Читать книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеDis met verskillende uitdrukkings op die gesigte en uiteenlopende gedagtes dat Lille en Louis Paquin langs mekaar by die reling staan en sien hoe die asemrowende toneel voor hulle al verder en verder uitplooi in breedte en skoonheid soos die La Rouge stadig nader seil land toe.
Dis met vrees en bedenkinge in haar hart vir wat hierdie nuwe land vir haar en haar toekoms gaan inhou, dat Lille se donker oë alles beskou. ’n Intense eensaamheid oorval haar in hierdie oomblikke, want sy het die afgelope maande op see ’n ander Louis Paquin leer ken, een van wie sy nie hou nie en wat sy nie meer vertrou nie. Veral ná daardie dobbelepisode en wat daarna gebeur het, het sy gevind dat sy elke keer instinktief van hom wegskram, en sy weet sy is klaar spyt dat sy nie maar liewer alleen hierdie vreemde avontuur aangepak en na Philippe Bidault kom soek het nie.
Haar oë kan nou al die samedrommende skare by die kaai uitken. Die aankoms van elke skip hier aan die verre suidpunt bly ’n groot aardigheid vir die inwoners van hierdie klein, beskaafde stukkie aarde. Haar oë soek … Hier êrens voor haar staan Philippe Bidault miskien en kyk hoe die Franse skip stadig nader kom … die bruidegom wat tant Josephine vir haar uitgesoek het. As hy nie te vinde is vir ’n ooreenkoms nie? As hy onredelik is, wil wees? Wat gaan sy doen? Wat gaan Louis doen?
Langs haar staan Louis Paquin ook die bedrywigheid voor hom en aanskou, ingenome en met ’n glimlaggie om sy lippe. Hy het al baie stories oor Kaap die Goeie Hoop gehoor, maar hy het dit nie só verwag nie. Die rye witgekalkte huise, selfs ’n paar dubbelverdiepings, met rye bome, netjiese strate, alles wek ’n indruk van netheid en beskaafdheid wat hom verras.
“Lille, ek het besluit om eers op die skip agter te bly. ”
Sy loer bekommerd in sy rigting. “Hoekom?”
“Ek dink nie dit sal verstandig wees as ons twee saam gesien word nie. Dit sal beter wees as ons voorgee dat ons mekaar glad nie ken nie.”
Haar gesig verstil. “Dan gaan jy my nou in die steek laat.”
“Natuurlik nie! Maar gebruik jou verstand. Hier kom jy by die Kaap aan, eintlik met die doel om kastig met ’n ander man te gaan trou, maar terselfdertyd bring jy darem jou vriend uit Frankryk saam. As dit bekend word, kan jy maar vergeet om meneer Bidault te oortuig. Nee. Ons ken mekaar glad nie van hierdie oomblik af nie. Jy sal seker in die Kasteel tuisgaan. Ek sal ’n ander woonplek kry, maar gereeld ongesiens met jou in verbinding tree. Intussen moet jy net sorg dat jy Bidault opspoor en my dan laat weet waar ek hom in die hande kan kry.”
Sy kyk hom weer vol agterdog aan. “Om wat te doen? Jy sê dan jy wil nie hê hy moet van jou bestaan te wete kom nie.”
“Ek het my sleg uitgedruk,” sê hy vinnig. “Wat ek eintlik bedoel, is dat jy so gou moontlik met Bidault kontak moet maak sodat ons kan weet waar ons staan.”
Lille is stil. In ’n mate is sy dankbaar dat hy so besluit het, want sy het gevind dat sy haar al dikwels moes skaam vir sy optrede. Dan ook het hy haar soms al begin irriteer en is sy bly om ’n rukkie van hom af weg te kom. Dit sal haar ’n kans gee om goed en helder te dink, veral oor hul vriendskap. Sy is nie meer so seker dat sy langer met hierdie verhouding wil voortgaan nie, maar hoe om dit te beëindig is ’n ander probleem waaroor sy haar op die oomblik nie durf bekommer nie. Haar erfenis en Philippe Bidault is nou die belangrikste.
As sy haar baie swak gedra teenoor hierdie heer, sien hy dalk nie kans om met so ’n onsmaaklike mens te trou nie, en kan sy verbykom by daardie onmoontlike bepaling van haar tante. Dan sal dit hý wees wat nie wil trou nie, en sodoende kan sy dan haar erfenis red. Dis die enigste uitweg waaraan sy tot dusver kon dink. Philippe Bidault moet so ’n weersin in haar kry dat hy nie vir al die geld ter wêreld kans sal sien om hom met so ’n vrou op te saal nie.
Só staan en maak sy haar eie planne, onbewus daarvan dat Louis Paquin ook besig is om sý plannetjies agtermekaar te kry. Daar is net een uitweg – Lille se mede-erfgenaam moet uit die weg geruim word. Hy het klaar besluit – hy wil die hele erfenis hê. Daar is mos ’n klousule dat die langslewende alles erf indien een van die erfgename vóór die troue iets oorkom. Dus … hy grim by homself. Maar hiervan moet die liewe Lille nie weet nie. Sy het nie in die harde leerskool van die lewe grootgeword nie. Sy sal geskok wees tot in haar preutse klein hartjie, dink hy smalend.
Hy draai na haar, gee haar hand ’n drukkie. “Daar kom die bootjie nou om die kaptein en passasiers te kom haal. Tot wederom, my skat.”
Sy kyk hom fronsend aan. Hy het darem ter wille van háár saamgekom. “Maar waar gaan jy bly? Wat gaan intussen van jou word?”
“Moenie bekommerd oor my wees nie, Lille. Ek verneem van die matrose hier is ’n baie oulike blyplek aan die Kaap. Ek gee nou eers pad. Ek wil nie hê ons moet saam gesien word nie.”
Teen wil en dank moet Lille ’n rukkie later alleen saam met die ander aan wal gaan. Terwyl die bootjie die terugrit na die kaai begin, kyk sy oor haar skouer terug na die La Rouge en sien dat Louis eenkant alleen hul vertrek staan en dophou. Maar nog oë bekyk die spulletjie met nougesette aandag. Snaaks. Die mam’selle en m’sieur het saam in Marseilles aangekom en die hele ent pad hierheen het almal geweet dat daar ’n band tussen hulle is. En nou gaan die mam’selle alleen aan wal … Interessant.
Louis word bewus van iemand hier langs hom by die reling toe die matroos vra: “Gaan u dan nie ook aan wal nie, m’sieur? Ek het dan gedink Kaap die Goeie Hoop is u eindbestemming.”
Louis kyk hom vererg aan. Hy voel lus om te sê dit gaan niemand aan nie, maar hy beteuel sy ergernis. Van nou af moet hy versigtig wees. Hy mag geen agterdog wek nie. Daarom glimlag hy nou vriendelik.
“Ja, ek gaan later aan wal. Daardie ou klomp wat nou vertrek het, sal natuurlik genooi word om in die Kasteel tuis te gaan, en ek voel nie daarvoor lus nie. Ek wil ’n bietjie die lewe aan die Kaap proe!” lag hy en knipoog veelbetekenend, en die matroos knik glimlaggend.
“Ja, in die Kasteel is dit seker maar ’n stywe ou spul. Maar in die res van die Kaap … Dit gaan jolig, veral as daar ’n paar skepe in die hawe lê, soos nou die geval is.”
“So het ek vermoed, en daarom wil ek nie ook Kasteel toe nie. Jy weet, ná maande op see voel ’n man darem lus vir ’n bietjie pret.”
Weer knik die matroos begrypend en sê met glinsterende oë: “Dan moet m’sieur saam met my aan wal gaan. Ek sal u net die plek wys waar u dit die joligste sal tref – by ou Willemberg se kantien. Hy hou meisies ook daar aan … e … en verhuur kamers vir die nag.”
“Pragtig! Net wat ek wil hê!” Hy kyk die matroos ondersoekend aan. “Dan was jy al tevore hier?”
“Ja, m’sieur. Ek ken die Kaap redelik goed.”
“So? Sê my … jy ken nie miskien ’n man met die naam Philippe Bidault nie? Of weet iets van hom af nie?”
Die matroos se oë vernou effens, dan skud hy sy kop. “Nog nie gehoor van die man nie. Is hy ’n bekende aan die Kaap?”
“Ek vermoed so. Hy is al ’n hele rukkie hier sover ek weet. Dan het jy nog nie van hom gehoor nie?”
“Nee, m’sieur, maar ek kan probeer vasstel wanneer ons aan land is.”
“Dit sal gaaf wees. Maar moenie te ooglopend navraag doen nie, hoor? Vis ’n bietjie uit, maar hou dit net tussen ons. As jy vir my kan vasstel waar die man hom bevind, sal ek jou natuurlik goed beloon daarvoor,” glimlag Louis Paquin, deeglik bewus daarvan dat die soldy van ’n matroos altyd aangevul kan word. Soos hy verwag het, knik die matroos gretig.
“Ek sal so maak, m’sieur. Daar stuur hulle nou die ander bootjies vir die bemanning. Ons kan maar solank touleer se kant toe staan.”
Onwetend dat Louis Paquin reeds sy planne in werking begin stel het, laat Lille toe dat sy uit die bootjie gehelp word, en die eerste keer in maande voel sy weer vaste aarde onder haar voete.
Voor haar staan ’n lang, donker man en sy word formeel bekendgestel aan generaal Francis Dundas, die huidige goewerneur aan die Kaap tydens die eerste Britse Besetting.
Sy, sowel as die paar ander passasiers – laasgenoemde eintlik op pad na die Verre Ooste, maar dankbaar vir ’n verposing op land – word dadelik na twee wagtende koetse geneem om hulle na die Kasteel te vervoer. Totaal onbewus daarvan dat ook hier op land oë op haar gerig is en haar aankoms aanskou, klim sy in een van die koetse en hulle vertrek, haar blik belangstellend om haar op al die tekens van die beskawing wat sy nie verwag het om aan hierdie verre suidpunt aan te tref nie. Sy het wel staaltjies en vertellinge van Kaap die Goeie Hoop in Frankryk gehoor en daaruit afgelei dat hierdie verste punt van die groot vasteland geensins so barbaars en primitief is as wat baie dink nie, maar vir haar het dit ’n woeste, ongetemde wêrelddeel gebly.
Maar daar is geen tekens van verskrikking en wrede, wilde barbare in die toneeltjies wat haar oë begroet nie. Hoewel die enkele dames wat sy gewaar wel miskien ’n bietjie oudmodies geklee is – dit neem weliswaar tyd vir ’n nuwe modegril om tot hier te kom – kan sy sien dat hier reeds ’n redelik hoë peil van beskawing gehandhaaf word, en sy slaak innerlik ’n sug van verligting. Dan sal ene monsieur Philippe Bidault darem seker ook nie heeltemal ’n barbaar wees, ’n woesteling met lang baard en onverfynde maniere, soos sy haar hom tot dusver voorgestel het nie. Miskien sal die man tog na haar luister. Sy skep weer moed.
Die man wat alles eenkant vanaf sy perd se rug gesit en beskou het, sien die laaste koets uit sig verdwyn, en sy blik keer terug na die bedrywigheid hier voor hom. Hy glimlag terwyl hy luister na die kru seemanstaal wat op die ligte bries na hom aangedra word. Vanaand sal die Kaap weer lewe! Die manne was lank op see, en die wynrantsoen van ’n matroos is net genoeg om een vlieg effens lighoofdig te maak. Maar vanaand, ná maande waarin drange en drifte en dors hemelhoog opgehoop het, sal daar oorvloed wees van al daardie dinge wat hulle so lank moes ontbeer. Vanaand sal die Kaap weer Hollands wees – al het die Engelse die Kaap al in 1795 beset!
Die man lag saggies by homself. Wat ’n lewe! So vry soos ’n voël! Maande op see en dan ’n paar dae van matrooshemel op land. In elke hawe wag die drank en die meisies. Geen verantwoordelikheid. Geen gewetenswroeging oor gister of bekommernis oor môre nie. Dis net vandag wat tel – en vandag beteken drank en meisies in volle maat by ou Willemberg se gewilde kantien!
Hy grynslag nou effens teenoor homself. Dis wat jy moes geword het – ’n matroos! vertel hy homself, terwyl hy hom verlustig in die baldadige vreugde van die matrose wat nou op hul beurt aanroei land toe. Hulle is nes ’n klomp uitgelate kinders wat skielik besef dat al wat grootmens is, verdwyn het en dat hulle kan doen net waarvoor hulle lus voel. In geen onseker taal word oor en weer geskerts en vertel wat daar vir vanaand beoog word, en dis ’n gekorswel en gejou van die ander wêreld soos die bootjies nader aan die kaai kom.
Dan verstip die man se oë. Hy kan sweer …
Skielik kom daar lewe in sy roerlose gestalte en hy spoor die perd meteens vorentoe. Die matroos het net sy voet aan wal gesit toe hy opkyk en die ruiter gewaar wat reg op hom afpyl. ’n Vlugtige oomblik is daar vreugdevolle herkenning in sy oë. Dan, net toe hy die ligblou oë van die ruiter ontmoet, draai hy sy rug doelbewus op hom en laat hoor na agter waar Louis Paquin ook aan die uitklim is: “Welkom aan Kaap die Goeie Hoop, m’sieur! En nou vir Willemberg se kantien! Volg my!”
Louis Paquin kyk om hom rond en glimlag breed. “Mag, maar dit is goed om weer grond onder jou voete te voel! Reg so, ou maat. Wys die pad! Ek is reg vir Willemberg!”
Die matroos met sy vreemde gesel wat meer as een oog al getrek het – Louis Paquin se kleredrag verraai dat hy beslis nie een van die matroosgarde is nie – stap teenaan die ruiter verby, maar kyk nie eens op nie.
“Ja, jy sal nêrens in enige hawe mooier mam’selles kry as hier aan Kaap die Goeie Hoop nie, dit verseker ek jou,” loop hy kliphard en gesels. “Die goedjies is te pragtig – jy weet,” en hy beduie met sy hande, “die vatplekkies mooi rond op al die regte plekke!”
Die ruiter frons skerp en kyk die twee agterna. Wat het tog in Léon gevaar? Dan sien hy ’n hand agter Léon se rug beduie en baie vlugtig kyk die matroos na agter, vas in sy oë en knipoog. Maar dadelik is sy aandag weer by die goed geklede heer aan sy sy. Steeds fronsend, maar nou peinsend, volg die ruiter se blik hulle en dan keer hy sy perd om en verdwyn op ’n drafstappie in die teenoorgestelde rigting.
Hy sou graag nou besoek wou aflê by die Kasteel. Hy en goewerneur Dundas, asook hy en die ander hooggeplaaste amptenare van die “nuwe” bewind – soos die Hollandse en Franse ingesetenes nog steeds aan die Britse bewind dink – is op goeie voet. Hy gaan lê gewoonlik besoek daar af wanneer hy aan die Kaap terug is van een van sy jagtogte, maar hy het maar net gisteraand tuisgekom uit die binneland, en met die vae hoop dat daar miskien nuus van die vasteland sou wees wat met een van die laaste skepe hierheen gebring is, het hy eers ’n draai by die kaai kom gooi. Nuus het daar wel gekom, maar nie in die vorm wat hy verwag het nie. Wat sou Léon nou al teruggebring het hierheen?
Daarom skuif hy nou maar eers sy beleefdheidsbesoekie aan die Kasteel op die lange baan. Daar sal wel genoeg tyd wees in die eersvolgende dae om ’n paar woorde met die goewerneur te gaan wissel en miskien daardie donkerkop wat vandag aangekom het, te leer ken. Hy glimlag weer effens geamuseer, maar ook met ’n tikkie leedvermaak. Asof dit jou enigsins sal help om haar van nader te leer ken. Jou turf sit reeds, ou maat, gesels hy met homself terwyl hy een van die groot herehuise in die Heerengracht nader.
Die ontvangs by die Kasteel laat niks te wense oor nie, en Lille besef dat die stories wat in die beskaafde wêreld van die gasvryheid van die mense aan die Kaap vertel word, nie aangedik of oordryf is nie. ’n Uitroep van bewondering ontval haar lippe toe sy die slaapkamer binnestap wat haar aangewys word. Hier is beslis weelde wat te eniger tyd met die beste van Frankryk in die ou dae vóór die rewolusie vergelyk kan word. Die goewerneursvrou is gou om haar met trots in te lig: “Dit was een van die vertrekke wat lady Anne Barnard opgeknap het toe sy hier was.” ’n Slawemeisie kom by hulle verby met ’n groot lampetbeker met kokende warm water en die goewerneursvrou glimlag. “Jy sal jou seker eers ’n bietjie wil opknap. As daar enigiets is wat jy nodig het, sê net vir Miena. Sy sal jou persoonlike diensmeisie wees solank jy hier by ons bly.”
“Baie dankie, madame. U is so vriendelik.”
Toe die deur agter die ouer vrou toegaan, kan Lille gerus huil van dankbaarheid. Sy het nooit verwag om dit só hier aan te tref nie. Bekommerd wonder sy waar Louis hom gaan bevind. Sy voel skuldig dat sy hier in die gerief en weelde van die Kasteel gehuisves word terwyl hy tevrede moet wees met enige huisvesting, salig onbewus daarvan dat Louis Paquin hier in die Kasteel uit pas sou wees en by ou Willemberg se kantien en losieshuis in sy element is.
’n Ruk later, nadat sy haar opgeknap het, word sy genooi om saam met die goewerneurspaar ’n koppie tee te drink. Weer is sy stom van verbasing en bewondering toe sy die groot ontvangsvertrek binnestap.
Op hul beurt kyk die goewerneurspaar na die jong meisie wat met soveel ingebore grasie nader kom; in albei die vraag: wat het die Franse meisie, so duidelik van adellike afkoms, aan die Kaap kom soek? En dit alleen?
Lille is maar te bewus van die vraag in die twee paar oë en sy besef dat sy iets sal moet sê. Daarom glimlag sy nou en laat hoor: “Ek het vir sake Kaap toe gekom, en ek soek na ’n sekere man. Ek wonder of u my nie sal kan help nie, U Eksellensie.”
“Wie is dit, mam’selle? Miskien kan ek.”
“Dis ene Philippe Bidault. Ken u hom miskien?”
Die goewerneur frons, kyk haar stip aan. “Nee. Nee, ek ken nie iemand met so ’n naam aan die Kaap nie.”
Dis nou Lille se beurt om te frons. Sy lyk openlik ontsteld. “Maar ek is verseker hy is aan die Kaap. Hy móét hier wees! Ek het die hele ent pad gekom spesiaal om … om sake met hom te bespreek.”
Die goewerneur glimlag. “Moontlik is hy ook hier, mam’selle. U moet onthou ek ken nie almal aan die Kaap só goed nie. Veral die grensboere. Ek kan probeer ondersoek instel en kyk of ek hom opgespoor kan kry.”
“Grensboer? Wat is dit?”
Die goewerneursvrou glimlag. “O, dis mense wat op die verste buiteposte op plase bly. ’n Ruwe, ongepoleerde klompie, maar tog in hul harte goeie mense. Hulle is nou eintlik die ‘barbare’ van ons gemeenskap,” lag sy.
“Barbare?” Lille se oë is groot en rond.
Die goewerneur verduidelik verder. “Nie werklik barbare nie, mam’selle. Maar omdat die res van die beskaafde wêreld grootliks dink dis net barbare wat hier bly, kom hierdie grensboere die naaste aan daardie beskrywing. Soos u self kan sien, is ons ander hier net so beskaaf soos die mense van Europa.”
Lille sluk ’n slag. “Vertel my meer van die grensboere. Hoe lyk hulle? Hoe leef hulle, en wat doen hulle daar in die wildernis?”
“Hulle boer met bees en skaap en verder is hulle besig om die wêreld mak te maak al dieper die binneland in. Hulle bou opstalle, maak landerye, plant wingerde en so meer. Hulle is eintlik die temmers van hierdie onbekende land. Maar ons het ook baie probleme met hulle. Hulle is geneig om die wet in eie hande te neem, te doen wat hulle wil. Omdat hulle so ver van die Kaap af is, het hulle geleer om met die minste klaar te kom en na hulself om te sien. Ek moet eerlik sê dat hulle ’n mens se bewondering in daardie opsig afdwing. Hulle dra meestal velklere wat hulle self van dierevelle brei. Hulle maak hul eie skoene ook. En soos te verstane is hulle nie baie verfynd nie.” Hy glimlag vir haar groot oë. “Die mans dra almal oorwegend ’n welige bosbaard. ’n Skeerdery is tydverkwisting en onnodig in daardie woeste deel. Die vroue trek baie eenvoudig aan, meer met die oog op dienlikheid as skoonheid …”
“Is daar dan vroue ook?” wil Lille verstom weet.
“Maar natuurlik!” lag die goewerneursvrou. “En hulle is ’n geharde klompie, glo my! Hulle slag ’n bees in ’n japtrap af en verder is hulle net so handig met ’n geweer as hul mans. Dan ook het hulle deur die bank groot gesinne.”
Lille is weer eens stom. Dan kyk sy die goewerneur onseker aan. “En u dink … dink m’sieur Bidault is … is een van hulle?”
“Ek kan nie vir seker sê nie, mam’selle. Dit sal ons moet vasstel. Maar ek ken almal aan die Kaap en hier is nie so ’n man nie. Ons sal dus moet navraag doen.” Sy oë is openlik nuuskierig om meer te wete te kom, maar Lille se gesels het meteens opgedroog.
Wat gaan sy doen as die goewerneur se vermoedens juis is en Philippe Bidault ’n wilde grensboer met ’n groot bosbaard en stink velklere is?
“Ek … ek sal dit baie waardeer, U Eksellensie.”
Om die effens ongemaklike atmosfeer wat skielik ingetree het te verlig, laat die goewerneursvrou vinnig hoor: “Intussen is ons baie bly om so ’n sjarmante gas aan die Kasteel te hê. Hier lê nou ’n hele paar skepe in die baai, en môreaand onthaal ek die skeepskapteins in die balsaal. Ons het ’n puik slawe-orkes. Dié mense het ’n natuurlike aanleg vir musiek. Jy sal môreaand hoor. Ek sal dit so waardeer as jy sal help om die kapteins ’n aangename aand te besorg.”
“Maar natuurlik sal ek, madame. U moet net sê wat ek moet doen.”
“Niks … dans maar net met hulle en hou hulle geselskap. Ek nooi ook ’n paar ander mense van die Kaap. Miskien kan jy nog by een van hulle iets van dié meneer hoor na wie jy soek.”
Die goewerneur maak verskoning en stap dan uit, sy oë peinsend. Dan soek mam’selle Lille Jacquard na ene Philippe Bidault. Hy glimlag skielik. Baie interessant.
Terwyl Lille en die goewerneursvrou in die ruim sitkamer van die Kasteel oor die jongste modes gesels, gaan dit baie vrolik in ou Willemberg se kantien in Dorpstraat. Dit is die bymekaarkomplek van al die gewone mense, en veral gewild onder die matrose van besoekende skepe.
Ook vanaand word die bekers sommer direk uit die dwarslêende vate tot oorlopens vol getap en ou Willemberg se ronde gesig straal van vreugde.
“Hier, m’sieur. Proe van ons Kaapse wyn en sê my of dit nie kan vergelyk met die beste wat jou vaderland kan bied nie!” laat hy hoor en sit ’n groot beker vol voor Louis neer.
Louis neem dit, proe daaraan en kyk dan verras op. “Maar dis heerlik!”
Die kantienbaas glimlag van oor tot oor sodat sy ogies in die baie lagplooitjies wegraak, terwyl Louis weer gretig die beker nader aan sy lippe bring.
In die een hoek is ’n soort orkes oorverdowend aan die speel, terwyl wulpse Kaapse meisies tussen die tafels deur beweeg en onbeskaamd hul bates vertoon. Die hele atmosfeer is een van oordaad en uitbundigheid – dié soort atmosfeer waarin Louis Paquin die gelukkigste voel.
Die matroos langs hom sien hoe hy die een beker na die ander van die Kaapse wyn afsluk, terwyl hy self baie matig by ’n tweede beker hou.
“Sê my, wat wil jy met dié Bidault-vent maak?” vra hy nou.
Louis kyk met besope oë op. Tog is hy nog nie so ver heen dat sy verstand gaan stilstaan het nie. Hy is ’n ou kalant, en ten spyte van die invloed van die heerlike Kaapse wyn, kan hy nog kophou.
Hy antwoord met ’n sleeptong: “Disj my sjake daardie. Kry hom net vir my.”
“Wat betaal jy?” Die matroos is glad nie meer so beleef soos vroeër die aand nie. Hy en hierdie Franse monsieur is nou drinkebroers en dan word standverskille gou oorboord gegooi.
Louis noem ’n bedrag wat enige matroos se oë sou laat rek het.
Dan vernou die matroos se oë weer. “Jy wil hom baie graag in die hande kry. Hoekom?”
Weer skud Louis Paquin sy kop. “Ek het jou gesjê disj my sjaak. Net een ding. Hy mag nie weet ek sjoek hom nie. Versjtaan?”
Die matroos besef dat hy niks verder uit hierdie man sal kry nie, en dis of hy skielik ook belangstelling verloor. Hy staan van die kroegtoonbank op, glimlag skamper.
“Ek wil nou eers vir my ’n mam’selle gaan kry voordat die manne almal wegraap. Wil jy ook een hê?”
Louis draai om en kyk die paar meisies wat nog tussen die tafels rondbeweeg deur en wys na een met ’n rooi rok en baie gewaagde halslyn. “Daardie een. Kry haar vir my.”
Weer openbaar die matroos ’n vrypostigheid wat nie by hom pas nie. “Is jy en daardie mam’selle Jacquard dan nie verloof nie?”
Louis frons kwaai. “Ek ken haar nie, man! Sjy isj een van daardie sjoort wat onder die valbyl moesj beland het. Sjy het ontsjnap. Wil niksj met haar te doen hê nie. Kry vir my daardie meisjie. Sjy kan vra wat sjy wil.”
Die matroos aarsel, draai dan om en wink na die betrokke dame wat gretig nader kom. Eersgenoemde wink net met sy kop na Louis Paquin en maak hom dan uit die voete. Hy trek die vars seelug diep in sy longe in toe hy buite die kantien kom.
Dan, terwyl hy deur die deuropening sien hoe Louis Paquin met die meisie aan sy arm die trap opsukkel na die slaapkamer, begin hy flink aanstap.
Hy pyl af op ’n groot wit huis in ’n ander straat en is nog nie behoorlik die stoep op nie, of die voordeur swaai oop.
“Léon! Ek sit en wag al die hele dag vir jou. Welkom terug. Ek het nie verwag om jou só gou weer te sien nie.”
Die matroos lag. “Goeienaand, m’sieur. Ja, ek het self nie verwag om so gou terug te wees nie.”
“Kom binne en vertel my wat aan die gang is. Watter man was vandag daar by jou wat jy na ou Willemberg se kantien gesleep het?”
“Dit is ene monsieur Louis Paquin. Hy het in Marseilles opgeklim.”
Die ander man kyk vinnig op. “Louis Paquin, sê jy?”
“Ja. Dis die naam. En hy soek na ene Philippe Bidault.”
Nou is daar skerp belangstelling in die oë wat na die matroos kyk. “Interessant. Hoekom?”
“Ek kan dit nie uit hom kry nie. Daarom het ek hom na die kantien gesleep om te kyk of ek nie sy tong met die Kaapse wyn kan loskry nie. Hoewel hy reeds hoog besope was toe ek daar weg is – met ’n mam’selle aan sy arm – laat hy niks val nie. Hy is so glad soos ’n paling.”
“Hm.” Die ander man wink en stap na ’n tafeltjie waar wynkraffies van geslypte glas staan. “Sit, Léon, en vertel my meer. Wat gaan in Frankryk aan?”
Die twee mans neem albei plaas en vir enigeen wat van buite af hierdie toneel beskou, sal dit vreemd voorkom dat die deftige heer so gemoedelik saam met ’n matroos verkeer.
Maar die gesels duur tot laatnag, en dan staan die twee mans op.
“Dankie, Léon. Ons sal maar moet sien wat die toekoms oplewer.” Sy oë glinster tergend. “Noudat jy weer ’n slag matroos was, verlang jy nie terug na die ou lewe nie?”
Maar die ander skud sy kop. “Nee, m’sieur. Ek is u steeds dankbaar dat u my daardie tyd omgepraat het om my saam met u aan die Kaap te vestig. Dit was nogal lekker om weer ’n slag ’n matroos te wees soos in die ou dae, maar noudat ek ouer word, besef ek dis nie ’n lewe nie. Nee, ek is tevrede om hier te wees en u die res van my lewe te dien.”
Die ander man frons. “Dis nie ’n geval dat jy my dien nie, Léon. Ons werk saam. Ons is vennote.”
Daar is verering in die oë wat na die deftige heer kyk. “Ek weet, m’sieur. U was baie goed vir my. Maar ek is bekommerd oor u veiligheid, m’sieur. U moet versigtig wees.”
Die ander man lag, klop Léon goedig op die skouer. “Dis na Philippe Bidault wat hy soek, nie na mý nie! Jy is verniet bekommerd.”
Sy gesig vererns dadelik. “Nietemin moet jy jou ore en oë oophou. Ek ruik êrens ’n slang in die gras. Ek dink jy moet nog so ’n rukkie aanhang hier in die Kaap.”
“Ek het ook so gedink, m’sieur.”
“Gaaf.” ’n Hand word uitgehou. “En baie dankie vir alles wat jy tot dusver vir my gedoen het. Ek dink jou sending was die moeite werd.”
Dis vroeg die volgende oggend dat die graaf De Louvois opkyk en die goewerneurskoets voor sy huis sien stilhou. Sy wenkbroue lig. ’n Eienaardige tyd vir die goewerneur om besoek af te lê.
Die goewerneur glimlag toe hy die jong man sien. “Welkom terug in die beskawing, monsieur! Hoe het dit met die laaste jagtog gegaan?”
“Heeltemal goed, dankie. U is vroeg op. Is daar probleme?”
“Nee, nie eintlik nie. Nie vir mý in elk geval nie. Ek kom nooi jou net na die bal vanaand in die Kasteel. Daar is ’n dame aan wie ek jou graag wil voorstel … ene mam’selle Lille Jacquard.”