Читать книгу Ena Murray Keur 11 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

Karlien vee soos ’n weerlose kindjie met die rugkant van haar hand oor haar oë.

Die ouer vrou agter die lessenaar se blik verteder en haar stem is minder saaklik toe sy vervolg: “Karlien, jy móét verstaan! Hoe gaan jy vir die kleintjie sorg? Die welsynsorganisasie se belange is eerstens by die kind. Glo my, ek verstaan jou kant van die saak en jy het al my simpatie, maar ter wille van klein Essie is dit beter dat sy vir aanneming beskikbaar gestel word.”

Daar is ’n koppige trek in Karlien Steenkamp se oë. “Maar ek stem nie saam nie, mevrou. Ek is Essie se eie vlees en bloed. Ek is al wat sy in die wêreld oorgehou het … en sy is al wat ek oorgehou het.”

Elsa Richter voel ’n lastige knop in haar keel. Sy weet Karlien probeer nie doelbewus op haar gevoel speel nie. Daarvoor is sy nog te jonk en onervare. Karlien stel bloot ’n feit. Essie het net vir Karlien oorgehou en Karlien het net vir Essie oorgehou. Maar … Elsa sug. Hoeveel tragedies sal hulle nog afspeel tussen die mure van hierdie kantoor van die Kindersorgvereniging? Soms wil jou hart breek, soms voel jy lus om te moor, maar altyd, altyd is daar die hartseer, die weemoed, die hoekom …

As maatskaplike werkster weet Elsa sy mag nie toelaat dat emosie haar verstand oorheers en haar besluite bepaal nie. Daar is lewens, kinderlewens, op die spel. Jy moet nugter dink, nugter besluit … en dis nie altyd so maklik nie. Ook in hierdie geval wil-wil die hart telkens by gesonde verstand oorneem.

Sy kyk na die bruin hare wat los oor die skouers hang, die geboë kop, die neergeslane ooglede. ’n Oomblik lank het sy lus om te sê: Nou goed, Karlien, hou vir Essie. Ons sal ’n plan maak. Op die een of ander manier sal julle seker liggaam en siel aanmekaarhou. Maar dan sê haar verstand: Sy is nog self ’n kind. Nog nie eens negentien nie. Hoe kan sy ooit met haar klein salaris vir haarself en ’n opgroeiende kind sorg? Watter toekoms sal klein Essie hê as sy by Karlien moet bly? Elsa Richter het self ’n dogter so oud soos Karlien, en sy voel innig jammer vir die dapper meisie voor haar lessenaar. Maar sy durf nie toegee nie.

“Karlien, ons het hierdie saak al na alle kante beredeneer, en jy weet dis net onmoontlik. Jy verdien ’n klein salaris, want jy werk nog skaars ’n jaar. Jy sit in ’n enkelkamertjie in ’n losieshuis. Wat gaan jy bedags met die kind aanvang wanneer jy gaan werk? Hoe gaan jy vir julle albei sorg? Jy is nog self so bitter jonk … Nee, kindjie, Essie moet aangeneem word. Ons moet aan háár toekoms dink. Jy kan haar nie behou nie.”

Die bruin oë flits pleitend op. “Is daar géén manier, geen enkele manier, waarop dit moontlik sal wees nie?”

Elsa Richter sug. “Daar is net een manier: as jy trou met ’n man wat kan bewys dat hy vir Essie kan sorg. Dis al. Maar aangesien dié moontlikheid buite die kwessie is … Dis net ’n week voor die einde van die maand. Ek gee jou nog hierdie week grasie, maar oor ’n week kom ek Essie haal. Asseblief, Karlien, moet dit nie vir my moeiliker maak as wat dit reeds is nie.”

Karlien knik stom en staan op. Toe die deur agter haar toegaan, vee die maatskaplike werkster die lastige trane uit haar oë. Arme Karlien … en arme klein Essie.

Karlien staan ’n oomblik buite die deur soos iemand wat die pad totaal byster geraak het. Dan stap sy aan, heeltemal onbewus van watter rigting sy inslaan. Oor ’n week kom hulle Essie haal. Sy kan haar nie behou nie … Sy mag nie … Daar is geen kans, geen moontlike manier nie.

Dan skok sy in haar spore tot stilstand, sodat ’n voetganger teen haar bots en vererg ’n verskoning mompel, maar sy hoor dit nie eens nie. Ja, daar is ’n manier. As sy kan trou … ’n man in die hande kan kry.

Sy voel amper paniekerig by hierdie gedagte. Waar kry ’n mens so gou ’n man in die hande? Sy kyk om haar rond. Mans – grotes, kleintjies, vettes, maeres, langes, kortes, mooies, lelikes – skarrel by haar verby. Baie mans … en sy het een so dringend nodig! ’n Histeriese geluid ontglip haar mond. Sy wonder wat sal gebeur as sy een sommer trompop loop en sê: Meneer, ek het ’n man dringend nodig. Sal u asseblief met my trou?

Haar gedagtes galop soos wilde perde. Sy dink aan die ouens wat sy ken – dié op kantoor en in die losieshuis. Almal is omtrent haar ouderdom. Hulle sal nie vir Essie kan sorg nie, en dís die vereiste. Hulle kan skaars vir hulself sorg. Net haar baas sal vir Essie kan sorg, maar … hy is getroud, al oupa.

Wie dan? Wie dan tog? Daar is niemand anders nie. Maar dis al uitweg, al manier as sy Essie wil behou. Sy moet net trou; sy moet binne ’n week ’n man kry.

Die tweede keer binne ’n paar minute gaan sy botstil op die sypaadjie staan. Iets het haar skielik te binne geskiet. Die talle hoekies vir eensames in die tydskrifte wat so adverteer … Is jy eensaam? Verlang jy na ’n maat? Wil jy sin in jou lewe hê? Geluk in jou lewe? Kom dan na ons. Ons het net die regte maat vir jou. Alle inligting vertroulik.

Sy byt hard op haar onderlip. Sy is nie eensaam nie. Bedags is daar haar werk, en ná werk wag Essie vir haar. Daar ís sin in haar lewe … Essie. Sy verlang nie na ’n maat nie – weet nog skaars wat dit beteken om na ’n maat te verlang. Maar sy het ’n man nodig …

Sy stap die eerste die beste kafee binne en koop ’n tydskrif en ’n koerant. Naarstiglik blaai sy na die advertensiekolomme. Hier iewers moet dit wees. Ja, hier is dit. Soek-en-Vind: buro vir eensames. Haar wysvinger bewe op die adres. Dis net twee strate hiervandaan. Sy sal moet spring as sy hulle nog voor sluitingstyd wil spreek.

Met bonsende hart stap sy enkele oomblikke later die kantoortjie van Soek-en-Vind binne. Dis ’n ouerige vrou wat agter die lessenaar sit, maar sy het haar bes gedoen om dié feit onder baie lae grimering weg te steek.

“Goeiemiddag, meisie. Kom sit. Kan ek iets vir jou doen?”

Karlien sluk en knik tegelykertyd, sak dan dankbaar op die stoel neer.

Die vrou glimlag oordadig. “Kom soek jy ’n maatjie? Ek kan jou honderde gee om uit te kies. Net eers ’n paar besonderhede, asseblief …”

“Asseblief, ek soek nie ’n maatjie nie. Ek … soek ’n man … baie dringend.”

Die vrou se oë rek. Hierdie een is ten minste eerlik! Sy lag kortaf. “Dis eintlik waarop dit neerkom, nie waar nie? Net … ons stel dit darem nie so … so blatant nie, juffroutjie. Jy weet, ’n mens moet baie taktvol wees in hierdie soort situasie.”

Karlien frommel haar sneesdoekie tussen haar bewende vingers op. “Daar is nie tyd vir takt nie, mevrou. Ek móét ’n man hê … op die laatste oor ’n week.”

Die ouer vrou se glimlag verdwyn nou heeltemal en haar blik dwaal speurend oor die skraal figuur.

“Só dringend?”

Karlien sluk en begin halsoorkop verduidelik. Toe sy eindelik stilbly, is die agterdog weg uit die ander vrou se oë.

“Dis baie moeilik, juffroutjie. Jy sien, die mense wat hier aansoek doen, is almal mense wat werklik eensaam is en na ’n lewensmaat soek. Ek kan jou voorstel aan ’n paar, maar of jy daarin gaan slaag om een van hulle te oorreed om met jou te trou, is ’n ander saak.”

Karlien kyk haar teleurgesteld aan en haar hoop sak weg.

Sy besef egter dat sy dwaas was om soveel hoop op haar skielike ingewing te geplaas het. Soek-en-Vind se koördineerder hou darem ook nie mans opgemaak in pakkies in haar pakkamer aan nie.

“Gee my jou adres en telefoonnommer. Ek belowe niks nie, maar ek sal kyk wat ek kan doen.”

Mismoedig stap Karlien ’n rukkie later na die deur. Voordat sy egter aan die deurknop kan vat, is daar ’n klop en die deur gaan oop. Die man staan opsy, en sy stap uit, net ’n vae beeld van hom in haar deurmekaar gemoed. Essie is weer voorop in haar gedagtes. Dan is daar seker maar niks aan te doen nie.

“Ek soek ’n vrou … Ses maande … Bereid om te vergoed en …”

Karlien kom spontaan tot stilstand en spits haar ore. Sy weet sy staan nou skaamteloos en afluister, maar dit is ’n noodgeval. Hier binne is ’n man wat ’n vrou soek.

Sy hoor die vrou vertwyfeld sê: “Dis ’n baie ongewone versoek, meneer. Ek weet nie …”

“Dit sal ’n blote sakeooreenkoms wees, mevrou. Ek moet oor ’n week vertrek, en dan móét ek getroud wees. Ek kan jou verseker dat die vrou niks te vrese sal hê nie. Dis om ’n baie persoonlike rede dat ek moet trou, maar dit het niks met haar te doen nie. Hier is my adres en telefoonnommer. Doen asseblief jou bes. Dit is noodsaaklik dat ek binne ’n week ’n vrou kry.”

Karlien gee haastig pad en hou haar ongeërg by ’n winkelvenster besig toe die man uitkom. Sy hou hom uit die hoek van haar oog dop. Hy is beslis nie die soort man wat jy met ’n huweliksburo sal verbind nie! Hy kom welgesteld voor en is uiters aantreklik. Sekerlik hoef hy nie ’n vrou by Soek-en-Vind te kom soek nie! En tog het hy heeltemal desperaat geklink.

Sy volg hom op ’n afstand en toe hy by ’n knus straatkafee instap, stap sy huiwerig agterna. Sal sy met hom praat?

Sy neem ’n paar tafeltjies van hom af plaas en hou hom dop. Hy bestel tee en sit peinsend voor hom en uitkyk, sy gesig op ’n diep plooi getrek soos ’n man wat baie bekommerd is. Hy lyk streng, amper kwaai, en Karlien byt weer hard op haar onderlip. Sal sy dit waag?

Hy lyk so … so ongenaakbaar, so hard. Hy lyk soos ’n man wat die lewe ken en dit nie te aangenaam vind nie. Wat as hy haar afjak of uitlag? Maar wat van Essie – Essie wat oor ’n week gehaal word? Elsa Richter het gesê dis al manier waarop sy Essie sal kan behou.

“Meneer, ekskuus, meneer …” Haar stemmetjie klink dun en bewerig.

Sy oë was vas op die koppie voor hom gerig en hy kyk gesteurd op.

Karlien se oë is groot en rond en duidelik baie bang. Haar hande bewe merkbaar en sy gryp die stoelleuning vas om haar knakkende knieë te onderskraag. Dit lyk asof sy enige oomblik kan omvlieg en weghardloop. Haar gesiggie is baie bleek.

“Meneer, ek … ek sal met meneer trou.”

’n Oomblik lank sit hy haar net en aanstaar. Hy wend geen poging aan om op te staan nie. “Ekskuus?”

“Ek het gesê ek … ek sal met meneer trou as … meneer wil.”

“Hemel! Dan het ek reg gehoor?” Hy is op sy voete en sy ligblou oë flits soos dolke op haar. “Waar kom jy daaraan dat ek …? Wag ’n bietjie! Jy was netnou by daardie kantoor.”

Sy word so rooi soos beet en laat haar ooglede sak. “Ja. Ek het gehoor. Ek wou nie afluister nie. Ek het voor die deur gestaan en gedink … wat om te doen en toe hoor ek u sê … u het ’n vrou nodig.”

Sy voel sy groot hande op haar skouers en daar skuif genadiglik ’n stoel onder haar in. “Sit, juffrou. Dit lyk asof jy gaan omslaan. Dis niks as jy gehoor het wat ek gesê het nie. Dis nie ’n staatsgeheim nie. Ek het ’n vrou nodig. Móét een binne ’n week kry.” Sy oë priem in hare. “En jy sê jý wil met my trou?”

“Ja, asseblief, meneer. Ek moet ook trou … dadelik trou.”

“O?”

Sy sien sy blik vlugtig oor haar gaan en weer word sy bloedrooi. “Nee, meneer! Dis nie dáároor nie! Ek makeer niks nie … ek bedoel … dis om Essie … om haar te behou.”

’n Geamuseerdheid flits in die kil oë, maar sy sien dit nie raak nie. Daarvoor is sy te benoud en te toegewyd besig om te bid dat die man haar huweliksaanbod sal aanvaar.

“En wie is Essie?”

“Dis my suster se baba. My suster is twee maande gelede oorlede. Sy was in ’n ongeluk, sy en haar man. Dis net klein Essie wat oorgebly het. Nou wil die maatskaplike werkster haar laat aanneem. Ek kan dit mos nie toelaat nie. Sy is dan al wat ek het!” Die bruin oë pleit nou openlik. “Mevrou Elsa Richter het gesê al manier waarop ek haar kan behou, is as ek trou en my man kan bewys dat hy vir Essie kan sorg. Dis regtig al manier …”

“En nou loop en vra jy rond en bont mans om met jou te trou?”

“Nee.” Weer skiet die blos pynlik oor haar gesig. “Dis maar net vir u … Toe ek hoor u het dringend ’n vrou nodig, het ek gedink … ons kan mekaar help.”

Hy sit haar ’n rukkie peinsend en aankyk en Karlien wens dat sy in die aarde kan wegsink.

“Hoe oud is jy?”

“Amper negentien.”

“Dit kan nie wees nie. Jy lyk niks ouer as sestien nie.”

“Ek ís amper negentien,” herhaal sy heftig. “Ek werk al ’n jaar lank.”

“Watter ander familie het jy nog?”

“Niemand nie. Dis net Essie.”

Soos die maatskaplike werkster voel Julius Schreider onwillekeurig ’n ruk aan sy hart. Maar sy gesig en stem verraai niks nie. Hy lyk selfs nog strenger. “Wat is jou naam?”

“Karlien … Karlien Steenkamp.”

“Wel, Karlien, ek waardeer jou … aansoek, of is dit aanbod, maar ek dink nie jy is die aangewese persoon vir die … die betrekking wat ek in gedagte het nie. Jy is nog ’n bietjie jonk en … onervare.” Onder die starende, weerlose blik raak hy die kluts ’n bietjie kwyt. Sy lyk soos ’n straatbrakkie wat ’n onverdiende skop gekry het, dink hy ergerlik. Liewe land, moet so iets ook nog gebeur!

Hy sien hoe die groot bruin oë verdof, die laaste bietjie hoop vervaag.

“O, ek verstaan …”

Hy frons onheilspellend. “Dis net dat jy werklik te jonk is, Karlien. Ek kan jou mos maar so noem, nè? Ek is amper vier en dertig. Ek kon jou pa gewees het!”

Sy knik en soek senuweeagtig na haar handsak. “Dan … stap ek maar weer. Ek is jammer dat ek u lastig geval het, meneer. Dis maar net … Essie. Ter wille van haar …” Sy staan op. “Ek hoop u raak gou geholpe.”

Hy staan ook op en kom vinnig om die tafel. “Waarheen gaan jy nou?”

“Losieshuis toe. Ek moes al daar gewees het. Mevrou Lategan, dis die bestuurderes, kyk net na Essie totdat ek van die werk af kom. Sy wil ook nie meer nie. Sy sê dit raak te veel vir haar. Maar as hulle haar oor ’n week kom haal …” Die stemmetjie raak weg en Julius kyk magteloos op haar neer.

“Ek sal jou terugneem. My motor staan net om die draai.”

“Dis regtig nie nodig nie, dankie, meneer. Ek stap sommer.”

“Ek neem jou terug.” Sy stem laat geen verdere teëpraat toe nie, en oomblikke later word sy die straatkafee uitgelei, sy hand onder haar elmboog.

In die motor sit Karlien so stil soos ’n muis.

“Wat gaan jy nou doen?” vra die vreemdeling toe hy sy motor in die verkeer inswaai.

Oudergewoonte byt Karlien haar onderlip eers vas en antwoord dan gesmoord: “Ek weet nie. Daar is blykbaar niks wat ek kan doen nie.”

“Ek hoop nie jy gaan voort om vreemde mans te vra om met jou te trou nie. Dit kan gevaarlik wees, Karlien. Jy moet my belowe dat jy dit nie sal doen nie.”

“Nee, ek sal nie weer nie,” beloof sy. “Ek sal nie weer die moed hê om so iets te doen nie. Ek was maar net desperaat oor Essie.”

“Ek weet,” sê hy sussend. “Miskien trek jy jou die ding van Essie te erg aan. Jy kan mos nie so ’n groot verantwoordelikheid op jou neem nie.”

Hy weet sy trooswoorde is leeg en beteken niks nie, maar hy voel hy moet iets sê. Hy kyk vlugtig na haar. Genugtig, sy is nog ’n blote kind. Sy behoort iemand te hê wat háár oppas!

“Wat het jy by daardie kantoor gemaak?”

“Ek het gaan hoor of daardie vrou nie dalk van iemand weet wat … wat met my sal trou nie.”

’n Gedempte woord ontsnap sy lippe en hy kyk haar kwaai aan. “Liewe genugtig, kind, besef jy aan watter gevare jy jou blootstel? Daardie vroumens sal haar eie ouma vir ’n paar sent verkoop. Jy bly in die toekoms weg van daardie kantoor af!”

Sy kyk hom met groot oë aan. “Maar … u het dan daarheen gegaan.”

“Ek is ’n ander saak,” antwoord hy kortaf. “Ek kan na myself kyk. Ek sal ook nie dat sy enigiemand aan my afsmeer nie, maar aan jou kan sy die grootste skurk afsmeer. Belowe jy?”

“Goed. Ek dink in elk geval nie sy sal my kan help nie. Dié soort wat sy wel sal kan kry, sal ek nie voor kans sien nie. Dit besef ek eintlik.” Sy aarsel en vra dan versigtig: “Maar hoekom het u dan daarheen gegaan?”

Hy glimlag skeef. “Jy is nie al een wat desperaat is nie. Ek is ook redelik wanhopig. Maar vergeet van my. Ek sal wel die een of ander plan kan maak. Maar jy …”

Julius hou voor die losieshuis stil en sien dadelik dat dit nie van die swierigste is nie. Hy wou haar net aflaai, groet, die beste toewens en dan vertrek. Maar nou verander hy skielik van plan en sê ongeërg: “Ek sal graag die kleine Essie wil sien.”

Karlien kyk hom verbaas aan. Hy lyk nie na ’n man wat in vreemde babas sal belangstel nie, maar sy kan niks anders doen nie as om te sê: “Kom saam, dan wys ek haar vir u. Sy is dierbaar.”

Hy volg haar en sien hoe die bestuurderes se oë rek toe Karlien met ’n man in die gang verskyn.

“Essie is stroopsoet aan die slaap,” antwoord sy op Karlien se vraag en kyk nuuskierig na Julius. Karlien gee egter vinnig pad, want sy besef skielik dat sy nie eens die vreemdeling se naam ken nie. Sy is selfbewus toe sy hom haar kamer binnenooi. Sy voel intuïtief aan dat hy baie beter gewoond is.

In die een hoek staan ’n wiegie en Karlien trek die kombersie opsy sodat hy die kleintjie kan sien.

Hy buk en vra sag: “Hoe oud is sy?”

“Sewe maande.”

Toe hy orent kom, lyk haar kamertjie nog kleiner as gewoonlik. Dis of sy groot gestalte al die ruimte opneem. “Karlien, staan jou huweliksaanbod nog?” Sy kan hom net aanstaar, en hy vervolg, sy mond grimmig: “Ek het besluit om dit aan te neem.” Toe sy nog niks sê nie, maar hom net staan en aankyk, sê hy: “Ek kan jou die versekering gee dat ek vir jou en Essie sal sorg.”

“Ek … het nie daaraan gedink nie,” stamel sy en laat haar blik verleë sak. Sy het glad nie aan die finansiële sy gedink nie. Die gedagte dat sy met hierdie man moet trou, was net te oorweldigend.

“Wel, waarvoor is jy bang?” wil hy ietwat ongeduldig weet. Sy ken hom nog nie goed genoeg om te weet dat hy sy ongemak so verberg nie. “Jy help my en ek jou. Dis al.” Dit voel vir haar asof sy oë tot in haar siel brand en weer sprei die rooi gloed oor haar gesig toe hy skielik vra: “Jy is tog nie bang vir my nie? Genugtig, kind, ek kon jou pa gewees het! As jy een oomblik dink …”

Skielik, tot haar algehele en verdere verleentheid, gooi hy sy kop agteroor en lag hartlik. “My liewe Karlientjie …” Hy frommel haar kuif deurmekaar asof sy tien jaar oud is en sy oë is nou vaderlik en vol terglus. “Moenie verspot wees nie, kind. Omdat ek dringend móét trou, beteken dit nog nie dat ek so desperaat is dat ek ’n kuikendief sal word nie! Wat my betref, is jy en Essie ewe oud. Jy het niks te vrees nie. Ek speel werklik nie pop nie!”

Dit voel vir haar asof die aarde haar kan insluk. “Ek het nie gesê …” laat sy met ’n dun stemmetjie hoor, en hy slaan sy arm gerusstellend om haar skouers.

“Nee, ek weet, ek stel jou maar net gerus. Jy het regtig niks van my te vrees nie, Karlien. Ek neem twee weeskindertjies aan. Dis hoe ek die saak beskou. Daardeur help ek myself. Kom sit. Ons het baie om te bespreek.”

Sy laat toe dat hy haar na die divan lei en nou is hy saaklik. Sy gee hom al die besonderhede wat hy wil hê en toe hy eindelik groet, draai haar kop.

“Slaap nou vannag gerus. Dit lyk asof jy nagte laas ordentlik geslaap het. Essie sal nie van jou af weggeneem word nie. Sorg dat jy môreoggend stiptelik elfuur gereed is. Ek sal vroegoggend met jou baas gaan praat. Ons trou eers en dan kan ons na die Kindersorgkantoor gaan. Laat alles aan my oor.”

Sy knik net gedwee en eers toe sy al in die bed is, onthou sy dat sy nie ja of nee geantwoord het nie. Hy het haar geen kans gegee nie. Dan onthou sy dit was oorspronklik háár voorstel dat hulle trou …

Julius het gesê sy moet slaap en al haar kommer en probleme van die afgelope tyd vergeet, want dit is uiteindelik opgelos. Maar sy slaap daardie nag slegter as ooit. Die probleem van Essie is opgelos, maar dalk het sy nou ’n groter probleem vir haarself geskep, dink sy telkens wanneer Julius – en sy besef dat sy nog steeds nie sy van ken nie – se gesig voor haar geestesoog verskyn.

Hy kon nie net in jare haar pa gewees het nie, maar sekerlik ook in lewenservaring. Die beeld wat telkens deur die nag in haar verwarde gedagtes verskyn, is dié van ’n man wat die lewe goed ken; ’n man teen wie sy beslis nie opgewasse is nie. Dan is hy boonop ’n volslae vreemdeling. Weliswaar weet hy reeds alles wat noemenswaardig is van haar, maar sy … sy ken nog nie eens sy beroep of sy van nie. En sy gaan met hom trou! Sy gaan haar lot by syne inwerp; die stuur van haar lewe in sy hande plaas.

Sy besef met beklemming dat dit nou ’n bietjie te laat is om berou te hê. Julius watsenaam sal haar nie toelaat om kop uit te trek nie.

Dan troos sy haarself. Sy het sy woord dat dit bloot ’n sakeooreenkoms is. Hy het haar oortuig dat hy geen amoreuse gevoelens of gedagtes het nie. Dit stel haar in groot mate gerus. Vreemd dat sy sy woord so onvoorwaardelik aanvaar; tog wéét sy intuïtief dat sy hom op sy woord kan neem. Wat meer is, sy weet ook dat sy geensins die tipe is wat hierdie man sal interesseer nie. Nee, hy sal ’n gesofistikeerde, ervare vrou verkies. Nie ’n onbeholpe meisietjie soos sy wat nog skaars haar kinderskoene ontgroei het nie; wat wegkrimp wanneer sy blik kil en ontevrede op haar rus, of soos ’n verspotte bakvissie senuweeagtig met haar hande sit en vroetel wanneer daar ’n stilte in die gesprek kom.

Wat sou hom so skielik van plan laat verander het? Maar daarop vind sy geen antwoord nie, en eindelik raak sy aan die slaap.

Lank nadat Karlien ingesluimer het, staan Julius nog by sy hotelvenster. Wat het my so skielik van besluit laat verander? wonder hy oor en oor. Toe sy voor hom in die straatkafee gestaan het, was hy oortuig daarvan dat sy nie die regte keuse is nie. Maar daarna het dit al meer tot hom begin deurskemer dat Karlien dalk net die meisie is met wie hy behoort te trou. Sy is nog ’n blote kind. Sy sal nie lastige vrae stel nie; nie goed verwag wat hy nie kan gee nie; nie probeer voordeel trek uit die situasie nie. Daarvoor is sy nog te onervare, te onskuldig.

En dís wat hy wil hê: ’n vrou wat net dáár is en dis al. ’n Meer ervare en gesofistikeerde vrou kan hom dalk duur te staan kom. Hy kan met so ’n vrou een probleem oplos en ’n ander, veel groter probleem skep. Maar nie met Karlien nie.

Die volgende dag gaan dit in volle vaart. Stiptelik om elfuur meld Julius hom by die losieshuis aan. Essie word weer in die sorg van die behulpsame, maar o, so nuuskierige Estelle Lategan gelaat. Dan vertrek hulle na die landdroskantoor.

Julius se gesig is weer so grimmig dat Karlien liewer niks sê nie. Sy het ’n eenvoudige roomkleurige baadjiepak aan wat haar geensins ouer of meer volwasse laat lyk nie. Haar aanstaande man let dit op en die hoeveelste keer is daar ’n beklemming in sy binneste. Sy is darem so jonk, dink hy en sug. Laat kom wat wil. Dis my enigste kans om ’n vrou te hê voordat ek oor ’n paar dae vertrek. Maar hoe gaan ek dit regkry om almal te oortuig dat alles pluis is met my huwelik?

“Is daar werklik niemand wat ons van ons … planne moet laat weet nie?”

“Nee.”

Hy kyk haar fronsend aan. “Het jy nie eens ’n kêrel wat sal wonder nie …?”

Karlien bloos verleë. “Nee. Ek was die afgelope tyd so besig met Essie … Daar is niemand nie.”

Van die daaropvolgende ure onthou Karlien maar bitter min. Al waarvan sy werklik bewus was, was van die oomblik toe Julius die breë goue band oor haar vinger laat glip het. Die landdros se woorde en die twee getuies se gelukwensing het by haar suisende ore verbygegaan. Eers toe hulle voor Elsa Richter se lessenaar tot stilstand kom, besef Karlien met ’n skok dat sy sowaar nie haar nuwe van kan onthou nie.

Julius red haar egter uit die penarie toe hy ferm sê: “Ek is Julius Schreider, Karlien se man. In verband met Essie …”

Karlien kan die maatskaplike werkster nie in die oë kyk nie, maar Julius gee die ouer vrou nie kans om deur algehele verbystering oorval te word nie. Hy is soos ’n stootskraper. Saaklik, op die man af. En dis ’n verslae Elsa Richter wat enkele oomblikke later van die nuwe meneer en mevrou Schreider afskeid neem.

“Dis amper etenstyd,” sê hy toe hulle buite kom. “Ons gaan nou eers eet.”

Hy vra haar nie of sy kan of wil nie. Dit kom nie eens by hom op nie. Hy neem die besluite en sy draf maar saam. Karlien dink ook nie daaraan om te sê dat sy eintlik losieshuis toe behoort te gaan nie.

Aan die etenstafel waag Karlien dit om te vra: “Watter soort werk doen jy … Julius?” Haar tong haak nog vas voor sy voornaam. Selfs die jy en jou kom nie so maklik nie. Dit voel al vir haar sy behoort oom te sê. Hy is darem vyftien jaar ouer as sy.

Hy kyk haar effens verbaas aan. “Het ek jou nie vertel nie?”

“Nee.” Sy kyk verleë op haar bord af. “Ek weet eintlik nog niks van jou af nie.”

Julius klink verskonend. “Ek is jammer, Karlien. Ek dink nou eers daaraan. Ek het jou werklik niks van myself vertel nie. Alles was ook so deurmekaar en halsoorkop. Jy weet, ek dink nou daaraan dat ons mekaar gistermiddag hierdie tyd nog nie eens geken het nie en … hier sit ons as man en vrou saam aan tafel.” Hy lag kortaf. “Dis amper snaaks.”

Karlien byt haar onderlip vas. Hý mag dit snaaks vind, maar sy voel skielik trane agter haar oë brand. Sy is getroud met ’n volslae vreemdeling – ’n man wat sy nog maar ’n paar uur lank ken. Dis ter wille van Essie, vertel sy haarself. Dit was al manier …

“Ek is uitvoerende hoofbestuurder van die kopraplantasies op die Seychelle.”

Karlien kyk hom vraend aan. Sy weet nie wat ’n kopraplantasie is nie. Nog minder waar die Seychelle is.

“Is dit … in KwaZulu-Natal?”

“KwaZulu-Natal?” Eers is sy blik skerp. Dan leun hy effens vorentoe. “Karlien, kindjie, luister, ek is jammer. Ek het geen verskoning nie. Al wat ek kan sê, is dat daar net nie tyd was om by al hierdie besonderhede uit te kom nie.”

“Watter besonderhede?” vra sy behoedsaam.

Hy sit sy servet neer en kyk op. “Die Seychelle is ’n groep eilande sowat ’n duisend kilometer noord-noordoos van Madagaskar en omtrent anderhalf duisend kilometer oos van Mombasa.”

Karlien se oë lyk omtrent soos pierings. “Jy bedoel ek … ons moet … dáár gaan woon?”

Hy knik en hou haar fyn dop. “Ja. Dis waar ek woon en waarheen ek … ons oor ’n paar dae vertrek. Dis ’n pragtige groep eilande, Karlien. Tropies. Kort onderkant die ewenaar. Dis soos ’n paradys. Om die waarheid te sê, hierdie eilandgroep is al bestempel as die verlore tuin van Eden.”

“Die verlore tuin van Eden …” sê sy amper beangs en laat dan haar ooglede vinnig voor sy speurende blik sak. Waarin het sy haar en Essie begeef? Oor ’n paar dae moet sy saam met ’n volslae vreemdeling vertrek na ’n pragtige, tropiese eilandgroep – duisende kilometers van haar vaderland af. Sy sê niks nie. Sy is stom van vrees. En dis haar eie voortvarendheid wat dit oor haar en Essie gebring het …

O, jy was darem ’n simpel klein gek, Karlien, raas sy met haarself. En tog … Wie sou ooit kon droom dat die man wat teenoor haar in ’n straatkafee gesit het, se woonplek op ’n afgesonderde tropiese eiland is? Sy het net aangeneem hy bly in die stad soos sy, of miskien in die omtrek of selfs in ’n ander provinsie. Sy het geen rede gehad om te vermoed dat dit nie so is nie.

“Wat makeer, Karlien? Jy lyk skielik … kil.”

“Ek is nie kil nie. Ek is woedend,” erken sy dadelik en probeer nie eens die skyn bewaar nie.

“Waaroor?”

Die blote onskuld waarmee die vraag gestel word, laat haar bloed kook. “Jy het my nooit vertel nie … so baie goed het jy verswyg, doelbewus verswyg. Is ek ook op pad na ’n hut, ’n primitiewe hut waarin nog barbare bly? As jy darem dink dat ek …”

Alle vriendelikheid het van sy gesig af verdwyn. Hy vou sy arms oor sy bors en kyk haar vas aan. “Dan wat?”

Sy staar verslae, magteloos, in sy koue oë terug. Ja, wat dan? Daar is niks wat sy kan doen nie. Sy is oorgelaat aan die genade van hierdie man. Sy doen haar bes om dapper te klink, en hoewel sy uiterlik uitdagend voorkom, bewe sy van ontsteltenis en vrees.

“Wel, ek weier, dis al. Jy het my doelbewus bedrieg. As ek al hierdie dinge vooraf geweet het … Ek sien nie kans nie.”

“Ja?” Toe sy niks verder sê nie, en net haar bewende onderlip vasbyt, vervolg hy ysig: “Jy is my vrou en jy gaan waar ek gaan en jy bly waar ek bly. As jy dink jy gaan my vir die gek hou en jou sommerso uit jou verpligting losdraai, moet jy wéér dink. Dis nie net ek wat voordeel uit hierdie situasie trek nie. Jy ook. Onthou dit, asseblief. Ek het jou nie met ’n geweer gedreig om met my te trou nie. As ek reg onthou, was dit jý wat eerste vir mý gevra het om met jou te trou.”

Ten spyte van die lugreëling is dit of ’n poolwindjie teen haar aanwaai, sodat die rooi wange stadig verbleek.

Hy sien dit dadelik raak en sy lippe sluit grimmig op mekaar. “Ek is jammer,” sê hy styf. “Dit was nie nodig om my humeur te verloor nie. Dit begin nou laat word. Ek het beplan om eers volgende Saterdag terug te gaan, maar nou het dinge so flink ontwikkel … As ek my sake só kan reël en plek kan kry op die vliegtuig, vertrek ons môre na Mahé. Van daar af gaan ons na Praslin, die eiland waar ons sal woon.”

Karlien knik net omdat sy nie haar stem vertrou nie. Donderdag ontmoet, Vrydag getroud en Saterdag sit sy op ’n eiland – een van die Seychelle-groep. Sy kan dit al minder glo; sekerlik is sy besig om te droom.

Sy voel hoe haar hart in haar keel bons toe sy in die motor klim. Julius se stem is baie kalm toe hy sê: “Ek gaan nou my sake reël terwyl jy inpak. Ek sal jou net ná vyfuur by die losieshuis oplaai, dan gaan ons hotel toe.”

Ja-nee, een ding is seker. Al moet sy ook soos ’n aap in ’n boom gaan bly, Julius sal sorg dat sy haar deel van die kontrak nakom.

Ena Murray Keur 11

Подняться наверх