Читать книгу Ena Murray Keur 11 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

Karlien verslaap haar die volgende oggend hopeloos. Sy word deur ’n glimlaggende Sumong met ’n glas vrugtesap verras en daarna spring sy dadelik op, haastig om klein Eden van nader te beskou.

Van Sumong verneem sy via geradbraakte Engels en baie handgebare dat Julius reeds vroegoggend met die jeep weg is – seker op inspeksie deur die plantasies – en tot dusver het hy nog nie weer sy verskyning gemaak nie.

Karlien kan ’n gevoel van teleurstelling nie onderdruk nie. Dit sou net goeie maniere gewees het om vanoggend, haar eerste oggend hier, nie so haastig te verdwyn nie en haar darem eers aan haar nuwe omgewing bekend te stel.

Dan betig sy haarself. Dis geen gewone huwelik dié nie. Dus is dit ook nie nodig dat hy soos ’n verliefde eggenoot optree nie. In sy oë is sy nog ’n blote kind, en kinders hoef nie deur grootmense in ag geneem word nie. Hulle kan hulself vermaak. Miskien, as sy ’n bietjie meer Carroll Day se tipe was, sou hy nie vanoggend so vinnig verdwyn het nie, dink sy bitter toe sy by die stoep afstap.

Net ’n paar treë van die huis af sien sy verskeie afdakke waar rye gehalveerde kokosneute op rakke lê. Daar is baie werkers, beslis van Negerafkoms, aan die werk. Sy kyk gefassineer hoe knaphandig hulle die kokosneute met ’n mes deurkap. Soms is hul bewegings so vinnig, veral dié van die paar vroue, dat Karlien dit skaars met die blote oog kan volg.

“Goeiemôre. Is madame op inspeksie?” hoor sy ’n stem agter haar, en sy draai glimlaggend na Malcolm.

“Môre. Madame staan haar en verkyk.”

Hy knik met sy kop in die rigting van die naaste werker. “Ja, ’n mens kan jou regtig verkyk. Die vroue kan tot drie duisend kokosneute in anderhalf uur oopbreek. Dit wil gedoen wees, hoor?”

“Hoekom word dit so op die rakke gesit?”

“Om droog te word. Die melk word in trôe afgetap en daarmee voer ons ons varke spekvet. Die gedroogde klapper, of kopra soos dit genoem word, word dan na alle dele van die wêreld uitgevoer. Kopra is natuurlik hierdie eilande se vernaamste uitvoerproduk. Ander minder belangrikes is kaneel, soutvis en skilpaddop.”

“Skilpaddop?”

“Ja. Vir ornamentele doeleindes. Stap saam, dan gaan wys ek jou hoe tou vervaardig word uit die dop van die kokosneut. Nie ’n enkele gedeelte van die kokosneut gaan verlore nie.”

’n Rukkie later staan Karlien en kyk hoe vaardige vingers die buitenste harige gedeelte van die kokosneut bewerk. Sy staan haar nog en verwonder, toe Julius sy verskyning maak.

“Goeiemôre. O, ek sien Malcolm is reeds besig om jou ’n bietjie touwys te maak.”

Sy kyk hom effens koel aan. “Ja. Hy het hom darem oor my ontferm.”

Julius se wenkbroue lig en dan laat hy tergend teenoor Malcolm hoor: “Êrens het ek verbrou. Kan jy my miskien sê?”

Malcolm kyk Karlien peinsend aan en sy is dadelik spyt oor haar haastige woorde. Nou kan hy dalk die indruk kry dat sy omgee, en dis tog nie so nie.

“Ek dink jou bruid sou liewer al hierdie nuwighede saam met haar man wou gesien het.”

Julius se tergende glimlaggie verdwyn skielik en hy frons effens. Die verwytende toon in sy vriend se stem het hom nie ontgaan nie. “Ek verstaan.”

“En ’n man groet gewoonlik sy vrou met ’n soen in die oggend … ten minste, die mééste mans.”

Daar is spot in Malcolm se stem en Karlien kry die idee dat hy hul ongemak terdeë geniet. Sou hy snuf in die neus hê? Julius se blik is ook ’n oomblik skerp, ondersoekend op Malcolm gerig. Dan lag hy saggies en trek Karlien nader.

“Jy sal my maar moet reghelp, Malcolm. Ek is nie daaraan gewoond om getroud te wees nie.” Hy kyk af in die koel bruin oë en syne vonkel. “Môre, my vrou,” sê hy sedig en soen die stywe lippies.

Sy bly ontoegeeflik in die kring van sy arm staan. Sedert gisteraand is daar ’n gevoel van styfheid teenoor Julius in haar hart. Hoe sy ook al probeer, sy kan die gevoel van teleurstelling in hom nie ignoreer nie. Dit help ook nie om haarself oor en oor te vertel dat dit niks met haar te make het as Julius op Carroll verlief is nie.

“Julle sal my moet verskoon. Ek sien julle by die huis vir middagete,” sê Malcolm en Karlien is verlig. Sy wil so gou moontlik uit Julius se omarming kom. Maar Julius se arm bly stewig om haar toe hulle aanstap huis toe.

Carroll en Malcolm Day se huis is in dieselfde styl as hulle s’n, maar natuurlik lyk dit baie anders daar as by hulle. Op die oog af word hulle baie vriendelik ontvang en terwyl hulle op die voorstoep sit, gaan die gesprek oor dinge waarvan Karlien niks weet nie. Sy luister maar stil. Soos ’n soet kind wat swyg wanneer grootmense aan die woord is, dink sy suur.

Toe draai Carroll skielik na haar en vra: “Waar het julle twee mekaar nou eintlik ontmoet, Karlien? En wanneer? Ek kan my nie herinner dat Julius ooit van jou gepraat het nie – en ek behoort te weet.”

Karlien voel hoe haar vrugtedrankie oor haar vingers stort en sy kyk angstig na haar man. Dit is dan ook hy wat die vraag beantwoord.

“Ons het mekaar al by ’n vorige geleentheid ontmoet, maar ek het nooit van haar gepraat nie, omdat sy my toe nog nie beïndruk het nie.” Hy glimlag tergend in Karlien se rigting en sy kan haar net verwonder oor sy kalmte. Sy voel so gespanne soos ’n staaldraad. “Maar toe ek haar hierdie keer sien … Sy het intussen grootgeword.”

Malcolm lag goedig. “Nie veel groter nie, wed ek jou. Hoe oud is jy, Karlien?”

“Amper negentien.” Sy wens hulle wil die gesprek verander. Sy haat dit om die middelpunt van al die aandag te wees.

“Moenie die amper vergeet nie, my vriend. Sy is baie gesteld daarop,” sê Julius tergend, en Karlien is sommer lus om hom ’n afjak te gee. Dit lyk voorwaar asof hy die situasie geniet.

“Ek gaan nou opskep. Jy kan saamkom, Karlien.”

Dis nie ’n versoek nie, maar ’n bevel. Hoewel Karlien liewer veilig naby Julius wil bly, weet sy dat sy niks anders kan doen nie as om haar gasvrou te vergesel.

“Ek is bevrees jy is nie baie gewild nie, Karlien,” sê Carroll toe hulle in die kombuis is.

Karlien kyk vinnig op. Dit kan jy weer sê, dink sy, maar swyg eerder. Carroll gaan voort met ’n skynvriendelikheid wat Karlien duidelik aanvoel: “As vriendin wil ek jou net waarsku en ek hoop nie jy dink ek is voorbarig nie.”

Karlien kyk haar net vas aan.

“Jul huwelik was vir ons almal ’n skok, want niemand het ’n benul gehad dat Julius ooit sal trou nie.”

“Hoekom nie? Hy is tog ’n doodnormale man, nie waar nie?”

“Wel, ja, maar … Het Julius jou nie vertel nie?”

“Dit hang af wat jy bedoel, mevrou.” Karlien is doelbewus formeel. Sy wil eintlik nie hoor wat hierdie vrou te vertel het nie. Dis of sy intuïtief wegskram, maar daar is niks wat sy kan doen om dit te verhoed nie, behalwe om Carroll af te jak, wat nie verstandig sal wees nie. Maak liewer ’n vriendin as ’n vyand van hierdie vrou, het Karlien reeds besluit.

“Ek praat van die feit dat Julius al jare lank op my verlief is. Dis nie nodig om so geskok te lyk nie. Die hele Seychelle ken die geskiedenis. Ek en Malcolm het mekaar in Maputo – die destydse Lourenço Marques – ontmoet. Ons is sommer gou getroud en het hierheen gekom. Toe het ek Julius ontmoet en besef dat ek ’n fout gemaak het. Dit was egter te laat. Ek was reeds getroud en omdat Julius my man se beste vriend is, sou Julius van sy kant af niks doen nie. Ek kon ook nie, want Malcolm is ’n swakkeling wat ten gronde sal gaan as ek van hom skei.”

Haar blik rus skerp op Karlien se weggekeerde gesig. “Ek is jammer as ek jou ontstel het, maar … jy is ’n bietjie jonk vir Julius, nie waar nie, Karlien?”

Karlien druk haar ken uit. “Ek is jonk, mevrou, maar nie te jonk om ’n vrou te wees nie.” Sy dwing haarself om die blou oë waterpas te ontmoet. “En dis geskiedenis wat jy my vertel het. Dis dinge van die verlede daardie. Julius is nou getroud met my en jy … het jou eie man.”

Die twee vroue kyk mekaar vas aan. ’n Oomblik is die harde trek weer op die beeldskone gesig van Carroll Day. Dan glimlag sy met ’n aangeplakte weemoedigheid.

“Ek wil nie van jou ’n vyand maak nie, Karlien. Ek wil jou help. Jy lyk so … hulpeloos. Ek wou maar net die ware situasie vir jou skets, dis al. En jou laat verstaan dat Julius se geluk my baie na aan die hart lê en dat ek enigiets sal doen om hom gelukkig te maak. Wat ek jou eintlik wou vertel, is dat jy maar versigtig moet wees vir Daphne Roderick. Sy probeer al jare lank om Julius vas te pen en jou verskyning was ’n onaangename skok vir haar. Bly maar liewer van haar af weg.”

“Dankie. Dis vriendelik van jou om my te waarsku. Kan ek maar hierdie skottel inneem?”

Karlien is stil gedurende die ete, maar niemand kom dit agter nie, want sy was nog die hele tyd nie spraaksaam nie. Sy is dankbaar toe Julius eindelik sê dat hulle nou regtig moet gaan. Hy dra vir Essie toe hulle terugstap huis toe.

“Wat makeer, Karlien? Is jy regtig so kwaad vir my omdat ek vanoggend vroeg verdwyn het? Ek is jammer. Ek het nie gedink jy sou omgee nie.” Hy vat onverwags haar hand.

“Natuurlik gee ek nie om nie,” sê sy heftig en wil haar hand uit syne trek, maar sy greep verslap nie. “Jy kan maar los. Daar is niemand wat ons nou sien nie.”

Hy kyk vererg na haar. “Jy is omtrent in ’n onaangename luim vandag. Het Carroll jou iets vertel wat jou so vyandig maak?”

Die bruin oë flits op na hom. “Is daar dan iets wat sy my kon vertel het?” vra sy uit die hoogte, en nou laat hy haar hand los asof dit ’n slang is wat hom kan pik – ’n onheilspellende frons op sy gesig.

“Moet my nie met ’n teenvraag antwoord nie, Karlien. Sy hét iets gesê! Uit daarmee. Julle het my bespreek, nie waar nie?”

“Jy dink baie van jouself, nè, Julius?”

Eerlike verbasing flits oor sy gesig. Hy is nie gewoond daaraan dat Karlien hom troef nie. In Suid-Afrika het sy ge-ja en ge-amen op alles, maar sedert hulle die Seychelle bereik het, het daar skielik ’n verandering ingetree. Sy is glad nie meer so maklik hanteerbaar nie. Sy het van ’n soet, gedienstige kind in ’n baie parmantige meisie verander – en dit oornag!

Sy mond trek teësinnig in ’n geamuseerde glimlag. Alles gebeur vinniger in die trope, lui die ou gesegde. Dis seker ook van toepassing op die jong Karlien. Maar sy moet darem nie dink dat hy daarmee gediend sal wees nie.

“Ek dink jy begin jou glad te veel aanmatig, my jonge Karlien. Wat Carroll jou ook al vertel het – vergeet daarvan. Jy het in elk geval geen belang daarby nie, en sal dit ook nie verstaan nie, al verduidelik ek dit ook aan jou. Jy weet niks van die grootmenswêreld af nie.”

Sy vang haar onderlip verbete vas. “Ek is groot genoeg om te weet van beginsels en eergevoel en selfrespek en … lojaliteit teenoor ’n vriend. Maar dit is blykbaar nie deel van die grootmenswêreld nie,” sê sy dan so afsydig en kil soos hy haar nog nooit gehoor het nie.

Hy gaan staan verbaas en sy is verplig om ook tot stilstand te kom. Hy is nou duidelik kwaad. “Jou toon en jou woorde staan my glad nie aan nie! Wat presies bedoel jy? Dat ek geen beginsels of selfrespek of eergevoel of lojaliteit in my het nie?”

Karlien byt verskrik op haar onderlip. Sy voel klaar spyt dat sy weer toegelaat het dat haar tong met haar weghardloop. Sy het eintlik geen rede om Julius te veroordeel nie; net kwaadwillige praatjies en insinuasies van ’n slinkse vrou.

Sy stem is soos ’n poolwind bokant haar kop toe hy ná ’n lang swye vervolg: “So? Nou het jy skielik niks te sê nie? Laat ons twee mekaar goed verstaan, Karlien. Jy is hier as my vrou. Daarvoor sal ek jou ná ses maande vergoed. En daarmee basta. Ek wil geen inmengery in my persoonlike sake hê nie. En hou asseblief jou mening vir jouself totdat jy eendag groot is. Jy is op jou ouderdom nie in staat om ’n oordeel te vel nie.”

Sy lig haar kop en kyk hom uitdagend in die oë. Maar die woorde wat na haar lippe kom, skok net daar tot stilstand. Die besef skiet deur haar: ek is nie opgewasse teen hierdie man nie. Ek moet liewer stilbly. Tot dusver was Julius nog altyd vriendelik en gaaf, en hoewel hy soms optree asof sy tien jaar oud is, kan sy nie oor sy gedrag teenoor haar kla nie.

Maar nou, sy oë so hard soos graniet, sy gesig ’n masker van strengheid, die kake asof uit marmer gekap, is sy seker dat hy gelyk het. Sy weet niks van die wêreld waarin Julius Schreider tot dusver beweeg en gelewe het nie. Sy weet niks van hom af nie en hoe minder sy van hom en sy persoonlike lewe af weet, hoe beter. Sy het nie nodig om emosioneel betrokke te raak by enige inwoner op klein Eden nie. Sy is ’n vreemdeling hier.

“Hoe lyk dit my Adam en Eva het hul eerste rusie?” klink ’n stem kort agter hulle op en hulle swaai effens verskrik om.

Carroll staan hulle geamuseer en beskou. Sy stap stadig nader, ’n lui, tergende glimlag om die rooi lippe. “Het ek op ’n ongeleë oomblik verskyn? Ek is jammer.”

“Moenie verspot wees nie, Carroll. Waaroor sal ek en Karlien nou stry?”

Die blou oë flits vinnig na Karlien se gesig wat sy met die beste wil ter wêreld nie ongeërg kan hou nie. Julius is beslis ’n beter toneelspeler as sy.

“Ek wonder self. Waaroor sal julle baklei … en so gou?”

Maar Karlien is seker dat Carroll kan raai dat sy self die middelpunt van die woordewisseling was. Haar oë glinster nie verniet so ingenome nie. Karlien wens dat sy net ’n bietjie meer ervare en ouer was, sodat sy nou die regte woorde kon vind om die vrou op haar plek te sit. Maar sy het nog nooit nodig gehad om haar man teen ’n listige vrou te staan nie.

Daarom staan sy nou stilswyend totdat Julius sê: “Ek wil inspeksie gaan doen by La Digue. Ek sal terug wees vir aandete.” Karlien knik net en hy draai na Carroll. “Het jy lus om saam te ry?”

“Natuurlik!” Sy haak by hom in en vra stroperig: “Wil jy nie ook saamkom nie, Karlien?”

“Nee, dankie. Ek moet na Essie omsien.” Sy wil omdraai, maar Julius se hand skiet uit en gryp haar pols vas.

“Nie so haastig nie, skat. Groet jy my dan nie?” Daar is ’n harde glinstering in sy oë en ook ’n waarskuwende lig. Hoewel sy liewer lus voel om hom in sy peetjie te stuur, kan sy niks anders doen as om haar lippe op te lig na syne nie. Maar soos netnou voor Malcolm, is hulle styf en strak.

Carroll se laggie klink irriterend op. “Ag, nee, Julius! Jy sal haar darem moet leer soen!”

Karlien raak so rooi soos beet, maar skielik blits die bruin oë gevaarlik. Kyk, hierdie vroumens moet darem nie aanhou karring nie! Sy kyk die ander vrou vas aan. “Ek is nie van die vertonerige soort nie, mevrou. Dit kan wag tot wanneer ons alleen is.” Haar blik gaan koel, uitdagend na Julius. “Tot dusver het jy nog geen klagtes nie, of het jy … my skat?”

Julius se mondhoeke trek effens, maar sy antwoord klink heeltemal ernstig en oortuigend. “Glad nie, vroutjie. Glad nie.”

Karlien stap dadelik weg en die twee mense kyk haar ’n oomblik agterna. Dan begin hulle aanstap in die rigting van die baaitjie waar ’n motorboot gereed lê.

Langs Julius laat Carroll geamuseer hoor: “Nie een van julle twee is juis goeie toneelspelers nie, Julius. Miskien sal julle oortuigender wees as julle nie so hard probeer nie.”

Hy antwoord haar nie dadelik nie, maar toe hulle by die vasgemeerde boot tot stilstand kom, draai hy direk na haar. “Probeer jy insinueer dat ek en Karlien nie getroud is nie?”

Daar is iets in sy stemtoon wat haar waarsku, maar Carroll kyk hom onbesorg aan, seker van haarself. “Nee, glad nie. Daarvoor ken ek jou te goed. Wettig is julle seker getroud. Maar verder … verder is julle so duidelik ongetroud dat ’n blinde mens dit met ’n stok sal aanvoel.” Haar oë kyk uitdagend in syne. Dan vervolg sy sag, half verwytend: “Hoekom het jy so ’n dwase ding gaan doen, Julius? Daar was tog nooit geheime tussen ons in die verlede nie. Liewe hemel, jy kon ons met ’n veer omslaan! Selfs nie eens Malcolm …”

“Malcolm het geweet. Hy het dit blykbaar net nie ernstig opgeneem nie.”

Haar oë rek geskok. “Jy bedoel … jy het vir Malcolm vertel en nie vir my nie? Julius, hoe kon jy? Jy weet tog hoe na aan my hart jou belange, jou geluk, vir my lê. En dit was so onnodig! Oor ses maande …”

Carroll is skielik weer die hulpelose mensie wat mansmense om haar pinkie kan draai. Ook hierdie keer het dit die gewenste uitwerking. Die groot blou oë swem meteens in trane en die gesig is pateties, pleitend na hom opgehef. Dadelik versag die strak lyne op sy gesig en sy arm gaan vertroostend om haar skouers.

“Die feit dat ek getroud is, behoort tog geen verskil te maak nie. Alles bly net soos dit was …”

“Nee, Julius. Dis tog nie dieselfde nie. Ek het so op jou gesteun, so gewoond geraak om op jou te leun, dat ek dit net nie kan aanvaar dat jy nou ’n vrou het nie. Ek is so hulpeloos sonder jou, Julius. Moenie my nou wegstoot nie, asseblief. Ek sal nie kan … volhou met die toneelspel nie.”

“Stadig, Carroll. Natuurlik is ek nie van plan om jou nou te verstoot nie. Hoekom sal ek? Dit het tog niks met Karlien te doen nie. Hierdie ding staan los van my huwelik. Alles is nog presies soos voorheen … voordat Karlien op die toneel verskyn het.” Hy druk haar effens weg en sy staan onwillig ’n tree terug. “Daar is net een ding wat jy moet onthou – wat ek van jou eis, Carroll. Karlien is nog baie jonk. Ek wil haar nie by hierdie saak insleep nie. Ek verwag van jou dat jy haar as my vrou sal respekteer. Het jy gisteraand vir haar iets gesê wat haar ontstel het?”

Carroll se oë is onskuldig. “Nie waarvan ek kan onthou nie. Ek het haar maar net vertel watter groot vriende ons al die jare was en dat ek hoop sy sal sommer baie gelukkig hier by ons wees. Het sy … iets vir jou gesê?”

“Nee, maar sy was ontsteld oor iets. Ag, laat dit daar. Dit kan nie so belangrik wees nie. Miskien was sy maar net moeg. Dit was ’n lang reis en sy sal ook eers aan die tropiese hitte gewoond moet raak. Tot siens, Carroll.”

“Ek is saamgenooi, sover ek kan onthou.”

Hy skud sy kop. “Ek wou met jou praat. Daarom het ek jou saamgenooi, maar ek dink nie daar is iets meer te sê nie. Wat ek wou sê, het ek gesê.”

Carroll se oë vernou en sy staan terug. Sy wuif met ’n glimlag toe hy vertrek, maar die blou oë is hard. Jy mag jou laaste sê gesê het, Julius Schreider, maar ek het nog lank nie klaar gepraat nie, dink sy toe sy omdraai.

In die huis laat Karlien vinnig die blinding terugskuif en kan nie verstaan hoekom sy so verlig voel toe sy sien dat Julius alleen vertrek nie.

Sy voel skaam oor haar gedrag. Dis nie haar gewoonte om mense af te loer nie, maar sy kon die versoeking net nie weerstaan om hulle dop te hou nie. Sy is nog nie eens behoorlik ’n dag op hierdie eiland nie, en sy begin reeds dinge doen wat nie met haar karakter strook nie. Wat makeer haar? Dis of sy skielik, vandat sy op die Seychelle aangekom het, begin ontaard het. En wat maak dit saak as Julius sy arm om Carroll sit? Hulle is ou vriende, goeie ou vriende, vertel sy haarself.

Toe daar ’n ligte voetval op die stoep opklink, moet sy die begeerte onderdruk om by die agterdeur uit te vlug. Sy is beslis nie nou lus vir ’n tête-à-tête met Carroll Day nie. Maar sy weet ook dat sy dit nie vir ewig kan vermy nie, en daarom stap sy nou haar onwelkome gas tegemoet en hoop maar dat sy uiterlik kalm vertoon.

“Julius het aangehou ek moet saamgaan, maar ek het gevoel dat dit miskien nie die regte ding is noudat hy … getroud is nie. Ek weet nie hoe jaloers jy is nie,” verduidelik Carroll ligweg terwyl sy haar ongenooid in ’n stoel neervly.

Karlien neem ook plaas en laat ongeërg hoor: “Jy kon maar gerus saamgegaan het, mevrou. Ek is nie jaloers nie.”

Carroll se oë is openlik spottend. “Is jy nie?”

Karlien kyk kalm terug terwyl haar hart tamboer teen haar ribbes speel. Kalm bly, Karlien. Moenie dat sy daarin slaag om jou uit te lok nie. “Nee, ek vertrou my man.”

Carroll se hartlike lag klingel met die stoep langs. “O, werklik, Karlien! Hoe naïef! Maar jy sal nog agterkom dat ’n mens hier in die trope geen man kan vertrou nie.”

Karlien kyk haar met opgetrekte wenkbroue aan. “Wat het die trope nou juis daarmee te doen?”

“Omdat alles hier nader aan die oppervlak is, alles groter en sterker is as op die res van die aardbol. Die skilletjie vernis dop maar gou af in die gloed van die ewenaarson. Die mens se primitiewe emosies, die dierlike drange, beur hier gouer na bo; is hier sterker, meer onbeheerbaar as in die res van die wêreld. Miskien sal jy nie nou verstaan waarvan ek praat nie. Nee, ek dink nie jy sal nie. Jy is nog ’n bietjie jonk vir Eden.”

Karlien kyk onverskrokke terug in die spottende oë. “In daardie geval hoop ek dat ek te jonk bly, want die Eden wat jy nou skilder, is nie mooi nie.”

“Miskien nie mooi nie, maar … baie interessant, Karlien. En juis vanweë die verbode vrug wat daarin groei. Het Julius jou al daarvan vertel?”

“Nee. Jou man het.”

Carroll lag kortaf. Daar is minagting in die geluid, en Karlien voel ’n innige jammerte vir Malcolm Day in haar hart. Sou hy weet watter soort vrou Carroll regtig is?

Op daardie oomblik huil klein Essie en Karlien voel skoon verlig. Tot haar ontsteltenis volg Carroll haar egter en terwyl Karlien met die kleintjie werk, staan sy stilswyend en toekyk. Haar blik rus lank op die tweede bed in die kamer wat so duidelik nie in gebruik is nie.

“Ek stap eers weer, Karlien. Kom gerus oor en gesels ’n bietjie wanneer jy so voel.”

“Dankie. Maar wil jy nie eers iets drink nie? ’n Koue drankie of so iets?”

“Nee, dankie. Ek moet nou gaan. Ek … weet nou wat ek wou weet.”

Karlien kom fronsend orent. Wat sou sy bedoel? Dan volg sy die ander se blik na die tweede bed en skielik weet sy. Sy verbleek effens en waar sy die krag vandaan kry om onverskrokke en trots terug te kyk, weet sy nie.

Met ’n sagte laggie verlaat Carroll die kamer en Karlien voel hoe haar naels in haar handpalms vreet. Daardie vroumens … Daardie slang!

Karlien byt weer haar onderlip vas. Blykbaar het Julius vir Carroll nie in sy vertroue geneem oor die ware toedrag van sake nie. Sy kou peinsend aan haar onderlip. Het die situasie te delikaat begin word en is dit daarom dat Julius met haar getrou het? Het hierdie geheime verhouding vir Julius onhanteerbaar geword en wil hy hom nou deur ’n skynhuwelik daaruit loswikkel? Het hy gedink dat hy, deur ’n vrou saam te bring na Praslin, ’n demper op Carroll Day se planne sal kan plaas?

Haar blik dwaal na buite waar die tropiese natuurskoon soos ’n meesterskildery in die vensterraam lê. Dit is voorwaar ’n klein paradys, maar … dis nie ’n egte Eden nie. En dis die bewoners van Eden wat dit vals maak.

Karlien voel vrees in haar binneste roer. Carroll Day was in die kol. Sy ken nie bedrog en dierlike hartstog, skynheiligheid en valsheid nie. Sy is ’n vreemdeling hier … En sy wil hul Eden nie van nader leer ken nie.

Maar reeds is sy besig om kennis te maak daarmee, deel daarvan te word. Reeds begin sy vreemde emosies, tot dusver aan haar totaal onbekend, ervaar. Reeds begin sy leer om te haat, die eerste stekies van jaloesie ervaar. Sy begin dinge doen wat vreemd aan haar aard is; dinge dink wat haar nie tot eer strek nie.

Hoe het Carroll gesê? Die dun lagie vernis dop vinnig af in die gloed van die ewenaarson. Ná net een dag begin sy swak plekkies in haar vernislagie opmerk, plekkies wat al groter sal word totdat dit die rou oppervlak blootstel.

En Karlien is skielik bang … bang vir hierdie Eden waarin sy beland het.

Toe Julius laat die middag tuis kom, doen Karlien haar bes om vriendelik en gewoon teenoor hom op te tree. Sy het haarself oor en oor verseker dat sy hom beslis nie weer die kans sal gee om haar daarvan te beskuldig dat sy haar inmeng nie. Sy is ’n vreemdeling hier en dít, het sy vasberade besluit, sal sy bly. Kom wat wil, laat Carroll Day sê en insinueer wat sy wil, laat Julius doen wat hy wil, dit gaan haar nie skeel nie. Oor ses maande is sy weg. Sy is net ses maande lank ’n getroude vrou – teen ’n goeie vergoeding. Dis al.

“Ek gaan netnou ’n bietjie deur die plantasies ry – het jy lus om saam te kom?” nooi hy vriendelik, sy onweersluim van vanoggend gesak.

“Ek sal graag wil gaan, maar wat van Essie?”

“Ek sal vir Sumong vra of sy vrou nie ’n ogie oor haar kan hou nie. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Sumong is die trotse pa van agt kleingoed; Alina sal wel weet wat om te doen as die kleintjie lastig word.”

Karlien gaan met ’n geruste hart saam met Julius en geniet dit terdeë. Bokant hulle troon die kokosneutplantasies en onder groei die wilde trope in al sy weelde.

Op pad kom hulle Malcolm teë tussen ’n klomp werkers waar hulle kokosneute pluk. Julius hou stil. Albei mans is in kort kakiebroeke en -hemde geklee, met breërandhoede op hul koppe. Malcolm kom glimlaggend nader en sy blik rus vriendelik op Karlien. Sy glimlag breed terug. Sy hou van hierdie man. Daar is niks agterbaks en vals in hom nie. Tot dusver was hy ook die enigste mens hier op Praslin wat haar nie soos ’n vreemdeling laat voel het nie.

Op sy beurt dwaal Malcolm se blik vlugtig oor sy vriend se vrou en weer voel hy die ongeloof in hom opstoot. Liewe land, sy is darem jonk! Miskien nie so erg in jare nie, maar die uiterlike voorkoms, die onskuld in die bruin oë, laat ’n mens dink dat sy nog jonger as haar amper negentien is. Karlien het ’n T-hemp en kortbroek aan, met fleurige sandale. Haar lang hare is in ’n los vlegsel saamgevat en vasgebind met ’n serp vol kleurspatsels. Soos sy daar langs Julius sit, die gesiggie blink en sonder grimering, lyk sy kompleet soos ’n tiener.

“Hoe gaan dit hier?” vra Julius en Malcolm knik terwyl hy sy hoed agtertoe skuif.

“Heeltemal goed. Waarheen is julle op pad?”

“Ek wil vir Karlien die coco de mer gaan wys.”

“O!” Hy draai na Karlien. “Die verbode vrug! Is dit wenslik, my vriend?”

“Wat bedoel jy?” vra Julius ietwat verward.

“Hulle sê mos as ’n mens eers een keer die verbode vrug geproe het, kan jy nie daarvan wegbly nie.”

Karlien glimlag vir sy grappie, maar Julius vind dit blykbaar nie snaaks nie. Hy het skielik ’n ergerlike frons tussen sy wenkbroue.

“Moenie verspot wees nie, Malcolm!”

Karlien glimlag ekstra vriendelik om te vergoed vir Julius se kortaf houding. “Ek dink nie daar is eintlik gevaar nie, Malcolm. Ek beloof ek sal net kyk, nie proe nie!”

Malcolm gooi sy kop agteroor en lag hartlik. Dan trek hy plaend aan haar vlegsel. “Ek begin so stadigaan agterkom hoekom Julius met jou getrou het, meisietjie.”

Julius se stem is uitermate koel. “So?”

Maar Malcolm skud sy kop, sy blik nog steeds op Karlien. “Lyk my jy ken self nog nie die rede nie, my vriend. Tot wederom. Dit begin nou laat raak.”

Karlien waai vriendelik toe hulle vertrek, maar Julius se oë is strak op die nou paadjie gerig.

“Jy en Malcolm kom blykbaar baie goed klaar,” merk hy styf op. “Julle het mekaar blykbaar sommer uit die staanspoor gevind.”

Karlien kyk hom fronsend aan. Aangesien Malcolm sy boesemvriend is, behoort hy mos bly te wees dat sy vrou goed met hom oor die weg kom. Maar blykbaar staan dit hom nie aan nie. Sy sug. Julius Schreider is beslis ’n komplekse wese en sy sal, met haar gebrekkige mensekennis en lewenservaring, nie eens probeer om hom te peil nie. Sy is beslis ook minder vriendelik toe sy antwoord: “Ek hou baie van Malcolm. Hy is ’n gawe man.”

Sy is intens bewus van Julius se blik op haar, maar fokus doelbewus op die omgewing. Dink daarvan net wat jy wil, Julius Schreider, sê sy in haar hart. Jy moet darem nie dink ek gaan my deur jou laat voorskryf van wie ek moet hou en van wie nie. Jy het ’n stuk papier gekoop, nie vir my nie.

Toe die jeep skielik tot stilstand kom, vra sy verbaas: “En nou?”

“Die pad eindig hier. Ons gaan te voet verder. Kom.”

Karlien gehoorsaam. Julius stap voor en hy moet varings, boomvarings en tropiese slingerplante wat soos ’n gordyn bokant hul koppe hang telkens met geweld voor hulle wegvee sodat hulle kan deurkom. Die klam grond onder hul voete is begroei van die mos en net hier en daar kom ’n sonstraal deur die blaredak en verlig die groen hart van die oerwoud. Dis alles ’n bietjie oorweldigend, dink sy. Sy het nie geweet dat daar nog sulke plekke op die aarde bestaan nie. Dis werklik asof sy haar in ’n hoekie van die oorspronklike Paradys bevind. Dan staan Julius opsy en laat haar tot langs hom kom.

Hy wys met ’n vinger na die groot, groen vrugte wat onder die groot waaiervormige blare teenaan die stamme sit. “’n Vollengte coco de mer, wat ook die vrug se naam is, weeg omtrent agtien kilogram. Dit neem sewe jaar om ryp te word.”

“Maar hoekom word dit nou juis die verbode vrug genoem?”

“In die Middeleeue was die oorsprong van hierdie vrug – wat, terloops, die grootste boomvrug in die wêreld is – in die grootste geheimsinnigheid gehul. Soos die vrugte ryp geword het, het hulle in die see beland en op vreemde, verre strande gaan uitspoel. Niemand het geweet waar hulle vandaan kom nie. As gevolg van die misterie wat hierdie vrug omgewe het, het allerhande gelowe en bygelowe daaromheen ontstaan. Prinse en hooggeplaastes het fantastiese pryse daarvoor betaal. Die binneste jelliedeel is beskou as ’n baie sterk liefdesnektar. Toe die eiland egter ontdek is, en daarmee ook die oorsprong van die coco de mer, is die geheim opgeklaar. Tog bly die coco de mer, die verbode vrug van Eden, iets besonders.”

Hy sê dit spottend en sy kyk vinnig weg. Bokant hul koppe is daar skielik ’n gekras en hy wys met sy vinger.

“Daar! Sien jy hom? Dis die swart papegaai van Praslin. Ook die enigste plek op aarde waar jy hom inheems aantref.”

“Dit lyk my hierdie eiland is iets besonders. Hoekom sal nou juis net op hierdie stukkie aarde ’n boom en ’n vrug groei wat jy nêrens anders in die wêreld aantref nie? En nou het dit ook sy eie spesiale soort voël wat nêrens anders op die aarde gevind word nie. Eienaardig, nè …?”

Julius knik. “Dit het al baie geleerdes laat kopkrap en die geheim is tot vandag toe nog nie opgelos nie. Gordon het vas geglo dat Praslin ’n stukkie van die oorspronklike Paradys is wat oorgebly het.” Sy blik dwaal oor die reuse voor hom.

“Aan wie behoort die vrugte nou eintlik?”

“Aan die regering. Ons maatskappy se grond eindig waar die jeep staan. Ons moet liewer nou terugdraai. Dis reeds laat.”

Met hul terugkeer by die huis, sit Daphne en John Roderick hulle op die stoep en inwag. Terwyl hulle nog buite hoorafstand is, sê Julius half binnensmonds: “Hulle sal seker by ons oornag. Dis reeds te laat om terug te gaan na Mahé. Wonder wat kom soek hulle hier?”

Karlien kyk vinnig na hom. Hy klink beslis nie baie bly om Daphne Roderick te sien nie, en dit troos darem ’n bietjie. Dan kom sy tot stilstand en kyk hom ontsteld aan. “Maar … hoe gaan ons slaap? Daar is net een spaarkamer!”

Hy glimlag skeef. “Teen wil en dank sal jy vanaand jou kamer met my moet deel.” Hy sien haar oë rek, en vervolg gedemp: “Jy sal verplig wees om my te vertrou. Onthou … die verbode vrug is net eetbaar wanneer dit ryp is … en jy is nog te jonk, kindjie!”

Die bruin oë blits hoewel daar ’n breë glimlag om haar lippe speel ter wille van die toeskouers. “Natuurlik is ek nie bevrees nie, nie terwyl daar genoeg ryp – of selfs oorryp – verbode vrugte in jou tuin van Eden groei nie.”

Die hoeveelste keer daardie dag kyk hy haar verras aan. Dan gooi hy skielik sy kop agteroor, lag hartlik en slaan terselfdertyd sy arm om die niksvermoedende Karlien.

“Miaau!” sê hy saggies in haar oor en dan is hulle by die stoep.

John Roderick kom met ’n breë glimlag nader. Daphne sit hulle fyn en bestudeer. Karlien voel dadelik weer hoe die spanning in haar oplaai. Dis byna onmoontlik om ’n verliefde vrou ’n rat voor die oë te draai. Wat het Daphne Roderick so gou hier kom soek? Het sy ook haar agterdog oor Julius se huwelik en het sy gekom om seker te maak of haar agterdog gegrond is? Karlien byt op haar onderlip. Een ding is seker. Sy gaan daardie vergoeding verdien. Dis nie altemit nie!

Sy kyk op in John Roderick se gesig en voel intuïtief aan, soos met Malcolm, dat hier iemand is vir wie sy nie in haar pasoppens hoef te wees nie. “Dis ’n verrassing, John,” sê sy daarom spontaan.

“Ja. Ek het vir Julius vorms gebring wat ek hom beloof het.”

“O? Dankie! Dit was nie so dringend nie, maar … gaaf van jou. Welkom, Daphne. Julle bly natuurlik vannag oor.”

Daphne glimlag effens in haar broer se rigting en knik. “Dankie, Julius. John het gehoop jy sal ons nooi.” Sy lag toe haar broer haar verwytend aankyk. “Hy wou homself kom vergewis dat hy gister reg gekyk het.”

Julius kyk vraend na die jonger man, maar dis weer sy suster wat laggend antwoord: “Jou vroutjie het blykbaar ’n baie diep indruk op my kleinboet gemaak. Jy sal moet oppas, Julius!”

John raak bloedrooi en sy stem klink vererg. “Daphne praat twak. Moet julle nie aan haar steur nie. Jy het ook nie veel oorreding nodig gehad om saam te kom nie, of wat sê jy, my liewe ousus?”

Daphne se glimlag verstar en dis Julius wat vinnig tussenbeide tree.

“Wat die redes ook al is, ons is bly om julle te sien. Hoe lyk dit, my skat? Is daar iets koels in die yskas?”

“Natuurlik.” Karlien is bly om van die geselskap te ontsnap. “Ek gaan gou iets haal.”

“Ek sal saamkom en help dra.” John volg sonder toestemming. In die kombuis sê hy huiwerig: “Jy moet jou nie aan my suster se praatjies steur nie, mevrou. Sy is eintlik ’n baie gawe mens. Ek weet nie wat haar deesdae makeer nie. Sy kan soms sulke onsinnige, selfs bitter dinge kwytraak.”

Karlien kyk op. Ja, John sal nie verstaan nie, maar sy wat ook ’n vrou is, kan begryp. Ja, sy kan begryp hoekom Daphne Roderick soms bitter raak …

“Jy maak ’n berg van ’n molshoop. En noem my asseblief Karlien. Jy laat my stokoud voel met jou gemevrouery en ek is seker ek is jonger as jy.”

Hy glimlag verlig en sy oë is openlik bewonderend. Gelukkig sien Karlien dit nie, want sy is besig om in die yskas rond te vroetel.

“Dankie, Karlien. Mag, jy is darem die beste ding wat in jare met die Seychelle gebeur het!”

Sy kyk verbaas op. “Wat praat jy?”

Hy glimlag breed, ingenome. “Dis lekker om iemand van my ouderdom te hê om mee te gesels. Die ander ou klomp is so oud en …” Hy bly verleë stil toe haar hartlike lag opklink. “Ek is jammer. Ek het nie bedoel om … ek bedoel, Julius is darem nie … ek meen …”

Sy skud haar kop en skater van die lag. “Laat maar staan, John. Jy maak dit al erger! En jy moet liewer nie dat die ander ou klomp jou só hoor praat nie. Hulle hang jou sowaar nog aan ’n coco de mer op!”

Buite op die stoep verstil die geselskap ’n oomblik toe Karlien se hartlike lag die tweede keer opklink. Daar is skielik ’n diep frons tussen Julius se wenkbroue asof die geluid hom nie aanstaan nie. Op Daphne Roderick se gesig verskyn ’n tevrede glimlaggie.

“Jy sal vir Karlien en John moet gaan sê hulle moet nog glase bring, Julius. Hier kom Malcolm en Carroll ook aan.”

Ena Murray Keur 11

Подняться наверх