Читать книгу Ena Murray Keur 11 - Ena Murray - Страница 5

2

Оглавление

Karlien pak amper koorsagtig in. Die nuuskierige oë van die losieshuismense ontsenu haar. Sy is behoorlik bly toe Julius tien oor vyf aan haar deur klop. Met Essie rustig in haar arms maak sy die deur oop.

“Ek het plek gekry op die vliegtuig – alles is gereël. As jy gereed is, kan ons maar ry,” sê hy. Daar is nog ’n styfheid in sy stem, maar hy het blykbaar besluit om ’n vriendskapsfront voor te hou. Sy speel gewillig saam, want vir nog ’n konfrontasie het sy nie krag nie. Dis so goed of jy loop jou teen ’n muur vas. Geen redenasie gaan ’n jota of tittel aan die omstandighede verander nie. Sy is vas.

Hy laai haar paar tasse in die motor en nou besef sy eers hoe karig haar aardse besittings is. Asof hy haar gedagtes kan lees, sê hy: “Ons moet môreoggend vroeg vir jou gaan klere koop. Die klimaat op die Seychelle vra die regte soort klere.”

Karlien knik stom en dit is stil in die motor tot by die hotel. Sy keer net betyds ’n uitroep van bewondering toe hulle voor die hotel stilhou. Van sulke plekke het sy nog net gehoor. Julius sê sy moet vir hom wag totdat hy met die hoteljoggie kom om die bagasie te kry.

Toe die hoteljoggie haar bagasie in die luukse kamer neersit, knik hy in haar en Julius se rigting. “Ek hoop julle sal gerieflik wees.”

Karlien verseker hom haastig dat alles in orde is, en toe hy wegstap, draai sy haar kop vinnig weg van Julius se ondersoekende blik. Maar sy word nie gespaar nie. Hy het blykbaar die kuns ontdek om haar gedagtes te lees.

“Jy het niks te vrese nie, Karlien. Hoeveel keer moet ek dit nog vir jou sê? Jy en Essie is alleen in die kamer. Niemand sal julle steur nie.”

Sy kyk hom ongemaklik aan en verwens haarself dat sy so maklik bloos. “Maar wat van jou? Waar slaap jy?”

Sy wenkbroue lig en sy oë lag haar uit. “In my eie kamer, natuurlik! Tensy jy graag wil hê dat ek …”

Haar oë fladder verbouereerd en die geamuseerdheid in die ligblou oë verdiep. “Nee! Nee, natuurlik nie,” sê sy vinnig, te vinnig, en nou lag hy hardop.

“Toemaar, bedaar! Jy is darem nog ’n kind, Karlien! Ek kan die versoeking nie weerstaan om jou te terg nie. Maar al was die omstandighede ook so dat ek vanaand die kamer met jou moes deel, sou dit nog geen verskil gemaak het nie.”

Hy plaas skielik sy hand onder haar ken sodat sy verplig is om in sy oë te kyk. Sy blik versag toe hy op die blosende gesig en skugter oë in die omraming van sy hand afkyk.

“Jy is heeltemal veilig, Karlien. Ek is nie van plan om eise aan jou te stel nie.”

Hulle het hierdie delikate onderwerp nog nooit so openlik bespreek nie en hy voel hoe sy intuïtief terugtrek, maar hy weier om haar te laat gaan.

“Ek het jou nie met voorbedagte rade in die duister gehou, soos jy dink nie. Daar was net nie tyd om op die besonderhede in te gaan nie. Moenie bekommerd wees nie. Gaan bad nou lekker – ek kom jou so halfagt haal vir aandete. Ek het met die hotelpersoneel gereël dat hulle iemand stuur om na Essie om te sien terwyl ons eet.”

Karlien verstom haar aan die weelde van haar kamer. Sy voel soos ’n koningin, soos ’n beroemde filmster. Toe sy uit die bad klim, staan sy lank voor haar tas. Eintlik het sy nie ’n enkele rok wat deftig genoeg is vir hierdie plek nie. Sy kan tog nie weer haar troupakkie aantrek nie! Dan maar ’n romp en ’n bloes; dis die beste waaraan sy kan dink – die beste wat sy het.

Toe Julius haar kom haal, glimlag hy haar bemoedigend toe. Hy het seker gesien hoe ongemaklik sy voel.

In die groot restaurant heers ’n gesellige atmosfeer. Karlien sê sy sal neem wat Julius bestel. Net toe klink ’n joviale groet op en ’n middeljarige man klop Julius op die skouer.

Julius is opreg bly om sy vriend te sien en nooi hom om by hulle aan te sluit.

Pierre Dupré, bestuurder van een van die kopraplantasies op die Seychelle, is totaal van stryk toe Julius vir Karlien voorstel as sy vrou.

Om Julius, die geswore oujongkêrel van die Seychelle, te hoor sê dat iemand sy vrou is, sal al wat bekende is heeltemal verstom laat. Maar wat die grootste rede vir die verbasing, nee, verdwasing is, is dat Karlien nog jonger lyk as wat sy is. Dupré kan hom moeilik daarmee vereenselwig dat Julius Schreider so ’n jong vrou het.

Maar as Julius die ander man se verbystering agtergekom het, laat hy niks blyk nie. Dupré waag dit ook nie om ’n opmerking te maak nie, nog minder om ’n nuuskierige vraag te stel. Soos Karlien reeds agtergekom het, weet Dupré blykbaar ook dat ’n mens nie persoonlike vrae aan Julius Schreider stel nie.

Hoewel die mans die gesprek aan die gang hou, bly daar ’n ongemaklike atmosfeer deur die hele ete heers. Dis die heerlikste ete wat Karlien nog ooit gehad het, maar sy kan dit nie regtig geniet nie. Sy voel Pierre Dupré se blik telkens ondersoekend op haar en daar is ’n boodskap in Julius s’n wat sy glad nie begryp nie. Miskien verbeel sy haar dit maar net.

Sy bedank die nagereg en koffie en maak verskoning. Met ’n goeienag aan albei mans gaan sy na haar kamer.

Sy maak eers seker dat klein Essie gemaklik is vir die nag en begin dan uittrek. Sy is net gereed om te gaan lê, toe daar ’n ligte kloppie aan haar deur opklink. Die volgende oomblik kom Julius sonder uitnodiging binne. Sy sak verskrik op die bed neer en hou haar kussing voor haar.

Hy kyk haar skerp aan. “Moet tog nie so verskrik lyk nie! Hoeveel keer moet ek jou sê …” Dan sug hy en stap nader. “Dit sal snaaks lyk as ek nie eers hierheen kom voordat ek gaan slaap nie. Ons is veronderstel om getroud te wees en jy het netnou vir my nag gesê asof ek ’n groter vreemdeling is as Dupré.”

“Maar … hoe moes ek dan nagsê?”

Sy mondhoeke trek geamuseer en hy neem langs haar op die bed plaas. Sy stem klink soos dié van ’n onderwyser wat ’n moeilike wiskundeprobleem probeer verduidelik aan ’n leerling wat nie te vreeslik intelligent is nie.

“Kyk, Karlien, op hierdie punt moet ons mekaar goed verstaan. Ons is getroud. Hoe ons getroud gekom het en waarom, is ons saak en het niks met die res van die wêreld te doen nie. Maar ons sal darem ’n soort skyn voor die mense moet handhaaf. Begryp my goed, ek gaan nie dat die hele Seychelle agter my rug vir my lag nie. In die teenwoordigheid van ander mense gedra jy jou asseblief soos ’n getroude vrou teenoor my.” Hy lag kortaf toe hy die verdwaasde uitdrukking in haar oë sien. “Ek weet dis byna die onmoontlike wat ek van jou vra, maar dit kan nie anders nie. Ek sal my bes doen om jou tegemoet te kom, maar daar moet darem reaksie van jou kant af ook wees. Begryp jy wat ek bedoel?”

Sy laat haar ooglede vinnig sak en sê gedemp: “Ja, ek begryp. Ek is darem nie só jonk nie!” Maar al wat sy werklik ten volle begryp, is dat sy ’n probleem vir haarself geskep het wat elke minuut meer gekompliseerd raak. Wat het haar besiel?

Hy staan op. Sy blik dwaal oor haar en daar verskyn ’n trek om sy een mondhoek waarvan sy niks hou nie.

“Daardie klomp sal hul eie oë nie glo as hulle jou nou moet sien nie. Jy lyk kompleet tien jaar oud. Dit gaan goeie toneelspel verg om hulle te oortuig dat alles pluis is met hierdie huwelik.” Hy stap na die deur en sê oor sy skouer: “En, om liefdeswil, sluit jou deur.”

Toe hy uit is, spring sy op om sy bevel te gehoorsaam. Dan gaan staan sy voor die spieël. Lank bestudeer sy haar gestalte in kort somerpajamas, die fynbesnede gesig met die groot bruin oë … Oudergewoonte vang sy haar onderlip met haar tande vas. Dis waar. Sy kan dit nie ontken nie. Sy lyk bitter jonk. Maar dis nie nodig dat hy haar dit elke keer voor die kop gooi nie, dink sy ergerlik. Sy kan mos nie help hoe sy lyk nie!

Met ’n ligte sug draai sy eindelik terug na die bed en kruip in. Julius – en so ook die res van die Seychelle – sal maar vir lief moet neem. Daar is niks wat sy daaraan kan verander nie. Ná al die bekommernis van die afgelope tyd, is sy net verbaas dat sy nie al ’n klomp plooie gekry het nie. As dit so moet aanhou, sal sy een van die dae soos Julius se ouma lyk! Sy glimlag effens, maar dis ’n weemoedige glimlaggie. Wat kan dit haar tog skeel wat Julius van haar dink?

Karlien en klein Essie is nog in droomland toe Julius die volgende oggend klop. “Goeiemôre, goed geslaap?”

“Môre. Ja, dankie. Essie slaap nog steeds.”

“Jy sal jou moet roer. Ons moet net ná ontbyt winkels toe dat ons daar is wanneer hulle oopmaak. Ons tyd is bitter min – die vliegtuig vertrek om eenuur en ons moet omtrent ’n uur voor die tyd op die lughawe wees.”

Toe hulle by die boetiek instap, neem Julius asof vanselfsprekend die leiding. Dit is vir Karlien al asof sy haar hand in syne moet lê, want sy voel kompleet soos ’n skoolmeisie wat deur haar pa geneem word om nuwe skoolklere te gaan koop.

Omdat haar kennis van klere gebrekkig is – sy het maar altyd by ’n verkoping die noodsaaklikste aangeskaf – laat sy hom begaan. Dit blyk dat Julius ook op hierdie gebied ’n kenner is en sy wonder waar hy aan dié kennis kom.

Sy sit met gevoude hande soos ’n welopgevoede kind eenkant terwyl die verkoopsdame die een rok ná die ander voor Julius uitsprei. Hy wys die meeste sommer met ’n handgebaar af. Daar is enkeles wat hy eers van naderby beskou en dan eenkant laat, en toe Karlien met die verkoopsdame in een van die aantrekhokkies verdwyn, kyk sy oor haar skouer asof sy verwag dat Julius ook hier sal wil help.

Woordeloos loop sy ’n draai met elke kledingstuk voor hom vir sy goedkeuring, wat hy net met ’n knik van die kop gee. Een van die rokke dra nie sy goedkeuring weg nie.

“Dis te oud vir jou,” is sy kommentaar en Karlien keer sonder protes terug na die aantrekhokkie.

Daar sê sy: “Sit hierdie een by die ander, asseblief.”

“Maar jou pa dink dis te oud vir jou, juffrou.”

Karlien byt haar onderlip vas, innig dankbaar dat Julius nie nou by is nie. “Nietemin. Ek wil dit hê. Sit dit asseblief by.”

Daarna volg onderklere en nagklere en dies meer. Hier bewaar Julius tot Karlien se heimlike verbasing en geamuseerdheid ’n veilige afstand. Toe hy ’n rukkie later sonder ’n woord ’n tjek uitskryf, kom hy niks agter van die ekstra rok nie. Dis ’n stywe bedrag wat hy op die tjek invul en Karlien kyk met ontsag na die stukkie papier.

Sy voel skuldig dat hy soveel geld aan haar bestee. Dis onbehoorlik dat sy soveel van ’n vreemdeling moet aanvaar, want dit is hy tog – al is hy haar wettige man. Toe sy egter vanoggend wou protesteer, het hy haar met ’n handgebaar stilgemaak.

“Daar is belangrike mense op die Seychelle en ek wil my nie vir my vrou skaam nie. Ek is bekend op die eilandgroep en ons is ook beskaaf daar, al leef ons baie afgesonder. Wat meer is, in die tropiese hitte gebruik ’n mens baie meer klere, want die goed raak gouer gedaan. Oor ses maande sal jy weer alles nuut moet kry.”

Dit is op die punt van haar tong om hom daarop te wys dat die verstandhouding is dat hulle net ses maande getroud sal wees, maar soos altyd praat sy nie teë nie.

In die motor, met die agterste sitplek oorvol pakkies, is sy ’n oomblik stil voordat sy selfbewus sê: “Dankie vir al die mooi klere, Julius. Ek het nog nooit sulke pragtige en duur goed gehad nie.”

Hy kyk haar vlugtig met ’n fyn glimlaggie aan, sy oë skielik ongelooflik sag. “Dit was ’n plesier, kindjie.”

Sy byt weer haar onderlip vas en soek na iets om te sê, iets intelligents. Sy weet nie wat dit is nie, maar al haar gedagtes droog op in hierdie man se teenwoordigheid. “Hoe lank gaan die vlug duur?” vra sy dan.

“Ons land om kwart voor agt – dus ses en ’n driekwart uur.”

“Ek hoop ek … ek gedra my; ek het nog nooit per vliegtuig gereis nie.”

Hy lag en druk haar hand gerusstellend soos wat ’n mens met ’n bang kind sal doen. “Toemaar. Ek sal na jou kyk.”

Karlien is stil. Sy woorde laat ’n warm gevoel in haar opwel. Tot haar eie verbasing besef sy hoeveel sy ná net twee dae op hierdie man steun. Ten spyte van die onsekerheid en beklemming wat haar nog soms oorval, weet sy dat sy nog nooit in haar lewe so ’n gevoel van beskerming ervaar het soos juis nou nie. Sy het haar ouers vroeg verloor en toe was dit net sy en Lana, haar suster. Daarna is Lana getroud en sy, Karlien, was maar soos ’n los donkie wat saam met die wa gedraf het.

Toe volg die ongeluk waarin Lana en Peet op slag dood is en net Essie oorgebly het. Sedert hierdie man in haar lewe verskyn het, het sy egter geen bekommernis meer nie. Sy kan net terugsit en haar verwonder oor hoe hy die een probleem ná die ander sonder klaarblyklike inspanning of moeite oplos. In die verlede moes sy self met die probleme worstel, en as gevolg van haar gebrekkige lewenservaring het dit alte dikwels op ’n fiasko uitgeloop.

Maar sedert twee dae gelede is alles uit haar hande geneem en tot dusver moes sy net saamdraf om by te hou. Sy kon net sowel ’n robot gewees het. Tot haar dinkwerk het Julius Schreider oorgeneem.

Voordat Karlien nog reg besef wat haar getref het, staan sy met Essie in haar arms op die lughawe.

Daar is ’n bewerigheid in haar ingewande en ’n droë kol op haar tong van skone senuwees. Karlien, jy kan nog terugdraai, vertel sy haarself, maar sy weet dis net om haarself te bluf. Al sou sy ook die moed gehad het om kop uit te trek, sal Julius Schreider sorg dat sy haar by hul ooreenkoms hou. ’n Duisend keer al wou sy hom vra hoekom hy dan so dringend moes trou, maar elke keer het haar moed haar begeef. ’n Mens stel nie so ’n vraag aan ’n man soos Julius nie. Hy sal haar net kalm laat verstaan dat dit sy saak is.

Tot dusver het hy net die allernodigste besonderhede oor homself verstrek, en sy stemtoon het haar vertel dat die res, wat dit ook al mag wees, haar nie aangaan nie.

Toe Julius klein Essie by haar neem en hulle die trap bestyg, ervaar Karlien ’n oomblik van blinde paniek. Waarin het sy haar begeef? Hoe weet sy dat sy hierdie man kan vertrou? Dis maar net intuïsie, maar is sy al volwasse genoeg om daarop te vertrou?

Julius moet iets van haar gevoelens agtergekom het, want hy vat haar hand en sê hier digby haar oor: “Daar is niks om voor bang te wees nie, kindjie. Verbeel jou jy gaan met ’n heerlike, welverdiende vakansie. Dis eintlik wat dit is, weet jy? Jy moet net gaan vakansie hou, dis al.”

Karlien voel die opgewondenheid deur haar bruis toe sy die vibrasie van die motore voel. Tog is daar groot onsekerheid in haar hart. Dit voel vir haar asof sy op die punt is om die laaste band met die beskawing te verbreek. Nou lê die onbekende toekoms voor haar.

Skielik kan sy die vraag nie terughou nie. Sy draai na Julius en vra ernstig: “Hoekom … hoekom het jy met my getrou?”

Sy gesig kry ’n harde trek en sy oë raak gesluier. “Maak dit saak? Dit raak jou nie, Karlien. Hoe minder ons daaroor sê, hoe beter. Al wat vir jou van belang moet wees, is die feit dat ons ’n sakehuwelik aangegaan het – waarvoor ek jou ná ses maande voldoende sal vergoed. Oor ses maande skei ons paaie weer, sonder bohaai of komplikasies. Ek sal dit graag so wil hou.”

“Maar …”

“Geen maars nie. Dit is iets wat jy nie sal verstaan nie. Jy is nog te jonk om die grootmenswêreld te verstaan. Daarom sal ek nie eens probeer om die situasie vir jou te skets nie. Maar ek wil jou weer verseker, jy het niks te vrees nie.”

Karlien weet dat sy niks meer uit hom sal kry nie. Maar ten spyte van sy versekering is daar vrees in haar hart. Daar is darem een ding wat haar gerusstel. Hy het al oor en oor bewys dat hy haar as ’n blote kind beskou, en daarvoor moet sy dankbaar wees. Dit is juis haar sekuriteit dat sy by hom veilig sal wees.

Skielik voel sy bitter eensaam en klem die slapende klein Essie ’n bietjie stywer vas. Solank Essie net veilig is. Solank Essie net nie van haar af weggeneem word nie. Solank sy hierdie kindjie kan behou – die enigste mens op aarde wat sy hare kan noem, aan wie sy met bloedbande verbind is – sal sy deurdruk.

Aanvanklik is hulle maar stil. Maar algaande verslap die spanning en hy begin haar vertel van al die eilandgewoontes, wat sy baie interessant en leersaam vind. Eintlik is sy teen haar sin gefassineer, want sy besef maar te goed dat hoe verder hulle vorder, hoe skraler word die kanse om op die een of ander manier uit hierdie onbesonne huwelik te ontsnap.

“Die Cosmeoledo’s,” vertel hy, “is ’n groep van agt eilande en talle ander klein eilandjies. Op ’n tyd het die Britse koloniale owerheid daar ’n fabriek gehad vir die droogmaak van vis en veral vir die vang van die groot groen seeskilpaaie …” Hy sien hoe sy gril en glimlag die eerste keer spontaan teenoor haar. “Dis ’n heerlike gereg vir die eilandbewoners. Daar word jaarliks duisende gevang.”

Sy kyk hom huiwerig aan. “Ek het al ’n seeskilpad in die museum gesien … Eet jý dit ook?”

Hy lag geamuseer. “Natuurlik! Dis heerlik! Wag maar, binnekort sal jy dit ook proe.”

Maar sy skud haar kop beslis.

“Nee wat, dankie. Ek gaan eerder dood van die honger.”

Hy kan die versoeking nie weerstaan nie. “Dis jammer, want dis omtrent al waarvan ons die volgende paar maande sal lewe in die lyn van vleis.”

Sy kyk hom ontsteld aan, maar bly onversetlik. “Dan word ek ’n vegetariër, maar ek sal nie …”

Hy klop haar op haar been en lag. “Toemaar, ek terg jou net ’n bietjie. Jy hoef nie seeskilpad te eet as jy nie wil nie. Wanneer jy eendag terugkeer na jou geliefde beskawing, wil ek hê jy moet net mooi herinneringe met jou saamneem.”

Toe sy niks daarop sê nie, vervolg hy: “In alle eerlikheid moet ek sê dat ek ook nie graag skilpadvleis eet nie. Ek het al gesien hoe die seeskilpaaie wat in ’n meer aangehou is, per boot na die Seychelle gebring word. Die arme goed lê wriemelend onderstebo en lyk so pateties met die voorflappe swaaiend in stille protes. Hulle huil ook.”

“Huil?” Karlien weet nie of hy ernstig is of nie.

“Ja, hulle sug deurentyd diep en droewig en daar drup sulke taaierige trane uit hul oë.”

Karlien voel ’n knop in haar keel en sy vee vinnig met haar hand oor haar oë. Sy hoop nie Julius sien hoe simpel sy is nie.

Maar Julius het gesien hoe aangedaan sy is. Hy sê egter niks; neem net haar hand in syne en gee dit ’n ligte drukkie. Genugtig, as sy net nie so jonk was nie!

Karlien kyk hom onseker aan en glimlag bewerig. Dis die Julius van wie sy hou. Die Julius van netnou, met die vierkantige kakebeen, die Noordpoolstem en die onbuigbare wil, dié maak haar bang …

Asof skilpaaie sy grootste belangstelling is, wei hy verder uit. “Op Aldabra kry jy die heel groot skilpaaie.”

“So?” sê sy, bly dat sy goeie luim hou. “Ek sal hulle graag wil sien.”

Hy glimlag. “Ek dog dan jy hou nie van skilpaaie nie?”

“Nee, maar landskilpaaie is anders. Kan ons eendag gaan kyk?”

Hy lag. Voorwaar, sy is nog ’n kind. ’n Oomblik lank verskyn ’n blonde vrou se gesig voor hom. Maar dan … Hy bekyk die meisie langs hom. Daar is geen vergelyking nie. Nie in die minste nie.

Hy skud sy kop. “Jy tref hulle eintlik net op die een besondere eilandjie aan, en ongelukkig kan ’n mens net met die gety uitgaan. Maar eendag kan ons kyk wat ons kan doen.”

“Hoe groot is hulle werklik?”

“Wel, jy sal seker ’n idee kan vorm as ek sê dat hulle, wanneer hulle volgroeid is, enigiets tussen drie honderd en vier honderd kilogram weeg.”

Karlien lyk nou beslis beïndruk. “Só groot? Ag, ek sou hulle darem graag wou sien.”

Die res van die vlug gaan sonder noemenswaardige voorval verby. Die atmosfeer tussen haar en Julius is gemaklik en ontspanne. Dis net soms, veral wanneer hy haar terg of na haar prille jeug verwys, dat sy haar ietwat vererg. Maar andersins vergeet sy byna dat die vlug nie vir ewig kan aanhou nie.

Julius se stem onderbreek skielik haar gedagtes. “Karlien, die Seychelle is waarlik ’n stukkie van die verlore paradys. Dis of die res van die wêreld met sy hartseer en smart, sy onreg en wreedheid, sy nood en valsheid, sy haat en afguns, ver agtergelaat is – op ’n ander planeet. Dis of daardie dinge klein en van minder belang word; asof dit deel is van ’n ander lewe, ’n ander aardbol. Elke keer dat ek moet teruggaan beskawing toe, kan ek nie gou genoeg terugkeer nie.”

Maar hierdie keer kom hy nie alleen terug nie. Hierdie keer het hy sy vrou saamgebring. Was dit verstandig? vra Julius homself af terwyl die lughawe van Victoria voor hulle opdoem. Was dit die beste oplossing vir jou probleem, of het jy net die probleem oneindig vergroot?

Hy kyk af op die fynbesnede gesiggie wat skaars tot by sy skouer reik. Sy is so jonk, Julius. Wat het jou besiel om haar hierheen te bring, na hierdie tuin van Eden? Is sy nie ’n bietjie jonk nie? Te jonk … vir Eden?

Ena Murray Keur 11

Подняться наверх