Читать книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray - Страница 9
6
ОглавлениеLille het ’n onrustige nag agter die rug toe sy, lank voordat daar nog tekens is van ’n vroeë oggendskemering, wakker lê en nadink oor die probleem wat sy vir haarself die vorige dag geskep het.
Wat gaan sy doen as die graaf se koets netnou hier aankom om haar te kom haal vir die tweegeveg wat sy so onbesonne voorgestel het? Maar dít is nie haar grootste bekommernis nie. Haar gedagtes dwaal al na Louis en sy woorde: Los hom vir my. Die Louis Paquin wat sy die afgelope maande geleer ken het, vul haar met vrees, en sy weet nou dat hy geen respek vir lewe het nie. Haar intuïsie vertel haar dat daardie woorde van hom niks goeds vir die graaf De Louvois inhou nie. Haar kommer verdiep met elke verbygaande minuut. Sy kan die opgeblase graaf René nie verdra nie, maar sy wens hom ook geen kwaad toe nie. Sy hoop van harte hul paaie hoef nooit weer te kruis nie, maar tog sal sy ook nie wil hoor dat hy skielik aan sy einde gekom het nie. En as Louis vanoggend gaan doen wat sy vermoed hy beplan, sal sy net so aandadig aan sy dood wees as Louis self. Sy het immers die hele ding aan die gang gesit.
Sy gooi die beddegoed vinnig van haar af en soek na die kers. Buite is dit nog sterk skemer, maar binne die mure van die Kasteel moet sy lig maak terwyl sy haar vinnig aantrek. Sy het geen keuse nie. Sy sal haar afspraak met die jong graaf moet nakom as sy nie iets veel meer as bloot ’n slegte humeur op haar gewete wil hê nie.
Toe die koets van graaf René ’n rukkie later voor die poort van die Kasteel tot stilstand kom en die wagte hul gewere kruis om eers die rede vir hierdie onmoontlik vroeë besoek aan die Kasteel te verneem, rek nie net húl oë toe die gekruisde gewere opsy gedruk word en ’n jong dame na vore tree nie. Ook Léon, wat vanoggend koetsier is, kan sy oë nie glo nie. Hy was vas oortuig daarvan dat hy sonder ’n passasier sou moes terugkeer. Maar hier is sy sowaar!
“Ry dadelik!” beveel sy kortaf toe sy, sonder om van sy aangebode arm gebruik te maak, die koets bestyg.
Ook die wagtende man aan die bopunt van die Kompanjiestuin lyk half verras toe die koets stilhou en sy haar verskyning maak. Hy het eerlik gedink hy sal haar uit die bed moet gaan sleep om hul afspraak na te kom. Maar hier kom sy reguit op hom afgestap, die donker hare soos ’n swart golf agter haar, die ken omhoog gedruk en die oë trots.
’n Fyn glimlaggie verskyn om sy mondhoeke. Lille Jacquard is beslis in meer as een opsig ’n uitsonderlike vrou. Nietemin is sy gesig weer geslote en streng soos die vorige aand toe hy reg voor haar tot stilstand kom. Hy gee weer sy spottende buiginkie, maar vanoggend irriteer dit haar nie. Die man mors tyd. Hulle moet weg wees voordat Louis op die toneel verskyn.
“Goeiemôre, mam’selle. Mag ek sê dat u pragtig lyk op die laaste oggend van u lewe?”
Die donker oë flits, maar sy ignoreer dit en sê dan styf: “M’sieur, ek wil u om verskoning vra vir gisteraand.” Sy sien die verbasing en dan die glimlaggie in sy oë, en sy moet die ergernis in haar met stywe teuels vasruk. “Nie dat ek alleen skuld dra dat dinge so handuit geruk het nie, maar ek is bereid om vir my deel verskoning aan te bied. Goeiemôre, m’sieur.”
Sy draai dadelik om en stap aan koets toe, maar voordat sy die koetsdeur bereik, staan hy reeds met sy rug daarteen, arms gevou.
“Dis darem baie maklik, mam’selle. Jy het my gruwelik in die openbaar beledig en verneder, en nou dink jy jy kan alles net afmaak met daardie halfhartige toesprakie van jou. Sommer net so.”
Die swart oë flits weer. “Wat wil jy dan hê? ’n Openbare verskoning? Dan sal jy moet wag tot die volgende dansparty.”
Hy kyk stip. Dis baie duidelik dat wat sy doen, teen haar sin is. Hoekom vra sy dan om verskoning? Eintlik sou hy niks kon doen as sy die hele petalje verder geïgnoreer het nie, want almal, selfs ook die goewerneur, het dit as ’n grap beskou. Maar sy het tog vanoggend gekom, teen haar sin, en sy lyk senuweeagtig. Haar uitdagende houding en die kilheid in haar oë vertel hom dat dit beslis nie is as gevolg van vrees vir hom nie. Maar die manier waarop haar blik telkens van hom af wegdwaal, laat hom meteens frons.
“Verwag jy ’n besoeker vanoggend hier, mam’selle? ’n Sekondant miskien?”
Sy sluk. Sal hierdie man nou aanhou klets totdat Louis regtig hier aankom?
“Ek verwag niemand nie, m’sieur. Ek het verskoning gevra en wil nou asseblief teruggaan Kasteel toe.”
Maar René de Louvois lyk heel ontspanne daar teen die koetsdeur, sy arms steeds rustig oor sy bors gevou. “Ek veronderstel u ken die reëls van ’n tweegeveg? Indien een van die twee partye nie kans sien om die geveg voort te sit nie, is dit so goed of hy teken sy doodsvonnis. Hy is dan aan die genade van die ander oorgelaat en dit is dan vir hóm om te besluit wat verder met daardie persoon gaan gebeur.”
Sy kyk strak terug. Voorwaar, en hy noem homself ’n graaf! Nou wil hy haar by die reëls hou! Sy vra deur stywe lippe en met kwalik bedekte ongeduld: “Wat beteken dit presies?”
“In eenvoudige taal beteken dit dat jy nou ten volle in my mag is en dat ek met jou kan maak wat ek wil. Ons kan amper sê, jy is van nou af my slaaf.”
“Jou … slaaf?” Sy kyk hom verslae aan, en dan kan sy haar ergernis nie langer bedwing nie. “Gee pad voor my, m’sieur. Ek het jou reeds om verskoning gevra, maar ek behou my lae dunk van jou. Jy is …”
“Stadig, mam’selle. Jy is al weer te haastig met daardie mond van jou. Jy is vanoggend nog minder in ’n posisie om my name te noem. Jy, Lille Jacquard, sal geleer moet word om te buig voor die sterker wil. Te lank het jy jou eie kop en wil gevolg.”
Haar ken ruk ’n entjie hoër. “Ek veronderstel die sterker wil is joune? Moenie my laat lag nie, graaf De Louvois,” laat sy sarkasties hoor en ruk dan skielik ’n pistool onder haar mantel uit, haar oë kliphard. “Gee pad voor my of ek skiet jou vol gate.”
Sy wenkbroue lig geamuseer en hy kyk kalm na die bewende pistoolloop so naby sy bors. Dan gaan sy oë na hare en haar hart gee ’n skop en voel dan asof dit doodstil gaan staan. Nog nooit het sy oë só hard geblink sedert hulle mekaar ontmoet het nie.
“Ek het gedink jy het swaarde gekies vir die tweegeveg.”
Sy voel teen wil en dank ’n blos teen haar wange opstoot, maar probeer so goed moontlik haar man, of liewer haar vrou, staan.
“Daar sal geen tweegeveg wees nie, m’sieur. Draai om, klim terug in jou koets en ry terug – en bly in die toekoms uit my pad.”
Steeds bly hy in daardie ontspanne posisie staan, maar tog is daar ’n speling van spiere onder die wit pofmousyhemp wat verraai dat hy geensins so doodluiters is as wat hy wil voorgee nie. Hy laat haar op hierdie oomblik aan ’n tier dink wat gaan spring, en sy weet nie vir wie sy die bangste is nie – die graaf De Louvois of vir wat Louis moontlik kan doen. Sy wens sy kon hom gryp en self in die koets boender. Vlugtig dwaal haar blik oor sy skouer skuins na agter en sy voel ’n yskoue straal langs haar ruggraat afskiet. Sy kan sweer sy het uit die hoek van haar oog ’n beweging gesien!
Hier voor haar antwoord die graaf steeds met gevoude arms oor die bors: “Wat laat jou dink ek sal enige bevel van jou gehoorsaam, mam’selle?”
Haar donker oë skiet vuurpyle op hom af. “Klim in daardie koets! Ek sê jou …”
Die volgende oomblik gebeur alles blitssnel. Skielik is sy gevoude arms los en word sy vinnig met die een hand aan die skouerknop gegryp en omgeswaai terwyl die ander hand haar pols pynlik kap sodat die pistool wegspat. Dan is daar skielik ’n harde knal en Lille voel ’n brandpyn êrens in haar rug. Bokant haar verskrikte wit gesig sien sy graaf René se kop omhoog ruk en die eerste keer hoor sy ’n Franse vloekwoord oor sy lippe val. Vaag hoor sy ook die koetsier se ontstelde uitroep en dan word alles swart voor haar.
Die twee mans kyk mekaar ’n oomblik verslae aan. Dan wil Léon wegspring, maar die graaf skud sy kop.
“Hy is lankal weg. Ons weet in elk geval wie dit is. Kom help my liewer dat ons haar in die koets kry.”
“Is sy …?”
Baie versigtig tel graaf René die ineengekrimpte bondeltjie in sy arms op en die mou van die wit syhemp verkleur dadelik onrusbarend rooi.
“Nee, maar hoe ernstig dit is … Die vuilgoed! Dit was natuurlik vir my bedoel en toe skiet hy haar raak net toe ek haar omswaai.” Baie versigtig lê hy haar op die koetsbank neer en beveel kortaf, sy oë stip op die wasbleek gesiggie en die toe oë gerig: “Ry na my huis toe.”
’n Uur later loop die goewerneur se persoonlike geneesheer die slaapkamer binne terwyl die graaf en die goewerneur buite wag.
’n Ruk later verskyn die geneesheer weer en skud sy kop op die angstige vraag in die oë wat dadelik na hom draai.
“Ek is nie seker hoeveel skade die koeël aangerig het nie. Die tyd sal ons moet leer. Intussen sal ek nie aanraai dat sy vervoer word nie. Ek sou verkies dat sy net hier bly.”
“Natuurlik bly sy net hier. Dankie, mijnheer. Sal u haar gereeld kom ondersoek?”
“Ja, natuurlik.”
Sy Eksellensie loop nie draaie nie.
“Jy begryp natuurlik, René, dat hierdie ding lelike gevolge kan hê as mam’selle Jacquard sterf, nie waar nie? Almal aan die Kaap weet van die danige tweegeveg wat vanoggend sou plaasvind tussen julle twee, en die feit dat sy daardie selfde oggend ’n koeël in die rug kry, stel jou nie in ’n goeie lig nie. Dit was net jy en Léon wat ooggetuies was van wat werklik gebeur het. Ek aanvaar jou woord volkome, maar ek is ook gebind, soos jy seker verstaan. As Lille Jacquard sterf, sal ek geen ander keuse hê as om jou weens moord in hegtenis te neem nie.”
Hy kyk skuins na die grimmige gesig. “Trouens, al herstel sy ook, durf ek hierdie saak nie sommer net so laat verbygaan nie. Ek is verplig om ondersoek te laat instel hoe die ongeluk gebeur het. Ons probeer ’n beskawing hier vestig.”
Toe graaf René ’n oomblik later die slaapkamer binnestap, aarsel hy en kyk af op die eteriese wit gelaat teen die kussing, die swart hare soos ’n sluier oor haar skouers. Sonder ’n woord draai hy weer op sy hakke om en stap na sy studeerkamer waar ’n bekommerde Léon hom inwag. Hy begryp ook heel goed wat die dag se gebeure vir sy meester kan inhou as Lille Jacquard sterf.
“Ek sal hom gaan soek, m’sieur. Ek sal die vuilgoed aan sy nek hierheen sleep en hom dwing om te erken …”
Graaf René beduie met sy hand. “Dit sal nie so maklik gaan nie. Louis Paquin is ’n aartsskelm. Ek dink nie jy sal hom nou nog aan die Kaap kry nie. Ek dink hy het daar en dan spore gemaak die binneland in.”
“Dan gaan soek ek hom daar,” antwoord die lojale Léon driftig, maar weer skud graaf René sy kop.
“Ons sal hom wel kry, Léon. Die een of ander dag sal ek hom kry.” Dis ’n baie besliste stem wat praat. “Op die oomblik moet ons egter eers wag dat mam’selle Jacquard buite gevaar is. Dan sal ek hom self gaan soek.”
“En as sy … sterf?” Léon is amper te bang om die woord hardop te uiter.
’n Grimmige trek verskyn om die mond. “Sy mag net nie sterf nie, Léon. Dis al.”
Daardie nag word Lille die eerste keer weer bewus van die werklikheid om haar. Dit voel asof sy in ’n bad van pyn lê en sy kreun saggies. Dadelik kom die man wat so stil langs die bed gesit en waak het in beweging.
“Lille, dis René. Hoe voel jy?”
“René?” Die donker oë, nou mat, sukkel oop en sy kyk verward op in die gesig bokant haar.
Hy probeer glimlag. “Ja. Onthou jy my nie? Ek is graaf René de Louvois. Ons twee sou ’n tweegeveg hê …”
Skielik onthou sy en meteens huiwer ’n pyndeurdrenkte glimlaggie om haar mond. “O ja! Ek onthou. Ek moes jou met ’n pistool dwing.” Haar gesig verstrak. “Wat het gebeur?”
“Kan jy nie onthou nie?”
“Nee, ek … Alles is vaag en dof. O, die pyn …”
“Jy is per ongeluk getref. Maar moenie verder praat nie. Rus. Moenie jou vermoei nie.”
Die donker oë lê en kyk na hom, en skielik sê sy: “Ek is jammer. Dis my skuld dat al hierdie dinge gebeur het …”
Sy gesig raak stywer, maar sy stem klink vriendelik toe hy gerusstellend laat hoor: “Ons praat later. Moet jou nou oor niks bekommer nie. Het jy baie pyn?”
“Ja, my rug … As ek net ’n bietjie meer regop kan kom. Die wond brand soos vuur.”
“Wag, ek help jou.” Baie versigtig lig hy haar bolyf op en laat haar dan teen hom leun. “Beter?”
“Ja, dankie, maar jy kan nie die hele nag so sit nie …”
“Natuurlik kan ek.” Sy arms hou haar baie versigtig vas en hy druk haar kop teen sy bors plat. “Probeer nou ’n bietjie slaap.”
Sy sluit haar oë gehoorsaam en ontspan ten volle teen hom. Haar verstand sing. Sy kan nie onthou wat presies gebeur het nie, en nog minder kan sy verstaan hoe dit is dat sy op hierdie oomblik in ’n vreemde kamer op die bors van die man wat sy sedert hul eerste ontmoeting nie kon verdra nie, lê en skielik nie meer so vreeslik alleen en bang voel nie. Selfs die pyn is meteens stiller. Wat meer is, sy herken kwalik die man wat nou so besorg oor haar waak. Dis amper asof hy ’n algehele metamorfose ondergaan het. Maar sy probeer nie hierdie dinge uitredeneer nie. Onder haar wang is sy diep, rustige asemhaling, en onder die palm van haar hand kan sy die reëlmatige, sterk klop van sy hart voel – en om ’n onverklaarbare rede is sy dankbaar dat dit René de Louvois is wat haar so vashou en nie Louis Paquin nie.
Sy is onbewus daarvan dat René de Louvois se oë hard voor hom uitstaar en dat daar selfs ’n wrede trek om sy lippe is.
In die dae wat volg, ondervind Lille baie pyn, en hoewel die geneesheer van die goewerneur sy bes doen om met die skamele middele tot sy beskikking dit so draaglik moontlik te maak, is dit die heer van die huis wat die vermoë besit om, sodra hy sy verskyning in die kamerdeur maak, die vretende, kloppende pyn in haar rug draaglik te maak. Dikwels is dit bloot sy teenwoordigheid in die vertrek, die aanraking van sy lang, bruin vingers op haar hand of pols, of saans die stut van sy bors wat haar deur hierdie krisistyd help.
Sy leer in hierdie dae om die bekende, vaste voetstap bo ander te eien en daar is ’n dapper glimlaggie om haar mond wanneer hy dan in die deur verskyn.
Die dag nadat sy daardie eerste aand op sy bors aan die slaap geraak en in die vroeë oggendure ontdek het dat hy nog steeds as stut vir haar dien, was hulle bloot nog beleefde vreemdelinge vir mekaar. Maar ’n mens kan nie die hele nag in iemand se arms slaap en vreemdelinge bly nie.
Sy het haar daardie oggend uit sy arms losgemaak en skuldig in die lig van die kers na hom opgekyk.
“Ek is jammer. Jy moes my wakker gemaak het.”
Hy het opgestaan en sy stywe spiere ’n bietjie gerek, toe sonder ’n glimlag op haar afgekyk. “Solank jy net gerus het. Hoe voel dit nou?”
Die pyn was weer vretend terug, maar sy het dapper geantwoord: “Baie beter, dankie.”
“Kan ek vir jou iets bring? ’n Koppie koffie?”
Sy was baie lus vir koffie, maar kon skielik die blik van sy grys oë nie langer verduur nie, en het dit van die hand gewys.
Hy het ’n oomblik op haar neergeslane ooglede afgekyk en toe kortaf gesê: “Ek sal Saartjie na jou stuur. Probeer weer ’n bietjie rus.”
Sy het hom agternagekyk en gewonder hoekom hy skielik weer so in homself teruggetrek het. Toe hy later die oggend ná die geneesheer se besoek weer sy opwagting maak, was hy nog steeds die teruggetrokke vreemdeling, maar tog het sy blik intens oor haar bleek gesig gegaan. Daar was ’n glimlag om haar lippe, maar die fyn pyntrekkies om die oë en in die mondhoeke het hy raakgesien.
Hy maak nie weer sy verskyning voor laat die aand nie, en Saartjie kyk hulpsoekend op van waar sy langs die bed gebuk staan.
“Sy het weer baie pyn. Ek kan haar nie tot rus kry nie.”
Deur ’n waas sien die pyndeurdrenkte oë die man se gesig bokant haar verskyn. Dan voel sy hoe sy baie versigtig omgedraai word totdat sy weer soos die vorige nag teen sy bors lê en sy hande streel saggies oor haar rug bokant die wond. Sy het soveel pyn dat sy net haar oë dankbaar sluit en haar gedagtes weg van die pyn na die strelende vingerpunte dwing wat, ten spyte van die baie sagte aanraking, tog voel asof hulle deur die dun materiaal van haar nagrok op haar kaal vel brand. Maar eerlank het dit die gewenste uitwerking, voel sy hoe die gespanne spiere in haar rug slapper raak en die pyn uithoudbaar begin word.
Saartjie het taktvol verdwyn, en die man se oë staar stip, bokant die donker kop op sy bors, teen die muur vas. Maar vanaand is die oë nie so hard soos gisteraand nie, meer peinsend.
En die mond het die wrede trek verloor. Dis amper asof ’n sagtheid om die hoeke huiwer.
Wanneer laas het hy ’n vrou in sy arms vasgehou? Dis so lank terug dat hy nie eens meer kan onthou hoe dit gevoel het nie. Die eerste keer in ’n baie lang tyd voel hy die sagte rondings van ’n vrou teen sy bors aandruk, voel hy die sagtheid van ’n vrou se vel onder sy vingerpunte, die geur van haar hare in sy neus …
Hy laat sy ken versigtig sak om op haar gesiggie af te kyk, so klein en fyn en bleek en eteries pragtig in die lig van die kandelaar. Baie versigtig, om haar nie wakker te maak nie, beweeg sy mond nog laer af, totdat dit teen die sagte vel van haar voorkop rus.
Maar Lille slaap nie werklik nie. Sy is bewus van elke asemteug wat die man wat haar vashou, gee. Maar op hierdie oomblik weet sy nie of sy nie tog maar tussen droom en werklikheid is nie. Sy voel die lippe bewegingloos teen haar vel lê, en hier teen sy ken fladder haar ooglede effens. Maar dan lê sy baie stil, te bang om te roer, te bang om, as dit ’n droom is, dit te versteur.
Binne-in haar spring haar gedagtes rond – onbeheersd, onstuitbaar. Hierdie gevoel van veiligheid, van tevredenheid, hierdie vreemde tinteling diep in haar wat haar selfs van die pyn laat vergeet, het sy nooit in Louis Paquin se arms ervaar nie. Altyd was sy onrustig in sy omhelsing, altyd bedag op die hartstog wat sy in hom in toom moes hou, altyd effens skuldig asof dit nie so hoort nie. Maar hierdie man …
As hy haar nou skielik op haar mond moet soen …? Sy ken die antwoord. Sy sal hom nie keer nie. Wat meer is, sy wens hy wil … Sy roer effens onrustig en dadelik is die lippe van haar voorkop af weg, en sy beweeg haar kop sodat haar gesig teen sy nek aandruk. Sy voel die armspiere om haar ’n bietjie stywer trek en ’n onbeskryflike vrede vul haar meteens.
Toe Lille vroeg die volgende oggend weer wakker word, kan sy aan sy asemhaling hoor dat hy ook aan die slaap geraak het.
Maar sy arms is nog om haar, en toe sy roer, trek hulle spontaan stywer vas asof hy selfs in sy slaap bewus daarvan is dat hy haar veilig moet vashou. Baie versigtig en stadig, om hom nie te steur nie, maak sy haar los uit sy arms en sit terug, kyk af op die ontspanne gelaat hier langs haar.
Hy lyk soveel jonger, soveel meer genaakbaar. Haar blik dwaal oor hom, ’n sagte lig in haar oë, verwondering in haar hart. Dis vir haar onbegryplik. ’n Dag of twee gelede het sy teenoor hierdie selfde man die sterkste gevoel van antagonisme gekoester wat sy nog ooit teenoor ’n man ervaar het. Sy het gedink hy is onuitstaanbaar, verwaand en vermetel. Net gisteroggend nog het sy gewens sy hoef hom nooit weer te sien nie.
En nou … in hierdie vroeë oggenduur met die flikkerende lig van die kerse, kan sy nie genoeg na hom kyk nie; is sy kwalik bewus van die rou wond agter haar rug, maar oorbewus van ’n stuwing binne-in haar wat haar weer eens onbesonne wil laat optree: nie om die bruingebrande wang te klap soos die vorige keer nie, maar om dit te streel, haar vingers deur die donker hare te trek en sy lippe …
Sy hyg liggies na asem toe sy besef dat sy al seker sekondes lank vas in die grys oë kyk. Sy is nie in staat om van hierdie intense blik los te kom nie. Dis of dit haar soos ’n magneet vashou, en toe sy hande na haar uitreik en haar versigtig nader trek, is sy ewe magteloos. Inteendeel. Dis of sy vanself nader beweeg, en toe sy lippe hare neem, is dit háár hande wat spontaan sy gesig vashou.
Haar swart hare tuimel vooroor en val soos ’n sluier om die twee gesigte asof dit hulle in ’n intieme afsondering wil afsluit. Lank hang die swart sluier so stil, dan lig sy haar kop op.
“René …”
Lille sien sy adamsappel beweeg soos hy sluk en selfs sy stem klink heeltemal anders.
“Het jy weer pyn?”
Sy glimlag op hom af, skud haar kop, die oë blink soos twee swart sterre. “Nie om van te praat nie.”
Versigtig laat hy haar teruglê teen die kussings en lig hom op sy elmboog orent. Haar hand reik na sy gesig, streel sy wang en daar is ’n onpeilbaarheid in sy oë toe hy haar handpalm teen sy mond druk.
“René …”
Hy skud sy kop. “Nie nou nie. Ons praat wanneer jy eers weer gesond is.”
Op hierdie oomblik is sy heeltemal tevrede daarmee. Dis vir haar genoeg om sonder woorde haar arms om sy nek te plaas en die donker kop weer nader te trek. Dis vir eers genoeg om net te weet dat sy hierdie man liefgekry het, en dat sy instinktief weet die gevoel is wederkerig. In hierdie eerste oomblikke van liefde tussen hulle is woorde oorbodig.
Later dalk, maar nou, terwyl die oggendskemer al ligter buite raak, is dit genoeg om net in sy arms te wees en sy lippe teer maar dringend oor hare te voel sluit.
’n Rukkie later maak hy hom los uit haar arms en staan vinnig op, sy stem onvas, die emosies wat in hom ontketen is duidelik in sy oë weerspieël.
“Ek gaan vir Saartjie roep.” Hy stap dadelik uit en sy kyk hom met ’n sagte glimlag agterna, bewus daarvan dat sy iets in hom wakker geroep het, dieselfde iets wat hy in haar laat ontwaak het.
Terwyl sy wag dat Saartjie haar opwagting maak, lê en kyk sy droomverlore hoe die dag al helderder deur haar kamervenster word.
Sy wil nooit weer weggaan van hierdie suidpunt nie. Dis vir haar pragtig hier, veral nou … René … Sy gaan saam met hom hier bly. Hier sal hulle saam die paradys ontdek.
Net vlugtig versomber haar gesig. Wat sou van Louis geword het? Maar dan skuif sy hom uit haar gedagtes weg. Sy sal nie eens weer aan hom dink nie. Sy weet dis ’n koeël uit sy pistool wat haar getref het, maar onwetend het hy haar die grootste guns bewys. Sy sal totaal van hom vergeet. Nie hy óf die erfenis is meer van belang nie. Daardie Philippe Bidault kan dit maar alles kry. Sy is klaar die rykste meisie in die wêreld. Die liefde van René de Louvois het dit van haar gemaak.
’n Effense fronsie verskyn tussen haar wenkbroue. Die ekstase in haar het weer stadigaan begin plek maak vir gesonde verstand. Maar wie is hy – hierdie man wat so onverwags haar hele hart geneem het? Wie is René de Louvois werklik? ’n Edelman van Frankryk wat sy tyd verwyl met grootwildjag? Is dit werklik al wat daar oor hom vertel kan word? Dan smoor sy haar gedagtes dood. Sy gee nie om nie, solank hy haar net liefhet, solank sy net vir altyd by hom kan bly.
Daardie middag, toe die geneesheer besig is om Lille se wond weer te ontsmet en te verbind, verskyn Léon skielik voor die heer van die huis en sy gesigsuitdrukking vertel dat hy groot nuus het.
“Wel, Léon? Het ons vriend toe opgedaag?”
“Ja, m’sieur. Nes u verwag het. Hy het twee dae lank van die toneel af verdwyn, maar teruggekeer om te hoor wat die gevolge van sy daad is. Ek het hom in ou Willemberg se kantien raakgeloop. Glo my, dit was swaar om my onskuldig voor te doen en die vuilgoed nie sommer daar en dan aan sy strot te gryp nie.”
René knik, vol begrip vir die ander se ongeduld. “Ja, maar om hom sommer hier aan die Kaap vas te trap, sal net probleme skep. Ons geagte goewerneur is baie gesteld daarop dat alles hier volgens wet en orde moet verloop. En onthou, ons het geen bewyse of getuies dat dit wel hy was wat daardie skoot afgevuur het nie.”
“Wie anders kon dit wees?” laat Léon driftig hoor.
“Ek weet, maar die Raad van Justisie sal ons woord nie so onvoorwaardelik aanvaar nie. Jy vergeet, Léon, ons leef kastig in ’n beskaafde tyd. Goed, gaan voort.”
“Gelukkig was ek seker van die eerstes met wie hy gepraat het ná sy verdwyning, en ek vra hom toe ewe onskuldig of hy gehoor het van die affêre wat in die Kaap plaasgevind het. Ek vertel hom toe dat Lille Jacquard, ’n meisie wat hier aan die Kasteel kuier, mos deur ’n sluipskutter doodgeskiet is. Hy het hom boeglam geskrik toe hy hoor sy is dood. Ons het skaars nog ’n paar woorde gewissel, toe hy my vra waar hy ’n vars perd te huur of te koop sal kan kry. Hy weet toe te vertel hy wil ’n bietjie die omgewing hier in die Kaap rond gaan verken. Dis natuurlik louter onsin. Hy is op vlug.”
“Ja, die binneland in. En miskien nie net op vlug nie. Miskien hoop hy dat hy Philippe Bidault in sy swerftog sal raakloop.”
“Ja, dit kan wees.”
“Wel, ek hoop hy loop Philippe Bidault wel raak. Kry ons goedjies solank bymekaar. Ons vertrek môreaand vroeg.”
“Waarheen?”
Hy glimlag fyn. “Waarheen anders as die binneland in? Op die gewone jagtog, soos altyd.”
Die geneesheer glimlag toe René ’n minuut later die siekekamer binnestap. “Ek weet nie watter wondermiddel u in hierdie huis aanhou nie, graaf René, maar my pasiënt vorder met rasse skrede. Soos sy daar sit, sal ’n mens kwalik sê sy is ’n siek mens!”
Lille glimlag blosend, haar oë soos sterre en selfs die ouer man kan nie anders as om op te merk hoe pragtig sy lyk nie. René glimlag fyn.
“Dan is sy buite gevaar? Vorder die wond mooi?”
“Heeltemal buite gevaar en die wond lyk pragtig. Nog so ’n week in die bed en dan kan sy maar opstaan.”
Daardie aand wag Lille gretig op sy verskyning en sy is vol onverbloemde vreugde toe hy haar in sy arms neem. Maar skielik lig hy sy mond op, kyk stip in haar oë af.
“Weet jy wie het jou geskiet?” kom die vraag onverwags.
Sy frons verward, dan word haar oë waaksaam. Eers wil sy hom van Louis vertel, maar afgesien daarvan dat sy nie eens lus voel om aan daardie naam te dink nie, wil sy hom ook nie van haar vorige kêrel vertel nie.
Hy staan op, tree terug, en sy voel en sien hoe hy in homself terugtrek.
“Ek gaan môre op ’n jagtog. As ek terugkom, kan ons verder praat. Goeienag, mam’selle.”