Читать книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray - Страница 5
2
ОглавлениеBewus daarvan dat sy direk teen haar tante se bevele gaan, vertel sy Louis Paquin alles. Maar dis die diep behoefte in haar om met iemand oor haar probleme te praat wat haar tot hierdie daad dryf en sy hou hom angstig dop terwyl die verhaal van haar verlede voor hom ontplooi.
Sy weet nie dat die man kwalik sy genoeë kan wegsteek, en dat die glinstering in sy oë wat sy as simpatieke teerheid ervaar, eintlik ’n kwalik bedekte opgewondenheid in hom is nie. Dan was sy vermoedens juis! Iewers in die toekoms wag daar ’n fortuin!
Daar is net een vlieg in die salf: die ou tante. En sy hou nie van hom nie. Dit het hy reeds geweet voordat Lille dit vanaand so uitdruklik aan hom gesê het. Dan glimlag hy. Hy hoef hom nie oor háár te bekommer nie. Josephine Jacquard is reeds op die afdraande pad. Sy sal nie meer lank lewe nie. En dan …
Hy gee nou voor dat hy diep bekommerd is om Lille se onthalwe. “My liewe Lille, ek voel nou nog meer bekommerd oor jou nadat ek jou verhaal gehoor het. Ek sou liewer verkies het dat jy die gewone, arm meisietjie is wat ek gedink het jy is en op wie ek verlief geraak het.”
Sy glimlag bly. “Werklik, Louis?”
“Maar natuurlik, my skatjie. Jy weet tog dat ek jou reeds bo al die ander meisies in Toulon vir myself gekies het lank vóór vanaand en lank voordat ek gehoor het jy is die erfgename van ’n fortuin.”
“Ja, natuurlik. O, Louis, ek is so bly en dankbaar. Ek wens tant Josephine kon jou nou hoor, dan sal sy weet sy het jou verkeerd geoordeel.”
As sy lippe ’n bietjie styf glimlag, merk sy dit nie op nie. “Ag, ons moet haar nie te sterk veroordeel nie, Lille. Sy is ’n ou dame en sy dink maar net aan jóú belange. Natuurlik sal sy bang wees jy val in die hande van ’n geldwolf. Ek kan nou haar amper vyandige en veroordelende houding teenoor my begryp en vergewe. Ek sal dit nie teen haar hou nie.”
Die onervare Lille is diep beïndruk, en hy gaan voort om sy rol meesterlik te vertolk. “Jy moet my ook belowe dat jy vir niemand anders hiervan sal vertel nie. Dit kan vir jou baie gevaarlik wees. ’n Mens kry baie skurke. Wat is die man se naam?”
“Watter man?”
“Die seun van die man aan wie jou tante die erfenis toevertrou het, natuurlik. Jy sê mos dié man is oorlede. Dis nou net die seun wat oor is. Wat is sý naam?”
“Ek weet nie. Tante het nie gesê nie …”
“Werklik, Lille!” Hy klink ongeduldig, maar dadelik verander sy stemtoon weer. “My meisie, jy sal daardie naam by jou tante moet kry. Dis uiters belangrik.”
“Maar hoekom?”
“Lille! Veronderstel jou tante kom vannag iets oor, waar gaan jy na jou erfenis begin soek?”
“Maar tant Josephine het mos gesê dis aan Kaap die Goeie Hoop.”
“Ja, maar by wie? Jy moet dit tog by iemand gaan soek!”
Lille frons. Dis waar. Sy het nooit so daaraan gedink nie.
Veronderstel tant Josephine kom iets oor, sterf skielik, dan sal sy nooit haar erfenis opgespoor kry nie. Sy kyk hom dankbaar aan. Nou is sy bly sy het Louis in haar vertroue geneem. Sy het reg opgetree. Hy sal haar help.
“Ek sal haar net môre vra.”
“Net een ding, Lille,” keer hy vinnig. “Ek dink nie jy moet jou tante vertel dat jy my in jou vertroue geneem het nie. Dit sal haar ontstel en haar gesondheid is juis nie goed nie. Sy hoef nie te weet nie. En, my skat, probeer maar met haar grille saamspeel.”
Sy kyk hom vinnig aan. “Bedoel jy ek moet stilbly as sy my wil voorskryf met wie ek mag trou?”
Hy glimlag in haar verontwaardigde oë af, sy stem sussend: “Sy kan jou nie regtig dwing om teen jou sin met iemand te trou nie. Speel dus maar saam. Sus haar maar net. Dit sal nie help om haar die harnas in te jaag nie. Sy onterf jou dalk, en dit sal darem nie regverdig teenoor jou wees nie. Dit kom jou immers toe.”
“Maar, Louis, wat sy eintlik wil hê, is dat ek jou nie langer moet sien nie. Sy hou nie van jou nie. Ek het jou dit reeds gesê.”
Maar hy glimlag net. “Ek weet, en miskien moet ons maak asof ons haar wens respekteer. Miskien moet ons mekaar liewer in die toekoms in die geheim ontmoet, haar die indruk gee dat jy my nie meer sien nie.”
Sy kyk hom fronsend aan. “Maar hoekom?”
Hy hou sy ongeduld goed in toom. “Dis alles net ter wille van jou. Ek wil nie eendag hoor of weet dat ek jou van jou wettige erfenis beroof het nie. Jou tante is eksentriek en ons sal ons maar na haar wil moet skik. Dit sal tog seker nie vir lank wees nie. Jy sê self sy is deesdae feitlik bedlêend.”
Sy stem is dringend. “Lille, moet niks doen wat haar teen jou sal laat draai nie.”
Sy kyk hom onseker aan. “Sy kan nog jare leef, Louis. Is die erfporsie werklik so belangrik? Jy het mos genoeg vir ons albei, nie waar nie? Het ons dit werklik nodig?”
Sy seepgladde tong is gereed. “Natuurlik het ek genoeg vir ons albei. Dis nie aan ons wat ek dink nie. Maar, Lille, daardie erfenis is grootliks van jou ouers afkomstig, en hulle sou graag wou sien dat dit eendag na jou kinders gaan. Dit kom jou kinders toe, nie vreemdelinge nie. My meisie, jou ouers het tog met hul lewens daarvoor betaal, nie waar nie?”
Sy knik, haar gesig somber. “Ja, dis waar. My ouers het albei onder die valbyl gesterf. Die bietjie wat gered kon word, kom my en my kinders toe. Jy is reg, Louis.”
“Natuurlik! Daarom moet ons keer dat jou tante dit nie dalk deur skone kindsheid uit jou hande laat glip nie. Selfs al kan jy haar ook net aan die gang hou totdat ons weet by wie jou erfenis is.”
Louis neem haar daardie aand vroeg terug huis toe. Hy soen haar met hartstog toe hulle afskeid neem.
“Onthou nou wat ek gesê het. Kry daardie naam by jou tante. En vertel haar dat ek en jy ’n woordewisseling gehad het en mekaar nie weer sal sien nie. Ek sal weer met jou kontak maak.”
Daar is skielik ’n vae onsekerheid in haar hart toe sy die koets agternakyk. Louis hamer darem te veel op hierdie erfenis van haar. Dan voel sy weer skuldig. Hy doen dit net ter wille van haar. Sy draai met ’n sug om en stoot die voordeur oop. Tot dusver het sy ’n kommerlose lewe gelei. Maar skielik het alles verander. Sy kan amper wens daar is nie êrens ’n erfenis wat op haar wag nie. Die lewe sou dan baie minder verwikkeld gewees het. Aan die ander kant weer besef sy maar te goed dat sy nie daarsonder kan klaarkom nie. Maar Louis het tog gesê hy het genoeg vir hulle albei. Haar oë vernou weer. Tog is dit duidelik baie belangrik vir hom dat sy haar regmatige erfporsie moet kry.
“Jy is vroeg terug, my kind,” hoor sy haar tante se stem uit die kamer kom, en sy stap onwillig daarheen. Sy sou liewer nie vanaand met haar oor al hierdie dinge wou gesels nie.
“Ja.”
Die ouer vrou frons en kyk haar ondersoekend aan. “Skort daar iets, Lille?”
Sy skud haar kop, ontwyk die skerp blik. Dit is vir haar baie moeilik om vir haar tante te jok. Maar dis tant Josephine se eie skuld, dink sy opstandig. As sy nie so bevooroordeeld teenoor Louis was nie, sou dit nie nou nodig gewees het om leuens te vertel nie.
“Nee. Dis maar net … ek en Louis het stry gekry en … ons sal mekaar seker nie weer sien nie. Tante sal seker bly wees om dit te hoor, nè?”
Die vreugde en verligting in die ouer vrou kry ’n tikkie kommer by. “Het jy werklik vir daardie man omgegee?”
Lille aarsel. Sy wens sy kon ’n eerlike antwoord op dié vraag gee, maar sy weet self nie. Soms, wanneer hulle so vrolik saam is en soos vroeër vanaand toe hy so bekommerd oor haar geklink het, het sy al gedink dat sy regtig vir hom lief is. Maar net so gou het die oomblikke van vertwyfeling weer gekom, was sy glad nie seker wat sy werklik vir Louis Paquin voel nie.
Sy glimlag nou effens, gaan neem op die voetenent van die bed plaas, en antwoord eerlik: “Ek weet nie, tante. Ek weet regtig nie. Hoe voel jy, wat voel jy as jy werklik vir ’n man omgee?”
Die ouer vrou glimlag verlig, leun gespanne terug teen die kussings agter haar en kyk teer na die jong meisie voor haar. “Jy sal weet wanneer die regte man op die toneel verskyn. As jy nog twyfel, het jy hom nie lief nie. Waaroor was die rusie?”
“O … sommer.” Sy haal haar skouers op en die ouer vrou dring gelukkig nie op verdere besonderhede aan nie. Sy is maar net te dankbaar om te hoor dat Louis Paquin van die toneel af verdwyn het. “Tante …”
“Ja?”
“Wat is die seun se naam, ek bedoel nou die seun van die man op wie tante verlief was?”
“Philippe. Het ek jou nie gesê nie?”
“Dan is hy Philippe wie? Wat is sy van?”
“Bidault. Hy is Philippe Bidault.” Josephine Jacquard hou haar broerskind fyn dop. Dis al vir haar asof die kind ongemaklik is. “Hoekom vra jy?”
Lille lag kortaf. “Hy is die bewaarder van my erfenis, nie waar nie? Ek moet darem seker sy naam ken, of hoe? Veronderstel u kom skielik iets oor, dan ken ek nie eens die man se naam wat my aardse skatte vir my oppas nie!” probeer sy dit ligtelik afmaak, maar die ouer vrou skud haar kop.
“Dit is eintlik so, maar jy is verniet bekommerd. Hy weet beslis van jou en dat jy eendag jou erfenis van hom moet kry. Ek het klaar ’n brief vir hom geskryf.”
“’n Brief aan hom geskryf? Wanneer?”
“’n Rukkie gelede al, en dit toe met een van die skepe wat suidwaarts gaan, saamgestuur.”
“Hoekom?”
“Om hom te nooi om vir ons te kom kuier.”
“O?” Lille kyk haar tante agterdogtig aan. Dit staan soos ’n paal bo water dat haar tante allerhande planne in die mou voer. “Hoekom?”
Josephine Jacquard sug. Miskien moet sy maar liewer heeltemal openlik met Lille wees. Noudat die ding tussen haar en Louis Paquin uit is, moet sy liewer die yster smee solank dit warm is.
“Omdat ek graag wil hê julle twee moet mekaar ontmoet en leer ken, noudat jy ’n vrou word.”
“Tante! Wat voer u in die mou?” vra Lille reguit, maar skielik is haar tante se plan glashelder vir haar, en dit is amper onnodig vir die ouer vrou om effens selfbewus te begin verduidelik.
“Hy is ’n puik jong man. Jy sal nêrens beter kry nie en …”
“Net omdat hy die seun is van die man op wie u destyds verlief was?” sê-vra Lille in ’n stemtoon wat haar tante waarsku, maar die koeël is reeds deur die kerk.
“Nee, omdat hy self ook ’n man is so reg na ’n vrou se hart. Hy was agttien toe hy die dag saam met sy ouers op die skip geklim het om na die Kaap te vaar. Maar toe al was hy ’n besonderse jong man. Nou is hy dit veel meer. Elke jaar nog het ek ’n brief van hom gekry waarin hy verneem hoe dit met ons gaan en my terselfdertyd verseker het dat jou erfenis nog veilig is. Nou het ek hom laat weet dat hy hierheen moet kom, want my gesondheid is aan die ingee. Lille …”
“Nee, tante!”
“Lille, jy sal nie beter kry nie …”
Die donker oë blits verontwaardig. “Tante, ek gaan nie toelaat dat u my aan ’n vreemdeling afsmeer nie …”
“Lille!”
“Dis waar, is dit nie? Ek sien dit nou duidelik. Dis hoekom geen jong man, ook nie Louis nie, goed genoeg in u oë is nie. Dis omdat u al die jare die droom vertroetel het dat ek eendag met die seun van die man wat u liefgehad het, moet trou. Ontken dit?”
Josephine Jacquard se oë vul met erkenning en weemoed. Ja, dis wat sy al die jare gedroom het. Lille is soos ’n eie kind vir haar, en so dikwels hoop ouers dat dit wat hulle nie self tot uitvoer kon bring nie, in hul kinders volbring sal word. So het sy ook gehoop. Sy kon nooit met Corné Bidault trou nie, maar Lille kan met sy seun trou … eendag … en daardeur iets aan haar tante teruggee wat sy jare gelede verloor het.
“Ja, my kind. Ja, dis wat ek nog altyd gehoop het sal gebeur. Jy en Philippe …”
“Maar, tante, verloor u darem nie nou die werklikheid uit die oog nie?” vra Lille met kwalik bedekte ongeduld, maar ook met deernis in haar oë. Arme tant Josephine! Haar hart kleef maar nog vas aan haar jeugliefde en selfs nie die ouderdom kon dit laat verflou nie. Sy moet Corné Bidault verskriklik liefgehad het. “Philippe Bidault is seker nou al … laat ons sien … hy was agttien met die uitbreek van die rewolusie … dan is hy nou al agt en twintig. Hy is seker jare gelede al getroud en …”
“Hy is nie.”
Lille frons ongelowig. “Hoe weet u?”
“Ek het jou gesê ons het kontak met mekaar behou. Hy is nog nie getroud nie.”
“Dan moet daar ook maar iets met hom skeel. ’n Man van agt en twintig wat nog nie getroud is nie …”
Haar tante glimlag breed. “Soveel as wat daar met jou skeel. Agttien is deesdae ’n hoë ouderdom vir ’n meisie om ongetroud te wees.”
“Daar skort niks met my nie! Ek het net nie lus om my nou al te laat bind aan een man nie …”
“Presies dieselfde met Philippe. Hy is ’n avontuursoeker soos sy vader. Ook hy het nie lus om hom nou al te laat bind nie.”
Lille frons ergerlik. Regtig, tant Josephine kan soms moedswillig hardkoppig wees! “Dan nog bly dit vergesog,” hou sy vol. “Ons ken mekaar glad nie …”
“Daarom het ek hom genooi om te kom kuier sodat julle mekaar kan leer ken.”
“Nie dat dit eintlik enigiets beteken nie, nè? U het reeds in u hart besluit dat ons twee moet trou,” beskuldig sy reguit, maar die ouer vrou kyk kalm in die opstandige oë terug.
“Ek ken geen ander man aan wie ek jou met groter vrymoedigheid sal gee, jou en jou erfenis, as Philippe Bidault nie.”
Lille gryp na haar laaste troefkaart. “Tante, besef u dat u nou met my wil doen wat u vader jare gelede met ú gedoen het?”
Maar tant Josephine skud haar kop. “Nee, my kind. My vader het my weggehou van die man wat ek opreg bemin het. Jy bemin niemand nie. Jy het my pas vertel dat jou en Louis Paquin se vriendskap verbreek is. Daar is geen ander man nie. Dus doen ek jou of enige ander man geen kwaad aan om my drome te droom nie, nie waar nie?”
Lille is hewig ontsteld toe sy Louis die volgende middag op die straathoek ontmoet. Sy het haar tante vertel sy gaan ’n entjie stap, en onbewus daarvan dat oë sien hoe sy by Louis Paquin se wagtende koets inklim, val sy sommer met die deur in die huis toe die koetsdeur agter haar toeklap.
“Louis, ons het ’n verskriklike fout begaan om tante Josephine onder die indruk te bring dat ons vriendskap van die baan is. Jy moet net hoor watter planne sy nou het …”
Hy frons ook bekommerd. “Wat is dit? Jy is vreeslik ontsteld.”
“Natuurlik is ek! My tante het vas besluit ek moet met daardie ander man trou … daardie vent daar in die barbaarse Kaap die Goeie Hoop.”
Hy frons kwaai. “Het jy sy naam gekry?”
“Ja. Hy is ene Philippe Bidault en die son skyn glo uit hom sover dit my tante aangaan. O, Louis, ek het ’n groot probleem! Wat gaan ek doen?” Sy kan die bewing van haar lippe nie keer nie. “Tant Josephine het hom al klaar genooi om vir ons te kom kuier sodat ek en hy mekaar kan leer ken!”
Louis Paquin sit ’n oomblik fronsend en dink. Dan glimlag hy effens. “Dis nie so erg soos jy dit maak nie, Lille. Miskien is dit ’n baie goeie plan om die man hierheen te laat kom.”
Haar oë rek groot van verbasing. “Is jy van jou verstand af?”
“Nee. Luister. As die man hier kom, kan jy en hy mos oor die saak gesels. Jy kan by hom uitvis waar hy jou erfenis in bewaring hou, en so meer. Jou tante kan jou nie werklik dwing om met die man te trou nie, Lille. Daardie tye is verby.”
“O, jy ken nog nie my tant Josephine nie! Sy is dierbaar en goed en ek weet sy is baie lief vir my, maar waar dit Philippe Bidault aangaan, dink ek nie sy is meer heeltemal normaal nie. Ek hoor maar gisteraand eers dat sy hierdie droom al die jare koester. Ons moes nooit met leuens begin het nie,” sê sy bekommerd. Sy het uit die staanspoor nie van Louis se voorstel gehou om haar tante te bedrieg nie. Sy het tot dusver nog altyd ’n reguit pad gestap, en om ’n leuen aan haar tante op te dis, het nog nooit by haar opgekom nie. En nou sit sy dieper in die gemors as ooit!
Louis Paquin se verstand werk blitsig. Diep in sy hart voel hy ook ergerlik teenoor die ou vrou. Hy wens hy kon haar iets aandoen, maar dit sal hom nie help om Lille én haar erfenis in die hande te kry nie. Hy mag in hierdie geval geen kanse waag nie. Daar is te veel op die spel. Maar as die heer Philippe wel hier in Frankryk opdaag en Lille kan daarin slaag om by hom vas te stel waar presies hy haar erfenis hou, kan daar mos ’n ongelukkie plaasvind. Frankryk is vol rowers en moordenaars en skurke.
Sy stem is nou weer kalmerend toe hy sê: “Lille, ons moenie nou kop verloor nie. Ek sê weer, om in opstand teen jou tante te kom, gaan ons nêrens bring nie. Jy moet maar maak asof jy saamspeel …”
“Louis!” Weer is die bedenkinge terug in haar hart. Hoeveel gee hierdie man werklik vir haar om? “Tot waar moet ek saamspeel? Tot vóór of ná die troue met meneer Philippe?”
“Moenie verspot wees nie. Daar is geen rede om so bang te wees nie. Dit duur maande vir ’n brief om in Kaap die Goeie Hoop te kom, en weer maande om terug te kom. Selfs al aanvaar daardie man jou tante se uitnodiging, kan hy nie eers voor oor agt maande hier aanland nie. Daar kan nog baie dinge gebeur, my skat,” sê hy en voeg in sy gedagtes by: Soos dat die bemoeisieke ou feeks van ’n tante van jou die emmer kan skop. Maar hy sê dit nie hardop nie. Lille sal net geskok wees.
Lille sug. “Ja, jy is seker weer reg.” Tog voel sy nie gelukkig nie. Om maande lank met bedrog voort te gaan, voor te gee dat daar niks meer tussen haar en Louis is nie, om hom gedurig agter haar tante se rug skelm te ontmoet … Dis egter nou te laat om iets daaraan te verander. Sy is klaar in ’n web van leuens vasgevang.
Toe die middeljarige Franse vrou Josephine Jacquard se kamer binnestap, kan laasgenoemde in haar oë lees dat haar vermoedens reg is.
“Sy het hier onder in die straat by Louis Paquin in sy koets geklim.”
Die ouer vrou sug. “Nes ek dus vermoed het. Hulle sien mekaar nog. Dis die eerste keer dat ek Lille op ’n leuen aan my betrap. Dit bewys dat ek reg het wat Louis Paquin betref. Hy het nie ’n goeie invloed op Lille nie. Hy is ’n skurk soos ek van die begin af aangevoel het. Marie,” beveel sy die vrou wat al jare lank ’n hulp vir die Jacquards is sedert hulle hulle hier in Toulon gevestig het, “neem hierdie brief na monsieur Colonne. Ek moet hom dadelik spreek.”
“Goed, mam’selle,” antwoord die vrou en verdwyn weer by die deur uit.
Josephine Jacquard se oë is peinsend terwyl sy lê en wag. Sy sal moet optree. Noudat sy vir seker weet van Lille se bedrog, voel sy ook seker dat Lille daardie Louis in haar vertroue geneem het. Daar is nie meer tyd om te wag op ’n antwoord van Philippe Bidault nie. Sy sal dadelik moet optree.
Toe die gryskopman in die deur verskyn, roep sy hom nader na die bed: “Kom binne, Pierre.”
Hy buig oor haar hand, glimlag op haar af. “Hoe gaan dit?”
Sy glimlag meewarig, wys na ’n stoel. “Soos jy sien. Ek is deesdae so te sê bedlêend. Maar ek het jou nie laat roep om oor myself te gesels nie. Ek het dringende sake wat so gou moontlik afgehandel moet word.”
Hy neem plaas. “Laat ek hoor. Jy weet dat ek jou altyd as vriend en prokureur wil help. Wat kan ek vir jou doen?”
“Ek wil my testament verander. Nee, nie verander nie. ’n Heeltemal nuwe een opstel.”
“Goed.”
“Dan nog iets. Daar moet onmiddellik ’n brief na Kaap die Goeie Hoop gestuur word. Weet jy miskien van ’n skip wat die eersvolgende paar dae na daardie uithoek vertrek?”
“Ek dink daar is een wat Marseilles môre verlaat. Ek sal vasstel.”
“Asseblief, Pierre. Die brief móét so gou moontlik weggaan. Dit moet in die skeepskaptein se hande gegee word en hy moet dit aan die goewerneur aan die Kaap oorhandig. Hy sal sorg dat dit by die regte persoon uitkom.”
“Goed, Josephine. Ek sal persoonlik die brief na Marseilles neem en sorg dat dit wegkom. Mag ek vra hoekom dit so belangrik is?”
“Jy sal verstaan as jy my testament hoor, die nuwe een. Vertel my eers … wat weet jy van hierdie pierewaaier Louis Paquin af?”
Die prokureur frons. ’n Mens mag dink wat jy wil, maar nie altyd sê wat jy wil nie, ook nie altyd wat jy weet nie. Dit kan gevaarlik wees.
“Hoekom wil jy weet?”
“Omdat my broerskind in sy kloue is. Hy het haar nou al geleer om te lieg ook. Pierre, ek voel mal van bekommernis oor Lille. Daardie man is net agter haar geld aan.”
Die prokureur frons. Hy het al baie stories oor Louis Paquin gehoor, en hy, soos die hele Toulon, vermoed waar hy aan sy rykdom gekom het. Hy kan sy ou vriendin se kommer begryp. Hy knik nou.
“Ek dink jou vermoedens is juis. As ek ’n dogter gehad het, sou ek haar baie ver van Louis Paquin af gehou het.”
“Dan het ek hom reg opgesom.” Sy sug. Sy ken Pierre Colonne al jare as ’n versigtige man, ’n man wat nie sommer dinge sê sonder grond onder sy voete nie. Sy weet hy sal niks verder sê nie, maar wat hy wel laat val het, is genoeg vir haar. “Goed, Pierre. Is jy gereed? Kan ek maar begin praat?”
Soos die testament vorder, word die prokureur se frons al dieper, totdat hy later noodgedwonge laat hoor: “Josephine, dis jou saak hierdie en jy het die reg om bepalings te maak. Maar dink jy dis heeltemal regverdig teenoor Lille én die man wat betrokke is? Hulle ken mekaar nie eens nie!”
“Maar ék ken hulle albei en ek glo dit sal uitwerk, Pierre. Dit móét. Dis die enigste manier waarop ek Lille kan beveilig. Selfs al was daar nie ’n Louis Paquin op die toneel nie, sal daar wel ander wees wat soos wolwe op haar sal toesak die oomblik dat ek my kop neerlê en hulle agterkom sy is die erfgename van ’n fortuin.”
“Maar hoe goed ken jy hierdie Philippe Bidault? Kan jy hóm vertrou?”
“Iemand móét ek kan vertrou in hierdie saak, en hy is die beste een. Ek het nie juis ’n keuse nie, het ek? Maar ek vertrou hierdie Philippe. Ek glo nie ek het hom verkeerd opgesom nie. Die feit bly staan, my vriend, dat hy al die jare die volle erfenis in sy besit het. As hy nie betroubaar was nie, kon hy dit nou al alles vir homself geneem het. Maar in sy laaste brief het hy my verseker dat die volle erfenis nog steeds veilig in sy bewaring is. Daarom, afgesien daarvan dat ek my op hom beroep vir Lille se veiligheid in die toekoms, voel ek hy verdien ook ’n deel van wat daar is.”
Pierre Colonne neem ’n ruk later afskeid van sy kliënt met haar laaste bevel in sy ore: “Pierre, sorg dat daar ’n afskrif van hierdie testament môre op ’n skip na die suidpunt is.”
By die voordeur loop hy ’n effens skuldige, windverwaaide Lille raak. Oor haar skouer sien hy die bekende koets van Louis Paquin net om die hoek verdwyn. Miskien het Josephine tog reg gedoen om hierdie nuwe testament te maak.
Toe Lille by haar tante in die kamer kom, vra sy reguit: “Wat het monsieur Colonne hier kom maak?”
Haar tante kyk onskuldig terug. “Net kom verneem hoe dit gaan. Hy is ’n goeie vriend. Waar was jy?”
“Gaan … stap. Sommer ’n bietjie af hawe toe en so aan. Hier is nie veel in Toulon te doen nie.”
Haar tante laat dit maar verbygaan. Sy moet tyd wen, en daarom moet sy maar voorgee dat sy alles glo.
Die weke draal verby vir die bejaarde vrou wat wagtend in haar bed lê. Haar kommer verdiep met elke verbygaande dag. Die tyd is so min. Sy voel dit aan. Haar gesondheid neem nou vinnig af. Met kommer sien Lille hoe die fyn gesig elke dag fyner en kleiner vertoon en ’n deurskynende perkamentagtigheid aanneem. Elke dag voel sy hoe die greep van die maer vingers om hare al swakker word. Met die vaste wete dat sy haar tante nie veel langer by haar sal hê nie, word haar afhanklikheid van Louis Paquin groter. Sy gaan alleen in die wêreld oorbly. Daarom word haar geheime vriendskap met Louis van groter belang in hierdie dae dat sy die doodsengel al nader sien beweeg.
Josephine Jacquard is net ’n wit gees in die groot bed toe haar ou vriend, Pierre Colonne, op ’n dag weer haar kamer binnestap. Ook hy is diep geskok oor wat hy sien. Sy het die afgelope maande baie vinniger agteruitgegaan. Maar hy onderdruk sy ontsteltenis en buk weer oor haar hand wat swak na hom uitgehou word.
“Ek het goeie nuus, Josephine. ’n Brief uit Kaap die Goeie Hoop!”
Sy glimlag dankbaar na hom op. “Lees dit vir my, Pierre, asseblief.”
Sy is lank stil nadat die brief klaar gelees is. Dan biggel dankbare trane oor die bleek wange. “Ek is regtig so verlig, Pierre! Lille se toekoms is verseker.”
“Wat moet ek vir hom terugskryf? Dat julle sal kom?”
Die grys kop skud. “Nee. Ek sal nie gaan nie. My tyd is verby. Maar Lille moet na Kaap die Goeie Hoop gaan sodra … alles verby is. Dit sal nie meer lank wees nie.”
Haar ou vriend se hart trek saam. “Ag, nee, Josephine, hoekom dan skielik so pessimisties? Jy kan nog …”
“Nee, Pierre. Ek kan nie. Maar ek gee nie om om nou te sterf nie. Ek is nou tevrede. Ek kan nou gaan rus.”
Dis ’n week later dat Lille van een van haar geheime ontmoetings met Louis terugkeer en na haar tante se kamer gaan. Dis sy wat haar stil en rustig en styf aantref, haar hande oor haar bors gevou, ’n effense glimlag om haar mondhoeke.
Pierre Colonne kom besoek haar die dag ná die begrafnis tuis, dra sy opregte meegevoel aan haar oor en dan word sy stem saaklik.
“U tante het ’n paar maande gelede ’n nuwe testament laat opstel waarin sy alle voriges deur hierdie een vervang. Kan ek dit vir u voorlees?”
Lille kyk hom met rooi oë aan, en skielik voel sy ’n onheilsgevoel in haar opkruip. ’n Nuwe testament …
“Ja. Ja, lees maar, asseblief.”
“Jou tante het bepaal dat jy en Philippe Bidault van Kaap die Goeie Hoop gesamentlik alles erf indien julle in die huwelik tree. Indien een van julle weier om te trou, gaan daardie persoon se erfporsie na die ander en kry die een wat weier niks nie. Of as een van julle iets oorkom, te sterwe kom voordat die huwelik voltrek is, erf die ander persoon ook alles. Is daar enige vrae, mam’selle Lille?”