
Een middag is sy besig om die pos te sorteer, toe sy op ’n brief afkom wat skielik haar hart binne-in haar laat ruk. Hierdie handskrif sal sy tussen duisende uitken. Sy doen haar bes om die posstempel te ontsyfer, maar slaag nie daarin nie. Dis of daar ’n gewig van haar hart afrol. Neil is dus nie in die stad soos sy vermoed het nie. Die brief kom van ’n ander plek, dus moet hy seker met verlof wees. Dis seker daarom dat sy hom nog nie gewaar het nie, vertel sy haarself met ’n ligte hart. Sy neem ook sommer dadelik die pos in na oom Alwyn. Vandag is die dag dat sy hom ook sommer direk oor Neil gaan uitvra. Hierdie geheimsinnige stilswye is nou sommer pure bog.
Sy plaas die stapel briewe voor hom op die lessenaar neer met Neil se brief heel bo en bly langs sy stoel staan.
“Dis mos Neil se handskrif daardie, nie waar nie, oom Alwyn?” sê-vra sy en maak asof sy nie sy vlugtige blik opmerk nie. “Hoe gaan dit met hom?”
“E … e … baie goed van wat ek laas gehoor het. Dankie, Deidre.”
Sy stem vertel haar duidelik dat hy verwag dat sy na haar kantoor moet terugkeer en hom alleen met sy stapel pos … en Neil se brief moet los. Hy frons toe hy sien dat sy op die leunstoel voor sy lessenaar gaan sit en daar is iets in haar blou oë wat hom vertel dat hy nie gou van haar ontslae gaan raak nie. Sy hartspiere trek effens saam. Sy kyk hom nou reguit aan, haar lippies vasberade.
“Oom Alwyn, hoekom vermy oom en tant Bettie Neil se naam sedert ek hier by julle kuier? Hoekom praat julle nie oor hom nie?”
Hy kug, ’n onomstootlike bewys dat hy ongemaklik is, en vroetel met die pos voor hom.
“Ag, nee, my kind, ek kan nie juis sê nie … Jy het nie gevra nie.”
“Nee, ek het nie, want ek kon duidelik sien dat julle nie oor hom wil praat nie. Is dit omdat Neil nog kwaad is vir my dat julle geen melding van hom maak nie? Is julle bang dat dit my seer of ongelukkig sal maak?”
Sy sien die verbasing in sy oë en sug saggies. Sy kyk af na haar hande. “Ja, ek weet niemand het my dit vertel nie, maar ek kon dit aflei. Ek weet Neil neem my dit nog steeds kwalik en is bitter teenoor my. Hy wil niks met my te doen hê nie, selfs nie noudat ek teruggekeer het nie, nè, oom?”
“Wel … wel, ja, my kind. Ongelukkig som dit min of meer die situasie op,” erken hy dan sonder om doekies om te draai.
Sy glimlag wrang teenoor haarself.
“Ek was ’n dwaas, nè, oom Alwyn? ’n Groot dwaas. Waar in die wêreld sal ek weer ’n vriend soos Neil vind? Hy was ’n … pa vir my. Dit het my die hele twee jaar gehinder dat ek en Neil op so ’n voet uiteen is, maar ek was te hardkoppig om ’n briefie aan hom te skryf en te sê ek is spyt oor die harde woorde. Ek het natuurlik ook daardie tyd nie besef hoe seer ek hom werklik moes gemaak het nie. Ek was soos ’n eie dogter vir hom. Maar ek was so behep met al die wonderlike vooruitsigte en beloftes wat op my gewag het, dat ek dié mense wat alles vir my in die lewe beteken het, se gevoelens onder my voete vertrap het, en bo-oor hulle geloop het asof hulle skielik opgehou het om vir my te bestaan.”
Die blou oë blink nou. “Ek kan Neil nie verkwalik as hy voel dat ek dit nie werd is om verwelkom te word nie. Ek verdien ook nie oom en tant Bettie se liefde nie.”
“My liewe kind, wat praat jy tog?” laat oom Alwyn ook aangedaan hoor. “Ek het jou reeds gesê dat ek en Neil net soveel skuld het, indien nie meer nie.”
“Maar Neil sien dit nie so in nie, nie waar nie?”
“Nee. Ek is bevrees nie,” erken hy fronsend. Hy kyk haar pleitend aan. “Deidre, moet hom nie te hard oordeel nie. Neil het jou … Neil was jou so gewoond sy hele lewe lank. Hy het jou aan die begin vreeslik gemis. Ons almal het.”
Sy laat weer haar blik sak. Met skaamte weet sy dat sy nie dieselfde kan sê nie. Sy het in ’n heel nuwe lewe ingestap, so vreemd, so anders as waaraan sy gewoond was, so romanties, so opwindend … dat sy aan die begin skaars gedink het aan die dierbare vriende wat sy agtergelaat het. Veral aan Neil Maritz wou sy nie dink nie, want sy was vir hom kwaad en baie teleurgesteld in hom. Dit was maar eers later, toe die eerste aardigheid begin taan, toe die skynglans afgewater begin raak, dat sy begin verlang het, baie verlang het na die ongekunstelde, opregte leefwyse wat sy geken het saam met oom Alwyn-hulle en Neil. Toe wou sy graag ’n briefie aan hom skryf sodat hy nie heeltemal vervreemd van haar moes raak nie, maar sy was te skaam, reeds te bewus van die geweldige kloof wat met verloop van tyd tussen hulle ontstaan het.
Hoe jammer is dit dat “jammer” altyd so lank, soms te lank uitgestel word, dink sy nou by haarself. As sy hom sommer daardie volgende dag uit Johannesburg gebel en om verskoning gevra het, weet sy, sou Neil haar vriend gebly het en sou hy vandag saam met oom Alwyn en tant Bettie weer deel van haar lewe kon wees … en deel van haar toekoms.
“Is hy met vakansie op die oomblik?” vra sy nou en onderdruk die bewing in haar stem.
“Vakansie!” Oom Alwyn lyk verbaas.
“Ja. Dis ’n vreemde posstempel.”
“O! Nee … e … nee, nie eintlik nie. Hy woon nou in daardie geweste.”
“Maar … doen hy dan nie meer navorsing nie? Hy sou dan …”
“So min of meer, maar nie heeltyds nie.”
Deidre frons. Sy moet behoorlik antwoorde uit oom Alwyn trek. Iets klink nie pluis nie. Haar stemmetjie klink heser, soos dit altyd is wanneer sy ontsteld is, toe sy direk vra: “Is Neil getroud?”
“Ge …” Oom Alwyn frons ook nou. “Moenie verspot wees nie, my kind. Natuurlik nie!”
“Ek kan nie sien dat so ’n gedagte verspot is nie. Neil is ’n aantreklike man en briljant in sy werk. Al wat meisie is, sal wat wil gee om sy vrou te word,” antwoord sy byna verontwaardig.
“Werklik?” As oom Alwyn se stem droog en net so effens sarkasties klink, merk Deidre dit nie op nie.
“Oom sê dit gaan goed met hom? Gesond en so aan?”
“Ja.” Nou klink oom Alwyn se stem baie duidelik bot en Deidre besef dat hy nie lus is om verder oor Neil te praat nie. Sy staan op terwyl ’n hoorbare suggie haar ontsnap.
“As oom met die kantoorsakies klaar is, wil ek oom graag ’n oomblik spreek, asseblief.”
“Waaroor?”
“Dis in verband met my geldsake. Ek móét nou presies weet waar ek staan. Ek moet weet hoeveel geld ek het.”
“Jy bekommer jou verniet so baie daaroor.”
“Maar ek móét weet, oom. Dan is daar nog iets. Norman het my verseker dat die geld wat ek destyds by oom geleen het en ook daarna, terugbetaal is. Ek wil nou net seker maak … Dit ís terugbetaal, nie waar nie?”
Die manier waarop oom Alwyn vinnig sy oë afwend en ’n volbloed kugaanval kry, laat haar frons en ’n ontstellende gedagte by haar opkom. “Oom Alwyn wil my tog nie vertel dat daardie geld nooit werklik terugbetaal is nie!”
“Ek … wel, my kind, ek … e …”
“Dit is nie terugbetaal nie, nè, oom? Dis toe nooit terugbetaal nie!”
“Wel, om presies te wees, nee, dit is nie.” Sy oë is ongemaklik en vol kommer op haar geskokte en hewig ontstelde gesiggie gerig. “Maar dis nie nodig om jou so daaroor te ontstel nie, my kind. Gelukkig is jou erfgeld nog veilig. Ek is innig dankbaar dat daardie geld destyds vas belê was, anders sou jy nie eens dít vandag gehad het nie.”
“Maar hoekom het oom my nie laat weet nie?” roep Deidre uit. “Oom het my die geld geleen en dit was ’n groot bedrag. Het oom dit dan nie intussen nodig gekry nie? Ai, oom Alwyn, as ek darem moet agterkom jy het jouself die afgelope jare tekort gedoen omdat ek met jou geld gesit het …”
“Nee, nee, my kind, wag, jy is onder ’n wanindruk. Ek … wel, jy sien, dit was nie eintlik ek wat jou die geld geleen het nie.”
“Nie oom nie? Wie dan?”
“Dit was … Neil.”
“Neil!”
“Ja … a … Deidre, ek het nie eintlik soveel geld op daardie tydstip los gehad nie, bedoel ek,” verduidelik hy onsamehangend. “Ek weet ek het jou onder die indruk gebring dit was ék wat jou die geld geleen het, maar … maar dit was omdat Neil dit so wou hê. Dit was egter hý wat die geld voorgeskiet het. Hy wou nie dat jy agterkom dit was hy wat jou help nie, want hy was oortuig dat jy geen hulp, geldelik of andersins, daardie tyd van hom sou aanvaar nie.”
“Maar hoekom het hy dit gedoen?” wil Deidre in ’n hewige hees stemmetjie weet. “Hy was so bitter gekant teen my nuwe loopbaan en tog het hy dit deur sy finansiële hulp vir my moontlik gemaak!”
Oom Alwyn knik.
“Ja, my kind. Dis reg. Hy het dit gedoen. Maar dis Neil, nie waar nie?”
’n Oomblik is dit stil in die kantoor terwyl elkeen met hul eie gedagtes besig is.
Oom Alwyn onthou nog hoe hy met Neil geredeneer het, veral nadat Deidre se bestuurder ’n paar maande later ’n herhaling van die eerste bedrag gevra het.
“Neil, jy kan nie weer so ’n groot bedrag sommer net weggee nie! Jy het geen bewys daarvan nie en nog minder enige sekerheid dat jy dit ooit sal terugkry!” het oom Alwyn gepleit. “Liewe hemel, wat maak hulle met al die geld? ’n Mens moet behoorlik mors met geld om soveel duisende rande in drie maande uit te gee!” het die spaarsamige prokureur uitgeroep.
Neil het sonder ’n woord sy skouers opgetrek, sy tjekboek uitgehaal en nog ’n tjek uitgeskryf.
“Neil, asseblief, besin jou! Hierdie Norman Zietsman sal jou rot en kaal uittrek!”
“Ek gee dit nie vir Norman Zietsman nie. Ek gee dit ook nie vir Deidre nie. Dis ter wille van haar ouers en wat hulle vir my as kind beteken het, die mooi vriendskap wat daar was en … Verduiwels, oom Alwyn, wil jy Deidre dakloos en honger in Johannesburg se strate sien rondloop! Wat kan ek anders doen?”
Oom Alwyn het met groot begrip gekyk na die gesig waarin diep, streng lyne die afgelope maande verskyn het.
“My seun, jy jaag vir jouself verniet spoke op. Haar eerste CD’s was ’n groot sukses. Jy … jy gee nog baie vir haar om, nè, Neil?”
Die aantreklike gesig het styf en ontegemoetkomend geraak, die stem kortaf.
“Dit maak nie saak wat ek voel of nie voel nie. Dit behoort in elk geval aan die verlede.” Dit was selfs smalend bedoel. “Moenie ’n romantiese beweegrede agter my vrygewigheid soek nie, oom. Ek gee dit omdat ek in ’n mate verplig voel om dit te doen, omdat sy voor my grootgeword het en omdat ek haar ma beloof het ek sal na haar omsien. Maar aangesien sy my pligsgevoel teenoor haar lastig en vervelig en … baie onwelkom vind, is ek noodgedwonge verplig om haar haar gang te laat gaan. Maar ek kan nog op hierdie manier help … al is sy nie bewus daarvan nie. Sorg asseblief dat sy die geld môre kry.”
Oom Alwyn het besef dat dit hom nie sou baat om verder oor hierdie saak te redeneer nie. Neil Maritz was vol verbittering teenoor Deidre. Hy het nie een keer in die maande wat verby is, gevra of hulle iets van haar gehoor het of ooit eerste haar naam genoem nie. Elke keer dat oom Alwyn of tant Bettie dit gewaag het om Deidre se naam te noem, het hy styf en afsydig geraak en geen belangstelling getoon nie. Later het die ou mense liewer Deidre se naam uit hul gesprekke gehou wanneer Neil in die geselskap was. Tog het hy twee keer groot bedrae geld sonder sekuriteit aan Deidre gegee, en vandag klink sy redes hoekom hy dit gedoen het vir oom Alwyn nog flouer as toe.
Deidre is te verslae ná hierdie nuwe onthulling om rasioneel daaroor te dink. Hoekom Neil so iets gedoen het en nooit sy geld teruggeëis het nie, is vir haar ’n raaisel. Was hy nog die ou vriend wat sy geken het, sou dit nie vir haar snaaks gewees het nie, want sy ken Neil en weet hoe goedhartig hy werklik is. Maar hulle is as kwaaivriende, amper vyande, uiteen. Hy was bitter gekant teen haar nuwe loopbaan en haar nuwe bestuurder. Hy het haar skaars gegroet! En tog was hy die man wat haar daardie klomp geld voorgeskiet het toe sy sonder ’n sent gesit het … ’n groot bedrag geld wat nou nog nie terugbetaal is nie!
Sy kyk vinnig op.
“Oom Alwyn, daardie geld moet onmiddellik, plus rente, aan Neil terugbetaal word,” laat sy beslis hoor. “Hoe gou kom my erfgeld los?”
“Deidre, ek dink nie Neil verwag terugbetaling nie. Hy het altans nog nooit die afgelope twee jaar daarna verwys nie en elke keer dat ek met hom daaroor wou praat, het hy my stilgemaak.”
“Oom, maar … bedoel oom dat hy dit sommer net vir my gegéé het?”
“Ja. Dit is soos ek hom verstaan het.”
Deidre staan op.
“Elke sent moet so gou moontlik terugbetaal word, plus rente,” herhaal sy vasberade.
“Dit sal omtrent al jou erfgeld insluk, my kind.”
“Wat maak dit saak? Ek wil nie ’n dag langer in die skuld wees by ’n man wat my verag en haat nie. O, as ek net van die begin af geweet het!”
“Deidre, ek twyfel of hy die geld sal terugneem,” begin oom Alwyn aarselend, maar swyg toe die blou oë vuurvonke op hom skiet.
“Ek sal hom nie vra nie. Hy sal dit net eenvoudig terugvat. Ek sal hom dit láát terugvat!”
“Wag nou, my kind. Niemand kan Neil iets laat doen as hy nie wil nie. Dit weet jy so goed soos ek. Laat ek hom eers kontak en die saak taktvol aanvoor –”
“O, nee! Nee, oom Alwyn, dit spyt my, maar hierdie keer maak ek my sake … en my skulde … self reg,” val Deidre hom ongeduldig in die rede. “Wat is Neil se adres? Ek sal persoonlik na hom gaan en sy geld gaan teruggee en hom … bedank.”
Sy moet hard sluk aan die knop van hartseer en vernedering in haar keel. Op hierdie oomblik kom haar harde woorde van die verlede baie helder in haar op. Sy het hom reguit gesê dat hy sy neus in die toekoms uit haar sake moes hou. Sy het hom ewe manhaftig vertel dat sy op eie bene gaan staan, dat sy sonder sy hulp en vriendskap sal kan klaarkom. En vandag moet sy hoor dat sy juis die teenoorgestelde gedoen het. Sy het op die man wat sy uit haar lewe gestamp het, se geld geteer, geld wat vandag nog nie terugbetaal is nie, wat sy nog aan hom skuld. Hoe lekker moes hy nie in sy mou gelag het nie – vir haar onafhanklikheid, haar uitdagende houding, haar wonderlike bestuurder! Sy kan in haar verbeelding sien hoe sy mond smalend getrek het toe haar versoek om ’n tweede lening by oom Alwyn opdaag. Met watter heerlike leedvermaak en gevoel van oorwinning moes hy nie ook die tweede tjek uitgeskryf het nie! Deidre kan nie sonder hom klaarkom nie! Ten spyte van haar wonderlike nuwe loopbaan moet hy haar darem nog aan die lewe hou! Arme klein gek!
“Ek sal jou nie Neil se adres gee nie,” val oom Alwyn se stem haar verbitterde gedagtegang in die rede.
“Hoekom nie?”
“Omdat hy my verbied het. Dit geld nie net vir jou nie, Deidre,” vervolg hy vinnig. “Dit geld vir almal. Ek mag nie sy adres aan enigiemand verstrek nie. Alle korrespondensie van hom gaan deur my kantoor.”
“Maar hoekom?” wil Deidre koppig weet en oom Alwyn sug. Daar het geen ander genade oorgebly nie. Hy sal haar moet vertel.
“Dis mos al amper anderhalf jaar dat Neil hom teruggetrek het en ’n soort kluisenaarsbestaan voer. Hy woon op ’n afgesonderde plasie, eintlik ’n kleinhoewe, êrens langs die kus. Hy ontvang geen mens nie. Selfs vir my laat hy net toe om daar te kom as dit in verband met sake is. Hy wil met niemand iets te doen hê nie. Hy sal jou ook nie ontvang nie.”
“O, nè? Wel, ons sal sien! Hy kan my daarna uitsmyt as hy wil, maar ek gaan persoonlik sy geld aan hom oorhandig. Ek het ’n paar dingetjies om aan hom te sê.”
“Hy sal jou nie toelaat om dit te sê nie, my kind. Deidre, luister nou na my. Laat asseblief die saak daar, of laat dit aan my oor. Bly asseblief weg van Neil af!”
“Ek weier! Al klap hy die voordeur in my gesig toe, dan klim ek deur die laboratoriumvenster …”
“Daar is nie so iets nie.”
Sy frons.
“Wat bedoel oom? Hy doen mos navorsing, nie waar nie?”
“Nee. Nie meer nie.”
“Nie meer nie!” Sy lyk openlik geskok en oom Alwyn se stem klink baie stil toe hy knik en vervolg: “Hy kan nie.”
Sy verbleek. “Bedoel oom dat hy as gevolg van sy vrygewigheid aan my nie genoeg geld het nie …?”
“Nee! Nee! Geld het niks met die saak te doen nie,” laat oom Alwyn vinnig hoor. “Daar is ’n ander rede, maar … maar dit het niks met jou te doen nie,” en sy stem klink regtig onvriendelik.
Deidre se verwarring neem toe. Dan raak sy kwaad. Sy is nou moeg vir hierdie kat-en-muis-speletjie.
“Oom Alwyn kan my maar net sowel vertel wat aangaan. Ek sal dit tog die een of ander tyd uitvind. Wat is dit?”
“Deidre, dit is nie my of jou saak nie, dis Neil s’n. As Neil moet agterkom ek het jou vertel … Hy het my en die tante baie beslis verbied om dit ooit teenoor jou te noem.”
“Ek verstaan. Maar, oom, ek is net so beslis om vas te stel wat aangaan. Ek is net so beslis om sy geld persoonlik aan hom te gaan oorhandig. Dus …” Sy kom nader. “Vertel my maar asseblief, toe wat! Hoekom doen Neil nie meer navorsing nie? Of liewer, hoekom kan hy nie, soos oom dit gestel het?”
Oom Alwyn sug. Dan kyk hy in Deidre se vraende blik op. “Hy kan nie, my kind, omdat hy al vyftien maande lank blind is.”