Читать книгу Ena Murray Keur 6 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

“Hoe gaan dit hier, suster?” hoor die meisie op die bed ’n man se stem agter digte newels vra, en ’n vrouestem wat hom antwoord.

“Sy het vandag die eerste tekens van rusteloosheid begin toon.”

“Dis gaaf. Wel nie veel nie, maar darem beter as niks.”

“Ja. Ek wens sy wil nou uit hierdie doodsheid kom. Dit begin nou al op my senuwees ook werk. Jy is baie bekommerd oor haar, nie waar nie, dokter?”

“Ja. Ek wag gretig op die geringste teken van lewe by haar, maar tog vrees ek ook die oomblik dat sy haar bewussyn sal herwin.”

Deidre hoor die man sug. “Dis vir my nog verbasend dat haar verswakte gestel die dubbele longontsteking sonder noodlottige gevolge kon verduur het, maar waarvoor ek die meeste bang is, is vir wat haar gees sal moet verduur wanneer sy haar bewussyn herwin.”

“Is jy dan seker dat sy … ?” vra die vrouestem aarselend, asof sy bang is om haar sin te voltooi, en die dokter knik sy kop.

“Ek kan dit eers met sekerheid vasstel wanneer sy bygekom het, maar ek is byna oortuig dat my vermoedens juis is. Bid jy maar, suster, dat ek hierdie keer verkeerd is … ter wille van haar.”

Deidre hoor die man se voetstappe wegsterf en sy weet dat die vrou by haar bed agtergebly het. Sy hou egter haar oë gesluit. Daar is ’n vreemde onwilligheid in haar om hierdie mense te laat agterkom dat sy wel al haar bewussyn herwin het. Dis of die swart newels wat haar al so lank omring, nie meer so skrikwekkend is as aan die begin nie. Inderdaad het dit ’n veilige sluier vir haar geword waaragter sy kan skuil, want iets diep binne-in haar vertel haar dat daar iets ontsettends op haar wag die oomblik wanneer sy van agter die donker newels te voorskyn sal tree. En sy deins daarvan weg. Sy wil nie, wíl nie na die werklikheid terugkeer nie. Dis so heerlik om sommer net so rond te dryf in ’n wêreld van niks. Sy voel so veilig, so beskerm. Dis of niks haar kan raak nie. Niks van die buitewêreld kan haar hier bereik nie. Niks kan haar seermaak nie. Aan die ander kant van hierdie newels, weet sy, is daar hartseer, is daar ’n stryd wat op haar wag. Maar solank sy aan hierdie kant bly, is daar niks te vrees nie.

Maar hoe graag die mens ook al aan die werklikheid wil ontsnap, kom daar noodgedwonge die oomblik dat jy teen wil en dank daarna moet terugkeer. Dit besef Deidre ná ’n rukkie. Sy sal nie vir ewig hierdie skynkoma kan handhaaf nie. Die een of ander tyd sal sy deur die digte newels móét stap.

Sy roer weer onrustig en onmiddellik voel sy ’n koel hand teen haar voorkop druk.

“Juffrou Retief?” sê-vra die vrouestem bokant haar kop, en stadig, teësinnig lig sy haar swaar ooglede op. Suster Basson slaak ’n suggie van dankbaarheid toe sy herkenning in die blou oë lees. Haar pasiënt is eindelik by haar volle bewussyn. Sy glimlag gerusstellend.

“Dokter Beneke sal baie bly wees om te hoor dat jy bygekom het. Hy het gesê ek moet hom dadelik laat weet sodra dit gebeur. Ek gaan hom dadelik soek. Ek is nou terug.”

Deidre sluit dadelik weer haar oë toe die witgeklede figuur uit haar gesigsveld verdwyn. Haar ooglede voel te swaar om oop te hou. Daar is ’n leegheid in haar verstand sodat sy aan niks lê en dink terwyl sy op dokter Beneke se verskyning wag nie. Sy het gedink dat sy die oomblik dat sy weer haar oë sluit, die donker, vriendelike newels na willekeur sal kan terugroep om weer agter hulle te skuil, maar hulle is nie daar toe haar ooglede toeval nie. Dis of daar net ’n vae mistigheid op die horison huiwer en sy weet die newels het vir goed verdwyn. Sy het eindelik na die ander kant oorgestap en daar is geen terugkeer meer nie.

“Juffrou Retief, Deidre …” hoor sy ’n bekende stem langs haar bed sê en weer dwing sy haar ooglede moeisaam oop. Sy herken die gesig wat oor haar buig. “Hoe gaan dit? Hoe voel jy?”

“Niks.” Net een woordjie, maar dokter Beneke en die suster wissel vinnig ’n dankbare blik. Sy kan nog praat!

“Niks seer nie?”

“Nee.”

“Deidre …” Hy lag verskonend. “Verskoon dat ek jou sommer so eiegeregtig op die voornaam noem, maar jy is al ’n hele tydjie hier by ons en het al soos een van ons geword. Wat ek wou sê …”

“Hoe lank?”

“Al langer as ’n week.” Hy sien die verbystering in haar oë en knik. “Ja, dit is so. Jy was baie siek, my kind. Jy het dubbele longontsteking opgedoen. Jy was die hele tyd bewusteloos en wou net-net uit ons hande glip. Maar nou is jy weer terug by ons en van nou af gaan jy gesond word. Dit sal ’n langsame proses wees en jy sal geduldig moet wees, maar een van hierdie mooi dae sal jy weer uit hierdie hospitaal stap.”

Haar ooglede val weer toe. Sy was baie siek, sê dokter Beneke. Meer as ’n week bewusteloos. Dubbele longontsteking … Wat het dan gebeur? Iets roer in haar gedagtes, maar sy is te moeg om te konsentreer. Die een of ander tyd sal dit haar wel byval …

Die eerste keer in baie dae sink sy in ’n natuurlike slaap weg en dokter Beneke kom orent.

“Die krisis is verby. Nou moet ons haar liggaam so sterk moontlik kry vir die volgende krisis.”

Die suster kyk hom ontsteld aan.

“Maar … ek verstaan nie, dokter. Jou vrese behoort nou besweer te wees. Sy kan praat, en dis waarvoor jy bevrees was, nie waar nie, dat sy haar stem heeltemal verloor het?”

“Ja, ek was daarvoor bang en dank die goeie Vader dat dit nie gebeur het nie. Die oomblik toe ek haar daardie aand buite die stadsaal opgetel het in die dun aandrok, die snerpende koue wind op haar ontblote keel en bors, was ek seker dat sy nie anders kan as om haar stem geheel en al te verloor nie. Haar stembande was juis al so kwaai aangetas en is toe nog met die singery ooreis. Sy kan nog praat … maar ek is bevrees dis al wat sy in die toekoms sal kan doen.”

“Dokter! Jy … jy bedoel sy sal nooit weer kan sing nie? O, nee!” roep suster Basson geskok uit.

“Jou eerste gebed is verhoor, suster. Bid weer. Miskien sal hierdie een ook verhoor word. Miskien is ek sommer net pessimisties. Op die oomblik is daar egter niks anders te doen as om te wag nie. Dis nog te gou om te sê.”

Die volgende oggend, in die vroeë ure van die môre, word Deidre met ’n helder verstand uit haar diep slaap wakker. Sy is onmiddellik bewus van haar omgewing en hoekom sy hier is. Herinneringe aan daardie folterende oomblikke op die verhoog toe haar eie ore haar vertel het dat daar wanklanke uit haar mond kom en nie die helder note waaraan sy gewoond is nie, spoel deur haar. En toe die klimaks … en haar stembande wat geweier het om ’n enkele geluidjie voort te bring. Sy weet dat sy van die verhoog af gestrompel het. Sy onthou daar was op daardie oomblik net een drang in haar, en dit was om weg te kom, weg van die starende oë van die groot gehoor, weg van die simpatie in die dirigent se blik en … weg van Norman. Sy onthou dat sy na buite gevlug het … en die wind was yskoud teen haar kaal keel. Toe het iemand haar aan die arm gegryp … ’n man … en toe het die genadige, vriendelike swart newels haar omring.

Maar sy is nog te swak om ontsteld te wees oor hierdie herinneringe. Dis of sy op ’n episode in iemand anders se lewe terugkyk en nie haar eie nie. Dis of dit haar koud laat. Selfs by die gedagte aan Norman kom daar geen warmte in haar hart nie. Waar is hy? wonder sy sonder belangstelling. Waar was hy hierdie tien dae toe sy tussen hemel en aarde in die hospitaal gehang het? Was hy al hier of … is hy nou so kwaad en teleurgesteld in haar omdat sy hom gefaal het dat hy sommer sonder ’n woord uit haar lewe gestap het? Maar ook hierdie gedagte wek geen emosie in haar op nie.

Wat Deidre op hierdie oomblik nog nie weet nie, is dat sy nie net dubbele longontsteking gehad het nie, maar dat gepaard daarmee ’n totale ineenstorting gevolg het. Eindelik het haar brose liggaampie teësinnig begin reageer op dokter Beneke se desperate pogings om haar na die lewe terug te dwing, maar geen behandeling van hom kon lewe in haar dooie gees bring nie. Dis of alle gevoel binne-in haar met ’n mes afgesny is, of sy net uit ’n liggaam bestaan wat sy biologiese funksies verrig en dis al. ’n Leë dop. Dis wat sy geraak het.

En dis heerlik om so te voel, dink sy. Dis heerlik om geen gevoel in jou te hê nie, niks om jou oor te bekommer nie, niks om te vrees nie, niks om oor bly te wees nie. Jy haal net asem, dis al. Daar word niks meer van jou verwag nie. Aan die ander kant van die deur, in die lang hospitaalgange en buitekant haar venster, gaan die lewe by haar verby. Dis ekstaties om daarna te lê en luister en te weet jy het geen deel daaraan nie. Laat hulle aan die ander kant van die deur en buite die venster maar voortsukkel en voortstry. Sy is totaal afgesonder van al daardie dinge, heerlik toegespin in ’n kokon van vergetelheid.

Toe Norman Zietsman daardie middag haar kamer binnestap, is daar geen teken van herkenning op die uitdrukkinglose gesiggie teen die wit kussing nie. Sy hoor hom praat, maar dis of die betekenis van sy woorde nie tot haar deurdring nie. Sy lê en beskou hom asof hy ’n totale vreemdeling is. Afsydig merk sy op dat sy blik rusteloos deur die kamer dwaal en selde direk op haar rus. Sy sien die gespanne lyne op sy gesig, die senuweeagtige trekkie om sy een mondhoek. Toe hy ná enkele minute oor haar buk en sy lippe baie liggies teen haar voorkop raak, is dit iets om te verdra soos wanneer suster Basson haar bed kom regtrek. Toe die deur weer agter hom toegaan, is sy skaars bewus daarvan dat sy ’n besoeker gehad het.

Dis moeilike weke wat volg, moeilike weke vir dokter Beneke en suster Basson, wat alles in hul vermoë doen om Deidre weer mens te laat word, maar heerlike, salige weke vir die meisietjie wat wasbleek in die hospitaalbed lê. Deidre se verblyf in die hospitaal is baie langer as wat dokter Beneke aanvanklik vermoed het. Haar liggaam raak teen wil en dank gesond, maar haar gees weier om na die werklike lewe terug te keer. Eindelik nader dokter Beneke ’n psigiater.

“Ek kan niks meer vir haar doen nie, Jack. Op my terrein is sy gesond, kon sy dae gelede al huis toe gegaan het. Maar ek kan haar nie in hierdie geestestoestand ontslaan nie. Ek het haar liggaam gesond gemaak, maar jy sal my moet help om haar gees gesond te kry.”

Dokter Jack Truter knik.

“Dis ’n moeilike situasie. Daar het julle mediese mense dit baie makliker as ons. Julle kan ’n liggaam wat vermorsel is, stukkie vir stukkie weer opbou en dit dwing om gesond te word met behulp van jul toerusting en medisyne. Die sielkundige, daarenteen, moet die pasiënt se samewerking ten volle hê, anders help sy pogings nie veel nie. Soos dit my voorkom, wil Deidre Retief nie saamwerk nie.”

“Maar daar behoort tog iets te wees wat jy kan probeer, Jack. Wat van skokbehandeling?”

“Ek het ook al daaraan gedink, maar nie die soort waaraan jy dink nie. Is jy baie seker van die bevinding wat jy gemaak het?”

“Honderd persent. Lategan en Cilliers stem saam met my. Daar bestaan geen twyfel nie,” antwoord Beneke beslis.

“In daardie geval stel ek voor dat jy haar dit vertel, sonder om doekies om te draai. Reguit. Op die man af. Dis die skokbehandeling wat ek voorstel.”

Dokter Beneke kyk die psigiater ernstig aan.

“Dink jy regtig so? Ek het weer gedink dit sal uiters gevaarlik wees om haar dit nou te vertel terwyl sy nog in so ’n toestand is. Kan dit nie ’n tweede ineenstorting, erger as die eerste, teweegbring nie?”

“Moontlik. Dis nie uitgesluit nie. Maar my eerlike mening is dat dit die enigste ding is wat haar uit hierdie belangelose doodsheid sal ruk. Ek dink ons moet dit waag. Die een of ander tyd sal sy dit in elk geval moet hoor en verwerk. Sy kan nie vir ewig teen die werklikheid beskerm word nie. Hoe gouer sy die waarheid aanvaar, hoe beter is haar kanse op algehele herstel.”

Hy sien die aarseling op dokter Beneke se gesig en vervolg: “Kry nog ’n psigiater se mening.”

“Nee! Nee! Ek weet dis nie nodig nie. Ek het volle vertroue in jou oordeel. Dis net … Dit klink so drasties in hierdie stadium.”

“Sy het drastiese behandeling nodig.”

“Ja.” Dokter Beneke sug en staan op. “Wel, hoe gouer dit agter die rug kom, hoe beter. En hoe gouer sal ons weet of ons behandeling op sukses of ’n fiasko uitgeloop het. As daardie verloofde van haar net ’n bietjie meer ruggraat gehad het …”

“Norman Zietsman, nè? Ja, ek moet sê hy toon nie veel belangstelling nie.”

“Dis ’n skuldige gewete wat so maak,” vaar dokter Beneke ontsteld uit. “Hy weet dat hy vir Deidre se toestand verantwoordelik is. Hy weet ook dat hy vir die tragedie in haar lewe verantwoordelik is. Ek sê jou ek sal glad nie verbaas wees as hy nou kleinkoppie gaan trek en sy verhouding met Deidre verbreek nie. Volgens my eerlike mening is sy egter beter af sonder hom as met hom.”

“Dus dink jy nie sy sal op sy bystand kan staatmaak nie?”

“Beslis nie. Ek dink ek het Norman Zietsman raak opgesom. Solank Deidre vir hom roem en geld in die sak kon bring, was sy goed. Maar noudat sy nutteloos vir hom geraak het, twyfel ek of sy danige liefde lank gaan hou. Die arme kind. Daar wag vir haar ’n vuurproef en sy sal dit alleen moet deurmaak.”

’n Ruk later neem dokter Beneke op onprofessionele wyse langs Deidre op die bed plaas en vou een van die handjies, benerig van maerte, in syne toe.

“Hoe gaan dit?” vra hy die ou bekende vraag en die nou bekende antwoord kom dadelik.

“Goed, dankie.”

“Geen pyn?”

“Nee.”

Sou sy al agtergekom het dat haar stem nog steeds hees en effens krakerig is, wonder hy met sy oë peinsend.

“Deidre … daar is iets wat ek jou moet vertel, iets wat nie so aangenaam vir jou sal wees om te hoor nie.”

Hy hou haar fyn dop, maar daar kom geen verandering op die uitdrukkinglose gesiggie nie. Sy sit regop teen die kussings, haar oë op sy gelaat gerig, wagtend sonder merkbare emosie. Haar strak blik ontsenu hom vandag, hoewel hy al teen hierdie tyd daaraan gewoond behoort te wees.

“My kind, ek is baie jammer om jou dit te sê, maar … jy sal nooit weer kan sing nie.”

Hy aarsel net ’n breukdeel van ’n sekonde en gaan dan voort: “Dis ook dokters Cilliers en Lategan se bevinding. As dit vir jou tot enige troos sal wees, moet ek dit benadruk dat jy dankbaar moet wees dat jy nog kan praat. Jou stembande was baie ernstig aangetas en is boonop hopeloos ooreis toe jy daardie aand gaan sing het. Die snerpende koue wind daarna het die finale skade aangerig. Dit spyt my, Deidre, dit spyt my werklik, maar ek kan nie anders as om reguit met jou te praat nie.”

“Ek … sal … nooit weer … kan sing nie?” sê-vra die hees stemmetjie en daar is ’n frons op haar voorkop asof sy alles moet inspan sodat daardie feit in haar verstand kan registreer.

“Nooit weer nie, Deidre.”

Dokter Beneke sou later nie kon sê hoe lank hulle so doodstil gesit het nie. Die eerste beweging, die eerste woorde, het van haar kant gekom.

“Laat my asseblief alleen.”

In die deur het dokter Jack Truter vir hom geknik en saam het hulle die vertrek verlaat. Ongesiens het suster Basson haar plek agter die deur ingeneem.

Ure gaan verby waarin haar blik beangs en bekommerd en met innige jammerte op die bleek gesiggie met die geslote oë rus. Toe, skielik, het daar beweging in die roerlose gestaltetjie gekom. Met ’n wilde swaai keer sy om en druk haar gesig in die kussing. Die eerste keer vandat sy bewusteloos hierdie kamer ingedra is, skeur rou snikke deur haar. Asof die twee mans net buite die deur gestaan en luister het, gaan die deur skielik oop en die dokters kom binne. Dokter Truter keer sy vriend toe hy dadelik wil nader stap.

“Laat haar huil,” sê hy gedemp. “Laat haar goed uithuil. Oor ’n uur kan ons haar ’n inspuiting gee. Ek dink, my vriend, ons skoktaktiek het gewerk. Sy het eindelik weer begin lewe.”

Dit was vir Deidre ’n pynlike proses om weer te begin lewe. Hóé pynlik, het net sy geweet. En tog moes dokter Beneke in hierdie dae stil verbaas toekyk hoe ’n nuwe Deidre gebore word, en in stilswyende bewondering moes hy opnuut besef hoeveel smart die menslike gees werklik kan verduur. Vir hom was dit net ’n wonderwerk dat Deidre uit hierdie vuurproef kon tree sonder dat haar gees onherroeplik beskadig is, en tog het dit begin blyk, soos die dae verbygegaan het, dat sy bo die pyn en teleurstelling sal uitstyg.

Ook Deidre moes in hierdie dae, nes dokter Beneke, ou waarhede opnuut leer ken. Sy moes opnuut tot die ontdekking kom dat die wêreld nie gaan stilstaan oor die smart en teleurstelling van een mens nie, al is dit ook die smart en teleurstelling van een van die grootste sangeresse van haar land. Sy moes ook leer dat die wêreld ’n kort geheue het, en dat die mensdom baie gou vergeet. Wel was die hele land diep geskok deur die gebeure. Die blyke van meegevoel van bekendes en onbekendes wat sy ontvang het, getuig van hul simpatie. Maar nou, ná weke, nadat hulle hul simpatie klaar betuig het, is sy alleen gelaat om self uit die ruïnes van gister ’n nuwe lewe op te bou. Haar ster het verskiet, vinnig, onverwags, op wrede wyse, en niks en niemand sal dit ooit weer aan die firmament kan terugplaas nie.

Sy is nie eens toegelaat om ’n flentertjie van gister te behou nie. Saam met haar sangstem het haar verloofde ook in die niet verdwyn. Weliswaar kom besoek hy haar nog gereeld, al is dit net ’n paar minute, maar sy weet dis uit plig en nie uit liefde nie. Sy het reeds die terugtrekking in hom gewaar. Die manier waarop sy oë altyd haar direkte blik ontwyk, spreek boekdele. Intuïtief weet sy dat Norman Zietsman geen deel aan die nuwe, leë toekoms wat voor haar uitstrek, sal hê nie.

Toe Norman dan ook weer een middag sy opwagting maak, besluit sy dat vandag net so goed soos enige ander dag sal wees om sake tussen hulle tot ’n punt te bring.

Hy lyk vanmiddag rusteloser as die ander besoekdae, en ná ’n rukkie vra sy reguit: “Wat is dit, Norman? Ek kan sien daar is iets wat jou hinder.”

’n Ruk gaan deur hom asof hy nie verwag het dat sy hom so ’n reguit vraag sal vra nie, en Deidre vervolg gelykmatig: “Ek kan lankal sien daar is iets wat jou pla. Het jy jou ring kom terugvra?”

Hierdie keer betrap sy hom heeltemal onverhoeds en hul oë ontmoet mekaar die eerste keer direk. Stadig maar doelbewus trek sy die verloofring van haar vinger af en hou dit na hom uit. “Dis nie nodig om so ongemaklik te lyk nie, Norman,” gaan die egalige, hees stemmetjie voort. “Ek dink dis die beste. Daar is niks meer wat ons bind nie.”

Hy wend darem ’n poging tot verweer aan.

“Maar … is jy seker jy wil dit so hê, Deidre? Ek gee nog baie vir jou om, meisie.”

“Ja, ek glo dit, maar dis nie liefde nie, Norman.” Sy hou haar hand omhoog toe hy wil protesteer. “Ons het dit van die begin af geweet, Norman. Dit sou miskien nie soveel saak gemaak het as alles verloop het soos ons dit beplan het nie. My sang sou ons aan mekaar gebind het en mettertyd sou daar miskien ’n sterker band van gevoel tussen ons gegroei het. Maar nou … Ek gee ook baie vir jou om, my vriend, en ek is baie dank aan jou verskuldig vir wat jy die afgelope twee jaar vir my gedoen en beteken het.”

Norman is die eerste keer in jare rooi van verleentheid.

“Is dit nodig om sarkasties te wees, Deidre? Ek weet ek is die oorsaak dat jy …”

“Nee, Norman. Asseblief, ek wil nie hê dat jy jou hieroor moet verwyt nie. Ek het net soveel skuld aan wat gebeur het. Ek moes jou eerlik vertel het dat ek nog ellendig en siek gevoel het.”

“Deidre, ek kan sweer dat ek regtig gedink het jy voel nie meer so sleg nie en dat jy sal kan sing,” laat hy dringend hoor, en sy glimlag gerusstellend.

“Ek weet, Norman. Ek het eerlik geen verwyt in my hart teenoor jou nie.” Sy sê dit met oortuiging omdat dit werklik die waarheid is. In die eerste bitter dae het sy hom verwyt. Maar nie meer nie. Sy kan op hierdie oomblik na hom kyk met ’n onpersoonlike gevoel in haar hart. Norman Zietsman was deel van ’n sekere fase in haar lewe. Daardie fase is nou afgesluit en sy het geen gevoel oorgehou nie – nie van haat nie, nog minder van verwyt of hartseer teenoor hom. Juis omdat dit so is, weet sy dat sy hierdie man nooit liefgehad het nie. Dit was dankbaarheid en afhanklikheid wat haar toegelaat het om aan hom verloof te raak.

“Wat … wat is jou planne?” vra hy toe hy eindelik die ring by haar neem en in sy baadjiesak laat glip.

’n Oomblik stoot die ou bitterheid weer in haar op en haar mond trek wrang.

“Ek het geen planne nie.” Dan ruk sy haar reg en sê met die gelatenheid wat die afgelope tyd van haar besit geneem het: “Ek sal wel weer vir my ’n plekkie in die son vind. Jy hoef jou nie oor my te bekommer nie, Norman. Wat is jóú planne?”

“Ek …” Hy lyk weer ongemaklik, en Deidre besef dat hierdie man reeds nuwe planne begin smee het, planne wat sy baie seker is haar nie insluit nie. Maar dit kan haar nie ontstel nie. “Elsa Grünewaldt is toe daardie aand gekies en … en sy het my gevra …”

“Maar dis wonderlik, Norman. Ek het verwag sy sou gekies word. Sy het daardie aand pragtig gesing. Sy het mos net voor my opgetree. Jy moet vir haar baie geluk sê namens my, hoor? Jy, met jou ervaring, sal vir haar van onskatbare waarde wees. Wanneer vertrek julle na Milaan?”

“Oor ’n week.”

Toe hy oomblikke later haar kamerdeur agter hom toetrek, weet Deidre dat Norman Zietsman vir goed uit haar lewe stap en sy sou nie menslik wees as daar nie ’n mate van verbittering in haar opstoot nie. Niks het werklik vir Norman verander nie. Die oorspronklike planne wat hy gehad het, is nog dieselfde. Die een meisie is net vervang deur ’n ander. Maar vir haar … vir haar het alles so onherkenbaar verander. Vanuit die stof sal sy ’n nuwe lewe vir haar moet opbou.

En skielik voel sy die drang om so gou moontlik weg te kom, weg van al die simpatieke oë, ver weg waar niemand haar ken en miskien die rou en seer wat sy so diep in haar hart weggesluit het, sal sien nie. Sy wil soos ’n hond wat eenkant gaan om sy wonde te lek, wegkom van alles en almal wat bekend is en wat haar gedurig aan haar ou lewe sal herinner.

Twee jaar lank het sy in die kollig gestaan, was sy die middelpunt van bewondering. Nou sidder sy as sy daaraan dink dat sy weer in die openbaar sal moet verskyn, herken word, en die bejammerende blikke wat sy sal moet verduur.

Nee! ’n Honderd maal nee! Êrens, êrens in hierdie pragtige land moet daar ’n plekkie wees waar sy sal kan gaan wegkruip. Die eerste keer in twee maande het Deidre Retief weer ’n doel voor oë, iets om voor te lewe, ’n beweegrede om gesond te word en uit hierdie hospitaal te stap. Dis ’n tragiese doel, maar nietemin ’n doel – om ’n wegkruipplekkie te gaan soek.

Terwyl sy nog hieraan lê en dink en die vasbeslotenheid om so ’n plekkie te vind al sterker in haar word, is daar ’n klop aan die deur. Sonder veel belangstelling kyk sy op en ’n oomblik is daar geen herkenning in haar oë toe die man sy verskyning maak en stadig nader stap nie. Dan verander die uitdrukking in die blou oë en stadig vul hulle met blink, helder trane, terwyl die hees stemmetjie vol ongeloof fluister:

“Oom Alwyn! Is dit werklik oom?”

Ena Murray Keur 6

Подняться наверх