Читать книгу Ena Murray Keur 6 - Ena Murray - Страница 5

2

Оглавление

Die twee mans se oë ontmoet waterpas ná Deidre se uitdagende aankondiging. Neil se blik is skerp, priemend, ontevrede. Norman lyk eerder nuuskierig, asof hy geensins deur die ander man se ondersoekende blik ontstel word nie.

“So?” kom Neil se stem droog sonder dat een van die twee mans eintlik die bekendstelling erken het. “Wat bestuur hy?”

Deidre se blou oë begin weer vererg vonkel. Werklik, Neil is net onmoontlik vandag! Sy houding is beslis onbeleef, en sy kyk vinnig na haar nuwe bestuurder, wat ook nou effens frons. Dis Norman wat praat voordat Deidre aan ’n antwoord kan dink op hierdie reguit en, vir haar, ietwat ongemaklike vraag.

“Ek sien jou môre weer, Deidre. Ek dink ek gaan nou maar eers. Kan ons mekaar omstreeks tienuur ontmoet – of werk jy dan?”

Met ’n uitdagende blik na Neil antwoord sy en gee die ander man ’n breë, gulhartige glimlag.

“O, nee! Ek werk nie meer nie. Ons kan mekaar dan ontmoet.”

“Gaaf. Dan kry ek jou tienuur hier. Goeienag.” Norman kyk vinnig na die ander man wat soos ’n soutpilaar nog steeds op dieselfde plek staan. “Goeienag, professor. Dit was … interessant om jou te ontmoet.”

Toe Deidre terugkeer van die voordeur waar sy van Norman afskeid geneem het, kyk sy effens magteloos na die groot gestalte wat hom in een van die leunstoele tuis gemaak het en baie duidelik toon dat hy nie van plan is om gou te vertrek nie. Haar stem klink effens kortaf en glad nie gasvry nie toe sy sê: “Dis al elfuur. Waaroor wou jy my spreek?”

Toe sy dit waag om in sy oë op te kyk, besef sy dat dit die eerste keer is dat daardie grys oë so kil na haar kyk, en sy voel haar hart saamtrek. Niks op haar gesig vertel die man hoe diep ongelukkig sy werklik in haar hart voel nie. Sy voel bitter seergemaak deur hierdie rusie tussen hulle, maar sy gaan nie, sy sal nie toelaat dat Neil haar langer domineer nie!

“Wie presies is hierdie bestuurder van jou?” vra hy kortaf.

Deidre besef dat Neil daar en dan ’n oorval sal kry as hy die waarheid moet weet, en sy antwoord ontwykend: “Hy was tot haar dood Mandy Cullinghan se bestuurder.”

“Waar kom jy aan hom en hoe lank ken julle mekaar al?” skiet die vrae op haar af.

Sy byt haar onderlip vas om haar humeur te beteuel. Juis omdat sy skuldig voel en instinktief weet dat Neil haar oorhaastige besluit in verband met Norman sal afkeur, is haar houding verdedigend en uitdagend. Sy kyk nou op, vas in die priemende grys oë en laat so kalm en beslis as moontlik hoor: “Neil, ek wil hê ons twee moet mekaar vanaand goed verstaan. Ek is nie meer ’n kind wat aan jou moet rapporteer oor alles wat ek doen nie. Ek is ’n grootmens wat van nou af my eie besluite neem. Sal jy asseblief in die toekoms jou neus uit my sake hou?”

“Sê reguit wat jy wil sê, Deidre, en moenie draaie loop nie.” Sy stem klink so kil en styf soos sy dit nog nooit tevore gehoor het nie. “Wat jy eintlik wil sê, is dat jy moeg is vir my en niks verder met my te doen wil hê nie. Met ander woorde, jy jaag my weg.”

Sy kan nie langer die ongelukkigheid in haar verberg nie. Die blou oë straal nou al die hartseer wat sy voel na hom toe uit terwyl sy uitroep: “Nee! Dit is nie so nie! Dis jy … jy wat alles verkeerd opneem van vanoggend af. Jy wil net nie verstaan nie –”

“Ek verstaan baie goed,” val hy haar ysig in die rede. Hy staan skielik op en troon oor haar. “Ek is deel van die verlede waarvan jy finaal afskeid wil neem. Ek en alles uit die verlede en alles wat tot hiertoe jou lewe gekenmerk het en deel van jou was, het skielik soos ’n amper verslete kleed geraak wat jy baie graag wil afwerp. Ons het afgesaag en oninteressant en … waardeloos geraak. Goed. Ek sal my nie langer aan jou opdring nie, veral aangesien ek besef dat jy reeds iemand in my plek gevind het … en baie gou ook.”

“Jy kan niks van en teen Norman sê nie, Neil!” verdedig sy heftig, dankbaar vir die woede wat haar hartseer draaglik maak.

“Nee, ek weet niks van die man af nie, maar ek het darem ’n bietjie mensekennis, beslis meer as jy. Ek kan jou vanaand sê dat jy jou met Norman Zietsman gaan vasloop, maar jy sal my nie glo nie. Daar is nog iets wat ek vir jou wil sê, Deidre. Ook dit sal jy nie nou ter harte neem nie, maar eendag, wanneer jy bereik het wat jy wou, sal jy miskien my woorde van vanaand onthou. Jy, Deidre, is besig om agter die skynglans van die maan aan te hardloop, daardie pragtige, lieflike, blinkende maan wat so begeerlik van ver af lyk. Maar pas op, meisie, dat jy nie miskien ook eendag soos die Amerikaner Armstrong, wanneer jy dit eindelik bereik, sal moet besef dat dit alles net ’n skynglans was, dat dit in werklikheid kaal en bar, ru, onvriendelik en … eensaam daar is nie.”

Juis omdat hierdie vergelyking van hom haar so diep tref en nog boonop die kiem van waarheid inhou, laat dit haar ontsteltenis toeneem en maak dat sy Neil Maritz op hierdie oomblik byna haat.

“Dit is wat jy graag sal wil hê moet gebeur, nè, Neil? Jy wens my geen sukses toe nie.”

“Nee, Deidre, ek wens jou van harte alle sukses toe, veral as ek in gedagte hou hoeveel jy bereid is om daarvoor op te offer. Ek hoop nie die oomblik sal ooit aanbreek dat jou sukses, as jy dit behaal, wrang in jou mond sal word nie.”

Deidre swaai vinnig van hom af weg en sug. Sy voel skielik ontsettend moeg en laat gedemp hoor: “Ek dink ons het genoeg gesê. Ek weet nie hoekom jy vanaand hierheen gekom het nie.”

“Ek het eintlik hierheen gekom om jou iets te vertel en jou iets te vra. Nou maak dit nie meer saak nie. Ek sal maar gaan.”

Sy draai terug na hom, haar oë pleitend.

“Vertel my, asseblief.”

Hy kyk haar ’n oomblik stil aan en sê dan gelykmatig: “Ek het dit reggekry om los te kom en kan my van volgende jaar af heeltyds op navorsing toelê. Dis hoekom ek vandag so laat op kantoor gekom het.”

“Neil!” Was dit gister, sou sy spontaan na hom gehardloop en haar arms om sy nek gegooi en hom gesoen het, want sy weet watter groot begeerte hierdeur eindelik vir Neil verwesenlik is. Maar dis of die ou spontaneïteit weg is tussen hulle, en hoewel die blou oë ’n oomblik bly in syne opblink, sê sy net sag: “Ek is so bly, Neil. Baie geluk.”

“Dankie.” Daar is geen vreugde in sy stem nie en hy voeg gelykmatig by: “Ek wou jou dit vanoggend al vertel het.”

“Maar hoekom het jy nie?”

“Jy het my nie eintlik kans gegee nie, het jy?”

Sy bloos en haar oë lyk verskonend.

“Dit spyt my. Nee, ek het nie. Ek was te behep met my eie nuus. Maar ek is nietemin baie bly om jou onthalwe, Neil. Ek weet hoeveel dit vir jou beteken.”

“Ja.”

’n Kort, ongemaklike stilte volg en dan sê sy huiwerig: “Jy het gesê jy wou my ook iets gevra het.”

“Ja.”

“Wat was dit?”

Hy kyk haar strak aan.

“Omstandighede het verander. Dit maak nou nie meer saak nie.”

Weer ’n kort stilte en dan vra sy: “Wanneer … wanneer gaan jy met die navorsing begin?”

“So gou ek alles gereël kan kry. Gelukkig hou my lesings oor twee maande op en kan ek begin.” Hy draai deur toe. “Jammer dat ek jou so laat uit die slaap gehou het. Goeienag.”

Toe die voordeur agter hom toeklik, sak Deidre weer terug op haar stoel en hierdie keer laat sy toe dat die trane haar oorweldig. Sy weet maar te goed waarom sy huil. Sy huil oor Neil … want sy weet dat sy hom vir altyd verloor het. Baie beslis gaan hul paaie skei, het reeds begin wegdraai. Al gaan sy ook waar in die wêreld, kry sy watter nuwe vriende, sal sy nooit weer ’n vriend so opreg en getrou soos Neil Maritz vind nie. En skielik lyk haar toekoms nie meer so aanloklik en skitterend nie. Sy sug en stap na haar slaapkamer. Sy is nou verspot. Die een of ander dag sou dit noodgedwonge gekom het. Dit het net gouer gebeur as wat sy of hy verwag het. Sy en Neil kon tog nie vir ewig so voortgaan nie. Die een of ander dag sou daar ’n verandering moes intree.

Wanneer sy eindelik in die bed is en die lig afgeskakel het, lê en kyk sy deur die venster na die maan wat soos ’n silwer bal aan die naghemel hang. Skynglans van die maan. Doelbewus draai sy om sodat haar rug na die venster gekeer is, en sluit haar oë. Sy gaan nie toelaat dat Neil se verspotte vergelyking ’n skaduwee oor haar drome werp nie. Daar is niks om te vrees nie.

Norman Zietsman, ’n kenner, het vertroue in haar stem, en met sy hulp en bystand en ervaring het sy niks te vrees nie. Natuurlik kan sy sonder Neil Maritz klaarkom. Sy het maar net deur die jare te gewoond geraak aan hom, dis al.

Toe Norman Zietsman die volgende oggend stiptelik om tienuur aan haar woonsteldeur klop, is dit ’n sprankelende Deidre wat die deur vir hom oopmaak. Sy het al die somber gedagtes van die vorige aand doelbewus op die agtergrond geskuif en besluit dat sy van hierdie dag af net op haar eie toekoms en al die wonderlike moontlikhede wat daarin opgesluit lê, gaan fokus.

Norman voel in sy hart verlig toe hy dit opmerk, want hy was ’n bietjie bekommerd oor die besoek van die professor die vorige aand. Hy het van die eerste oomblik af geweet dat hy en die professorvriend van Deidre nooit langs een vuur sal kan sit nie en dat die antagonistiese gevoel wederkerig was. Hy was bang dat die ander man allerhande negatiewe gedagtes in Deidre se kop sou plaas nadat hy weg is. As hy dit gedoen het, het hy klaarblyklik nie baie sukses behaal nie. Deidre is vanoggend nog vuur en vlam vir hul planne en hy neem hom in stilte voor: hoe gouer sy onder hierdie vriend van haar se invloed uitkom, hoe beter. Professor Maritz kan ’n speek in die wiel steek en dit sal hy, Norman, ten ene male nie toelaat nie.

Toe hulle oor ’n koppie tee in een van die groot restaurante van die stad sit, roer hy die saak versigtig aan.

“Dié professor Maritz … is hy familie van jou?”

“O nee. Of miskien so half en half. Daar is geen bloedbande tussen ons nie, maar ek ken hom sedert ek my verstand gekry het.” Sy skets slegs kortliks watter groot rol Neil tot dusver in haar lewe gespeel het, want sy is nie lus om oor Neil te gesels nie. Sy wil hom vergeet.

Norman stel egter baie belang en sy is verplig om sy vrae te beantwoord. Toe sy afsluit, kyk hy haar peinsend, fronsend aan.

“Ek kan verkeerd wees, maar ek het die indruk gekry dat hy nie veel van hierdie nuwe wending van sake hou nie.”

“Nee, hy hou niks daarvan nie,” is sy verplig om te erken. “Hy sê ek hardloop agter die skynglans van die maan aan.”

Norman lag kortaf, en Deidre ken hom nog nie goed genoeg om die ongemaklike klank daarin te gewaar nie.

“Digterlike woorde vir ’n sobere en verstrooide wetenskaplike!”

“O, maar hy is nie verstrooid nie!” verdedig Deidre hom spontaan. “Hy is ’n wonderlike man!”

Norman se oë vernou.

“Hou jy … baie van hom?”

Sy kyk hom fronsend aan.

“Natuurlik! Hy is soos ’n pa vir my – of was, altans,” voeg sy by met ’n duidelik ongelukkige klank in haar stem.

’n Oomblik bestudeer hy die gesiggie. Sy vrees waar dit Deidre aangaan, is gestil. Daarvoor was haar antwoord te spontaan en eerlik. Nee, Deidre is gelukkig nie verlief op hierdie professor nie. Maar die professor self … Is dit ook net ’n vaderlike gevoel wat hy vir haar koester, of steek daar iets meer agter? Een ding weet Norman Zietsman met groter sekerheid en beslistheid as die vorige aand. Deidre moet so gou moontlik van hierdie professor-pa van haar af wegkom.

“Hoe gou kan jy hier wegkom, Deidre? Jou afspraak met die CD-maatskappy is eers oor twee maande, maar ek sal baie graag wil hê dat jy intussen ’n bietjie onderrig moet ontvang voordat jy jou eerste CD’s maak. Jou stem het nog baie afwerking nodig.”

“Ja, ek besef dit. Ek kan dadelik gaan. Hier … hier is niks wat my bind nie.”

Sy oë is stip op haar toe hy vra: “Sal jou professor toelaat dat jy gaan?”

Sy kyk op en die blou oë vonkel.

“Ek is my eie baas. Ek is mondig en ek reël my eie lewe. Wat meer is, ons … ons is nie meer sulke goeie vriende nie.”

“Maar wil jy nie eers die saak met hom bespreek voordat ek reëlings begin tref nie?”

“Nee, ek wil nie! Hy sal in elk geval ook nie belangstel nie,” sê sy kortaf. “Jy kan maar die nodige reëlings tref.”

Hy glimlag verlig.

“Pragtig! Waarvoor wag ons dan? Ek sal dadelik begin. Intussen kan jy jou sakies regkry. Wat het jy om te reël?”

“Nie veel nie. Ek moet my woonstel se huur opsê en dan natuurlik van my paar meubelstukkies ontslae raak. Dit sal seker nie die moeite werd wees om dit saam te piekel Johannesburg toe nie.”

“Net soos jy voel. As daar een of twee stukke is waarvan jy nie graag wil afstand doen nie, kan jy net sê, dan sal ek reël dat dit versend word. Nog iets?”

“Nee, niks waaraan ek kan dink nie.”

“Deidre, sê my net … Moet asseblief nie dink ek is nou vermetel nie, maar aangesien ek nou jou bestuurder is, moet ek dit weet. Jy besef natuurlik dat jy, ’n ruk lank altans, jouself sal moet onderhou totdat die geld vir die CD’s begin inkom. Sal jy dit kan bekostig?”

“Ja, ek sal seker ’n paar maande of selfs ’n jaar sonder inkomste kan klaarkom. Ek het darem so ’n bietjie erfgeld wat my sal deurhelp.”

“Dis gaaf. Dan is daardie probleem ook opgelos.”

Twee dae later is omtrent al die reëlings getref. Deidre het iemand gekry wat maar te bly is om die woonstel dadelik by haar oor te neem, asook die paar stukke meubels wat sy van plan is om agter te laat. Haar eerste afspraak met die sangprofessor in Johannesburg is reeds getref. Nou bly nog net haar besoek aan haar prokureur oor en sy nooi Norman om saam te gaan.

“Aangesien jy nou my bestuurder is, moet jy by wees. Ek weet niks van geldsake af nie.”

Alwyn Bruwer lyk nie juis verbaas toe Deidre met ’n vreemde man sy kantoor binnestap nie. Die vorige aand het hy en Neil Maritz tot laat gesels en hy was hierdie besoek te wagte. Sy glimlag is egter nie so wyd en vriendelik soos altyd toe hy Deidre verwelkom nie.

“Ek het jou lanklaas gesien, my kind. Ek het nog nie eens die geleentheid gehad om jou geluk te wens met jou sangprestasie nie. Ek was darem nie eintlik verbaas daaroor nie, want jou ma kon ook pragtig sing.”

“Ja, ek weet. Ek het nog altyd gevoel dat Mamma dit ver sou kon bring as sy haar stem ontwikkel het.”

“Ja, seker, maar vir haar was dit genoeg om vrou en ma te wees.” Die middeljarige man is gou om die effens smalende trekkie om Norman Zietsman se mond raak te sien, en hy frons. Sy eie beoordeling van Norman Zietsman stem ooreen met dié van Neil, en sy bekommernis verdiep. Maar soos Neil ook gisteraand opgemerk het, besef Alwyn Bruwer dat hy magteloos is. Nie hy óf Neil het die wettige mag om Deidre te keer nie, en dit besef hierdie man maar te goed toe hy in Norman Zietsman se oë kyk.

“Oom Alwyn,” begin Deidre en spreek hom informeel aan, want hy was vandat sy onthou ’n huisvriend van haar ouers en al die jare hul prokureur, “ek sal noodgedwonge my erfgeld nodig hê tot tyd en wyl ek ’n inkomste uit my sangloopbaan verdien.”

Alwyn Bruwer se gesig word ernstig. Hy ignoreer die ander man en draai direk na Deidre.

“Hoeveel sal jy min of meer nodig hê?”

“O, dis moeilik om te sê …” Sy kyk vlugtig na Norman. “Ek sal intussen moet lewe, ’n plekkie hê om in te woon en … Norman sê ek sal heelwat klere moet kry, aanddrag en so meer. Op die oomblik is dit moeilik om presies te sê. Kan die geld nie net oorgeplaas word op my lopende rekening nie?”

“Ek is bevrees nie, Deidre. Die geld is vir drie jaar vas belê.”

“Hoeveel van die drie jaar is reeds verby?” wil Norman nou weet, en Alwyn Bruwer draai duidelik onwillig na hom. Sy stem is koel en afsydig toe hy teësinnig antwoord: “’n Jaar. Die gouste wat sy dus die gebruik daarvan sal kan hê, is oor twee jaar.”

Norman frons skerp.

“Maar voordat jy dit so vas belê het, meneer, het jy nie daaraan gedink dat Deidre miskien skielik die geld kan nodig kry nie?”

Die middeljarige prokureur hoor die kritiese toon in die ander se stem en sy houding raak nog stywer.

“Dit was onnodig om so ’n moontlikheid te oorweeg. Daar was geen rede om aan te neem dat Deidre binne drie jaar ’n groot kontantbedrag sou nodig kry nie. Indien daar iets sou voorval, sou ek en professor Maritz haar die nodige kon voorskiet tot tyd en wyl haar eie geld beskikbaar is.”

Sy blik keer terug na Deidre se bekommerde gesiggie. “Ons het jou geld belê waar jy die hoogste rente sou kry en dit die veiligste sou wees.”

“Natuurlik, oom Alwyn. Ek twyfel geen oomblik dat oom en Neil die beste vir my gedoen het nie. Dis net dat … ek nou ’n bietjie in die knyp sit. Ek sal myself die eerste rukkie moet onderhou en ek dink nie die bietjie wat ek in my lopende rekening het, sal my baie ver bring nie.”

“Ons is bereid om jou die nodige voor te skiet – binne perke, natuurlik. As jy my dus net min of meer ’n skatting kan gee van hoeveel jy nodig sal hê …”

“Ek wil geen geld van Neil hê nie,” sê sy in ’n harde stemmetjie, en Alwyn Bruwer frons nou openlik. Neil het hom die vorige aand vertel van die rusie tussen hom en Deidre en hy voel lus om die skraal skouertjies tussen sy hande te neem en haar ’n paar keer goed te skud. Is Deidre dan werklik so blind om nie te kan sien dat daar geen vergelyking tussen Neil Maritz en Norman Zietsman is nie? Hy beteuel egter sy humeur en sê kortaf:

“Ek is bereid om jou die nodige voor te skiet – of wil jy van my ook geen verdere hulp hê nie?”

Deidre kyk hom vinnig aan en dis vir haar ’n skok om te sien dat haar ou vriend se oë kil na haar kyk. Haar mond gaan oop om haar te verweer teen die skaars bedekte skimp in sy woorde, maar Norman spring haar voor.

“Teen watter rentekoers?”

“Teen geen rentekoers.” Die ouer man sien hoe Norman Zietsman se wenkbroue verbaas omhoog skiet en hy vervolg: “Deidre is soos ’n dogter vir my. Sy kan my terugbetaal wanneer sy kans sien, of wanneer haar erfgeld eendag beskikbaar is.”

“O, maar ek kan dit nie verwag nie,” roep Deidre uit en sien nie die ligte frons wat haar bestuurder na haar kant toe werp nie. “Nee, oom Alwyn, as ek van die aanbod gebruik maak, moet dit op streng sakebeginsels geskied. Ek is heeltemal bereid om die vasgestelde rente in sulke gevalle te betaal.”

Nog voordat Alwyn Bruwer sy mond kan oopmaak, laat Norman met ’n sagte glimlag in Deidre se rigting hoor: “Ek dink jou oom Alwyn sal seergemaak wees as jy nie die aanbod op sy voorwaardes aanvaar nie, meisie. Soos hy gesê het, voel hy soos ’n pa teenoor jou. En ’n pa vra tog nie rente van sy kind nie. Dit sal lyk asof jy ondankbaar is as jy nou daarop gaan aandring om daarvan ’n streng saketransaksie te maak. Meneer Bruwer stel natuurlik ook baie belang in jou sangloopbaan en natuurlik voel hy ook om tot die sukses daarvan by te dra, nie waar nie, meneer Bruwer?”

Sy glimlag is breed en vriendelik teenoor die prokureur, maar hy ontvang nie ’n wederkerige glimlag nie, en hy vervolg glad: “Ek kan meneer Bruwer ook verseker dat sy geld ’n belegging gaan wees. Ek kan jou verseker dat Deidre tot die hoogste sport gaan klim.”

“Ek hoop van harte so – vir haar onthalwe,” laat die prokureur droog hoor. “Laat my dus so gou moontlik weet hoeveel en wanneer jy die geld wil hê.”

“O, volgens ’n voorlopige skatting het ek gedink so vyftigduisend rand sal genoeg wees om mee te begin.”

Deidre kyk hom met groot oë aan.

“Vyftigduisend rand! Maar, Norman, dis vreeslik baie geld!”

Hy glimlag lui teenoor haar soos wat ’n grootmens teenoor ’n kind sal doen.

“My liewe Deidre, ’n mens kan sien dat jy nog nooit in jou lewe met geld gewerk het nie. Meneer Bruwer sal jou sê dat vyftigduisend rand vandag in werklikheid niks is nie. Jy gaan baie uitgawes hê die eerste rukkie en geen inkomste nie. Jy moet ten eerste te alle tye elegant geklee gaan. Jy sal allerlei belangrike mense moet onthaal. Jou sanglesse sal jy ontvang van die beste leermeester en dit sal nie goedkoop wees nie.”

Hy draai na die prokureur en sy glimlag versober geensins toe hy in die strak, ontevrede oë van die ouer man vaskyk nie. “Ek is seker meneer Bruwer sal dit vir jou kan reël.”

Deidre se oë draai bekommerd na haar jare lange vriend. Sy het eerlik gedink dat uiters ’n paar duisend rand nodig sal wees om haar die eerste rukkie te help. Miskien het oom Alwyn ook so gedink, en sien hy nie kans vir vyftigduisend rand nie. Hy is ’n vermoënde man, weet sy, maar het darem self ’n gesin en sal seker nie duisende rande rond en bont en dit nog renteloos kan uitdeel nie. Maar voordat sy nog kan praat en hom verseker dat sy dit nie van hom verwag nie, knik hy sy kop en sê kortaf: “Ek sal dit reël. Hoe gou wil jy die geld hê, Deidre?”

Dis egter weer Norman wat antwoord: “So gou moontlik, asseblief. Ons vertrek môremiddag na Johannesburg.”

“So gou?” Alwyn Bruwer se oë is nou regtig bekommerd. “Is dit nie ’n bietjie gou nie, my kind? Wil jy nie eers ’n rukkie hê om die saak weer goed te oordink nie?”

Toe Norman Zietsman se stem weer opklink, hierdie keer ’n bietjie minder glad en vriendelik, voel dit vir die ou prokureur asof hy die man agter sy nek kan gryp en hom by die deur uitgooi. Hy gee Deidre geen kans om self vrae te beantwoord nie.

“Ek dink nie daar is iets verder om oor te besluit nie. Deidre het finaal besluit dat sy haar stem gaan ontwikkel. Hoe gouer ons daarmee begin, hoe gouer is die sukses daar.”

Toe Norman dan ook opstaan om te kenne te gee dat die besoek aan Deidre se prokureur verby is, is sy ook maar verplig om sy voorbeeld te volg, hoewel sy graag nog ’n rukkie met oom Alwyn sou wou gesels. Dis Norman wat haar daarop wys dat sy sommer vir meneer Bruwer moet groet, aangesien hulle hom nie weer sal sien voordat hulle vertrek nie. Oom Alwyn se oë ontmoet Deidre se blik bekommerd, sy stem onvas.

“Dit is jammer dat jy so haastig is, my kind. Die tante sou jou ook graag wou groet, maar ongelukkig is sy vir twee weke na haar ma. Anders sou ons jou graag vir ete wou oornooi om op die regte manier van jou afskeid te neem.”

Deidre ondervind nou moeite met haar stem.

“Dankie, oom Alwyn. Sê baie groete aan haar en baie, baie dankie vir al oom se liefde, vriendelikheid en hulp in die verlede.” Sy gooi haar arms spontaan om sy nek en soen hom innig. “O, ek gaan vreeslik verlang!”

Hy druk haar ’n oomblik vas en probeer glimlag.

“Jy gaan darem nie landuit nie, my kind. En jy weet dat as jy wil terugkom, ons hier is om jou terug te verwelkom. Daar is so iets soos briewe ook. Laat ons weet hoe dit gaan.”

“Natuurlik!” Sy draai om en haar gelaat verstil toe sy die man in die deur gewaar.

“Neil!” Oom Alwyn lyk openlik verlig.

Neil kom stadig nader, sy gesig onpeilbaar. Hy groet met ’n knik van die kop en ’n oomblik rus sy oë op Deidre se nat wange. Dan kyk hy vraend na die ouer man terwyl hy die derde man nog ignoreer.

Oom Alwyn verduidelik: “Ons was net besig om afskeid te neem. Deidre vertrek môremiddag Johannesburg toe.”

“Ek verstaan. Dan moet ek ook sommer van die geleentheid gebruik maak om totsiens te sê. Ek sal haar dan ook nie weer te siene kry nie.”

Deidre kyk hom met groot oë aan en oom Alwyn se blik is skerp, ontevrede.

“Jy bedoel … jy gaan nie eens kom groet nie?” vra Deidre onwillekeurig, teen al haar beste voornemens in.

Sy blik rus koel op haar.

“Geen nodigheid om na jou woonstel te kom as ons sommer nou kan klaar groet nie, nie waar nie?”

Haar wange verbleek merkbaar en ’n oomblik kan sy hom net verslae aanstaar. Dan sien die drie mans hoe sy haar skouertjies doelbewus agteroor gooi en die blou oë kyk vas in syne op.

“Nee, natuurlik nie.” Sy hou haar hand uit. “Totsiens, Neil. Dankie vir … alles.”

Hy neem haar hand, maar trek dan syne so vinnig terug asof die aanraking hom brand. “Is jou woordkeuse nie nou dalk verkeerd nie? Dit moet seker vaarwel wees.”

Alwyn Bruwer tree nou tussenbeide, en dit lyk, te oordeel na die blik wat hy na Neil werp, of hy lus het om moord te pleeg.

“Vaarwel is glad nie nodig nie. Natuurlik sal ons Deidre weer sien. Sy gaan mos weer eendag terugkom, nie waar nie?”

“Al kom sy ook terug, twyfel ek of ons twee se paaie weer sal kruis. Ek kan nie dink dat ek as ’n droë, oninteressante wetenskaplike iets te sê sal hê vir ’n beroemde sangeres nie.”

Sy oë priem in hare. “In elk geval, as jy dalk eendag weer met ou vriende wil kontak maak, of net laat weet hoe suksesvol jy is, kan jy my deur oom Alwyn opspoor. Hy sal altyd weet waar ek my bevind. Alle voorspoed met die maanlanding.”

Oom Alwyn kyk hom verbaas aan. “Die maanlanding? Wat beteken dit?”

Neil se oë het nog nie ’n oomblik van Deidre se gesiggie gewyk nie. Hy glimlag nou, ’n harde glimlaggie, en sê in daardie veraf stemtoon: “Deidre weet waarvan ek praat.”

Deidre weet dat sy so gou moontlik hier moet wegkom. As sy ’n sekonde langer na hierdie vreemde, kille, haatlike Neil, so heeltemal anders as die Neil waaraan sy gewoond is, moet luister, sal iets in haar breek. En sy sterf liewer as om hom die bevrediging te gee dat hy moet sien hoe diep sy woorde haar seermaak. Haar lippe is styf en haar keel pyn van ingehoue snikke toe sy antwoord.

“Dankie. Ek sal aan jou dink … wanneer ek op die maan aankom.”

Hy buig spottend, formeel.

“Dankie … maar ek twyfel of jy my dan nog sal onthou.”

Sonder ’n verdere woord of ’n enkele terugblik na oom Alwyn, stap Deidre die kantoor uit, gevolg deur haar nuwe bestuurder, en nie een van die mans dink eens daaraan dat hy Deidre sonder ’n groet volg nie.

Toe Deidre in haar motortjie klim en die deur hard toeklap, weet sy dat sy die laaste stap geneem het, weet sy dat sy enkele sekondes gelede finaal afskeid geneem het van ’n fase in haar lewe. ’n Deur het agter haar toegeklap. Al wat vir haar oorbly, is om vorentoe te gaan … en te hoop vir die beste.

Ena Murray Keur 6

Подняться наверх