Читать книгу Ena Murray Keur 6 - Ena Murray - Страница 4
1
ОглавлениеDit voel of iets in Deidre Retief wil losbars, oopbars of sommer net bars terwyl sy voor haar rekenaar sit en outomaties die lang, geleerde en indrukwekkende wetenskaplike tabelle regskuif. Wanneer kom Neil dan vanoggend? dink sy en kyk ongeduldig na haar polshorlosie. Dis al amper halfelf. Moet hy nou juis vanoggend van alle oggende laat wees?
Haar vingers verstil oor die toetsbord toe ’n geluid by die deur opklink. Sy spring op toe die lang man sy verskyning maak. Sy vergeet selfs om môre te sê.
“Neil! Hoekom is jy so laat? Ek wag al die hele oggend vir jou. Ek het iets wonderliks om jou te vertel!” bars sy ook sommer los en die man kyk haar verbaas, half fronsend aan. Hy trek sy baadjie uit en vanoggend irriteer dit Deidre dat Neil altyd so kalm is.
“Môre, Deidre,” groet hy droog en kom dan nader. Sy wenkbroue trek omhoog. “Wel? Wat is dit? Is jy vir die volgende maanvlug gekies?”
“Nee, iets baie wonderlikers het gebeur. Vir my is dit altans baie wonderliker!” Die blou oë skitter in die gryses op. Vir die man wat haar so te sê voor sy oë sien grootword het, lyk sy op hierdie oomblik so jonk, nog so bitter jonk, dat sy hart binne-in hom saamtrek. Wanneer gaan Deidre eendag werklik grootword? Sy staan selfs en rondtrippel op haar paar fyn voetjies nes ’n kind wat nie kan wag om haar wonderlike nuus te vertel nie. Hy glimlag nou die eerste keer en sy gesig vertoon verbasend jonk. Hy frommel ’n oomblik sy vingers deur die blonde kuifie wat vanoggend weerbarstig oor haar voorkop hang, net asof sy werklik elf jaar oud is en nie al die vername mylpaal van een en twintig jaar pas veertien dae gelede bereik het nie.
“Nou toe nou! Dan ís jy vir die eerste Marsvlug gekies!” Hy sien haar ergerlike frons en haar stem bewe van verontwaardiging.
“Neil! Sal jy asseblief ernstig wees! En besluit ook sommer of my bestemming nou Mars of die maan is. Ek wens jy wil ophou om my soos ’n kind te behandel! Jy maak my soms so boos dat ek …”
“Dat jy presies ses jaar oud lyk!” Hy lag nou saggies en neem haar hand. “Kom vertel jou groot nuus nou rustig vir my in my kantoor. Terwyl jy vertel, kan jy gerus solank vir ons tee maak. Dis amper teetyd. Wêreld, maar hulle het my vanoggend opgehou by die universiteit!” sê hy fronsend. “Ek het nie besef dis al so laat nie.”
Deidre trippel ongeduldig vooruit. Nou wil hy eers tee hê! Kan die mansmens nie sien dat sy uit haar nate wil bars van die wonderlike nuus wat sy te vertelle het nie? Maar dis nes hy is! Die besadigde, altyd beheerste wetenskaplike! Sy wonder of daar werklik iets op hierdie aarde is wat hom opgewonde kan maak – behalwe miskien ’n kiem onder sy mikroskoop.
Sy gaan vierkant voor hom staan toe hy agter sy lessenaar neersak en haar stemmetjie klink baie beslis en nou meer soos dié van ’n volwasse meisie.
“Ek gaan nie nou tee maak nie, Neil. Jy gaan nou eers na my luister.”
“Kan jy my nie maar vertel solank jy tee maak nie? My keel is kurkdroog. Ek het vanoggend twee lesings gegee.”
Sy swaai nou regtig vies na die tafeltjie in die hoek waar die teegoed netjies onder ’n lap staan en werp oor haar skouer terug: “Ek hoop jou volgende sekretaresse sal ook so na jou pype dans soos ek al die jare gedoen het, anders sien ek maar swarigheid vir jou in die nabye toekoms.”
Sy hoor hoe die stoelpote hard op die vloer kraak en glimlag by haarself. Nes sy gedink het! Dit het hom gou uit sy belangeloosheid geruk!
“Wat sê jy daar?”
“Ek het gesê ek hoop –”
“Ja! Ja! Ek weet,” val hy haar ongeduldig in die rede. “Maar wat is die bedoeling agter daardie skimp? Hoekom sal ek binnekort ’n nuwe sekretaresse nodig hê?”
“Omdat ek weggaan, natuurlik.”
Nou is hy by haar en draai haar van die teekoppies terug, sy droë keel vergete.
“Jy gaan … Kaf! Watter onsin is dit dié, Deidre?” vra hy streng, en nou het sy sy volle aandag.
“Dis nie kaf en onsin nie, Neil. Ek is ernstig. Jy moet liewer dadelik vir ’n nuwe sekretaresse begin adverteer. Ek wil graag die einde van die maand gaan, as dit moontlik is.”
“Om wat te gaan maak?”
“Om met my sangloopbaan te begin.”
“Jou … wat?”
Sy lag saggies, ingenome met sy verdwasing en die blou oë begin weer skitter, haar ergerlikheid van ’n paar minute gelede vergete.
“Gaan sit, dan vertel ek jou alles,” sê sy en hy laat toe dat sy hom weer in sy stoel terugdruk. Deidre gaan sommer op die kant van die lessenaar naby hom sit, haar knieë onskuldig ontbloot voor die man wat sy amper as ’n pa beskou.
Sy kyk hom effens skuldig aan.
“Ek het jou nooit hiervan vertel nie. Ek het so gedink: Kom daar niks van nie, wel, dan hoef jy nooit daarvan te weet nie. Kom daar iets van, dan sal dit ’n verrassing vir jou wees.”
Die frons is nog tussen sy wenkbroue.
“Ek hou nie juis van sulke verrassings nie, Deidre. Ek het ook ’n gevoel dat dit beslis nie aangenaam vir my gaan wees nie. Maar gaan voort.”
“Wel, dit kom kortliks daarop neer dat die SAUK ’n talentejag, soos hulle dit noem, gehou het. Ek het my ook daarvoor ingeskryf, in die sangafdeling. Wel, toe wen ek die eerste prys. Dis al,” sluit sy selfbewus af, want dis of die woorde nou swaar kom. Sy frons. Wat makeer haar dat sy skielik skuldig voor Neil voel? ’n Mens sou sê sy het ’n misdaad gepleeg in plaas van die eerste prys in ’n landwye radiokompetisie te wen!
“Baie geluk,” hoor sy Neil sonder veel geesdrif sê. Hy lyk glad nie opgewonde oor haar nuus nie. Inteendeel. Sy frons is nou kwaaier as ooit. “En wat behels hierdie eerste prys?”
“’n Kontrak by ’n maatskappy vir ’n paar CD’s. Die vooruitsigte is natuurlik ongelooflik. Is die eerste CD’s ’n sukses, is dit so te sê seker dat die kontrak hernieu sal word. Dan, natuurlik, is daar die moontlikheid van ’n filmkontrak. Die rolprentmense is gedurig op soek na nuwe talent, soos jy weet. Kortom, dit beteken ’n nuwe loopbaan en ’n wonderlike nuwe toekoms vir my.”
Daar volg ’n stilte op haar woorde wat haar ontstel en die opgewondenheid in haar laat afneem. Sy staan vinnig van die lessenaar af op en hou haar doenig met die teemakery terwyl sy hard op haar onderlip byt, wat skielik aan ’t bewe is. Neil se houding maak verskriklik seer. Sy was so seker dat hy volkome in haar vreugde sou deel. Want dit is soos dit al die jare tussen hulle was. Neil het in alles, al die vreugde en al die teleurstellings van haar lewe, gedeel. Hy was die eerste person aan wie sy gedink het toe sy die telefoonoproep ontvang waarin die organiseerder van die kompetisie haar die wonderlike nuus meegedeel het. Sy kon nie wag dat Neil van die universiteit, waar hy drie dae per week lesings gee, moes terugkeer nie. Sy was so seker daarvan dat hy saam met haar bly sou wees.
En nou … Sy reaksie is so ’n antiklimaks dat sy met moeite die trane beheer. In plaas daarvan dat hy saam met haar bly en opgewonde is, is hy duidelik baie ontevrede. Hy wend ook geen poging aan om dit weg te steek nie.
Sy hou haar rug op hom gekeer terwyl sy wag dat die tee ’n bietjie trek, die blou oë diep bekommerd. Sou hy werklik so kwaad vir haar wees omdat sy die eerste keer in haar lewe iets gedoen het sonder om hom te raadpleeg? Nog altyd in die verlede het sy alles eers vooraf met hom bespreek voordat sy iets gedoen het. Sy het selfs toegelaat dat hy ’n sê het in haar jaarlikse verlof.
Maar hierdie keer het sy besluit sy gaan hom nie raadpleeg of selfs eens daarvan vertel nie. Op eie houtjie het sy haar bietjie selfvertroue bymekaargeskraap en haar vir die wedstryd ingeskryf. Diep in haar hart het sy al baie jare ’n droom gekoester. Sy was bewus daarvan dat sy ’n bogemiddelde sangstem het, maar dit was net in haar drome dat sy die hoogtes van ’n ster bereik het. As daar dan niks van die wedstryd kom nie, so het sy by haarself gedink, sal sy jare later, wanneer dit nie meer saak maak nie, vir Neil daarvan vertel en hulle sou dan lekker lag oor haar verspotte ou droompie. Maar as die wonderwerk wel gebeur dat sy die prys wen, watter heerlike verrassing sal sy nie vir Neil kan gee nie! Die wonderwerk hét gebeur – maar dis beslis geen heerlike verrassing vir hierdie ou vriend van haar nie.
Sy plaas sy koppie tee voor hom op die lessenaar neer en hul oë ontmoet. Skielik verlaat die hartseer haar en die blou oë begin weer skitter, maar nou van woede. Haar stemmetjie klink styf toe sy kil opmerk: “As jy dan nie opgewonde kan wees nie, kan jy ten minste probeer om beleef te wees.”
“Ek is nie daarvan bewus dat ek onbeleef teenoor jou was nie,” antwoord hy ewe kil.
“Jou optrede is onbeleef en ’n belediging vir my. En kleinlike jaloesie het ek nie by jou verwag nie. Dit wys jou maar net weer. ’n Mens kan iemand jare ken en tog ook nie ken nie.”
Die man is op sy voete en sy hande druk gebal op die lessenaar voor hom.
“Nou is jý beledigend. Waarop sal ek nogal jaloers wees? Op ’n sangprysie?”
Twee rooi kolle verskyn op haar wange en ’n oomblik kan sy nie daarin slaag om die pyn uit haar oë te hou nie. Haar stem bewe ook nou openlik.
“Vir my beteken die ‘sangprysie’ geweldig baie, al praat jy so verkleinerend en veragtend daarvan. Ek …”
Sy moet eers sluk en hy kom vinnig om die lessenaar, sy stem nou berouvol en skaam.
“Deidre, dit spyt my. Luister …”
“Nee, Neil. Nou luister jy ’n slag na my. My hele lewe lank luister ek al na jou. Wat Neil Maritz sê, was baie jare wet vir my. Maar nou is dit verby. Van hierdie oomblik af neem ek my eie besluite. Ek het klaar besluit dat ek nie ’n dag langer vir jou sal werk nie. Jy kan hierdie maand se salaris terughou omdat ek nie ’n kennisgewingmaand gewerk het nie. Ek gaan nou my goed in my kantoor bymekaarmaak en dan loop ek!”
Sy talm ook nie langer nie. Die skraal gestaltetjie verdwyn vinnig uit sy kantoor en ’n oomblik staan Neil Maritz doodstil, te verslae om dadelik aan iets te dink. So ’n klein bog! Waar kom sy daaraan om só met hom te praat, en hom nogal daarvan te beskuldig dat hy jaloers is op haar! Dan verskyn daar ’n verbete trek om sy lippe. As die klein parmant darem dink sy gaan met hierdie optrede wegkom …
Hy stap vasbeslote na die kantoortjie langsaan waar harde geluide getuig van ’n haastige en roekelose opruiming van die vertrek.
“Staak hierdie onsin, Deidre! Onmiddellik!” klink sy stem so streng vanuit die deur op dat Deidre die ooppluk van haar lessenaarlaaie staak en regop kom. Haar eerste reaksie is gehoorsaamheid, omdat sy al soveel jare daaraan gewoond is om gehoor te gee wanneer Neil Maritz praat. Maar net ’n oomblik. Dan pers ook haar lippies verbete saam. Sy gee hom net een blik en gaan dan voort.
“Deidre! Wat het in jou gevaar? As jy dink jy kan sommer wegdros van jou werk af en ek sal dit toelaat, moet jy nog ’n slag dink.”
Haar blou oë blits gevaarlik na hom op.
“Gaan jy die polisie op my spoor sit? Ek sal nie verbaas wees nie. Dis presies wat ek van jou verwag!” Sy gryp haar handsak en kom staan reg voor hom. “Wel, meneer Maritz, wat my betref, kan jy die hele land se polisiemag of watter mag daar ook bestaan, op my sit – ek sal nie weer my voete in hierdie kantoor sit nie!”
“Deidre! Dis nou genoeg, het ek gesê!”
“Die eerste keer vandag stem ons twee saam. Ek sê ook so. Dis nou genoeg. Meer as genoeg. En ek sal jou wys, Neil Maritz. Ek begin heel onder, by ’n ou ‘sangprysie’, maar ek gaan die hoogste sport bereik! Dit belowe ek jou, al verg dit my laaste druppel bloed!”
Die volgende oomblik het sy by hom verbygedruk en voordat hy nog die stoeptreetjies bereik het, hoor hy hoe haar motortjie met ’n vaart wegtrek. Die eerste keer in sy lewe, of liewer sedert sy kinderdae, uiter die besadigde wetenskaplike ’n kragwoord wat glad nie by sy status pas nie.
Daardie aand sit Deidre, ’n rooi gehuilde Deidre, in haar woonstel. Nie met die beste wil ter wêreld kry sy dit reg om weer die eerste opgewondenheid oor haar prestasie te ondervind nie. Neil het alle smaak daarin bederwe. In plaas daarvan dat haar gedagtes vol is van nuwe planne vir die toekoms en van al die wonderlike vooruitsigte wat die nabye toekoms miskien vir haar kan inhou, is dit aan Neil Maritz wat sy sit en dink en aan hul rusie van vanoggend.
Hoe meer sy daaraan dink, hoe slegter begin sy voel. Sy weet nie wat haar makeer om so teen hom te velde te trek nie. Neil Maritz, van alle mense, verdien nie sulke onbeskofte optrede van haar nie. Sy weet dat dit haar diepe teleurstelling in hom was dat hy nie ook in ekstase oor haar prestasie was nie wat haar so heeltemal teen haar aard in laat optree het. Maar haar gewete wil dit nie as genoegsame verskoning aanvaar nie.
Terwyl sy so terugdink aan die jare, voel sy ’n knop in haar keel vorm. Vanaand besef sy die eerste keer werklik watter prominente plek hierdie man tot hiertoe in haar lewe ingeneem het. Hul ouers was bure, en sedert daardie dag toe Deidre se ma haar as ’n verkreukelde bondeltjie mens uit die kraaminrigting gebring en in haar wiegie neergelê het, en die vyftienjarige buurseun met verwondering en eerbied oor haar gebuk en haar vuisies betas het, was daar ’n besondere band tussen hulle. Neil het haar ouboetie geword en was altyd soos ’n beskermengel vir haar. Toe Deidre twaalf was, is haar pa skielik oorlede, en toe het Neil in groot mate die man van die huis geword.
Haar ma het Neil oor alles geraadpleeg. Hy was haar finansiële raadgewer; hy was die man wat die lekkraan in die kombuis reggemaak het, die geblaasde gloeilampies vir die Retiefs vervang het, die grasperk vir hulle gesny het. Die ouboetie het ’n pa vir die jong Deidre geword. Dit was hy wat haar opstelle vir haar nagesien het, haar gehelp het met ’n wiskundeprobleem, haar leer motor bestuur het. En nooit sou sy gedroom het om met ’n seun na die een of ander skoolgeselligheid te gaan as Neil nie ook saam met haar ma sy goedkeuring gegee het nie.
Dit was hý wat voorgestel het dat sy ná haar matriekeksamen ’n sekretariële kursus aan die kollege volg sodat sy hom kan kom help in sy kantoor. Sy het dit ook geredelik gedoen, en ná die kursus het sy by hom gaan werk. ’n Mens sou ver moes soek om ’n bekwamer persoonlike assistent te kry. So het dit nou al amper vyf jaar aangegaan.
In Neil se oë, weet sy, het sy nog nooit regtig opgegroei nie. In sy oë is sy nog maar die tenger buurmeisietjie wat beskerm en opgepas moet word. Ná haar ma se dood twee jaar gelede, was dit hý wat al die reëlings getref en vir haar hierdie woonstelletjie gekry het. Hy was eksekuteur van die boedel en sy het met ’n geruste hart alle finansiële sake in sy bekwame hande gelaat. Anders as die spreekwoordelike wetenskaplike wat altyd effens verstrooid is, is Neil Maritz ’n man met ’n wakker kop op sy lyf, en nie net vir sy vak nie.
In die verlede sou sy nooit gedroom het om iets te doen, hoe gering ook al, voordat sy nie Neil se raad en goedkeuring gekry het nie. Toe hy ’n jaar gelede sy professoraat ontvang, was sy net so opgewonde en trots op sy prestasie asof dit haar eie pa was wat op so ’n jeugdige leeftyd so mooi gepresteer het.
Nog nooit was daar ’n werklike rusie tussen hulle nie. Vanoggend was dit die eerste keer dat daar harde en kwetsende woorde tussen hulle geval het. Maar dan, in die verlede was daar nog nooit nodigheid vir ’n rusie nie. Wat Neil gesê het, was by haar ja en amen. Tog het sy al ’n paar keer, veral in die jaar wat verby is, ’n vae opstandigheid in haar begin waarneem. Sy steun te veel op Neil, hy neem te veel besluite vir haar, hy gee te veel rigting aan haar lewe.
Sy het die begeerte begin voel om self haar vlerkies te toets. Toe het die talentejag oor die radio begin en die eerste keer in haar lewe het sy haar voorgeneem om alleen te besluit. En nou het dit op ’n fiasko uitgeloop waar dit haar en Neil se mooi verhouding aangaan.
Maar ’n ongekende hardkoppigheid het skielik van Deidre besit geneem. Sy sal nie eerste teruggaan na Neil nie! Sy is immers een en twintig, haar eie baas. En dis ook haas tyd dat sy op haar eie voete staan. Sy is spyt oor haar harde woorde en bereid om hom om verskoning te gaan vra, maar sy sal nie hierdie droom van haar prysgee nie!
Diep in haar hart voel sy egter nie so selfversekerd nie. Sy weet dat ’n mens hare op jou tande moet hê as jy die kunstenaarswêreld betree. Sy weet dat sy nie hare op haar tande het nie. Sy kan haar ook nie ’n toekoms sonder Neil en sy bystand voorstel nie, maar as sy nie gaan kopgee nie, sal sy net eenvoudig moet leer om sonder hom klaar te kom.
Sy sit nog so met bekommerde oë voor haar op die mat en uitstaar, toe daar aan haar woonsteldeur geklop word. Haar hart bokspring. Dit kan net Neil wees wat hierdie tyd van die aand nog na haar woonstel sal kom. Sy spring op, bewus van ’n opborrelende blydskap en verligting in haar. Maar toe die deur oopswaai, is dit ’n wildvreemde man wat voor haar staan. Vir Norman Zietsman is dit duidelik dat hierdie meisietjie iemand anders verwag het en hy is gou om hom bekend te stel, sy sjarmantste glimlag om sy lippe.
“Juffrou Retief? Goeienaand. Ek is Norman Zietsman. Ek moet verskoning vra dat ek jou ná nege kom opsoek, maar ek het so pas in die stad aangeland en sommer direk hierheen gekom. Is dit moontlik dat ek jou ’n paar minute kan spreek?”
Sy frons liggies. ’n Meisie ontvang nie vreemde mans alleen in haar woonstel hierdie tyd van die aand nie, al is hulle so aantreklik soos hierdie meneer Zietsman.
“In verband waarmee is dit, meneer?”
“Dis in verband met die sangprys wat jy gewen het.” Sy hand skiet uit na haar. “Ek wil jou nog van harte gelukwens. Dit was ’n groot prestasie en ek is seker dat jy die belowendste vonds is sedert Mandy Cullinghan.”
Deidre glo geen oomblik sy vleitaal nie, maar tog kan sy ’n blos van plesier nie onderdruk nie, en haar houding raak sommer vriendeliker.
“Jy oordryf nou natuurlik, meneer Zietsman, maar kom binne. Is jy van die SAUK?”
“Nee. Ek is nie verbonde aan die uitsaaidiens nie. Ek sal verduidelik wie ek is. Ek is die man wat Mandy Cullinghan ontdek het. Ek het haar toevallig by ’n geleentheid hoor sing en onmiddellik besef dat haar stem groot moontlikhede inhou. Ek het haar dadelik genader en sy was bereid dat ek haar bestuurder word. Dit was ek dan ook tot haar tragiese dood ’n jaar gelede.”
Deidre knik.
“Ja. Dit was baie tragies. Sy het so ’n pragtige stem gehad en was aan die begin van so ’n belowende toekoms, en toe moes sy so tragies verongeluk. Dit moet vir jou, wat so na aan haar gestaan het, ’n geweldige skok gewees het.”
“Ja, dit was. Maar … so is die lewe. Sedert haar dood was ek gedurig op die uitkyk vir iemand wat in staat sal wees om haar plek in te neem. Ek het daardie persoon uiteindelik gevind.”
Hy kyk haar stip aan. “Dit is nie vleitaal nie, juffrou Retief. Ek, as die man wat Mandy ontdek en opgebou het tot die ster wat sy was, behoort te weet. En ek sê jou, jy gaan Mandy Cullinghan se leë plek in ons sangwêreld vul.”
Haar oë rek wyd.
“Hoe kan jy so seker wees as jy my nog nie hoor sing het nie? Of het jy toevallig ingeluister toe ek die aand met die talentejag oor die radio gesing het?”
“Nee, juffrou. Ek was een van die beoordelaars by die talentejag. Onthou jy my nie?” Hy lag toe sy haar kop verleë skud. “Ek het so gedink! Toemaar! Ek voel nie beledig nie! Ek het daardie aand gesien dat alles ’n bietjie oorweldigend vir jou was. Jy weet, jy het byna-byna jou prys verbeur deur jou senuweeagtigheid. Dit is die eerste ding wat jy sal moet leer om aan te kweek – selfvertroue. Dis ’n absolute vereiste in die kunstenaarswêreld.”
“Ek weet,” erken sy selfbewus. “Dit was die eerste keer in my lewe dat ek alleen in die openbaar moes optree, en dit nog oor die radio en met ’n paneel van twaalf beoordelaars wat elke nootjie met ’n kennersoor sou ontleed. Die twaalf beoordelaars was net ’n waas voor my oë. Ek was so bang dat ek kon sterf!” erken sy met soveel kinderlike eerlikheid dat die man se blik verskerp.
Norman Zietsman, kenner van die kunstenaarswêreld, besef dadelik dat hy hier ’n ongeslypte diamant voor hom het. Haar stem is reg. Weliswaar lê daar nog harde ure van oefen voor om dit tot sy volle wasdom te laat ontwikkel, maar hy het onmiddellik, toe hy daardie aand na haar geluister het, die potensiaal daarvan besef. Hy het aan homself gesê: hierdie stem kan geld maak. Hierdie meisie moet jy in die oog hou. Maar behalwe haar stem wat soveel potensiaal inhou, is daar in die res van haar niks wat hierdie wêreldwyse man beïndruk nie. Daarvoor is sy te kort, te klein, te fyn en te kinderlik. Sy is nie volwasse genoeg om gehore te trek en te boei nie. Om ’n sukses in die kunstenaarswêreld te wees, moet jy nie net mooi kan sing nie. Jy moet ook ’n sterk persoonlikheid hê. Dit, het Norman Zietsman uit persoonlike ervaring geleer, is net so belangrik as die stem. Want die gehoor sien jou eerste, en dan hoor hulle jou.
Hy kyk skerp na haar, onbewus daarvan dat Deidre al hoe meer selfbewus raak onder sy arendsblik. Hy frons. Tog is daar iets in Deidre Retief wat hom boei, iets wat hom vertel dat dit die moeite werd gaan wees om haar sy diens aan te bied. Miskien is dit juis hierdie kinderlike onskuld, hierdie ongeveinstheid wat aan haar kleef, wat uiteindelik haar sukses gaan bepaal. Miskien sal sy vir die gehore ’n verfrissende verandering wees van die kunstenaars wat aldag voor hulle verskyn.
Die opgewondenheid roer in hom, en Norman Zietsman besluit finaal. Hierdie ongeslypte diamant is syne. Hy gaan met haar maak soos hy goeddink, en hy weet presies watter rigting hy met haar gaan inslaan. Haar stem gaan tot sy maksimum ontwikkel word, maar origens moet sy bly soos sy is: ongekunsteld, kinderlik, naïef. Dit gaan die lokaas wees wat gehore na haar toe gaan aantrek.
Nie een van die twee dink dat dit voorbarig van hom is toe hy haar een hand in syne neem nie.
“Jy erken dat jy niks van die kunstenaarswêreld wat jy nou gaan betree, weet nie, en ek is ’n kenner daarvan. Ek bied jou my diens as bestuurder aan. Ek verseker jou, Deidre, dat jy met my hulp hoogtes gaan bereik. As jy sonder iemand soos ek hierdie nuwe wêreld gaan betree, gaan jy ’n paar CD’s maak en van die toneel verdwyn soos dit al met soveel ander belowende talent in die verlede gebeur het. Jy moet iemand hê wat vir jou die regte deure oopmaak, sorg dat jou stem reg ontwikkel en, ag, talle ander dinge waarvan jy niks weet nie. Ek bied jou my diens aan omdat ek soveel vertroue in jou stem het. As dit nie was dat ek aan jou toekoms as sangeres glo nie, sou ek nie nou hier gewees het nie.”
Deidre frons. Dit het spontaan in haar opgekom om hom te sê dat sy eers oor die saak wil dink, menende om Neil eers te raadpleeg. Net betyds het sy die woorde gekeer. Neil is kwaad vir haar. Hulle het rusie gemaak. En wat van haar besluit dat sy van nou af self haar lewe sal reël en op eie bene staan? Sy kyk op en glimlag.
“Dankie, meneer Zietsman. Dis baie gaaf van jou. Ek weet dat ek my toekoms met ’n geruste hart in jou hande kan plaas. Ek weet niks van hierdie dinge af nie. Ek sal jou hulp en raad baie waardeer.”
Norman Zietsman sug saggies en hierdie keer druk hy haar handjie innig.
“Jy sal nooit spyt wees nie, Deidre. Terloops, my naam is Norman. Aangesien ons so pas sakevennote geword het, kan ons gerus maar minder formeel wees. Ek noem jou reeds Deidre.”
“Dankie, Norman. Jy weet nie watter groot las jy van my skouers neem nie,” erken sy laggend. “Hoewel opgewonde en in ekstase, was ek tot ’n paar minute gelede doodbang vir die wonderlike toekoms wat ek gedink het op my wag. Maar met iemand soos jy om die pad gelyk te maak …”
Die voordeurklokkie lui skril en die man wat verbaas, vraend na haar kyk – dis darem al laat vir gaste – sien hoe haar oë verskrik oopvlieg en sy verbouereerd opspring.
Soos sy instinktief geweet het toe sy die klokkie hoor lui, is dit Neil wat voor haar staan toe sy die deur oopmaak.
“Mag ek ’n oomblik inkom, Deidre? Ek wil met jou praat.” Sy het geen ander keuse as om hom binne te nooi nie, maar Neil vind haar ongemak nie juis vreemd nie. Eers toe hy die sitkamertjie betree, kom hy die werklike rede daarvoor agter en al sy goeie voornemens verdamp soos mis voor die son.
“Dis professor Maritz, Norman. Neil, dis Norman Zietsman,” en as nagedagte, uitdagend, “my bestuurder.”