Читать книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

Die agttiende eeu is in sy doodsnikke.

Soos oral oor die aardbol vergeet ook Frankryk vanaand ’n paar uur lank van sy bloedige verlede en vier fees. In hierdie laaste aand van die agttiende eeu het die Franse immers hoop dat die nuwe eeu beter beloftes en besieling vir ’n nuwe toekoms sal inhou. Want die bloedige Franse Rewolusie van 1789 is agter die rug, toe die onderdrukte gepeupel al wat edelman was na die skavot gesleep en hul oorheersers Madame Guillotine se laaste kus laat proe het.

Ook die tydperk net daarna met Maximilien Robespierre en sy gevreesde Jakobyne aan bewind, wat ’n Heerskappy van Vrees – soos dit in hoofletters in later jare in die annale van die wêreldgeskiedenis opgeteken sou staan – in Frankryk gevoer het, en veroorsaak het dat menige goeie Fransman uit die vaderland gevlug het, is verby. Reeds te ver gedryf deur jare se dwingelandy onder hul meerderes, het ook Robespierre die pad van sy voorgangers gegaan en onder die valbyl gesterf.

Weliswaar het die daaropvolgende tydperk nie juis meer hoop en vertroue by die hoipolloi gewek nie, want die Raad van Direkteure wat Frankryk se regering toe onder hande geneem het, was nie minder korrup as sy voorgangers nie. Ook die “nuwe” rykmansklas onder die Franse – die boewe en rowers en afpersers wat vir eie gewin hul landgenote uitgebuit en die onsekere en wankelrige situasie tot eie voordeel omgeswaai het – was nie te beny nie.

Maar … ’n nuwe ster het skielik teen Frankryk se donker firmament verskyn: ’n kort, donker, begeesterde, ambisieuse jong generaal – Napoleon Bonaparte.

Elke oog in Frankryk is op hierdie man gerig sedert sy eerste segetog in Italië. Napoleon Bonaparte se naam is op elke lip. Gaan hierdie man Frankryk teruglei na glorie? Dit het so gelyk, want net verlede maand, November 1799, het hy die bestaande regering omvergewerp en homself tot Eerste Konsul uitgeroep.

Daarom vier die vaderland vanaand fees. Die eerste keer in jare het hulle werklik rede om die Franse rooiwyn in strale te laat loop.

Van bo uit die noorde in Calais tot onder in die suide van Toulon, van Brest aan die Weskus tot by Savoy op die oostelike grens, brand die vreugdevure. Daar word behoorlik van die agttiende eeu afskeid geneem.

In haar beskeie huisie in die hawestad Toulon lê en luister Josephine Jacquard na die geluide van die feesvieringe wat haar ore deur haar kamervenster bereik. Sy is seker van die enkeles wat op hierdie Oujaarsaand nie deelneem aan die jolyt nie, want met sewentig somers agter die rug en ’n liggaam wat reeds afgetakel is, stel sy nie meer belang in wat die negentiende eeu mag inhou nie. Nie vir háár nie. Net herinneringe het vir haar oorgebly, waarvan die meeste nie aangenaam is nie. Die enkeles wat wel ’n sagte gloed in haar oë bring, wek so ’n intense nostalgie in haar dat sy dit liewer nie wil opdiep nie.

Nee, sy moet liewer nie dink aan gister nie. Dis onherroeplik verby, net soos wat hierdie eeu binne ’n paar minute ook tot die verlede sal behoort.

Maar hoewel daar vir haar niks op dié drumpel van ’n nuwe eeu wag nie, moet sy haar tog ter wille van plig en bloed dwing om oor die toekoms van haar broerskind te besin. En nie net te dink nie. Daar sal nou daadwerklik opgetree moet word. Lille was al agttien. Nie dat dít haar tante so ontstel nie, maar Lille bevind haar in die verkeerde geselskap. Lille gaan met die verkeerde man trou as sy wat Josephine is nie ’n plan beraam nie.

Dis ’n uur of wat later. Die gelui van klokke het reeds die nuwe eeu se geboorte aangekondig en in die hawe het die skepe voor anker salvo’s kanonskote afgevuur om dit luid bekend te maak. Die ou dame se kamerdeur swaai saggies oop en ’n jong meisie nader die bed op haar tone.

Josephine lig haar hand op en wink haar nader. “Kom nader, kind. Is jy tuis?”

“Ja, tante. Is u dan nog altyd wakker?”

Josephine Jacquard glimlag moeg na die gesiggie wat oor haar buig.

“Dis nie elke dag dat ’n mens die oorgang van een eeu na ’n ander beleef nie. Ek lê maar en luister na al die jolyt in die strate en die klokkespel en die kanonvuur van die skepe. Dit klink vir my asof die hele Toulon vannag op straat is.”

Die jong meisie lag, neem sommer op die kant van die hoë kapbed plaas. “Ja, die mense is mal! Dit dans en drink in die strate! O ja!” Sy buk vooroor, soen die een verrimpelde, bleek wang. “’n Voorspoedige nuwe jaar vir u, tante! ’n Mens moet eintlik sê ’n voorspoedige nuwe eeu!”

Die ou dame se glimlag bereik nie haar oë nie. Sy twyfel of selfs ’n jaar nog vir haar voorlê. Die erns is sigbaar in haar oë en stem toe sy antwoord: “Dankie, Lille. My mooiste wense ook vir jou vir hierdie nuwe jaar. Jy sal beslis meer van hierdie nuwe eeu sien as ek. Ek hoop dit sal net mooi dinge wees, maar …”

Die meisie frons liggies, probeer die erns ontwyk. “Ag, nee wat, kom nou! Ons gaan nie nóú ernstig word nie! Daarvoor is die nuwe eeu darem nog te jonk!”

Maar Josephine Jacquard weet dat die tyd verbyvlieg. En daar is dinge wat nie langer verswyg mag word nie. Belangrike dinge. Nou is net so ’n goeie tyd om daaroor te praat as later. Haar broerskind lyk ten spyte van die laatnaguur geensins moeg en vaak nie. Inteendeel. Sy vertoon soos ’n vars lentebloeisel waar sy hier digby haar sit, die donker oë dansend en die lig van die lamp spelend oor haar fyn, aristokratiese gelaatstrekke en die lang, raafswart hare.

“Daar is nog baie tyd vir jou, my kind. Maar vir my … Lille, ek wil ernstig met jou praat. Asseblief!”

Die jong meisie sug saggies, leun dan terug teen die voetenent se styl en glimlag. Ag, sy sal maar luister. Die dierbare ou ding lyk so bekommerd. Haar blik verteder. Hoe verskriklik baie is sy nie aan hierdie vrou verskuldig nie. As dit darem nie vir haar was nie …

“Goed, tant Josephine. As u regtig wil. Wat druk so swaar op die ou hart?”

“Jy, my kind.”

“Ek?” Sy is eerlik verbaas. “Wat het ek gedoen?”

Die ouer vrou sug. “Dis nie dat jy iets gedoen het nie, Lille. Dis … Ek is bekommerd oor jou toekoms, wat van jou gaan word as ek wegval en …”

“Ons gaan nie nóú oor sulke dinge praat nie,” sê Lille Jacquard vinnig, terwyl sy die tikkie onrus wat haar tante se woorde in haar gewek het, met alle mag terugdruk.

“Nou is ’n baie goeie tyd, Lille. Met die oorgang van die eeu besef ’n mens die tydelikheid van alles, van jou bestaan as mens op hierdie aarde. Daarom moet ons nou praat. Ons weet nie een wat môre wag nie, nie waar nie?”

Met ’n ligte suggie gee sy toe. “Nou goed dan. Waarom bekommer u u oor my? Ek is versorg, dan nie? U het mos gesê dat u my erfenis vir my kon red, of altans ’n groot deel daarvan, en saam met die deel wat u ook bysit, hoef ek nooit kommer oor aardse dinge te hê nie. Wat pla u dan nog?”

Josephine sug. Natuurlik sal sy nie sommer verstaan nie. Maar daar is belangriker dinge as om geen finansiële probleme te hê nie.

“Ek wens so ek kon jou getroud sien voordat ek … gaan.”

“Tante! Ons het al hieroor gepraat. Goed, ek was al agttien, maar ek gaan beslis nie nou al trou en kinders in die lewe bring en grootmaak en …”

“Dis ’n vrou se hoogste roeping, Lille.”

“Ek weet, tante, maar nie nóú al nie! Later. Ek is nie nou al lus om my te bind aan een man nie. Hulle is net interessant solank jy nog nie met hulle getroud is nie.”

“Lille! Lille! Hoe lyk dit dan vir my jy het ’n regte klein flerrie geword?”

“Tante!” Die swart oë blits verontwaardig. Sy is beslis een van die gewildste jong meisies in Toulon, maar sy is nie ’n flerrie nie!

Die ou dame sug weer saggies. “Goed, goed, ek weet jy bedoel dit nie, en dat jy maar net hou van baie mansvriende en om elke aand met iemand anders gesien te word. Maar besef jy hoe gevaarlik die lewe vir ’n ryk jong meisie soos jy kan word, veral as ek nie meer daar is vir wie hulle darem ’n bietjie respek het nie?”

Die meisie lag. “Maar niemand weet ons is ryk nie, tante! Ons het dit mos goed geheim gehou!” Die donker oë vonkel nou prettig. “Niemand hier in Toulon weet dat die oujongnooi in die eenvoudige huisie eintlik ’n paar jaar gelede ’n bekende gas aan die paleis van die koning was, en dat die jong meisie na wie sy omsien ná haar broer se dood, eintlik die erfgename van ’n titel is nie. Niemand droom om my te verbind met een van die pare wat gedurende die rewolusie onder die valbyl gesterf het nie. Hoe sal hulle weet ek is die meisietjie wat daardie tyd oorgebly het en wat hier, in Toulon, kom skuil het?”

Sy kyk om haar rond, lag weer. “Wie sal ooit, as hy na hierdie huis kyk, daarvan droom dat hier ’n fortuin aan juwele en ander kosbaarhede versteek lê, my erfenis wat gered kon word voordat die gepeupel ook op my ouers toegeslaan het? U is verniet bang, tante!”

Die ouer vrou skud haar kop. “Jy verstaan nie alles nie, my kind.”

“Maar dis soos u my dit vertel het. U wou my nog net nooit wys waar u my erfporsie versteek het nie. Dis al.”

“Daarom wil ek vanaand met jou praat, kind. Dit is nie hier nie, Lille.”

“Nie … hier nie? Waar dan?”

“Dis baie ver hiervandaan. Nie net dit wat ons van jou ouers kon red nie, maar ook my eie is baie ver hiervandaan veilig weggesteek. Eintlik is ons waar ons nou hier sit net gewone arm mense soos miljoene ander Franse.”

Lille frons liggies. “Ek begryp. Waar is dit dan?”

Josephine aarsel. “Dis ’n lang storie en ek sal eers verduidelik. Jy het my nog nooit gevra hoekom ek nooit getroud is nie.”

Lille kyk haar verbaas aan. Wat hierdie feit met háár erfporsie te doen het, kan sy nie dink nie. Sy kyk nou die ouer vrou vas aan en erken reguit: “Nee, ek het nie. Nie dat ek nie al wou sterf van nuuskierigheid nie! Maar ek het aangevoel dis iets waaroor u nie graag wil praat nie.”

Josephine knik, haar gedagtes ’n oomblik ver terug in die verlede. Nee, ’n mens wil nie graag praat nie, maar vanaand moet sy. Daar is te veel op die spel. Dan glimlag sy effens wrang. Sy is al ’n ou vrou van sewentig. Hoekom nou nog steeds so wegskram van daardie deel van haar lewe? Tog … Daar is herinneringe in elke mens se lewe wat nooit werklik gebêre kan word nie. So het haar liefde vir Corné Bidault bly voortlewe … al moes sy dit al langer as vier dekades begrawe het.

“Ek het verlief geraak op ’n gewone man. Jou oupa wou natuurlik niks daarvan weet nie. Ons was van adellike afkoms en net iemand met ’n titel sou hom tevrede stel. Nie dat Corné Bidault heeltemal van die gepeupel was nie. Inteendeel. Hy was self iemand met blou bloed in sy are, maar soos so dikwels gebeur, het sy kant van die familie in die vergetelheid versink, wegbeweeg van die erfenis van ’n titel omdat daar te veel vóór hom aanspraak daarop kon maak. Ek moes van hom afsien en het nooit getrou nie.”

Lille sit doodstil en luister, jammerte en deernis in haar blik wat op die ouer vrou se fyn, vervalle gelaat rus. “En hom ook nooit vergeet nie,” voeg sy sag by.

Hy moet ’n besonderse man gewees het, besef die jong meisie, om Josephine Jacquard se hart so volkome te kon verower dat sy niemand in sy plek kon stel nie. Want sy kon kies en keur aan die Franse hof. Sy was beeldskoon. Ook nou, selfs in hierdie later jare van haar lewe, besit haar gesig ’n soort eteriese skoonheid wat Lille nog kan raaksien.

“Ons het mekaar jare lank nie gesien nie, niks van mekaar gehoor nie. Op ’n dag het hy egter skielik weer verskyn. Hy het my net kom waarsku dat ’n rewolusie in aantog was en dat ek betyds moes padgee. Daardie tyd was my vader, jou oupa, reeds oorlede. Ek het toe al by jou ouers gebly.”

“Maar hoekom het julle nie toe getrou nie, tante?” roep Lille uit, aangedaan deur die verhaal wat sy moet aanluister.

’n Meewarige glimlaggie speel rakelings om die bleek lippe. “Dit was te laat. Corné is intussen getroud.”

Die donker oë blits verontwaardig. “O, hy kon nie wag nie!”

Maar Josephine skud haar kop. “Nee, Lille. Ek het hom nie daaroor verkwalik nie. Hy was ’n gesonde, normale jong man. Hy kon nie vir ewig wag dat ’n hardkoppige ou man moes sterf sodat hy met die vrou van sy hart kon trou nie. Ek het verstaan. Maar hy het my nooit vergeet nie. Dit het hy bewys deur my te kom waarsku toe toestande in Frankryk begin sleg lyk. Hy was bereid om my self hier weg te neem na ’n veiliger plek. Ek wou nie gaan nie.”

“Hoekom het u nie gegaan nie, tante?”

“Ag, dit was nie vir my die moeite werd nie. Corné was vir ewig vir my verlore. Hy had ’n vrou en seun. ’n Goeie vrou en ’n pragtige seun. Hy het weer gekom, en weer, ook ernstig met jou vader gepraat, hom gesmeek om betyds pad te gee, want dinge gaan handuit ruk. Hy was in die kol. Dit het. Die meeste van die adellikes is aan die valbyl geoffer. Maar hoewel jou vader ook nie wou gehoor gee om pad te gee nie, het hy tog Corné se waarskuwings so ter harte geneem dat hy ’n groot deel van sy besittings, die erfjuwele en so meer, aan Corné toevertrou het om veilig te bewaar. ’n Paar dae voordat die hel in Frankryk losgebars het, het hy weer gekom, en vir my en vir jou weggeneem uit Parys. Jy onthou seker maar min daarvan, want jy was toe net nege jaar oud.”

Lille frons, knik. Sy onthou die vriendelike gryskopman met wie hulle saamgegaan het en wat hulle na Toulon gebring het. Sy onthou die vriendelike vrou wat hulle ontvang het en vaag, baie vaagweg, onthou sy ook ’n ander jong man wat daar was.

“Ja, dit is sy huis dié. Hy het dit net so aan jou en my gegee om in te woon. Hy en sy gesin is die volgende dag op ’n skip weg. Ek het hom nooit weer gesien nie. Gedurende die seereis het hy griep opgedoen en is oorlede. Sy vrou is ook intussen oorlede. Dis nog net die seun wat oorgebly het.”

“Waarheen het hulle gegaan?” wil Lille belangstellend weet.

“Na Kaap die Goeie Hoop. Hy wou daar ’n nuwe lewe gaan begin.”

“In daardie woeste, afgeleë wêreld?”

Daar is ’n teer glimlag om Josephine Jacquard se lippe. “Hy was altyd ’n avontuursoeker. Hy kon die mak lewe van Parys nooit verdra nie. Sy seun aard so reg na hom.”

“En die erfenis? Waar is dit nou?”

“Corné het dit saam met hom geneem na Kaap die Goeie Hoop.”

“U bedoel … my erfenis lê dáár?” vra Lille, en die ouer vrou knik.

“Ja. Dit is die veiligste plek. Ek het net genoeg vir ons hier agtergehou sodat ons ’n redelike bestaan kon voer.”

“Maar hoe gaan ons dit hier terugkry?”

Haar tante kyk haar ’n oomblikkie stil aan. “Dis juis waaroor ek met jou wou praat, Lille. Oor jou erfenis. Ek kan dit nie sommer net vir jou gee nie.”

Lille frons. “Wat bedoel u?”

“Jy is ’n jong meisie en met daardie erfenis die prooi vir wolwe. Voordat ek dit aan jou gee, moet ek weet dat die man met wie jy dit sal deel, dit waardig sal wees. Ek gaan nie dit – al wat oorgebly het van alles wat ons familie gehad het – in die hande van ’n geldwolf laat beland nie.”

Die ouer vrou kyk stip voor haar uit en skielik is dit of daar hernieude krag in haar skraal liggaam kom sodat die aristokrasie van eeue wat deur haar are vloei met die oog sigbaar is.

“Jy kom uit ’n trotse geslag, Lille. Jy dra adelbloed in jou are, al beteken dit vandag in Frankryk niks meer nie. Ek gaan nie toelaat dat jy met enige Jan Rap en sy maat trou nie. Jy moet dit duidelik verstaan.” Haar stem is so beslis soos wat Lille dit nog nooit gehoor het nie. “Die mans met wie jy deesdae meng, dra nie my goedkeuring weg nie. Veral hierdie jongste vryer van jou …”

“Hy is nie ’n vryer nie,” laat Lille verontwaardig hoor, maar haar tante het die ervaring en mensekennis van baie jare agter haar.

“Hy sal dit binnekort wees,” laat sy droog hoor. “Ek het gesien hoe hy na jou kyk vanaand toe hy jou kom haal het. Ek hou nie van hom nie.”

Lille frons nou diep, en ook sy kyk reguit terug. “Tante, gaan u dus nou aan my dieselfde doen as wat u vader aan u gedoen het – om my voor te skryf met wie ek mag en nie mag trou nie?”

“Nee, my kind. Want jy wil nog nie trou nie. Maar ek moet jou getroud sien voordat ek sterf. As jou keuse Louis Paquin gaan wees, moet ek dit probeer keer. Wie is hy en waar kom hy vandaan?”

Lille se blik skram nou weg van haar tante s’n. Sy weet self nie. Tot dusver was Louis baie teruggetrokke wat besonderhede oor homself betref. Hy het net asof uit die niet in Toulon verskyn en met sy flambojante en joviale houding die stad se meisies aan sy voete gekry. Hy woon in een van die deftigste huise, maar hoewel hy skynbaar van die min ryk mense is wat nog in Frankryk oorgebly het, weet niemand waar daardie rykdom vandaan kom nie.

Die ouer vrou se blik dwaal speurend oor die onseker gesiggie, en sy vervolg: “Begryp jy, Lille? Jy weet in werklikheid niks van die man af nie. Waar kom hy aan sy geld? Ek dink ek weet.”

Lille kyk weer vinnig op. “Wat bedoel u?”

“Dit was nie vir my moeilik om hom op te som nie, my kind. Die man wat ek liefgehad het, was ook van die gewone mense. Nogtans het hy ’n verfyndheid in hom gehad wat sy goeie opvoeding en agtergrond verraai het. Om ’n ryk man te wees, maak nie noodwendig van hom ’n opgevoede man nie. Jou Louis Paquin is nie ’n heer nie. Hy doen sy bes om dit voor te gee, ja, maar ’n duisend dingetjies verraai hom. Ek sal jou sê wie hy is. Hy is een van die ‘nuwe’ rykmansklas wat skielik ná die rewolusie hier ontstaan het.”

“Nee, tante!”

“Ja, Lille! Hy is een van daardie boewe wat, terwyl die aristokrasie na die valbyl gesleep is, die kastele geplunder het en in die naam van die rewolusie en gelykheid dwarsdeur Frankryk geroof het, ook selfs van die gewone mense. Dis waar sy rykdom vandaan kom.”

“Ek …” Sy lek oor haar droë lippe, die donker oë groot van kommer. “Ek glo dit nie! Goed, Louis is nie verfynd nie, maar hy is nie ’n skurk nie. Ek glo dit nie!”

Die ouer vrou se oë vernou. Is die koeël reeds te ver deur die kerk vir haar om wal te gooi? Die kommer oor haar broerskind verdiep in haar. Jare lank troetel sy al ’n droom hier binne-in haar hart. Soos Lille groter geword het, het die droom al meer vaste vorm aangeneem. Vandag, in hierdie eerste ure van die negentiende eeu, lê dit al in so ’n vaste patroon in haar dat sy weier om nou daarvan afskeid te neem. Sy sal aan ’n plan moet dink …

Maar sy sal versigtig te werk moet gaan. Lille aard baie na haar. Sê nee, en dis so goed of jy sê sa! Sy is ’n koppige meisie as sy eers ’n besluit geneem het. Sy kan gelei word, maar laat haar nie maklik stoot nie, veral nie as dit in ’n rigting is waarvan sy nie hou nie. Dus glimlag die ouer vrou skielik en hou haar hand uit.

“Nou goed, Lille. Ek gee jou tyd. Bewys jy aan my dat my dunk van Louis Paquin verkeerd is. En ek is nie haastig nie.”

“Ek verstaan nie u houding nie. Wat sal u doen as ek teen u sin met ’n man trou?”

Josephine Jacquard se gesig vererns. “Wat sal jy doen as ek jou onterf, Lille?” is haar teenvraag. “Of moet ek liewer vra, wat sal van jou word as jy skielik op ’n dag opstaan en besef dat jy nie ’n frank op jou naam besit of ooit kan hoop om te besit nie?”

Twee paar oë ontmoet mekaar. “Voordat jy tot ’n dwase stap oorgaan, liewe kind, wil ek hê jy moet jouself hierdie vraag ernstig afvra en kyk of jy ’n antwoord daarop kan kry … ’n bevredigende antwoord vir jouself.”

“Dreig u my, tante?” Haar stem is sag, maar die ouer vrou weet hoe belangrik haar antwoord is.

In ’n ewe sagte, beheerste stemtoon antwoord sy dus: “Nie dreig nie, Lille. Dis net ’n moontlikheid waaraan jy moet dink.” Sy trek die jong meisie nader, soen haar teer. “Gaan slaap nou. Dis al amper oggend. Slaap gerus, my kind.”

Maar Lille Jacquard doen net mooi die teenoorgestelde. Hoewel sy moeg en vaak was, ontwyk die slaap haar nou terwyl sy by haar kamervenster staan en kyk hoe die eerste oggendskemer van 1 Januarie 1800 oor die stad kruip.

Sy kan die onrus in haar nie meer ignoreer nie. Die onverwagte, openbarende gesprek met haar tante het baie spoke in haar wakker gemaak. Wat as sy haarself op ’n dag sonder ’n frank in die sak bevind? Sy is as rykmansdogter gebore en grootgemaak. Selfs nadat hulle in Toulon kom bly het, in veel eenvoudiger omstandighede as die kasteel waaraan sy gewoond was, het niks hulle werklik ontbreek nie. Uit die aard van die saak moes hulle ’n eenvoudige lewe voer om nie agterdog te wek nie. Maar as sy skielik op ’n dag brandarm moet wees soos duisende ander Franse om haar?

Sy besef maar te goed hoe haglik haar posisie sal wees. Sy kan nie werk nie. Sy sal nooit vir haarself kan sorg en die mas alleen opkom nie. Al wat sy sal kan doen, is om ’n ryk man te soek om mee te trou, of sy hom liefhet of nie.

Louis Paquin se gesig verskyn voor haar. Op die oog af lyk hy na ’n baie aantreklike Fransman, en heel aan die begin het sy gevlei gevoel dat hy haar bo al die ander meisies in Toulon begin uitsonder het om uit te neem ten spyte daarvan dat sy in ’n eenvoudige huisie nie ver van die hawe af woon nie. Sonder Louis se geselskap sal Toulon ook amper ondraaglik vir haar wees, want hoewel daar baie jong, aantreklike Fransmanne in die stad is wat maar te graag ’n vriendskap met die pragtige donkerkop sou wou sluit, is almal in Frankryk verarm. Net hier en daar tref jy mense soos Louis aan wat nog geld het, en almal weet waar die meeste van daardie geld vandaan kom … van roof en plunder toe Frankryk in die stuiptrekkings van die rewolusie was.

Maar is Louis ook een van hulle? Sy weet nie. Natuurlik het sy hom nog nooit gevra nie. Daarvoor is sy te fyn opgevoed. Tot dusver het sy ook nie een keer daaraan gedink dat hy dalk op daardie manier aan sy rykdom gekom het nie. Maar nou … As haar tante gelyk het?

Waarheen en tot wie moet sy haar wend as haar tante skielik wegval? is die volgende vraag op haar lippe. Die mense wat sy as kind geken het, het almal onder die valbyl gesterf. En hier in Toulon ken sy maar net ’n paar, en dan ook baie oppervlakkig. Tant Josephine wou nooit gehad het dat sy te intiem met Toulon se mense raak nie, juis uit vrees dat iemand sal agterkom dat hulle van die gehates is wat die valbyl vrygespring het. Tot op hierdie dag van die negentiende eeu is enige oorblywende lid van daardie gehate groep nog nie sy lewe heeltemal veilig nie, al staan die valbyle reeds al ’n paar jaar sonder werk.

Die begeerte na iemand om mee te praat, om in haar vertroue te neem, is oorweldigend in haar. Eintlik is sy en haar tante twee baie eensame mense. Daar is niemand met wie sy werklik intiem bevriend is nie. Daarom miskien beteken Louis Paquin se vriendskap vir haar meer as wat dit normaalweg sou. Hy is darem iemand met wie sy kan lag, saam met wie sy kan gaan dans.

Maar gee sy vir hom om? Sy frons, draai weg van die venster en trek die gordyne toe om die skerp oggendsonstrale uit die kamer te weer. Sy is nie seker nie. Sy weet nie eintlik hoe ’n mens moet voel as jy regtig vir ’n man omgee nie, maar van al die mans wat sy ken, staan Louis die naaste aan haar. Sy sou nie graag sy vriendskap wou verloor nie. Naas haar tante, is hy op die oomblik al een tot wie sy haar kan wend as iets moet gebeur.

Dis hierdie gevoel van intense eensaamheid wat haar daardie aand juis dit laat doen waarteen haar tante haar al die jare gewaarsku het … om iemand in haar vertroue te neem.

Toe Louis Paquin haar daardie Nuwejaarsaand weer kom haal, sê sy op haar reguit manier toe sy regoor hom in die koets sit: “Tante hou nie van jou nie. Het jy dit geweet, Louis?”

Die man glimlag effens; daardie meerderwaardige glimlaggie wat Lille se tante juis so teen die bors stuit. “Is dit van soveel belang? Solank jý net van my hou, pragtige meisie!”

Maar sy glimlag nie saam nie, kyk hom reguit aan. “Louis, wie is jy werklik?”

Hy kyk haar verbaas aan en sy glimlag word breër. “My liewe klein skat, ek wens ek kon jou ’n vreeslik romantiese verhaal vertel wat my ’n romantiese figuur in jou oë kon maak, maar ongelukkig is daar niks om te vertel nie. My vader was ’n skeepsbouer in Havre. Dis al.” Hy lag. “Ek kan jou nie eens sê ek was ’n rower of ’n skurk nie! Ek weet baie vroue dink sulke mense is baie romanties! Ongelukkig moet ek bieg dat ek tot dusver ’n baie gehoorsame burger van die vaderland was.”

“Louis, moenie spot nie! Ek is ernstig!”

Sy glimlag verwater effens, en sy oë kyk haar vas aan. “Ek ook, my liewe Lille. Doodernstig. Of het jy verwag ek moet jou vertel ek is een van daardie … e … nuwe rykmansklas?”

“Nee!”

“As dit my begeerliker in jou oë sal maak, kan ek myself een of twee wandade toedig, maar dit sal nie die waarheid wees nie.”

Sy glimlag nou terug, die verligting groot in haar. Tant Josephine se opsomming was verkeerd. As hy werklik op daardie manier aan sy rykdom gekom het, sou hy tog nie so ligtelik daarmee die spot gedryf het nie.

Maar Lille besef nie dat sy maar oor min mensekennis beskik en dat sy te doen het met ’n geslepe en vernuftige man nie. Louis Paquin leun gemaklik terug teen die gestoffeerde koetsleuning en glimlag by homself. Natuurlik weet hy wat die mense van Toulon agter sy rug oor hom en sy rykdom sê. En natuurlik sou Lille en haar bemoeisieke ou tante ook al die stories gehoor het. Maar hy is geensins bekommerd nie. Toulon kan dink wat hulle wil, maar niemand kan iets bewys nie.

Hy sit en bekyk nou die meisie oorkant hom deur vernoude oë. Afgesien daarvan dat sy werklik ’n pragtige kind is met haar donker oë en raafswart hare, is daar nog iets anders aan haar wat hy onweerstaanbaar aantreklik vind. Hy gee weer sy geheimsinnige glimlaggie. Wat Toulon se mense nie weet nie, is dat hy nie werklik so ryk is as wat dit op die oog af lyk nie. Maar daar is nog iets wat Toulon se mense nie weet nie: dat hierdie pragtige meisie en haar ou tante eintlik jare gelede saam met die edellui onder die valbyl moes gesterf het. Net hy weet wie Lille Jacquard werklik is.

En net so min as wat hy so ryk is as wat Toulon dink, net so min is hierdie meisie en haar tante so arm as wat Toulon dink. Hierdie twee sou nie gevlug het sonder dat hulle iets met hulle sou saamneem nie. Die vraag is net: hoeveel? Dis tyd dat hy begin uitvis. Hy gaan nie onnodig tyd met haar mors as dit nie betalend genoeg is nie, so pragtig as wat Lille Jacquard is.

“Terwyl jy nou so belangstellend geluister het en ek so openlik was … dink jy nie dis tyd dat jy my ook iets oor jouself vertel nie?” Hy sien die onsekerheid in haar oë en beweeg vinnig oor na haar kant, kyk diep in haar oë af.

“Ek het jou lief, my meisie. Eendag gaan ons seker trou. Het julle genoeg om van te lewe? Ek is soms so bekommerd oor jou!” Hy trek haar nader. “Lille … vertrou jy my dan nie, my skatjie?”

Ena Murray Keur 10

Подняться наверх